Engele in die Bybel - Openbaring 10 tot 13
- Regina Torre
- Aug 19
- 32 min read
Updated: Sep 3

19 Augustus 2025
OPENBARING 10:1 AFR53
En ek het 'n ander sterk engel uit die hemel sien neerdaal, bekleed met 'n wolk, en 'n reënboog was oor sy hoof, en sy aangesig was soos die son, en sy voete soos pilare van vuur;
Johannes sien ‘n ander engel wat uit die hemel neerdaal. Die beskrywing van die engel gee vir ons die volgende detail wat beskryf dat die engel ‘n belangrike plek in die hemel moet he - ‘n sterk engel, bekleed met ‘n wolk, ‘n reënboog oor sy hoof, sy aangesig soos die son en sy voete soos pilare van vuur.
Hierdie is die derde verskyning van ‘n ander tipe engel. Die eerste was in Openbaring 7:2 waar die engel opdrag gegee het aan vier ander engele om te wag voor hul die aarde beskadig.
En ek het 'n ander engel sien opkom van die opgang van die son, met die seël van die lewende God; en hy het met 'n groot stem geroep na die vier engele aan wie dit gegee is om die aarde en die see te beskadig OPENBARING 7:2 AFR53
Die tweede engel was in Openbaring 8:3 wat met die gebede van die martelaars voor die altaar gestaan het.
En 'n ander engel het gekom en met 'n goue wierookbak by die altaar gaan staan, en baie reukwerk is aan hom gegee, om dit met die gebede van al die heiliges op die goue altaar voor die troon te lê; OPENBARING 8:3 AFR53
'n Aanduiding van die engel se identiteit word gevind in iets wat hy in sy hand het, nl: 'n boekie. Die woord vir boek in Grieks is biblaridion, en die verkleinwoord is biblos, of klein boekrol. Die klein boekrol is wat die engel hier dra. Die engel self is vêr van klein. Sy regtervoet is op die see en sy linkervoet is op die land - reusagtig in voorkoms! Let ook op dat sy voet op die see en nie in die see is nie.
en in sy hand het hy 'n geopende boekie gehad, en hy het sy regtervoet op die see gesit en sy linkervoet op die land; OPENBARING 10:2 AFR53
Die engel roep uit met groot stem wat klink soos die geweldige brul van ‘n leeu. In antwoord tot die geweldige stem hoor Johannes die sewe donderslae wat hul stemme laat hoor.
en hy het met 'n groot stem uitgeroep soos 'n leeu wat brul, en toe hy uitgeroep het, het die sewe donderslae hulle stemme laat hoor. OPENBARING 10:3 AFR53
Stemme wat klink soos donderslae is gewoonlik God se stem soos die vers hieronder bevestig.
En die Here het in die hemel gedonder, en die Allerhoogste het sy stem laat hoor; hael en gloeiende kole. PSALMS 18:14 AFR53
Johannes wil soos hy tot nou toe gedoen het neerskryf wat hy hoor. Die sewe donderslae vertel hul gedeelte van die profesie en Johannes se eerste reaksie is om te skryf. Maar, ‘n stem uit die hemel sê vir Johannes hy moet nie skryf wat hy gehoor het nie, hy moet dit wat die donderslae gespreek het verseël. Hierdie is die enigste gedeelte in die hele boek Openbaring wat verseël is.
En toe die sewe donderslae hulle stemme laat hoor het, wou ek skrywe; maar ek het 'n stem uit die hemel vir my hoor sê: Verseël wat die sewe donderslae gespreek het, en skryf dit nie op nie. OPENBARING 10:4 AFR53
Iemand in die Ou Testament het ook ‘n profesie gehoor wat hy moes verseel. Dit is natuurlik Daniel.
En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder. DANIËL 12:4 AFR53
20 Augustus 2025
OPENBARING 10:5 AFR53
En die engel wat ek op die see en op die land sien staan het, het sy hand na die hemel opgehef,
Johannes kyk nog steeds vir die engel wat met sy een voet op die see en sy ander voet op die land staan. Die engel hef sy hand op na die hemel.
Die engel wat sy hand na die hemel ophef sweer by Hom wat:
- tot in alle ewigheid lewe,
- die hemel geskape het en wat daarin is,
- die aarde geskape het en wat daarin is en
- die see geskape het en wat daarin is.
Die engel sweer by God wat die hemel en die aarde geskape het.
en hy het gesweer by Hom wat tot in alle ewigheid lewe, wat die hemel geskape het en wat daarin is, en die aarde en wat daarin is, en die see en wat daarin is, dat daar geen tyd meer sal wees nie; OPENBARING 10:6 AFR53
In Daniel se visioen het die engel ook gesweer by die Ewig-Lewende, so die engele wat Johannes en Daniel sien doen dieselfde.
Toe hoor ek die man, met linne bekleed, wat bo-oor die water van die rivier was, en hy het sy regterhand en sy linkerhand na die hemel opgehef en gesweer by die Ewig-Lewende: 'n Tyd, tye en 'n halwe tyd, en as hulle die mag van die heilige volk geheel verstrooi het, sal al hierdie dinge vervul word. DANIËL 12:7 AFR53
Johannes se engel sweer dat daar geen tyd meer sal wees nie. Ons het nou die halfpad merk bereik en daar is nou drie en ‘n half jaar oor, die Groot Verdrukking.
Daniel se visioen vertel ook van die laaste 3,5 jare of tyd, tye en ‘n halwe tyd wat oor is voor al hierdie dinge vervul is.
Die verborgenheid van God sal volbring wees wanneer die sewende engel die sewende basuin gaan blaas. God het in die Ou en Nuwe Testamente verborgenhede aan sy profete verkondig, en al die verborgenhede sal vervul word wanneer die laaste basuin blaas.
maar in die dae van die stem van die sewende engel, wanneer hy met die basuin sal blaas, dan is die verborgenheid van God volbring, soos Hy die blye tyding verkondig het aan sy diensknegte, die profete. OPENBARING 10:7 AFR53
Die stem wat Johannes uit die hemel gehoor het, praat weer met hom. Die stem gee ‘n opdrag om die boekie wat in die engel se hand is te gaan haal. Dit is ‘n oop boek en dit is moontlik dat hierdie boek die verseëlde boek van Openbaring 5 kan wees.
En die stem wat ek uit die hemel gehoor het, het weer tot my gespreek en gesê: Gaan, neem die geopende boekie in die hand van die engel wat op die see en op die land staan. OPENBARING 10:8 AFR53
Die boek in Openbaring 5 se sewe seëls is hier al oopgemaak. Die sewende seël het vir ons die sewe basuine gegee waarvan die eerste ses al geblaas het. Al wat uitstaande is, is die sewende seël wat geblaas moet word, en die vorige vers sê dan sal God se verborgenheid volbring wees.
21 Augustus 2025
OPENBARING 10:9 AFR53
En ek het na die engel gegaan en aan hom gesê: Gee my die boekie. Toe sê hy vir my: Neem en eet dit op, en dit sal jou maag bitter maak, maar in jou mond sal dit soet wees soos heuning.
God se Woord word gereeld in die Bybel met kos vergelyk.
Brood
Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan. MATTHÉÜS 4:4 AFR53
Melk
en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei, I PETRUS 2:2 AFR53
Vaste kos (vleis)
Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste kos nie, want julle kon dit nog nie verteer nie. En julle kan dit ook nou nog nie verteer nie, 1 KORINTIËRS 3:2 AFR83
Heuning
Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond. PSALMS 119:103 AFR83
Om te sien, om in te neem, en om te weet ... is nie genoeg nie. Dit is eers na die verwerking van die boek se inligting dat Johannes in staat is om 'weer te profeteer'.
Die profesie wat Johannes lees het ‘n bittersoet uitwerking op hom. Hy neem die boek uit die hand van die engel en eet dit op. Hy het dus alles wat in die boek geskryf is sy eie gemaak en daar is ‘n soetheid aan die eindtyd inligting wat hy ontvang, maar soos die inligting verwerk word maak dit sy maag egter bitter.
Toe neem ek die boekie uit die hand van die engel en eet dit op, en in my mond was dit soet soos heuning; maar toe ek dit geëet het, het my maag bitter geword. OPENBARING 10:10 AFR53
Ek skat die profesie het dieselfde uitwerking ook op ons. Dit is lekker om te lees dat God op die einde oorwin en dat ons vir ewig en ewig saam met ons Verlosser gaan woon. Maar, as ons dink aan die vriende en familie wat ons ken wat nie vir Jesus kies nie, word ons maag ook bitter want hulle sal vir ewig en altyd van God geskei wees.
Johannes het hier met die oop boek verdere inligting gekry wat hy moes verteer aangaande die profesie van die eindtye. Hy word aangesê om nou weer vêrder te profeteer oor almal op die aarde. Almal op die aarde want ons word vertel - baie volke en nasies en tale en konings!
En hy het vir my gesê: Jy moet weer profeteer oor baie volke en nasies en tale en konings. OPENBARING 10:11 AFR53
Hoofstukke 11-19 wat volg is die profesie wat Johannes aangesê is om met ons te deel.
22 Augustus 2025
OPENBARING 11:1 AFR53
En 'n riet soos 'n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid.
Ons begin hierdie hoofstuk met die wete dat Israel se derde tempel gebou is, met mense wat daar aanbid en ‘n altaar vir offerhandes wat in gebruik is. Johannes kry ‘n riet wat soos ‘n stok lyk en hy moet die tempel se afmetings neem.
Johannes word vertel om die voorhof van die tempel nie te meet nie. Die tempel se voorhof is net buite die tempel ingang en in Herodus se tempel was dit die vrouehof genoem. Dit is die naaste wat Joodse vrouens aan die tempel ingang kon kom, en in die toekoms sal die gedeelte aan die heidene gegee word.
Die heilige stad is natuurlik Jerusalem en dit is waar die tempel weer gebou gaan word. Die heidene sal vir 42 maande die voorhof buite die tempelmuur in Jerusalem vertrap, of anders gestel hulle sal toegang tot die gedeelte he. 42 Maande = 1,260 dae = 3,5 jaar = die eerste helfte van die sewe jaar Verdrukking.
Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap. OPENBARING 11:2 AFR53
Twee spesiale mans wat hier getuies genoem word het ‘n spesifieke taak wat deur God self aan hulle gegee sal word.
Die twee getuies gaan vir 1,260 dae profeteer. Dit is dieselfde tydperk as die 42 maande wat die heidene die tempel se voorhof gaan vertrap. Altwee die gebeurtenisse gebeur gelyktydig gedurende die eerste helfte van die sewe jaar Verdrukking.
En Ek sal aan my twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank sal profeteer. OPENBARING 11:3 AFR53
‘n Getuie is ‘n persoon wat getuig oor die waarheid van ‘n spesifieke gebeurtenis. Die Ou Testament leer ons dat slegs op die verklaring van twee of meer getuies ‘n saak van krag sal wees.
Een getuie mag nie teen iemand optree insake enige misdaad of enige sonde, by enige misstap wat hy begaan nie; op die verklaring van twee getuies of op die verklaring van drie getuies sal 'n saak van krag wees. DEUTERONÓMIUM 19:15 AFR53
Die twee mans gaan getuig oor die sondes van die mense op aarde, sodat hulle of hulself bekeer of verewig hul harte teen God verhard.
Met sakke bekleed of anders gestel in sak en as - die klere wat profete van ouds gedra het wanneer hul gerou het, of hartseer was. Die getuienis wat die twee mans lewer is nie ‘n blye boodskap nie.
Johannes word vertel wie die twee mans is. Die twee olyfbome en kandelaars is ‘n profesie wat deur Sagaria (Sagaria 4:2-3) uitgespreek is en hier in Openbaring is nou die vervulling daarvan.
Hulle is die twee olyfbome en die twee kandelaars wat voor die God van die aarde staan. OPENBARING 11:4 AFR53
Olie vir die lampe is ‘n prentjie van die Heilige Gees. Die olyfbome word gedurigdeur gevul met die olie van die Heilige Gees. Die twee olyfbome is die twee geslafdes wat by die Here van die ganse aarde staan. Dit beteken dat die twee getuies se bediening ‘n wêreldwye invloed gaan he.
23 Augustus 2025
OPENBARING 11:5 AFR53
En as iemand hulle wil beskadig, gaan daar vuur uit hulle mond en verslind hulle vyande; en as iemand hulle wil beskadig, moet hy op dieselfde manier gedood word.
Die twee profete gaan ‘super powers’ he. Niemand sal hulle kan skade aandoen gedurende die 3,5 jaar wat hulle profeteer nie. Die oningeligtes wat die twee gaan probeer doodmaak sal met vuur gespoeg word. Die vers sê dat vuur uit hul monde sal uitgaan om hul vyande te verslind.
Daar is ‘n paar bespiegelinge oor wie die twee getuies kan wees. Die eerste goeie kandidaat is die profeet Elia wat nooit gesterf het nie maar lewendig opgeneem is hemel toe.
Die tweede kandidaat kan of Moses of Henog wees. Moses omdat hy saam met Elia ‘n ‘kantoor vergadering’ gehad het (geleen van wyle Chuck Missler) met Jesus op ‘n hoë berg, en Henog omdat hy nooit gesterf het nie maar deur God weggeneem of weggeraap is.
Die twee getuies het die mag om die volgende te veroorsaak terwyl die sewe seëls en die eerste ses basuine die aarde tref.
- die hemel te sluit, sodat geen reën val nie (die gevolg is droogte)
- mag oor die water om dit in bloed te verander
- om die aarde met allerhande plae te tref
- spoeg vuur om hulself te beskerm
Hulle het mag om die hemel te sluit, sodat daar in die dae van hulle profesie geen reën val nie; en hulle het mag oor die waters, om dit in bloed te verander en om die aarde te tref met allerhande plae so dikwels as hulle wil. OPENBARING 11:6 AFR53
Geen wonder die twee het die beskerming van God nodig nie. Kom ons hersien wat als gebeur in die eerste 3,5 jaar van die Verdrukking terwyl die getuies hulle magte uitvoer en profeteer oor wat en waarom als besig is om te gebeur.
Die sewe seëls: Antichris, oorlog, hongersnood, dood, martelare, tekens in die lug.
Dan kom die eerste ses basuine: hael, vuur en bloed, 1/3 van see word bloed, 1/3 van water word bitter, 1/3 van son, maan en sterre word donker, demoon sprinkane pynig mense vir 5 maande, 200 miljoen demoon perde en ruiters maak 1/3 van mense dood.
Ons word dan vertel dat die twee mans wat in sak en as gekleed is se getuienis gaan eindig, en ons weet dit gebeur 1,260 dae vandat hulle begin profeteer het. Hoe gaan hul einde kom? Die dier wat uit die afgrond opkom gaan oorlog voer teen hulle en hulle doodmaak.
En wanneer hulle hul getuienis voleindig het, sal die dier wat uit die afgrond opkom, teen hulle oorlog voer en hulle oorwin en hulle doodmaak; OPENBARING 11:7 AFR53
Die twee getuies se lyke gaan op die straat lê - geen begrafnis word vir hulle gehou nie. Hul lyke gaan in die stad Jerusalem wees, dieselfde stad waar Jesus gekruisig is, en ook die stad waar hulle die hele tyd geprofeteer het. Die stad word geestelik Sodom en Egipte genoem, wat verwys na die geestelike verval van die mense in die stad.
en hulle lyke sal lê op die straat van die groot stad wat geestelik genoem word Sodom en Egipte, waar ook onse Here gekruisig is. OPENBARING 11:8 AFR53
24 Augustus 2025
OPENBARING 11:9 AFR53
En mense uit die volke en stamme en tale en nasies sal hulle lyke drie en 'n halwe dag lank sien en nie toelaat dat hulle lyke in die graf gelê word nie.
Al die mense van die wêreld sal die lyke sien wat op die straat in Jerusalem lê. Hoekom al die mense van die wêreld? Want die teks sê weereens, ‘en mense uit die volke, en stamme en tale en nasies’.
Die mense sal drie en ‘n halwe dag lank na die lyke kyk en nie toelaat dat hulle begrawe word nie. Dit is hier waar vandag se tegnologie kan saamspeel sodat almal op hul tv’s en fone kan kyk na die 24 uur nuus dekking van die gebeure wat in Jerusalem se strate afspeel.
Die bewoners van die aarde is verheug oor die dood van die twee profete wat hulle gepynig het. Hulle dink moontlik dat al die slegte goed wat tot dusver gebeur het met die dood van die twee getuies ook tot ‘n einde gaan kom. Hulle is so bly dat hulle vir mekaar persente koop om die jeugelike tyding te vier.
Die bewoners van die aarde sal bly en verheug wees oor hulle en sal vir mekaar geskenke stuur, omdat dié twee profete die bewoners van die aarde gepynig het. OPENBARING 11:10 AFR53
God vestig die wêreld se aandag 100% op sy twee gesalfdes en nou gaan hulle sien hoe wonderwerke verrig word. Nadat die twee getuies vir drie en ‘n halwe dae dood gelê het op ‘n straat in Jerusalem, word hulle uit die dood uit opgewek deur ‘n gees van die lewe wat uit God in hul ingaan. ‘n Groot vrees val op die toeskouers toe hulle sien hoe die twee getuies begin beweeg en op hul voete staan. Hulle moet op die stadium tog besef dat daar wel ‘n God is en dat hul straf nog nie verby is nie.
En ná die drie en 'n halwe dag het 'n gees van die lewe uit God in hulle ingegaan, en hulle het op hul voete gaan staan, en 'n groot vrees het geval op die wat hulle aanskou het. OPENBARING 11:11 AFR53
Kom op hierheen! Ons het hierdie woorde laas in Openbaring 4:1 gelees met wat ons aandui as die kerk se wegraping. Hierdie keer is dit die twee getuies se beurt. God het hulle uit die dood uit opgewek, en nou vaar hulle op hemel toe in ‘n wolk terwyl hul vyande hulle aanskou.
En hulle het 'n groot stem uit die hemel vir hulle hoor sê: Kom op hierheen! En hulle het opgevaar na die hemel in die wolk, en hul vyande het hulle aanskou. OPENBARING 11:12 AFR53
Gedurende die uur wat die twee getuies opvaar hemel toe tref ‘n groot aardbewing die stad Jerusalem. Die aardbewing is so erg dat ‘n tiende van die stad val en seweduisend mense sterf.
En in dié uur het daar 'n groot aardbewing gekom, en 'n tiende van die stad het geval, en seweduisend mense het in die aardbewing omgekom, en die ander het bevrees geword en aan die God van die hemel heerlikheid toegebring. OPENBARING 11:13 AFR53
Daar is tog ‘n groep mense wat bevrees word en heerlikheid aan die God van die hemel gee!
Ons weet dat daar drie wee is en dan sal die Verdrukking verby wees. Die eerste wee is die demoon sprinkane, en die tweede wee is die 200 miljoen demoon weermag wat ‘n 1/3 van die wêreld doodmaak. Die eerste twee wee het ons tot by die middelpunt van die Verdrukking gebring. Die derde wee word vertel kom gou!
Die tweede wee het verbygegaan; kyk, die derde kom gou. OPENBARING 11:14 AFR53
Die twee getuies gaan duidelik gedurende die eerste drie en ‘n half jaar van die Verdrukking profeteer en sal doodgaan gedurende die middel van die sewe jaar Verdrukking.
25 Augustus 2025
OPENBARING 11:15 AFR53
En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.
Die sewende engel blaas die sewende basuin!
Ons kry nou ‘n toekomsblik oor wat gaan gebeur wanneer die sewe skale van wraak (die sewende basuin) klaar uitgegooi is. Die koninkryke van die wêreld is nie meer die eiendom van Satan nie, maar die eiendom van Jesus Christus, en Jesus gaan as Koning heers tot in alle ewigheid.
Aan die begin van Jesus se bediening terwyl Hy gevas het vir veertig dae en veertig nagte het Satan ‘n kortpad opsie aan Hom gebied om die koninkryke van die wêreld te bekom. Jesus het die Satan egter weggejaag en die lang pad gevolg wat vooraf vir Hom beplan was.
Weer neem die duiwel Hom saam na 'n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid, en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid. Toe sê Jesus vir hom: Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien. MATTHÉÜS 4:8-10 AFR53
Met die blaas van die sewende engel se basuin, val die vier en twintig ouderlinge wat in die hemel is op hulle aangesigte neer en prys God omdat al die beloftes van die Bybel tot vervulling gekom het. Hulle prys God met danksegging, die God wat is, wat was en wat kom.
En die vier-en-twintig ouderlinge wat voor God op hulle trone sit, het op hulle aangesig geval en God aanbid en gesê: Ons dank U, Here God, Almagtige, wat is en wat was en wat kom, dat U u groot mag aangeneem en as koning geheers het. OPENBARING 11:16-17 AFR53
Die ouderlinge gee ‘n vinnige oorsig oor die gebeure aan die einde van die Verdrukking. Die nasies is woedend, en God se toorn kom oor hulle. Die dode word tydens die laaste oordeel voor die groot wit troon geoordeel en hul eindbestemming is die poel van vuur.
En die nasies was vertoornd, en u toorn het gekom en die tyd van die dode om geoordeel te word en om die loon te gee aan u diensknegte, die profete, en aan die heiliges en aan die wat u Naam vrees, klein en groot, en om die verderwers van die aarde te verderf. OPENBARING 11:18 AFR53
Johannes sien die tempel van God wat in die hemel oopgaan en binne die tempel sien hy die verbondsark. Hierdie is ons as Christene se eindbestemming, om in die tempel by God te woon.
En die tempel van God het in die hemel oopgegaan, en sy verbondsark is in sy tempel gesien, en daar was weerligte en stemme en donderslae en aardbewing en groot hael. OPENBARING 11:19 AFR53
In Openbaring 21 sien Johannes ‘n soortgelyke gesig. Hy sien die heilige stad, die nuwe Jerusalem wat van God uit die hemel neerdaal. ‘n Stem sê vir hom die tabernakel van God is by sy mense en God sal by hul woon. Dit verduidelik vir ons die tabernakel en die tempels wat deur die eeue heen gebou is. God met ons! Omdat sonde die mens van God geskei het, het God die tempel gebruik om by Sy mense te woon.
En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos 'n bruid wat vir haar man versier is. En ek het 'n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. OPENBARING 21:2-3 AFR53
26 Augustus 2025
OPENBARING 12:7 AFR53
En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer;
Hoofstuk 12 begin met twee tekens, en ons weet dit is tekens want Johannes sê dit is. Tekens is handige instrumente wat ons iets leer oor dit wat hulle voorstel. Die betekenis van die vrou, son, maan en twaalf sterre kry ons nie in Openbaring nie maar ver terug in Genesis met Josef se verhaal. Josef se drome sê dat sy pa (son), ma (maan) en broers (elf sterre, Josef uitgesluit) voor hom gaan neerbuig. (GÉNESIS 37:5-10)
Die vrou bekleed met die son, maan en twaalf sterre is dus ‘n voorstelling van die nasie Israel. Die twaalf stamme van Israel wat voortspruit uit Jakob, een van die aartsvaders.
En 'n groot teken het in die hemel verskyn: 'n vrou wat met die son bekleed was, en die maan was onder haar voete, en op haar hoof 'n kroon van twaalf sterre; OPENBARING 12:1 AFR53
Die vrou is hoog swanger en roep uit vanwee haar geboortepyne. ‘n Swanger vrou kan nie die kerk voorstel nie, want die kerk word uitgedruk as die maagdelike bruid van Jesus. Israel daarteen word deurgans in die Bybel as ‘n vrou voorgestel, en wel die vrou van God.
en sy was swanger en het uitgeroep in haar weë en barensnood. OPENBARING 12:2 AFR53
Die tweede teken wat in die hemel verskyn is ‘n groot vuurrooi draak met sewe koppe en sewe krone op die koppe, en tien horings.
En 'n ander teken het in die hemel verskyn, en daar was 'n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone; OPENBARING 12:3 AFR53
Die draak se betekenis kry ons sommer gou in hierdie hoofstuk en wel in vers 9. Die draak is niemand anders nie as die ou slang van die tuin van Eden, wat ons noem die duiwel of Satan.
En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, ........ OPENBARING 12:9 AFR53
Waar het ons die sewe koppe, sewe krone op die koppe en tien horings gesien? Daniel 7 vertel vir ons van die vierde dier wat die laaste heiden koninkryk op aarde voorstel. Die vierde koninkryk sal deur tien konings regeer word - voorgestel deur die 10 tone van die standbeeld in Daniel 2, en die tien horings van die verskriklike dier in Daniel 7. Daniel vertel dat drie van die tien horings ontwortel word, wat sewe konings laat oorbly wat oor die bestaande tien koninkryke regeer.
Daarna het ek in die naggesigte gesien, en kyk, daar was 'n vierde dier, vreeslik en skrikwekkend en baie sterk, en dit het groot ystertande gehad; dit het verslind en vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap; en dit was verskillend van al die diere wat voor hom gewees het, en dit het tien horings gehad. Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar 'n ander horinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel; en kyk, in hierdie horing was oë soos mens-oë, en 'n mond wat groot dinge spreek. DANIËL 7:7-8 AFR53
Só het hy gesê: Die vierde dier — die vierde koninkryk sal op die aarde wees, wat verskil van al die koninkryke en die hele aarde sal verslind en dit sal vertrap en dit verbrysel. En die tien horings — uit daardie koninkryk sal tien konings opstaan, en 'n ander een sal ná hulle opstaan, en hý sal verskillend wees van die voriges en drie konings neerwerp. En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende 'n tyd en tye en die helfte van 'n tyd. DANIËL 7:23-25 AFR53
27 Augustus 2025
OPENBARING 12:4 AFR53
en sy stert het die derde van die sterre van die hemel meegesleep en hulle op die aarde gegooi. En die draak het gestaan voor die vrou wat op die punt was om te baar, sodat hy haar kind sou verslind sodra sy gebaar het.
Sterre het ons reeds gesien verteenwoordig engele, en sterre wat val verteenwoordig demoniese of gevalle engele en die leier van die groep is Satan. Satan het ‘n derde van die engele saam met hom geneem in sy rebellie teen God, en hul bestemming is die aarde.
Satan (die draak) staan voor die nasie Israel (die vrou) en wil Jesus (die kind) verslind. Dit vat ons terug na Genesis 3:15 wat bekend staan as die proto-evangelium of die eerste Evangelie - God stel vyandskap tussen Jesus (die vrou se saad) en Satan (die slang se saad).
En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt. GÉNESIS 3:15 AFR53
Jesus word met Sy kruisiging ‘in die hakskeen gebyt’ maar aan die einde van die duisendjarige vrederyk sal Jesus Satan se kop vermorsel deur hom in die poel van swawel en vuur te werp waar hy sal wees tot in ewigheid.
En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid. OPENBARING 20:10 AFR53
Die manlike kind wat die vrou baar is Jesus wat uit die volk Israel gebore word. Die Jesus waarna hier verwys word is nie die baba wat in Betlehem gebore is nie, maar die Koning wat die nasies met ‘n ystersepter gaan regeer.
En sy het 'n manlike kind gebaar, wat al die nasies met 'n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon. OPENBARING 12:5 AFR53
Ons weet dat die vrou ‘n voorstelling is van die volk Israel. Hier vlug die Israeliete na die woestyn en na ‘n plek wat God vir hulle gereed gemaak het om hulle te onderhou vir 1,260 dae. Hierdie tydperk van 1,260 dae of 3,5 jaar verwys na die tweede helfte van die Verdrukking.
En die vrou het na die woestyn gevlug waar sy 'n plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank. OPENBARING 12:6 AFR53
Die engel Migael en sy engele (God se verteenwoordigers) voer oorlog teen die draak en sy engele (Satan en sy verteenwoordigers), en die oorlog speel in die hemele af.
En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; OPENBARING 12:7 AFR53
Oorlog in die hemel het al in Genesis begin, maar tot vandag toe nog het Satan toegang tot die hemel. Ons kry die inligting in Job, en Satan se werk is om ons gedurigdeur voor God te veroordeel.
En op 'n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die Here te stel, het die Satan ook onder hulle gekom. Toe vra die Here vir die Satan: Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die Here en sê: Van 'n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het. JOB 1:6-7 AFR53
28 Augustus 2025
OPENBARING 12:8-9 AFR53
en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.
Die oorlog tussen die engele in die hemelruim kom tot ‘n hoogtepunt in die middel van die Verdrukking tydperk. Satan en sy trawante kon nie vir die engel Migael en sy weermag verder teenstaan nie, en die uiteinde is dat Satan en sy demone nie meer ‘n plek in die hemel het nie.
Waar Satan tot op die stadium nog toegang tot die hemel gehad het om Christene te veroordeel, is die toegang nou iets van die verlede. Die groot draak, die ou slang, wat die hele wêreld verlei en wat ons noem duiwel en Satan word nou halfpad deur die Verdrukking neergewerp op die aarde, en sy engele saam met hom.
Daniel gee ook ‘n toekomsblik oor Satan en sy engele wat uit die hemel uitgegooi word.
En uit een van dié het 'n horing, eers klein, uitgekom, maar dit het baie groot geword na die suide en na die ooste en na die Pragtige Land toe. En dit het groot geword tot by die leër van die hemel en het sommige van die leër, naamlik van die sterre, op die aarde laat val en hulle vertrap. DANIËL 8:9-10 AFR53
Johannes hoor ‘n groot stem in die hemel wat sê dat die heil en die krag en die koningskap die eindom van God is. Dit waarmee ons die Onse Vader gebed eindig, word nou bevestig - want aan U behoort die koninkryk, en die krag, en die heerlikheid, tot in ewigheid, Amen!
Die hemele juig omdat Satan uit die hemel uit verban is. Satan, wat elkeen van ons dag en nag aankla voor God, word uit die hemel uitgegooi. Dit gebeur halfpad deur die sewe jaar Verdrukking.
Toe hoor ek 'n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag. OPENBARING 12:10 AFR53
Hulle, naamlik die gelowiges, het Satan oorwin deur:
Die bloed van die Lam, en
omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van 'n lam sonder gebrek en vlekkeloos, I PETRUS 1:18-19 AFR53
Die woord van hulle getuienis, want geloof gebeur wanneer mense die Woord van God hoor.
Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God. ROMEINE 10:17 AFR53
Die gelowiges het ook tot die dood toe, nie hul lewens liefgehad nie. Dit beteken hulle is gewillige martelare vir Jesus.
En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie. OPENBARING 12:11 AFR53
29 Augustus 2025
OPENBARING 12:12 AFR53
Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.
Die hemele en die wat daarin woon is verheug, want Satan is nie meer daar nie! Maar, wee die bewoners van die aarde en die see! Dit klink nie goed nie. Die hemele juig maar die aarde is in stres want die duiwel wat nie meer hemel toe kan gaan nie, is nou op die aarde losgelaat en vasgekeer. Satan se woede is groot want hy weet sy tyd is min en hy wil maksimum skade en verwoesting veroorsaak.
Sy eerste slagoffer is natuurlik die volk Israel (die vrou), want Israel is God se volk van keuse, en dit is hoekom God vir Israel spesiale beskerming gaan gee.
En toe die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde, het hy die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het; OPENBARING 12:13 AFR53
Weereens kom God tot Sy volk se redding. Net soos die Israeliete van ouds wat uit Egipteland uit die slawehuis uitgetrek het en in die woestyn geskuil het terwyl God gesorg het vir manna uit die hemel, so gaan God weer Sy volk red en hulle op arendsvlerke na die woestyn bring om vir hulle te sorg.
maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, 'n tyd en tye en 'n halwe tyd. OPENBARING 12:14 AFR53
God gaan Sy volk in die woestyn bewaar en onderhou, uit die gesig van die slang vir ‘n tydperk van tyd, tye en ‘n halwe tyd - drie en ‘n halwe jaar. Die plek waar God se volk gaan skuil is die dorp Petra in die suide van Jordanië. Ons kry die inligting van die profeet Miga. Skaapkraal is die Hebreeuse woord Bozrah wat ook anders gestel, die dorp Petra is.
Ek sal julle almal bymekaarmaak, Jakob, Ek sal dié vergader wat van Israel oorgebly het, Ek sal hulle bymekaarbring soos skape in 'n kraal, soos 'n groot kudde in die weiveld, die wêreld sal dreun van mense. MIGA 2:12 AFR83
Ondanks die beskerming van God, doen die vyand alles in sy vermoë om Israel te vernietig. Die draak gebruik selfs water om Israel in 'n vloed te laat verdrink. Die aarde maak egter sy mond oop om die water in te sluk en die land op te droog. ‘n Aardbewing veroorsaak dus ‘n skeur om die water af te keer.
En die slang het uit sy bek water soos 'n rivier agter die vrou aan uitgegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier. En die aarde het die vrou te hulp gekom, en die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier opgesluk, wat die draak uit sy bek uitgegooi het.
OPENBARING 12:15-16 AFR53
Die Satan is woedend omdat die volk uit sy greep weggekom het. Nou gaan hy sy woede en toorn maar moet uithaal op die res van die mense op aarde.
En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou. OPENBARING 12:17 AFR53
Johannes staan op die sand van die see om die volgende gebeure wat gaan plaasvind te sien.
En ek het op die sand van die see gaan staan. OPENBARING 12:18 AFR53
30 Augustus 2025
OPENBARING 13:1 AFR53
En ek het 'n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe 'n naam van godslastering.
Hoofstuk 13 stel ons voor aan twee diere. Die diere is nie engele nie, maar mense wat boodskappers is van hul duiwelse meester en daarom word hulle in die studie ook behandel.
Ons weet uit hoofstuk 12 dat die groot vuurrooi draak met sewe koppe, tien horings en sewe krone, die Satan is. Johannes staan nou op die sand van die see (Openbaring 12:18) en hy sien ‘n dier wat uit die see opkom met dieselfde eienskappe van die draak.
Die see is ‘n uitbeelding van die mensdom soos in ‘n see van mense. In hoofstuk 12 is Satan uit die hemel verban en op die aarde vasgekeer. Hier is nou die Antichris wat as mens op die toneel verskyn reg in die middel van die Verdrukking met tien konings en tien koninkryke onder sy mag.
Johannes omskryf die dier met die beeldspraak van Daniel se drome. Die dier is soos ‘n luiperd (Alexander die Grote se Griekse koninkryk), het pote soos ‘n beer (Die koninkryke van die Mede en Perse), en die bek van ‘n leeu (Nebukadneser se koninkryk, Babilon).
En die dier wat ek gesien het, was soos 'n luiperd, en sy pote soos dié van 'n beer, en sy bek soos die bek van 'n leeu; en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag. OPENBARING 13:2 AFR53
Die persoon wat Johannes sien sal heel moontlik uit Europa sy verskyning maak. Daniel 9:26 vertel dat die Antichris van dieselfde omgewing sal kom as die mense wat die tempel in 70 n.C. verwoes het - die Romeinse Ryk (die volk van ‘n vors wat sal kom)
En ná die twee-en-sestig sewetalle sal 'n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van 'n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met 'n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings. DANIËL 9:26 AFR53
Die draak (Satan) gee die mens (die Antichris) wat hom verteenwoordig, sy krag en sy troon en groot mag.
Johannes sien een van die koppe ‘net of dit dodelik gewond was’, en toe is die dodelike wond genees. Johannes sê nie dit was definitief ‘n dodelik wond nie, nee, hy sê net dit lyk of dit dodelik was. So almal op aarde gaan dink dat die Antichris doodgemaak is, en toe uit die dood uit opgestaan het. Die groot na-aper wil homself voordoen as Jesus wat uit die dood uit opstaan.
Die hele wêreld gaan val vir die vertoning en in verwondering agter die dier aangaan.
En ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik gewond was, en sy dodelike wond is genees. En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan. OPENBARING 13:3 AFR53
Satan soek nie net mag en krag nie, hy wil ook aanbid word soos God drie-enig aanbid word. Hier in die helfte van die Groot Verdrukking gaan sy wens bewaarheid word.
Die wêreld gaan die draak (Satan) aanbid wat die dier (die Antichris) mag gee! Die bewondering vir die draak en die dier is so soet soos stroop.
En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer? OPENBARING 13:4 AFR53
Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer? Die wêreld hang aan die lippe van die draak en die dier.
31 Augustus 2025
OPENBARING 13:5 AFR53
En 'n mond is aan hom gegee wat groot woorde en godslasteringe uitspreek, en aan hom is mag gegee om dit twee-en-veertig maande lank te doen.
Die dier (die Antichris) gaan deur die draak (Satan) die gawe ontvang om te praat. Die vers verduidelik dat ‘n mond aan hom gegee is om groot woorde te praat. Selfs Daniel het gesien dat die Antichris ‘n mond het wat groot dinge spreek teen die Allerhoogste.
Die mag om te praat sal hy he vir twee en veertig maande, dus drie en ‘n halwe jaar - die tweede helfte van die Groot Verdrukking. Daniel gee die tydperk as ‘n tyd, tye en die helfte van tyd.
Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar 'n ander horinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel; en kyk, in hierdie horing was oë soos mens-oë, en 'n mond wat groot dinge spreek.
En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende 'n tyd en tye en die helfte van 'n tyd. DANIËL 7:8, 25 AFR53
Die Antichris laster teen God, teen God se tabernakel en teen die wat in die hemel woon.
En hy het sy mond oopgemaak om te laster teen God, om sy Naam en sy tabernakel en die wat in die hemel woon, te laster. OPENBARING 13:6 AFR53
Satan maak oorlog teen die hele aarde wat op die stadium nog bestaan. Elke stam en taal en nasie, almal wat dit waag om Jesus as Verlosser te aanvaar.
Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie. OPENBARING 13:7 AFR53
Diegene wat in die boek van die lewe van die Lam opgeneem is, verwys na die uitverkorenes van God, die mense wat gered is deur Sy genade. Kyk mooi wat hierdie vers verduidelik - die mense wat die dier begin aanbid, sal nooit gered word nie.
En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie. OPENBARING 13:8 AFR53
Elke mens staan voor ‘n keuse: Jesus of Satan - moet nie verkeerd kies nie!
Ons het ore gekry om te hoor - geloof gebeur wanneer die Woord van God gehoor word - luister mooi!
As iemand 'n oor het, laat hom hoor. OPENBARING 13:9 AFR53
Die tweede helfte van die Verdrukking gaan nie ‘n lekker plek wees nie. Diegene wat Jesus as Verlosser aanvaar gaan martelare wees vir Jesus. Hulle sal gevange geneem word of met die swaard doodgemaak word.
Gelowiges op die stadium moet weet dat die Antichris hulle gaan soek om dood te maak, hulle moet volhard in hul geloof en nie bang wees vir dit wat voorlê nie.
As iemand krygsgevangenes maak, gaan hy in krygsgevangenskap; as iemand met die swaard doodmaak, moet hy met die swaard doodgemaak word. Hier is die lydsaamheid en die geloof van die heiliges. OPENBARING 13:10 AFR53
1 September 2025
OPENBARING 13:11 AFR53
En uit die aarde het ek 'n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos 'n lam en het gepraat soos 'n draak.
Johannes sien ‘n tweede dier wat die keer uit die aarde opkom, en hierdie dier is ‘n kombinasie van ‘n lam en ‘n draak. Die horings van die lam is beeldspraak vir heerskappy en gesag, en die lam verwys na ‘n profeet soos Jesus. Hierdie dier is dus ‘n profeet van Satan wat namens Satan praat, en van hier af sal die dier of persoon bekend wees as die Vals Profeet.
Die tweede dier (Vals Profeet) oefen al die mag van eerste dier (Antichris) namens hom uit. Die eerste en tweede diere het hul mag en krag en heerskappy van die draak (Satan) gekry. Ons het hier die groot Nabootser (Satan) wat die Drie-enige God probeer naboots.
Vader - Satan, Seun - Antichris, Heilige Gees - Vals Profeet
En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is. OPENBARING 13:12 AFR53
Die Vals Profeet maak dat die aarde en die mense wat daarop woon, die Antichris aanbid, die persoon wie se dodelike wond genees is. Die Antichris wat hom voordoen as Jesus! Die Vals Profeet doen ook groot tekens! Moet nie vir een oomblik dink dat Satan en sy trawante nie ook tekens kan doen nie. Die Vals Profeet gaan vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde terwyl die wêreld hom in verwondering aanskou.
Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. OPENBARING 13:13 AFR53
Satan verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat die Vals Profeet uitvoer. Indien jy Jesus nie al op die stadium aanvaar het nie, gaan dit moeilik wees om te glo dat die Vals Profeet ‘n handlanger van Satan is. Die Vals Profeet gee die bewoners van die aarde bevel om ‘n standbeeld te maak van die Antichris wat gewond was en weer lewendig geword het.
En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle 'n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het. OPENBARING 13:14 AFR53
Die standbeeld van die Antichris gaan staan in Jerusalem in die tempel van God. Gedurende die helfte van die week is presies in die middel van die Verdrukking tydperk van sewe jaar. Ons weet daar is ‘n tempel want dit is waar die Joodse volk hul offerhandes gaan doen. Daniel vertel dat die slagoffer en spyspffer sal ophou, en wat gebeur dan?
En hy sal een week lank met baie 'n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar 'n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word. DANIËL 9:27 AFR53
Openbaring gee nou vir ons meer inligting oor die standbeeld. Die Vals Profeet gaan ‘n gees aan die Antichris se beeld gee sodat die beeld kan praat, en almal gaan die beeld aanbid. Die wat dit waag om nie die beeld te aanbid nie, sal doodgemaak word.
En dit is hom gegee om 'n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie. OPENBARING 13:15 AFR53
2 September 2025
OPENBARING 13:16 AFR53
En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe 'n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word;
Hoe gaan die Antichris seker maak dat almal op aarde hom aanbid. Die vers sê duidelik - hy maak dat almal, klein en groot, ryk en arm, slawe en vrymense ‘n merk moet kry.
Die merk wat elkeen kry sal op hul regterhand en op hul voorhoofde gegee word, en dit sal ‘n teken wees vir die Antichris of jy vir hom of teen hom is.
Hier in die middel van die sewe jaar Verdrukking kom ons by die laaste skeidingslyn. Wat elke persoon hier kies, het ewige gevolge.
Neem die merk van die dier en jy behoort vir ewig aan Satan, weier die merk van die dier en jy behoort vir ewig aan Jesus!
Nie net word almal gemerk nie, maar die merk bepaal of jy kan voortgaan met jou lewe soos jy dit ken, om te koop en te verkoop. Anders gestel,
het jy ‘n plek om te bly of slaap jy in die veld,
het jy kos om te eet of skreeu jou maag van hongerpyne,
kan jy vrylik rondbeweeg of moet jy gedurig uitkyk vir kameras en ‘drones’, ens............
Die merk gaan beslis ‘n groot finansiële impak he op die mensdom van daardie tyd. ‘n Negatiewe impak vir Christene en ‘n positiewe impak vir Satan se navolgers.
Onthou net dat op die stadium van die geveg is daar drie en ‘n half jaar oor voor Jesus terugkom en Satan vir ewig gaan oorwin.
sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het. OPENBARING 13:17 AFR53
Die merk van die dier - 666!
Vra vir enige persoon, gelowig of ongelowig, of hy al van die merk van die dier gehoor het en meeste sal ‘n storie hé om te beskryf wat hulle dink dit beteken.
Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van 'n mens; en sy getal is seshonderd-ses-en-sestig. OPENBARING 13:18 AFR53
In hoofstuk 7 het ons geleer dat God die 144,000 Joodse evangeliste op hul voorgoofde verseël het sodat hulle die evangelie kon uitdra na die hele wêreld.
Satan, die groot na-aper van God, wil sy navolgers ook verseël en daarom het hy ‘n merk wat elkeen van hulle op hul voorhoofde en regterhande moet kry.
‘n Paar ‘fun facts’ rakende die getal 6:
6 is die getal van die mens, 666 = mens mens mens, en verteenwoordig mens sonder God,
Adam was geskape op die 6de dag,
6 dae in die week moet ons (mense) werk,
Die 6de gebod - jy mag nie doodslaan nie
6 beteken onvolmaaktheid
Tot op die stadium weet ons nie hoe die merk gaan lyk nie, ons kan net spekuleer, maar wat ons wel weet is dat ‘n Christen beslis nie die merk moet kry nie.
Comments