top of page

Engele in die Bybel - Openbaring 20 tot 22

  • Regina Torre
  • Sep 27
  • 30 min read

Updated: Oct 14

ree

27 September 2025


OPENBARING 20:1 AFR53

En ek het 'n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en 'n groot ketting in sy hand.


Johannes sien ‘n engel wat uit die hemel neerdaal, en die engel het ‘n sleutel en ‘n groot ketting in sy hand. Hierdie sleutel is vir die slot van die afgrond of in Engels ‘the bottomless pit’ en in Grieks ‘abyssos’.


Hierdie afgrond is nie die hel of die doderyk nie, hoewel dit soortgelyk is. Dit is 'n plek in die dieptes van die aarde waar God die demone gevange hou tot en met die dag van hul oordeel. Op 'n toekomstige punt sal die afgrond leeg gemaak word en alle demone sal hul finale oordeel in die poel van vuur kry.


In die vorige hoofstuk is die dier en die valse profeet lewend in die vuurpoel gegooi waar hul tot in alle ewigheid met swawel verbrand en gepynig gaan word.


Nou gaan ons sien wat gebeur met die draak, of die ou slang van die tuin van Eden, of anders gestel die Satan wat die derde entiteit van die onheilige drie-enigheid is.


Die vers vertel vir ons dat Satan gebind gaan word vir een duisend jaar, en hierdie is ‘n letterlike 1000  jaar.


En hy het die draak gegryp — die ou slang wat die duiwel en die Satan is — en hy het hom gebind duisend jaar lank,    OPENBARING 20:2 AFR53


Die Satan word bietjie anders hanteer as die dier en die valse profeet, want daar is nog ‘n taak wat op hom wag na die duidend jaar wat hy gebind was.


Maar, vir eers word hy in die afgrond gewerp, of in die ‘bottomless pit’ ingegooi, en dan word die afgrond toegesluit en verseël sodat hy nie kan ontsnap om die nasies te verlei nie.


en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan 'n kort tydjie ontbind word.   OPENBARING 20:3 AFR53


Millenium se betekenis:        mille - latyn vir duisend; annum - latyn vir jaar; dus duisend jaar!

Die millenium is ‘n letterlike periode van ‘n duisend jaar wat geskeduleer is vir die toekoms, na Jesus se wederkoms aan die einde van ons geskiedenis om Sy ewige koninkryk op te rig.


Johannes sien trone en hulle sit daarop, en aan hulle is die oordeel gegee. Wie is die ‘hulle’ wat op die trone sit. Hierdie is dieselfde siele wat Johannes in Openbaring 6 onder die altaar gesien het, wat nou voltallig is, en hulle het die volgende kenmerke:


- die siele is onthoof oor hul getuienis van Jesus en oor die Woord van God,

- hulle het die dier en sy beeld nie aanbid nie, en

- hulle het NIE die dier se merk op hul voorhoof of op hul hand ontvang NIE.


Hierdie siele, die mense wat in die Verdrukking gedood is, leef en regeer as konings (daarom die trone) saam met Christus vir een duisend jaar.


En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.   OPENBARING 20:4 AFR53



28 September 2025


OPENBARING 20:5 AFR53

En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding.


Johannes sien in die vorige vers die siele wat in die Verdrukking gesterf het, en nou in die vers sê Johannes die ander dode herlewe eers aan die einde van die millenium.


Deur ‘n proses van eliminasie verwys die ‘ander dode’ slegs na die ongelowiges. Die ongelowiges se opstanding is dus eers aan die einde van die millenium.


En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik.   DANIËL 12:2 AFR53


Die 'eerste opstanding' sluit diegene in wat tydens die wegraping opgewek word tesame met hierdie Verdrukking gelowiges, tot die ewige lewe.  Diegene wat deel uitmaak van die 'tweede opstanding' of die ‘ander dode’ soos die vers vertel, het slegs oordeel wat wag.


Die volgende vers sê salig of geseënd en heilig is hulle wat deel het aan die eerste opstanding, want hulle sal almal saam met Jesus regeer as konings vir ‘n duisend jaar en hulle sal ook priesters van God en van Christus wees.


Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.   OPENBARING 20:6 AFR53


Die tweede dood het nie mag oor hulle wat in die eerste opstanding is nie.


Die eerste dood gebeur met almal, hetsy gelowig of ongelowig. Die fisiese dood verteenwoordig die skeiding van liggaam en siel.  Die tweede dood is egter net vir die ongelowiges en is ‘n geestelike dood waar jou siel vir ewig van God geskei word. Die tweede dood gebeur aan die einde van die duisend jaar tydperk.


Aan die einde van die millenium of aan die einde van die duisend jaar van vrede, gaan die Satan uit sy gevangenis losgelaat word.


En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word;   OPENBARING 20:7 AFR53


Hoekom? Sy vrylating is nie bedoel om te sien of tronkstraf hom hervorm het nie, want dit kan nie gebeur nie. Satan se vrylating word gedoen om te sien of die mense wat gedurende die millennium gebore word, hul harte ten volle vir Jesus gee.


Die millennium is 'n tydperk van vrede en oorvloed, maar dit maak nie dat mense nou sommer hul harte vir Koning Jesus gaan gee nie. 'n Volmaakte omgewing waarborg nie 'n perfekte verhouding met God nie, ons het dit gesien met Adam en Eva wat in 'n perfekte omgewing gewoon het en nog steeds gesondig het.


Satan se hoofdoel, selfs aan die einde van die millenium, bly om die nasies te verlei en hy gaan uit na die vier hoeke van die aarde om mense te versamel vir sy finale oorlog. Die Gog en Magog hier moet nie verwar word met Ezegiel 38-39 se oorlog wat van die noorde af kom en voor Jesus se tweede koms plaasvind nie.


Ongelukkig is daar selfs in die millenium baie mense wat hul rug op God draai, want die getal mense wat die Satan versamel is so baie soos die sand van die see.


en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see.    OPENBARING 20:8 AFR53



29 September 2025


OPENBARING 20:9 AFR53

En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind.


Die duisende mense, wat so baie is as die sand van die see, kom in hul massas op oor die breedte van die aarde. Hul hoofdoel is om die laer van die heiliges en die geliefde stad (Jerusalem) te omsingel vir hul oorlog.


En ‘n oorlog is presies wat hulle kry, maar nie soos hulle dit voorgestel het nie. Die oorlog wis Satan se navolgers uit in die tweede helfte van ‘n kort sin met die woorde: die vuur van God daal uit die hemel neer en verslind hulle - net so!


Die duiwel, of die Satan wat al die mense verlei het, wat gebeur met hom nadat al sy navolgers met vuur verslind is?


Hy word in die poel van vuur en swawel gewerp waar sy twee vriende die dier en die valse profeet op hom wag. Nou is al drie entiteite van die onheilige drie-enigheid waar hulle moet wees, naamlik in die poel van vuur en swawel. In Engels noem hulle die plek: the lake of fire!


Die drie word van hier af tot in alle ewigheid dag en nag gepynig !!!


En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.   OPENBARING 20:10 AFR53


Johannes sien ‘n groot wit troon met Jesus wat daarop sit.


En ek het 'n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie.   OPENBARING 20:11 AFR53


Jesus is deur Sy Vader aangestel om die oordeel uit te voer.


Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee, JOHANNES 5:22 AFR53


En Hy het ons bevel gegee om aan die volk te verkondig en met krag te betuig dat dit Hy is wat deur God bestem is as Regter van lewende en dode.   HANDELINGE 10:42 AFR53


Die groot wit troon moet nie verwar word met die Regterstoel van Christus nie.


Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.    II KORINTHIËRS 5:10 AFR53


Gelowiges word beoordeel na die Wegraping, gedurende die sewe jaar Verdrukking en voor die Millenium. Elke gelowige sal belonings ontvang volgens wat hy of sy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit goed was of kwaad.


Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.   ROMEINE 8:1 AFR53



30 September 2025


OPENBARING 20:12 AFR53

En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en 'n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.


Johannes sien die dode, klein en groot, voor God staan. Alle ongelowiges, klein en groot, van die begin tot die einde van tyd, staan nou voor God. Johannes sien ook die boeke (meervoud) wat geopen is en hy noem spesifiek die boek van die lewe. Dit is die boek waar al die gelowiges se name ingeskryf is.


‘n Christen word nie op sy werke geoordeel nie. Die Bybel leer ons: uit genade is ons gered, deur geloof, die redding is ‘n gawe van God. Ons werke gaan slegs vir ons verskillende krone beteken wanneer ons reeds in die hemel is.


Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God.   EFESIËRS 2:8 AFR83


Ongelowiges aan die ander kant kry nie Jesus se genade nie, maar hulle word geoordeel volgens hul werke wat in die boeke opgeskryf is.


Waar kom al die dode vandaan wat Johannes sien? Waar was hul al die tyd? Eers moet ons kyk wat gebeur wanneer ‘n persoon sterf. ‘n Mens bestaan uit ‘n gees, ‘n siel en ‘n liggaam. Ons gees en siel leef vir ewig, terwyl ons liggaam tydelik en sterflik is. Wanneer ons sterf, sterf ons liggaam en keer na stof terug, maar ons siel en gees leef voort in een van twee toestande.


Vir heiliges is die bestemming van ons siel troos, en die presiese ligging wissel afhangende van wanneer ons in die geskiedenis gesterf het. Voor Christus het gelowiges na Abraham se Boesem gegaan om op die Messias se koms te wag. Nadat Christus gesterf het en die gevangenes vrygelaat het, gaan die siel van 'n gelowige direk hemel toe om by Jesus te wees.


In die eerste opstanding ontvang gelowiges van alle tye nuwe liggame en is hulle vir ewig by Jesus, maar vir ongelowiges was en is die bestemming van hul siel nog altyd dieselfde plek: marteling in die doderyk (of die hel), gevolg deur die poel van vuur.


In vers 13 kry ons die plekke waar hierdie dooies opgewek sal word. Die dood en die doderyk gee hul dode wat elke ongelowige persoon sedert Kain se tyd verteenwoordig.


En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke.    OPENBARING 20:13 AFR53


Die see gee ook sy dooies op, en dit is die plek (die afgrond) waar die demone of goddelose engele opgesluit word. Die afgrond is vir demone gereserveer, maar die dood en die doderyk is gereserveer vir mense. Elkeen van die dode word geoordel, elkeen volgens sy werke.


Nadat die dode wat van die dood en doderyk kom geoordeel is, word elkeen in die poel van vuur gewerp om vir ewig saam met die Satan, die dier en valse profeet gepynig te word. Dit is die tweede dood, wanneer jou siel van God geskei word!


En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood.  OPENBARING 20:14 AFR53


Die mense wie se name nie in die boek van die lewe is nie, hulle eindbestemming is die poel van vuur.


En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.   OPENBARING 20:15 AFR53



1 Oktober 2025


OPENBARING 21:1 AFR53

En ek het 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie.


Lewe op aarde soos ons dit ken is verby.

Die wegraping het plaasgevind.

Die sewe jaar Verdrukking is verby.

Die Millenium is verby.

Die ongelowiges is geoordeel en verban na die poel van vuur.


En nou sien Johannes ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan. Die eerste verskil tussen die oue en die nuwe, is dat die nuwe nie ‘n see het nie.


Johannes sien volgende die heilige stad, die nuwe Jerusalem wat van God uit die hemel neerdaal.


En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos 'n bruid wat vir haar man versier is.   OPENBARING 21:2 AFR53


Almal op aarde sal die klaargeboude stad sien neerdaal uit die hemel. Net soos ‘n bruidegom vir die eerste keer sy bruid sien afstap in die kerk, so sal die mense die stad sien wat uit die hemel neerdaal.


‘n Stem sê vir Johannes dat die tabernakel van God by die mense is, en God sal by hulle woon.


En ek het 'n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.    OPENBARING 21:3 AFR53


Dit verduidelik vir ons die tabernakel en die tempels wat deur die eeue heen gebou is.

God met ons!

Omdat sonde die mens van God geskei het, het God die tempel gebruik om by Sy mense te woon.


Kom ons kyk na die tempels deur die geskiedenis terug en in die toekoms.


Moses se tabernakel: God self is teenwoordig in die tabernakel deur die wolkkolom bedags en die vuurkolom snags vir die veertig jaar wat die Israeliete deur die woestyn getrek het.


Die 1ste tempel (Salomo se tempel): Die heerlikheid van God het die tempel gevul op die dag wat die tempel ingehuldig is.


Die 2de tempel (Herodus se tempel): Die heerlikheid van God was nooit in die tempel teenwoordig nie, maar Jesus self het Sy lewe lank ‘n nou verbintenis met die tempel gehad.


Ek is ‘n tempel van God: Jesus het vir Sy dissipels gesê hulle moet wag vir die Helper. Tien dae na Jesus se hemelvaart kom die Helper, die Heilige Gees en vul Jesus se volgelinge. Die heerlikheid van God is dus in elkeen van ons wat Jesus as Verlosser aanvaar!


Die 3de tempel (Groot Verdrukking tempel): Ek weet nie of die heerlikheid van God in die tempel gaan wees nie. Indien die verbondsark gevind word, is dit moontlik dat die heerlikheid van God vir die eerste 3,5 jaar wel teenwoordig sal wees. Wat ons wel weet is dat Satan in die helfte van die sewe jaar Verdrukking homself in die tempel as god gaan verklaar.


Millenium tempel: Die heerlikheid van God kom deur die poort aan die oostekant van die tempel in en klink soos die geruis van baie waters.  Esegiël staan in die voorhof van die tempel en sien hoe die heerlikheid van die Here die tempel vul.



2 Oktober 2025


OPENBARING 21:4 AFR53

En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.


Die nuwe aarde is gereinig van sonde en al die gevolge van die sonde - alles is nou in ‘n perfekte toestand herstel.


Al die negatiewe gevolge van Adam se sonde en die gevolglike vloeke is nou reggestel. Daar is nou geen trane, geen dood, geen rou, geen huil, geen pyn ... alles wat bestaan ​​het as gevolg van sonde was nie deel van God se perfekte skepping nie.


Hy wat op die troon sit praat met Johannes. Die Hy wat praat is Jesus, en Hy sê vir Johannes om die woorde neer te skryf want die woorde is waaragtig en betroubaar.


En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.   OPENBARING 21:5 AFR53


Die Engelse KJV vertaal die woorde waaragtig en betroubaar as: true and faithful.

Waaragtig - die volle waarheid.

Betroubaar - kan vertrou daarop.


Jesus bevestig hier dat Hy alles nuut maak. Uit met die ou en in met die nuut, en dit is die waarheid waarop ons kan vertrou!


Jesus sê vêrder vir Johannes: Dit is verby!


- die sonde van die wêreld is verby

- die strawwe van Openbaring is verby

- hartseer, verdriet, pyn is verby.........


En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet.   OPENBARING 21:6 AFR53


Jesus bevestig weer soos in Openbaring hoofstuk 1 dat Hy die Alfa en die Omega is, wat beteken die begin en die einde!


In hoofstuk 1 moes Johannes skryf wat hy gaan sien, en nou bevestig Jesus dat dit wat hy gesien het, verby is.


Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.   OPENBARING 1:8 AFR53


wat sê: Ek is die Alfa en die Oméga, die eerste en die laaste, en skryf wat jy sien in 'n boek en stuur dit na die sewe gemeentes wat in Asië is: na Éfese en Smirna en Pérgamus en Thiatíre en Sardis en Filadelfía en Laodicéa.   OPENBARING 1:11 AFR53


Jesus bevestig vêrder wat Hy deur Sy lewe op aarde vir ons geleer het. Hy gee vir die wat dors het, water uit die fontein van die water van die lewe, en dit wat Hy gee is gratis en verniet.


maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word 'n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.   JOHANNES 4:14 AFR53



3 Oktober 2025


OPENBARING 21:7 AFR53

Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom 'n God wees, en hy sal vir My 'n seun wees.


Oorwinnaars, die wat Jesus as Verlosser aanvaar het, sal ALLES erf, en God sal met hulle wees en hulle sal seuns van God wees! In die begin van Openbaring kry elkeen van die kerke se oorwinnaars ook ‘n beloning.


Efese: 

Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne-in die paradys van God is.   OPENBARING 2:7 AFR53


Smirna:

Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie.   OPENBARING 2:11 AFR53


Pergamus:

Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die verborge manna, en Ek sal hom gee 'n wit keursteen, en op dié steen 'n nuwe naam geskrywe wat niemand ken nie, behalwe hy wat dit ontvang.   OPENBARING 2:17 AFR53


Thiatire:

En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee.   OPENBARING 2:26 AFR53


Sardis:

Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele.   OPENBARING 3:5 AFR53


Filadelfia:

Wie oorwin, Ek sal hom 'n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam.   OPENBARING 3:12 AFR53


Laodicea:

Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.   OPENBARING 3:21 AFR53


Maar, die verloorders, die wat Jesus verwerp het, hulle beloning is die poel van vuur om te brand met vuur en swawel. God is nie met hulle nie, en hulle is nie seuns van God nie, nee - hulle is vir ewig geskei van God - dit is die tweede dood!


Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars — hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.   OPENBARING 21:8 AFR53


Die verloorders word hier gelys:

- vreesagtiges

- ongelowiges

- gruwelikes

- moordenaars

- hoereerders

- towenaars

- afgodedienaars

- leuenaars



4 Oktober 2025


OPENBARING 21:9 AFR53

En een van die sewe engele wat die sewe skale gehad het, vol van die sewe laaste plae, het na my gekom en met my gespreek en gesê: Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam.


Johannes hoor ‘n bekende stem wat met hom praat. Een van die sewe engele wat die sewe skale gehad het, vol van die sewe laaste plae.


Die engel sê vir Johannes - kom hierheen sodat ek vir jou die bruid kan wys, die vrou van die Lam.


Johannes word in die gees weggevoer na ‘n groot en hoë berg, en die engel wys vir Johannes die groot stad, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal.


En hy het my in die gees weggevoer op 'n groot en hoë berg en my die groot stad getoon, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal;   OPENBARING 21:10 AFR53


Die heerlikheid van God vul die heilige stad Jerusalem en dit skyn kristalhelder soos ‘n kosbare edelsteen.


Die heerlikheid van God is God se teenwoordigheid in die stad, net soos God teenwoordig was in Moses se tabernakel en in Salomo se tempel.


en dit het die heerlikheid van God gehad, en sy lig was soos 'n baie kosbare steen, soos die kristalhelder jaspissteen.   OPENBARING 21:11 AFR53


Die stad word nou vir ons in detail beskryf.


Die stad het ‘n groot en hoë muur met twaalf poorte of ingange. Voor elk van die twaalf poorte of ingange is daar ‘n engel, dus is daar twaalf engele om die stad.


Elke poort het ook ‘n naam wat op die poort geskryf is, en die name is die twaalf stamme van die kinders van Israel wat die Ou Testament verteenwoordig.


Die poorte van die stad se ligging word ook gegee, en hier het ons die eerste indikasie dat die stad vierkantig is.


  • Drie poorte aan die oostekant

  • Drie poorte aan die noordekant

  • Drie poorte aan die suidekant

  • Drie poorte aan die westekant


Die muur van die stad het twaalf fondamente, en elke fondament is vernoem na een van die twaalf apostels van die Lam. Die fondamente verteenwoordig die Nuwe Testament.


En dit het 'n groot en hoë muur met twaalf poorte gehad, en by die poorte twaalf engele, en name daarop geskrywe, naamlik dié van die twaalf stamme van die kinders van Israel. Aan die oostekant was daar drie poorte, aan die noordekant drie poorte, aan die suidekant drie poorte, aan die westekant drie poorte. En die muur van die stad het twaalf fondamente gehad, en daarop was die name van die twaalf apostels van die Lam.   OPENBARING 21:12-14 AFR53



5 Oktober 2025


OPENBARING 21:15 AFR53

En hy wat met my gespreek het, het 'n goue meetroede gehad, om die stad en sy poorte en sy muur te meet.


Die engel wat met Johannes praat het ‘n goue maatstaf waarmee hy die stad, sy poorte en sy muur meet. Johannes het vroeër self die afmetings van die Verdrukking tempel gemeet.


En 'n riet soos 'n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid.   OPENBARING 11:1 AFR53


God is 'n God van orde, en die feit dat die engel hier in hoofstuk 21 'n maatstaf het om die stad, sy poorte en die mure te meet, toon dat die Nuwe Jerusalem 'n letterlike stad is en nie 'n mistieke stad nie. As dit 'n suiwer simboliese idee was, of slegs 'n metafoor, sou dit onmoontlik wees om dit te meet.


Die engel gee vir Johannes die afmetings van die stad. Die stad is vierkantig met die lengte, breedte en hoogte wat dieselfde is - elk 2,414 km.


En die stad het vierkantig gelê, en sy lengte was net so groot as sy breedte. En hy het die stad met die meetroede gemeet op duisend-vyfhonderd myl; sy lengte en breedte en hoogte was gelyk.   OPENBARING 21:16 AFR53


Die Allerheiligste vertrek, die vertrek waar God se heerlikheid teenwoordig is, was nog altyd ‘n volmaakte kubus. ‘n Kubus is ‘n vierkant waar die lengte, breedte en hoogte dieselfde afmetings het.


Die afmetings van die verskillende tempels se Allerheilgste vertrek:

  • Moses se tabernakel: 5 x 5 x 5 meter

  • Salomo se tempel: 10 x 10 x 10 meter

  • Herodus se tempel: 10 x 10 x 10 meter

  • 3de tempel: ons weet nie

  • Millenium tempel: 10 x 10 x 10 meter


Die nuwe Jerusalem se afmetings is ook die van ‘n volmaakte kubus, maar dis nie ‘n klein vertrek van 10 x 10 x 10 meter nie, dis ‘n enorme konstruksie van 2,414 km x 2,414 km x 2,414 km.


In die ewigheid waar ons nie meer sonde het nie, kan ons saam met God woon in die gebou waar Sy heerlikheid teenwoordig is. Haleluja - dit is iets om na uit te sien!


In die vorige vers het ons die stad se lengte, breedte en hoogte gekry, en nou in die vers gee die engel die muur se dikte en dit is 144 el of 65.83 meter.


En hy het sy muur gemeet op honderd-vier-en-veertig el, volgens 'n mens se maat, wat die maat van 'n engel is.    OPENBARING 21:17 AFR53


Ons het in vers 14 gelees dat die stad se muur twaalf fondamente het. Die boustof van die muur en die eerste fondament is dieselfde, naamlik Jaspis. Die res van die fondamente is elk van verskillende kleure edelgesteentes wat sekerlik ‘n pragtige gesig gaan wees om te aanskou.


En die boustof van sy muur was jaspis, en die stad was suiwer goud soos suiwer glas. En die fondamente van die muur van die stad was versierd met allerhande edelgesteentes. Die eerste fondament was jaspis, die tweede saffier, die derde chalcedoon, die vierde smarag; die vyfde sardoniks, die sesde sardius, die sewende chrisoliet, die agtste beril, die negende topaas, die tiende chrísopraas, die elfde hiasint, die twaalfde ametis. OPENBARING 21:18-20 AFR53



6 Oktober 2025


OPENBARING 21:21 AFR53

En die twaalf poorte was twaalf pêrels; elkeen van die poorte was uit een pêrel, en die straat van die stad was suiwer goud soos deurskynende glas.


Elkeen van die nuwe stad Jerusalem se ingange of poorte is ‘n pêrel. Dus, twaalf pêrel poorte om die stad. Dit is waar die spreekwoordelike ‘pearly gates’ vandaan kom.


Die straat van die stad is van suiwer goud, soos deurskynende glas. Duidelik gaan die kleure en die prag en praal van hierdie stad nie van hierdie wêreld wees nie.


Die heerlikheid van God is oor die stad en Sy lig is soos ‘n kosbare edelsteen. Dit beteken God met ons soos Hy was met Moses se tabernakel, Salomo se tempel, in elkeen van ons as Christene vandag en die Millenium tempel van die toekoms. Dus is daar geen nut vir ‘n tempel in die ewigheid nie, en Johannes sê ook vir ons dat hy nie ‘n tempel sien nie.


En 'n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam.   OPENBARING 21:22 AFR53


In die begin in Genesis toe God die wêreld geskape het, was die wêreled woes en leeg en in duisternis gehul, en God het gesê laat daar lig wees, en daar was lig.


Hierdie lig was teenwoordig nog voordat God die son, maan en sterre geskape het. Hier in die boek Openbaring aan die einde van tyd keer ons weer terug na God se lig wat God se heerlikheid is en nie ‘n son, maan en sterre nodig het om lig te maak nie.


En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.   OPENBARING 21:23 AFR53


Die nasies wat gered is woon buite die stad en wandel ook in God se lig.


Die konings van die aarde bring ook hul heerlikheid en eer in die lig wat beteken dat die konings ook aan God onderdanig is.


En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin.   OPENBARING 21:24 AFR53


Nag is daar nie meer nie, net dag want God se lig hou nie op om te skyn nie.


Omdat daar nie nag is nie, hoef die poorte nie gesluit te word nie. Daar is nie meer enige gevaar nie, so die poorte kan oop bly. Al wat nou in die stad inkom is die heerlikheid en eer van die nasies.


En bedags — want nag sal daar nie meer wees nie — sal sy poorte nooit gesluit word nie; en hulle sal die heerlikheid en die eer van die nasies daarin bring.   OPENBARING 21:25-26 AFR53


Niks wat die stad verontreinig of enige gruwelikheid of leuen kan ooit weer in die stad inkom nie.


Net die wat in die boek van die lewe van die Lam ingeskryf is, net hulle sal in die stad kan inkom!


En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam.   OPENBARING 21:27 AFR53



7 Oktober 2025


OPENBARING 22:1 AFR53

En hy het my getoon 'n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam.


Die engel is nog steeds ‘n toergids en wys vir Johannes nou die besienswaardighede van die Nuwe Hemel en die Nuwe Aarde. Johannes sien die suiwer rivier van die water van die lewe. Die water is kristalhelder, en dit stroom uit die troon van God en van die Lam.


Johannes sien ‘n straat en in die middel van die straat en aan weerskante van die rivier is die boom van die lewe.


In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies.   OPENBARING 22:2 AFR53


Die laaste keer wat ons die boom van die lewe gesien het was in Genesis in die tuin van Eden, voor die sondeval.....


Ook het die Here God 'n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, 'n plek gegee. En die Here God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad.   GÉNESIS 2:8-9 AFR53


...... en toe na die sondeval, toe Adam en Eva uit die tuin verban is, en gerubs met swaarde as wagte geplaas is om toegang tot die boom te beskerm.


Toe sê die Here God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie! Toe stuur die Here God hom weg uit die tuin van Eden om die grond te bewerk waaruit hy geneem is. So het Hy dan die mens weggedrywe en gérubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon, met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak.   GÉNESIS 3:22-24 AFR53


God het verhoed dat Adam en Eva as sondige mense van die boom van die lewe eet, en dan in die toestand vir ewig lewe en verdoem sou wees. Maar, noudat ons in die hemel is, kan ons van die boom van die lewe eet om sodoende vir ewig te lewe.


Die boom dra vêrder maandeliks vrugte wat as ‘n tydmeganisme dien in die Nuwe Hemel en die Nuwe Aarde. Die tyd gaan verby en word gemeet, maar dit word slegs gemeet in maande, nie jare nie.


Die aarde is in Genesis vervloek omdat die mens gesondig het.


En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie — vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe.   GÉNESIS 3:17 AFR53


Maar nou is die vervloeking verby. Die vers gee vir ons die bevestiging - daar sal geen enkele vervloeking meer wees nie.


Wat daar wel gaan wees is die troon van God en van die Lam, en al die diensknegte gaan God en die Lam dien.


En daar sal geen enkele vervloeking meer wees nie, en die troon van God en van die Lam sal daarin wees, en sy diensknegte sal Hom dien.   OPENBARING 22:3 AFR53



8 Oktober 2025


OPENBARING 22:4 AFR53

En hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam sal op hulle voorhoofde wees.


Vir die eerste keer ooit sal mense God se aangesig kan sien, en God se Naam sal op almal se voorhoofde wees. Mattheus vertel vir ons dat die wat rein van hart is, God sal sien.


Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.   MATTHÉÜS 5:8 AFR53


Hier is weer bevestiging soos in die vorige hoofstuk dat daar nooit weer nag sal wees nie.


En nag sal daar nie wees nie; en hulle het geen lamp of sonlig nodig nie, omdat die Here God hulle verlig; en hulle sal as konings regeer tot in alle ewigheid.   OPENBARING 22:5 AFR53


Geen lamp of sonlig is nodig nie want God self is die lig wat ewigdeur skyn.


En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.    OPENBARING 21:23 AFR53


Vêrdere bevestiging word gegee dat ons saam met God en die Lam as konings gaan regeer.


Dit is 'n betroubare woord; want as ons met Hom gesterf het, sal ons ook met Hom lewe. As ons verdra, sal ons met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën.   II TIMÓTHEÜS 2:11-12 AFR53


en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.   OPENBARING 1:6 AFR53


Die engel sê vir Johannes soos ook God in die vorige hoofstuk, dat hierdie woorde betroubaar en waaragtig is.


En hy het vir my gesê: Hierdie woorde is betroubaar en waaragtig; en die Here, die God van die heilige profete, het sy engel gestuur om sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur.    OPENBARING 22:6 AFR53


Watter woorde is waar? Die hele profesie van Openbaring wat ons deurgewerk het. Die vers sê dat die Here, die God van die heilige profete, Sy engel gestuur het om aan Sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur. Hierdie woorde het ons aan die begin van Openbaring gelees.


Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het,   OPENBARING 1:1 AFR53


God self sê: kyk, Ek kom gou! Die sin word drie keer herhaal in die hoofstuk. Hierdie vers, en verse 12 en 20.


Kyk, Ek kom gou. Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar.   OPENBARING 22:7 AFR53


Salig of geseënd is hy (elkeen wat hier lees) wat die profesie van hierdie boek bewaar. Weereens bevestiging soos in hoofstuk een, dat die studie van die boek Openbaring en die bewaring van die woorde in jou hart, ‘n seëning vir sy leser belowe.


Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.   OPENBARING 1:3 AFR53



9 Oktober 2025


OPENBARING 22:8 AFR53

En dit is ek, Johannes, wat dit gesien en gehoor het; en toe ek dit gehoor en gesien het, het ek neergeval om te aanbid voor die voete van die engel wat my hierdie dinge getoon het.


Johannes vertel vir ons dat hy die een is wat die woorde van die profesie van Openbaring ontvang het, en dat hy voor die voete van die engel wat hom die dinge getoon het, neergeval het.


En ek het voor sy voete neergeval om hom te aanbid; maar hy het vir my gesê: Moenie! Ek is 'n mededienskneg van jou en van jou broeders wat die getuienis van Jesus het. Aanbid God. Want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie.   OPENBARING 19:10 AFR53


Ek is nie seker of Johannes net terugdink, en of hy weer voor die engel neergeval het nie, maar die uiteinde is: Moenie! Aanbid God alleen.


Toe sê hy vir my: Moenie! want ek is 'n mededienskneg van jou en van jou broeders, die profete, en van hulle wat die woorde van hierdie boek bewaar. Aanbid God.   OPENBARING 22:9 AFR53


Johannes moet nie die woorde van die boek Openbaring verseël nie, want die tyd is naby.


En hy het vir my gesê: Moenie die woorde van die profesie van hierdie boek verseël nie, want die tyd is naby.   OPENBARING 22:10 AFR53


Hierdie is ‘n totaal ander boodskap as wat Daniel in die Ou Testment gekry het, toe hy die woorde van sy profesie wel moés verseël. Daniel se profesie was nog in die verre toekoms.


En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder.

En hy het gesê: Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe.   DANIËL 12:4, 9 AFR53


Johannes word daaraan herinner dat, die feit dat hierdie boek in ons tyd verstaan ​​kan word, nie beteken dat ongelowiges daaruit voordeel sal trek nie. Inteendeel, die engel sê dat ongelowiges sal voortgaan om hul sondige weë te volg.


Slegs wanneer en as die Gees daardie weg onderbreek deur vir hulle reddende geloof te bring, sal dit verander. Intussen sal diegene wat die waarheid het, tot die einde toe in Christus se hand bly.


Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word.   OPENBARING 22:11 AFR53


Ek kom gou! Die tweede keer in die hoofstuk wat die woorde uitgespreek word.


En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees. OPENBARING 22:12 AFR53


Jesus praat met ons, die gelowiges en sê Sy koms is gou en Hy bring Sy beloning vir elkeen om te ontvang volgens ons werke. Ons kan dus nie lui raak omdat ons weet Jesus se koms is naby nie, ons moet soos Paulus wees. Stry die goeie stryd, voltooi die wedloop, en behou jou geloof!


Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.   II TIMÓTHEÜS 4:7 AFR53



10 Oktober 2025


OPENBARING 22:13 AFR53

Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste.


Jesus beklemtoon weereens wie Hy is: die Alfa en die Omega, die begin en die einde, die eerste en die laaste. Hierdie woorde is op drie ander geleenthede in Openbaring geuiter.


Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.   OPENBARING 1:8 AFR53


wat sê: Ek is die Alfa en die Oméga, die eerste en die laaste, en skryf wat jy sien in 'n boek en stuur dit na die sewe gemeentes wat in Asië is: na Éfese en Smirna en Pérgamus en Thiatíre en Sardis en Filadelfía en Laodicéa.   OPENBARING 1:11 AFR53


En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet.   OPENBARING 21:6 AFR53


Geseënd is die wat God se gebooie doen! Dié mense het die reg om te eet van die boom van die lewe, en kan ingaan deur die poorte in die stad.


Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad.   OPENBARING 22:14 AFR53


Daar is sewe saligspreuke in die boek Openbaring, en hierdie een is die sewende. Hiermee ‘n lys van die ander ses saligspreuke.


Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.   OPENBARING 1:3 AFR53


En ek het 'n stem uit die hemel aan my hoor sê: Skryf — salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle.   OPENBARING 14:13 AFR53


Kyk, Ek kom soos 'n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie.   OPENBARING 16:15 AFR53


Toe sê hy vir my: Skryf — salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God.   OPENBARING 19:9 AFR53


Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.   OPENBARING 20:6 AFR53


Kyk, Ek kom gou. Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar.   OPENBARING 22:7 AFR53


Maar buite......  buite God se wil, dus die wat nie soos in die vorige vers God se gebooie doen nie, is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen.


Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen.   OPENBARING 22:15 AFR53




11 Oktober 2025


OPENBARING 22:16 AFR53

Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester.


Jesus gee bevestiging van dit wat ons reeds geleer het. Jesus het Sy engel gestuur om al die dinge van die profesie in Openbaring aan die gemeentes te betuig.


Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het,   OPENBARING 1:1 AFR53


Dan vêrder gee Jesus vir ons Sy geslagsregister, Hy is die wortel en van die geslag van Dawid.


Maar daar sal 'n takkie uitspruit uit die stomp van Ísai, en 'n loot uit sy wortels sal vrugte dra;  JESAJA 11:1 AFR53


Die  geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham:  MATTHÉÜS 1:1 AFR53


Die Gees en die bruid nooi die wat hoor, en die wat dors het, en die wat wil, om verniet die water van die lewe te neem.


En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.    OPENBARING 22:17 AFR53


Johannes praat nou met almal wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor, dus die boek Openbaring. Die waarskuwing wat gegee word is baie duidelik. As iemand by hierdie dinge iets byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in Openbaring geskryf is.


Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is.   OPENBARING 22:18 AFR53


In aansluiting met die vorige vers word die waarskuwing uitgebrei. As iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God die persoon se deel wegneem uit die boek van die lewe, en die heilige stad, en die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.


En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.   OPENBARING 22:19 AFR53


So dit is baie duidelik: Moet nie iets byvoeg of wegneem van die profesie wat hier gegee is nie, want daar wag slegte gevolge op die persoon wat nie luister nie.


Jesus getuig finaal dat Hy weer terugkom met: Ja, Ek kom gou. En Johannes antwoord daarop: Amen, ja kom, Here Jesus!


Om af te sluit spreek Johannes ‘n finale seën uit oor sy lesers -  Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen.


Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus! Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen.   OPENBARING 22:20-21 AFR53




Comments


  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page