top of page

Engele in die Bybel - Openbaring 4 tot 9

  • Regina Torre
  • Aug 7
  • 27 min read

Updated: Aug 19

ree


7 Augustus 2025


OPENBARING 4:6 AFR53

en voor die troon was daar 'n see van glas soos kristal, en in die middel van die troon en rondom die troon vier lewende wesens vol oë van voor en van agter.


Johannes hoor ‘n stem wat soos ‘n basuin klink wat sê: Kom op hierheen. Jesus roep hom sodat hy kan sien wat NA hierdie dinge (die Kerktydperk en Wegraping) moet gebeur.


Hierdie derde gedeelte van Openbaring het betrekking op wat ‘na hierdie dinge’ volg. Ons kan hierdie toekomstige periode in drie eras onderverdeel: die sewejarige Verdrukking (hoofstukke 4-19), die duisendjarige Koninkryk (hoofstuk 20), en die Ewige Koninkryk (hoofstukke 21-22).


NÁ hierdie dinge het ek gesien — kyk, 'n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos 'n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur.   OPENBARING 4:1 AFR53


Johannes is in die Gees en hy sien ‘n troon, en die Een wat op die troon sit lyk soos edelgesteentes. Rondom die troon was ‘n reënboog en 24 trone met 24 ouderlinge in wit klere met krone op hul hoofde.


Hy sien ook weerligte en donderslae en stemme en sewe vuurfakkels wat die sewe Geeste van God is.


Voor die troon is ‘n see van glas soos kristal, want niemand hoef meer skoon te was nie!


Rondom die troon is vier lewende wesens vol oë van voor en agter.


En die eerste lewende wese was soos 'n leeu, en die tweede lewende wese was soos 'n kalf, en die derde lewende wese het 'n gesig gehad soos 'n mens, en die vierde lewende wese was soos 'n arend wat vlieg.   OPENBARING 4:7 AFR53


In die Ou Testament boek Numeri word die stamme van Israel getel, in vier groepe opgedeel, en spesifieke plekke aangewys waar hul kamp moet opslaan rondom die tempel. Volgens Joodse tradisie het elk van die vier groepe ‘n leier en dan ook ‘n embleem wat dieselfde is as die vier lewende wesens in God se troonkamer.


Juda - leeu (1ste lewende wese), Efraim - kalf (2de lewende wese), Reuben - mens (3de lewende wese), Dan - arend (4de lewende wese).


Die vier lewende wesens met ses vlerke, was rondom en van binne vol van oë en het dag en nag gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom!


En die vier lewende wesens het elkeen vir homself ses vlerke gehad, en hulle was rondom en van binne vol oë; en hulle het sonder ophou dag en nag gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom!   OPENBARING 4:8 AFR53


Jesaja het ook dieselfde wesens of engele met ses vlerke wat God loof en prys gesien en hulle het ook gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare


Serafs het bo Hom gestaan; elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy aangesig bedek, en met twee het hy sy voete bedek, en met twee het hy gevlieg. En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!   JESAJA 6:2-3 AFR53


Hierdie is die twee kere wat die frase ‘Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare’ in die Bybel gebruik word. Een in die Ou Testament en een in die Nuwe Testament en elke keer is dit engele wat God loof en prys.


Hierdie wys vir ons dat die God van die Ou Testament en die God van die Nuwe Testament dieselfde was, en is, en sal wees - van die begin af tot in alle ewigheid!



8 Augustus 2025


OPENBARING 5:2 AFR53

En ek het 'n sterk engel gesien wat met 'n groot stem uitroep: Wie is waardig om die boek oop te maak en sy seëls te breek?


God het in Sy regterhand ‘n boek waarop aan die binne en buitekant geskryf is, en wat verseël is met sewe seëls.


En ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit, 'n boek gesien, van binne en van buite beskrywe en met sewe seëls goed verseël.   OPENBARING 5:1 AFR53


Boeke in Jesus se tyd was papirusrolle. Daar is gewoonlik aan die gladde of binnekant van die papirusrol geskryf en dan is dit opgerol om gebêre te word. ‘n Boekrol met skrif aan beide kante wat geseël is lyk soos ‘n amptelike dokument, ‘n titelakte. Romeinse reg het vereis dat ‘n testament verseël moes word met sewe seëls.


Instruksies vir die oopmaak van die dokument en/of ‘n opsomming van die inhoud is gewoonlik aan die buitekant geskryf.


Die engel roep uit met ‘n stem en vra wie is waardig om die boek oop te maak en die seëls te breek. Hoekom sal die engel dit vra? Watter gronde is van toepassing vir die titelakte?


Al die koninkryke van die wêreld is hier van toepassing want dit behoort tans aan Satan.

Ons sien dit in Mattheus waar Jesus deur Satan versoek word en die koninkryke van die wêreld aangebied word indien Jesus hom sou aanbid. Jesus sê net jy moet God alleen aanbid, Hy sê nie dat Satan ‘n foutiewe stelling maak nie.


Weer neem die duiwel Hom saam na 'n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid, en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid. Toe sê Jesus vir hom: Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien. Daarna het die duiwel Hom laat staan, en daar het engele gekom en Hom gedien.   MATTHÉÜS 4:8-11 AFR53


Die sterk engel soek na iemand wat gemagtig is om die seëls van die boekrol oop te breek sodat die inhoud daarvan gelees en uitgevoer kan word.


Maar daar is ‘n probleem! Daar word orals gesoek, (1) in die hemel, (2) op die aarde en (3) onder die aarde, maar niemand kan gevind word wat die magte het om die boekrol oop te maak of daarin te kyk nie!


En niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde kon die boek oopmaak of daarin kyk nie.   OPENBARING 5:3 AFR53


‘n Man word gesoek, ‘n famielielid van Adam, iemand wat kan kwalifiseer om as losser op te tree.


Wat of wie is ‘n losser?


‘n Losser is 'n manlike familielid wat volgens die verskillende wette van die Pentateug (penta = 5, dus die eerste vyf boeke van die Bybel) die voorreg of verantwoordelikheid gehad het om namens 'n familielid wat in finansiële moeilikheid was en onder andere sy grond verloor het, dit terug te koop.


Die grond moet ook nie vir altyd verkoop word nie; want die land is myne, omdat julle vreemdelinge en bywoners by My is. Daarom moet julle, in die hele land van julle besitting, lossing van die grond toelaat. As jou broer verarm en van sy besitting verkoop, moet sy losser wat sy nabestaande is, kom en hy moet los wat sy broer verkoop het.   LEVÍTIKUS 25:23-25 AFR53



9 Augustus 2025


OPENBARING 5:11 AFR53

Toe sien ek, en ek hoor 'n stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge; en hulle getal was tienduisende van tienduisende en duisende van duisende;


Die Losser wat die grond kan terugkoop en die mag het om die seëls oop te maak is gevind! Die Losser kwalifiseer, is gewillig en aanvaar al die verantwoordelikhede. Dit is die Leeu wat kom uit die stam van Juda, die wortel van Dawid.


Toe sê een van die ouderlinge vir my: Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek.   OPENBARING 5:5 AFR53


Johannes sien in die middel van die troon ‘n Lam asof Hy geslag is, saam met die vier lewende wesens en die ouderlinge.


En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar 'n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde.   OPENBARING 5:6 AFR53


Die Leeu uit die stam van Juda, die wortel van Dawid en die Lam asof Hy geslag is neem die boek uit die regterhand van Hom wat op die troon sit.


Ons weet dat Jesus die Lam is en dit word bevestig deur die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge wat voor Hom neerbuig in aanbidding. Slegs God drie-enig mag aanbid word.


Hy het gekom en die boek geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit; en toe Hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge voor die Lam neer, elkeen met siters en goue skale vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is.   OPENBARING 5:7-8 AFR53


Die ouderlinge, wat praat namens die kerk wat nou in die hemel is, bevestig dat Jesus met Sy bloed aan die kruis betaal het vir die koninkryke van die wêreld. Die ouderlinge verwys na ONS wat konings en priesters vir God is. Die ons is die Christene as ‘n groep wat nou in die hemel is.


Toe sing hulle 'n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.   OPENBARING 5:9-10 AFR53


Johannes sien en hoor duisende en tienduisende engele, die lewende wesens en die ouderlinge.


Drie verskillende groepe wat Jesus aanbid vir wie Hy is, en waar Hy is - nie in ‘n krip in Jerusalem nie, nie op die kruis in Golgota nie en ook nie in ‘n graf nie, maar in die hemel!


Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang: krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.


Toe sien ek, en ek hoor 'n stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge; en hulle getal was tienduisende van tienduisende en duisende van duisende; en met 'n groot stem het hulle gesê: Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.   OPENBARING 5:11-12 AFR53



10 Augustus 2025


OPENBARING 6:1 AFR53

En ek het gesien toe die Lam een van die seëls oopmaak; en ek het een van die vier lewende wesens hoor sê, soos die geluid van 'n donderslag: Kom kyk!


Jesus, die Lam, is waardig om die seëls van die boek oop te maak. Johannes sien hoe die Lam die eerste seël oopmaak en een van die vier lewende wesens sê soos die geluid van ‘n donderslag: Kom kyk!


1ste seël: ‘n Wit perd


Die hooftema in die vers is nabootser - om voor te gee iets wat nie is nie. Die Antichris wat homself voorgee as ‘n wêreld vredemaker op ‘n wit perd, gaan nou met die Joodse volk ‘n verbond sluit en hul toestemming gee om hul tempel in Jerusalem te bou!


En ek het gesien, en kyk, daar was 'n wit perd. En hy wat daarop sit, het 'n boog; en aan hom is 'n kroon gegee, en hy het uitgegaan as 'n oorwinnaar en om te oorwin.   OPENBARING 6:2 AFR53


2de seël: ‘n Vuurrooi perd


Net toe die wêreld gerus raak en dink dat alles nou tot ‘n nuwe normaal gaan terugkeer na die Wegraping omdat ‘n nuwe wêreldleier vrede verkondig, bars alle hel orals in die wêreld los.


Die kleur rooi is ‘n voorstelling van terreur, vrees, dood en vernietiging. Dit word beklemtoon deur die ruiter wat die mag kry om vrede van die aarde weg te neem met die swaard wat hy in sy hand het. Daar word nie hier gepraat van een land in oorlog met ‘n ander land nie, maar wêreldoorlog - die hele aarde.


En 'n ander perd, 'n vuurrooie, het uitgekom, en aan hom wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en 'n groot swaard is aan hom gegee.   OPENBARING 6:4 AFR53


3de seël: ‘n Swart perd


Johannes hoor ‘n stem tussen die vier lewende wesens. Wie sit in die middel van die vier lewende wesens? Dit is natuurlik God wat op Sy troon sit, en wie se stem Johannes hier hoor.


Die stem gee vir ons wat elke persoon, elke dag kan eet. Die AFR83 vertaling maak die afmetings meer verstaanbaar.

1 Skeppie koring vir ‘n dagloon en 3 skeppies gars vir ‘n dagloon. So as in ‘n huisgesin die ma en pa werk, kan hul elke dag 1 skeppie koring en 3 skeppies gars huis toe vat. Dis nou as altwee werk het, en elke dag werk, ‘best case scenario!’


En ek het gesien, en kyk, daar was 'n swart perd; en hy wat daarop sit, het 'n skaal in sy hand. En ek het 'n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: 'n Rantsoen koring vir 'n penning en drie rantsoene gars vir 'n penning; en moenie die olie en die wyn beskadig nie.   OPENBARING 6:6 AFR53


4de seël: ‘n Vaal perd


Die perd se kleur is vaal. Die griekse woord vir vaal is chloros wat groen of vaal geel beteken, eintlik ‘n aaklige dooie groen. Die kleur van dood! Die ruiter se naam is dood en die doderyk het hom gevolg, twee metgeselle. Dood eis die liggaam, en die doderyk eis die siel.


En ek het gesien, en kyk, daar was 'n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde.   OPENBARING 6:8 AFR53



11 Augustus 2025


OPENBARING 6:9 AFR53

En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het.


Nou sien Johannes en die lewende wesens hoe Jesus die vyfde seël oopmaak.


5de seël: ‘n Altaar


Die eerste wat Johannes sien is ‘n altaar. Die altaar was die eerste item wat jy gesien het wanneer jy by die buitehof van die tempel ingestap het. Die priesters se offerhandes ter vergewing van sondes is opgedra aan God.


Die altaar in die aardse tempel is ‘n prentjie van Jesus wat as ‘n Lam sonder gebrek vir my en jou sondes geoffer is. In die hemel sien ons die altaar met mense se siele, gedood ter wille van die Woord van God, met ander woorde, geoffer en opgedra aan God.


Die skrywer van Romeine sê dat ons ons liggame stel as welgevallige offer vir God - die Christene in die Verdrukking voer die opdrag letterlik uit deur as martelare vir Jesus te sterf.


Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelike godsdiens.   ROMEINE 12:1 AFR53


Baie mense gaan gedurende die Verdrukking tot dieselfde besef kom as die soldate by Jesus se kruisiging wat na Sy dood gesê het:


En toe die hoofman oor honderd en die wat saam met hom Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat daar gebeur, het hulle baie bevrees geword en gesê: Waarlik, Hy was die Seun van God.   MATTHÉÜS 27:54 AFR53


In Mattheus 24 vertel Jesus vir Sy dissipels dat die wat in Hom glo gemartel gaan word.


Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.   MATTHÉÜS 24:9 AFR53


Die martelare praat nie, hulle roep uit met ‘n groot stem - soos om oor ‘n harde luidspreker te roep en vra: Hoe lank nog voor U die bewoners van die aarde gaan oordeel en ons bloed wreek! Hulle erken dat die wraak hul nie toekom nie, maar dat die wraak Jesus toekom en hulle wil weet wanneer dit gaan gebeur.


En hulle het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie?   OPENBARING 6:10 AFR53


Elkeen van die martelare ontvang hul wit klere en hul vraag word beantwoord. Wag nog ‘n bietjie want al jul medediensknegte is nog nie doodgemaak nie. Eers wanneer die wat doodgemaak moet word voltallig is, dan sal Jesus se vergelding plaasvind.


En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog 'n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees.   OPENBARING 6:11 AFR53



12 Augustus 2025


OPENBARING 6:12 AFR53

En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was 'n groot aardbewing; en die son het swart geword soos 'n harige sak, en die maan het geword soos bloed;


6de seël: Jesus se wraak!


Johannes sien hoe Jesus die sesde seël oopmaak en dit het ‘n groot aardbewing tot gevolg. Hier het ons nou die aardbewings waarvan Jesus in Mattheus 24:7-8 gepraat het.


Hoe gaan dit lyk as die HELE wêreld ‘n aardbewing beleef? Elke groot stad word geruk en pluk, geboue krummel ineen met mense wat onder die puinhope vasgevang word, brue breek in stukke met karre wat val, damwalle breek en die water oorstroom als wat in die pad is, groot kraters skeur in die grond..............


Maar dis nie al nie, die son word swart soos ‘n harige sak, met ander woorde die son se lekker warm strale word toegemaak. Die harige sak was gewoonlik van swart bokhare gemaak en was oor jou klere gedrapeer soos ‘n kombers en gedra wanneer jy gerou het na iemand se dood. Die son wat swart word kan deur vulkane veroorsaak word wat ook ‘n gevolg is van die aardbewings.


En die maan word soos bloed - nog ‘n newe effek van die wêreldwye vulkaan uitbarstings.


Die gevolg van die son wat swart is, of die son se strale wat nie meer skyn nie, is duisternis en koue. Hoe soek jy jou mense wat onder puinhope lê in die donker. Het jy warm genoeg klere aan om jou te beskerm in die tyd. Is daar nog elektrisiteit om lig te maak? Het jy nog ‘n huis om in te bly of is dit verwoes? Is daar nog lopende water? Hoe bang is jy met al die aardbewings se naskokke? Dis net ‘n voorsmaak van hoe dit op die stadium kan lyk!


Die sterre van die hemel val op die aarde soos vye wat van ‘n boom afval as jy die boom sou skud.


en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos 'n vyeboom wat deur 'n groot wind geskud word, sy navye laat afval;   OPENBARING 6:13 AFR53


Dit is vir ons ondenkbaar dat die hemel soos ‘n boekrol toegerol kan word, maar dit is wat gaan gebeur.


en die hemel het weggewyk soos 'n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit;   OPENBARING 6:14 AFR53


Geen onderskeid word getref tussen ryk en arm, of magtiges en slawe nie. Almal is ewe bang en almal probeer wegkruip in die spelonke en rotse.


Mens sou dink die ooglopende gevolg sou wees dat mense bekeer en Jesus vra om hul sondes te vergewe. Nie wat hier gebeur nie, die mense verberg hul aangesig van God en kruip weg.

Net soos Farao sy hard verhard het en tien plae op homself gebring het, net so verhard die mense hul harte en bring God se wraak op hul neer.


en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam;   OPENBARING 6:15-16 AFR53


Wie kan bestaan? Die volgende hoofstuk sal die vraag vir ons antwoord!


want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?   OPENBARING 6:17 AFR53



13 Augustus 2025


OPENBARING 7:1 AFR53

En ná hierdie dinge het ek vier engele op die vier hoeke van die aarde sien staan, en hulle het die vier winde van die aarde vasgehou, sodat geen wind sou waai op die aarde of op die see of teen enige boom nie.


Vier engele word hier aan ons bekend gestel, elkeen staan op een van die vier hoeke van die aarde: noord, suid, oos en wes. Hulle werk is om die vier winde van die aarde vas te hou sodat GEEN wind sal waai op die aarde of op die see of in die lug teen die bome nie.


Hoofstuk ses het geëindig met die sesde seël en erge verwoesting op aarde, so hier waar die winde van die wêreld nou stilstaan gaan ons tydsgewys terugbeweeg na die begin van Verdrukking tydperk. Die wêreld se weer en water siklus word deur die winde bepaal, en met die winde wat ophou waai sal die wêreld droogte en hongersnood beleef. As die droogte al begin met die wit perd, bevestig dit die hongersnood van die swart perd.


Johannes sien ‘n vyfde engel wat van die oostekant kom, die kant waar die son opkom. Ons weet nie wie die engel is nie, maar hy het ‘n magsposisie want hy gee opdragte met ‘n groot stem aan die vier engele wat die winde vashou. Die opdrag aan die vier engele is dat hulle nie die aarde of die see of die bome mag beskadig nie. Nie nou nie, hulle moet eers wag dat die diensknegte van God op hul voorhoofde verseël is.


En ek het 'n ander engel sien opkom van die opgang van die son, met die seël van die lewende God; en hy het met 'n groot stem geroep na die vier engele aan wie dit gegee is om die aarde en die see te beskadig en gesê: Moenie die aarde of die see of die bome beskadig voordat ons die diensknegte van onse God op hulle voorhoofde verseël het nie.   OPENBARING 7:2-3 AFR53


Die verseëlde persone word spesifiek deur God gekies vir die werk wat hulle moet doen om die Woord te verkondig. Honderd-vier-en-veertigduisend verseëldes uit al die stamme van die kinders van Israel! Die verseëldes kan net van Joodse afkoms wees, want hulle is die kinders van die stamme van Israel.


En ek het die getal van die verseëldes gehoor: honderd-vier-en-veertigduisend verseëldes uit al die stamme van die kinders van Israel —   OPENBARING 7:4 AFR53


Deur die eeue heen is baie bespiegel oor wie die 144,000 verseëldes is, maar ons hoef net die Bybel te lees om presies te sien wie dit is.


Die aartsvaders van die Joodse volk is Abraham, Isak en Jakob. Jakob se naam word verander na Israel en sy twaalf seuns verteenwoordig die twaalf stamme van Israel. Dit is die twaalf stamme in die vers genoem waaruit elk van die twaalfduisend verseëldes gekies gaan word.


Joodse mans - kom uit een van die twaalf Joodse stamme.

Maagdelik rein - Openbaring 14:4 sê dat hulle hulself nie met vroue besoedel het nie.

Eerstes wat glo - gekoop uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam, en wat die Lam volg.

Honderd vier en veertigduisend - Twaalfduisend verseëldes uit elk van die twaalf stamme van Israel = 12,000 x 12 = 144,000.


uit die stam van Juda twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Ruben twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Gad twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Aser twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Náftali twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Manasse twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Símeon twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Levi twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Íssaskar twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Sébulon twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Josef twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Benjamin twaalfduisend verseëldes.   OPENBARING 7:5-8 AFR53



14 Augustus 2025


OPENBARING 7:11-12 AFR53

En al die engele het rondom die troon en die ouderlinge en die vier lewende wesens gestaan, en hulle het voor die troon op hulle aangesig neergeval en God aanbid en gesê: Amen! Die lof en die heerlikheid en die wysheid en die danksegging en die eer en die krag en die sterkte aan onse God tot in alle ewigheid! Amen.


Hier is ‘n opsomming van al die mense in die hemel wat voor die troon van God aanbid, lofprys en uitroep:


- die 144,000

- die ontelbare menigte uit elke nasie en stam en volk en taal, beklee met wit en palmtakke in hul hande

- al die engele

- die ouderlinge, en

- die vier lewende wesens


Na hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was 'n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande; en hulle het met 'n groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!   OPENBARING 7:9-10 AFR53


Een van die ouderlinge praat met Johannes en vra hom ‘n vraag. Die oudelinge wil weet wie die mense in hul wit klere is en waarvandaan hulle kom.


Die ‘nuwe’ groep met wit klere is nie die ouderlinge nie, want die ouderlinge vra vir Johannes wie die groep is. Hulle het nie krone op hul hoofde nie maar palmtakke in hul hande.


Johannes antwoord soos ‘n politikus met ‘n teenvraag. My heer, u weet dit!


Die ouderling antwoord hom - dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, hulle het hul klere wit gemaak met die bloed van die Lam.


Fantasties, dit is dus moontlik om gedurende die groot Verdrukking vir Jesus as Verlosser te aanvaar. Maar, dit kom met ‘n prys, die mense sal gemartel word. Dit is dus beter om Jesus NOU te aanvaar!


Toe het een van die ouderlinge gespreek en vir my gesê: Hulle wat bekleed is met die wit klere, wie is hulle en waarvandaan het hulle gekom? En ek sê vir hom: My heer, u weet dit. En hy sê vir my: Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam.   OPENBARING 7:13-14 AFR53


Dan word ons na die millenium geneem waar daar nie meer honger of dors sal wees nie en die son of enige ander hitte sal nooit weer op hul skyn nie want God gaan Sy tent oor hulle span en beskerm.


Daarom is hulle voor die troon van God en dien Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal sy tent oor hulle oopspan. Hulle sal nie meer honger en nie meer dors hê nie, en nooit sal die son of enige hitte op hulle val nie; want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee.   OPENBARING 7:15-17 AFR53



15 Augustus 2025


OPENBARING 8:1-2 AFR53

En toe Hy die sewende seël oopgemaak het, kom daar stilte in die hemel omtrent 'n halfuur lank. En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en sewe basuine is aan hulle gegee.


Die sewende en laaste seël word deur Jesus oopgemaak en die hemel word stil vir ‘n halfuur.  Die vorige keer dat ‘n spreekwoordelike ‘stilte voor die storm’ gebeur het was in die Ou Testament net voor Joshua die stad Jerigo ingeval het.


Die sewende seël is nie net een ramp soos elkeen van die vorige seëls nie, die sewende seël gee vir ons sewe nuwe rampe wat deur elkeen van die sewe basuine voorgestel word.


Johannes sien sewe engele wat voor God staan en elkeen van die engele kry ‘n basuin.


Net vir interessantheid: Die Apokriewe boeke gee name aan die sewe engele: (Die name is in Engels en ek gaan nie poog om dit te vertaal nie.) Uriel, Raphael, Raguel, Michael, Sarakiel, Grabriel, and Phanuel.


Apokrief volgens die woordeboek beteken twyfelagtig of verdag - dit is hoekom ons die boeke nie in die Bybel het nie.


Johannes sien ‘n ander engel. Dié woord ander in Grieks is ‘allos’ wat beteken ‘van dieselfde soort’. Dus, ‘n engel van dieselfde soort as die sewe engele wat die sewe basuine gekry het - dit is dus nie Jesus nie.


Die engel wat Johannes in die hemel sien, staan met ‘n goue wierookbak by die altaar en baie reukwerk word aan hom gegee. Die gebede van al die heiliges - almal, niemand word oorgesien nie - word saam met die reukwerk in die goue bak geplaas. Die mengsel van gebede en reukwerk word voorberei om op die goue altaar voor die troon geplaas te word.


En 'n ander engel het gekom en met 'n goue wierookbak by die altaar gaan staan, en baie reukwerk is aan hom gegee, om dit met die gebede van al die heiliges op die goue altaar voor die troon te lê;   OPENBARING 8:3 AFR53


Die rook van die reukwerk saam met die gebede van die heiliges (of die Christene op aarde) gaan as ‘n voortdurende reukwerk op voor die aangesig van God.


en die rook van die reukwerk het met die gebede van die heiliges uit die hand van die engel opgegaan voor God.   OPENBARING 8:4 AFR53


Die engel maak die wierookbak vol met die vuur van die altaar en gooi die mengsel van speserye, gebede en brandende vuur op die aarde uit.


Hierdie aksie is ‘n voorskou van dit wat kom en die mense op aarde hoor stemme en donderslae, sien weerligte en beleef nog ‘n aardbewing!


Die rampe wat die seëls meegebring het, het almal natuurlik in hul aard gelyk. Nou gaan die wêreld sien dat die rampe wat volg van God kom, en dit gaan uit die hemel neerdaal na die aarde.


En die engel het die wierookbak geneem en dit met vuur van die altaar volgemaak en dit op die aarde gegooi; en daar het stemme gekom en donderslae en weerligte en aardbewing.   OPENBARING 8:5 AFR53



16 Augustus 2025


OPENBARING 8:6 AFR53

En die sewe engele met die sewe basuine het hulle gereed gemaak om te blaas.


Die sewe engele staan gereed soos atlete voor ‘n aflos wedren, en elkeen van die engele het ‘n basuin wat geblaas moet word, die een na die ander.


1ste Basuin: Hael en vuur gemeng met bloed word op die aarde gegooi.


Die eerste engel blaas die eerste basuin! Hael en vuur gemeng met bloed word op die aarde gegooi. Een derde van die bome verbrand en al die groen gras verbrand. Hierdie bonatuurlike ramp laat ons terugdink aan die sewende plaag van hael en vuur in Egipte.


En die eerste engel het geblaas, en daar het hael en vuur gekom met bloed gemeng, en dit is op die aarde gegooi. En 'n derde van die bome het verbrand, en al die groen gras het verbrand.   OPENBARING 8:7 AFR53


2de Basuin: Groot brandende ‘berg’ word in die see gegooi.


Die tweede engel blaas die tweede basuin. Iets soos ‘n brandende groot berg, moontlik ‘n asteroide, word in die see gegooi. ‘n Derde van die see word bloed, ‘n derde van die mense op die see sterf en ‘n derde van die skepe op die see vergaan. Baie soos die eerste plaag in Egipte waar die water van die Nyl in bloed verander het.


En die tweede engel het geblaas, en iets soos 'n groot berg wat brand met vuur, is in die see gegooi. En 'n derde van die see het bloed geword, en 'n derde van die lewende skepsele in die see het gesterwe, en 'n derde van die skepe het vergaan.   OPENBARING 8:8-9 AFR53


3de Basuin: Groot ster soos ‘n brandende fakkel val uit die hemel.


Die derde engel blaas die derde basuin en nog ‘n asteroide uit die hemel tref die aarde. Waar die vorige asteroide die see geteiken het, word een derde van die aarde se vars water nou die teiken.

Die ster met die naam Alsem vernietig ‘n derde van die aarde se riviere en waterfonteine.


En die derde engel het geblaas, en 'n groot ster wat soos 'n fakkel brand, het uit die hemel geval, en dit het geval op 'n derde van die riviere en op die waterfonteine.  En die naam van die ster word genoem Alsem; en 'n derde van die waters het als geword, en baie mense het gesterwe van die water, omdat dit bitter geword het.   OPENBARING 8:10-11 AFR53


4de Basuin: ‘n Derde van die son, maan en sterre word donker.


Die vierde engel blaas die vierde basuin en teiken die son, maan en sterre. ‘n Derde van die son, maan en sterre word donker. Vir 1/3 van 24 uur, dus 8 ure sal die son aan die een kant en die maan en sterre aan die anderkant van die wêreld ophou skyn.  Die dag word agt ure korter en die nag word agt ure langer. Hierdie laat ons weer terugdink aan die negende plaag waar ‘n dik duisternis oor Egipteland was.


En die vierde engel het geblaas, en 'n derde van die son is getref en 'n derde van die maan en 'n derde van die sterre, sodat 'n derde van hulle donker sou word en die dag vir sy derde deel nie lig sou gee nie, en die nag net so.   OPENBARING 8:12 AFR53


Johannes sien en hoor na die eerste vier basuine ‘n engel wat in die middel van die hemel vlieg en praat met ‘n groot stem. Wee, wee, wee! Die waarskuwing word drie keer gegee om die mense voor te berei dat daar nog drie basuine moet blaas!


En ek het gesien en gehoor 'n engel wat in die middel van die hemel vlieg, wat met 'n groot stem sê: Wee, wee, wee hulle wat op die aarde woon, vanweë die orige geluide van die basuin van die drie engele wat nog sal blaas!   OPENBARING 8:13 AFR53



17 Augustus 2025


OPENBARING 9:1 AFR53

En toe die vyfde engel blaas, sien ek 'n ster wat uit die hemel op die aarde geval het, en aan hom is die sleutel van die put van die afgrond gegee.


Die vyfde engel blaas die vyfde basuin.


Johannes sien nog ‘n ster wat uit die hemel op die aarde val. Die keer is die ster nie ‘n meteoriet of asteroide nie, maar ‘n ‘persoon’ of engel want daar word na die ster verwys as ‘hom’. Die engel wat aarde toe val is ‘n gevalle engel of ‘n demoon wat ‘n sleutel ontvang. Hy is nie die draer of eienaar van die sleutel nie, dit moet aan hom gegee word. Die sleutel sluit die put van die afgrond oop. Die put van die afgrond word ook genoem die hel of die onderwêreld. Die demoon wat Satan homself kan wees of een van sy hoofgesante, maak die put van die afgrond oop. Daar is onmiddelik bolle rook wat uitkom, so erg dat die son en die lug deur die rook van die put verduister word.


En hy het die put van die afgrond oopgemaak, en daar het rook opgekom uit die put soos rook van 'n groot oond, en die son en die lug is deur die rook van die put verduister.   OPENBARING 9:2 AFR53


Johannes sien sprinkane wat saam met die bolle rook uitkom uit die bodemlose put. Hulle ontvang 'mag soos die mag van skerpioene'. Die sprinkane se mag kom met spesifieke instruksies en beperkings. Hulle word beveel om nie die gras of enige groenigheid of enige bome te beskadig nie. Die sprinkane moet dus teen hul natuur optree en niks groen eet nie - ‘n aanduiding dat die ‘insekte’ geen gewone sprinkaan is nie.


Die springkane moet wel AL die mense, wat NIE die seël van God op hul voorhoofde het NIE, beskadig.  Ons weet tot dusvêr dat die 144,000 Joodse evangeliste elkeen die seël van God op hul voorhoofde ontvang het.


Die sprinkane se instruksie is om die wat nie die seël het nie te pynig vir vyf maande lank, maar hulle mag nie die mense dood maak nie. Die pyniging voel soos ‘n skerpioensteek. In dié dae - die 150 dae of vyf maande van pyniging - sal die mense wens hulle is eerder dood. Maar, hulle sal nie kan doodgaan nie. Vir vyf maande lank sal niemand doodgaan nie!  Niemand sal kan selfmoord pleeg nie, en mense sal mekaar ook nie kan doodmaak nie.


Die sprinkane lyk soos perde wat toegerus is vir oorlog, en op hul koppe is iets soos krone wat soos goud lyk. Hulle het mens gesigte, hare soos ‘n vrou se hare en tande soos die van ‘n leeu.


Die sprinkane se borsstuk (kop, borsstuk en agterlyf) het gelyk of dit met iets soos yster beskerm is. Soos soldate wat hul wapenrusting aantrek. Sterk en reg vir oorlog. Die sprinkaan weermag het vreesaanjaend gelyk, maar die effek is vererger deur die gedruis van hul vlerke. Dit het geklink soos baie strydwaens met perde wat opruk na ‘n oorlog. Die demone se sterte was soos die van skerpioene, en daar was angels in hul sterte. Die mag van die demone was om vyf maande lank skade te doen aan die ongelowige mense.


Die sprinkane se koning is Abaddon (Hebreeus) of Apollion (Grieks) en die naam beteken Verwoester. Die Ou Testament boek Spreuke leer ons dat gewone sprinkane nie ‘n koning het nie, so hierdie sprinkaanagtige gedrogte kan net demone wees.


En hulle het as koning oor hulle die engel van die afgrond; sy naam in Hebreeus is Abáddon, en in Grieks het hy die naam van Apóllion.   OPENBARING 9:11 AFR53


Hoe vêrder ons in die Verdrukking tydperk inbeweeg hoe meer interaksie gaan daar tussen die fisiese en geestelike wêrelde wees. Wat vir ons vandag ondenkbaar is, gaan in die Verdrukking tydperk algemeen word.



18 Augustus 2025


OPENBARING 9:13 AFR53

En die sesde engel het geblaas, en ek het 'n stem gehoor uit die vier horings van die goue altaar wat voor God is,


Die sesde engel blaas die sesde basuin.


Die pyniging van die eerste wee of die vyfde basuin is nou verby. Hierdie gedeelte bevestig dat die weë op mekaar volg en nie gelyktydig gebeur nie. Dink jou in hoe verlig die mense moet wees dat die pyniging uiteindelik verby is, maar hou vas want daar kom nog twee weë.


Die een wee het verbygegaan; hierna kom daar nog twee weë.   OPENBARING 9:12 AFR53


Johannes hoor ‘n stem wat kom van die goue altaar wat voor God is. Hierdie is die wierookaltaar in die tempel, in die hemel, waar die martelaars se gebede geplaas is. Die opdrag kom direk van God en ons sal sien dat bonatuurlike wesens God se opdrag moet uitvoer. Die gebeure wat volg gaan dus van bonatuurlike en nie natuurlike aard wees nie.


God gee die volgende opdrag aan die sesde engel met die sesde basuin. Die vier engele wat gebind is by die Eufraatrivier moet losgemaak word. Engele wat gebind is, of in ander woorde, in gevangenis is, verwys na gevalle engele of demone wat ook beklemtoon word deur die feit dat hulle nie in die hemel nie, maar onder op die aarde is.


en dié het aan die sesde engel met die basuin gesê: Maak die vier engele los wat gebind is by die groot rivier, die Eufraat.   OPENBARING 9:14 AFR53


Die vier engele het ‘n spesifieke taak vooruit beplan deur God wat die einde van die begin af ken. Dié gevalle engele is gereed gehou vir ‘n spesifieke uur en dag en maand en jaar! Die engele se hooftaak is om ‘n derde van die mense wat op die stadium nog lewe, dood te maak.


Toe is die vier engele losgemaak wat gereed gehou was vir die uur en dag en maand en jaar, om 'n derde van die mense dood te maak.   OPENBARING 9:15 AFR53


Die gevalle engele word ‘n bietjie hulp toegestaan deur leërs van perderuiters. Die sesde basuin se twee honderd miljoen ruiters word gekenmerk aan die kleure van hul borsharnasse. Die kleure is vuurrooi, blou en swawelgeel. Die perde het ‘n bonatuurlike voorkoms met koppe soos leeukoppe, en uit hul bekke het vuur en rook en swawel gegaan. Dit wat die perde uitspoeg spieëlbeeld die kleure van die borsharnasse. Vuur (rooi), rook (blou), swawel (geel).


Hierdie leër maak een derde van die mense wat op die stadium nog lewe dood. Vuur, rook en swawel word uit die bekke van die perde gespoeg om die mense dood te maak. Die mag van die perde is in twee plekke - bek en stert. Die stert het ook mag want die stert is soos ‘n slang met ‘n kop en daarmee word ook skade aangerig.


Dit lyk nie of die derde wat doodgemaak word op een gedeelte van die aarde gesentreer is nie, eerder dat die 200 miljoen demoonperde die hele wêreld aanval. As daar dus drie mense in ‘n gesin of vriendekring is, sal een van hulle nie meer wees nie. Dié dood raak op dié stadium almal op aarde, direk of indirek.


Die orige mense wat nie deur die plae doodgemaak is nie, met ander woorde die ongelowiges wat nog lewe op die stadium, weier egter nog steed om Jesus as hul Verlosser te aanvaar.


En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie. En hulle het hul nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en hul diefstalle nie.   OPENBARING 9:20-21 AFR53



Comments


  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page