Klaagliedere - Hoofstukke 1 tot 5
Updated: Aug 19

4 Augustus 2026
KLAAGLIEDERE 1:1 AFR53
Alef. AG, hoe verlate sit die stad wat vol mense was! Sy het soos 'n weduwee geword, sy wat magtig was onder die nasies; die vorstin onder die provinsies het dienspligtig geword.
Jeremia betreur in die boek Klaagliedere die vernietiging van die tempel en Jerusalem, asook die mense wat verstrooi is.
Klaagliedere het vyf hoofstukke. Die meeste mense is nie daarvan bewus nie, maar die boek is geskryf as 'n akrostiek wat jy slegs in die Hebreeuse taal kan herken.
Akrostiek of naamgedig is 'n Hebreeuse gedig waar elke reël of strofe in volgorde met die letters van die Hebreeuse alfabet begin word.
Daar is 22 letters in die Hebreeuse alfabet, en daar is 22 verse in hoofstuk een. Elke vers begin met 'n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet.
Byvoorbeeld, in Afrikaans sal die eerste vers begin met 'n woord wat met die letter a begin. Die tweede vers se eerste woord sal met die letter b begin, en so aan totdat die 26ste vers met 'n z woord begin.
Omdat die akrostiek die Hebreeuse alfabet volg, sal ons in die Afrikaanse vertaling nooit die volgorde sien nie.
Hoofstukke 1, 2 en 4 bestaan uit 22 verse, elk vir die 22 letters van die Hebreeuse alfabet, en elke vers begin met die volgende alfabet letter.
Hoofstuk 3 is die volledigste belydenis van sonde, die sonde van Juda.
Die hoofstuk het 66 verse - 6 is die getal van die mens een kort van 7, onvolledig, en dit is ook die getal van sonde. In hierdie geval begin die eerste drie verse met alef, die volgende drie verse begin met bet - dit is ook 'n akrostiek, maar in groepe van drie.
Om die een of ander rede het Hoofstuk 5, die laaste hoofstuk van die boek, ook 22 verse, maar dit is nie ‘n akrostiek nie.
5 Gedigte of Gesange
Hoofstuk 1: Die ellende van die stad wat soos 'n eensame weduwee sit en bitterlik ween.
Hoofstuk 2: Die ellende word beskryf as die nasionale sondes wat hulle veroorsaak het.
Hoofstuk 3: Hoop vir die volk van God. Die tugtiging is vir hul eie beswil, 'n beter dag sal aanbreek.
Hoofstuk 4: Bekla die verwoesting van die stad en tempel a.g.v.die volk se sondes.
Hoofstuk 5: 'n Gebed dat Sion se smaad weggeneem mag word in die bekering en herstel van die volk.
Die Hebreeuse alfabet: Alef, bet, gimel, dalet, he, wau, sajin, get, tet, jod, kaf,
lamed, mem, noen, samek, ajin, pe, sade, kof, resj, sjin en tau
5 Augustus 2026
KLAAGLIEDERE 1:1 AFR53
Alef. AG, hoe verlate sit die stad wat vol mense was! Sy het soos 'n weduwee geword, sy wat magtig was onder die nasies; die vorstin onder die provinsies het dienspligtig geword.
Alef - Ag hoe verlate! Na die ramp van Jerusalem se nederlaag het Jeremia gedink aan die kontras tussen die gelukkige, voorspoedige Jerusalem en die eensame leë stad na die Babiloniese verowering. Eens was Jerusalem vol mense, nou is die stad leeg. Eens was Jerusalem groot onder die nasies, nou is die stad soos 'n slaaf.
Bet - Bitterlik ween sy snags. Met poëtiese vaardigheid beskryf Jeremia Jerusalem as die weduwee wat onbeheerbaar huil sonder dat iemand haar troos. In beter dae het Jerusalem lojale bondgenote gehad, maar daardie vriende het haar vyande geword.
Al het Jerusalem se neerlaag Jeremia se vele profesieë bevestig, het hy geen gevoel van triomf nie, hy is net bedroef.
Bet. Bitterlik ween sy snags — haar trane oor haar wange! Sy het geen trooster onder al haar liefhebbers nie; al haar vriende het troueloos teen haar gehandel, haar vyande geword. KLAAGLIEDERE 1:2 AFR53
Gimel - Geen rusplek vir Juda wat verower en in ballingskap weggevoer is nie.
Gimel. Juda is ontvolk deur ellende en deur sware diensbaarheid; hy sit onder die nasies, sonder om 'n rusplek te vind; al sy vervolgers het hom ingehaal tussen die engtes in. KLAAGLIEDERE 1:3 AFR53
Dalet - Die eens besige poorte van Jerusalem is verlate en daar is geen feesgangers nie. Almal wat met Jerusalem verbind was is mismoedig.
Dalet. Die weë na Sion treur, omdat daar geen feesgangers is nie; al haar poorte lê woes, haar priesters sug, haar jonkvroue is bedroef, en sy self het dit bitter. KLAAGLIEDERE 1:4 AFR53
He - Haar vyande word geseën en leef rustig. Jeremia het verstaan dat hierdie ramp nie te wyte was aan die noodlot, menslike wreedheid of blinde siklusse van die geskiedenis nie. Dit was omdat Juda so lank en so diep gesondig het dat dit God se wil was om hulle met ernstige tugtiging te teister. Dit was as gevolg van die menigte van hul oortredings.
He. Haar teëstanders het die oorhand gekry, haar vyande lewe rustig; want die Here het haar droefheid aangedoen vanweë die menigte van haar oortredinge; haar kinders het in gevangenskap gegaan voor die teëstander uit. KLAAGLIEDERE 1:5 AFR53
Wau - Weg is al haar prag en praal. Jerusalem en haar inwoners is verlate en verslaan. Die vorste het weggehardloop soos takbokke, maar sonder sukses.
Wau. En van die dogter van Sion het gewyk al haar heerlikheid; haar vorste het geword soos takbokke wat geen weiveld vind nie en kragteloos heengegaan het voor die vervolger uit. KLAAGLIEDERE 1:6 AFR53
Sajin - Sy, Jerusalem, dink terug aan die beter dae van ouds aan al haar kosbaarhede wat nie meer is nie. Sy dink terug dat daar niemand was om te help toe hulle aangeval en oorwin is nie, daar was net die teënstanders se gelag oor hul ellende.
Sajin. Jerusalem dink, in die dae van haar ellende en haar omswerwinge, aan al haar kosbaarhede wat gewees het van die dae van die voortyd af. Toe haar volk deur die hand van die teëstander geval het en daar vir haar geen helper was nie, het die teëstanders haar aanskou, hulle het gelag oor haar ongelukkige uiteinde. KLAAGLIEDERE 1:7 AFR53
6 Augustus 2026
KLAAGLIEDERE 1:8 AFR53
Get. Jerusalem het swaar gesondig, daarom het sy 'n voorwerp van afsku geword; almal wat haar geëer het, verag haar, omdat hulle haar naaktheid gesien het; sy self sug en het haar weggedraai.
Get - Gesondig, die rede waarom Jerusalem die voorwerp van afsku geword het.
Tel - Te groot haar ellende. Die eens waardige stad is verneder en blootgestel. Soos 'n koningin wat van haar koninklike klere gestroop is, sug sy en draai weg. Soos 'n dwase persoon, het Jerusalem nooit gedink waarheen haar pad van sonde en rebellie haar sou lei nie.
Tet. Haar onreinheid kleef aan haar some, sy het aan haar einde nie gedink nie, en sy het wonderbaarlik gesink, sonder dat sy 'n trooster het. Sien my ellende aan, Here, want die vyand hou hom groot. KLAAGLIEDERE 1:9 AFR53
Jod - Jerusalem sien hoe haar teëstaansers haar heiligdom, die tempel ingaan. Die vyand, die heidene, betree die heilige tempel en neem al die kosbaarhede wat daarin was.
Jod. Die teëstander het sy hand uitgesteek na al haar kosbaarhede; ja, sy het gesien hoedat heidene in haar heiligdom kom, van wie U bevel gegee het dat hulle in u vergadering nie mag kom nie. KLAAGLIEDERE 1:10 AFR53
Kaf - Kosbaarhede verruil vir kos want hulle is honger. Nog 'n gebed styg op uit Jerusalem, hulle roep om hulp uit die hongerige stad, hulle soek brood.
Kaf. Haar hele bevolking sug, hulle soek brood, hulle het hul kosbaarhede vir voedsel gegee, om hulleself te verkwik. Aanskou, Here, en merk op dat ek 'n veragte geword het. KLAAGLIEDERE 1:11 AFR53
Lamed - Lyding! ‘n Onsimpatieke wêreld kyk na Jerusalem se ellende en dit raak hulle nie. Die volk kry hulself baie jammer. Jerusalem het die ware bron van hul hartseer geken. Dit was nie die Babiloniërs nie, dit was God wat hierdie verwoesting aangerig het - God se toorn oor hul sonde.
Lamed. Raak dit julle nie, julle almal wat met die pad verbygaan? Aanskou en kyk of daar 'n smart is soos my smart wat my aangedoen is, waarmee die Here my bedroef het op die dag van sy toorngloed. KLAAGLIEDERE 1:12 AFR53
Mem - My gebeente voel die oordeel wat God oor Jerusalem gestuur het. Jerusalem het inderdaad God se oordeel gevoel en beleef.
Mem. Uit die hoogte het Hy vuur gestuur in my gebeente en dit oorweldig, Hy het 'n net voor my voet uitgesprei, Hy het my agteruit laat wyk, Hy het my woes gemaak, die hele dag ellendig. KLAAGLIEDERE 1:13 AFR53
Noen - Nou word Jerusalem se ellende vergelyk met die juk wat op hul nek is. ‘n Juk in die hande van ‘n vyand teen wie hul geen teëstand kan bied nie.
Noen. Die juk van my oortredinge is vasgebind deur sy hand, hulle is saamgevleg, hulle het op my nek gekom, dit het my krag laat struikel. Die Here het my oorgegee in die hande van een teen wie ek geen teëstand kon bied nie. KLAAGLIEDERE 1:14 AFR53
7 Augustus 2026
KLAAGLIEDERE 1:15 AFR53
Samek. Die Here het al my magtiges binne-in my verwerp, Hy het teen my 'n feestyd uitgeroep om my jongmanne te verbreek; die Here het die parskuip getrap vir die jonkvrou, die dogter van Juda.
Samek - Sonde se gevolg is straf. Hier word hul straf beskryf as God wat die parskuip trap - die druiwe te trap om die sap van die doppe te skei en die doppe dan op die mishoop te gooi.
Ajin - Ai, ek ween, die water loop van my oë. Jerusalem se ellende was nie die ramp self nie. Dit was dat hulle tydens die ramp min of geen gevoel van God se vertroosting of hulp gehad het nie. Dit het gevoel asof Hy ver van hulle af was.
Ajin. Daarom ween ek, my oog, my oog loop af in water, want ver van my is die trooster wat my verkwik; my kinders is verbyster, omdat die vyand die oorhand het. KLAAGLIEDERE 1:16 AFR53
Pe - Per God se besluit het Jerusalem geen vertroosting gevoel nie. Hulle het ook geen vertroosting van die nasies rondom hulle ontvang nie, hulle was ‘n voorwerp van afsku.
Pe. Sion brei haar hande uit, sy het geen trooster nie; die Here het die wat rondom hom was, teen Jakob ontbied as sy teëstanders; Jerusalem het in hul midde 'n voorwerp van afsku geword. KLAAGLIEDERE 1:17 AFR53
Sade - Sy, Jerusalem, het haar sondes bely en die geregtigheid van God verkondig. Haar hartseer en gevangenskap was omdat sy 'n rebel teen God was.
Sade. Regverdig is Hy, die Here, want ek was teen sy mond wederstrewig. Hoor tog, alle volke, en aanskou my smart; my jonkvroue en my jongmanne het in gevangenskap gegaan. KLAAGLIEDERE 1:18 AFR53
Kof - Kan julle my nie hoor nie? Jerusalem roep na die nasies in wie hulle hul vertroue geplaas het, maar hulle word in die steek gelaat. Jerusalem het van honger beswyk tydens die beleëring.
Kof. Ek het geroep na my liefhebbers — hulle het my in die steek gelaat; my priesters en my oudstes het in die stad beswyk toe hulle voedsel vir hulle gesoek het om hulleself te verkwik. KLAAGLIEDERE 1:19 AFR53
Resj - Roep na God! Dit is al wat Jerusalem kon doen in hul ellende. Daar was niemand anders wat kon of wou help nie. Oorlog en verwoesting het dood buite en binne die stadsmure gebring.
Resj. Aanskou, Here, hoe benoud ek is, my ingewande is in beroering, my hart draai om in my binneste, want ek was baie wederstrewig; buitekant het die swaard berowe, binnekant is dit soos die pes. KLAAGLIEDERE 1:20 AFR53
Sjin - So sug die volk, sodat die vyand kan hoor dat hulle geen trooster het nie.
Sjin. Hulle hoor dat ek sug, ek het geen trooster nie; al my vyande hoor van my onheil, hulle is bly dat U dit gedoen het. U laat die dag kom wat U uitgeroep het, dat hulle kan wees soos ek, KLAAGLIEDERE 1:21 AFR53
Tau - Toe roep die volk uit dat God moet doen aan hul vyande dieselfde as wat Hy aan hulle gedoen het.
Tau. dat al hulle boosheid voor u aangesig kom; en doen aan hulle soos U aan my gedoen het vanweë al my oortredinge, want my versugtinge is baie, en my hart is krank. KLAAGLIEDERE 1:22 AFR53
8 Augustus 2026
KLAAGLIEDERE 2:1 AFR53
Alef. AG, hoe het die Here in sy toorn die dogter van Sion met wolke oordek! Hy het die sieraad van Israel uit die hemel op die aarde neergewerp en nie gedink aan die voetbank van sy voete op die dag van sy toorn nie.
Alef - Ag, hoe erg is God se wolk van toorn. In vorige geslagte het Jerusalem die wolk van God se heerlikheid geken, maar dit is nou weg. Esegiël het gesien hoe die wolk van heerlikheid die stad onder oordeel verlaat. Nou betreur Jeremia die teenwoordigheid van 'n wolk – nie 'n wolk van heerlikheid nie, maar 'n wolk van toorn.
Bet - Babilon as God se instrument van wraak het al die woonplekke van Jakob verslind. Hier begin 'n lang reeks van ‘Hy het’ stellings met die klem op die idee dat al hierdie vernietiging van God af kom.
Bet. Die Here het al die woonplekke van Jakob sonder verskoning verslind; in sy grimmigheid het Hy die vestings van die dogter van Juda verwoes, op die grond gewerp, die koninkryk en sy vorste ontheilig. KLAAGLIEDERE 2:2 AFR53
Gimel - God het die horing of die magtiges van Israel afgesny, Sy eie beskerming van Sy volk teruggetrek, en teen hulle in opstand gekom.
Gimel. Hy het in gloeiende toorn elke horing van Israel afgekap; Hy het sy regterhand teruggetrek voor die vyand, en in Jakob het Hy gebrand soos 'n vuurvlam wat rondom verteer. KLAAGLIEDERE 2:3 AFR53
Dalet - Die volk van God was gewoond daaraan dat God se regterhand uitgestrek was om hulle te beskerm. Nie hier nie, nou is God se regterhand hul teënstaander wat pyle skiet en die swaard van wraak swaai.
Dalet. Hy het sy boog gespan soos 'n vyand, Hom opgestel met sy regterhand soos 'n teëstander en gedood alles wat 'n lus was vir die oog in die tent van die dogter van Sion; Hy het sy grimmigheid uitgegiet soos vuur. KLAAGLIEDERE 2:4 AFR53
He - Hier is God Israel se vyand wat die tempel weggeneem het, net soos Hy Sy tabernakel weggeneem het.
He. Die Here het soos 'n vyand geword, Hy het Israel verslind, al sy paleise verslind, sy vestings verwoes en geklaag en geklag by die dogter van Juda vermenigvuldig. KLAAGLIEDERE 2:5 AFR53
Wau - Weg is al die feeste. Al God se vasgestelde tye, die feeste en Sabbatte wat in Sion gehou was, is meestal vergeet as gevolg van die leierskap, die konings en die priesters wat die volk op 'n dwaalspoor gelei het.
Wau. En Hy het sy eie omheining soos 'n tuin verniel, sy eie feesplek verwoes; die Here het in Sion feestyd en sabbat laat vergeet, en in sy grimmige toorn koning en priester verwerp. KLAAGLIEDERE 2:6 AFR53
Sajin - Sion se feesdae was bekend vir die feestelike gedruis van stemme. Nou egter hoor hulle net die geluid van die vyand wat die stad oorneem.
Sajin. Die Here het sy altaar verwerp, sy heiligdom ontheilig, die mure van haar paleise in die hand van die vyand oorgelewer; hulle het gedruis gemaak in die huis van die Here soos op 'n feesdag. KLAAGLIEDERE 2:7 AFR53
9 Augustus 2026
KLAAGLIEDERE 2:8 AFR53
Get. Die Here het Hom voorgeneem om die muur van die dogter van Sion te verwoes; Hy het die meetsnoer gespan, sy hand nie teruggetrek van vernietiging nie; ja, Hy het voorskans en muur laat treur, saam sak hulle inmekaar.
Get - God het besluit om die muur van die dogter van Sion te vernietig.
Tet - Te gronde gerig en verbreek. Die stad se poorte is in die grond gesink, en die koninklikes en adellikes is na Babilon weggevoer. Regeringsinstellings het verdwyn en was van geen hulp nie. Die geestelike instellings het ook gefaal en kon geen hulp bied nie. Daar was geen getroue priesters om die Wet te leer nie, en die profete was stil.
Tet. Haar poorte het in die grond gesink, Hy het haar grendels te gronde gerig en verbreek; haar koning en haar vorste is onder die heidene; daar is geen onderwysing nie, en haar profete ontvang geen gesig van die Here nie. KLAAGLIEDERE 2:9 AFR53
Jod - Juda se leiers was stom en van geen hulp nie. Al wat hulle kon doen was om te treur en stof op hul koppe te gooi. Die jonger geslag was ook van geen hulp nie. Al wat hulle kon doen was om hul koppe in wanhoop te buig.
Jod. Die oudstes van die dogter van Sion sit en swyg op die grond, hulle het stof op hul hoof gegooi, rouklere aangegord; die jonkvroue van Jerusalem het hulle hoof na die aarde gebuig. KLAAGLIEDERE 2:10 AFR53
Kaf - Kyk hoe vernietig die teëspoed almal. Jeremia se oë huil, sy hart breek en hy kry ‘n gal aanval, veral oor die uitwerking op die kinders en die babas.
Kaf. My oë teer weg in trane, my ingewande is in beroering, my lewer is op die grond uitgeskud vanweë die verbreking van die dogter van my volk, omdat kind en suigling op die pleine van die stad versmag, KLAAGLIEDERE 2:11 AFR53
Lamed - Leeg is die koskaste. Die kinders huil vir kos, maar hulle moeders het niks om vir hulle te gee nie. Die kinders is soos gewonde mans wat hul laaste asemteug uitblaas, en in hul wanhoop aan hul moeders se borste vasklou.
Lamed. wat aan hulle moeders sê: Waar is koring en wyn? terwyl hulle versmag soos gewondes op die pleine van die stad, terwyl hulle lewe uitgestort word aan die bors van hul moeders. KLAAGLIEDERE 2:12 AFR53
Mem - Maar Jerusalem was sonder vertroosting. Jeremia is nie in staat om die verwoeste stad te troos nie. Jerusalem se ondergang is wyd uitgesprei soos die see en kan nie gehelp word nie.
Mem. Watter getuienis kan ek vir jou aflê, waarmee kan ek jou vergelyk, dogter van Jerusalem? Waarmee sal ek jou gelykstel, dat ek jou kan troos, jonkvrou, dogter van Sion? Want jou verbrokenheid is so groot soos die see — wie kan jou gesond maak? KLAAGLIEDERE 2:13 AFR53
Noen - Nie een van die vals profete het die waarheid gepraat nie. Daar was baie valse profete in die laaste dae van Juda, volgens beide Jeremia en Esegiël. Hulle het belowe dat God Jerusalem en Juda van die Babiloniërs sou red en dat Hy die ballinge vinnig sou terugbring. Dit was alles valse profesieë en wanbeelde.
Noen. Jou profete het vir jou bedrieglike en ongerymde dinge gesien en jou ongeregtigheid nie geopenbaar om jou lot te verander nie, maar hulle het vir jou godsprake gesien tot bedrog en verstoting. KLAAGLIEDERE 2:14 AFR53
10 Augustus 2026
KLAAGLIEDERE 2:15 AFR53
Samek. Almal wat met die pad verbygaan, slaan die hande saam oor jou; hulle spot en skud hulle hoof oor die dogter van Jerusalem: Is dit die stad waarvan hulle gesê het: Volmaak in skoonheid, vreugde van die hele aarde?
Samek - So word die stad nou gesien. Geen applous, almal wat verbygaan is verstom oor die stad wat eens gekenmerk was deur skoonheid en vreugde.
Pe - Power is die reaksie van Israel se vyande. Hulle het lank gewag vir die dag van haar verowering en was nou bly dat hulle dit sien.
Pe. Al jou vyande rek hulle mond oop oor jou, hulle spot en kners op die tande, hulle sê: Ons het verslind, ja, dit is die dag wat ons verwag het; ons het dit bereik, dit belewe! KLAAGLIEDERE 2:16 AFR53
Anin - Afgebreek is die stad. In die oordeel oor Jerusalem en Juda het God vervul wat Hy voorgeneem het en het Hy Sy woord vervul.
Ajin. Die Here het gedoen wat Hy Hom voorgeneem het, sy woord volbring wat Hy sedert die dae van die voortyd beveel het; Hy het sonder verskoning afgebreek en die vyand oor jou bly gemaak, die horing van jou teëstanders verhoog. KLAAGLIEDERE 2:17 AFR53
Sade - Spottend was die gebed van die vyande wat oor Jerusalem gejuig het, hulle wou hê dat Jerusalem vir ewig moes huil.
Sade. Hulle hart roep na die Here. Muur van die dogter van Sion, laat trane afloop soos 'n stroom, dag en nag; gun jouself geen verposing nie, laat jou oogappel nie rus nie. KLAAGLIEDERE 2:18 AFR53
Kof - Kinders wat honger lei. Die vyande van Jerusalem was bly toe hulle die mense van die stad sien bid en pleit vir hul jong kinders wat van die honger omkom.
Kof. Staan op, skreeu in die nag by die begin van die nagwake, stort jou hart uit soos water voor die aangesig van die Here, hef jou hande op na Hom, ter wille van die lewe van jou kinders wat versmag van honger by die hoek van al die strate. KLAAGLIEDERE 2:19 AFR53
Resj - Roep na God vir genade en hulp. Die hongersnood is so erg dat moeders hul klein kinders eet om nie self dood te gaan nie.
Resj. Aanskou, Here, en merk op aan wie U so gedoen het! Moet vroue dan hulle vrug eet, kindertjies wat op die hande gedra word? Moet dan in die heiligdom van die Here priester en profeet gedood word? KLAAGLIEDERE 2:20 AFR53
Sijn - So is die jong mans en vroue deur die swaard doodgemaak.
Sjin. Op die grond lê jonk en oud in die strate; my jonkvroue en my jongmanne het deur die swaard geval; U het hulle gedood op die dag van u toorn, U het geslag sonder verskoning. KLAAGLIEDERE 2:21 AFR53
Tau - Toe het God die swaard, hongersnood en pes tot hul vernietiging geroep.
Tau. U het soos op 'n feesdag my verskrikkinge geroep van rondom, en niemand het op die dag van die Here se toorn vrygeraak of ontkom nie; die wat ek op die hande gedra en grootgemaak het — my vyand het hulle omgebring. KLAAGLIEDERE 2:22 AFR53
11 Augustus 2026
KLAAGLIEDERE 3:1-3 AFR53
Alef. Ek is die man wat ellende gesien het deur die roede van sy grimmigheid. My het Hy gelei en laat wandel in duisternis sonder lig. Ja, altyd weer draai Hy die hele dag sy hand teen my.
Alef - Alhoewel Jeremia geweet het wat oor sy nasie sou kom was hy nie onaangeraak deur hul vernietiging nie. Jeremia begin deur sy ellende vir ons te wys. Hy beleef die ballingskap as iets wat so erg is, dat dit voel asof hy persoonlik daardeur in God se toorn geslaan is.
Bet - Baie van wat Jeremia hier beskryf is metafore van hoe hy voel. Dit is asof hy in die donker ingejaag word en God hom op ’n pad laat loop waar daar geen lig is nie. Hy voel asof hy toegebou word met ‘n muur van gif en ontberings.
Bet. Hy het my vlees en my vel laat wegteer, my gebeente verbreek. Hy het my met 'n bouwerk omsingel van gif en moeite. Hy het my in donker plekke laat sit soos die wat lankal dood is. KLAAGLIEDERE 3:4-6 AFR53
Gimel - Gedruk! So het Jeremia gevoel, toegedruk deur mure waaruit hy nie kon kom nie, soos Jerusalem was met die beleëring van die Babiloniese soldate. Die mense van Juda het saam met Jeremia van God verlate gevoel.
Gimel. Hy het my toegemuur, sodat ek nie kan uitkom nie, my koperboeie swaar gemaak. Al skreeu ek ook en al roep ek om hulp, Hy laat my gebed onverhoord. Hy het my weë toegemuur met gekapte klip, my paaie onbegaanbaar gemaak. KLAAGLIEDERE 3:7-9 AFR53
Dalet - Deur voorbeelde te gee wat ellende uitbeeld, beskryf Jeremia al die maniere waarop hulle voel dat God hulle teëstaan en selfs aanval. ‘n Beer wat wag om aan te val, ‘n leeu in sy skuilplek en ‘n boog wat gespan word om te skiet.
Dalet. Hy is 'n beer wat my voorlê, 'n leeu in skuilplekke. Hy het my weë laat wegdraai en my verskeur, my tot 'n woesteny gemaak. Hy het sy boog gespan en my as 'n teiken vir die pyl opgestel. KLAAGLIEDERE 3:10-12 AFR53
He - Hy span Sy boog en die teiken is nie die diere nie. Dit voel of God se pyle Jeremia se niere deurdring. Die hele volk spot Jeremia vir sy profesieë en hy voel bitter oor die behandeling wat hy kry.
He. Hy het die pyle uit sy pylkoker in my niere laat ingaan. Ek het 'n belagging geword vir my hele volk, hulle spotlied die hele dag. Hy het my met bitter kruie versadig, my genoeg wildeals laat drink. KLAAGLIEDERE 3:13-15 AFR53
Wau - Wanneer Jeremia sy kos kou voel dit of hy gruisklippies eet wat sy tande afstomp. Moet wees dat gruis saam met die laaste bietjie meel gemeng was wat van die dorsvloer bymekaar gemaak is om brood te bak.
Geen wonder dat Jeremia en Jerusalem so depresief klink nie. Met God as teëstander, watter krag is daar? Watter hoop is daar op vrede of voorspoed?
Wau. En Hy het my die tande op gruisklippertjies laat stukkend byt, my in die as neergedruk. En U het my siel van die vrede verstoot, ek het die goeie vergeet. Ja, ek het gesê: My roem het vergaan en my hoop op die Here. KLAAGLIEDERE 3:16-18 AFR53
12 Augustus 2026
KLAAGLIEDERE 3:19-21 AFR53
Sajin. Dink aan my ellende en my omswerwing, aan die wildeals en die gif. As my siel terdeë daaraan dink, buig hy hom neer in my. Dit sal ek ter harte neem, daarom sal ek hoop:
Sajin - So sê Jeremia - positiwe denke is nie die antwoord vir diep ellende nie. Hy het dit eintlik nuttig gevind om dit te onthou, om dit te verstaan vir wat dit was, en om nie voor te gee dat dit nie daar was nie.
Dit was goed vir Jeremia se siel om te sink, om sy laagste punt te vind sodat hy op die regte fondament kon bou. Miskien vir die eerste keer in die boek word hoop toegelaat.
Get - Genade! Iets wat Jeremia onthou het was dat al was die volk hoe erg verslaan, hulle het nooit heeltemal gaan lê nie. Daar was steeds 'n oorblyfsel, en 'n oorblyfsel met 'n belofte van herstel.
Selfs in die erns van die teregwysing wat God se mense verduur het, was daar bewyse van Sy barmhartigheid. Daar was ryk vertroosting in die besef dat die teer liefde van God nie heeltemal uitgeput was nie, hierdie barmhartigheid was elke oggend nuut.
Jeremia onthou dat God getrou is, dat Hy nooit faal om Sy genade en barmhartigheid te stuur nie. Selfs in hul ramp was God getrou. Hy het getrou Sy oordele aangekondig en dit uitgevoer, en God sou net so getrou wees in Sy beloofde herstel.
Jeremia het die sleutel tot tevredenheid gevind—om jou deel in God te vind. Watter mate Jeremia ook al sou ontvang, watter erfenis ook al, watter toekoms ook al, dit sou alles in God gevind word.
Daarom hoop ek op Hom. God kon nie werklik sy hoop wees totdat hy eers sy deel was nie. Dit was 'n pad na hoop vir hom.
Get. dit is die goedertierenhede van die Here dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie; hulle is elke môre nuut; u trou is groot. Die Here is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop. KLAAGLIEDERE 3:22-24 AFR53
Tet - Tog het al die ellende van God se mense gekom omdat hulle God nie werklik wou soek en op Hom wou wag nie. Hulle het geslagte lank God verwerp en teen Hom in opstand gekom, en toe na ander gekyk vir redding. Om Hom weer te soek, sou hernude uitdrukkings van Sy goedheid bring.
Alles wat voorheen in Klaagliedere uitgespreek was, was diep in wanhoop, en die ellende was geensins verby nie. Tog is hierdie flitse van lig welkom en noodsaaklik. Ten spyte van al die wanhoop het Jeremia aan homself en al die ander die goedheid van hoop en geduldige soeke na God verkondig.
Daar is tye van teëspoed, en soms is dit beter om daardie tye te hê wanneer 'n mens jonk is. As God ons dissiplineer wanneer ons jonk is, is dit om ons gereed te maak vir 'n vrugbare toekoms.
Tet. Goed is die Here vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek. Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die Here. Dit is goed vir 'n man dat hy die juk in sy jeug dra. KLAAGLIEDERE 3:25-27 AFR53
13 Augustus 2026
KLAAGLIEDERE 3:28-30 AFR53
Jod. Laat hom eensaam sit en swyg, as Hy hom dit opgelê het. Laat hy sy mond in die stof steek — miskien is daar hoop! Laat hy die wang gee vir die wat hom slaan, laat hy genoeg kry van smaad.
Jod - Jeremia sê, dit is beter om in teëspoed nie dadelik alles uit te pluis nie. Dit is ‘n goeie tyd vir besinning (eensaam sit) en luister, eerder as om te praat. In hierdie geduldige soeke na God is daar rede vir hoop. Aanvaar geduldig die lyding en smaad wat God oor jou pad stuur,
Kaf - Kyk, die lyding wat verduur word, is nie vir ewig nie. In Sy wyse oordele veroorsaak God droefheid, maar Hy belowe ook om medelye te toon, en doen dit volgens die grootheid van Sy barmhartigheid.
Kaf. Want die Here sal nie vir ewig verstoot nie. Maar as Hy bedroef het, ontferm Hy Hom na die grootheid van sy goedertierenhede; want nie van harte verdruk of bedroef Hy die mensekinders nie. KLAAGLIEDERE 3:31-33 AFR53
Lamed - Lyk of die feit dat die regverdige oordeel van God teen diegene is wat, anders as Hy, opsetlike en onnodige lyding veroorsaak, nog 'n grond is vir hoop vir die lydende.
Drie vorms van boosheid word gespesifiseer, nl: (1) die wrede behandeling van krygsgevangenes, soos Jeremia daagliks deur die hande van die Chaldeërs gesien het, (2) die verdraaiing van geregtigheid in 'n openbare tribunaal wat in die naam van God optree, en (3) onregverdige behandeling in ‘n regsaak.
Lamed. Dat hulle al die gevangenes van die aarde onder hul voete vertrap, dat hulle die reg van 'n man verdraai voor die aangesig van die Allerhoogste, dat hulle 'n mens onregverdig behandel in sy regsaak — het die Here dit nie gesien nie? KLAAGLIEDERE 3:34-36 AFR53
Mem - Maar wie is Hy wat spreek en dit gebeur? Het die Here dit nie beveel nie?
In 'n tyd van groot lyding of rampspoed kan dit moeilik wees om te onthou dat God oor alle dinge heers – indien nie direk nie, dan in wat Hy toelaat.
Om klem te lê, het Jeremia dieselfde vraag met verskillende woorde gevra.
Waarom moet 'n lewende mens kla? Ons mag teen God en Sy soewereiniteit kla, maar dit is nutteloos en ondankbaar. Die lewende mens moet dankbaar wees dat hy nog lewe, en erken dat daar 'n mate van geregtigheid in die straf van sy sondes is.
Mem. Wie spreek daar, en dit gebeur? Het die Here dit nie beveel nie? Gaan uit die mond van die Allerhoogste nie kwaad sowel as goed nie? Wat klaag 'n mens in sy lewe? Laat elkeen klaag oor sy sondes. KLAAGLIEDERE 3:37-39 AFR53
Noen - Nee, ons leef nie voortdurend gefokus op ons sondes en mislukkings nie, maar daar is gepaste tye om ons weë noukeurig en doelbewus te ondersoek.
Al die selfondersoek in die wêreld doen egter min goed as dit ons nie terug lei na God nie. Ons behoort, ons moet, ons van sonde en self afwend en terugkeer na God.
Noen. Laat ons ons weë naspeur en deursoek en ons tot die Here bekeer; laat ons ons hart saam met die hande ophef tot God in die hemel en sê: Óns het oortree en ons was wederstrewig — Ú het nie vergewe nie. KLAAGLIEDERE 3:40-42 AFR53
14 Augustus 2026
KLAAGLIEDERE 3:43-45 AFR53
Samek. U het U in toorn gehul en ons agtervolg, U het gedood sonder verskoning. U het Uself in 'n wolk gehul, sodat daar geen gebed kon deurdring nie; U het ons 'n uitvaagsel en 'n wegwerpsel onder die volke gemaak.
Samek - Steeds is God besig om Sy volk te straf. Toorn is soos die kleed waarin God Homself toedraai om Sy regverdige oordele uit te voer. God se toorn word uitgebeeld as 'n wolk waardeur die gebede van die geteisterdes nie kan deurdring nie. Die volk kla dat God hulle in die hande van die heidene, die Chaldeërs, oorgegee het om behandel te word soos uitvaagsels.
Pe - Plek in die alfabet word hier verruil want pe kom eintlik na ajin. Power is die reaksie van Israel se vyande. Hulle het lank gewag vir die dag van haar verowering en was nou bly dat hulle dit gesien het.
Pe. Al ons vyande het hulle mond teen ons oopgerek; skrik en kuil het ons deel geword, ondergang en verbreking. My oog loop af in waterstrome oor die verbreking van die dogter van my volk. KLAAGLIEDERE 3:46-48 AFR53
Ajin - Aanmekaar word daar gehuil. Die ontsteking van die oë wat veroorsaak word deur voortdurende huil en die gesigte van ellende waarna hy kyk, dra by tot Jeremia se geestelike lyding.
Ajin. My oog vloei rusteloos weg sonder ophou, totdat die Here uit die hemel neersien en aanskou. My oog gee my pyn oor al die dogters van my stad. KLAAGLIEDERE 3:49-51 AFR53
Sade - Soveel smart en verdriet. Jeremia voel of hy weer in ‘n put is, maar die keer besig om te verdrink.
Sade. Hulle het my soos 'n voël rondgejaag, die wat sonder oorsaak my vyande is; hulle het my lewe in 'n kuil tot niet gemaak en klippe op my gegooi. Water het oor my hoof gestroom, ek het gesê: Dit is klaar met my! KLAAGLIEDERE 3:52-54 AFR53
Kof - Kon hy, Jeremia, maar net ‘n sug uitkry uit die diepte van die put, het hy geweet dat God sy roep sou hoor.
Kof. Ek roep u Naam aan, Here, uit die onderste kuil. U hoor my stem; verberg u oor nie vir my ontboeseming, vir my hulpgeroep nie. U kom nader die dag as ek U aanroep, U sê: Wees nie bevrees nie! KLAAGLIEDERE 3:55-57 AFR53
Resj - Rus in die vertroue dat God sy advokaat is. Soos 'n prokureur wat vir sy kliënt pleit, het God die saak vir Jeremia se lewe bepleit.
Resj. U, Here, verdedig my regsaak, U verlos my lewe. U sien, Here, my verdrukking; verskaf my tog reg. U sien al hulle wraaksug, al hulle planne teen my. KLAAGLIEDERE 3:58-60 AFR53
Sjin - So het Jeremia gerus in die vertroue dat God 'n regverdige regter was, wat sou sien hoe hy onreg aangedoen is en wat sy saak tereg sou oordeel.
Sjin. U hoor hulle smaadrede, Here, al hulle planne teen my, die lippe van my teëstanders en hulle bedenksels die hele dag teen my. Aanskou tog hulle sit en hulle opstaan, ek is hulle spotlied. KLAAGLIEDERE 3:61-63 AFR53
Tau - Toe het Jeremia geweet dat God hul vyande sal vergeld.
Tau. U sal hulle vergeld vir wat hulle gedoen het, Here. U sal hulle gee verblinding van hart, u vervloeking oor hulle. U sal hulle in toorn vervolg en hulle verdelg van onder die hemel van die Here uit. KLAAGLIEDERE 3:64-66 AFR53
15 Augustus 2026
KLAAGLIEDERE 4:1 AFR53
Alef. AG, hoe is die goud verdonker, die goeie goud verander, die heilige stene weggegooi op die hoek van al die strate!
Alef - Ag, sug Jeremia. Hy betreur die verlies van die kosbare seuns van Sion wat so waardevol soos fyn goud was. Die beste en slimstes is almal uit Juda en Jerusalem geneem en net die armstes en die minste bekwames is agtergelaat.
Bet - Beslis sal die geslag kosbare seuns wat na Babilon geneem is, nooit daar so waardevol geag word soos in Jerusalem nie. Hulle word in Babilon so goedkoop geag soos kleipotte.
Bet. Die kinders van Sion, die kosbares, wat teen fyn goud geskat was, ag, hoe is hulle gereken soos erdekruike, die werk van pottebakkershande. KLAAGLIEDERE 4:2 AFR53
Gimel - Gooiste, selfs wrede en vernietigende diere is nie so onnatuurlik om die sorg van hul kleintjies te verwaarloos nie. Die vroue van Jerusalem het weens die hongersnood omstandighede geword soos die volstruis wat haar eiers verontagsaam.
Gimel. Selfs jakkalse gee die speen, laat hulle kleintjies drink, maar die dogter van my volk het wreed geword soos die volstruise in die woestyn. KLAAGLIEDERE 4:3 AFR53
Dalet - Die skaarste aan voedsel was so groot dat die vroue nie genoeg voeding gehad het om melk te produseer om hul babas te borsvoed nie, en wanneer die kinders vir brood gesmeek het, het die ouers niks gehad om vir hulle te gee nie.
Dalet. Die tong van die suigling kleef aan sy verhemelte van dors, kindertjies vra brood, niemand breek dit vir hulle nie. He. Hulle wat lekkernye geëet het, het versmag op die strate; die wat op purper gedra is, het die ashope omarm. KLAAGLIEDERE 4:4 AFR53
Hu - Hulle, diegene wat eens hoog was word nou laag geag. Niemand was veilig teen die oordeel wat oor Jerusalem gekom het nie.
He. Hulle wat lekkernye geëet het, het versmag op die strate; die wat op purper gedra is, het die ashope omarm. KLAAGLIEDERE 4:5 AFR53
Wau - Waarom het God Jerusalem strenger as Sodom en Gomorra geoordeel? Want die sonde van Jerusalem was erger as die van Sodom en Gomorra.
Wau. Want die ongeregtigheid van die dogter van my volk was groter as die sonde van Sodom wat soos in 'n oomblik omgekeer is, sonder dat iemand die hand daaraan geslaan het. KLAAGLIEDERE 4:6 AFR53
Sajin - So was haar vorste witter as sneeu. Die Hebreeus gebruik die woord Nasarener en nie vorste nie. 'n Nasarener was iemand wat 'n vrywillige eed afgelê het, en baie het dit gedoen. Hulle is daarvoor gekomplimenteer en hulle het goed gelyk. Maar, dit was alles aan die buitekant, hulle harte het nie verander nie.
Sajin. Haar vorste was helderder as sneeu, witter as melk, rooier van liggaam as korale, hulle gestalte 'n saffier. KLAAGLIEDERE 4:7 AFR53
Get - Getref deur die ramp was hul voorkoms swarter as roet.
Get. Maar hulle voorkoms het donkerder as swartsel geword, hulle is nie herken op die strate nie; hulle vel kleef aan hul gebeente, dit het droog geword soos hout. KLAAGLIEDERE 4:8 AFR53
16 Augustus 2026
KLAAGLIEDERE 4:9 AFR53
Tet. Die wat deur die swaard verslaan is, is gelukkiger as die wat deur die honger verslaan is, wat, deurboor, vergaan het uit gebrek aan veldvrugte.
Tet - Tog was diegene wat deur die swaard verslaan en dood was, beter af as die wat die hongersnood beleef het.
Jod - Jeremia verduidelik dat die hongersnood so erg was dat eens liefdevolle vroue hul eie kinders vir voedsel gekook het.
Jod. Die hande van teerhartige vroue het hulle eie kinders gekook; dit het hulle voedsel geword in die verbreking van die dogter van my volk. KLAAGLIEDERE 4:10 AFR53
Kaf - Kyk, die vuur van God se toorn is aangesteek. Vuur verteer gewoonlik net die oppervlak, maar die vuur het selfs die fondament bereik en alle hoop op herstel afgesny.
Kaf. Die Here het sy grimmigheid laat uitwoed, sy toorngloed uitgegiet en in Sion 'n vuur aangesteek wat die fondamente daarvan verteer het. KLAAGLIEDERE 4:11 AFR53
Lamed - Laat niemand dit glo nie. Die stad was so goed versterk, en was so dikwels wonderbaarlik deur God bewaar teen die aanslae van hul vyande, dat dit ongelooflik gelyk het dat dit uiteindelik in die Babeloniërs se hande sou val.
Lamed. Hulle het dit nie geglo nie, die konings van die aarde en al die inwoners van die wêreld, dat 'n teëstander of 'n vyand in die poorte van Jerusalem sou kom nie. KLAAGLIEDERE 4:12 AFR53
Mem - Maar die verdoemenis van Sion was veral gepas gegewe die sondes van hul geestelike leiers. Hulle het getroue profete en mense van God vermoor.
Mem. Dit was oor die sondes van haar profete, die ongeregtighede van haar priesters wat daar binne-in die bloed van die regverdiges vergiet het. KLAAGLIEDERE 4:13 AFR53
Noen - Nou sien Jeremia die mense van Jerusalem wat blind deur die strate dwaal en op dooie lyke trap. Die gruwel van die prentjie word versterk deur die feit dat die klere van die priesters so van bloed gedrup het dat mense teruggedeins het om hulle aan te raak.
Noen. Blind het hulle deur die strate gewaggel, met bloed bevlek, sodat 'n mens hulle klere nie kon aanraak nie. KLAAGLIEDERE 4:14 AFR53
Samek - So het almal wat hierdie bloedbevlekte priesters en profete in die straat teëgekom het, hulle verafsku en gewaarsku met die uitroep wat die melaatse moes uitroep: Onrein! onrein!
Samek. Staan opsy, onrein! — het die mense hulle toegeroep. Staan opsy, staan opsy, moenie aanraak nie! As hulle vlug, ja waggel, is onder die heidene gesê: Hulle mag hier nie langer vertoef nie. KLAAGLIEDERE 4:15 AFR53
17 Augustus 2026
KLAAGLIEDERE 4:16 AFR53
Pe. Die aangesig van die Here het hulle verstrooi, Hy sal hulle verder nie meer met welgevalle aansien nie. Vir die persoon van die priesters het hulle geen agting gehad, aan die grysaards het hulle geen genade bewys nie.
Pe - Priesters en grysaards is nie meer deur hul vyande, of die heidene, of mense in die algemeen gerespekteer nie.
Ajin - Ai, as iemand ons net kon help. Die verwagting dat Egipte of 'n ander nasie tot hul redding sou kom, is deur die jaar en 'n half van die beleëring gekoester, maar niemand het kom help nie.
Ajin. Nog altyddeur smag ons oë tevergeefs na hulp vir ons; op ons wagpos sien ons met verwagting uit na 'n nasie wat nie sal help nie. KLAAGLIEDERE 4:17 AFR53
Sade - So kom toe die oomblik toe Jerusalem uiteindelik deur die Babiloniërs verower en beset is, en die Joodse burgers baie min vryheid gehad het,. Hulle is gou voorberei vir hul ballingskap na Babilon.
Sade. Hulle het jag gemaak op ons voetstappe, sodat ons op ons pleine nie kon loop nie; ons einde het nader gekom, ons dae was vol, ja, ons einde het gekom. KLAAGLIEDERE 4:18 AFR53
Kof - Kyk of enige persoon die Babiloniërs kan ontsnap. Die soldate het enige persoon agternagesit wat probeer ontsnap het.
Kof. Ons vervolgers was vinniger as die arende van die hemel, op die berge het hulle ons hewig agtervolg, in die woestyn het hulle ons voorgelê. KLAAGLIEDERE 4:19 AFR53
Resj - Reeds is hul koning wat probeer ontsnap het ook gevang. Die mense van Jerusalem het Sedekia as die gesalfde van God beskou en gehoop dat hulle onder sy skaduwee in die vreemde sou woon. Die hoop is bitterlik teleurgestel.
Resj. Die asem van ons neus, die gesalfde van die Here, is in hulle kuile gevang, hy onder wie se skaduwee ons gedink het om te lewe onder die nasies. KLAAGLIEDERE 4:20 AFR53
Sjin - So het Jeremia toe sarkasties met Edom gepraat, wat verheug was dat hul bure, Jerusalem en Juda, verower is.
Sjin. Verbly en verheug jou, dogter van Edom, wat in die land Us woon; ook na jou sal die beker kom, jy sal dronk word en jouself ontbloot. KLAAGLIEDERE 4:21 AFR53
Tau - Taktloos was Edom. Soos Edom geluk gevind het in Sion se ellende, so sou hulle die beker van oordeel drink uit die hand van die Babiloniërs. God was klaar met Sy oordeel oor Jerusalem, maar Edom se straf moes nog kom.
Tau. Jou straf het sy einde bereik, dogter van Sion, Hy sal jou nie weer in ballingskap laat wegvoer nie. Hy besoek jou ongeregtigheid, dogter van Edom, Hy openbaar jou sondes. KLAAGLIEDERE 4:22 AFR53
18 Augustus 2026
KLAAGLIEDERE 5:1 AFR53
Dink, Here, aan wat oor ons gekom het, sien en aanskou ons smaad.
Hierdie klaaglied het wel 22 verse, soos hoofstuk 1, 2 en 4, maar die verse begin nie met die opeenvolgende letters van die Hebreeuse alfabet nie. Dit is ook veel korter as die ander klaagliedere. Die hele gedig word verder as ’n klaaglied van die gemeenskap van Jerusalem verwoord, ’n gepaste afsluiting van die versameling van Klaagliedere van Jeremia.
Soos dit toenemend in die vorige klaagliedere duidelik geword het, is die hoop van die volk nie geleë in die leiers van die volk nie, maar net in God self. Daarom vra die volk: Kyk tog en sien self hoe ons verneder is.
Jeremia beskryf die ontsetting van die oorheersing wat die eens trotse simbool van God se teenwoordigheid nou beleef:
- Hulle besittings is aan vreemdes gegee.
- Die mans is uitgemoor wat baie weeskinders en weduwees agtergelaat het.
- Die vrouens is verneder.
- Die leiers is uitgewis
- Jonk en oud ly van honger.
- Daar is geen feestelikheid meer nie.
- Ekonomies gaan dit beroerd – water en hout is nie meer gratis nie.
- Polities is hulle ’n verstote gebied.
Maar ten diepste is dit ’n geestelike realiteit. Die tragiese feit is dat hulle oorheers word, dat hulle magteloos voel, dat die hele lewe onveilig geword het weens die sondes van die vaders. Selfs wanneer hulle probeer om in die veld kos te gaan haal is hulle nie veilig nie.
Ons erfdeel het na vreemdes oorgegaan, ons huise na uitlanders. Ons het wese geword, sonder 'n vader, ons moeders is soos weduwees. Ons water drink ons vir geld, ons hout kom teen betaling in. Ons vervolgers is op ons nek; ons is afgemat sonder dat daar rus aan ons gegun word. Na Egipte het ons die hand uitgestrek, na Assur om met brood versadig te word. Ons vaders het gesondig; hulle is daar nie meer nie, en óns dra hulle ongeregtighede. Knegte heers oor ons, niemand ruk ons uit hulle hand weg nie. Met lewensgevaar bring ons ons brood in vanweë die swaard van die woestyn. Ons vel gloei soos 'n oond vanweë die gloed van die honger. Hulle het vroue in Sion onteer, jonkvroue in die stede van Juda. Vorste is deur hulle hand opgehang, die persoon van die grysaards nie geëer nie. Jongmanne dra die handmeul, en seuns struikel onder die drag hout. Die oudstes is nie meer in die poort nie, die jongmanne sonder hulle snarespel. Die vreugde van ons hart het opgehou, ons koordans het in treurigheid verander. Die kroon van ons hoof het geval; wee ons, dat ons gesondig het. Hierom het ons hart krank geword, hierom is ons oë verduister: ter wille van die berg Sion wat woes lê, waar die jakkalse op rondloop. KLAAGLIEDERE 5:2-18 AFR53
Nou word die hoop van die volk verwoord in ’n enkele geloofsbelydenis. Dit is tegelyk die enigste vaste punt vir die volk sowel as hulle enigste hoop. In hulle ontsetting sluit die enkele sin van verheerliking van God hulle toekoms oop.
Ú, Here, sit vir ewig, u troon is van geslag tot geslag. KLAAGLIEDERE 5:19 AFR53
Daarom sluit die klaaglied en die boek af met die laaste drie verse waarmee hulle hul hoop op God in ’n gebed uitdruk.
Waarom sou U ons vir altyd vergeet, ons verlaat tot in lengte van dae? Bekeer ons tot U, Here, dan sal ons ons bekeer; vernuwe ons dae soos in die voortyd. Of het U ons heeltemal verwerp, is u toorn teen ons alte groot? KLAAGLIEDERE 5:20-22 AFR53




Comments