Jeremia - Inleiding en hoofstuk 1
- Regina Torre
- Nov 7
- 20 min read
Updated: 5 days ago

7 November 2025
JEREMIA 19:10-11 AFR53
Dan moet jy die kruik breek voor die oë van die manne wat saam met jou gegaan het, en vir hulle sê: So spreek die Here van die leërskare: Net so sal Ek hierdie volk en hierdie stad verbreek, soos 'n mens 'n erdepot breek, wat nie meer heelgemaak kan word nie; ……
Ons nuwe Bybelstudie is die boek van die profeet Jeremia.
Jeremia is die langste profetiese boek in die Ou Testament, in woorde en verse, hoewel nie in hoofstukke nie. Trouens, net die boek van die Psalms is langer as die boek van Jeremia in die Bybel.
Wat veral uitstaan van die profeet Jeremia is dat ’n mens hom ‘as mens’ kan leer ken, omdat daar ’n oorvloed van sy emosies, gesprekke en optredes regdeur die boek opgeteken is.
Die profeet Jeremia worstel in sy boek met sy roeping as profeet om vernietiging en oordeel oor Juda, die Suidelike Koninkryk en hul leiers aan te kondig. Sy boodskap is dat die volk vir God vergeet het en geweier het om Hom te erken. Daarom is God hulle nie meer goedgesind nie en het Hy geen medelye meer met hulle nie.
Al breek dit Jeremia se hart, verkondig hy dat soos ’n kleipot gebreek word, sal God hierdie volk en hierdie stad breek. Die ballingskap in Babel is hulle straf. God gaan hulle nie spaar nie en hulle sal deur hul vyande wegvoer word.
Jeremia se profesieë word gelewer teen die agtergrond van die drie groot wêreldmagte van sy tyd:
Assirië – wie se invloed begin taan het met die val van Assurbanipal en die opkoms van die Galdeër Nabopolassar in 627 v.C. en in 609 v.C. finaal verslaan is by Megiddo deur Egipte.
Egipte – wat die internasionale vakuum probeer vul het deur hulle mag in die Midde–Ooste uit te brei, maar deur die opkomende Babiloniërs verslaan is in 605 v.C. by Karkemis.
Babilon – wat onder Nebukadnesar tot die dominante wêreldmag in die tyd van die ballingskap van Juda uitgebou is.
Die hoofstukke van die boek is kronologies deurmekaar en weerspieël die chaotiese tyd waarin Jeremia geleef het.
Ek gaan die Bybelstudie van die boek Jeremia in kronologiese volgorde aanbied, wat beteken dat die hoofstukke nie numeries op mekaar sal volg nie.
Jeremia het onder verskeie konings geleef en die hoofstukke word gerangskik in die volgorde van hul heerskappy:
Regering van Koning Josia: 1, 3, 14, 17, 11, 12, 9, 15, 16, 7, 18, 19, 2
Regering van Koning Jojakim: 26, 27a, 25, 22, 45, 36, 13, 35, 4, 5, 6, 8, 10, 23
Regering van Koning Sedekia: 30, 31, 24, 29, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 27b, 28, 21, 20, 37, 34, 33, 38, 32, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 52
Om die boek van Jeremia te verstaan is baie historiese agtergrondinligting nodig. Gelukkig is die inligting goed gedokumenteer in die Bybel asook verskeie argeologiese ontdekkings wat geboekstaaf is.
Dit is redelik goed bekend wat in daardie tydperk gebeur het, en wanneer ons die vloei van die konings en die heersers verstaan, sal die boek Jeremia groter betekenis hê.
8 November 2025
II KONINGS 16:2 AFR53
Twintig jaar was Agas oud toe hy koning geword het, en sestien jaar het hy in Jerusalem geregeer en nie gedoen wat reg was in die oë van die Here sy God soos sy vader Dawid nie.
Baie van Juda, die Suidelike Koninkryk, se konings was sleg en het nie gedoen wat reg was in die oë van die Here nie. Ons kyk vandag na koning Josia se voorouers om ons 'n beter idee te gee van wat gelei het tot die val van Juda se samelewing en God se oordeel oor hulle. Hier is 'n tydlyn wat begin by Agas.
Agas, die seun van Jotam regeer vir sestien jaar en doen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het een van sy seuns deur die vuur laat gaan, m.a.w. hy het die seun lewendig vir Baäl geoffer, en dan het hy elke ander heiden offer waaraan jy kan dink ook gedoen.
Koning Agas reis na die koning van Assirië wat in Damaskus woon, en hy sien daar hul altaar wat hom erg beindruk. Soveel so dat hy ‘n tekening en ‘n afbeelding daarvan vir sy priester Uria stuur sodat hy vir hom ook so ‘n altaar kan bou. Ons sien hier ook hoe die priesters afvallig geraak het want Uria skroom nie om vir die koning sy altaar te bou nie.
Terug in Jerusalem gee die koning opdrag om die koperaltaar wat in die voorhof van die tempel is weg te skuif om plek te maak vir sy nuwe altaar.
Die slegte koning Agas sterf en word begrawe in die stad van Dawid.
Hiskia, die seun van Agas, is die volgende koning van Juda en hy regeer vir nege en twintig jaar. Hy doen wat goed is in die oë van die Here net soos sy vader Dawid.
Die tempel in Jerusalem, wie se deure deur Hiskia se eie vader vasgespyker was, is skoongemaak en heropen en die Levitiese priesterskap is heringestel.
Die Pasga is ook heringestel as 'n nasionale vakansiedag. Onder Hiskia se hervormings het herlewing na Juda gekom.
Omdat koning Hiskia God eerste gestel het in alles wat hy doen, het God hom voorspoedig gemaak.
Die Assiriërs dreig om Juda te beset, en Hiskia stuur ‘n boodskap aan die profeet Jesaja vir hulp, want hulle voel oorweldig. Die Here het deur middel van Jesaja die koning verseker dat Assirië nooit in Jerusalem sou inkom nie. God sorg vir Hiskia en die volk en stuur Sy engel om vir hulle te veg en in daardie aand maak die engel van die Here 185,000 Assiriërs dood.
Later word Hiskia baie siek. Jesaja het vir hom gesê om dinge reg te stel en om voor te berei om te sterf. Maar Hiskia het gebid en God gesmeek om barmhartig te wees en om te dink aan al die goeie dinge wat hy gedoen het - Hiskia se lewe word met vyftien jaar verleng.
Koning Hiskia sterf en word begrawe in die stad van Dawid.
Manasse is die volgende koning, en hy regeer vir vyf en vyftig jaar. Hy doen wat verkeerd is in die oë van die Here en bou weer die hoogtes wat sy vader Hiskia afgebreek het.
Hy het altare gebou vir die hele leër van die hemel en dit in die twee voorhowe van die tempel geplaas.
Die slegte koning het ook een van sy seuns lewendig vir Baäl geoffer, en homself opgehou met goëlery, waarseêrs, toordery en die oproep van geeste.
Om alles te kroon het hy ‘n gesnede beeld van Asjera gemaak en in die tempel gesit.
Manasse het gemaak dat Juda meer kwaad gedoen het as die heiden nasies wat God in hul hande gegee het.
Elke aksie het ‘n reaksie! God laat nie met Hom speel nie, en Sy volk gaan wel gestraf word vir die gruwelikhede wat hul gedoen het.
Manasse sterf, maar word nie in die stad van Dawid begrawe nie. Hy word sommer in sy eie tuin begrawe.
Amon is die volgende koning en regeer slegs vir twee jaar. Hy doen net soos sy vader wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het God verlaat, en nie in die weg van die Here gewandel nie. Van die dienaars van Amon smee ‘n sameswering teen hom en maak hom dood en ook die samesweerders is toe doodgemaak. Amon word saam met sy pa Manasse in die tuin van sy huis begrawe, ook hy het nie ‘n plek in die stad van Dawid nie.
9 November 2025
JEREMIA 1:1 AFR53
Die woorde van Jeremia, die seun van Hilkía, uit die priesters wat in Ánatot, in die land Benjamin was,
In teenstelling met die ander veertien Skrifprofete in die Bybel, weet ons relatief baie van die profeet Jeremia.
Hy was die seun van Hilkia, ‘n priester uit Anatot (vandag Almon), in die grondgebied van Benjamin, so 5 km noord–oos van Jerusalem. Jeremia was daarom self `n priester, maar ook iemand wat God vroeg reeds as profeet vir die nasies geroep het.
Jeremia ontvang sy roeping in 627 v.C., in die dertiende jaar van koning Josia se regering en hy tree op as profeet gedurende die volgende konings se heerskappy:
- regdeur die koningstyd van Josia (640-609 v.C.),
tot wie die woord van die Here gekom het in die dae van Josía, die seun van Amon, die koning van Juda, in die dertiende jaar van sy regering, JEREMIA 1:2 AFR53
- Joahas (slegs 3 maande lank koning voor hy dood is, daarom word hy nie eers hier genoem nie), - Jojakim (609-598 v.C.),
- Jojagin (slegs 3 maande lank koning voor hy weggevoer is, en word ook nie genoem nie) en,
- Sedekia (597-586 v.C.) tot in 586 v.C. toe die volk in ballingskap weggevoer is.
en gekom het in die dae van Jójakim, die seun van Josía, die koning van Juda, tot die einde van die elfde jaar van Sedekía, die seun van Josía, die koning van Juda, totdat Jerusalem ontvolk is in die vyfde maand. JEREMIA 1:3 AFR53
Jeremia beperk nie sy verhaal tot die woorde wat God hom in 'n direkte sin gegee het nie. Ons gaan ontdek dat hy baie vry is met sy outobiografiese agtergrond, hoe hy gevoel het en wat hy gedoen het, ens.
Daar sal 'n oorvloed insig wees in die politiek van die tyd, die konteks waarin hy handel, en miskien, die belangrikste vir ons almal, wat werklik in Jeremia se lewe aangaan het.
Jeremia se vader Hilkia word gekrediteer met die ontdekking van die vermiste boek van die Wet.
Toe sê die hoëpriester Hilkía vir Safan, die skrywer: Ek het die wetboek in die huis van die Here gevind; en Hilkía het die boek aan Safan gegee, en hy het dit gelees. II KONINGS 22:8 AFR53
Die volk het die God van Israel so vergeet dat hulle op ‘n stadium 'n boek van die Wet in die tempel ontdek het. Dit gee die leser 'n idee van hoe arm hulle was aan ortodokse praktyke in die begin van Josia se heerskappy - en sy aanmoediging om hulle terug te bring na God.
en die koning het bevel gegee aan Hilkía, die priester, en Ahíkam, die seun van Safan, en Agbor, die seun van Migája, en Safan, die skrywer, en Asája, die dienaar van die koning, en gesê: Gaan raadpleeg die Here vir my en vir die volk en vir die hele Juda oor die woorde van hierdie boek wat gevind is; want die grimmigheid van die Here is groot wat teen ons ontvlam het, omdat ons vaders nie geluister het na die woorde van hierdie boek om te handel volgens alles wat ons voorgeskrywe is nie. II KONINGS 22:12-13 AFR53
10 November 2025
II KONINGS 22:2 AFR53
En hy het gedoen wat reg was in die oë van die Here en geheel en al in die weg van sy vader Dawid gewandel en nie regs of links afgewyk nie.
Koning Josia is die volgende koning van Juda en hy regeer vir een en dertig jaar. Josia doen wat goed is in die oë van die Here, en wandel in die weg van sy vader Dawid.
Josia was een van Juda se beste konings. Vrede, voorspoed en hervorming kenmerk sy heerskappy en tydens sy bewind het die wêreldmag se leierskap oorgegaan van Assirië na Babilon. Nineve, die hoofstad van Assirië, is in 612 v.C. vernietig, en die Assiriese Ryk het in 609
v.C. geval.
Koning Josia het soos Hiskia geld ingesamel en die tempel tot sy vorige glorie herstel. Al die heidense beelde en gruwels is uit die tempel verwyder. In die proses om die tempel skoon te maak is ‘n boek gevind wat die sekretaris of skrywer aan die koning voorgelees het. Die koning was bedroef toe hy die woorde van die boek hoor en het gevra dat hulle die priester moet raadpleeg om by God te hoor wat beteken die woorde van die boek. Die profetes Hulda dra God se woord as volg oor.
Maar aan die koning van Juda wat julle stuur om die Here te raadpleeg, aan hom moet julle só sê: So spreek die Here, die God van Israel: Wat die woorde betref wat jy gehoor het — omdat jou hart week is en jy jou voor die aangesig van die Here verneder het toe jy hoor wat Ek oor hierdie plek en oor sy inwoners gespreek het, dat hulle 'n voorwerp van verbasing en vervloeking sal word, en omdat jy jou klere geskeur en voor my aangesig geween het, daarom het Ék ook verhoor, spreek die Here. Daarom, kyk, Ek sal jou by jou vaders versamel, en jy sal met vrede in jou graf versamel word, en jou oë sal al die onheil nie aansien wat Ek oor hierdie plek bring nie. En hulle het die koning antwoord gebring. II KONINGS 22:18-20 AFR53
Koning Josia het toe na die huis van die Here gegaan en die hele volk en die priesters en profete bymekaar gekry en al die woorde van die verbondsboek vir hulle voorgelees.
“En die koning het op die verhoog gaan staan en die verbond voor die aangesig van die Here gesluit om die Here te volg en sy gebooie en sy getuienisse en sy insettinge met die hele hart en met die hele siel te onderhou, om die woorde van hierdie verbond wat in hierdie boek geskrywe is, te bevestig. En die hele volk het toegetree tot die verbond.” II KONINGS 23:3 AFR53
Hy het die volk versamel en hulle het Pasga gehou soos beskryf is in die verbondsboek.
Toe gee die koning die hele volk bevel en sê: Hou pasga vir die Here julle God soos geskrywe is in hierdie verbondsboek. Want soos hierdie pasga is daar nie een gehou van die dae van die Rigters af wat Israel gerig het, en gedurende al die dae van die konings van Israel en die konings van Juda nie; II KONINGS 23:21-22 AFR53
Josia het alles verwyder wat verband hou met die aanbidding van valse gode wat sy voorouers in Juda en Jerusalem opgerig het. Hy het elke klippilaar, hoogte en altaar verbrand en die as daarvan ook weggegooi. Hy het selfs die heiden priesters almal laat verbrand en hul as ook weggegooi, en hiermee het ‘n profesie wat 300 jaar oud was tot vervulling gekom.
Toe kom daar 'n man van God uit Juda deur die woord van die Here in Bet-el aan, terwyl Jeróbeam op die altaar staan om offerrook te laat opgaan; en hy het uitgeroep teen die altaar deur die woord van die Here en gesê: Altaar, altaar, so spreek die Here: Kyk, 'n seun sal gebore word vir die huis van Dawid met die naam van Josía, en hy sal op jou slag die priesters van die hoogtes wat op jou offerrook laat opgaan, en op jou sal mensbene verbrand word. En hy het dieselfde dag 'n wonderteken aangekondig en gesê: Dit is die wonderteken dát die Here gespreek het: Kyk, die altaar sal uitmekaarskeur en die as wat daarop is, afgegooi word. I KONINGS 13:1-3 AFR53
11 November 2025
JEREMIA 1:4-5 AFR53
Die woord van die Here het dan tot my gekom en gesê: Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot 'n profeet vir die nasies gemaak.
Die woord van die Here het tot my gekom! So begin ‘n jong Jeremia se roeping as profeet.
Die woord van die Here het tot Jeremia gekom en hom meegedeel dat God nie net Josia se regering vooraf beplan het nie, maar dat Hy Jeremia geken het voordat hy selfs in die moederskoot gevorm is. God het hom geheilig voordat hy gebore is en hom verorden om 'n profeet te wees, nie net vir Israel nie, maar ook vir die nasies.
Ons gaan ontdek dat Jeremia 'n verhouding met God het. Dit gaan nie oor wat jy weet nie, maar ook wie jy ken.
God se betrokkenheid by Jeremia se roeping word met vier werkwoorde gemotiveer: gevorm, geken, geheilig en gemaak. Let op dat God hom geken het, nog voor Hy hom in die moederskoot gevorm het.
Geheilig beteken om opsy gesit te word vir God se diens. Jeremia se diens sou wees om as profeet vir God op te tree, vir God se volk asook vir die nasies.
Jeremia praat dan met God en hy klink soos Moses wat gesê het hy kan nie praat nie.
Toe sê Moses aan die Here: Ag, Here, ek is nie 'n man van woorde nie — van gister of van eergister of vandat U met u kneg gespreek het nie; want ek is swaar van mond en swaar van tong. EXODUS 4:10 AFR53
Jeremia was ‘n jong man, en het gevoel dat sy ouderdom hom verhinder het om 'n goeie boodskapper van God te wees. Anders as Moses, wie se protes van ontoereikendheid 'n bietjie hol geklink het, was Jeremia blykbaar regtig jonk en onervare.
Toe het ek gesê: Ag, Here Here, voorwaar, ek kan nie praat nie, want ek is jonk. JEREMIA 1:6 AFR53
Alhoewel Jeremia se protes waar was, was dit irrelevant – en God wou dit nie hoor nie, en Hy wou ook nie hê dat Jeremia dit moes sê nie. God dring aan op Sy reg om jongmense te roep en hulle te gebruik as hulle na Sy roepstem luister en dit beantwoord.
Maar die Here het vir my gesê: Moenie sê: Ek is jonk nie; want na wie Ek jou ook al stuur, moet jy gaan; en wat Ek jou ook al beveel, moet jy spreek. JEREMIA 1:7 AFR53
God bemoedig Jeremia dan en sê dat hy nie bang hoef te wees nie, want Hy is met hom.
Wees vir hulle nie bevrees nie, want Ek is met jou om jou uit te red, spreek die Here. JEREMIA 1:8 AFR53
Toe het God Jeremia se mond aangeraak en vir hom gesê dat Hy Sy woorde in sy mond sou lê.
Toe het die Here sy hand uitgestrek en my mond aangeroer; en die Here het vir my gesê: Hiermee lê Ek my woorde in jou mond. JEREMIA 1:9 AFR53
12 November 2025
JEREMIA 1:10 AFR53
Kyk, Ek stel jou vandag aan oor die nasies en oor die koninkryke om uit te ruk en om te gooi en te vernietig en te verwoes, om te bou en te plant.
As ‘n jong man was Jeremia 'n onwaarskynlike kandidaat vir so 'n bediening, tog het God geweet dat Jeremia die persoonlikheid en karakter gehad het om hierdie roeping te vervul.
Tot Jeremia se verbasing het God hom bevorder en verklaar dat hy nou oor nasies en koninkryke aangestel is, en sy taak was om uit te ruk, om te gooi, om te vernietig, om te verwoes, om op te bou en om te plant.
Die Bybel leer ons dat alles ‘n seisoen het. Daar is 'n tyd om te pluk en 'n tyd om te plant, en God het vir Jeremia gesê dit was pluktyd, aangesien Nebukadnesar op die punt was om baie nasies omvêr te werp.
God praat weer met Jeremia en vra hom wat hy sien - hy sien 'n amandeltak.
Verder het die woord van die Here tot my gekom en gesê: Wat sien jy, Jeremia? En ek antwoord: Ek sien 'n amandeltak. JEREMIA 1:11 AFR53
God bevestig dat hy reg is en verklaar dat Hy oor Sy woord waak om dit te vervul.
Tensy jy Hebreeus ken, mis jy die woordspeling. Die Hebreeuse woord vir amandel word dieselfde gespel as die woord vir waak, maar die verskil lê in hoe dit klink.
God sê letterlik Hy staan wag oor Sy woorde sodat dit volbring kan word.
Toe sê die Here vir my: Jy het goed gesien, want Ek is wakker oor my woord om dit te volbring. JEREMIA 1:12 AFR53
God se woord kom ‘n tweede keer na Jeremia. Die keer sien hy ‘n kokende pot wat van die noorde af kom.
En die woord van die Here het vir die tweede keer tot my gekom en gesê: Wat sien jy? En ek antwoord: Ek sien 'n kokende pot wat van die noorde af kyk. JEREMIA 1:13 AFR53
Die oordeel sal uit die noorde kom - die kokende pot is die leërs van Assirië en Babilon. Die leërs kom natuurlik van die ooste, maar het telkens uit die noorde ingeval om die tog deur die Transjordanië woestyn oos van Juda te vermy.
Toe sê die Here vir my: Van die noorde af sal die onheil losbreek oor al die inwoners van die land. JEREMIA 1:14 AFR53
Jeremia het profeties gesien hoe vreemde konings 'n ondergeskikte Jerusalem oorheers.
Soos die poorte van die stede die gewone plekke was waar geregtigheid toegepas is, so word die vyande van Jerusalem hier uitgebeeld asof hulle die hele land verower het, die heerskappy van die regering oorgeneem het en die hele land onder hul eie wette geplaas het. Die Jode sou nie meer enige politieke mag besit nie, hulle sou geheel en al deur hul vyande regeer word.
Want kyk, Ek roep al die geslagte van die koninkryke van die noorde, spreek die Here; en hulle sal kom, en hulle sal elkeen sy troon neersit by die ingang van die poorte van Jerusalem en teen al sy mure rondom en teen al die stede van Juda. JEREMIA 1:15 AFR53
13 November 2025
JEREMIA 1:16 AFR53
En Ek sal my oordele oor hulle uitspreek, weens al hulle boosheid; dat hulle My verlaat het en vir ander gode rook laat opgaan het en hulle voor die werke van hulle hande neergebuig het.
Die hoofrede vir die komende oordeel was omdat die mense van Juda aanhoudend voor ander gode neergebuig het. Gode wat hulle self gemaak het, hulle het neergebuig voor die werke van hul eie hande.
Jeremia is aangestel as die draer van die slegte nuus. God het gesê dat Hy seker maak dat Sy woord uitgevoer word, en die woord was dat oordeel oor die nasie van Israel sou kom.
God sê vir Jeremia om homself gereed te maak om vir die volk alles te vertel wat Hy Jeremia gaan beveel om te sê.
Jy dan, omgord jou heupe en maak jou klaar en sê aan hulle alles wat Ek jou sal beveel; wees nie vir hulle verskrik nie, dat Ek jou nie vir hulle laat skrik nie. JEREMIA 1:17 AFR53
Jeremia moet nie bang wees nie, al veg die hele Israel – van die konings en priesters tot die gewone mense van die land – met hom.
Want kyk, Ek maak jou vandag 'n versterkte stad en 'n ysterpilaar en kopermure teen die hele land: teen die konings van Juda, teen sy vorste, teen sy priesters en teen die volk van die land. JEREMIA 1:18 AFR53
Hy moet nie bang te wees nie, want God self sal saam met hom wees en hom verdedig.
En hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorwin nie; want Ek is met jou, spreek die Here, om jou uit te red. JEREMIA 1:19 AFR53
God het Jeremia genoeg tyd gegee om voor te berei—van die dertiende tot die agtiende jaar van Josia se regering, toe die koning uiteindelik die land van alle afgodery gesuiwer het en sy dienaars gestuur het om die huis van God te herstel. Josia was ses-en-twintig jaar oud, en Jeremia, die profeet en priester, was omtrent agt-en-twintig.
En in die agttiende jaar van sy regering, toe hy besig was om die land en die tempel te reinig, het hy Safan, die seun van Asálja, en Maäséja, die owerste van die stad, en Joag, die seun van Jóahas, die kanselier, gestuur om die huis van die Here sy God te herstel. II KRONIEKE 34:8 AFR53
Teen hierdie tyd het almal heelhartig bygedra tot die finansiering vir die herbou van die tempel, en baie het na Jerusalem teruggekeer. Hulle het almal bygedra tot die herstelwerk wat die konings van Juda vernietig het.
En hulle het dit gegee aan die skrynwerkers en die bouers, om gekapte klippe en hout vir die kappe aan te koop en om die geboue wat die konings van Juda verniel het, van balke te voorsien. II KRONIEKE 34:11 AFR53
Hilkia, Jeremia se vader, was die hoëpriester in hierdie tyd. Ongelooflik genoeg het Hilkia die Boek van die Wet van God gevind en dit voor koning Josia laat lees, wat sy klere geskeur het en verklaar het dat God se toorn oor hulle almal sou kom weens die ongehoorsaamheid van sy vaders.
Toe gee die skrywer Safan aan die koning te kenne en sê: Die priester Hilkía het aan my 'n boek gegee; en Safan het aan die koning daaruit voorgelees. En toe die koning die woorde van die wet hoor, het hy sy klere geskeur, II KRONIEKE 34:18-19 AFR53
14 November 2025
II KONINGS 23:4 AFR53
Toe gee die koning die hoëpriester Hilkía en die priesters van die tweede rang en die drumpelwagters bevel om uit die tempel van die Here al die voorwerpe uit te bring wat gemaak is vir Baäl en Asjéra en die hele leër van die hemel; en hy het dit buitekant Jerusalem in die velde van Kidron verbrand en die as daarvan na Bet-el laat dra.
In hierdie agtiende jaar van sy regering het koning Josia al die voorwerpe wat vir Baäl en vir die hemelse leër gemaak is, sowel as dié wat vir die Asjera tempel gemaak is, uit die huis van die Here gebring. Hy het dit in die Kidronvallei verbrand en die as na Bet-el gedra.
Daarna het hy al die afgodspriesters wat deur die konings van Juda aangestel is om wierook te brand op al die hoogtes rondom Jerusalem, om die lewe gebring.
En hy het die afgodspriesters uitgeroei wat deur die konings van Juda aangestel was om op die hoogtes in die stede van Juda en in die omgewing van Jerusalem rook te laat opgaan, en ook die wat vir Baäl, vir die son en die maan en die sterrebeelde en die hele leër van die hemel offerrook laat opgaan het. II KONINGS 23:5 AFR53
Koning Josia het toe die huise van die sodomiete afgebreek wat in die huis van die Here was, waar die vroue gordyne vir die tempel van Asjera geweef het!
En hy het die huise van die skandseuns afgebreek wat in die huis van die Here was, waar die vroue tente geweef het vir Asjéra. II KONINGS 23:7 AFR53
Toe het koning Josia, Tofet, ‘n offerplek in die dal van die Hinnomvallei, ontreinig. Die Hebreeuse woord tof verwys na 'n trom, en sommige Bybelgeleerdes spekuleer dat die pleknaam Tofet daarvan afgelei is omdat mense hard op tromme sou slaan om die gehuil van die kinders uit te doof terwyl hulle in die vuur op die altare van Molog gegooi is.
Hy het ook Tofet verontreinig wat in die dal van die kinders van Hinnom was, sodat niemand sy seun of sy dogter vir Molog deur die vuur sou laat deurgaan nie. II KONINGS 23:10 AFR53
Josia het ook die altare wat sy oupa Manasse opgerig het, afgebreek wat op een of ander manier weer in die twee voorhowe van die huis van die Here verskyn het.
Verder, die altare wat op die dak van die bo-kamer van Agas was, wat die konings van Juda gemaak het, en die altare wat Manasse in die twee voorhowe van die huis van die Here gemaak het, het die koning afgebreek en dit daarvandaan verbrysel en die stof daarvan in die spruit Kidron gegooi. II KONINGS 23:12 AFR53
In hierdie agtiende jaar het Josia die grootste Pasga in die hele Israel se geskiedenis gehou. Ook in hierdie tyd het Josia besluit om die nasie bymekaar te roep sodat hulle almal die woord van die Here kon hoor, al is dit amper 'n duisend jaar tevore gespreek.
Hy het geweet die Verbondsboek leef nog. Daarom het hy die woorde van die verbond voor almal gelees, en sy geslag het 'n verbond met God gesluit om Hom te volg en sy insettinge en verordeninge met hulle hele hart en siel te onderhou en om dit uit te voer.
En die koning het opgegaan in die huis van die Here en al die manne van Juda en al die inwoners van Jerusalem saam met hom, en die priesters en die profete en die hele volk, klein en groot; en hy het al die woorde van die verbondsboek wat in die huis van die Here gevind is, voor hulle ore gelees. II KONINGS 23:2 AFR53
15 November 2025
DEUTERONÓMIUM 28:15 AFR53
Maar as jy nie luister na die stem van die Here jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal.
Wat was die woorde van die verbond wat koning Josia gelees het en wat hom so verskrik het?
Elkeen kan dit self lees in Deuteronomium 27:11–29:1. Dit sou vrees in enigiemand se hart bring—veral die lys van vloeke van Deuteronomium 28:15 tot die einde van daardie hoofstuk.
Vers 37 verklaar dat die volk se ongehoorsaamheid hulle sal lei om ’n voorwerp van verbasing, ’n spreekwoord en ’n spot te wees onder al die nasies waarheen God hulle sal wegvoer.
En jy sal 'n voorwerp van verbasing, 'n spreekwoord en 'n spot wees onder al die volke waarheen die Here jou sal wegvoer. DEUTERONÓMIUM 28:37 AFR53
In Deuteronomium 28:49–52 het Josia die profesie gelees dat ’n nasie teen Israel sou kom so vinnig soos ’n arend vlieg, en hulle sou oorneem.
Die Here sal teen jou 'n nasie bring van ver, van die einde van die aarde af, soos 'n arend vlieg — 'n nasie wie se taal jy nie verstaan nie, 'n nasie hard van aangesig, wat 'n grysaard nie ontsien en vir 'n seun geen genade het nie. En hulle sal die vrug van jou vee en die vrugte van jou land opeet totdat jy verdelg is; wat vir jou geen koring, mos of olie, aanteel van jou beeste of aanteel van jou kleinvee sal laat oorbly totdat hulle jou tot niet gemaak het nie. En hulle sal jou in benoudheid bring in al jou poorte totdat jou hoë en versterkte mure val waarop jy in jou hele land vertrou het; ja, hulle sal jou in benoudheid bring in al jou poorte in jou hele land wat die Here jou God jou gegee het. DEUTERONÓMIUM 28:49-52 AFR53
God het hulle verder gewaarsku dat hulle ten tye van hierdie vervulling ook hul eie kinders sou eet weens honger.
En jy sal die vrug van jou liggaam eet, die vlees van jou seuns en jou dogters wat die Here jou God jou gegee het, in die beleëring en in die benoudheid waarmee jou vyand jou benoud sal maak. DEUTERONÓMIUM 28:53 AFR53
Dit is presies wat God gesê het sou gebeur in Jeremia 19.
En Ek sal die plan van Juda en Jerusalem in hierdie plek uitskud, en Ek sal hulle voor hul vyande deur die swaard laat val en deur die hand van die wat hulle lewe soek; en Ek sal hulle lyke gee as voedsel vir die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde. JEREMIA 19:7 AFR53
Ons kan sien hoekom koning Josia bekommerd was!


Comments