Jeremia - Hoofstukke 4, 5, 6, 8, 10 & 23
- Regina Torre
- Mar 17
- 48 min read
Updated: Apr 21

17 Maart 2026
JEREMIA 4:1 AFR53
As jy jou bekeer, Israel, spreek die Here, bekeer jou tot My; en as jy jou verfoeisels van my aangesig af verwyder, hoef jy nie rond te swerwe nie.
As hersiening onthou ons dat die Farao van Egipte die een was wat Jojakim as koning aangestel het nadat Joahas wat deur Israel aangestel was, slegs vir drie maande regeer het.
Nebukadnesar het toe aan bewind gekom en Jojakim toegelaat om aan bewind te bly. Jojakim moes egter sy dienaar word, wat hy drie jaar lank gedoen het, voordat hy teen Nebukadneser in opstand gekom het.
In sy dae het Nebukadnésar, die koning van Babel, opgetrek, en Jójakim het drie jaar lank sy dienaar geword; daarna het hy weer teen hom gerebelleer. II KONINGS 24:1 AFR53
Nebukadnesar sou terug wees, maar eers was dit tyd om 'n waarskuwing aan die volk te stuur om hulle te bekeer. Ons is nou in die laaste paar jaar van Jojakim se heerskappy en hy word weer gewaarsku.
God het Juda vermaan en gesê dat hulle na Hom moes terugkeer, hulle gruwels voor Sy aangesig moes verwyder, en deur dit te doen, sou hulle nie swerwers word nie.
Dan sal jy sweer: So waar as die Here leef! in waarheid, in reg en in geregtigheid; en die nasies sal hulleself in Hom seën en hulle in Hom beroem. JEREMIA 4:2 AFR53
Jeremia het verkondig dat hulle hul braakland moes opbreek en moes ophou om tussen dorings te saai. Die voorbeeld hier is om hul onvrugbare land te ploeg en te bewerk en in die vrugbare grond te saai, in plaas van om tussen dorings te probeer saai.
Want so sê die Here aan die manne van Juda en aan Jerusalem: Braak vir julle 'n braakland en saai nie onder die dorings nie. JEREMIA 4:3 AFR53
Hulle moes hul harte besny, anders sou God se toorn soos 'n vuur kom en brand tot die punt waar niemand die vuur kon blus as gevolg van al hul boosheid nie.
Besny julle vir die Here en verwyder die onbesnedenheid van julle hart, manne van Juda en inwoners van Jerusalem, dat my grimmigheid nie soos 'n vuur uitgaan en brand sonder dat iemand kan blus nie, weens die boosheid van julle handelinge. JEREMIA 4:4 AFR53
Jeremia het verwys na die profeet Hosea, wat ook hierdie woord van God gehoor het, en gesê het dat dit tyd was om hul braakland op te breek en God te begin soek sodat Hy geregtigheid oor hulle kon laat reën.
Saai vir julle volgens die eis van geregtigheid, maai in ooreenstemming met die liefde; braak vir julle 'n braakland, want dit is tyd om die Here te soek, totdat Hy kom en geregtigheid oor julle laat reën. HOSÉA 10:12 AFR53
Selfs Jesus het vir die mense van Sy tyd gesê om nie tussen dorings te saai nie, wat ons verstaan as om nie te veel om te gee oor hierdie wêreld of die verleiding sy rykdom nie.
En by wie in die dorings gesaai is — dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar. MATTHÉÜS 13:22 AFR53
18 Maart 2026
JEREMIA 4:5 AFR53
Verkondig in Juda en laat dit hoor in Jerusalem en sê: Blaas die basuin in die land! Roep hardop en sê: Kom bymekaar, en laat ons in die versterkte stede ingaan!
Jeremia sê dat dit tyd is om die basuin te blaas, om uit te roep, om bymekaar te kom en om sonder versuim skuiling te soek, want ‘n ramp kom van die noorde met groot verwoesting.
Die invallers waarvan Jeremia hier praat is die Babiloniërs. Dit mag dalk vreemd klink om te dink dat Babilon uit die noorde kom, maar dit het te doen met die roete wat hulle moet volg. Aangesien hulle om die Arabiese woestyn moet gaan, moet hulle eers opgaan en dan uit die noorde afkom. Dus kom die vyande van Israel tipies vanuit die noorde.
Steek óp die banier na Sion toe! Vlug, bly nie staan nie! Want Ek bring 'n onheil uit die Noorde en 'n groot verwoesting. JEREMIA 4:6 AFR53
Nebukadnesar, die leeu, word magtiger, en die vernietiger van nasies is oppad.
'n Leeu het opgekom uit sy bos en 'n verderwer van nasies het weggetrek, uitgegaan uit sy plek om jou land 'n woesteny te maak; jou stede sal verwoes word, sonder inwoners. JEREMIA 4:7 AFR53
Die leeu, as ‘n simbool, is dieselfde simbool wat Daniël in Daniël 7 in Babilon sien.
en vier groot diere het uit die see opgeklim, die een verskillend van die ander. Die eerste was soos 'n leeu, en hy het vlerke van 'n arend gehad; ek het bly kyk totdat sy vlerke uitgeruk is en dit van die grond af opgehef en soos 'n mens op twee voete neergesit is en daaraan 'n mensehart gegee is. DANIËL 7:3-4 AFR53
Dit was tyd vir God se volk om in sak en as te huil want God se toorn is oppad en bedaar nie.
Daarom, omgord julle met rouklere, klaag en huil, want die toorngloed van die Here teen ons het nie bedaar nie. JEREMIA 4:8 AFR53
Wanneer die verskriklike oordeel kom, sal selfs die adelstand van Juda hul moed en hoop verloor.
Ook sal die geestelike leiers nie weet wat om te doen nie – omdat hulle nie na God teruggekeer het, die braakland opgebreek en hul harte besny het in antwoord op God se uitnodiging nie.
En op dié dag, spreek die Here, sal die moed van die koning en die moed van die vorste vergaan, en die priesters sal verskrik wees en die profete verstom staan. JEREMIA 4:9 AFR53
Jeremia was verstom oor die diepte van die misleiding van God se mense wat geglo het in die vals profete se vredesverklaring, selfs toe die swaard op die punt was om op hulle neer te daal en tot in die diepte van hul siele te raak.
Toe het ek gesê: Ag, Here Here, waarlik, U het hierdie volk en Jerusalem grootliks mislei met die woorde: Julle sal vrede hê — terwyl die swaard tot aan die siel raak. JEREMIA 4:10 AFR53
19 Maart 2026
JEREMIA 4:11 AFR53
In dié tyd sal aan hierdie volk en aan Jerusalem gesê word: 'n Gloeiende wind van die kaal heuwels in die woestyn op pad na die dogter van my volk, nie om te wan of te suiwer nie!
God se oordeel word met die treffende metafoor van die skroeiende bergwind – die Sirocco – beskryf wat uit die woestyn die temperatuur sal opjaag en hulle in sy volle krag sal tref. Dit sal skielik gebeur, so skielik soos die wolke versamel.
Jeremia se reaksie is kort: Ellende wag vir ons, dit is klaar met ons!
'n Wind te sterk vir hierdie dinge sal vir My kom; nou sal Ek ook oordele teen hulle uitspreek. Kyk, soos wolke kom hy op, en soos 'n stormwind is sy strydwaens; sy perde is vinniger as arende. Wee ons, want ons is verwoes! JEREMIA 4:12-13 AFR53
Jeremia smeek die volk om hul harte van goddeloosheid te was, nie net hulle uiterlike dade nie. Die goddeloosheid in die hart van die mense van Juda het gedryg om God se oordeel te gebring, maar dit was nie net 'n hartprobleem nie, dit was ook 'n probleem van bose gedagtes. Hulle het aan bose gedagtes toegegee en toegelaat dat dit in hul gedagtes bly.
Was jou hart van boosheid, o Jerusalem, dat jy gered kan word. Hoe lank sal jou onheilsgedagtes in jou binneste vertoef? JEREMIA 4:14 AFR53
Die rede waarom daar 'n dringende, passievolle beroep was om werklik berou te toon was omdat oordeel oppad was in die vorm van 'n invallende leër.
Want 'n stem verkondig uit Dan en laat onheil hoor van die gebergte van Efraim af. Vermeld dit aan die nasies! Kyk, laat dit hoor teen Jerusalem! Beleëraars kom uit 'n ver land en het hulle stem verhef teen die stede van Juda. JEREMIA 4:15-16 AFR53
Voor die oordeel gekom het, het God vir Juda en Jerusalem uitdruklik gewaarsku dat die oordeel hulle skuld sou wees en nie God s’n nie. Dit sou bitter wees en hul hart raak, maar dit sou as gevolg van hul goddeloosheid wees, nie God se ontrouheid nie.
Soos veldwagters is hulle teen die stad rondom, omdat dit teen My wederstrewig was, spreek die Here. Jou wandel en jou handel het jou dit aangedoen; dit is jou boosheid; ja, bitter is dit, ja, dit raak tot aan jou hart. JEREMIA 4:17-18 AFR53
Jeremia se reaksie is roerend - hy sê dat sy ingewande bewe van angs.
Die feit dat hy getrou was om die oordeel van God aan ’n ongehoorsame volk te verkondig, bring vir hom geen rus nie. Die naderende onheil is ’n angswekkende werklikheid.
o My ingewande, my ingewande, ek moet bewe van angs! o Mure van my hart! My hart steun in my, ek kan nie swyg nie; want jy, my siel, het basuingeluid gehoor, oorlogsgeskreeu! Verwoesting op verwoesting word uitgeroep, want die hele land is verwoes; skielik is my tente verwoes, my tentdoeke in 'n oomblik. Hoe lank sal ek die banier sien, die basuingeluid hoor? JEREMIA 4:19-21 AFR53
20 Maart 2026
JEREMIA 4:22 AFR53
Want my volk is dwaas; My ken hulle nie; dwase kinders is hulle, en hulle is onverstandig; slim is hulle om kwaad te doen, maar om goed te doen, weet hulle nie.
God diagnoseer Juda se probleem akkuraat toe Hy opmerk dat hulle dwaas is - veral in hul gebrek aan ware kennis van God. Tog is God vrygewig genoeg om hulle steeds, My volk, te noem.
Dit is onwaarskynlik dat die mense van Juda hulself as dwase kinders en sonder begrip gesien het. Hulle het hulself waarskynlik as gesofistikeerd en wys gesien.
God verduidelik aan Sy volk wat hul probleem is. Hulle is inderdaad wys, want hulle weet hoe om kwaad te doen, maar hulle het geen begrip van hoe om goed te doen nie.
Deur die beelde uit Genesis 1 om te keer, gee Jeremia 'n kragtige beeld van die algehele verwoesting wat oor Juda sou kom in die komende oordeel.
Jeremia sien die oordeel wat gebeur in die teenwoordigheid van God, deur Sy gloeiende toorn.
Ek het na die aarde gekyk, en dit was woes en leeg; ook na die hemel, en sy lig was daar nie. Ek het na die berge gekyk, en hulle het gebewe, en al die heuwels het geskud. Ek het gekyk, en daar was geen mens nie, en al die voëls van die hemel het weggevlieg. Ek het gekyk, en die land van tuine was 'n woestyn, en al sy stede was afgebreek voor die Here, voor sy toorngloed. JEREMIA 4:23-26 AFR53
God kom weer aan die woord en erken dat dit Hy is wat die verwoesting laat gebeur het, hoewel Hy tog beloof dat Hy die land nie totaal sal vernietig nie. Sy besluit bly egter vas: Ek staan by my besluit, Ek sal nie van plan verander nie. Die hemel en aarde wat getuies is van die begin van die volk se geboorte af, die word tot trane beweeg weens die voltrekking van die oordeel.
Jeremia se reaksie is weereens om die effek van die vyand op die volk te beskryf. Let op die treffende metafoor dat elke stad op die vlug slaan en tussen die bosse inhardloop, en in die rotsskeure gaan wegkruip.
Want so sê die Here: Die hele land sal 'n wildernis word, alhoewel Ek daar geen einde aan sal maak nie. Hieroor sal die aarde treur en die hemel daarbo rou dra, omdat Ek dit gespreek, My dit voorgeneem het en Ek geen berou het en daarvan nie sal terugkom nie. Vir die geluid van die ruiters en boogskutters vlug die hele stad; hulle het in die bosse ingegaan en op die rotse geklim; die hele stad is verlaat, en niemand woon daarin nie. JEREMIA 4:27-29 AFR53
Jeremia besef dat mooipraatjies nie gaan help nie, die koeël is by wyse van spreke deur die kerk. Die volk is weerloos teen hul teenstanders. Die werklikheid moet in die oë gestaar word. Ellende wag vir my!
En jy, verwoeste, wat gaan jy doen? Al trek jy skarlaken klere aan, al versier jy jou met goue sieraad, al laat jy jou oë groter lyk met swart verf — tevergeefs maak jy jou mooi; minnaars versmaad jou, hulle soek jou lewe. Want ek het gehoor 'n stem soos van een wat inmekaar krimp, 'n benoudheid soos van een wat die eerste keer baar, die stem van die dogter van Sion; sy hyg na asem, sy brei haar hande uit en sê: Wee my tog, want my siel is magteloos teenoor die moordenaars. JEREMIA 4:30-31 AFR53
21 Maart 2026
JEREMIA 5:1 AFR53
Swerf rond in die strate van Jerusalem, en kyk tog en verneem en soek op sy pleine of julle iemand vind, of daar een is wat reg doen, wat waarheid soek — dan sal Ek daaraan vergifnis skenk.
God soek altyd na regverdige mense en voorbidders, diegene wat Sy hart verstaan. Ons moet onthou dat dit die goedheid van God is wat ons tot bekering lei. Die toorn van God is nie bedoel om ons tot bekering te lei nie, maar om geregtigheid te bring. Ons sien dit in Openbaring - wanneer God Sy toorn uitstort, is die mense se reaksie om hul nekke styf te maak en dan te weier om te bekeer.
As jy onthou, het God gesê dat Hy selfs Sodom sou spaar as Abraham tien regverdiges kon vind. Ons sal nooit weet of God ‘n laer syfer as tien sou aanvaar het nie, want Abraham het nie verder gevra nie. Abraham het sekerlik gevoel dat hy ten minste tien regverdiges in die goddelose stad van Sodom kon vind. Daar was immers Lot, sy vrou, vier dogters – twee getroud en twee ongetroud – en natuurlik hul twee mans, wat optel na agt mense. Daar sou sekerlik ten minste nog twee wees.
Nou kyk ons wat God vir Jeremia sê. Hy moet heen en weer deur die strate van Jerusalem gaan om te sien of daar iemand is wat reg doen en die waarheid soek. As hy dit gekry het, sal God Jerusalem vergewe.
Jeremia kon baie godsdienstige mense in Jerusalem vind – baie wat by God sou sweer en sê: So waar as die Here leef. Tog kon hy niemand vind wat God in opregtheid gesoek het nie.
En of hulle al sê: So waar as die Here leef, sekerlik sweer hulle vals. JEREMIA 5:2 AFR53
Jeremia bid met 'n gevoel van verbasing oor die hardheid en koppigheid van hart van God se mense en hy treur omdat hulle nie wil bekeer nie. Ten spyte van alles wat hulle gehad het en sou verduur, het hulle geweier om na God terug te keer.
o Here, is u oë nie op opregtheid gerig nie? U het hulle geslaan, maar hulle het geen pyn gevoel nie, hulle tot niet gemaak, maar hulle het geweier om tugtiging aan te neem; hulle het hul aangesig harder gemaak as 'n rots, geweier om hulle te bekeer. JEREMIA 5:3 AFR53
Terwyl Jeremia na 'n regverdige man gesoek het, was hy verbaas oor die geestelike en morele dwaasheid van die mense. Toe het hy oorweeg dat dit miskien was omdat hulle arm en ongeleerd (dwaas) was. Dit moes verklaar waarom hulle nie die weg van God ken nie.
Hy het hom toe tot die geleerdes en die aristokrate van Jerusalem gewend, maar hulle was ook rebelle. Miskien geleerde rebelle, maar nietemin rebelle teen God.
Maar ek het gesê: Hulle is maar die geringes; hulle het dwaas gehandel, omdat hulle die weg van die Here, die reg van hulle God, nie ken nie. Laat ek na die grotes gaan en met hulle spreek, want hulle ken die weg van die Here, die reg van hulle God. Maar hulle het almal saam die juk verbreek, die stroppe stukkend geruk. JEREMIA 5:4-5 AFR53
22 Maart 2026
JEREMIA 5:6 AFR53
Daarom maak 'n leeu uit die bos hulle dood, 'n wolf van die wildernisse verniel hulle; 'n luiperd loer by hulle stede; almal wat daaruit gaan, word verskeur; want hulle oortredinge is baie, hulle afkerighede geweldig.
Die meeste mense sien die leeu, die wolf en die luiperd wat hier beskryf word as beelde van die komende invallers. Tog is dit ook moontlik dat Jeremia Jerusalem en die ander stede van Juda as verlate en aan wilde diere oorgegee, uitgebeeld het. Die komende oordeelsoorlog sou Juda terugstuur na baie meer primitiewe tye.
God het soveel vir Juda gedoen, maar geestelik gesproke het hulle egbreuk gepleeg. God moes aanskou hoe Sy volk in hul massas die afgodstempel bordele besoek. Met reg kan God vra hoekom Hy hulle moet vergewe.
Waarom sou Ek jou vergewe? Jou kinders het My verlaat en gesweer by die wat geen god is nie. En toe Ek hulle versadig het, het hulle owerspel bedrywe en by hope versamel in die hoerhuis. JEREMIA 5:7 AFR53
Terwyl Jeremia Jerusalem deursoek het, het hy geen regverdige manne of manne van waarheid gevind nie. Hy het wel geestelike rebelle en egbrekers gevind. Dit was 'n nasie wat oordeel verdien het.
Soos vet gevoerde hingste swerf hulle rond; hulle runnik elkeen na die vrou van sy naaste. Sou Ek hieroor geen besoeking doen nie? spreek die Here. Of sou my siel hom nie wreek op 'n nasie soos hierdie een nie? JEREMIA 5:8-9 AFR53
Verwoeste mure het gewoonlik 'n algehele einde aangedui, maar nie met die God van Israel nie. Hier is 'n belofte om herstel en herlewing te bring – 'n belofte wat gedeeltelik vervul is in die bouwerk van Esra en Nehemia, en ten volle vervul is in die herstel van Israel met hul Messias, Jesus Christus.
Klim op sy mure en rig verwoesting aan, maar maak daar geen einde aan nie; neem weg sy ranke, want hulle behoort nie aan die Here nie. Want die huis van Israel en die huis van Juda het baie troueloos teen My gehandel, spreek die Here. JEREMIA 5:10-11 AFR53
Toe die vals profete die mense van Juda en Jerusalem verseker het dat hulle huidige probleme nie waarskuwings en teregwysings van God was nie, het hulle oor God gelieg. Toe hulle belowe het - geen onheil sal oor ons kom nie - het hulle oor God gelieg.
Die vals profete was niks meer as wind nie – beweging sonder substansie. God se woord was nie in hulle nie, en hulle sogenaamde profetiese woorde was van hulself en nie van God se woord nie.
Hulle het die Here verloën en gesê: Dit is nie Hy nie; en geen onheil sal oor ons kom nie; ons sal geen swaard of hongersnood sien nie; en die profete sal wind word; ja, die Woord is nie by hulle nie; mag dit so met húlle gaan! JEREMIA 5:12-13 AFR53
In teenstelling met die profete van wind sou God vir Jeremia 'n profeet van vuur maak – wie se woorde die verterende oordeel wat sou kom, sou aankondig. As 'n ware profeet sou Jeremia se woorde substansie hê.
Daarom, so sê die Here, die God van die leërskare: Omdat julle hierdie woord spreek, kyk, Ek maak my woorde in jou mond 'n vuur en hierdie volk hout, en dit sal hulle verteer. JEREMIA 5:14 AFR53
23 Maart 2026
JEREMIA 5:15 AFR53
Kyk, Ek bring oor julle 'n nasie van ver af, o huis van Israel, spreek die Here; 'n eeue-oue nasie is dit, 'n nasie van ouds af, 'n nasie waarvan jy die taal nie ken en jy nie verstaan wat hulle praat nie.
Jeremia herhaal vir die soveelste keer God se belofte dat 'n magtige leër van oordeel teen Juda en Jerusalem gaan kom, wat later deur die Babiloniërs onder Nebukadnesar vervul is.
Hulle pylkoker is soos 'n geopende graf; hulle is almal helde. En hulle sal jou oes en jou brood opeet, hulle sal jou seuns en jou dogters opeet, hulle sal jou kleinvee en jou beeste opeet, hulle sal jou wingerdstok en jou vyeboom opeet, hulle sal jou versterkte stede waar jy op vertrou, met die swaard verwoes. JEREMIA 5:16-17 AFR53
God se genadige belofte word ook weer herhaal. Alhoewel verwoestende oordeel oor Juda en Jerusalem gaan kom, sal God nie Sy verbondsvolk verlaat nie en Hy sal herstel bring.
God verduidelik hoekom Sy oordeel gaan kom. Die mense van Juda en Jerusalem het vreemde gode gedien, en daarom sal God hulle stuur om die mense van die gode wat hulle aanbid het, te dien.
Nogtans sal Ek ook in dié dae, spreek die Here, nie 'n einde aan julle maak nie. En as julle sê: Waarvoor het die Here onse God ons al hierdie dinge aangedoen? antwoord hulle dan: Soos julle My verlaat het en vreemde gode in julle land gedien het, so sal julle vreemdes dien in 'n land wat julle s'n nie is nie. JEREMIA 5:18-19 AFR53
Jeremia praat met Juda en Jerusalem en lê hul geestelike en morele dwaashede bloot. Hulle het oë, maar sien niks nie, en hulle het ore, maar hoor niks nie.
Verkondig dit in die huis van Jakob, en laat dit hoor in Juda en sê: Hoor dit tog, o dwase en verstandelose volk, wat oë het, maar nie sien nie; wat ore het, maar nie hoor nie! JEREMIA 5:20-21 AFR53
God keer in die volgende drie voorbeelde terug na die tema van die dwaasheid van die volk en gee vir Jeremia opdrag om dit aan die volk bekend te maak.
In die eerste voorbeeld spreek God die volk aan oor hulle sonde,
God vra vir die volk of hulle dan nie ontsag het vir Hom nie. Hy is immers die Skepper wat nie net vir hulle oë en ore gegee het nie, maar ook die see en die land geskei het en op hulle plek hou.
Sou julle vir Mý nie bevrees wees nie, spreek die Here, of voor my aangesig nie bewe nie, wat die sand gestel het as grens vir die see, 'n ewige beperking waaroor hy nie sal gaan nie? Al rol sy golwe, hulle is onmagtig; al bruis hulle, hulle sal daaroor nie gaan nie. JEREMIA 5:22 AFR53
Tog is hulle rebels en opstandig. Hulle het God verlaat. Selfs die ekologiese veranderinge weens God se weerhouding van voorspoed, het hulle nie oortuig om hul oortredings en sonde te laat staan nie.
Maar hierdie volk het 'n oproerige en wederstrewige hart, hulle het afgewyk en weggegaan; en hulle het nie in hul hart gesê nie: Laat ons tog die Here onse God vrees, wat reën gee, vroeë reëns en laat reëns op hulle tyd, wat vir ons die vasgestelde weke van die oes in stand hou. JEREMIA 5:23-24 AFR53
24 Maart 2026
JEREMIA 5:25 AFR53
Julle ongeregtighede het hierdie dinge afgeweer, en julle sondes het die goeie van julle teruggehou.
Jeremia is besig om vir die volk te vertel hoe dwaas hullle is.
In die tweede voorbeeld om hul dwaasheid te beklemtoon konsentreer Jeremia op die mag en rykdom wat hulle op onregverdige maniere bekom het.
God verwyt die volk vir die goddelose mense onder hulle wat hul fokus op mag en rykdom geplaas het en wie se boosheid geen perke ken nie.
Want onder my volk word goddelose gevind; hulle loer soos voëlvangers buk, hulle het 'n val gestel, hulle vang mense. JEREMIA 5:26 AFR53
Hulle koninkryke word gebou op die verydeling van die regspraak. Hulle gee nie om vir die weerloses van die samelewing nie: weeskinders en armes. Let op dat boosheid aan onreg gelykgestel word.
Soos 'n hok vol voëls, so is hulle huise vol bedrog; daarom het hulle groot en ryk geword. Hulle het vet, hulle het glad geword; selfs gaan hulle oor die maat van boosheid heen. Reg verskaf hulle nie, selfs die reg van die wees nie, dat hulle voorspoed kan hê; ook handhaaf hulle die reg van die behoeftiges nie. JEREMIA 5:27-28 AFR53
Sal Ek hulle nie hieroor straf nie? Sou Ek My nie wreek op ’n nasie soos hierdie nie? God kan eintlik nie anders as om die onreg wat hulle pleeg reg te stel deur hulle mag en voorspoed te breek nie. So laat Hy reg geskied aan die geringes onder die volk.
Sou Ek hieroor geen besoeking doen nie? spreek die Here. Of sou my siel hom nie wreek op 'n nasie soos hierdie een nie? JEREMIA 5:29 AFR53
Die laaste voorbeeld oor die volk se dwaasheid gaan oor die leiers wat net hulself en hul eie posisies dien.
Die leiers, die profete en die priesters word verkwalik omdat hulle vals optree, d.w.s. sonder ’n woord van God, en regeer met hul eie gesag, d.w.s. sonder respek vir en in ooreenstemming met wat God sê.
En die volk hou daarvan! Die toedrag van sake is vir God eenvoudig vreeslik en afskuwelik, ’n situasie wat Hy nie kan duld nie. En Hy vra half mymerend: Wat sal julle doen as die einde kom, dié einde wat hulle sê nie sal aanbreek nie?
'n Ontsettende en afskuwelike ding het in die land gebeur: die profete profeteer vals, en aan hulle sy oefen die priesters mag uit, en my volk wil dit graag so hê. Maar wat sal julle doen aan die einde daarvan? JEREMIA 5:30-31 AFR53
25 Maart 2026
JEREMIA 6:1 AFR53
Vlug, kinders van Benjamin, uit Jerusalem uit; en blaas die basuin in Tekóa, en hef 'n vuurteken op bo Bet-Hakkérem; want onheil dreig uit die Noorde en groot verwoesting.
Die mense van Benjamin, waarskynlik die wat in Jerusalem woon, word spesifiek hier aangespreek, die stam waarvan Jeremia ook deel was.
Hulle moet veiligheid buite Jerusalem gaan soek, want God gaan Sy mooi maar verwende dogter, Sion, vernietig deur die leërs wat teen hulle optrek.
Die mooie en die verwénde verdelg Ek — die dogter van Sion. JEREMIA 6:2 AFR53
Die ramshoring (sjofar) moet in Tekoa, so 20 km suid van Jerusalem, die plek waar die skaapboer profeet Amos vandaan gekom het, geblaas word, om almal rondom Sion te waarsku.
Daar moet ook vuurseine by Bet-Hakkerem gegee word, op sy beurt ongeveer 7 km wes van Jerusalem in die rigting van Bethlehem. Vuurseine sou dus goed sigbaar wees.
Jeremia sien die soldate wat soos troppe vee na Jerusalem gaan kom, gretig om te voed op die rykdom van die gebied.
Herders met hulle troppe vee sal na haar toe kom; hulle slaan tente op teen haar rondom, hulle wei af, elkeen sover as hy kan bykom. JEREMIA 6:3 AFR53
Die gemak waarmee die vyand hulle gaan inval word met ’n verbeelde gesprek onder die vyandiges weergegee wat of helder oordag of in die nag kan aanval.
Heilig die oorlog teen haar! Staan op, en laat ons optrek op die middag! Wee ons, want die dag gaan verby, want die aandskaduwees word langer! Staan op, en laat ons optrek in die nag, en laat ons haar paleise verwoes! JEREMIA 6:4-5 AFR53
God gee hulle ook leiding oor hoe hulle die stad kan inneem - kap bome af en gooi ’n wal op teen Jerusalem.
Want so sê die Here van die leërskare: Kap haar bome af, en gooi teen Jerusalem 'n wal op; dit is die stad wat besoek word; binne-in haar is net verdrukking. JEREMIA 6:6 AFR53
Dit is immers ’n stad wat veroordeel is weens die sosiale onreg, geweld en vernietiging wat daar, soos water in ‘n put, koel en fris gehou word.
Soos 'n put sy water fris hou, so hou sy haar boosheid fris; geweld en verdrukking word in haar gehoor, siektes en wonde is gedurig voor my aangesig. JEREMIA 6:7 AFR53
’n Laaste waarskuwing word aan Jerusalem gelewer dat hulle tog sal reageer op God se appèl, anders sal Hy hulle soos die laaste druiwekorrel van ’n wingerdstok af oes.
Laat jou tugtig, Jerusalem, dat my siel nie van jou vervreemd word nie, dat Ek jou nie 'n wildernis maak, 'n onbewoonde land nie. So sê die Here van die leërskare: Hulle sal die oorblyfsel van Israel skoon afoes soos 'n wingerdstok. Slaan jou hand weer soos 'n druiwesnyer aan die lote! JEREMIA 6:8-9 AFR53
26 Maart 2026
JEREMIA 6:10 AFR53
Wie sal ek toespreek en waarsku, dat hulle kan hoor? Kyk, hulle oor is onbesnede, sodat hulle nie kan luister nie. Kyk, die woord van die Here is vir hulle 'n smaad, hulle het daar geen behae in nie.
‘n Mens voel Jeremia se frustrasie - hy praat, maar niemand luister nie. Hulle ore hoor nie, asof hulle ore onbesnede is – en hulle beskou God se woord as 'n smaad, iets om oor skaam te wees en te vermy.
Die Ou Testament praat baie keer van onbesnede harte en lippe, maar dit is die enigste melding van die onbesnede oor. Stefanus het hierdie beeldspraak gebruik toe hy met die Joodse raad gepraat het.
Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle. HANDELINGE 7:51 AFR53
Hulle lae agting vir die woord van God was hierin duidelik. God se woord was vir hulle van geen behae nie, hulle het geen behae daarin gehad of geen soetheid daarin gevind nie. Dit was 'n aanduiding dat die volk van God ryp was vir oordeel.
Omdat God se volk goddeloos was en nie na Sy woord wou luister nie, was God vol grimmigheid teen hulle – en Hy was moeg om dit in te hou.
Die oordeel wat oor Juda sal kom, sal almal raak. Dit sal die kinders, die jongmanne en die bejaardes raak, beide die man en die vrou, en selfs die land sal dit voel.
Daarom is ek vol van die grimmigheid van die Here; ek het my moeg gemaak om uit te hou. Giet dit uit oor die kinders op die straat en oor die versameling van jongmanne, oor almal; want ook die man saam met die vrou sal gevang word, die grysaard saam met die oue van dae. En hulle huise sal oorgaan op ander mense, landerye en vroue, alles tesame; want Ek sal my hand uitstrek teen die inwoners van die land, spreek die Here. JEREMIA 6:11-12 AFR53
God het na die kultuur van Juda gekyk en gesien hoe gierig en korrup hulle was. Selfs – of miskien veral – die profeet en die priester wat deel was van die gierigheid en korrupsie.
God het nie net die meer ooglopende sondes van hebsug en korrupsie veroordeel nie, maar ook die subtiele sondes van die profete wat gladde woorde gebruik het om die mense te troos en te kalmeer toe hulle eintlik ontsteld moes wees en tot bekering geprikkel moes word.
Dit was die gladde woorde van die vals profete wat Juda verseker het dat alles reg was, terwyl dit in werklikheid nie so was nie.
Want van hul kleinste tot hul grootste maak hulle almal onregverdige wins, en van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog. En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! — terwyl daar geen vrede is nie. JEREMIA 6:13-14 AFR53
Ten spyte van al Juda se talle sondes, was hulle glad nie skaam nie, en hulle het ook nie geweet hoe om te bloos nie - dit was asof die normale werking van hul gewete beskadig was.
Hulle kom in die skande, omdat hulle gruwel bedryf het; tog skaam hulle hul nie in die minste nie, tog weet hulle nie om te bloos nie. Daarom sal hulle val onder die wat val; in die tyd dat Ek aan hulle besoeking doen, sal hulle struikel, sê die Here. JEREMIA 6:15 AFR53
27 Maart 2026
JEREMIA 6:16 AFR53
So spreek die Here: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel. Maar hulle het gesê: Ons wil daarin nie wandel nie.
Al was hulle in so 'n slegte plek, was daar wysheid beskikbaar vir Juda. Een plek waar hulle wysheid sou vind, was in die ou paaie – hulle moes terugkyk na hul geskiedenis en voorvaders, om te leer wat God voorheen vir hulle gedoen het. Dan sal hulle rus vind vir hul siele, maar hulle het gesê: Ons wil nie daarin wandel nie. Ten spyte van God se instruksie en uitnodiging, het Juda die wysheid van die ou paaie verwerp. God het selfs wagte soos Jeremia aangestel om Juda te waarsku en aan te moedig om na die basuin van waarskuwing te luister, maar hul antwoord was eenvoudig: Ons wil nie luister nie.
Ek het ook wagte oor julle gestel en gesê: Luister na die geluid van die basuin. Maar hulle het geantwoord: Ons wil nie luister nie. JEREMIA 6:17 AFR53
God roep dan die nasies as getuies om te leer uit wat Hy met die ongehoorsame volk gaan doen, omdat hulle hul nie aan Sy woorde gesteur het nie. God se volk het nie na Sy woord geluister nie en daarom het hulle korrup geword in hul denke. Die komende rampspoed was die vrug van hul gedagtes. Juda het aangehou om offers en slagoffers aan God te bring, selfs met duur wierook uit Skeba. Tog, omdat hulle nie na God se woorde geluister het of Sy wet aanvaar het nie, was die offers nie aanvaarbaar nie.
Daarom, hoor, o nasies! En weet, o vergadering, wat onder hulle is! Hoor, aarde! Kyk, Ek bring onheil oor hierdie volk, die vrug van hulle planne; want na my woorde het hulle nie geluister nie, en my wet, dié het hulle verwerp. Waarom sou daar tog vir My wierook uit Skeba kom en die kosbare kalmoes uit 'n ver land? Julle brandoffers is nie welgevallig nie, en julle slagoffers is My nie aangenaam nie. JEREMIA 6:18-20 AFR53
God spel die vernietiging wat die volk gaan tref uit met verwysing na die sosiale bande van gesinne, vriende en bure wat verbreek sal word. Die vyand is wreed en sal niemand spaar nie.
Daarom, so sê die Here: Kyk, Ek gooi struikelblokke voor hierdie volk waaroor hulle sal struikel, vaders en seuns tesame; die buurman en sy vriend sal omkom. So sê die Here: Kyk, daar kom 'n volk uit die Noordland, en 'n groot nasie word opgewek uit die agterhoeke van die aarde. Boog en lans hanteer hulle; hulle is wreed en sonder barmhartigheid; hulle stem bruis soos die see, en hulle ry op perde, gewapend soos 'n man vir die oorlog, teen jou, o dogter van Sion! JEREMIA 6:21-23 AFR53
Die Babiloniese leër sal verskriklike ellende bring, en Juda sal met angs, pyn, vrees en rou reageer.
Ons het die gerug daarvan gehoor, ons hande het slap geword, benoudheid het ons aangegryp, smart soos van een wat baar. Gaan nie uit in die veld en loop nie op die pad nie; want die swaard van die vyand is daar, skrik rondom! JEREMIA 6:24-25 AFR53
Omdat hulle hardkoppige rebelle is, nie net teenoor God nie, maar ook teenoor mekaar, het God se poging om hulle te reinig nie geslaag nie. Hy het Jeremia aangestel om die volk te suiwer, maar die afvalstowwe word nie uitgesmelt nie. Hulle bly weggooi silwer. Die oordeel is ophande.
Dogter van my volk, omgord jou met 'n roukleed en wentel jou in die as; bedryf rou soos oor 'n enigste kind, 'n bitter rouklag; want skielik kom die verwoester oor ons. Ek het jou onder my volk as toetser gestel, as vesting, dat jy hulle weg kan ken en toets. Hulle is almal die oproerigstes van die oproeriges wat omgaan met kwaadsprekery; koper en yster is hulle; hulle handel almal verderflik. Die blaasbalk blaas hard; wat uit die vuur gereed kom, is lood; tevergeefs hou hulle aan met smelt, maar die slegtes word nie afgeskei nie. Hulle word genoem: Verworpe silwer; want die Here het hulle verwerp. JEREMIA 6:26-30 AFR53
7 April 2026
JEREMIA 8:1 AFR53
In dié tyd, spreek die Here, sal hulle die bene van die konings van Juda en die bene van sy vorste en die bene van die priesters en die bene van die profete en die bene van die inwoners van Jerusalem uit hulle grafte uithaal,
God is ontsteld, selfs gesien deur die konstruksie van die sin. Vyf groepe sal uit hul grafte opgegrawe word en uitgesprei word voor die son, die maan en die sterre wat hulle aanbid het. Die vyf groepe is: die konings van Juda, die vorste, die priesters, die profete en die inwoners van Jerusalem.
Hoe die groepe aanbid het word ook gelys: wat hulle liefgehad het, wat hulle gedien het, agter wie hulle aangeloop het, wat hulle gesoek het, en voor wie hulle neergebuig het.
en hulle sal dit uitsprei voor die son en voor die maan en voor die hele leër van die hemel wat hulle liefgehad en gedien het, en waar hulle agter aan geloop het, en wat hulle gesoek en waarvoor hulle hul neergebuig het; dit sal nie versamel en begrawe word nie, mis sal dit op die aarde wees. JEREMIA 8:2 AFR53
In hierdie verse word die afskuwelike afgodediens van die Judeërs wat selfs kinderoffers ingesluit het, aangevat, iets wat selfs nie in God se gedagtes opgekom het nie. Die Tofet en Ben-Hinnom vallei net suid van Jerusalem was dus doodgewoon in die oë van die Here ’n Moorddal, ’n plek waar kinders om die lewe gebring is. Josia het probeer om ’n einde daaraan te maak, maar blykbaar nie daarin geslaag nie.
Hy het ook Tofet verontreinig wat in die dal van die kinders van Hinnom was, sodat niemand sy seun of sy dogter vir Molog deur die vuur sou laat deurgaan nie. II KONINGS 23:10 AFR53
Daarom doen God nou die vreeslike ding om hul voorsate se grafte te ontheilig as ’n straf vir hul eie ontheiliging van kinders se lewens. Daarmee gee Hy die vernietigende boodskap dat Hy hulle totaal sal vernietig soos Hy selfs die bene van hul voorsate sal uitwis. En as iemand die oordeel miskien sou vryspring, sal die dood vir hulle verkieslik wees bo die lewe in die plekke waarheen God hulle sal verdrywe.
En die dood sal bo die lewe verkies word deur die hele oorblyfsel, die wat oor is van hierdie bose geslag in al die plekke waarheen Ek hulle verdryf het, spreek die Here van die leërskare. JEREMIA 8:3 AFR53
Jeremia spreek God se verbasing uit dat Juda nie na Hom wil terugkeer nie. Immers, wanneer iemand val, staan hulle weer op. Wanneer iemand wegdraai, keer hulle terug. Tog is Juda vasgevang in 'n voortdurende afvalligheid.
En jy moet vir hulle sê: So spreek die Here: Sal iemand val en nie weer opstaan nie? Of sal hy weggaan en nie weer terugkom nie? Waarom is dan hierdie volk, Jerusalem, afkerig met 'n aanhoudende afkerigheid? Hulle hou vas aan bedrog, hulle weier om terug te keer. JEREMIA 8:4-5 AFR53
Die volk was vasbeslote om hul eie pad te volg, so vasberade en energiek soos ‘n perd wat by ‘n geveg instorm. Selfs voëls (die ooievaar, die tortelduif, die windswael en die swaeltjie) verstaan almal die seisoene van die jaar en hoe hulle daarop moet reageer. Tog is God se volk onkundig.
Ek het geluister en gehoor: hulle spreek wat nie reg is nie; daar is niemand wat berou het oor sy boosheid, dat hy sou sê: Wat het ek gedoen nie? Elkeen spring weg in sy loop soos 'n perd wat storm in die geveg. Selfs 'n groot sprinkaanvoël aan die hemel ken sy bepaalde tye, en 'n tortelduif en 'n swaweltjie en 'n kraanvoël neem die tyd van hulle koms in ag; maar my volk ken die reg van die Here nie. JEREMIA 8:6-7 AFR53
8 April 2026
JEREMIA 8:8 AFR53
Hoe durf julle sê: Ons is wys, en die wet van die Here is by ons? Waarlik, kyk, bedrieglik werk die leuenpen van die skrywers.
Die mense van Juda het hul eie leuens geglo - hulle het geglo dat hulle wys was, en dat hulle volgens God se wet gewandel het.
God het Juda daaraan herinner dat nie almal wat die woord van God bestudeer en leer, dit eerlik doen nie. Daar is sommiges wat hul pen gebruik om te bedrieg.
Alhoewel hulle beweer het dat hulle beide wysheid en Bybelse waarheid het, het hulle nie een van die twee gehad nie. Deur God se woord te verwerp, het hulle wysheid verwerp. Hulle het niks gehad nie.
Die slim mense kom in die skande, is verslae en verstrik. Kyk, hulle het die woord van die Here verwerp, en watter wysheid sou hulle hê? JEREMIA 8:9 AFR53
Omdat hulle die woord van God nie gehou het nie, sou God neem wat vir die volk dierbaar was en dit aan ander gee.
Daarom sal Ek hulle vroue aan ander gee, hulle landerye aan veroweraars; want van die kleinste tot die grootste maak hulle almal onregverdige wins; van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog. En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! — terwyl daar geen vrede is nie. JEREMIA 8:10-11 AFR53
Jeremia wys daarop dat korrupsie so 'n deel van die mense van Juda se lewe was dat hulle glad nie skaam was oor dit wat hulle gedoen het nie.
Hulle kom in die skande, omdat hulle gruwel bedryf het, tog skaam hulle hul nie in die minste nie en weet nie om te bloos nie. Daarom sal hulle val onder die wat val; en die tyd van hulle besoeking sal hulle struikel, sê die Here. JEREMIA 8:12 AFR53
Omdat die morele en kulturele verrotting so diep was, het God belowe om 'n deeglike oordeel te bring. Soos 'n leë wingerdstok of 'n skoongeplukte vyeboom, het God belowe, sal Ek hulle sekerlik verteer.
Saamskraap, wegraap sal Ek hulle, spreek die Here. Daar is geen druiwe aan die wingerdstok en geen vye aan die vyeboom nie, ja, die blare verdor. So het Ek ook vir hulle dié bestel wat dwarsoor hulle sal gaan. JEREMIA 8:13 AFR53
Jeremia sien hoe die volk van God na die versterkte stede vlug om weg te kom van die Babiloniese invallers. Slegs dan sou die mense van Juda hul sonde verstaan – maar teen daardie tyd sou dit te laat wees.
Waarom bly ons sit? Kom bymekaar, en laat ons in die versterkte stede ingaan en daar omkom; want die Here onse God laat ons omkom, en Hy laat ons gifwater drink, omdat ons teen die Here gesondig het. JEREMIA 8:14 AFR53
9 April 2026
JEREMIA 8:15 AFR53
Hulle wag op vrede, maar daar is niks goeds nie; op 'n tyd van beterskap, maar kyk, daar is verskrikking.
Jeremia sien nog steeds die toekoms.
Die mense in Juda wat die boodskap van die vals profete gehoor en geglo het – die boodskap van vrede – is goed mislei, want die vrede het nie gekom nie.
In plaas van vrede het die Babiloniese invallers gekom met perde wat runnik en snuif en 'n leër so groot dat die hele land bewe.
Van Dan af word die gesnuif van sy perde gehoor, vir die geluid van die gerunnik van sy perde bewe die hele land; en hulle kom en eet die land op en sy volheid, die stad en die wat daarin woon. JEREMIA 8:16 AFR53
Die vals profete en die priesters het die mense van Juda en Jerusalem oortuig dat hulle 'n manier kon vind om die komende oordeel te omseil. Hulle sou, tot hul groot hartseer, vind dat God vir hulle slange gestuur het wat nie besweer kan word nie.
Want kyk, Ek stuur slange, basiliske onder julle waarteen daar geen beswering is nie, en hulle sal julle byt, spreek die Here. JEREMIA 8:17 AFR53
Die gesig wat Jeremia sien kommer hom geweldig - hy hoor sy mense se hulproep uit ‘n ver land.
Met verbasing wonder Jeremia hoe sy volk in ballingskap beland het. Hy wonder of God Sy eie land verlaat het en of Hy nie meer as 'n Koning in Sion regeer nie.
God antwoord Jeremia. Die probleem was nie dat God die land van Israel verlaat het nie, die probleem was dat Israel God verlaat het.
Ag, kon ek my maar opvrolik in kommer! My hart is krank in my. Daar is die hulpgeroep van die dogter van my volk uit 'n baie ver land: Is die Here nie in Sion nie? Of is sy Koning nie daarin nie? Waarom het hulle My geterg met hulle gesnede beelde, met vreemde, nietige afgode? JEREMIA 8:18-19 AFR53
In 'n hoofsaaklik landbousamelewing het almal verstaan dat somer die groeiseisoen was wat moes eindig met ‘n oes. Dit moes 'n tyd van oorvloed wees, maar al wat daar was, was ‘n hartseer klaaglied van ‘n verowerde Juda in ballingskap.
Die oes is verby, die somer is ten einde, en óns is nie verlos nie! Vanweë die verbreking van die dogter van my volk is ek gebreek, is ek in die rou; verbaasdheid het my aangegryp. JEREMIA 8:20-21 AFR53
Gilead was die land net oos van die Jordaanrivier en was bekend vir genesende balsems - 'n strelende, aromatiese salf wat van 'n boom of 'n plant gemaak is soortgelyk aan ‘n aalwyn.
Jeremia vertel vir die volk dat daar ‘n uitkoms vir hul probleem is. Soos Gilead se genesende balsems het God ook vir Sy volk ‘n uitweg - keer terug na Hom. Maar God se volk het anders besluit, hulle wou nie na Hom terugkeer nie.
Is daar geen balsem in Gílead nie? Of is daar geen geneesheer nie? Want waarom het die genesing van die dogter van my volk nie tot stand gekom nie? JEREMIA 8:22 AFR53
10 April 2026
JEREMIA 10:1 AFR53
Hoor die woord wat die Here oor julle gespreek het, o huis van Israel!
Jeremia praat met Juda en sê dat hulle die woord wat God oor hulle gespreek het moet hoor. God wil he dat Sy volk anders as die heiden nasies moet wees. Hulle moet nie soos die heidene skrik vir die tekens van die hemel nie.
Die tekens van die hemel waarna verwys word, is nie die son, maan en sterre wat deur God bedoel is om tekens te wees nie.
En God het gesê: Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel, om skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien as tekens sowel vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare. GÉNESIS 1:14 AFR53
Die tekens hier verwys na ongewone verskynsels soos verduisterings, komete en meteore, wat veronderstel was om buitengewone gebeurtenisse te voorspel.
So sê die Here: Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie, en skrik nie vir die tekens van die hemel, omdat die heidene daarvoor skrik nie. JEREMIA 10:2 AFR53
Jeremia beskryf die heidense gebruik om 'n boom af te kap, dit op 'n spesiale plek te plaas, dit te versier en dit te aanbid. Hy spot hier met Juda se afgode, veral omdat hulle die afgodery van die omliggende nasies nageboots het.
Want die insettinge van die volke is nietigheid; want 'n boom uit die bos kap hulle om, die handewerk van 'n ambagsman met die byl. Hulle versier dit met silwer en goud, hulle maak dit vas met spykers en hamers, dat dit nie waggel nie. JEREMIA 10:3-4 AFR53
Tog is dit moeilik om hierdie beskrywing en veroordeling van 'n antieke heidense gebruik te lees en nie dadelik te dink aan die gebruik van ‘n kersboom soos dit in die moderne Christen wêreld beoefen word nie.
Jeremia praat oor die gebruike van die heidene, en in die moderne wêreld is die gepaste viering van Kersfees 'n uitdrukking van geloof in God en Sy Seun, en nie 'n gebruik van ongelowiges nie.
Jeremia praat van gelowiges wat gebruike van ongelowiges leen. In vandag se tyd, wanneer 'n ongelowige 'n kersboom het, is dit 'n geval van ongelowiges wat die gebruike van gelowiges leen.
Jeremia praat van 'n boom wat as 'n afgod beskou word - die moderne kersboom is nie 'n afgod nie. Indien dit wel vir 'n gesin 'n afgod is of word, moet dit weggegooi word.
Jeremia praat van 'n tyd in die geskiedenis toe bome dikwels direk met afgodery verbind was, hetsy letterlike bome of hul voorstellings.
Jeremia het saggies die afgode aanbidding van lewelose voorwerpe soos versierde bome bespot. Geen besondere eerbied moet aan hulle gegee word nie, hulle is magteloos om enigiets te doen, soos ‘n voëlverskrikker in ‘n groentetuin.
Soos 'n voëlverskrikker in 'n komkommertuin is hulle: hulle kan nie praat nie; ja, hulle moet gedra word, want hulle kan nie loop nie. Wees nie bevrees vir hulle nie, want hulle kan geen kwaad doen nie, maar daar is ook geen goeddoen by hulle nie. JEREMIA 10:5 AFR53
11 April 2026
JEREMIA 10:6 AFR53
Geeneen is soos U nie, o Here! U is groot, en u Naam is groot in krag.
Niemand is soos U nie, o Here! Jeremia kontrasteer God se grootheid en krag met die magteloosheid en nietigheid van die afgode. Die onmiskenbare kontras tussen God en die afgode van die nasies is dat hulle die werk van mensehande is, maar God is die Skepper van daardie einste hande.
Wie sou U nie vrees nie, o Koning van die nasies? Want U kom dit toe; want onder al die wyse manne van die nasies en in hulle hele koninkryk is geeneen soos U nie. Maar almal saam word hulle dom en dwaas, die tugtiging van die nietige afgode — dit is hout. Silwer wat plat geslaan is, word uit Tarsis gebring en goud uit Ufas, die werk van die ambagsman en van die hande van die goudsmid; pers en purperrooi is hulle klere; 'n werk van kunstenaars is hulle almal. JEREMIA 10:7-9 AFR53
Die Verbondsgod van Israel is anders as die lewelose afgode wat mense aanbid. Hy is die ware God, die lewende God, die Koning vir altyd. Hy heers in die geskiedenis en die nasies bewe vir Hom.
Maar die Here is waarlik God, Hy is die lewende God en 'n ewige Koning; vir sy toorn beef die aarde, en die nasies kan sy grimmigheid nie verdra nie — JEREMIA 10:10 AFR53
Teenoor die magteloosheid van die afgode staan die absolute mag van God wat die Koning van die nasies is. Sy wysheid is weergaloos. Dít, sê Jeremia, is ’n boodskap wat die nasies moet hoor. Daarom is vers 11 in Aramees geskryf, die wêreldtaal van die tyd, sodat mense dit sommer kan aanhaal in hul gesprekke met mense van ander nasies.
so moet julle vir hulle sê: Die gode wat die hemel en die aarde nie gemaak het nie, sal vergaan van die aarde af en onder hierdie hemel uit — JEREMIA 10:11 AFR53
Jeremia brei uit oor God se skeppingsmag en prys Hom vir Sy krag, wysheid en insig wat Hy met die totstandkoming van die hemel en die aarde ten toon gestel het.
Hy wat die aarde gemaak het deur sy krag, wat die wêreld gegrond het deur sy wysheid en die hemel uitgespan het deur sy verstand. JEREMIA 10:12 AFR53
Die natuurkragte – water, weerlig, en wind – is in God se wêreld nie gode of selfs onpersoonlike magte, elemente of beginsels nie. Dit is wel die geval met die vier Griekse natuurkragte nl: water, lug, vuur, en grond. Die hele Skepping is alles onder God se beheer en Hy wend dit aan soos Hy wil.
As Hy sy stem laat hoor, is daar 'n geruis van waters in die hemel; en Hy laat dampe opgaan van die einde van die aarde; Hy maak bliksems vir die reën en laat wind uitgaan uit sy voorraadskure. Elke mens word dom, sonder kennis; elke goudsmid staan beskaamd deur die gesnede beeld; want sy gegote beeld is 'n leuen, en daar is geen gees in hulle nie. Nietige afgode is hulle, werk vir spotterny; in die tyd van hulle besoeking gaan hulle tot niet. JEREMIA 10:13-15 AFR53
God is die Skepper van alles en almal, en op die koop toe, is Israel die volk wat aan Hom behoort. Daarom kan Sy Naam eintlik net op een manier uitgedruk word. Die Here die Almagtige is Sy Naam. Jahwe (Here) is sy verbondsnaam, die naam waarmee Hy Homself aan Israel bekend gestel het. Die Almagtige is die naam waarmee Hy Homself aan die wêreld en die nasies bekend gestel het.
Jakob se deel is nie soos hulle nie; want Hy is die Formeerder van alles, en Israel is die stam van sy erfenis; Here van die leërskare is sy Naam. JEREMIA 10:16 AFR53
12 April 2026
JEREMIA 10:17 AFR53
Tel jou pak goed van die grond af op, jy wat in die beleëring vertoef.
Jeremia sien weer profeties die invallende leër van die Babiloniërs wat as 'n instrument van God se oordeel kom. Hy waarsku die mense van die land om vinnig voor te berei.
Maar, ten spyte van enige haastige voorbereidings wat hulle ook al mag tref, sal niemand voor die oordeel van God kan staan nie. Hulle sal beslis uit die land uitgewerp word.
Want so sê die Here: Kyk, Ek slinger die inwoners van die land hierdie keer weg, en Ek doen hulle benoudheid aan, dat hulle kan vind. JEREMIA 10:18 AFR53
Jeremia bid met die stem van iemand wat die komende Babiloniese inval verduur. Sy gebed is gevul met pyn en angs.
Wee my vanweë my verbreking! Smartlik is my wond! Ja, ék het gesê: Waarlik, dit is 'n lyding, en ek sal dit moet dra. JEREMIA 10:19 AFR53
Hy voel die wanhoop, skok en eensaamheid van diegene wat die streng seisoen van oordeel gaan verduur.
Jeremia beklemtoon die leiers se negatiewe posisie. Die leiers van Juda – beide geestelik en polities – het God nie gesoek nie.
My tent is verwoes, en al my lyne is afgeruk; my kinders het van my af weggegaan, en hulle is daar nie; daar is niemand meer wat my tent uitspan en my tentdoeke opsit nie. Want die herders het dom geword en die Here nie gesoek nie; daarom was hulle nie voorspoedig nie, en hulle hele kudde is verstrooi. JEREMIA 10:20-21 AFR53
Babilon, die land vanuit die Noorde, kom met ‘n groot geraas om Juda se stede te verwoes.
Hoor! 'n Gerug. Daar kom dit, en wel 'n groot geraas uit die Noordland, om die stede van Juda 'n woesteny te maak, 'n lêplek van jakkalse. JEREMIA 10:22 AFR53
Terwyl Jeremia aan die groot oordeel dink wat deur die Babiloniese leër oor Juda sou kom, het hy ook daaraan gedink dat God hulle stuur.
Jeremia het geweet dat Juda reggehelp moes word, maar hy vra dat God tog genade sou bewys en Sy volk nie sou vernietig nie.
Ek weet, o Here, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan 'n man om te loop en sy voetstappe te rig nie. Tugtig my, Here, maar met mate; nie in u toorn, dat U my nie te klein maak nie. JEREMIA 10:23-24 AFR53
Jeremia weet dat God die Babiloniërs as die instrument van Sy teregwysing teen Juda gaan gebruik, en hy vra God om hulle (die Babiloniërs) ook te oordeel.
Stort u grimmigheid uit oor die nasies wat U nie ken nie, en oor die geslagte wat u Naam nie aanroep nie; want hulle het Jakob opgeëet, ja, hulle het hom opgeëet en hom verteer en sy woning verwoes. JEREMIA 10:25 AFR53
13 April 2026
JEREMIA 23:1 AFR53
Wee die herders wat die skape van my weide laat omkom en hulle verstrooi, spreek die Here.
Hoofstuk 23 is die laaste hoofstuk van Jojakim se heerskappy.
Jeremia gee 'n waarskuwing van wee aan die herders wat die skape van God se weide vernietig en verstrooi. Die mense van Jeremia se tyd was inderdaad verstrooi. Sommige is as gevangenes na Babilon en die nasies weggevoer, en ander het as vlugtelinge na Egipte gegaan. Dit kan alles teruggevoer word na die goddelose en swak leiers van die volk van God.
God sal die bose werke van die ontroue herders aanspreek. Hy sal hulle verantwoordelik hou.
Daarom, so sê die Here, die God van Israel, aangaande die herders wat my volk oppas: Júlle het my skape verstrooi en hulle verdrywe en hulle nie opgesoek nie. Kyk, Ek besoek oor julle die boosheid van julle handelinge, spreek die Here. JEREMIA 23:2 AFR53
Lande - (meervoud). Wanneer Kores, die koning van die Perse, God se volk vrylaat, kom hulle slegs uit een land.
En Ek self sal die oorblyfsel van my skape versamel uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het; en Ek sal hulle terugbring na hulle weiveld, en hulle sal vrugbaar wees en vermenigvuldig. JEREMIA 23:3 AFR53
God voorspel dat hulle nie een keer nie, maar twee keer bymekaargemaak sal word.
En in dié dag sal die Here weer vir die tweede keer sy hand uitstrek, om die oorblyfsel van sy volk los te koop wat sal oorbly uit Assirië en Egipte en Patros en Kus en Elam en Sínear en Hamat en uit die kuslande van die see; en Hy sal 'n banier ophef vir die nasies en bymekaar laat kom die seuns van Israel wat verdryf is, en versamel die dogters van Juda wat verstrooi is, uit die vier hoeke van die aarde. JESAJA 11:11-12 AFR53
Hierdie is nie die Babiloniese terugkeer nie, dit is die tweede terugkeer wat ons sedert 14 Mei 1948 sien.
Jeremia 23:4 het nog nie gebeur nie. Daar sal twaalf manne wees (die Apostels) wat oor die twaalf stamme van Israel regeer - gedurende die Millennium.
En Ek sal herders oor hulle verwek wat hulle sal oppas; en hulle sal nie meer bevrees of verskrik wees of vermis word nie, spreek die Here. JEREMIA 23:4 AFR53
14 April 2026
JEREMIA 23:5 AFR53
Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek vir Dawid 'n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land.
Jeremia gee ’n belofte van ’n verstandige en regverdige koning, ’n Spruit van Dawid, wat ‘n soortgelyke belofte in Jesaja 11 en Jeremia 33 eggo.
Maar daar sal 'n takkie uitspruit uit die stomp van Ísai, en 'n loot uit sy wortels sal vrugte dra; en op Hom sal die Gees van die Here rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die Here. JESAJA 11:1-2 AFR53
In dié dae en in dié tyd sal Ek vir Dawid 'n Spruit van geregtigheid laat uitspruit, en Hy sal reg en geregtigheid doen in die land. JEREMIA 33:15 AFR53
Hierdie Spruit van geregtigheid sal as 'n suksesvolle Koning, God se volk lei. Voorspoed, reg en geregtigheid sal Sy heerskappy kenmerk. Hierdie heerskappy sal tot op die aarde strek, nie net die grense van Israel nie.
In Sy dae sal Juda gered word, en Israel sal veilig woon: Redding en sekuriteit sal vir al God se mense wees - vir Juda en Israel albei. Hulle sal weereens 'n verenigde volk wees.
Die HERE Ons Geregtigheid: Jeremia het aangekondig dat dit die naam sou wees waarmee die Spruit genoem sal word. Hy sal die manier wees waarop die geregtigheid van God aan Sy volk gegee word, sodat Hy self ons geregtigheid is.
In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID. JEREMIA 23:6 AFR53
Regdeur die Bybel word God beskryf as die Here God van Israel wat die kinders van Israel uit Egipteland uitgelei het.
Daarom kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat hulle nie meer sal sê: So waar as die Here leef wat die kinders van Israel uit Egipteland laat optrek het nie, JEREMIA 23:7 AFR53
Maar in die toekoms sal God beskryf word as die God wat die kinders van Israel teruggebring het uit al die lande waarheen Hy hulle verdryf het.
maar: So waar as die Here leef wat die geslag van die huis van Israel laat optrek en laat kom het uit die Noordland en uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het. En hulle sal woon in hulle land. JEREMIA 23:8 AFR53
God beklemtoon Sy belofte dat Hy Sy volk gaan terugbring na die Beloofde Land. Selfs na die groot oordeel en ballingskap wat gaan kom, is Hy nie klaar met Sy volk nie.
15 April 2026
JEREMIA 23:9 AFR53
Wat die profete betref — my hart is gebreek in my binneste, my hele gebeente sidder; ek is soos 'n dronk man en soos 'n man wat deur die wyn oorweldig is, vanweë die Here en sy heilige woorde.
Jeremia is erg bedroef oor die profete wat God se heilige woorde verdraai. Sy hart is gebreek, sy bene sidder en hy voel soos ‘n dronk man wat deur wyn oorweldig is. ‘n Mens kan sy emosie voel!
Die vals profete het seën en oorvloed belowe, maar die bewyse was aan Jeremia se kant. Die swaar teenwoordigheid van sonde in die land (waarskynlik egbreuk in beide sy letterlike en figuurlike sin) en die vloek op die land self, het bewys dat dit tyd was om berou te hê en nie te ontspan nie.
Want die land is vol owerspelers; want die land treur weens die vloek, die weivelde van die woestyn verdor; ja, waar hulle na strewe, is sleg, en waar hulle hul krag in soek, onreg. JEREMIA 23:10 AFR53
Jeremia kon die fundamentele gebrek aan heiligheid sien onder diegene wat veronderstel was om geestelike leiers te wees. Om onheilig te wees, is die teenoorgestelde van heiligheid. Hulle was niks anders as die afgodsaanbidders rondom Juda nie.
Dit was nie net dat die persoonlike lewens van hierdie profete en priesters heiligheid kortgekom het nie. Hul onheilige harte en weë was ook duidelik in die huis van God.
Want profeet sowel as priester is goddeloos; selfs in my huis het Ek hulle boosheid gevind, spreek die Here. JEREMIA 23:11 AFR53
Die kern van die probleem van die profete en priesters lê in hul eie goddeloosheid. Daarom sê God dat Hy die profete en priesters se pad glibberig sal maak en ’n ramp oor hulle sal bring.
Daarom sal hulle weg vir hulle wees soos glyerige plekke in die donkerheid; hulle sal neergestoot word en daarin val. Want Ek sal onheil oor hulle bring in die jaar van hulle besoeking, spreek die Here. JEREMIA 23:12 AFR53
Jeremia vertel dat God gesien het hoe die profete in Samaria in die naam van Baäl geprofeteer, en die volk verlei het.
Ek het wel by die profete van Samaría aanstootlike dinge gesien: hulle profeteer deur Baäl en verlei my volk Israel; JEREMIA 23:13 AFR53
Maar, wat vir God spesifiek afskuwelik was, was die profete van Jerusalem wat lieg en bedrieg en diegene help wat verkeerd doen. Die gevolge van hul verkeerde leiding is dat niemand tot bekering kom nie.
Só word almal vir God soos Sodom en Gomorra van ouds en Hy gaan hulle uitwis weens die goddeloosheid wat hulle deur die hele land versprei het.
maar by die profete van Jerusalem het Ek gesien wat afskuwelik is: hulle bedryf owerspel en gaan om met leuens, en hulle versterk die hande van die kwaaddoeners, sodat hulle hul nie bekeer elkeen van sy boosheid nie. Hulle het almal vir My geword soos Sodom, en sy inwoners soos Gomorra. JEREMIA 23:14 AFR53
16 April 2026
JEREMIA 23:15 AFR53
Daarom, so sê die Here van die leërskare aangaande die profete: Kyk, Ek laat hulle wildeals eet en laat hulle gifwater drink; want van die profete van Jerusalem het goddeloosheid in die hele land uitgegaan.
God se oordeel begin by Sy huis - by die profete wat veroorsaak dat die mense wat na hulle luister goddeloos word.
God sal die profete met wildeals voed en vir hulle gifwater gee om te drink. Daar was 'n suur, bitter toekoms vir hierdie korrupte profete.
Normaalweg wou God hê dat Sy mense streng aandag moes gee aan diegene wat Sy woord gespreek het. Maar nou sê God dat die mense nie na die profete moet luister nie.
Hierdie korrupte profete het gepraat, maar dit was nie uit die mond van God nie. Dit was bloot 'n visioen van hul eie hart. Die effek van hierdie mensgemaakte woorde was om diegene wat dit geglo het, waardeloos te maak.
So sê die Here van die leërskare: Luister nie na die woorde van die profete wat vir julle profeteer nie; hulle vervul julle met ydele verwagtinge; gesigte uit hul eie hart verkondig hulle, nie uit die mond van die Here nie. JEREMIA 23:16 AFR53
Die korrupte profete was bang om 'n woord van teregwysing te spreek teenoor diegene wat God verag het. In plaas daarvan het hulle sagte woorde van vrede gespreek en belowe dat geen onheil sou kom oor hulle wat hul eie hart volg nie.
Hulle sê gedurig aan my veragters: Die Here het gespreek: Julle sal vrede hê; en aan elkeen wat wandel in die verharding van sy hart, sê hulle: Geen onheil sal oor julle kom nie. JEREMIA 23:17 AFR53
'n Rede word gegee waarom daar nie na die vals profete geluister moet word nie. Hulle het nie in die raad van God gestaan nie.
Want wie het in die raad van die Here gestaan, dat hy sy woord sou sien en hoor? Wie het sy woord beluister en gehoor? JEREMIA 23:18 AFR53
Die korrupte profete het gedoen wat hulle gedoen het sonder vrees vir straf. Hulle het vergeet dat God se oordeel eendag sou kom - en dit het losgebreek soos ‘n dwarrelstorm.
Kyk, 'n storm van die Here, grimmigheid het uitgegaan, ja, 'n dwarrelstorm! Op die hoof van die goddelose mense breek dit los. JEREMIA 23:19 AFR53
God se toorn sal eers bedaar wanneer Hy Sy oordeel uitgevoer het.
Die toorn van die Here sal nie afgewend word nie, totdat Hy uitgevoer en tot stand gebring het die raadslae van sy hart; aan die einde van die dae sal julle dit duidelik verstaan. JEREMIA 23:20 AFR53
17 April 2026
JEREMIA 23:21 AFR53
Ek het die profete nie gestuur nie, tog het hulle geloop; Ek het nie met hulle gespreek nie, tog het hulle geprofeteer.
Die korrupte profete is nie deur God geroep of gestuur nie, maar hulle het met groot energie gehardloop om hul eie woorde te verkondig.
Hulle het nooit 'n opdrag van God ontvang nie, tog het hulle met hul valse boodskappe gretig probeer om hul eie doelwitte te bereik.
As hierdie ware profete was deur God gestuur, sou hulle God se woorde verkondig het en die volk van hul verkeerde weë en bose handelinge teruggebring het.
Maar as hulle in my raad gestaan het, moet hulle my volk my woorde laat hoor en hulle terugbring van hul verkeerde weg en van die boosheid van hul handelinge. JEREMIA 23:22 AFR53
Deur retoriese vrae te vra, herinner God vir Juda dat Hy naby en nie ver is nie. Dit het geen nut gehad om in geheime plekke weg te kruip om God se sig te vermy nie.
Dieselfde God wat die heelal vul, kan ook sien wat ons doen. Dit was iets wat die korrupte profete en hul volgelinge gekies het om te vergeet.
Is Ek 'n God van naby, spreek die Here, en nie 'n God van ver nie? Sou iemand hom in skuilplekke kan wegsteek dat Ek hom nie sien nie? spreek die Here. Vervul Ek nie die hemel en die aarde nie? spreek die Here. JEREMIA 23:23-24 AFR53
God hoor wat die profete sê! Dit alleen moes die korrupte profete bang gemaak het. Selfs al sou geen mens hul sogenaamde profetiese woorde oordeel en onderskei nie, het God hulle gehoor en Hy sou oordeel.
Ek het gehoor wat die profete sê, wat in my Naam vals profeteer met die woorde: Ek het gedroom, ek het gedroom! JEREMIA 23:25 AFR53
Die korrupte profete het daarvan gehou om op geestelike verskynsels soos drome te fokus. Alhoewel dit voorgegee het om 'n geestelike fokus te he, het dit die aandag van God af weggeneem.
Hoe lank nog? Is dit in die hart van die profete wat leuens profeteer en profete is van die bedrieëry van hulle hart — JEREMIA 23:26 AFR53
Sodra mense die karakter van God vergeet, kan hulle oorreed word om enige ander leerstelling te aanvaar.
is hulle daarop bedag om my volk my Naam te laat vergeet deur hulle drome wat hulle die een aan die ander vertel, soos hulle vaders my Naam vergeet het deur Baäl? JEREMIA 23:27 AFR53
18 April 2026
JEREMIA 23:28 AFR53
Die profeet by wie 'n droom is, laat hom 'n droom vertel; en by wie my woord is, laat hom my woord spreek in waarheid. Wat het die strooi met die koring te doen? spreek die Here.
God het diegene wat obsessief is oor geestelike verskynsels genooi om na vore te kom - vertel jou droom, stel jou saak.
God het ook 'n tweede uitnodiging gegee - die een wat God se woord het, word genooi om die woord getrou te spreek, om nie stil te bly ten spyte van die aantal en gewildheid van die korrupte profete nie.
Dit is duidelik dat die drome van die korrupte profete soos kaf was. Dit was wel iets, maar iets van min substansie en van geen waarde nie. God se woord aan die ander kant, getrou aangebied, was soos koring - van substansie, voeding, lewegewend, en het die krag om te vermeerder.
God se woord het krag soos vuur, krag om te bevoordeel en te oordeel. Kaf het geen krag teen vuur nie.
God se woord is ook kragtig soos 'n hamer, met die krag om te bou of te breek. Kaf het geen krag teen 'n hamer nie.
Is my woord nie só, soos 'n vuur, spreek die Here, en soos 'n hamer wat 'n rots vermorsel nie? JEREMIA 23:29 AFR53
Net omdat iemand beweer het dat hy 'n profeet is, het dit nie beteken dat God hulle gestuur het nie. God sê dat die vals woorde wat die profete spreek dieselfde is as diefstal - die vals profete steel God se woorde.
Daarom, kyk, Ek het dit teen die profete, spreek die Here, wat my woorde steel, die een van die ander. JEREMIA 23:30 AFR53
God was teen diegene wat beweer het dat hulle namens Hom praat en eintlik net hul eie woorde gebruik.
Kyk, Ek het dit teen die profete, spreek die Here, wat hulle eie tong gebruik en sê: Die Here spreek! JEREMIA 23:31 AFR53
God was teen hulle wat leuenagtige drome spreek, en met hul woorde Sy volk op die verkeerde weg lei. God het hulle glad nie gestuur nie en hulle bring geen voordeel vir Sy volk nie.
Kyk, Ek het dit teen hulle wat leuenagtige drome profeteer, spreek die Here, en dit rondvertel en my volk verlei met hulle leuens en hulle grootpratery, terwyl Ek hulle nie gestuur en aan hulle geen bevel gegee het nie, en hulle vir hierdie volk hoegenaamd geen voordeel bring nie, spreek die Here. JEREMIA 23:32 AFR53
19 April 2026
JEREMIA 23:33 AFR53
As hierdie volk of profeet of priester jou dan vra en sê: Wat het die Here gelas? — dan moet jy vir hulle sê: Júlle is die las. En Ek sal julle afwerp, spreek die Here.
Hierdie gedeelte is ietwat moeilik as gevolg van 'n woordspeling in Hebreeus. Die sleutelwoord is massa wat beide ‘n las en ‘n uitspraak (‘n openbaring van God) beteken. Soms word een betekenis van die woord bedoel, soms die ander, en soms albei.
Wat het die Here gelas of wat is die uitspraak van die Here? Dit was waarskynlik 'n spottende vraag van die korrupte profete aan Jeremia. Aangesien die meeste van Jeremia se profetiese werk was om hul ondergang aan te kondig en hulle tot bekering te roep, wou die profete sarkasties weet watter swaar woord hy vandag vir hulle gehad het.
God het vir Jeremia gesê om te antwoord dat hulle, die vals profete, die las is.
Wie die woord van die God bespotlik 'n las noem, hulle sal met God se toorn besoek word.
En wat betref die profeet of die priester of die volk wat sê: Die Here het gelas — oor dié man en oor sy huis sal Ek besoeking doen. JEREMIA 23:34 AFR53
Die gevolg van God se oordeel sal wees dat Sy profeet hierna met meer eerbied aangespreek sal word. God se boodskap sal nie meer 'n las genoem word nie. Daar sal met eerbied gevra word wat was God se woord!
So moet julle sê, elkeen vir sy naaste en elkeen vir sy broer: Wat het die Here geantwoord? En wat het die Here gespreek? Maar van: die Here het gelas — mag julle nie meer melding maak nie; want vir elkeen sal sy eie woord die las wees: dat julle verdraai die woorde van die lewende God, van die Here van die leërskare, onse God. JEREMIA 23:35-36 AFR53
God wend Hom tot Jeremia en beveel hom om net een frase vir die volk te gee as hulle hom vra wat God se woord vir die dag is, nl: Ek steur My nie meer aan julle nie! Wat ‘n vreeslike situasie om in te wees.
God verbied die volk om langer te probeer agterkom wat Hy sê, want hulle maak dan hul eie woorde op. God bevestig daarmee dat Hy hulle verwerp en ’n blywende skande oor hulle sal bring, ’n vernedering wat nie vergeet sal word nie.
So moet jy aan die profeet sê: Wat het die Here jou geantwoord? En wat het die Here gespreek? Maar as julle sê: Die Here het gelas — daarom, so spreek die Here: Omdat julle hierdie woord sê: Die Here het gelas — alhoewel Ek na julle gestuur het met die woorde: Julle mag nie sê: Die Here het gelas nie — daarom, kyk, Ek sal julle sekerlik ophef en julle, saam met die stad wat Ek aan julle en julle vaders gegee het, van my aangesig af wegwerp; en Ek sal julle 'n ewige smaad oplê en 'n ewige skande wat nie vergeet sal word nie. JEREMIA 23:37-40 AFR53
20 April 2026
II KONINGS 23:36 AFR53
Vyf-en-twintig jaar was Jójakim oud toe hy koning geword het, en elf jaar het hy in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Sebúdda, 'n dogter van Pedája, uit Ruma.
Terwyl ons die elf jaar lange heerskappy van Jojakim afsluit, stel ons ondersoek in na wat die Skrif uit verskillende bronne openbaar.
Nebukadnesar het in die derde jaar van Jojakim Jerusalem beleër en ballinge na Babilon weggevoer. Hierdie was die eerste van drie Babiloniese beleëringe en het in 605 v.C. plaasgevind.
In die derde jaar van die regering van Jójakim, die koning van Juda, het Nebukadnésar, die koning van Babel, na Jerusalem gekom en dit beleër. DANIËL 1:1 AFR53
Die vierde jaar van Jojakim was die eerste volle jaar van Nebukadnesar se heerskappy.
Die woord wat tot Jeremia gekom het aangaande die hele volk van Juda, in die vierde jaar van Jójakim, die seun van Josía, die koning van Juda — dit was die eerste jaar van Nebukadrésar, die koning van Babel — JEREMIA 25:1 AFR53
Die vyfde jaar van Jojakim was die tweede jaar van Nebukadnesar toe die drie Hebreeuse kinders in die vuuroond gegooi is. Jojakim het Nebukadnesar vir drie jaar gedien, en toe het hy teen hom in opstand gekom.
In sy dae het Nebukadnésar, die koning van Babel, opgetrek, en Jójakim het drie jaar lank sy dienaar geword; daarna het hy weer teen hom gerebelleer. II KONINGS 24:1 AFR53
Toe Jojakim Jeremia se boekrolle verbrand het, het Jeremia dit herskryf en God het ‘n oordeel oor die koning uitgespreek.
Daarom, so spreek die Here aangaande Jójakim, die koning van Juda: Hy sal nooit een hê wat op die troon van Dawid sit nie, en sy lyk sal weggegooi lê, bedags in die hitte en snags in die koue. JEREMIA 36:30 AFR53
Jojakim se arrogansie het veroorsaak dat geen van sy seuns ooit koning van Juda sou word nie.
Deur al sy tekortkominge het hy die angswekkende oordeel van God oor hom laat kom. Hy sou soos ’n donkie begrawe word - hy sou weggesleep word en buite die poorte van Jerusalem weggegooi word, en niemand sou oor hom treur nie.
Daarom sê die Here so van Jójakim, die seun van Josía, koning van Juda: Hulle sal hom nie beklaag met: Ag, my broer! of — ag, suster! nie Hulle sal hom nie beklaag met: Ag, heer! of — ag, majesteit! nie. Met 'n eselsbegrafnis sal hy begrawe word — weggesleep en neergegooi ver van die poorte van Jerusalem af. JEREMIA 22:18-19 AFR53
Hierdie profesie is vervul met Nebukadnesar se tweede beleëring van Jerusalem in 597 v.C. Volgens Josefus is Jojakim tydens die beleëring doodgemaak, en sy liggaam is oor die stadsmuur gegooi.




Comments