Engele in die Bybel - Openbaring 17 tot 19
- Regina Torre
- Sep 14
- 26 min read
Updated: 4 days ago

14 September 2025
OPENBARING 17:1 AFR53
En een van die sewe engele met die sewe skale het gekom en met my gespreek en vir my gesê: Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit,
Een van die sewe engele wat die sewe skale op die aarde uitgegooi het praat met Johannes en sê vir hom dat hy nog iets vir Johannes wil wys. Na die vreeslike vinnige pas van die sewe skale en hul uitwerking, staan ons nou weer terug vir ‘n geskiedenis les en ‘n ‘big picture’ verduideliking.
Die AFR53 vertaling kom kras voor met die gebruik van die woord ‘hoer’ in teenstelling met die AFR83 vertaling wat die woord ‘sedelose vrou’ gebruik. ‘n Beter op die oor woord is moontlik ‘prostituut’, maar al die woorde beteken nog steeds dieselfde: ‘n vrou wat seksueel losbandig is!
Die engel praat van die groot hoer - dus ‘n beskrywing in die oortreffende trap wat spreek vanself.
Die losbandige vrou in die hoofstuk is ‘n voorstelling van die nuwe wêreld godsdiens wat in die Verdrukking tydperk deur die vals profeet beoefen en afgedwing word. Die wêreld godsdiens waar die dier aanbid word, word beoefen deur almal wat die dier en later sy merk aanneem.
Die konings van die aarde koop in om die dier te aanbid, en die bewoners van die aarde hou nie terug nie. Wêreldwyd aanvaar die mense die vals profeet se nuwe vals wêreld godsdiens met so ‘n oorgawe dat dit vergelyk word met mense wat dronk word van wyn.
met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery. OPENBARING 17:2 AFR53
Johannes word deur die engel in die gees weggevoer na ‘n woestyn waar hy die volgende gesig sien. Hy sien ‘n vrou (die nuwe vals wêreld godsdiens) wat sit op ‘n skarlakenrooi dier (die Antichris) en natuurlik het die dier godslasterlike name.
Die dier het sewe koppe en tien horings. Die sewe koppe is sewe geskiedenis en toekoms tydperke en die tien horings is tien konings soos Daniel vir ons gewys het. Ons leer meer hiervan in die volgende verse.
En hy het my in die gees weggevoer na 'n woestyn, en ek het 'n vrou sien sit op 'n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings. OPENBARING 17:3 AFR53
Die rol van die vrou in ‘n huweliks opset gee vir ons ‘n mooi uitbeelding van die simboliek in die hoofstuk. Net soos die bruid van Jesus ‘n simbool is van die Nuwe Testament kerk, en die vrou van God ‘n simbool is van die nasie Israel, so is die prostituut ’n simbool van die vals wêreld godsdiens van diegene wat wegdraai van God.
Die vrou is bekleed in die koninklike kleure van purper en skarlaken en is versier met duur goud en kosbare stene en pêrels. ‘n Vertoon van rykdom en mag!
En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand 'n goue beker gehad, vol gruwels en die onreinheid van haar hoerery; OPENBARING 17:4 AFR53
Die goue beker blyk kosbaar te wees en aangenaam om te aanskou. Die goue beker is ook in gebruik as gereedskap in God se tempel. Hierdie een is egter 'n namaaksel, gevul met afskuwelike dinge.
Babel was in die hand van die Here 'n goue beker wat die hele aarde dronk gemaak het; die nasies het van sy wyn gedrink; daarom het die nasies rasend geword. JEREMIA 51:7 AFR53
15 September 2025
OPENBARING 17:5 AFR53
en op haar voorhoof was 'n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde.
Hier volg ‘n paar eienskappe van die vrou wat op die dier sit.
'n Bybelse verborgenheid in die Nuwe Testament is iets wat vir die Ou Testament mense versteek was, maar in die Nuwe Testament geopenbaar word. Babilon is van die vroegste tye al die hoofkwartiere van Satan - ons ken almal die verhaal van die toring van Babel! Die moeder van die hoere toon dat sy nie alleen is nie, sy het kinders - ‘n nageslag. Sy kom van eeue terug en haar hoofdoel was en is om mense weg te draai van God.
Die vals kerk van die Verdrukking tydperk gaan help, of nee, gaan in beheer wees van die marteling van die gelowiges. Ons het geleer in vorige hoofstukke dat diegene wat Jesus gaan aanvaar in die Verdrukking tydperk gemartel gaan word en Johannes sien dit nou voor hom afspeel.
En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar sien. OPENBARING 17:6 AFR53
Die engel vra vir Johannes hoekom hy hom verwonder en vertel verder vir Johannes dat hy nou ‘n verduideliking gaan gee oor wat al die simbole en tekens van hierdie hoofstuk beteken.
Johannes gaan nou meer insig kry oor die verborgenheid van die volgende:
- die vrou, en
- die dier met die sewe koppe en die tien horings.
Toe sê die engel vir my: Waarom het jy jou verwonder? Ek sal jou die verborgenheid van die vrou vertel en van die dier met die sewe koppe en die tien horings, wat haar dra. OPENBARING 17:7 AFR53
Die dier wat jy gesien het - hierdie is die Antichris waarvan ons nou praat. Onthou in hoofstuk 13 het ons geleer dat een van die dier se koppe dodelik gewond was, en die wond is genees.
En ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik gewond was, en sy dodelike wond is genees. En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan. En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer? OPENBARING 13:3-4 AFR53
Nou word dieselfde feite net anders gestel.
- Wat was (lewendig)
- en is nie (dodelik gewond),
- alhoewel hy is (word genees)!
Die mense, die wie se name NIE in die boek van die lewe is NIE, bly verwonderd oor die dier.
Die dier wat jy gesien het, was en is nie en sal uit die afgrond opkom en na die verderf vaar; en die bewoners van die aarde wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe geskryf is nie, sal hulle verwonder as hulle die dier sien wat was en nie is nie, alhoewel hy is. OPENBARING 17:8 AFR5
16 September 2025
OPENBARING 17:9 AFR53
Hier kom die verstand wat wysheid het, te pas. Die sewe koppe is sewe berge waar die vrou op sit.
Die engel verduidelik dat die sewe koppe van die dier, sewe berge is. Hierdie is regerings wat oor die hele wêreld van hul tyd geregeer het en gaan regeer en word as volg geidentifiseer.
1. Egipte - Die eerste groot regering van die Ou Testament is die Egiptenare wat God se volk vir 400 jaar onderdruk het.
Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in 'n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vierhonderd jaar lank. GÉNESIS 15:13 AFR53
2. Assirië - Die Noordelike koninkryk van Israel regeer van 931 BC tot 722 BC. In al die tyd het die mense hul rug op God gekeer en as straf is hulle in twee sarsies deur Assirië aangeval en as krygsgevangenes wegvoer.
In die negende jaar van Hoséa het die koning van Assirië Samaría ingeneem en Israel in ballingskap weggevoer na Assirië en hulle laat woon in Halag en aan die Habor, die rivier van Gosan, en in die stede van Medië. II KONINGS 17:6 AFR53
Daniel moet Nebukadneser se droom uitlê en wat hy sien is die verskillende koninkryke wat van hier af gaan heers tot en met die einde van tyd. Ons begin met die eerste drie koninkryke:
3. Babilon - hoof van goud
4. Mede & Perse - bors en arms van silwer
5. Grieke - lendene van koper
Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper, DANIËL 2:32 AFR53
Die Romeinse Ryk was aan bewind toe Jesus op aarde was en is nooit deur ‘n ander regeerder oorwin nie. Die Romeinse Ryk het stil stil verdwyn maar gaan weer aan die einde van tyd ‘n gedeelde heerskappy voer (yster en klei) met die groot doel om teen God te veg by Armageddon.
6. Rome 1 (verlede, bene van yster)
7. Rome 2 (toekoms, voete gedeeltelik yster en gedeeltelik klei)
sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei. DANIËL 2:33 AFR53
17 September 2025
OPENBARING 17:10 AFR53
En hulle is sewe konings: vyf het geval en een is; die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy 'n kort tydjie bly.
Ons het hier ‘n raaisel en die antwoord word gevind in die lys van regerings in die vorige vers. Ek lys die regerings weer om dit maklik te maak.
1) Egipte,
2) Assirië,
3) Babilon,
4) Mede & Perse,
5) Grieke,
6) Rome Verlede,
7) Rome Toekoms
Sewe Konings : Egipte tot Rome Toekoms (1 - 7)
Vyf het geval : Egipte tot Grieke (1 - 5)
Die een is : Rome verlede - Verlede vir ons, huidige tyd vir Johannes (6)
Die ander het nog nie gekom nie: Rome toekoms, ons wag ook nog (7)
Wanneer hy kom, moet hy ‘n kort tyd bly : Die sewe jaar Verdrukking tydperk!
Ons weet nou dat die dier wat was en nie is nie, dit is die Antichris homself. Hy behoort by die sewe, so hy het dieselfde eienskappe as die sewe en word hier die agtste genoem. In lyn met die raaisel van tevore is hy dus die agtste wêreld regering. Dit is dus die een wêreld regering waarvan jy al gehoor het wat gedurende die Verdrukking tydperk gaan regeer.
En die dier wat was en nie is nie, is self ook die agtste, en hy behoort by die sewe en gaan na die verderf. OPENBARING 17:11 AFR53
Die tien horings is tien toekomstige regeerders want hulle het nog nie hul koningskap ontvang nie. Die konings was toekomstig vir Johannes en hulle is toekomstig vir ons ook. Dit gaan of die wêreld wees wat in tien verskillende streke opgedeel gaan word, of tien persone wat elkeen vir ‘n tydperk gaan regeer, of iets heeltemal anders - ons weet nie! Wat ons wel weet is dat hul saam met die dier gaan regeer.
En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. OPENBARING 17:12 AFR53
Die tien regeerders het een gesindheid, hulle dink dus almal dieselfde en het dieselfde doel voor oë. Hulle sal hul mag en krag aan die dier oorgee nadat hulle elkeen hul beurt gehad het om te regeer.
Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier. OPENBARING 17:13 AFR53
Daniel het ook die Antichris met die tien regeerders gesien.
Daarna het ek in die naggesigte gesien, en kyk, daar was 'n vierde dier, vreeslik en skrikwekkend en baie sterk, en dit het groot ystertande gehad; dit het verslind en vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap; en dit was verskillend van al die diere wat voor hom gewees het, en dit het tien horings gehad. DANIËL 7:7 AFR53
18 September 2025
OPENBARING 17:14 AFR53
Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin — want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings — en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou.
Hierdie vers is so positief vir elke Christen, want ons wen die oorlog en wie wil nie aan die wenkant wees nie.
Die Antichris en sy konings voer oorlog teen die Lam, en die Lam sal hulle oorwin!
Hoekom? Want, Jesus is die Here van die here en die Koning van die konings!!
Ons wat saam met Jesus is, oorwin ook. Ons wat die voorreg het om geroep te wees, uitverkore is en getrou gebly het aan God.
Vers 1 van die hoofstuk het gesê dat die engel ons gaan vertel van die oordeel van die groot hoer wat op baie waters sit. Die waters word hier verduidelik as volke, menigtes en nasies en tale. Dan verder sit die hoer ook op ‘n dier. Die dier gee vir ons die ‘gentile’ tydperke van Egipte tot die Groot Verdrukking. As ons die hoofstuk vinnig opsom, dan sien ons dat die hoer ‘n voorstelling is van die vals gelowe van die wêreld van Egipte se tyd tot die Groot Verdrukking tydperk wat die mensdom in haar mag het.
En hy sê vir my: Die waters wat jy gesien het, waar die hoer op sit, is volke en menigtes en nasies en tale. OPENBARING 17:15 AFR53
Die tien horings van die dier, of die tien konings van die Antichris gaan die hoer of die wêreld se godsdienstige organisasies tot niet maak.
Verlate maak - die priesters van hul preekstoele verwyder
Naak maak - stroop die organisasies van hul rykdom
Haar vlees eet - godsdienstige praktyke en leringe uitroei
Haar met vuur verbrand - brand hul ‘kerke’
Ons bereik nou die middel van die Verdrukking tydperk waar die Antichris self in beheer gaan wees, waar almal sy merk moet neem en sy beeld moet aanbid.
En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand. OPENBARING 17:16 AFR53
God het dit in die harte van die tien konings gegee om Sy bedoelings uit te voer. Die tien konings het almal een bedoeling om uit te voer, en dit is om hul heerskappy aan die dier te gee.
Want God het dit in hulle harte gegee om sy bedoeling uit te voer en een bedoeling uit te voer, en hulle heerskappy aan die dier te gee totdat die woorde van God volbring is. OPENBARING 17:17 AFR53
God maak dit moontlik vir die dier om aan die einde van tyd in die Verdrukking tydperk te regeer, sodat God se planne tot vervulling kan kom.
Die vrou wat Johannes gesien het is ook ‘n stad of die hoofkwartiere van die vals wêreld geloof. Net soos Mecca die hoofkwartiere van die Muslims is, en Rome die hoofkwartiere van die Katolieke is, net so gaan ‘n toekomstige stad die hoofkwartiere van die wêreld geloof wees.
En die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde. OPENBARING 17:18 AFR53
19 September 2025
OPENBARING 18:1 AFR53
En ná hierdie dinge het ek 'n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot mag, en die aarde is verlig deur sy heerlikheid.
En na hierdie dinge - watter dinge? Na die sewe skale van hoofstuk 16. Die vorige hoofstuk (17) was ‘n tussenpose om vir ons ‘n oorsig te gee van die vals godsdienste wat deur al die tydperke en veral die Groot Verdrukking tydperk die mense van die aarde in haar mag het.
Na hierdie dinge (die sewe skale) sien Johannes ‘n engel wat neerdaal uit die hemel en die aarde verlig met sy heerlikheid.
Babel of Babilon, die hoofstad van Satan, het sy onstaan in Genesis 10 en 11 en die eerste heerser van die ryk was Nimrod. Nimrod was koning van die eerste eenwêreld koninkryk, en die hele aarde het dieselfde taal gepraat.
Nou, in die vers aan die einde van die Verdrukking tydperk, word Satan se hoofstad Babilon vernietig soos vele profete deur die loop van die Bybel geprofeteer het.
So sal dan Babel, die sieraad van die koninkryke, die trotse pronkstuk van die Chaldeërs, wees soos toe God Sodom en Gomorra omgekeer het. JESAJA 13:19 AFR53
Drie aanklagtes word teen die stad Babilon gerig.
1. Dit het ‘n korrupte invloed op die wêreld van daardie dag ... spesifiek die wêreld se aanbidding van die dier.
2. Babilon is die setel van mag van al die korrupte konings wat op die stadium heers.
3. Die handelaars van die wêreld trek ook voordeel uit die Antichris se heerskappy in Babilon want die Antichris reguleer alle handel volgens die merk van die dier. Sy materiële rykdom en finansiële beheer word 'n ander manier om mense te onderdruk en te beheer.
En hy het met 'n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword 'n woonplek van duiwels en 'n versamelplek van allerhande onreine geeste en 'n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls, omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid. OPENBARING 18:2-3 AFR53
Daar is 'n beginsel in die Bybel dat wanneer God Sy oordeel uitstort, Hy diegene wat aan Hom behoort, beskerm.
die Here weet om die godsaliges uit versoeking te verlos en die onregverdiges te bewaar vir die dag van oordeel om gestraf te word; II PETRUS 2:9 AFR53
Johannes hoor ‘n stem in die hemel wat ‘n waarskuwing gee aan God se volk wat in die stad Babilon is. Gaan uit haar uit, sodat julle nie deel is van die stad se sondes nie, en dan ook nie die stad se straf ontvang nie.
En ek het 'n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. OPENBARING 18:4 AFR53
Hierdie waarskuwing laat ons dink aan God se waarskuwing aan Lot en sy vrou en kinders.
En toe die dag begin breek, het die engele by Lot aangedring en gesê: Maak jou klaar, neem jou vrou en jou twee dogters wat by jou is, dat jy weens die ongeregtigheid van die stad nie omkom nie. GÉNESIS 19:15 AFR53
20 September 2025
OPENBARING 18:5 AFR53
Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou.
Genesis 11 vertel die verhaal van die toring van Babel waar die mense bakstene uit grond en klei gemaak het uit protes teen God se vloed, om ‘n toring te bou wat tot aan die hemel sou reik.
Net soos die toring se spits in Genesis tot aan die hemel sou reik, so reik die mense se sondes tot aan die hemel in Openbaring. Die vers sê vir ons dat God haar of Babilon se sondes onthou, dus die opgehoopte sondes vanaf Genesis regdeur tot en met die eindtye waar Babilon nou finaal deur God vernietig word.
Die engel praat nog steeds hier en hy sê dat Babilon vergeld moet word soos sy Israel vergeld het. Verdubbel haar straf volgens haar werke! Hier word nie meer gespeel nie, Babilon se straf word dubbel geskink in die beker van wraak.
Vergeld haar soos sy ook julle vergeld het, en verdubbel dit vir haar volgens haar werke. Skink vir haar dubbel in die beker waarin sy geskink het. OPENBARING 18:6 AFR53
Die engel beskryf nog steeds hier hoe Babilon gestraf moet word. Daar moet gekyk word hoe die stad haarself verheerlik het en hoe weelderig sy geleef het en in dieselfde mate van haar weelde en haar verheerliking moet die stad gepynig word en droefheid aangedoen word.
Babilon se hoogmoed ken geen perke nie. Sy sit as koningin en nie as ‘n weduwee nie, sy sê dat sy nie droefheid sal sien nie. Die Bybel leer egter dat dit nie so werk nie, hoogmoed word altyd gevolg deur ondergang!
Namate sy haarself verheerlik het en weelderig geleef het, na dié mate moet julle haar pyniging en droefheid aandoen. Omdat sy in haar hart sê: Ek sit as koningin en is geen weduwee nie, en droefheid sal ek nooit sien nie — OPENBARING 18:7 AFR53
Babilon se val gaan vinnig gebeur - haar plae sal op een dag kom. Dood, droefheid, honger en met vuur verbrand - so sal Babilon se oordeel wees, want sterk is die Here God wat haar oordeel!
Hierdie is nie die eerste stad wat God verwoes nie, ons lees in Genesis van Sodom en Gomorra wat ook met vuur verwoes is.
daarom sal haar plae op een dag kom: dood en droefheid en honger; en met vuur sal sy verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel. OPENBARING 18:8 AFR53
Die konings is die eerste van drie groepe mense wat ween en weeklaag oor die stad Babilon wat verwoes is. Die verwysing na 'konings van die aarde' dui op heersers wêreldwyd: konings, presidente, eerste ministers en diktators.
Hierdie politieke heersers het dit finansieel voordelig gevind om met Babilon saam te werk en die stad se ondergang veroorsaak ook hul eie finansiële ondergang.
Die konings is die eerste om te bevestig dat Babilon in een uur verwoes word.
En die konings van die aarde wat met haar gehoereer en weelderig geleef het, sal oor haar ween en oor haar weeklaag wanneer hulle die rook van haar verbranding sien, terwyl hulle ver weg staan uit vrees vir haar pyniging, en sê: Wee, wee jou, o groot stad Babilon, o sterk stad, want in een uur het jou oordeel gekom! OPENBARING 18:9-10AFR53
21 September 2025
OPENBARING 18:21 AFR53
En een sterk engel het 'n klip opgetel soos 'n groot meulsteen en dit in die see gegooi en gesê: So, met 'n vaart, sal Babilon, die groot stad, neergegooi word en nooit meer gevind word nie.
Die handelaars van die aarde is die tweede van die drie groepe mense wat ween en rou oor die stad Babilon se ondergang, want hul eie finansiële welstand word beinvloed. Niemand koop meer hul produkte nie - die handelaars voel die pyn!
‘n Lys van die produkte wat die handelaars nie meer kan verkoop nie word in groepe hier gelys:
- Goud, silwer, edelgesteentes en pêrels,
- Fyn linne en purper en sy en skarlaken,
- Hout, ivoor, koper, yster en marmer,
- Kaneel, reukwerk, salf en wierook,
- Wyn, olyfolie, fynmeel en koring,
- Groot vee, skape, perde en waens,
- Slawe en mensesiele,
- Vrugte wat jou siel begeer en
- Blinkende en skitterende dinge.
Die handelaars van al die verskillende produkte staan ver weg uit vrees vir die stad se pyniging, terwyl hulle ween en rou! Die rouproses is nie net vir die stad nie, maar ook vir hul eie finansies wat daarmee heen is.
Die handelaars bevestig nou vir die tweede keer dat die stad in een uur verwoes word. Hulle kyk met heimwee na die stad wat bekleed was met fyn linne, purper, skarlaken, goud, edelgesteentes en pêrels. Wee, wee die groot stad, omdat in een uur soveel rykdom en ook hul eie rykdom verwoes is!
Die stuurmanne van die skepe, die matrose en almal wat die see bevaar is die derde groep mense wat ween en uitroep omdat Babilon verwoes word. Hulle staan almal ver weg en kyk na die rook wat opstyg uit die verbrande stad.
Hierdie groep het ook ryk geword deur haar skatte. Hulle gooi nou stof op hul hoofde omdat hul rou en ween want hul rydom word saam met die stad verwoes. Die seevaarders bevestig vir die derde keer dat die stad in een uur verwoes word.
Vir die eerste keer in die boek Openbaring word daar aangesê om verheug te wees. Verbly jou oor Babilon want God het julle oordeel aan haar voltrek!
‘n Sterk engel gooi ‘n klip so groot soos ‘n meulsteen met ‘n vaart in die see en sê: So, met ‘n vaart, sal Babilon die groot stad neergegooi word en nooit meer gevind word nie.
Nou gee die engel ‘n lys van goed wat nie meer in die stad gaan plaasvind nie:
Die stem van siterspelers en sangers en fluitspelers en basuinspelers sal nooit meer gehoor word nie,
geen kunstenaar van enige kuns sal gevind word nie,
die geluid van die meul sal nooit meer gehoor word nie,
die lig van ‘n lamp sal nie weer skyn nie
die stem van ‘n bruidegom en bruid sal nooit weer gehoor word nie
Babilon die stad wat Satan se hoofstad was, is finaal vernietig.
Die stad wat die grootste handelaars gehad het is vernietig.
Die stad wat al die nasies van wêreld met towery verlei het is vernietig.
Die stad wat gevul was met die bloed van profete en heiliges en van almal wat op die aarde gedood is, is vernietig.
Geval, geval het die groot Babilon!
22 September 2025
OPENBARING 19:1 AFR53
En ná hierdie dinge het ek iets soos 'n groot stem van 'n groot menigte in die hemel gehoor wat sê: Halleluja, die heil en die heerlikheid en die eer en die krag aan die Here onse God!
En na hierdie dinge - na die val van die een wêreld geloof, en die val van Babilon - hoor Johannes ‘n groot stem van ‘n groot menigte in die hemel.
Halleluja! Hierdie hoofstuk open met vier halleluja’s in teenstelling met die trane van die vorige hoofstuk omdat die groot stad Babilon vernietig is. Die woord halleluja verskyn 24 keer in die Ou Testament boek Psalms, maar verskyn net 4 keer in die Nuwe Testament, en al vier die kere is in hierdie hoofstuk. Halleluja bestaan in Hebreeus uit twee woorde. Hallel = Loof, prys; en uja is die verkorting van Yahweh = Here. Dus, die betekenis van halleluja = Loof die Here!
Loof die Here, want die heil en die heerlikheid en die eer en die krag behoort aan die Here onse God!
Hoekom? Hoekom moet ons die Here loof?
1. Want Sy oordele is waaragtig en regverdig!
2. Die Here het die groot hoer wat die aarde met haar hoerery verderf het, geoordeel; en
3. Die Here het die bloed van sy diensknegte op haar (die groot hoer) gewreek!
Want sy oordele is waaragtig en regverdig; want Hy het die groot hoer geoordeel wat die aarde met haar hoerery verderf het, en Hy het die bloed van sy diensknegte op haar gewreek. OPENBARING 19:2 AFR53
Die tweede halleluja word uitgeroep omdat Babilon vernietig is. Die rook wat opgaan uit die stad beklemtoon dat die stad totaal vernietig is. Babilon was dwaas, en haar dwaasheid het gelei tot haar oordeel.
En vir die tweede maal het hulle gesê: Halleluja! En haar rook gaan op tot in alle ewigheid. OPENBARING 19:3 AFR53
Die derde halleluja word deur twee groepe uitgeroep, en ons het hulle in hoofstuk 4 ontmoet.
- Die vier en twintig ouderlinge, en
- Die vier lewende wesens.
Hulle almal val neer en aanbid God wat op die troon sit, en sê: Halleluja
En die vier-en-twintig ouderlinge en die vier lewende wesens het neergeval en God aanbid wat op die troon sit, en gesê: Amen, Halleluja! OPENBARING 19:4 AFR53
Die stem wat uit die troon uitgaan gee ‘n bevel. Al die diensknegte van God, en almal wat God vrees, klein en groot, moet God prys! Die klem hier is op ALMAL!
En 'n stem het uit die troon uitgegaan en gesê: Prys onse God, al sy diensknegte, en julle wat Hom vrees, klein en groot! OPENBARING 19:5 AFR53
Johannes hoor stemme en geluide in die hemel met die vierde halleluja en dit klink soos:
- die stem van ‘n groot menigte,
- die geluid van baie waters, en
- die geluid van sterk donderslae!
In die hemel word verklaar dat die Here God, die Almagtige, Sy koninskap aanvaar! Hiermee word die profesieë vervul wat deur die Ou Testament profete uitgespreek is.
En ek het iets gehoor soos die stem van 'n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar. OPENBARING 19:6 AFR53
23 September 2025
OPENBARING 19:7 AFR53
Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.
Ons word vertel om bly te wees, om ons te verheug en aan Hom, Jesus, heerlikheid te gee. Ons, die kerk, was weggerraap as die bruid van die bruidegom Jesus, maar nou word ons gereed gemaak as die vrou van die Lam.
Aan haar, die vrou van die Lam, is gegee klere van rein en blink fyn linne, en die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.
En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges. OPENBARING 19:8 AFR53
Wat is regverdige dade? Dit is die goeie werke wat ons op aarde gedoen het. Die werke het ons nie in die hemel gekry nie, nee, net geloof in Jesus kan dit doen.
Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel. EFÉSIËRS 2:8-10 AFR53
Die wat in Jesus glo, is geskape om goeie werke te doen, en dié werke gaan beoordeel word.
Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad. II KORINTHIËRS 5:10 AFR53
Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het. MATTHÉÜS 5:12 AFR53
Die engel sê vir Johannes om die waaragtige woorde van God neer te skryf. Salig of geseënd is die mense wat uitgenooi is na die bruilofsmaal. Ons het reeds bepaal dat die kerk, die bruid is by die bruilofsmaal, so wie is die gaste wat genooi is?
Die gaste, die ander mense wat in die hemel is, maar wat nie die kerk is nie, moet die volgende groepe wees. Die Ou Testament heiliges van Adam tot Johannes die Doper, en die Heiliges wat uit die Verdrukking tydperk kom. Die twee groepe het nog nie hul verheerlikte liggame ontvang nie.
Toe sê hy vir my: Skryf — salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God. OPENBARING 19:9 AFR53
Johannes is so oorweldig deur wat hy sien dat hy neerval voor die engel wat met hom praat om hom te aanbid. Die engel is egter baie gou om Johannes reg te help. Moenie, sê die engel, ek is ‘n mededienskneg van jou en van jou broeders, en het ook die getuienis van Jesus.
Aanbid God !!!
Jesus deur Sy gees is die bron van die openbaring en die engel is slegs die boodskapper.
En ek het voor sy voete neergeval om hom te aanbid; maar hy het vir my gesê: Moenie! Ek is 'n mededienskneg van jou en van jou broeders wat die getuienis van Jesus het. Aanbid God. Want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie. OPENBARING 19:10 AFR53
24 September 2025
OPENBARING 19:11 AFR53
Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was 'n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid.
Johannes sien ‘n wit perd. Die tweede wit perd van die boek Openbaring wat vir ons aandui dat die wit perd simbolies is van ‘n regeerder. In die begin van die boek was dit Satan, maar nou is dit Hy wat genoem word Getrou en Waaragtig.
Johannes gebruik dieselfde omskrywing van Jesus as wat ons in Openbaring 1 gesien het, met Jesus se oë wat lyk soos ‘n vuurvlam. Op Jesus se hoof is baie krone. Die krone is diadems (koninklike gesag) en nie stephanos (wedstryd wen) krone nie. Jesus se Naam ken net Hy self, ons word vertel dat niemand die naam ken nie.
En sy oë was soos 'n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het 'n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. OPENBARING 19:12 AFR53
Openbaring 19 gee vir ons Jesus se tweede koms uit ‘n hemelse oogpunt. Die sesde skaal droog die Eufraatrivier op en sodoende lok God die Antichris en sy magte om van Babilon in die Ooste, na Jerusalem in die Weste te beweeg, tot by die laagte van Jisreël. Hierdie laagte staan ook bekend as die vallei van Megiddo wat ons nou ken as Armageddon. Hierdie is die eerste fase van die oorlog van Armageddon.
En die sesde engel het sy skaal uitgegooi op die groot rivier, die Eufraat, en sy water het opgedroog, sodat die pad van die konings wat van die ooste af kom, reggemaak kon word. OPENBARING 16:12 AFR53
Jesus is bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop is. Hierdie is nie die bloed van Jesus se kruis nie, nee, hierdie is die bloed van Jesus se vyande.
En Hy was bekleed met 'n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. OPENBARING 19:13 AFR53
Jesaja verduidelik vir ons in hoofstuk 63 wat gebeur. Met Jesus se tweede koms is Sy eerste stop in Bosra (Petra) waar Sy volk (die Joodse volk) beskerm word, en Jesus se oordeel begin hier. Van hier af is Jesus se volgende stop, Jerusalem.
Wie is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy daar, pragtig in sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van sy krag? Dit is Ek wat in geregtigheid spreek, wat magtig is om te verlos. Waarom is u gewaad so rooi, en u klere soos dié van een wat die wynpers trap? Ek het die pers alleen getrap, en van die volke was niemand by My nie; en Ek het hulle getrap in my toorn en hulle vertrap in my grimmigheid, sodat hulle lewensap op my klere gespat en Ek my hele gewaad bevlek het. Want die dag van wraak was in my hart, en die jaar van my verlossing het gekom. JESAJA 63:1-4 AFR53
Alhoewel Jesus ‘n nuwe naam kry wat niemand ken nie, sal Hy nog steeds genoem word:
Die Woord van God.
Die leërs in die hemel bekleed met wit en rein fyn linne, volg Jesus op wit perde. Wie is die weermag wat bekleed is met wit en fyn linne. Ons het in vers 8 gesien dat die vrou van Jesus wat vir die bruilofsmaal gereed gemaak is die wit en rein fyn linne dra. Vêrder het ons bepaal dat dié groep die kerk is wat weggeraap is. Hier dus kom Jesus, nie in die lug om Sy mense te kom haal nie, maar Jesus kom terug aarde toe gevolg deur Sy leër, om Sy vyande te oorwin.
Ons vergesel ons Verlosser en Koning in Sy triomfantelike terugkeer om te regeer, en hoewel ons 'n leër genoem word, neem ons nie deel aan die geveg nie.
En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. OPENBARING 19:14 AFR53
25 September 2025
OPENBARING 19:15 AFR53
En uit sy mond gaan daar 'n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met 'n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.
Jesus kom terug aarde toe, voorbereid vir die geveg en om as Koning te regeer. Heeltemal die teenoorgestelde van Sy eerste koms waar Sy doelwit was om redding te verkondig en om barmhartigheid en vergifnis te betoon. Jesus se wederkoms sal wees om te oordeel en om te regeer.
............. maar Hy sal die aarde slaan met die roede van sy mond en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak. JESAJA 11:4b AFR53
en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, II THESSALONICENSE 2:8 AFR53
Jesaja gee vir ons ‘n profesie wat begin by Jesus se geboorte en eindig by Jesus se Koningskap, alles vervat in een klein sin.
Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors —. JESAJA 9:5 AFR53
Niemand op die aarde of in die hemel sal ooit weer Jesus se heerskappy betwis nie, want alle gesag sal voor Hom neerbuig.
Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom 'n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader. FILIPPENSE 2:9-11 AFR53
Jesus sit op Sy wit perd, en almal sien Hom in die geopende hemel, en vêrder sien hulle die woorde op Sy klere: Koning van konings en die Here van die here!
En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here. OPENBARING 19:16 AFR53
Johannes sien ‘n engel wat in die son staan. Uit ‘n hemelse oogpunt kyk ons nou af op wat op die aarde gebeur. Die engel roep al die voëls in die middel van die lug om hulle te versamel. Hulle moet versamel want daar wag ‘n groot maaltyd vir hulle, ‘n maaltyd wat deur God voorberei gaan word.
En ek het een engel sien staan in die son; en hy het met 'n groot stem uitgeroep en vir al die voëls gesê wat in die middel van die lug vlieg: Kom hierheen en versamel julle tot die maaltyd van die grote God, OPENBARING 19:17 AFR53
Esegiel het ook die maaltyd vooruit gesien.
En jy, mensekind, so spreek die Here Here: Sê vir die voëls van allerhande vere en vir al die wilde diere van die veld: Kom bymekaar en kom aan, versamel julle van alle kante by my slagoffer wat Ek vir julle slag, 'n groot slagoffer op die berge van Israel; en eet vlees en drink bloed! Vlees van die helde sal julle eet en bloed van die vorste van die aarde drink — ramme, lammers en bokke en stiere, vetgemaakte diere van Basan almal saam — vet sal julle eet totdat julle versadig is, en bloed drink totdat julle dronk is, van my slagoffer wat Ek vir julle geslag het. ESÉGIËL 39:17-19 AFR53
26 September 2025
OPENBARING 19:18 AFR53
dat julle kan eet die vlees van konings en die vlees van owerstes oor duisend en die vlees van sterkes en die vlees van perde en van die wat daarop sit, en die vlees van almal, vrymense sowel as slawe, klein sowel as groot.
Die maaltyd vir al die voëls wat in die lug versamel het se spyskaart word mooi uiteengesit.
Hul maaltyd bestaan uit die vlees van die volgende:
- konings
- owerstes oor duisend
- sterkes
- perde en die wat daarop sit
- almal, vrymense sowel as slawe
- klein sowel as groot.
Die mense wie se vlees deel gaan uitmaak van die voëls se spyskaart is almal versamel om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit en teen Sy leër.
Johannes sien die dier, die konings van die aarde en hulle leërs wat gereed is om oorlog te voer teen Jesus en Sy leërs.
En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. OPENBARING 19:19 AFR53
Die dier en die valse profeet, twee van die onheilige drie-enigheid, word gevange geneem.
Die valse profeet is die een wat tekens in die teenwoordigheid van die dier gedoen het. Hierdie tekens het die mense wat die dier se merk gekry het verlei en die mense daartoe gelei om die dier se beeld te aanbid.
Die dier en die valse profeet se beloning vir hul onheilige werk is om lewend in die vuurpoel gegooi te word waar hul tot in alle ewigheid met swawel verbrand en gepynig gaan word.
En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. OPENBARING 19:20 AFR53
Die ander, die wat saam kom oorlog voer het, is gedood met die swaard wat uit Jesus se mond uitgaan, en die voëls is versadig geët aan hul vlees.
En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees. OPENBARING 19:21 AFR53
Die woord van God is kragtig en word in menige gedeeltes in die Nuwe Testament beskryf.
Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is 'n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart. HEBREËRS 4:12 AFR53
en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen II THESSALONICENSE 2:8-9 AFR53
Comments