Engele in die Bybel - Openbaring 14 tot 16
- Regina Torre
- Sep 3
- 24 min read
Updated: Sep 28

3 September 2025
OPENBARING 14:1 AFR53
En ek het gesien, en kyk, die Lam staan op die berg Sion, en saam met Hom honderd-vier-en-veertigduisend met sy Naam en die Naam van sy Vader op hulle voorhoofde geskrywe.
Ons is nog steeds in die middel van die Verdrukking en beweeg nou terug na die hemel waar Johannes vir ons verduidelik wat hy sien.
Die eerste wat hy sien is die Lam (Jesus) op die berg Sion. Die stad van God in die hemel, naamlik die hemelse stad Jerusalem, het ook ‘n berg Sion, en dit is wat Johannes sien. Ons lees in die boek Hebreërs ook van die hemelse Jerusalem.
Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, HEBREËRS 12:22 AFR53
Johannes sien verder die 144,000 Joodse evangeliste, met die Naam van God op hul voorhoofde wat saam met Jesus staan op die berg Sion. Hulle is dus almal nou in die hemel, elkeen van hulle, nie een is agtergelaat nie.
Johannes sien nie net visioene nie, maar hy hoor ook geluide. Duidelik is die hemel nie ‘n stil en somber plek nie want Johannes hoor die musiek van siterspelers, die klank van ‘n harde donderslag en iets wat klink soos die geluid van baie waters.
En ek het 'n geluid uit die hemel gehoor soos die geluid van baie waters en soos die geluid van 'n harde donderslag, en ek het die geluid gehoor van siterspelers wat speel op hulle siters. OPENBARING 14:2 AFR53
Ons het hier bevestiging dat ons na ‘n toneel in die hemel kyk want die 144,000 se toeskouers is die vier lewende wesens, die ouderlinge en hulle staan voor die troon van God. Die evangeliste sing ‘n nuwe lied, ‘n lied wat net hulle kan sing want niemand kon die lied leer nie.
Die 144,000 is vrygekoop van die aarde wat beteken dat hulle nie meer op die aarde is nie, hulle is in die hemel en is vrygekoop deur die bloed van Jesus Christus.
En hulle het 'n nuwe lied gesing voor die troon en voor die vier lewende wesens en die ouderlinge; en niemand kon die lied leer nie, behalwe die honderd-vier-en-veertigduisend wat van die aarde vrygekoop is. OPENBARING 14:3 AFR53
Wat is die eienskappe van die 144,000 evangeliste. Hulle is maagdelik rein, want hulle het hulself nie met vroue besoedel nie, en hulle het die Lam (Jesus) oral gevolg.
Hulle is ook gekoop uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam. Hier het ons te doen met die begrip van eerste vrugte - die eerste vrugte van enige oes wat afgehaal word, word nie self geëet nie, maar aan God geoffer. Voorbeelde is: die eerste are van die koring oes, die eerste kalfie van ‘n koei wat gebore word en in die geval van die 144,000, die eerste volgelinge van Jesus in die Groot Verdrukking tydperk.
Dit is hulle wat hulself met vroue nie besoedel het nie, want hulle is maagdelik rein; dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan; dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam. OPENBARING 14:4 AFR53
Die 144,000 het nie die leuen geglo wat Satan aan die wêreld verkondig het nie. Hulle praat net die waarheid want in hul monde is geen bedrog gevind nie. Hulle is sonder fout of gebrek omdat hulle met die geregtigheid van Jesus geklee is.
En in hulle mond is daar geen bedrog gevind nie; want hulle is sonder gebrek voor die troon van God. OPENBARING 14:5 AFR53
4 September 2025
OPENBARING 14:6 AFR53
En ek het 'n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met 'n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke.
Johannes sien nou sewe engele elkeen met ‘n ander boodskap. Die eerste engel vlieg in die lug en verkondig die evangelie aan al die bewoners van die aarde. ‘n Pratende engel wat deur die lug vlieg moet tog ‘n uitwerking hé op die mense wat dit aanskou en hoor!
Die engel praat met die bewoners van die aarde - al die nasies en stamme en tale en volke. Die engel sal dus praat dat almal hom kan hoor en verstaan.
Die engel praat met ‘n groot stem en waarsku die mensdom dat die uur van God se oordeel gekom het, met ander woorde, die tyd loop uit om Jesus as Verlosser te aanvaar.
En hy het met 'n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het. OPENBARING 14:7 AFR53
Voor Jesus opgevaar het na die hemel het hy ‘n taak aan Sy diddipels en ook aan elkeen van ons gegee. Die taak is om uit te gaan en disippels te maak van al die nasies.
Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. MATTHÉÜS 28:19 AFR53
Jesus het ook aan Sy dissipels gesê dat die evangelie eers aan die hele wêreld verkondig sal word voor die einde kom.
En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot 'n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom. MATTHÉÜS 24:12-14 AFR53
Ons is nou hier naby die einde en dit wat die mens nie kon doen nie, dit doen die engel nou - verkondig vir oulaas die evangelie sodat almal ‘n kans kry om die Blye Boodskap te hoor.
Die tweede engel kondig aan dat die groot stad Babilon geval het - Satan se hoofkwartiere van die begin af. Hierdie is die eerste keer in Openbaring dat die stad Babilon genoem word en ons sal meer inligting kry in die volgende hoofstukke.
En 'n ander engel het gevolg en gesê: Geval, geval het Babilon, die groot stad, omdat sy al die nasies laat drink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery. OPENBARING 14:8 AFR53
Profete het vele kere van Babilon, of Babel soos die Ou Testament daarna verwys het, se val geprofeteer.
Vlug uit Babel uit, en red elkeen sy lewe; kom nie om in sy ongeregtigheid nie; want dit is die tyd van wraak vir die Here: Hy gee hom sy verdiende loon. JEREMIA 51:6 AFR53
So sal dan Babel, die sieraad van die koninkryke, die trotse pronkstuk van die Chaldeërs, wees soos toe God Sodom en Gomorra omgekeer het. JESAJA 13:19 AFR53
5 September 2025
OPENBARING 14:9 AFR53
En 'n derde engel het hulle gevolg en met 'n groot stem gesê: As iemand die dier en sy beeld aanbid en 'n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang,
Die derde engel verskyn nou op die toneel en praat ook met ‘n groot stem vir almal om te hoor. Die engel se boodskap verduidelik wat gaan gebeur as iemand die dier aanbid en ‘n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang.
Geen doekies word meer omgedraai nie, die engele wat nou praat kom met laaste en finale waarkuwings. Ai, hoe dom en onverskillig is diegene wat nie wil luister nie!
Die mense wat die dier aanbid en die merk ontvang sal drink van die wyn van die grimmigheid van God - met ander woorde, hulle sal God se wraak ontvang as straf vir hul hardnekkigheid.
sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam. OPENBARING 14:10 AFR53
Die wyn word ongemeng in die beker van God se toorn ingeskink, met ander woorde die wyn word nie verdun met iets soos water nie, maar word volsterkte ingeskink - volsterkte wraak!
Elkeen wat God verwerp sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam.
Herhaling is veronderstel om dit wat die skrywer wil sê te beklemtoon. Die woorde wat hier herhaal word is: diegene wat die dier aanbid en sy merk ontvang sal gestraf word.
Die skrywer, Johannes, wil vir almal wat Jesus nog nie as Verlosser aanvaar het nie bombardeer met sy woorde van waarskuwing. Die pyniging van God se wraak sal vir ewig duur, hulle het dag en nag geen rus nie, net pyn, vir ewig en ewig ................
En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie — hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang. OPENBARING 14:11 AFR53
Lydsaamheid word beter beskryf deur die woord volharding. Hier kom dus die volharding van die heiliges te pas. Die heiliges is die mense wat God se gebooie onderhou en hul geloof in Jesus bewaar. Johannes self praat hier en hy vertel vir die heiliges om te volhard gedurende die drie en ‘n half jaar verdrukking wat nou gaan volg.
Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar. OPENBARING 14:12 AFR53
Johannes hoor ‘n stem (die vierde engel) uit die hemel wat vir hom hierdie woorde gee om aan die heiliges oor te dra. Salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Salig is die engelse woord ‘blessed’ of anders gestel geseënd. Dus, geseënd is die mense wat doodgemaak word omdat hulle in Jesus glo en nie die dier aanbid nie.
En ek het 'n stem uit die hemel aan my hoor sê: Skryf — salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle. OPENBARING 14:13 AFR53
Ons het hier ‘n kontras tussen die wat die dier aanbid, en die wat vir hul geloof sterf. Die wat die dier aanbid ontvang God se wraak met vuur en swawel, en word in hul dood vir ewig en ewig gepynig dag en nag, maar die wat in die Here sterwe ontvang rus van hul arbeid en hul goeie werke volg hulle.
Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. MATTHÉÜS 11:28 AFR53
6 September 2025
OPENBARING 14:14 AFR53
En ek het gesien, en kyk, daar was 'n wit wolk en een soos 'n Menseseun wat op die wolk sit, met 'n goue kroon op sy hoof en in sy hand 'n skerp sekel.
Johannes sien iemand wat op ‘n wolk sit, een soos ‘n Menseseun met ‘n goue kroon op sy hoof en ‘n skerp sekel in sy hand. Hierdie is nie Jesus nie want:
die iemand is soos ‘n Menseseun en nie die Menseseun nie, en
die kroon is in Grieks ‘stephanos’ dus nie die kroon van ‘n koning ‘diadem’ nie, maar die kroon wat jy bv. wen in ‘n wedstryd by die olimpiese spele.
Hierdie is die volgende engel, die vyfde engel wat Johannes sien.
‘n Stem uit die tempel gee vir die vyfde engel wat op die wolk sit ‘n opdrag met ‘n groot stem. Die engel moet die sekel inslaan en maai want die oes van die aarde is oorryp.
En 'n ander engel het uit die tempel gekom en met 'n groot stem geroep na Hom wat op die wolk sit: Slaan u sekel in en maai, want die uur het vir U gekom om te maai, omdat die oes van die aarde oorryp geword het. OPENBARING 14:15 AFR53
Engele word gebruik om gelowiges (die oes) wat deur die Antichris onthoof word te versamel en na die hemel te vergesel. Ons sien in Lukas dat gelowiges (soos in die verhaal van die ryk man en Lasarus) deur engele na die hemel vergesel word wanneer hulle sterf.
En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan. MATTHÉÜS 24:31 AFR53
En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham. LUKAS 16:22 AFR53
Die engel op die wolk se taak met sy sekel is om gelowiges wat gemartel is tot die dood toe, te gaan haal.
En Hy wat op die wolk sit, het sy sekel oor die aarde laat gaan, en die aarde is afgemaai. OPENBARING 14:16 AFR53
Hierdie is die graanoes en die mense wat in die tyd doodgemaak word is soos ons in Daniel sien, die gelowiges wat deur die Antichris wat in daardie tyd gaan heers, onthoof word.
Die elfde koning sal opstaan en verskillend wees van die tien voor hom. Hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel. Die gelowiges sal in sy hand oorgegee word gedurende ‘n tyd en tye en die helfte van tyd - dus die tweede drie en ‘n half jaar van die sewe jaar verdrukking.
En die tien horings — uit daardie koninkryk sal tien konings opstaan, en 'n ander een sal ná hulle opstaan, en hý sal verskillend wees van die voriges en drie konings neerwerp. En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende 'n tyd en tye en die helfte van 'n tyd. DANIËL 7:24-25 AFR53
7 September 2025
OPENBARING 14:17 AFR53
En 'n ander engel het uitgekom uit die tempel wat in die hemel is, en hy het ook 'n skerp sekel gehad;
Die sesde engel kom uit die tempel in die hemel, ook met ‘n sekel. Hierdie engel gaan sy sekel op ‘n ander groep mense gebruik. Die vyfde engel het sy sekel vir ‘n graanoes gebruik in verse 14 tot 16 en die graanoes het die gelowiges voorgestel.
Die volgende groep wat hier in verse 17 tot 20 beskryf word, is die ongelowiges, die wat die merk van die dier ontvang het, wat in die wynoes God se wraak gaan ontvang.
Die sewende engel wat Johannes sien het mag oor vuur. Die engel kom ook uit die tempel in die hemel en roep ook met ‘n groot stem. Die sewende engel roep na die sesde engel wat die skerp sekel het en sê: slaan jou skerp sekel in en versamel die trosse van die wingerdstok want die druiwe is ryp.
en 'n ander engel wat mag oor die vuur gehad het, het uit die altaar uitgekom en met 'n groot stem geroep na hom wat die skerp sekel het, en gesê: Slaan jou skerp sekel in en samel die trosse van die wingerdstok van die aarde in, want sy druiwe het ryp geword. OPENBARING 14:18 AFR53
Johannes sien vorentoe in tyd na die einde van die Verdrukking tydperk en die groep wat versamel word, word gekenmerk as druiwetrosse wat ryp geword het. Hierdie groep is die ongelowiges wat deur die engel ingesamel word.
Jesus het ons geleer wat gebeur aan die einde met die oestyd. Jesus het die gelowiges met koring vergelyk en die ongelowiges met onkruid. Die onkruid gaan verbrand word - vandaar die engel wat gebruik word wat mag oor vuur het.
Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur. MATTHÉÜS 13:30 AFR53
Die sesde engel voer sy opdrag uit, hy laat sy sekel oor die aarde gaan en oes die wingerdstok heeltemal af. Wat gebeur met die wingerdstokke wat afgeoes is? Dit word als gegooi in die groot parskuip van die grimmigheid van God.
En die engel het sy sekel oor die aarde laat gaan en die wingerdstok van die aarde afgeoes en dit gegooi in die groot parskuip van die grimmigheid van God. OPENBARING 14:19 AFR53
Onthou dat Johannes hier die einde van die Verdrukking sien. Die ongelowiges word almal versamel na ‘n plek wat in Hebreeus genoem word Armageddon. Ons gaan meer inligting kry in hoofstuk 16.
En die parskuip is buitekant die stad getrap, en bloed het uit die parskuip gekom tot aan die tooms van die perde, tweehonderd myl ver. OPENBARING 14:20 AFR53
8 September 2025
OPENBARING 15:1 AFR53
En ek het 'n ander teken in die hemel gesien, groot en wonderlik: sewe engele met die sewe laaste plae, want daarmee is die grimmigheid van God voleindig.
Openbaring 14 het geeindig met die slag van Armaggedon, maar in hierdie hoofstuk stap Johannes bietjie terug in tyd om vir ons die landskap voor God se algehele oordeel te beskryf.
Johannes sien nou hoe die einde gaan afspeel. Hy sien sewe engele met die sewe laaste plae vol van God se grimmigheid.
Die idee van plae wat volg na ongehoorsaamheid is ‘n deurlopende tema in die Bybel. Enigste verskil hier in Openbaring is dat die sewe skale die sewe finale plae is voor Satan vir ewig oorwin gaan word, en Jesus vir ewig as koning gaan regeer.
Die tempel van God is prominent in die hoofstuk. Ons het in Openbaring 4 ook die see van glas raakgeloop en dit beskryf as die waskom van die tempel. Die see van glas in die troonkamer is van kristal, want niemand hoef meer skoon te was nie!
Die koperwaskom en die brandofferaltaar was bymekaar in die buitehof van die tempel. In hierdie vers is die see van glas, gemeng met vuur ‘n prentjie van die buitehof van die tempel. Jesus het as ‘n Lam sonder gebrek aan die kruis gesterf vir my en jou sondes (die brandofferaltaar) en elkeen van ons is skoongewas van ons sondes (die koperwaskom).
Johannes sien die oorwinnaars oor die dier, en oor sy beeld en oor sy teken en oor die getal van sy naam by die see van glas - dit is almal wat in die Verdrukking Jesus as Verlosser aanvaar het en in die proses geweier het om die dier te aanbid. Hy sien die mense by die see van glas gemeng met vuur want hulle het Jesus as Verlosser aanvaar en is skoongewas van hul sondes.
En ek het gesien iets soos 'n see van glas, gemeng met vuur. En die oorwinnaars oor die dier en oor sy beeld en oor sy teken, oor die getal van sy naam, het ek by die see van glas sien staan, met siters van God. OPENBARING 15:2 AFR53
Die oorwinnaars oor die dier het ook ‘n lied wat hulle sing tot eer van God. Hulle sing die lied van Moses wat in Exodus 15:1-21 aangeteken word. ‘n Dankseggingslied na die uittog uit Egipte en daarna die trek deur die Rooi See wat na links en regs oopgemaak het sodat die Israeliete kon deurloop.
Die lied van die Lam is opgeteken in Openbaring 5:9-12. Hier word gesing dat Jesus waardig is om die seëls oop te maak, en as geslagte Lam is Jesus waardig om al die lof en eer en heerlikheid te ontvang.
Al die liedere wat gesing word is tot eer en verheerliking van God die Almagtige!
En hulle het die lied gesing van Moses, die dienskneg van God, en die lied van die Lam, en gesê: Groot en wonderlik is u werke, Here God, Almagtige; regverdig en waaragtig is u weë, o Koning van die heiliges! OPENBARING 15:3 AFR53
Wat beteken dit om God te vrees?
Vir die ongelowige beteken vrees vir God die vrees vir God se oordeel en die ewige dood, wat ‘n ewige skeiding van God is.
Vir die gelowige is die vrees vir God iets heeltemal anders. Die gelowige se vrees is eerbied en ontsag vir God.
Ons kan net uitsien na die tyd wanneer al die nasies God gaan vrees en Hom gaan aanbid.
Wie sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie? Want U alleen is heilig; want al die nasies sal kom en voor U aanbid, omdat u regverdige dade openbaar geword het. OPENBARING 15:4 AFR53
9 September 2025
OPENBARING 15:6 AFR53
En die sewe engele met die sewe plae het uit die tempel uitgekom, bekleed met rein, blink linne, en om die bors omgord met goue gordels.
Die tempel word 15 keer genoem in die boek Openbaring, maar eers vanaf hoofstuk 4 nadat die kerk weggeraap is. Vanaf hoofstuk 4 vorentoe werk God met die Joodse volk, Sy volk vir wie die tempel belangrik is.
En ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, die tempel van die tent van die getuienis in die hemel is geopen. OPENBARING 15:5 AFR53
Moses het die eerste tempel gebou en die planne vir die tempel het hy op die berg gekry. God het vir Moses ‘n voorbeeld gewys van die tempel in die hemel.
Die sewe engele se sewe plae verteenwoordig God se oordeel. Die engele kom van die teenwoordigheid en troon van God wat in die tempel is.
Die Ou Testament hoëpriester se werk was om op die Versoeningsdag of Jom Kippur die bloed van ‘n dier sonder gebrek op die versoendeksel van die verbondsark in die Allerheilgste vertrek te sprinkel om sodoende die sondes van die volk vir die jaar vorentoe te bedek.
Die sewe engele met rein of wit klere en goue gordels, lyk baie soos die hoë priester wat ook wit klere aangetrek het om op die Versoeningsdag voor God te verskyn.
Die mense wat God se wraak gaan ontvang aan die einde van die Verdrukking het nie meer die voorreg om met bloed bedek te word nie, die voorreg is vir ewig verbeur toe hulle die dier se merk geneem het om hom te aanbid.
Een van die vier lewende wesens gee vir die sewe engele, sewe goue skale. Die woord skale is misleidend in die Afrikaanse vertaling want ons weeg nie hier die inhoud nie, dis eerder die houer self - breë vlak bak of diep piering - waarna hier verwys word.
Die inhoud van die bakke is die grimmigheid van God. Die grimmigheid van God word beskryf as die toorn wat ongelowiges gaan ontvang wanneer elkeen van hulle geoordeel sal word volgens hul werke.
En een van die vier lewende wesens het aan die sewe engele sewe goue skale gegee, vol van die grimmigheid van God wat leef tot in alle ewigheid. OPENBARING 15:7 AFR53
In die Ou Testament het Aaron op die Versoeningsdag ‘n vuurpan met gloeiende kole geneem en op die reukofferaltaar in die Heilige vertrek van die tempel geplaas. Daarna moes hy reukwerk van speserye op die kole strooi sodat ‘n dik wolk in die Heilige en Allerheilgste vertrekke gehang het. Die rook het veroorsaak dat hy God nie kon sien nie, en het so nie gesterwe nie.
en die vuurpan vol gloeiende kole van die altaar voor die aangesig van die Here wegneem; daarby twee handevol fyngestampte reukwerk van speserye en dit binnekant die voorhangsel bring. En hy moet die reukwerk op die vuur lê voor die aangesig van die Here, dat die wolk van die reukwerk die versoendeksel wat op die Getuienis is, kan oordek, sodat hy nie sterwe nie. LEVÍTIKUS 16:12-13 AFR53
God se teenwoordigheid gekenmerk deur die rook vul weereens die tempel in die hemel en niemand mag ingaan voordat die sewe plae van die sewe engele nie voltooi is nie.
En die tempel het vol rook geword uit die heerlikheid van God en uit sy krag, en niemand kon ingaan in die tempel voordat die sewe plae van die sewe engele voleindig was nie. OPENBARING 15:8 AFR53
10 September 2025
OPENBARING 16:1 AFR53
En ek het 'n groot stem uit die tempel aan die sewe engele hoor sê: Gaan gooi die skale van die grimmigheid van God op die aarde uit.
Ons het in die vorige hoofstuk gesien dat sewe engele met sewe plae uit die tempel uitgekom het, en een van die vier lewende wesens het vir elke engel ‘n skaal gegee met die grimmigheid van God. Vêrder het ons gesien dat die tempel gevul is met rook van die heerlikheid van God, en van hier af kan niemand in die tempel ingaan totdat die sewe plae voltooi is nie.
Die groot stem wat Johannes nou hoor wat uit die tempel uitkom is dus die stem van God. Die stem gee ‘n bevel aan die engele - gooi die skale van die grimmigheid van God op die aarde uit!
Die eerste engel gooi sy skaal op die aarde uit en die mense wat die teiken van die plae is, is die mense wat die merk van die dier het en sy beeld aanbid. Hulle slaan uit met kwaai en bose swere.
Toe gaan die eerste een weg en gooi sy skaal op die aarde uit, en kwaai en bose swere het aan die mense gekom wat die merk van die dier gehad het en sy beeld aanbid het. OPENBARING 16:2 AFR53
Die tweede engel gooi sy skaal op die see uit en die see word soos die bloed van ‘n dooie, wat tot gevolg het dat als wat lewe in die see sterf.
En die tweede engel het sy skaal op die see uitgegooi, en dit het bloed geword soos van 'n dooie, en al die lewende wesens in die see het gesterwe. OPENBARING 16:3 AFR53
Die derde engel gooi sy skaal op die vars water van die aarde uit en die riviere en waterfonteine word bloed. Nou is al die water ondrinkbaar - die see water en die vars water.
En die derde engel het sy skaal uitgegooi op die riviere en op die waterfonteine, en dit het bloed geword. OPENBARING 16:4 AFR53
Hierdie oordeel is een van die talle aanduidings dat die sewe skale wat uitgegooi word aan die einde van die sewe jaar Verdrukking plaasvind.
Hoe lank kan iemand oorleef sonder om water te drink? Slegs 'n paar dae!
Die wêreld sal ‘n tyd lank kan oorleef op watervoorrade wat opgegaar is, maar beslis nie vir jare nie, so hier kom moeilikheid.
Johannes hoor die engel van die waters se woorde. Die engel begin met lofprysing soos ons geleer is om te bid. God die alomteenwoordige wat is en wat was. Hy begin met die woord regverdig, dus beklemtoon hy dat die oordele oor die wat die dier en sy beeld aanbid regverdig uitgevoer word.
En ek het die engel van die waters hoor sê: Regverdig, Here, is U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel uitgevoer het; OPENBARING 16:5 AFR53
Die engel verduidelik dat die bloed van hierdie oordele 'n vergoeding is vir die wêreld wat die bloed van die heiliges vergiet het en daarom verklaar die engel dat die wêreld verdien om sonder water te wees. Die wêreld wat die heiliges en profete doodgemartel het, verdien dit om bloed, en nie water nie, te drink.
‘n Ander engel praat uit die altaar en sê met lofprysing aan God dat die oordele waaragtig en regverdig is.
want hulle het die bloed van heiliges en profete vergiet, en U het aan hulle bloed gegee om te drink, want hulle het dit verdien. En ek het 'n ander een uit die altaar hoor sê: Ja, Here God, Almagtige, waaragtig en regverdig is u oordele. OPENBARING 16:6-7AFR53
11 September 2025
OPENBARING 16:8 AFR53
En die vierde engel het sy skaal op die son uitgegooi, en daaraan is dit gegee om die mense met vuur te skroei.
Die vierde engel gooi sy skaal op die son uit en dit het tot gevolg dat die hitte van die son so warm word dat die mense deur die son geskroei word.
Die mense wat die dier se merk het en sy beeld aanbid loop nou rond met kwaai en bose swere. Wanneer hulle krane oopmaak om water te drink of die swere te wil ontsmet, kom daar net bloed uit, en nou skroei die son se strale so erg dit voel soos vuur. Klink nie soos ‘n plek waar enige persoon wil opeindig nie!
En die mense is geskroei met 'n groot hitte, en hulle het die Naam van God gelaster wat mag het oor hierdie plae, en hulle het hul nie bekeer om Hom heerlikheid te gee nie. OPENBARING 16:9 AFR53
Hoe erger die oordele word, hoe verder beweeg die mense wat deur die plae getref word van God af weg.
Ongelooflik om te dink dat alhoewel almal op aarde teen die tyd 100% weet en besef dat die plae van God self kom, hulle nog steeds hul rug op Hom draai en eerder kies om hel toe te gaan!
Die teiken van die oordele beweeg nou van die mense na die dier of die Antichris self, en die spesifieke teiken is die dier se troon of anders gestel sy hoofkwartiere.
En die vyfde engel het sy skaal uitgegooi op die troon van die dier, en sy koninkryk is verduister, en hulle het hul tonge gekou van pyn; OPENBARING 16:10 AFR53
In hoofstuk 13 word die vraag gevra - Wie kan teen die draak oorlog voer?
En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer? OPENBARING 13:4 AFR53
Die vraag word hier geantwoord met die vyfde skaal wat op die dier se troon uitgegooi word en sy koninkryk so verduister dat die mense hul tonge kou van pyn. Die dier se koninkryk wat verduister is, is op hierdie stadium die hele wêreld behalwe die gebied van Petra waar die Joodse volk nou skuiling vind.
Hier is weereens bevestiging dat die mense hulle nie bekeer van hul werke nie. Die mense wat die dier aanbid hou aan om die God van die hemel te laster want hulle weet hul pyne en swere word deur God veroorsaak.
en hulle het die God van die hemel gelaster oor hulle pyne en oor hulle swere, en het hulle nie bekeer van hul werke nie. OPENBARING 16:11 AFR53
Daniel gebruik ook die aanspreekvorm van God soos ons in die vers sien - die God van die hemel!
en dat hulle barmhartigheid van die God van die hemel moes afsmeek oor hierdie geheim, sodat hulle Daniël en sy metgeselle saam met die orige wyse manne van Babel nie sou ombring nie. Daarop is in 'n naggesig die geheim aan Daniël geopenbaar. Toe het Daniël die God van die hemel geloof. DANIËL 2:18-19 AFR53
12 September 2025
OPENBARING 16:12 AFR53
En die sesde engel het sy skaal uitgegooi op die groot rivier, die Eufraat, en sy water het opgedroog, sodat die pad van die konings wat van die ooste af kom, reggemaak kon word.
Die sesde engel gooi sy skaal op die Eufraat uit en dié groot rivier droog in geheel op om ‘n maklike pad voor te berei vir die konings van die Ooste. Hierdie is die sewe konings waarvan Daniel ons vertel het en wat saam met die Antichris gaan beplan om teen God te veg.
Die Eufraat rivier is met die verbond wat God met Abraham gesluit het gekenmerk as die oostelike grens van Israel, maar Israel het tot en met vandag nog nie die grond in besit geneem om die grens hul eie te maak nie.
Op dié dag het die Here met Abram 'n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier:. GÉNESIS 15:18 AFR53
Johannes sien nou die onheilige drie-eenheid in werking. Satan die groot nabootser werk nou in al sy glorie asof hy God drie-enig is. Die draak, die dier en die valse profeet werk nou al drie onverpoos want hulle maak gereed vir die grootste oorlog van hul bestaan - die finale oorlog teen God Almagtig!
En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom. OPENBARING 16:13 AFR53
Die geeste van duiwels doen nou tekens, en hulle gaan uit na die konings van die aarde en na die hele wêreld want hulle wil almal versamel vir die groot oorlog wat teen God gevoer gaan word. Dit is belangrik om te onthou dat God al die gebeure beplan en met die Eufraat rivier wat opgedroog het maak God die pad oop vir die Antichris en sy volgelinge van die Ooste om na Israel op te trek.
Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God. OPENBARING 16:14 AFR53
Salig of geseënd is die mense wat nieteenstaande hul haglike omstandighede van die tydperk leef in die lig en nie in die duisternis nie.
Kyk, Ek kom soos 'n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie. OPENBARING 16:15 AFR53
Hierdie vers verwys na die waarskuwing wat Paulus in sy tyd aan die Christene gegee het. Wees waaksaam sodat die koms van Jesus nie onverwags en soos ‘n dief in die nag jou sou oorval nie.
Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos 'n dief sou oorval nie. I THESSALONICENSE 5:4 AFR53
Die woord Armageddon is vertaal uit Hebreeus en beteken die heuwel of stad van Megiddo.
Armageddon is die plek waar die konings van die dier hul leërs gaan versamel ter voorbereiding van die groot oorlog wat hulle teen God gaan voer.
En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon. OPENBARING 16:16 AFR53
Menige profete van die Ou Testament het geprofeteer oor die oorlog wat aan die einde van tyd gaan plaasvind.
In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem, soos die rouklag van Hadad-Rimmon in die laagte van Megíddo. SAGARÍA 12:11 AFR53
13 September 2025
OPENBARING 16:17 AFR53
En die sewende engel het sy skaal uitgegooi in die lug, en 'n groot stem het uit die tempel van die hemel gekom, van die troon af, wat gesê het: Dit is verby!
Die sewende engel gooi die sewende en laaste skaal uit in die lug. Die lug is die laaste sfeer van Satan se invloed - die owerste van die mag van die lug.
Die groot stem van God wat op die troon in die hemel sit, sê: Dit is verby! Met die sewende skaal is God se wraak uitgevoer en verby.
Die sewende skaal wat in die lug uitgegooi word gaan gepaard met stemme en donderslae en bliksemstrale - ‘n geweldige en vreeslike geraas!
En dan volg dié grootste en geweldigste aardbewing - die vers verduidelik die aardbewing se uitwerking - een soos wat die wêreld nog nooit gesien het nie.
En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het 'n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie — so 'n geweldige groot aardbewing. OPENBARING 16:18 AFR53
Die Israeliete het in die Ou Testament net voor God vir Moses die tien gebooie gegee het, ‘n klein voorsmakie gekry van hoe dit voel en klink in God se teenwoordigheid. Donderslae, blitse, ‘n swaar wolk, en die geluid van ‘n sterk basuin was so erg dat die volk gebeef het.
En op die derde dag toe dit môre word, was daar donderslae en blitse en 'n swaar wolk op die berg en die geluid van 'n baie sterk basuin, sodat die hele volk wat in die laer was, gebeef het. Daarop het Moses die volk uit die laer gelei om God te ontmoet, en hulle het gaan staan by die voet van die berg. En die hele berg Sinai het gerook, omdat die Here in 'n vuur daarop neergedaal het. En sy rook het opgetrek soos die rook van 'n oond, en die hele berg het vreeslik gebewe. EXODUS 19:16-18 AFR53
Die groot stad waarna hier verwys word is moontlik die stad Babilon wat met die groot aardbewing in drie gedeel gaan word. Gewoonlik is die groot stad ‘n verwysing na Jerusalem maar omdat die stad in dieselfde vers genoem word as Babilon wat in God se gedagtenis is, dink ek die verwysing is eerder Babilon.
Die nasies is ‘n verwysing na die ‘Gentiles’ wat al die nasies behalwe die Joodse volk insluit. So al die stede van die wêreld (behalwe Israel en natuurlik Jerusalem) het geval in die groot aardbewing.
En die groot stad is in drie dele verdeel, en die stede van die nasies het geval. En die groot Babilon is in gedagtenis gebring voor God, om haar te gee die beker met die wyn van die grimmigheid van sy toorn. OPENBARING 16:19 AFR53
Die laaste twee verse van die hoofstuk beskryf hoe die sewende skaal eindig. Die aardbewing is so erg dat die eilande en die berge almal nie meer is nie.
Dan, asof dit nie genoeg is dat die hele aarde rondeskud word en verander word nie, val daar hael op die aarde neer. Nie haelkorrels nie, nee haelstene wat elk ongeveer 50 kg weeg en die hael val op die mense. Die mense wat die aardbewing en die hael oorleef het, laster God nog steeds omdat die plaag so groot was.
En alle eilande het gevlug, en berge is daar nie gevind nie; en groot hael, omtrent 'n talent swaar, het uit die hemel op die mense geval; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot was. OPENBARING 16:20-21 AFR53




Comments