Jeremia - Hoofstukke 22, 36, 45, 13 & 35
Updated: Mar 17

4 Maart 2026
JEREMIA 22:1 AFR53
So sê die Here: Gaan af in die huis van die koning van Juda en spreek daar hierdie woord
God sê vir Jeremia om 'n velduitstappie na die huis van die koning van Juda te neem en daar 'n woord te spreek.
en sê: Hoor die woord van die Here, o koning van Juda, wat sit op die troon van Dawid; jy en jou dienaars en jou volk wat deur hierdie poorte ingaan. JEREMIA 22:2 AFR53
Jeremia gee vir die koning en sy dienaars en die volk, God se woorde. Doen reg en geregtigheid, leef regverdig, verlos die wat verdruk is, doen geen skade, pleeg geen geweld teenoor die weeskinders en weduwees nie, en vermy onskuldige bloed, dan sal die konings op die troon van Dawid bly sit en alles sou wonderlik wees.
So spreek die Here: Doen reg en geregtigheid, en red die beroofde uit die hand van die verdrukker; en doen geen skade, geen geweld aan vreemdeling, wees en weduwee nie, en vergiet geen onskuldige bloed in hierdie plek nie. Want as julle hierdie saak sorgvuldig doen, sal deur die poorte van hierdie huis konings ingaan wat op die troon van Dawid sit, wat op strydwaens en op perde ry, hy en sy dienaars en sy volk. JEREMIA 22:3-4 AFR53
Maar as hulle nie na God se woorde luister nie, sal God die koning se huis in 'n puinhoop verander.
Maar as julle na hierdie woorde nie luister nie, dan sweer Ek by Myself, spreek die Here, dat hierdie huis 'n puinhoop sal word. JEREMIA 22:5 AFR53
God sê verder dat die huis van die koning vir Hom is soos die eikebome van Basan in die Gilead distrik.
Want 'n dag is daar vir die Here van die leërskare oor al wat trots en hoog is, en oor al wat verhewe is, sodat dit verneder kan word; en oor al die hoë en verhewe seders van die Líbanon en oor al die eikebome van Basan; JESAJA 2:12-13 AFR53
Open jou deure, o Líbanon, sodat vuur jou sederbome verteer! Huil, o sipres, omdat die seder geval het, omdat die pragtige bome verwoes is! Huil, eike van Basan, omdat die ontoeganklike woud afgekap is. SAGARÍA 11:1-2 AFR53
Die seders van Libanon en die eikebome van Basan was albei ewe veel die gepaste simbool van heerlikheid. Hierdie was uitverkore streke in of naby die Beloofde Land. God het hierdie plekke gebruik om te wys hoe waardevol die huis van Dawid vir Hom was.
Want so sê die Here aangaande die huis van die koning van Juda: 'n Gílead is jy vir My, die top van die Líbanon. Waarlik, Ek sal jou 'n woestyn maak, stede wat nie bewoon word nie! JEREMIA 22:6 AFR53
Maar, God het beklemtoon dat Hy nie vir hulle teen die Babiloniërs sou veg nie. In plaas daarvan sou Hy teen hulle veg en self die soldate voorberei.
En Ek sal verwoesters teen jou heilig, elkeen met sy wapens, en hulle sal jou beste seders afkap en in die vuur gooi. JEREMIA 22:7 AFR53
5 Maart 2026
JEREMIA 22:8 AFR53
Dan sal baie nasies by hierdie stad verbytrek en die een aan die ander vra: Waarom het die Here so gedoen met hierdie groot stad?
Nasies wat by die stad verbytrek sal wonder waarom God die stad so erg getref het.
Die antwoord is maklik - omdat Israel God verlaat het om ander gode te aanbid.
En hulle sal sê: Omdat hulle die verbond van die Here hulle God verlaat het en voor ander gode hulle neergebuig en dié gedien het. JEREMIA 22:9 AFR53
Hierdie vers begin ‘n oorsig van die vorige drie konings.
God verbied die volk om te huil oor die koning wat dood is (Josia), maar om wel te huil oor hom wat in ballingskap is (Sallum/Joahas), want hy sal nie terugkom na sy geboorteland nie.
Ween nie oor die dooie en beklaag hom nie; ween liewer oor hom wat heengegaan het, want hy sal nie meer terugkom nie en die land van sy geboorte nie sien nie. Want so sê die Here aangaande Sallum, die seun van Josía, die koning van Juda, wat in die plek van sy vader Josía geregeer het, wat uit hierdie plek uitgegaan het: Hy sal daar nie meer terugkom nie; want in die plek waarheen hulle hom as gevangene weggevoer het, sal hy sterwe, en hierdie land sal hy nie meer sien nie. JEREMIA 22:10-12 AFR53
Jeremia konsentreer dan op die huidige koning Jojakim en lys al sy tekortkominge.
- Hy het sy huis met onreg gebou,
- sy mense sonder betaling laat werk,
- nie die saak van die swakke en arme behartig (soos sy pa Josia) nie,
- homself verryk ten koste van ander (soos sy grootjie Manasse), en
- mense onskuldig laat doodmaak.
Wee hom wat sy huis bou met ongeregtigheid en sy dakkamers met onreg; wat sy naaste laat werk vir niks en hom sy loon nie gee nie; wat sê: Ek sal vir my 'n groot huis bou en ruim dakkamers — en hy bou vir hom sy vensters in; en hy oordek dit met sederhout en bestryk dit met rooiminie. Is jy 'n koning, omdat jy wedywer in sederhout? Het jou vader nie geëet en gedrink en reg en geregtigheid gedoen nie? Toe het dit goed met hom gegaan. Hy het reg verskaf aan die ellendige en behoeftige; toe het dit goed gegaan. Is dit nie My erken nie? spreek die Here. Maar jou oë en jou hart is net op jou onregverdige wins en op onskuldige bloed, om dit te vergiet, en op verdrukking en afpersing, om dit uit te voer. JEREMIA 22:13-17 AFR53
Deur al sy tekortkominge het hy die angswekkende oordeel van God oor hom laat kom. Hy sal soos ’n donkie begrawe word - hy sal van hier weggesleep word en buite die poorte van Jerusalem weggegooi word, en niemand sal oor hom treur nie.
Daarom sê die Here so van Jójakim, die seun van Josía, koning van Juda: Hulle sal hom nie beklaag met: Ag, my broer! of — ag, suster! nie Hulle sal hom nie beklaag met: Ag, heer! of — ag, majesteit! nie. Met 'n eselsbegrafnis sal hy begrawe word — weggesleep en neergegooi ver van die poorte van Jerusalem af. JEREMIA 22:18-19 AFR53
6 Maart 2026
JEREMIA 22:20 AFR53
Klim op die Líbanon en skreeu, en laat in Basan jou stem hoor, ja, skreeu van die gebergte Abárim af, want al jou minnaars is verbreek.
Die profesie wend hom tot Jerusalem en haar heersers wat bestem word vir oordeel as gevolg van hul dwase afgodery en ongeoorloofde bondgenootskappe. Om na verafgeleë plekke te kyk vir hulp – Libanon, Basan, Abarim – was dwaas en vernietigend. Geestelik gesproke is hulle soos owerspelige minnaars vir Juda en nou gaan hulle vernietig word.
God se volk het baie seën en voorspoed in hul land Israel gehad. In baie van daardie jare van voorspoed het God met hulle gepraat, maar hulle het geweier om te luister.
Ek het met jou gespreek in jou sorgelose rus, maar jy het gesê: Ek wil nie luister nie. Dit was jou weg van jou jeug af, dat jy na my stem nie geluister het nie. JEREMIA 22:21 AFR53
Miskien sou hul gevangenskap ‘n omgewing skep waar die mense en heersers van Jerusalem weer na God sou luister en die afgode van die nasies sou verwerp.
Die wind sal al jou herders verstrooi, en jou minnaars sal in gevangenskap gaan; ja, dan sal jy beskaamd staan en in die skande kom weens al jou boosheid. Jy wat sit op die Líbanon, vasgenestel in die seders — hoe sal jy sug as weë oor jou kom, smart soos van een wat baar! JEREMIA 22:22-23 AFR53
Gonja is kort vir Jojagin - die seun van Jojakim wat slegs drie maande regeer het en verkeerd gedoen het in die oë van God. Hy het homself oorgegee aan Nebukadneser wat hom na Babilon weggevoer het, en waar hy gesterf het.
So waar as Ek leef, spreek die Here, al was Gonja, die seun van Jójakim, koning van Juda, 'n seëlring aan my regterhand, tog sal Ek jou daar afruk, en Ek sal jou gee in die hand van hulle wat jou lewe soek en in die hand van hulle vir wie jy bang is, naamlik in die hand van Nebukadrésar, die koning van Babel, en in die hand van die Chaldeërs. En Ek sal jou wegslinger, saam met jou moeder wat jou gebaar het, na 'n ander land waar julle nie gebore is nie, en daar sal julle sterwe. Maar na die land waar hulle siel na verlang om daarin terug te kom, daarheen sal hulle nie teruggaan nie. JEREMIA 22:24-27 AFR53
God sê hier oor Jojagin dat selfs al was hy so kosbaar soos ’n seëlring aan Sy regterhand, sou Hy hom afruk. God noem Jojagin ’n weggooiding, ’n gebreekte kleipot, ’n man sonder troonopvolger en ’n man wat nooit in sy lewe iets sal bereik nie, want hy sal nooit regeer nie en ook nie iemand van sy nageslag nie.
Is hierdie man Gonja 'n veragte, verbryselde voorwerp, of 'n ding waar 'n mens geen behae in het nie? Waarom is hy en sy geslag weggeslinger en weggewerp in 'n land wat hulle nie ken nie? o Land, land, land, hoor die woord van die Here! So sê die Here: Skryf hierdie man op as kinderloos, 'n man wat nie voorspoedig sal wees in sy dae nie; want dit sal niemand van sy geslag geluk om te sit op die troon van Dawid en nog oor Juda te heers nie. JEREMIA 22:28-30 AFR53
Jeremia 22 som God se boodskap van oordeel oor die leiers en die konings, kortliks op. In wese gaan dit oor hul selfverryking, hul gebrek aan regverdigheid en hul onvermoë om na God te luister. Ons sien dit vandag nog in baie leiers se lewens.
7 Maart 2026
JEREMIA 36:1 AFR53
En in die vierde jaar van Jójakim, die seun van Josía, die koning van Juda, het van die Here hierdie woord tot Jeremia gekom:
Die vierde jaar van Jojakim was ten tye van die eerste Babiloniese inval (605 v.C.) toe Daniël en ander gevangenes na Babilon weggevoer is.
God beveel Jeremia om nie net sy profesieë te spreek nie, maar om dit ook neer te skryf. Dit moes al die profetiese woorde insluit wat hy tot op daardie stadium gegee het (van die dag af dat ek met jou gepraat het). Dit was drie en twintig jaar se boodskappe van Josia se dae tot nou toe.
Neem vir jou 'n boekrol en skrywe daarop al die woorde wat Ek met jou gespreek het oor Israel en Juda en oor al die nasies, van die dag af dat Ek met jou gespreek het, van die dae van Josía af, tot vandag toe. JEREMIA 36:2 AFR53
God het Jeremia beveel om dit te doen sodat die boodskap meer effektief oorgedra kon word.
Dit was nog amper 20 jaar voor die finale verowering van Jerusalem, en dit was steeds moontlik om te sien hoe God Juda kon red. Maar om dit te doen, moes hulle God se woorde hoor, elkeen van sy bose weg bekeer en as hulle dit sou doen, sou God hulle ongeregtigheid en sondes kon vergewe.
Miskien sal die huis van Juda luister na al die onheil wat Ek van plan is om hulle aan te doen, sodat hulle hul bekeer elkeen van sy verkeerde weg en Ek hulle ongeregtigheid en hulle sonde vergewe. JEREMIA 36:3 AFR53
Barug was Jeremia se assistent en sekretaris. Die profeet het vir Barug die woorde wat God tot hom gespreek het, laat neerskryf.
En Jeremia het Barug, die seun van Nería, geroep; en Barug het op 'n boekrol geskrywe, uit die mond van Jeremia, al die woorde van die Here wat Hy met hom gespreek het. JEREMIA 36:4 AFR53
Jeremia was verhinder – nie gevange geneem nie. Hy was waarskynlik verban uit die tempelgebied en daarom het hy vir Barug gestuur om die geskrewe woord van God aan die mense van Jerusalem by die tempel te lees.
En Jeremia het aan Barug bevel gegee en gesê: Ek is verhinder, ek kan nie gaan in die huis van die Here nie. JEREMIA 36:5 AFR53
Die mense van Jerusalem en Juda het steeds op die vasdae tempel toe gegaan. Hierdie gewoonte was vir hulle belangrik al was hul harte baie vêr van God. Ek skat die spreekwoord - mag van die gewoonte - is hier van toepassing.
Gaan jý dan en lees uit die rol wat jy uit my mond beskrywe het, die woorde van die Here voor die ore van die volk in die huis van die Here, op die vasdag; en jy moet dit ook lees voor die ore van die hele Juda wat uit hulle stede kom. JEREMIA 36:6 AFR53
Barug het gedoen soos Jeremia hom beveel het, en het die woorde van die boek in die tempel gelees.
En Barug, die seun van Nería, het gedoen net soos die profeet Jeremia hom beveel het deur uit die boek te lees die woorde van die Here, in die huis van die Here. JEREMIA 36:8 AFR53
8 Maart 2026
JEREMIA 45:1 AFR53
Die woord wat die profeet Jeremia aan Barug, die seun van Nería, meegedeel het toe hy hierdie woorde uit die mond van Jeremia in 'n boek geskrywe het, in die vierde jaar van Jójakim, die seun van Josía, die koning van Juda:
Ek hanteer die 5 verse van Jeremia 45 nou, want ek dink dit is waar dit inpas. Tydens die vierde jaar van Jojakim waar hoofstuk 36:1-9 ook plaasgevind het.
Jeremia gee ’n woord aan Barug, sy sekretaris en skrywersvriend, in dieselfde jaar wat God hom beveel het om Barug te gebruik om sy woorde in ‘n boek neer te skryf.
Barug is in depressie. Hy voel dat met die opdrag om al God se oordeelswoorde wat Jeremia oor drie en twintig jaar ontvang het, neer te skryf, net te veel is vir hom. Nie die hoeveelheid werk nie maar die negatiewe inhoud daarvan.
Barug sê dat God kommer aan sy smart bygevoeg het. Hy is moeg gesug en vind geen rus nie.
God is nie beindruk met Barug se optrede nie, en daarom moet Jeremia met hom praat oor sy woorde.
So spreek die Here, die God van Israel, aangaande jou, o Barug! Jy sê: Wee my tog, want die Here het kommer aan my smart toegevoeg; ek is moeg van my gesug en vind geen rus nie! JEREMIA 45:2-3 AFR53
Jeremia moet vir Barug sê dat dit wat God gebou het Hyself weer kan afbreek, en dit wat God geplant het Hyself weer kan uitruk, en dit geld vir die hele aarde. Kwaai woorde van God aan Barug om vir hom perspektief te gee.
So moet jy vir hom sê: So spreek die Here: Kyk, wat Ek gebou het, breek Ek self af; en wat Ek geplant het, ruk Ek self uit; en dit betref die hele aarde. JEREMIA 45:4 AFR53
Deur Jeremia vra God vir Barug 'n vraag om sy motivering te identifiseer vir die uitroep van 'n wee: Maar jy, soek jy groot dinge vir jouself?
God ken reeds die antwoord op Sy vraag en Hy gaan voort met aanwysings vir Barug en sê: Moet dit nie soek nie.
Om groot dinge te soek, d.w.s. om dinge te vra wat in die algemeen of onder sekere omstandighede onbereikbaar is, word hier gebruik met verwysing na wêreldse voorspoed.
Wanneer die hele wêreld met oordeel besoek word, moet 'n individuele mens nie groot eise stel nie, maar tevrede wees om sy lewe te red.
Dit word aan Barug belowe om sy pyn en hartseer te verlig. Om aan enigiemand die lewe te gee as buit, beteken om sy lewe te spaar.
Met die woorde - in al die plekke waarheen jy sal gaan - word daar geïnsinueer dat hy verplig sal wees om op verskeie plekke vir sy lewe te vlug, maar God sal hom spaar.
En sou jý vir jou groot dinge soek? Soek dit nie; want kyk, Ek bring onheil oor alle vlees, spreek die Here; maar Ek sal jou siel vir jou as buit gee in al die plekke waarheen jy sal gaan. JEREMIA 45:5 AFR53
9 Maart 2026
JEREMIA 36:9 AFR53
Want in die vyfde jaar van Jójakim, die seun van Josía, die koning van Juda, in die negende maand, het hulle 'n vasdag voor die aangesig van die Here uitgeroep — die hele volk in Jerusalem en die hele volk wat uit die stede van Juda in Jerusalem gekom het.
In die vyfde jaar van Jojakim, in die negende maand, is 'n vas voor God uitgeroep. Die negende maand, bekend as die maand Kislew, is ‘n winter maand, en ons Desember. Dit is die maand wanneer die fees van Hanukkah gevier word.
Daardie selfde dag was Barug in die tempel besig om die woorde van God uit die mond van Jeremia voor te lees.
En Barug het uit die boek gelees die woorde van Jeremia, in die huis van die Here, in die kamer van Gemárja, die seun van Safan, die skrywer, in die boonste voorhof by die ingang van die Nuwe Poort van die huis van die Here, voor die ore van die hele volk. JEREMIA 36:10 AFR53
Een van die luisteraars het aan al die vorste vertel wat hy gehoor het, en hulle het versoek dat Barug dit vir hulle moet lees.
En toe Migája, die seun van Gemárja, die seun van Safan, al die woorde van die Here uit die boek hoor, gaan hy af na die huis van die koning, in die kamer van die skrywer, waar toe juis al die vorste gesit het: Elisáma, die skrywer, en Delája, die seun van Semája, en Élnatan, die seun van Akbor, en Gemárja, die seun van Safan, en Sedekía, die seun van Hanánja, en al die vorste. Daarop maak Migája aan hulle bekend al die woorde wat hy gehoor het toe Barug uit die boek voor die ore van die volk gelees het. Toe stuur al die vorste Jehúdi, die seun van Netánja, die seun van Selémja, die seun van Kusi, na Barug, met die boodskap: Die rol waaruit jy voor die ore van die volk gelees het, neem dit in jou hand en kom. Daarop neem Barug, die seun van Nería, die rol in sy hand, en hy het by hulle gekom. En hulle sê vir hom: Sit tog en lees dit voor ons ore. En Barug het voor hulle ore gelees. JEREMIA 36:11-15 AFR53
Nadat hulle die woord gehoor het, was hulle verskrik en het besluit om dit vir die koning te vertel.
Toe hulle al die woorde hoor, het hulle mekaar verskrik aangekyk en vir Barug gesê: Ons moet al hierdie woorde sekerlik aan die koning bekend maak. JEREMIA 36:16 AFR53
Hulle het vir Barug gevra hoe hy hierdie inligting gekry het, en hy het vir hulle gesê dat dit direk uit Jeremia se mond kom en hy het dit neergeskryf.
En hulle het Barug gevra: Vertel ons tog hoe het jy al hierdie woorde uit sy mond opgeskrywe? Toe antwoord Barug hulle: Uit sy mond het hy my al hierdie woorde voorgesê, en ek het hulle met ink in die boek geskrywe. JEREMIA 36:17-18 AFR53
Die vorste het vir hom gesê dat hy en Jeremia vinnig moet wegkruip en vir niemand moet vertel waar hulle is nie.
Daarop sê die vorste vir Barug: Gaan, verberg jou, jy en Jeremia, en laat geen mens weet waar julle is nie. JEREMIA 36:19 AFR53
Toe het die vorste die boekrol gebêre in die kamer van Elisama die skrywer, en vir die koning vertel wat hulle gehoor het.
En hulle het na die koning in die voorhof gegaan — die rol het hulle weggesit in die kamer van Elisáma, die skrywer — en al die woorde voor die ore van die koning gemeld. JEREMIA 36:20 AFR53
10 Maart 2026
JEREMIA 36:21 AFR53
Toe stuur die koning Jehúdi om die rol te gaan haal; en hy het dit gaan haal uit die kamer van Elisáma, die skrywer. En Jehúdi het dit gelees voor die ore van die koning en van al die vorste wat by die koning staan,
Die vorste van Juda was simpatiek gesind teenoor Jeremia, Barug en hul boodskap op die boekrol. Hulle het 'n slegte ontvangs van koning Jojakim verwag, en daarom het hulle die boekrol in die kamer van Elisama gebêre.
Die vorste het toe vir Jojakim 'n omvattende verslag gegee van wat Jeremia gesê en Barug geskryf het, en die koning het beveel dat die boekrol na hom gebring moet word en in die openbaar aan hom voorgelees moet word.
Jojakim was in sy winterpaleis met ‘n vuur wat gebrand het in ‘n vuurpan om die koue vertrek te verhit, en het geluister hoe Jehudi uit die boekrol voorlees.
terwyl die koning gesit het in die winterpaleis, in die negende maand, met die brandende vuurpan voor hom. JEREMIA 36:22 AFR53
Die skrywers het klein, skerp messe gebruik om hul rietpenne af te sny en die perkamente te sny waar nodig. Terwyl Jehudi aangehou het om elke kolom van die boekrol te lees, het Jojakim die kolomme wat hy pas gelees het, afgesny.
Jojakim het die dele wat hy gesny het geneem, en dit metodies in die vuur gegooi om die kamer te verhit. Dit was 'n doelbewuste, dramatiese manier om die profeet en die God wat die profeet verteenwoordig het, te beledig en te verwerp. Jojakim het gehoop om die woorde van die profeet en sy God te verbrand en te vernietig.
En elke keer het hy, as Jehúdi drie of vier kolomme gelees het, dit met die mes van 'n skrywer stukkend gesny en in die vuur gegooi wat op die vuurpan was, totdat die hele rol in die vuur op die vuurpan verteer was. JEREMIA 36:23 AFR53
Drie van die amptenare het teen hierdie wandaad van Jojakim geprotesteer, Gemarja ingesluit, maar verniet.
En hulle was nie verskrik nie en het hulle klere nie geskeur nie — die koning en al sy dienaars wat al hierdie woorde gehoor het; alhoewel selfs Élnatan en Delája en Gemárja by die koning daarop aangedring het om die rol nie te verbrand nie; maar hy het na hulle nie geluister nie. JEREMIA 36:24-25 AFR53
Die vyfde jaar van Jojakim was die tweede jaar van Nebukadnesar se regering. Dit was ook die jaar wat Nebukadnesar sy standbeeld droom gehad het en toe ook ‘n goue beeld gebou het wat almal moes aanbid.
Omdat die drie Hebreeuse maats van Daniel geweier het om die beeld te aanbid, is hulle in die vuuroond gegooi. Koning Nebukadnesar was verbaas toe hy nie net die drie manne in die vuur sien rondloop nie, maar ook 'n vierde man wat saam met hulle rondloop.
Terwyl die woord van God deur Jojakim in Jerusalem in die vuur gegooi word, verskyn die woord van God, die engel van die Here, in die vuur van Babilon. Dit is verstommend veral omdat ons in die openingsverse van die Evangelie van Johannes sien dat Jesus vergelyk word met die Woord.
In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. JOHANNES 1:1 AFR53
11 Maart 2026
JEREMIA 36:26 AFR53
Toe gee die koning bevel aan Jerágmeël, die seun van die koning, en Serája, die seun van Ásriël, en Selémja, die seun van Ábdeël, om die skrywer Barug en die profeet Jeremia te vang. Maar die Here het hulle verberg.
Die koning gee opdrag dat Jeremia en Barug gevang moet word, maar God het hulle beskerm en weggesteek.
God se reaksie op koning Jojakim se aksie om die boekrol te sny en te verbrand was om dit net weer te skryf en dit weer te publiseer.
Toe kom die woord van die Here tot Jeremia — nadat die koning die rol verbrand het met die woorde wat Barug uit die mond van Jeremia opgeskrywe het — en sê: Neem vir jou weer 'n ander rol en skrywe daarop al die vorige woorde wat op die eerste rol was, wat Jójakim, die koning van Juda, verbrand het. JEREMIA 36:27-28 AFR53
Die boodskap van die boekrol wat Jojakim ontstel het was dat die koning van Babilon beslis sal kom, die land sal verwoes, en mens en dier sal verdwyn. Hy wou nie hoor dat Nebukadnesar weer na Jerusalem sou kom en uiteindelik die stad sou vernietig nie.
En aangaande Jójakim, die koning van Juda, moet jy sê: So spreek die Here: Jý het hierdie rol verbrand met die woorde: Waarom het jy daarop geskrywe en gesê: Die koning van Babel sal sekerlik kom en hierdie land verwoes en mens en dier daar uitroei? JEREMIA 36:29 AFR53
God se straf aan Jojakim sal wees dat geeneen van sy nageslag voorspoedig sou wees, op die troon van Dawid sou sit en meer in Juda sou regeer nie. Hy sou ook nie begrawe word nie, maar sy lyk sal in die oopte lê en vergaan.
Daarom, so spreek die Here aangaande Jójakim, die koning van Juda: Hy sal nooit een hê wat op die troon van Dawid sit nie, en sy lyk sal weggegooi lê, bedags in die hitte en snags in die koue. JEREMIA 36:30 AFR53
God het belowe om die oordeel wat Jeremia geprofeteer het, oor koning Jojakim te bring. Die rampspoedige oordeel sou oor die mense van Juda en Jerusalem ook kom omdat hulle God se woord wat Jeremia gesepeek het, verwerp het, net soos koning Jojakim gedoen het.
En Ek sal aan hom en sy geslag en sy dienaars hulle ongeregtigheid besoek; en Ek sal oor hulle en die inwoners van Jerusalem en die manne van Juda al die onheil bring wat Ek teen hulle gespreek het sonder dat hulle geluister het. JEREMIA 36:31 AFR53
Jeremia en Barug het saamgewerk. Die profeet het die woorde verskaf en die skrywer die ink en die perkament. Saam is God se woord gepubliseer en bewaar.
Boonop is daar baie woorde bygevoeg. Trouens, die teenkanting van Jojakim het sy saak vererger, nie verbeter nie. In reaksie op die koning se sny en verbranding van God se woord, was God vasbeslote om meer woorde van oordeel te bring, nie minder nie.
Toe het Jeremia 'n ander rol geneem en dit aan die skrywer Barug, die seun van Nería, gegee; en hy het daarop uit die mond van Jeremia geskrywe al die woorde van die boek wat Jójakim, die koning van Juda, met vuur verbrand het; en nog baie dergelike woorde is daaraan toegevoeg. JEREMIA 36:32 AFR53
12 Maart 2026
JEREMIA 13:1 AFR53
So het die Here vir my gesê: Gaan koop vir jou 'n linnegord en bind dit om jou heupe; maar laat dit nie in die water kom nie.
God sê vir Jeremia om 'n gordel te koop en dit om homself te bind as 'n sigbare les. Die gordel is geassosieer met die priesterlike klere vir beide die Hoëpriester en die gewone priester. So 'n linnegordel was 'n teken van waardigheid.
Jeremia het toe die gordel gekoop en dit om sy heupe vasgemaak.
En ek het die gord gekoop volgens die woord van die Here en dit om my heupe gebind. JEREMIA 13:2 AFR53
God sê verder vir Jeremia om 'n lang reis te onderneem, na die Eufraatrivier. Dit was in die rigting vanwaar die toekomstige veroweraars van Juda sou kom. Daar aangekom, moes hy die gordel in ‘n klipskeur wegsteek, en hy het dit gedoen.
Toe het die woord van die Here vir die tweede keer tot my gekom en gesê: Neem die gord wat jy gekoop het, wat om jou heupe is, en maak klaar, gaan na die Eufraat en steek dit daar weg in 'n klipskeur. Daarop het ek gegaan en dit weggesteek by die Eufraat, soos die Here my beveel het. JEREMIA 13:3-5 AFR53
Jeremia moes toe later teruggaan en die gordel gaan kry waar hy dit in die klipskeur weggesteek het. Dit het nog bestaan, maar dit was bederf en waardeloos. Dit het niks van die vorige prag en praal gehad wat dit eens vertoon het nie.
En ná verloop van baie dae het die Here vir my gesê: Maak klaar, gaan na die Eufraat en haal die gord daarvandaan wat Ek jou beveel het om daar weg te steek. Daarop het ek na die Eufraat gegaan en gegrawe en die gord geneem van die plek af waar ek dit weggesteek het; en kyk, die gord het bederf, dit was waardeloos. JEREMIA 13:6-7 AFR53
Die edele gordel is na die Eufraat geneem en verwoes. So sou Juda en Jerusalem ook na die Eufraat (en verder) geneem word in hul komende ballingskap, en so sou God die trots van Sy volk verwoes.
Toe het die woord van die Here tot my gekom en gesê: So spreek die Here: So sal Ek laat bederwe die hoogmoed van Juda en dié van Jerusalem, wat so groot is. Hierdie goddelose volk wat weier om na my woorde te luister, wat wandel in die verharding van hulle hart en agter ander gode aan loop om hulle te dien en hul daarvoor neer te buig — hulle moet word soos hierdie gord wat waardeloos is. JEREMIA 13:8-10 AFR53
Net soos 'n fyn gordel skoonheid en prag uitgedruk het, so wou God hê dat Sy volk versierings van Sy grootheid vir die hele wêreld moes wees. As hulle aan Hom sou kleef, sou hulle Sy volk wees, tot roem, tot lof en tot heerlikheid.
Maar, as gevolg van hul hardkoppige en volgehoue sondes teen God, het Juda nie die edele en pragtige bestemming wat God vir hulle beplan het, vervul nie. Hulle het nutteloos geword soos die lyfband.
Want soos die gord kleef aan die heupe van 'n man, so het Ek die hele huis van Israel en die hele huis van Juda aan My laat klewe, spreek die Here, om vir My te wees 'n volk en 'n roem en 'n lof en 'n sieraad; maar hulle het nie geluister nie. JEREMIA 13:11 AFR53
13 Maart 2026
JEREMIA 13:12 AFR53
Sê verder aan hulle hierdie woord: So spreek die Here, die God van Israel: Elke kan word vol wyn gemaak. Dan sal hulle vir jou sê: Weet ons dit dan nie dat elke kan vol wyn gemaak word nie?
God sê vir Jeremia om die volk met die simboliek van vol kanne wyn daaraan te herinner dat niemand gespaar gaan word in die ballingskap wat kom nie. Die wyn sal almal, klein en groot, gewoon of vernaam, dronk maak sodat hulle hulself teen mekaar sal verbrysel en hulle sonder ontferming uitgeroei sal word.
Maar jy moet vir hulle sê: So spreek die Here: Kyk, Ek vul met dronkenskap al die inwoners van hierdie land, selfs die konings wat op die troon van Dawid sit, en die priesters en die profete en al die inwoners van Jerusalem. En Ek sal hulle verbrysel, die een teen die ander, die vaders en die kinders almal saam, spreek die Here. Ek sal nie spaar of verskoon of My ontferm nie, dat Ek hulle nie sou verdelg nie. JEREMIA 13:13-14 AFR53
Elke keer as God met ons praat, het ons die keuse om met trots of nederigheid te reageer. God het Juda gewaarsku om die nederige pad te neem. Die beloofde oordeel was nie ver weg nie. Daar was dringendheid vir Juda om hulle tot God te bekeer voordat die duisternis kom, voordat hul voete struikel. Deur God te verwerp, sou hulle soos bergreisigers word wat probeer om hul pad deur gevaarlike paaie in digte duisternis te vind.
Luister en merk op; verhef julle nie, want die Here het gespreek! Gee eer aan die Here julle God voordat Hy dit donker laat word en voordat julle voete stamp teen die berge in die skemering; terwyl julle wag op lig, maar Hy dit doodskaduwee maak, in donkerheid verander. JEREMIA 13:15-16 AFR53
Jeremia gee ‘n pynlike klaaglied. Hy was nie 'n ongevoelige waarnemer wat die weerligstrale van God se oordeel teen Juda gegooi het nie. Hy sê sy oë sal bitterlik huil oor hul sonde en trots, en omdat God se kudde binnekort gevange geneem gaan word.
Maar as julle daar nie na luister nie, sal my siel in skuilplekke ween vanweë die hoogmoed; en my oog sal bitterlik huil en afloop in trane, omdat die kudde van die Here as gevangenes weggevoer is. JEREMIA 13:17 AFR53
As Juda se koninklikes hulle aan God sou onderwerp, sou die mense van die koninkryk sekerlik volg. In hierdie geestelike werk moes die leiers die leiding neem.
As die koning en koninginmoeder van Juda 'n spesiale verantwoordelikheid gehad het om in bekering te lei, het hulle ook 'n spesiale rede gehad om dit te doen. As gevolg van hul hoë stand, sou die komende val hulle die ergste beïnvloed.
Sê aan die koning en aan die gebiedster: Gaan baie laag sit, want julle hoofsieraad, julle sierlike kroon, het geval. JEREMIA 13:18 AFR53
Die invallers uit die noorde sal die mense van Juda gevange neem. Aangesien 'n koning dikwels as 'n herder van sy mense beskou is, was die prentjie van die invallers wat die pragtige skape van die koning van Juda steel, veral gepas.
Die stede van die Suidland is toegesluit, en niemand maak oop nie; Juda is in ballingskap weggevoer gans en al, weggevoer volkome! Hef jou oë op, en aanskou die wat uit die noorde kom. Waar is die kudde wat aan jou gegee is, jou pragtige trop kleinvee? JEREMIA 13:19-20 AFR53
14 Maart 2026
JEREMIA 13:21 AFR53
Wat sal jy sê wanneer Hy as hoof oor jou aanstel diegene wat jy self geleer het om jou vertroude vriende te wees? Sal weë jou nie aangryp soos van 'n barende vrou nie?
Wanneer die beloofde ramp oor Juda kom, sal hulle geen verskoning hê nie. Alhoewel hulle nie na Jeremia geluister het nie, het hy hulle duidelik gewaarsku as die boodskapper van God.
Met sterk beelde het God Juda gewaarsku dat hul ongeregtigheid so groot was dat die oordeel wat teen hulle sou kom, soos 'n ernstige oortreding sou wees.
As jy dan in jou hart sê: Waarom het hierdie dinge my oorgekom? Weens die grootheid van jou ongeregtigheid is jou slippe opgetel, het jou hakskene gely onder geweld. JEREMIA 13:22 AFR53
Kan die Kusiet sy vel verander of die luiperd sy vlekke? Jeremia haal hierdie spreukwoord aan om die mense te waarsku dat hulle vasgevang is in hul sondige natuur en nie in staat is om hulself te verander nie. Die antwoord was nie in nasionale hervorming nie, maar in nasionale bekering en vertroue op die God wat die natuur van die mens kan verander.
Kan 'n Kusiet sy vel verander of 'n luiperd sy vlekke? Dan sal julle ook in staat wees om goed te doen, julle wat gewend is om kwaad te doen. JEREMIA 13:23 AFR53
Juda sou nie verower en in ballingskap weggevoer word nie, maar versprei word oor die Babiloniese Ryk en daaropvolgende ryke.
Daarom sal Ek hulle verstrooi soos 'n stoppel wat verbyvlieg voor die wind van die woestyn. JEREMIA 13:24 AFR53
Dit was hulle lot, hul straf omdat hulle God vergeet het en op leuens vertrou het.
Dit is jou lot, die deel wat Ek jou toegemeet het, spreek die Here, omdat jy My vergeet en op leuens vertrou het. JEREMIA 13:25 AFR53
Jeremia gebruik as voorbeeld ‘n manier om ‘n prostituut te beskaam - om haar romp op te lig. Figuurlik gesproke is Juda ‘n prostituut wat God op dieselfde manier gaan beskaam - om hulle kaal uit te trek sodat hul skandelike naaktheid gesien kan word.
So het Ek dan ook jou slippe opgetel oor jou aangesig, sodat jou skande gesien word. JEREMIA 13:26 AFR53
Jeremia beskryf hul afgodediens as hoerery. Daar is twee dimensies daaraan: daar is 'n praktiese, sigbare een—die Kanaänitiese afgodediens was betrokke by orgies en seksuele oordaad van alle onbeskryflike soorte.
Die ander dimensie is die geestelike — hulle hoereer agter valse gode aan. Hulle runnik soos ‘n perd op hitte. Die pyn van Jeremia is dat hy weet hul oordeel is verseker. Hy weet dit kom, tog het hy die hoop dat dit afgeweer kan word as hulle net sou luister en berou sou toon.
Jou owerspel en jou gerunnik, jou skandelike hoerery — op die heuwels in die veld het Ek jou verfoeisels gesien. Wee jou, Jerusalem! Hoe lank sal dit nog duur voordat jy rein word? JEREMIA 13:27 AFR53
15 Maart 2026
JEREMIA 35:1 AFR53
Die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het in die dae van Jójakim, die seun van Josía, die koning van Juda:
Jeremia het in die vorige gedeelte vir Juda met sterk voorbeelde gewys hoe ontrou hulle aan God was. Nou gaan hy die Regabiete as ‘n voorbeeld van getrouheid aan Juda voorhou.
Jeremia se opdrag is om die Regabiete te vra om na een van die kamers in die huis van die Here te gaan, wyn voor hulle neer te sit en vir hulle te sê om dit te drink. Hy het hulle toe na die tempel gebring.
Gaan na die huis van die Regabiete en spreek met hulle en bring hulle in die huis van die Here, in een van die kamers en gee hulle wyn om te drink. Toe het ek Jaäsánja, die seun van Jeremia, die seun van Habassínja, geneem en sy broers en al sy seuns en die hele huis van die Regabiete; en ek het hulle gebring in die huis van die Here, in die kamer van die seuns van Hanan, die seun van Jigdálja, die man van God, wat langs die kamer van die vorste is, bo die kamer van Maäséja, die seun van Sallum, die drumpelwagter. JEREMIA 35:2-4 AFR53
Jeremia het toe kanne vol wyn en bekers voor die Regabiete neergesit en hulle aangesê om die wyn te drink. Hulle het egter geantwoord dat hulle nie die gebod van hulle voorvader Jonadab, seun van Regab, kan oortree nie. Hulle sal nie die wyn drink nie.
En ek het voor die kinders van die huis van die Regabiete kanne vol wyn en bekers neergesit en aan hulle gesê: Drink wyn. Maar hulle het geantwoord: Ons sal geen wyn drink nie, want Jónadab, die seun van Regab, ons vader, het ons beveel en gesê: Julle mag geen wyn drink, julle en julle kinders, tot in ewigheid nie. JEREMIA 35:5-6 AFR53
Benewens die feit dat hulle nie wyn mag drink nie, vertel hulle vir Jeremia dat hulle ook nie in huise mag woon of landbou kan bedryf nie.
Ook mag julle geen huis bou of saad saai of wingerd plant of dit besit nie; maar julle moet in tente woon al julle dae, sodat julle baie dae mag lewe in die land waar julle as vreemdelinge vertoef. En ons het geluister na die stem van ons vader Jónadab, die seun van Regab, in alles wat hy ons beveel het, om geen wyn te drink al ons dae nie, ons, ons vroue, ons seuns en ons dogters; en geen huise te bou om in te woon nie, en geen wingerd of landerye of saad te besit nie; en ons het in tente gewoon en geluister en gedoen net soos ons vader Jónadab ons beveel het. JEREMIA 35:7-10 AFR53
Hulle moes in tente woon en het wel weens die oorlog skuiling gesoek in die stad Jerusalem, maar wou op geen manier aan hulle verbond met mekaar ongehoorsaam word nie.
Die Regabiete was dus waarskynlik nomadiese veeboere wat rondgetrek het en dié lewenstyl gekies het bo dié van vestiging in dorpe en stede. Sommige geleerdes identifiseer die Regabiete met die Keniete, omdat van die Keniete in die Ou Testament van ’n voorvader Regab afgestam het. Moses het bv. met ’n Keniet getrou, en sy skoonvader Jetro, ’n priester van Midian, was dus ’n Keniet.
En die kinders van die Keniet, die swaer van Moses, het saam met die kinders van Juda opgetrek uit die Palmstad na die woestyn van Juda wat in die suide van Arad lê; en hy het heengegaan en met die volk saamgewoon. RIGTERS 1:16 AFR53
Maar, die Keniete waarvan ons in die Ou Testament lees, het wel in stede gebly en selfs gehelp met die herbou van Jerusalem ná die ballingskap. Die Regabiete moet dus ook onderskei word van die Keniete, omdat hulle ’n ander lewenstyl as die Keniete gekies het. Meer weet ons ongelukkig nie van hulle af nie.
16 Maart 2026
JEREMIA 35:11 AFR53
Maar toe Nebukadrésar, die koning van Babel, na die land opgetrek het, het ons gesê: Kom, laat ons na Jerusalem gaan vanweë die leër van die Chaldeërs en die leër van die Arameërs. So het ons dan in Jerusalem gebly.
Die Regabiete was nomadiese veeboere wat huise en stede vermy het en eerder in tente gewoon het. Tog was hulle vlugtelinge van die leër van die Chaldeërs en het daarom teësinnig in Jerusalem kom woon.
God sê vir Jeremia om ‘n boodskap aan Juda oor te dra. As hulle kyk na die Regabiete se gehoorsaamheid aan hul vader, wil dit die mense van Juda nie aanspoor om ‘n les te leer en na God, hul hemelse Vader, te luister nie.
Toe kom die woord van die Here tot Jeremia en sê: So spreek die Here van die leërskare, die God van Israel: Gaan sê aan die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem: Wil julle hieruit geen lering trek om na my woorde te luister nie? spreek die Here. JEREMIA 35:12-13 AFR53
God sê verder dat tot vandag toe die Regabiete na hul vader geluister het, en geen wyn gedrink het nie, maar God se volk het nie na een van die profete wat God gestuur het, geluister nie.
Die woorde van Jónadab, die seun van Regab, wat hy sy kinders beveel het om geen wyn te drink nie, het hulle gehou; want hulle het geen wyn gedrink tot vandag toe nie, maar het geluister na die gebod van hulle vader. En Ék het met julle gespreek, vroeg en laat, maar julle het na My nie geluister nie. En Ek het na julle gestuur al my knegte, die profete, vroeg en laat, om te sê: Bekeer julle tog elkeen van sy verkeerde weg en maak julle handelinge goed en loop nie agter ander gode aan om hulle te dien nie; dan sal julle bly in die land wat Ek aan julle en julle vaders gegee het. Maar julle het geen gehoor gegee en na My nie geluister nie. JEREMIA 35:14-15 AFR53
God se volk luister egter nie na Sy woord nie, al het Hy vroeg en laat met hulle gepraat om hulle van hul verkeerde dade te bekeer. Daarom sal God al die rampe waaroor Hy oor tyd heen met hulle gepraat het, oor hulle bring.
Ja, die kinders van Jónadab, die seun van Regab, het die gebod van hulle vader gehou wat hy hulle beveel het; maar hierdie volk luister nie na My nie. Daarom, so sê die Here, die God van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek bring oor Juda en oor al die inwoners van Jerusalem al die onheil wat Ek teen hulle gespreek het; omdat Ek met hulle gespreek, maar hulle nie geluister en Ek hulle geroep, maar hulle nie geantwoord het nie. JEREMIA 35:16-17 AFR53
God gee dan ’n interessante belofte aan die Regabiete. Hy beloon hulle lojaliteit aan hul eie tradisie met ’n belofte dat daar altyd iemand uit hul nageslag sal wees wat God dien. Dit is asof God sê: Ek soek sulke mense as deel van My volk! Iets om oor na te dink.
En aan die huis van die Regabiete het Jeremia gesê: So spreek die Here van die leërskare, die God van Israel: Omdat julle geluister het na die gebod van julle vader Jónadab en al sy gebooie gehou en gedoen het net soos hy julle beveel het, daarom, so spreek die Here van die leërskare, die God van Israel: Daar sal vir Jónadab, die seun van Regab, nooit 'n man ontbreek wat altyd voor my aangesig sal staan nie. JEREMIA 35:18-19 AFR53




Comments