Jeremia - Hoofstukke 15 & 16
- Regina Torre
- Jan 26
- 19 min read
Updated: 3 days ago

Scroll asb. ondertoe om vandag se inskrywing te sien!
26 Januarie 2026
JEREMIA 15:1 AFR53
Maar die Here het vir my gesê: Al staan Moses en Samuel voor my aangesig, my siel wil niks van hierdie volk weet nie; dryf hulle van my aangesig af weg, en laat hulle heengaan.
God sê vir Jeremia om nie vir Juda te bid nie, want hulle lot van oordeel en ballingskap is reeds seker. Verder sê God dat selfs al sou twee van die reuse van die Ou Testament – Moses en Samuel – vir die volk intree, dit nie hulle lot sou verander nie.
Moses en Samuel was daarvoor bekend dat hulle namens die volk, voor God, met gebed ingetree het.
Maar Moses het die Here sy God om genade gesmeek en gesê: Waarom, o Here, sou u toorn ontvlam teen u volk wat U met grote krag en met 'n sterke hand uit Egipteland uitgelei het? EXODUS 32:11 AFR53
Daarom het die hele volk vir Samuel gesê: Bid tot die Here u God vir u knegte, dat ons nie sterf nie, omdat ons by al ons sondes nog kwaad gedoen het deur 'n koning vir ons te begeer. I SAMUEL 12:19 AFR53
Selfs al was Moses en Samuel teenwoordig om vir Israel te bid, sou dit nie meer effektief wees as die gebede van Jeremia nie. Juda sal sy bestemde en regverdige ballingskap uit hul land in die gesig moet staar.
God weet dat die mense nou sal vra: Waar moet ons heengaan? Die antwoord wat die mense kry is nie aangenaam nie. Sommiges sal sterf van die pes, sommiges sal in die geveg deur die swaard sterf, ander sal deur hongersnood omkom, en die oorblywendes sal in gevangenskap weggevoer word.
En as hulle jou vra: Waar moet ons heengaan? sê dan vir hulle: So spreek die Here: Wie vir die pes bestem is, na die pes; en wie vir die swaard, na die swaard; en wie vir die hongersnood, na die hongersnood; en wie vir die gevangenskap, na die gevangenskap. JEREMIA 15:2 AFR53
Die swaard, as die direkte instrument van die dood, word gevolg deur die diere en roofvoëls wat voed op die lyke van die gesneuweldes.
En Ek sal oor hulle vier soorte besoekinge doen, spreek die Here: die swaard om dood te maak en die honde om weg te sleep en die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde om op te eet en te vernietig. JEREMIA 15:3 AFR53
Juda se oordeel word verbind aan koning Manasse se sondes. Manasse was ’n gruwelike koning wat hom opgehou het met afgodsdiens. Hy het die hoogtes weer herbou, die hemelliggame aanbid, altare vir die Baäls opgerig, gewyde pale gemaak en op die koop toe afgodsaltare in die tempel gebou, waarvan een ’n besondere gruwel was, ’n altaar vir Asjera. Hy het in direkte teenstrydigheid met Deut. 18 hom ook opgehou met goëlery, waarsêery, toordery en die oproep en raadpleging van geeste. Daarbenewens het hy selfs van sy eie kinders as offers verbrand. Sy goddeloosheid het amper geen perke geken nie.
En Ek sal hulle 'n skrikbeeld maak vir al die koninkryke van die aarde vanweë Manasse, die seun van Hiskía, die koning van Juda, oor wat hy in Jerusalem gedoen het. JEREMIA 15:4 AFR53
Manasse het wel aan die einde van sy lewe berou gehad en God het hom vergewe, maar dit maak egter nie sy slegte werke en slegte invloed tot niet nie. Daar is een ding wat ons uit die geskiedenis moet leer, behalwe vir die feit dat ons nooit uit die geskiedenis leer nie. Die gevolge van ons sondes het rippeleffekte wat vir geslagte kan voortduur! Manasse het baie mense laat dwaal en van God se weë laat afwyk, en hulle het op hul beurt baie ander ernstig laat sondig, en die siklus het aan en aan herhaal……….
27 Januarie 2026
JEREMIA 15:5 AFR53
Want wie sal jou bejammer, o Jerusalem? Of wie sal met jou medelyde hê? Of wie sal uitdraai om na jou welstand te vra?
God praat deur die profeet Jeremia met Jerusalem en vra hulle of daar enige iemand is wat omgee oor hul komende kriesis.
Ironies genoeg het Juda die enigste Een wat vir hulle omgegee het verwerp, en teen Hom in opstand gekom. In plaas daarvan om vooruit te gaan, het hulle agteruitgegaan. God sou hul verwerping van Hom beantwoord met Sy eie soort verwerping van hulle, en hulle aan oordeel en vernietiging oorgee.
Jy het My verwerp, spreek die Here, jy het ál agteruitgegaan; daarom strek Ek my hand teen jou uit en verwoes jou; Ek is moeg om berou te hê. JEREMIA 15:6 AFR53
Juda het dit nie gesien nie, maar God het Sy oordeel teen Juda vir 'n lang, lang tyd teruggehou.
God wil Juda met ’n gaffel uitwan tussen die koring uit sodat hulle soos kaf kan wegwaai in die wind.
En Ek wan hulle uit met 'n gaffel by die ingange van die land. Ek maak my volk kinderloos, maak hulle tot niet; hulle kom van hulle weë nie terug nie. JEREMIA 15:7 AFR53
Nie net word die weduwees meer nie, God laat selfs aanranders toe om hulle helder oordag te oorrompel, en wis hulle kinders uit, sodat hulle niemand meer het wat vir hulle kan sorg nie.
Hulle weduwees het vir My meer geword as die sand van die see; Ek bring vir hulle oor die moeder van die jong manskappe 'n verwoester op die middag; Ek laat skielik op haar val angs en verskrikkinge. JEREMIA 15:8 AFR53
Om sewe kinders te baar, sou normaalweg 'n teken van groot seën wees – ‘n prentjie van 'n perfekte gesin. Nou ly selfs daardie vrou en sy vergaan. Sy is skaam en verward oor die groot oordeel van God wat oor Juda sou kom.
Sy wat sewe gebaar het, het weggekwyn; sy het magteloos neergesink; haar son het ondergegaan terwyl dit nog dag was; sy staan beskaamd en het rooi van skaamte geword. En hulle oorblyfsel gee Ek aan die swaard oor, voor hulle vyande, spreek die Here. JEREMIA 15:9 AFR53
Terwyl hy die erns van sy boodskap oorweeg het, het Jeremia gedink aan die groot hartseer wat hyself gedra het. Soos Job, het hy gewonder of dit beter sou wees as hy nooit gebore was nie.
Omdat hy ervaar het dat God van voor sy geboorte af al vir hom geroep het, beteken dit dat Jeremia nie net sy bestaan bevraagteken nie, maar ook die bediening waarin hy staan.
Dit beteken dat hy oral in die land met mense moet twis oor hulle lewens, en dit het tot gevolg dat hy alleen is en dat mense hom vervloek. En dit grief hom.
Wee my, my moeder, dat u my gebaar het — 'n man van twis en 'n man van stryd vir die hele land! Ek het nie uitgeleen nie, en hulle het nie aan my geleen nie; almal vloek my. JEREMIA 15:10 AFR53
28 Januarie 2026
LEVÍTIKUS 26:3 AFR53
As julle in my insettinge wandel en my gebooie hou en dit doen,
Ons moet onthou dat toe Israel hul verbondsverhouding met God verbreek het, dit die gevolge van die verbond ontsluit het.
Kom ons gaan dus na Levitikus 26 en kyk presies wat die verbond behels het, aangesien dit byna duisend jaar later van toepassing op hul tyd geword het.
Die goeie nuus was dat as hulle aan God gehoorsaam was, geen afgode of gesnede beelde gemaak het nie, en Sy Sabbatte onderhou het, dan sou hulle geseënd wees en die reën kry wat hulle so dringend nodig gehad het in hul woestynklimaat. Die land sou sy opbrengs lewer, en die bome sou hul vrugte dra.
Julle mag vir julle geen afgode maak nie; en 'n gesnede beeld of 'n klippilaar mag julle vir julle nie oprig nie en 'n steen met beeldhouwerk in julle land nie opstel om julle daarby neer te buig nie; want Ek is die Here julle God. My sabbatte moet julle hou en my heiligdom ontsien. Ek is die Here. As julle in my insettinge wandel en my gebooie hou en dit doen, sal Ek julle reëns gee op die regte tyd, en die land sal sy opbrings gee, en die bome van die veld sal hulle vrugte gee. En die dorstyd sal vir julle aanhou tot die druiwe-oes, en die druiwe-oes sal aanhou tot die saaityd, en julle sal jul brood volop eet en veilig in julle land woon. LEVÍTIKUS 26:1-5 AFR53
Daar sou vrede in die land wees, en niemand sou ooit bang wees nie. Daar sou geen bose diere of vyande wees nie. Vyf van hulle sou honderd agtervolg, en honderd sou tienduisend op die vlug jaag.
Ook sal Ek vrede gee in die land, sodat julle sal lê en rus sonder dat iemand julle skrikmaak; en Ek sal die wilde diere uit die land laat verdwyn, en geen swaard sal deur julle land trek nie. En julle sal jul vyande agtervolg, en hulle sal voor julle val deur die swaard. Vyf van julle sal honderd agtervolg, en honderd van julle sal tienduisend agtervolg; en julle vyande sal voor julle val deur die swaard. LEVÍTIKUS 26:6-8 AFR53
God sou sorg vir voorspoed en vrugbaarheid in die gemeenskap as deel van Sy verbond, en hulle sou die voorreg he van die teenwoordigheid van God wat by hulle woon.
En Ek sal My na julle wend en julle vrugbaar maak en julle vermenigvuldig; en my verbond sal Ek met julle bevestig. Julle sal ou koring van vorige jare eet en die oue laat plek maak vir die nuwe. En Ek sal my tabernakel onder julle oprig, en my siel sal van julle geen afsku hê nie. En Ek sal in jul midde wandel en vir julle 'n God wees, en júlle sal vir My 'n volk wees. LEVÍTIKUS 26:9-12 AFR53
God herinner Sy volk dat Hy hulle uit Egipte uit die slawehuis uitgelei het en dat hulle daarom nie meer slawe is nie.
Ek is die Here julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het, dat julle nie hulle slawe moet wees nie; en Ek het julle jukskeie verbreek en het julle regop laat loop. LEVÍTIKUS 26:13 AFR53
29 Januarie 2026
LEVÍTIKUS 26:14-15 AFR53
Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge 'n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek —
Maar die slegte nuus was dat as hulle God nie gehoorsaam het nie, Sy insettinge verag het en Sy gebooie verbreek het, dan was die uitkoms heel anders. Die eerste ding was om vrees oor hulle te bring, gepaardgaande met 'n wegterende siekte en koors. Dan sou hulle deur hul vyande verslaan word, mense wat hulle gehaat het, sou oor hulle regeer, en hulle sou vlug wanneer niemand hulle selfs agtervolg het nie.
dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik: die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag; julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet. En Ek sal my aangesig teen julle rig, sodat julle voor jul vyande verslaan word; en julle haters sal oor julle heers, en julle sal vlug terwyl niemand julle agtervolg nie. LEVÍTIKUS 26:16-17 AFR53
As hulle hul nie bekeer nie, sou hulle nog sewe keer gestraf word! God sou die trots van hul mag breek en hul hemele soos yster maak en hul land soos koper. En as hulle steeds nie gehoorsaam was nie, sou nog sewe plae kom volgens hul sondes, en dan sou Hy die wilde diere op hulle pad stuur om hulle van hul kinders te beroof en hul vee te vernietig, en hul hoofweë sou verlate wees.
En as julle dan nog nie na My luister nie, sal Ek voortgaan om julle sewevoudig weens julle sondes te tugtig. En Ek sal julle trotse mag verbreek, en sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper. En julle krag sal tevergeefs verbruik word, want julle land sal sy opbrings nie gee nie, en die bome van die land sal hulle vrugte nie gee nie. En as julle jul teen My versit en na My nie wil luister nie, sal Ek meer plae op julle lê, sewevoudig volgens julle sondes. En Ek sal die wilde diere van die veld onder julle in stuur, en dié sal julle kinderloos maak en julle vee uitroei en julle verminder, sodat julle paaie verlate sal wees. LEVÍTIKUS 26:18-22 AFR53
As niks hiervan gewerk het om hulle te hervorm nie en hulle steeds in stryd met God gewandel het, sou hulle weer gestraf word, nog sewe keer! Hierdie keer sou dit met die swaard en pes wees en in die hande van die vyand oorgelewer word.
En as julle hierdeur jul nie deur My laat tugtig nie, maar julle teen My versit, sal Ek My ook teen julle versit en julle ook sewevoudig tref weens julle sondes. En Ek sal 'n swaard oor julle bring wat die wraak van die verbond sal uitoefen; en as julle dan in jul stede terugtrek, sal Ek pes onder julle in stuur, en julle sal in die hand van die vyand oorgegee word. LEVÍTIKUS 26:23-25 AFR53
Uiteindelik het God gesê as niks hiervan gewerk het nie en hulle steeds nie sou gehoorsaam wees nie, sou hulle nog sewe keer gestraf word! Hulle sou die vlees van hul seuns en dogters eet en hulle karkasse op die lewelose vorms van hul afgode gooi.
As Ek vir julle die staf van die brood verbreek, sal tien vroue julle brood in een oond bak en julle brood by die gewig teruggee; en julle sal eet, maar nie versadig word nie. As julle ook hierom nie na My luister nie, maar julle teen My versit, sal Ek My in grimmigheid teen julle versit, en Ék sal julle ook sewevoudig tugtig weens julle sondes. En julle sal die vlees van julle seuns eet, en die vlees van julle dogters sal julle eet. En Ek sal julle hoogtes verwoes en julle sonpilare verdelg en julle lyke op die lyke van julle drekgode gooi; en my siel sal 'n afsku van julle hê. LEVÍTIKUS 26:26-30 AFR53
Daar is geprofeteer dat as hulle nie gehoorsaam was nie, God die land in verwoesting sou bring en Israel se vyande sou daaroor verbaas wees. God sou hulle dan onder die nasies verstrooi sodat die land sy Sabbatte kon geniet.
Ja, Ek self sal die land verwoes, sodat julle vyande wat daarin gaan woon, daaroor verstom sal staan. En Ek sal julle onder die volke verstrooi en 'n swaard agter julle uittrek; en julle land sal 'n wildernis en julle stede puinhope word. LEVÍTIKUS 26:32-33 AFR53
30 Januarie 2026
JEREMIA 15:11 AFR53
Die Here het gesê: Waarlik, Ek bevry jou ten goede; waarlik, Ek maak dat die vyand jou ootmoedig smeek in tyd van onheil en in tyd van benoudheid.
God het Jeremia belowe – beide persoonlik en as verteenwoordiger van die volk – dat hy nie in sy ballingskap verlate sou wees nie. God sou hom guns gee onder die vyand wat sou kom.
Let op dat daar vir Jeremia geen vrystelling van sy roeping is nie, slegs 'n hernuwing daarvan.
Hierdie vers is letterlik vervul in Jeremia 39. Nebukadnesar het Nebusaradan, die owerste van die lyfwag, streng opdrag gegee om goed na Jeremia om te sien, hom geen kwaad te doen nie, en hom al die voorregte te gee wat hy sou vra.
Maar aangaande Jeremia het Nebukadrésar, die koning van Babel, bevel gegee deur middel van Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, en gesê: Neem hom en hou jou oë oor hom en doen hom geen kwaad nie; maar doen met hom soos hy jou sal sê. JEREMIA 39:11-12 AFR53
Alhoewel God vir Sy profeet Jeremia in die komende krisis sou sorg, het dit nie beteken dat die lot van Juda enigsins verander het nie. Die wapens van Babilon – gemaak met sterk noordelike yster en koper – sou sekerlik teen hulle kom.
Kan 'n mens yster breek, yster uit die noorde, en koper? JEREMIA 15:12 AFR53
Nie net was die oordeel en verowering van Juda seker nie, maar hulle sou ook uit hul land verban word na die onbekende land van hul vyande.
Jou rykdom en jou skatte sal Ek as buit gee, sonder betaling; en dit weens al jou sondes en in jou hele grondgebied. En Ek sal jou jou vyande laat dien in 'n land wat jy nie ken nie; want 'n vuur is aangesteek in my toorn, oor julle sal dit brand. JEREMIA 15:13-14 AFR53
Jeremia het gedoen wat ander godvreesende manne in die Bybel ook gedoen het – hy het na God gekyk vir beskerming toe hy ter wille van geregtigheid vervolg is. Jeremia kon tereg sê: ter wille van U het ek bestrafing verduur - so hy kon ook tereg enige wraak wat gepas was, aan God se sorg toevertrou.
o Here, U weet dit; dink aan my en besoek my, en wreek my op my vervolgers. Neem my in u lankmoedigheid nie weg nie. Weet dat ek smaad dra om U ontwil. JEREMIA 15:15 AFR53
Jeremia hou aan om sy saak voor God te pleit, en verklaar aan God sy groot liefde vir en sy fokus op God se woord.
Toe u woorde gevind is, het ek hulle opgeëet, en u woord was vir my vreugde en vrolikheid vir my hart; want u Naam is oor my uitgeroep, Here, God van die leërskare! JEREMIA 15:16 AFR53
Jeremia het eers God se woord gevind en dit nie verwaarloos of as vanselfsprekend aanvaar nie.
Hy het toe God se woord geëet, dit as voedsel vir die siel ingeneem en daaruit verkwikking en voeding ontvang.
Hy het God se woord as die vreugde en blydskap van sy hart beskou. Hy het hom verlustig in die woord van God en dit in sy diepste wese gedoen.
31 Januarie 2026
JEREMIA 15:17 AFR53
Ek het nie gesit in 'n vergadering van spotters of was nie uitgelate nie; vanweë u hand het ek alleen gesit, want U het my met grimmigheid vervul.
Jeremia dink terug aan sy eerste ondervinding met God se woord wat soveel vreugde vir hom gebring het, maar helaas hom geïsoleer het van die normale vreugdes van sosiale kontak.
Soos Esegiël ook die woord van God as soet soos heuning ervaar het, maar toe agtergekom het dat dit oordeelsprediking is, só ervaar Jeremia dit ook.
en vir my gesê: Mensekind, laat jou buik eet, en vul jou ingewande met hierdie rol wat Ek jou gee. En ek het dit geëet, en dit was in my mond soos heuning so soet. ESÉGIËL 3:3 AFR53
Maar die huis van Israel sal na jou nie wil luister nie, omdat hulle na My nie wil luister nie; want die hele huis van Israel het 'n harde voorhoof en 'n ongevoelige hart. ESÉGIËL 3:7 AFR53
En dink ook aan Johannes wat dieselfde ervaring gehad het met die klein boekie wat hy moes eet – soet soos heuning, maar galbitter in sy maag – wat die oordeelsboodskap aan die nasies was.
En ek het na die engel gegaan en aan hom gesê: Gee my die boekie. Toe sê hy vir my: Neem en eet dit op, en dit sal jou maag bitter maak, maar in jou mond sal dit soet wees soos heuning. OPENBARING 10:9 AFR53
Jeremia het 'n ware vertroue in God en 'n verbintenis met Sy Woord gehad, maar dit het nie sy krisis weggevat nie. Daar was steeds tye dat sy pyn onophoudend gelyk het en hy gevrees het dat God dalk nie getrou aan hom sou wees nie – soos 'n bedrieglike stroom. Dit was 'n ware uitdaging vir Jeremia se geloof in God se goedheid en krag.
Waarom is my smart ewigdurend en my wond ongeneeslik? Dit weier om gesond te word. Sou U vir my waarlik wees soos 'n bedrieglike stroom, waters wat nie standhoudend is nie? JEREMIA 15:18 AFR53
Die woorde van Jeremia stuit God egter teen die bors. Hy kan nie daarmee saamlewe nie en vra dat Jeremia dit moet terugtrek. Eintlik kan dit nie anders nie, want anders kan hy nie meer God se woorde vir ander gee nie.
Daarom, so sê die Here: As jy terugkeer, sal Ek jou laat terugkeer, sal jy voor my aangesig staan; en as jy voortbring wat edel is, en niks onedels nie, sal jy soos my mond wees. Laat húlle na jou terugkeer, maar jy moet nie na hulle terugkeer nie. JEREMIA 15:19 AFR53
God belowe dan wel om hom te help, maar waarsku hom dat die mense hóm moet volg, nie hy vir hulle nie, en dit sluit in dat hy Gód se woorde vir mense moet aanhou bring, hoe swaar dit nou ook al vir hom en vir hulle is. Dan sal God sorg dat hy nie oorweldig word nie.
En Ek sal jou 'n onneembare kopermuur vir hierdie volk maak; en hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorweldig nie; want Ek is met jou om jou te verlos en om jou te red, spreek die Here. En Ek sal jou red uit die hand van die goddelose mense en jou verlos uit die vuis van die tiranne. JEREMIA 15:20-21 AFR53
1 Februarie 2026
JEREMIA 16:1-2 AFR53
En die woord van die Here het tot my gekom en gesê: Jy mag vir jou geen vrou neem nie, en jy mag geen seuns of dogters hê in hierdie plek nie.
Die woord van die Here kom tot Jeremia met slegte nuus vir homself. Hy mag nie trou nie, hy mag nie kinders hê nie, hy mag nie vreugde of hartseer saam met sy mense vier nie.
Dit is 'n slag, veral vir 'n Jood. In die antieke Joodse kultuur (en onder baie gelowige Jode vandag) was dit 'n skande en 'n oneer om enkellopend en kinderloos te wees. Huwelik en kinders is verwag. Jeremia se gehoorsaamheid aan God se bevel sou aandag trek.
Geseënd sal jy wees bo al die volke; daar sal by jou geen man of vrou onvrugbaar wees nie, ook nie onder jou vee nie. DEUTERONÓMIUM 7:14 AFR53
Oujongkêrels was so onbekend in die Ou Testament dat daar nie eers ’n Hebreeuse woord daarvoor bestaan het nie. Maar dít is die opdrag wat Jeremia kry. Hy mag nie trou en kinders hê in dié plek nie. God gebruik Jeremia se huwelikstatus om die volk mee aan te spreek - soos Hy dit met Hosea 2 eeue vroeër gedoen het wat met ’n prostituut moes trou. Soos Jeremia ’n oujongkêrel word, só kies God om sonder die volk voort te gaan, ’n oujongkêrel.
Want so sê die Here van die seuns en die dogters wat in hierdie plek gebore word, en van hulle moeders wat hulle baar, en van hulle vaders wat hulle verwek in hierdie land: Aan dodelike siektes sal hulle sterwe, hulle sal nie beklaag of begrawe word nie, hulle sal mis op die aarde wees; en hulle sal deur die swaard en die hongersnood verteer word, en hulle lyke sal dien as voedsel vir die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde. JEREMIA 16:3-4 AFR53
Jeremia mag ook nie simpatiseer met geliefdes wat iemand aan die dood afgegee het nie. Hy mag nie saam met hulle waak nie, hy mag nie saam met hulle treur nie, en hy mag nie met hulle enige meegevoel betuig nie.
Want so sê die Here: Kom nie in die klaaghuis en gaan nie om te rouklaag nie, en betuig geen deelneming met hulle nie; want Ek het my vrede van hierdie volk weggeneem, spreek die Here, die goedertierenheid en die barmhartigheid. JEREMIA 16:5 AFR53
God wil op geen manier langer vir hulle sorg nie, nie eens ’n stukkie brood of ’n ietsie te drinke gee as lafenis vir hul smart nie. Hy verwerp hulle om te krepeer in hul eie ellende.
Groot sowel as klein sal sterwe in hierdie land; hulle sal nie begrawe word nie, en niemand sal hulle beklaag en homself stukkend kerwe of vir hom 'n kaal plek skeer om hulle ontwil nie. Ook sal niemand vir hulle treurbrood breek om iemand te troos oor 'n dooie, of aan hulle die troosbeker gee om te drink oor iemand se vader of oor iemand se moeder nie. JEREMIA 16:6-7 AFR53
Jeremia mag dus op geen manier met die volk meeleef nie, nie in die normale gang van familie- en gesinsverband nie, nie in die omgee en simpatiseer met familie en vriende wat geliefdes aan die dood afgestaan het nie, en ook nie in derde plek in die normale feesvieringe wat met hulle godsdiensbeoefening sowel as met huweliksluitings saamgeval het nie.
Kom ook nie in 'n huis van maaltye om met hulle saam aan te sit nie, om te eet en te drink nie. Want so sê die Here van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek laat uit hierdie plek ophou voor julle oë en in julle dae die stem van vreugde en die stem van vrolikheid, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid. JEREMIA 16:8-9 AFR53
2 Februarie 2026
JEREMIA 16:10 AFR53
En as jy al hierdie woorde aan hierdie volk bekend maak en hulle jou vra: Waarom het die Here al hierdie groot onheile oor ons gespreek? En wat is ons ongeregtigheid en ons sonde wat ons teen die Here onse God begaan het? —
Verskeie kere in die boek Jeremia het God hierdie vraag aan die volk en die leiers van Juda gevra, en was Hy gretig om dit te beantwoord. Dit was vir God belangrik dat hulle die ramp nie as ‘n ongeluk of slegte geluk moes beskou nie; hulle moes sien dat dit 'n regverdige reaksie op hul sonde en rebellie was.
Hierdie komende verowering en ballingskap van Juda was nie te wyte aan die sondes van slegs een geslag nie. Dit was ‘n geharde rebellie oor verskeie geslagte wat Juda tot hul komende oordeel gebring het.
dan moet jy vir hulle sê: Omdat julle vaders My verlaat het, spreek die Here, en agter ander gode aan geloop en hulle gedien en hul daarvoor neergebuig het, maar My verlaat het en my wet nie gehou het nie, JEREMIA 16:11 AFR53
Die sondes van hul vaders was genoeg om hulle aanspreeklik te maak vir oordeel, maar daarbenewens het hulle hul eie skuld bygevoeg.
en julle nog erger gehandel het as julle vaders; want kyk, julle wandel elkeen na die verhardheid van sy bose hart, om na My nie te luister nie. JEREMIA 16:12 AFR53
As gevolg van die kollektiewe skuld van hulle vaders en hulle eie geslag, sou verowering en ballingskap verseker kom.
Jeremia verseker hulle ironies genoeg dat hulle die geleentheid sal hê om hul begeerte na heidense aanbidding dag en nag te bevredig.
Daarom sal Ek julle wegslinger uit hierdie land na 'n land wat julle nie geken het, julle en julle vaders nie; en daar sal julle ander gode dien dag en nag, omdat Ek julle geen genade sal bewys nie. JEREMIA 16:13 AFR53
Jeremia se woorde tot hier was omtrent so donker as wat dit kon wees, met God wat belowe dat Hy hulle geen guns sal bewys in die land van hul komende ballingskap nie. Tog, asof God Homself nie kon help nie, word daardie woord van wanhoop onmiddellik gevolg deur 'n wonderlike en genadige belofte.
God se verlossing van Sy volk uit Egipte was die grootste verlossingswerk in die Ou Testament. Deur die Pasgaviering en op baie ander maniere het God Israel voortdurend aan hierdie groot werk herinner.
Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat daar nie meer gesê sal word: So waar as die Here leef, wat die kinders van Israel uit Egipteland laat optrek het nie; JEREMIA 16:14 AFR53
God maak 'n merkwaardige belofte – dat daar 'n nuwe mate van Sy grootheid en verlossingskrag sou wees. Die nuwe maatstaf sou die volk se terugkeer uit hul ballingskap wees, terug na hul eie land.
maar: So waar as die Here leef, wat die kinders van Israel laat optrek het uit die Noordland en uit al die lande waarheen Hy hulle verdryf het. Ja, Ek sal hulle terugbring in hulle land wat Ek aan hulle vaders gegee het. JEREMIA 16:15 AFR53
3 Februarie 2026
JEREMIA 16:16 AFR53
Kyk, Ek stuur baie vissers, spreek die Here, wat hulle sal vang, en daarna sal Ek baie jagters stuur wat hulle sal opjaag, van elke berg en van elke heuwel en uit die klipskeure.
Ongelukkig sal God se volk eers in ballingskap moet wees voordat hulle weer gered kan word.
God sal baie vissers en jagters stuur om Sy rebelse volk te vang vir die beloofde oordeel en ballingskap. Hulle kon nie wegkruip vir die God wie se oë op al hulle weë was nie.
Want my oë is op al hulle weë, dit is nie voor my aangesig bedek nie, en hulle ongeregtigheid is nie voor my oë verborge nie. JEREMIA 16:17 AFR53
Hier is een rede waarom ballingskap 'n gepaste antwoord was op Juda se diep sondige toestand. Hulle sou vir 'n tydperk verdryf word, omdat hulle God se land verontreinig het.
Daarom sal Ek eers hulle ongeregtigheid en hulle sonde dubbel vergelde, omdat hulle my land ontheilig het met die lyke van hulle verfoeisels en my erfenis gevul het met hulle gruwels. JEREMIA 16:18 AFR53
Ten spyte van die somberheid van Juda se toestand en hulle dreigende oordeel, het Jeremia steeds sterkte en toevlug by God gevind.
Nie net sou God die belofte vervul om Sy eie volk uit hul ballingskap te herstel nie, maar Hy sou ook 'n selfs groter werk doen.
Jeremia sien in sy geestesoog ’n tyd wanneer die nasies hulle dwaasheid sal raaksien en die Here sal vra om hulle God te wees.
o Here, my sterkte en my beskutting en my toevlug in die dag van benoudheid, tot U sal volke van die eindes van die aarde af kom en sê: Net leuens het ons vaders geërwe, nietige afgode, en daaronder was niks wat voordeel kon bring nie. JEREMIA 16:19 AFR53
En uiteraard is dit vir God soos musiek in Sy ore. God eggo dus Jeremia se visie en bevestig dat Hy ook aan die nasies Sy Naam sal bekend maak sodat hulle Sy mag en krag kan ken.
Sal 'n mens vir hom gode maak wat tog geen gode is nie? Daarom, kyk, Ek laat hulle hierdie keer voel, voel my hand en my mag; en hulle sal weet dat my Naam Here is. JEREMIA 16:20-21 AFR53




Comments