top of page

Engele in die Bybel - Mattheus en Markus

  • Regina Torre
  • May 23
  • 32 min read

Updated: Jun 9

ree


23 Mei 2025


MATTHÉÜS 1:20 AFR53

Maar terwyl hy dit in die gedagte gehad het, verskyn daar 'n engel van die Here in 'n droom aan hom en sê: Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees;


Josef moet ‘n besluit wat hy geneem het uitvoer. Maria is swanger en hy is nie die pa nie. Josef is ‘n regverdige man en wil Maria nie blootstel nie, en daarom wil hy in die geheim van haar skei.


Hy raak aan die slaap met al hierdie gedagtes in sy kop, toe ‘n engel van die Here in ‘n droom aan hom verskyn. Die engel sê vir Josef dat hy nie bang moet wees om Maria as sy vrou te neem nie, want die baba wat sy dra, is uit die Heilige Gees.


Die geboorte van Jesus Christus was dan só: Toe sy moeder Maria verloof was aan Josef, voordat hulle saamgekom het, is sy swanger bevind uit die Heilige Gees.  En Josef, haar man, omdat hy regverdig was en onwillig om haar openbaar te maak, het hom voorgeneem om in die geheim van haar te skei.   MATTHÉÜS 1:18-19 AFR53


Die engel sê verder vir Josef dat Maria ‘n seun sal baar en Josef moet die Seun Jesus noem, want dit is Hy wat die volk van hul sondes sal verlos.


en sy sal 'n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.   MATTHÉÜS 1:21 AFR53


Mattheus, die skrywer van die boek, val homself in die rede om vir ons te sê dat dit wat die engel van die Here hier gesê het, wel gebeur het. Dit wat in die Ou Testament deur die profete gespreek was, is inderdaad vervul.


En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het:   MATTHÉÜS 1:22 AFR53


Mattheus vertel vir ons dan wat die profeet Jesaja se woorde was, en hy verduidelik dat Emmanuel beteken - God met ons.


Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.   MATTHÉÜS 1:23 AFR53


Kom ons kyk ook na Jesaja se woorde wat so mooi deur Mattheus aangehaal en verduidelik is.


Daarom sal die Here self aan julle 'n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar en hom Immánuel noem.   JESAJA 7:14 AFR53


Let op hoe dit baie duidelik gestel word dat Josef nie met Maria gemeenskap gehad het vóór haar swangerskap nie, sowel as nie ná die tyd tot en met Jesus se geboorte nie (vers 18, 25). 


Dit word ook geïmpliseer met die aanhaling uit Jes. 7:14 dat die ‘maagd sal swanger word’. 


Die goddelikheid van Jesus se geboorte word daarmee geaksentueer (die swangerskap is uit die Heilige Gees, nie uit Josef nie) sowel as die menslikheid daarvan (Jesus is uit Maria gebore, nie uit ’n engel of een of ander ander geestelike of goddelike wese nie). 


Dié getuienis het tot die belydenis van die maagdelike geboorte gelei, hoewel dit duidelik ook ’n goddelike geboorte is.


En toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gedoen soos die engel van die Here hom beveel het en sy vrou by hom geneem;  en hy het haar nie beken totdat sy haar eersgebore Seun gebaar het nie; en hy het Hom Jesus genoem.   MATTHÉÜS 1:24-25 AFR53



24 Mei 2025


MATTHÉÜS 2:13 AFR53

En toe hulle teruggegaan het, verskyn daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef en sê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek jou sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak.


Net na die wyse manne se vertrek verskyn die engel van die Here weer aan Josef in ‘n droom en gee aan hom ‘n dringende opdrag. Hulle moet na Egipte vlug en daar bly totdat die engel vir hom verdere opdrag gee.


Egipte was 'n natuurlike plek om na te vlug. Dit was naby, 'n goed geordende Romeinse provinsie buite Herodes se jurisdiksie, en met ‘n bevolking van ongeveer 'n miljoen Jode.


Josef het nou al voorheen met die engel kennis gemaak, so daar is geen huiwering oor wat hy moet doen nie. Hy het dadelik opgestaan, die Kindjie en Maria in die nag geneem en na Egipte vertrek.


Hy het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder in die nag geneem en na Egipte vertrek.   MATTHÉÜS 2:14 AFR53


Hulle het in Egipte gebly tot die dood van Herodes, en in die proses word nog ‘n profesie vervul. Die keer ‘n profesie van Hosea.


En hy was daar tot die dood van Herodes, sodat die woord vervul sou word wat die Here gespreek het deur die profeet: Uit Egipte het Ek my Seun geroep.   MATTHÉÜS 2:15 AFR53


God het Sy seun of Sy volk verlos van hul Egiptiese vyand en hulle uit die Egipte, uit die slawehuis, uitgelei.


Maar, hierdie gedeelte kyk nie net terug na Israel se begin nie, dit kyk ook vorentoe na God se Seun, Jesus, wat in Egipte moes skuiling vind teen Herodus.


Toe Israel 'n kind was, het Ek hom liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep.   HOSÉA 11:1 AFR53


Herodes is woedend toe hy agterkom dat die wyse manne hom mislei het en hy gee daarom ‘n wraaksugtige en koelbloedige bevel dat alle seuns van twee jaar en jonger in die omgewing van Bethlehem doodgemaak moet word.


Toe Herodes sien dat hy deur die wyse manne mislei was, het hy baie woedend geword en gestuur en in Betlehem en in al die omstreke daarvan al die seuntjies van twee jaar en daaronder laat ombring, ooreenkomstig die tyd wat hy van die wyse manne uitgevra het.   MATTHÉÜS 2:16 AFR53


Die keer word ‘n profesie van Jeremia vervul.


Toe is vervul wat deur Jeremia, die profeet, gespreek is toe hy gesê het: 'n Stem is in Rama gehoor: rouklag en geween en groot gekerm; Ragel beween haar kinders en wil nie vertroos word nie, omdat hulle daar nie meer is nie.   MATTHÉÜS 2:17-18 AFR53


Hierdie aanhaling uit Jeremia het oorspronklik verwys na die rou van Israel se moeders tydens die verowering en ballingskap van die nasie. Hier is Ragel 'n voorstelling van Betlehem se moeders.


So sê die Here: 'n Stem word gehoor in Rama, geklaag, bitter geween; Ragel ween oor haar kinders; sy weier om getroos te word oor haar kinders, omdat hulle daar nie is nie.   JEREMIA 31:15 AFR53



25 Mei 2025


MATTHÉÜS 2:19 AFR53

En ná die dood van Herodes het daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef in Egipte verskyn


Die engel van die Here verskyn, na die dood van Herodes en soos hy gesê het, weer aan Josef toe dit veilig was om terug te keer na Israel.


Die engel van die Here sê vir Josef dat hy die Kindjie en sy moeder terug moet neem na Israel, want die wat hulle wou doodmaak is self dood.


en gesê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder, en gaan na die land van Israel; want hulle is dood wat die lewe van die Kindjie gesoek het.   MATTHÉÜS 2:20 AFR53


Josef skroom nie om te luister nie. Hy staan dadelik op, neem die Kindjie en sy moeder, en keer terug na Israel.


En hy het opgestaan, die Kindjie en sy moeder geneem en in die land van Israel gekom.   MATTHÉÜS 2:21 AFR53


Augustus, die Romeinse keiser, het na die dood van Herodes, die koninkryk onder Herodes se drie seuns verdeel.  Archeláüs was aangestel oor Judea, Idumea en Samaria, Antipas oor Galilea en Perea, en Filippus oor Batanea, Trachonitis en Auranitis.


Archeláüs het sy vader Herodus se wrede geaardheid gehad en het tydens ‘n Pasga ongeveer 3000 van die mense in die tempel en stad laat doodmaak.


Josef het Archeláüs se karakter geken en het daarom vir hul veiligheid gevrees.  Hy ontvang toe ‘n goddelike waarskuwing in ‘n droom om eerder na die streke van Galilea terug te keer.


Josef het toe na Galilea teruggekeer waar hulle onder die regering van Antipas veiliger kon leef.


Maar toe hy hoor dat Archeláüs oor Judéa koning was in die plek van sy vader Herodes, was hy bevrees om daarheen te gaan. En hy het 'n goddelike waarskuwing in 'n droom ontvang en na die streke van Galiléa teruggekeer.   MATTHÉÜS 2:22 AFR53


Josef, die Kindjie en Maria het toe in Nasaret gaan woon, en so word nog ‘n profesie vervul.


En hy het gaan woon in 'n stad met die naam van Násaret, sodat vervul sou word wat deur die profete gespreek is, dat Hy Nasaréner genoem sou word.   MATTHÉÜS 2:23 AFR53


Die lank verwagte Messias, dié een wat selfs Herodes se aandag getrek het, is die Nasarener.


Wat Mattheus hier doen met die woord Nasarener, is waarskynlik om iets oor Jesus te sê aan die hand van ‘n woordspeling tussen die dorpie se naam Nasaret en die Hebreeuse woord neser wat loot of takkie beteken. 


Die term Nasarener het hier die dubbele betekenis – Nasaret, ‘n plek waarvan niemand iets goed verwag het nie – en op ‘n dieper vlak op die Messias, die takkie van Isai. Dié Een op wie die Gees van die Here sal rus, wat verandering bring vanaf ’n plek waar niemand dit verwag nie, en wat die Verlosser van die wêreld is.


Maar daar sal 'n takkie uitspruit uit die stomp van Ísai, en 'n loot uit sy wortels sal vrugte dra;   JESAJA 11:1 AFR53



26 Mei 2025


MATTHÉÜS 4:6 AFR53

en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen 'n klip stamp nie.


Hierdie gedeelte beskryf hoe Satan drie keer vir Jesus versoek het, en hoe Jesus elke keer die versoekings weerstaan het. Elke versoeking word met ‘n Skrifgedeelte uit Deuteronomium teengestaan.


Die tweede versoeking bring die engele in gedrang.


Satan neem vir Jesus na Jerusalem, die heilige stad, en neem Hom dan na die dak van die tempel.


Die toppunt van die tempel was sowat 60 meter hoog van die onderkant van die Kidronvallei. 'n Sprong van daar af, en die verskyning van engele as beskerming, sou 'n merkwaardige skouspel wees.


Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan MATTHÉÜS 4:5 AFR53


Die tweede versoeking van Satan is dat Jesus God se beloftes van beskerming in die Skrif – Psalm 91 – sal gebruik om vir Hom naam te maak deur van die hoogste punt van die tempel af te spring.


want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë. Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie.   PSALMS 91:11-12 AFR53


Die doel van Satan is dat Jesus, God se beloftes, ter wille van Homself sal misbruik. Die doel van die Gees is darenteen dat Jesus vir dié versoeking sal néé sê, sodat Hy voluit op God se beloftes ter wille van ander kan staatmaak, maar nie ter wille van Homself nie.


Jesus antwoord met die Skrif tot die teendeel en sê dat dit verkeerd is vir Hom om Sy eie magte te misbruik.


Jesus sê vir hom: Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie.   MATTHÉÜS 4:7 AFR53


Die Skrifgedeelte wat Jesus aanhaal kom uit Deuteronomium met die woord dat Hy God se naam hoog wil hou, deur Hom nie uit te tart of te versoek nie. 


Julle mag die Here julle God nie versoek soos julle Hom by Massa versoek het nie.   DEUTERONÓMIUM 6:16 AFR53


Daarmee verwerf Jesus die vrymoedigheid om tog op God se beloftes aanspraak te maak in vele situasies in Sy bediening, onder andere in die vele kere wat Hy gelowiges verseker van God se bereidheid om gebede te verhoor.


Let op dat die engele wel vir Jesus kom versorg het ná die duiwel Hom met rus gelaat het.  God kom dus Sy belofte in Psalm 91 na, sonder dat Jesus eers hoef te vra!


Daarna het die duiwel Hom laat staan, en daar het engele gekom en Hom gedien.   MATTHÉÜS 4:11 AFR53



27 Mei 2025


MATTHÉÜS 13:39 AFR53

en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele.


Die gelykenisse vanaf Mattheus 13 se verklarings word nie meer aan die skares meegedeel nie. Meestal word net die dissipels daarvan vertel nadat Jesus met die skares gepraat het.


Gelukkig was Jesus nog daar om die uitleg van die gelykenisse aan die dissipels te gee, en soos met ‘n moeilike storiesom waar jy later die antwoord kry, lyk die antwoord so logies! Hoekom kon ek dit nie self uitgedink het nie….. is menige se vraag! Maar onthou, Jesus het met opset die gelykenisse so vertel dat die uitleg net vir Sy volgelinge beskikbaar is.


Nadat Hy die skare weggestuur het, het Jesus huis toe gegaan; en sy dissipels het na Hom gekom en gesê: Verklaar vir ons die gelykenis van die onkruid in die saailand.   MATTHÉÜS 13:36 AFR53


Nou, voor jy dink, is ek dan nie ‘n volgeling van Jesus nie?, moet jy onthou dat die teksvers begin deur die disippels wat vir Jesus vra: Verklaar vir ons die gelykenis van die onkruid in die saailand.


Hulle het ook nie geweet nie!


En Hy het geantwoord en vir hulle gesê: Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens, en die saailand is die wêreld. Die goeie saad — dit is die kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die Bose, en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele.”  MATTHÉÜS 13:37-39 AFR53


Die uitleg van die simbole:


Hy wat die goeie saad saai – die Seun van die mens

Die vyand wat die onkruid saai – die duiwel

Die saailand – die wêreld

Die goeie saad – die kinders van die koninkryk

Die onkruid  – die kinders van die Bose

Die oes – die voleinding van die wêreld

Die maaiers – die engele


Satan saai nie dorings of distels of bosse nie, hy saai drabok wat onmoontlik is om van regte koring te onderskei tot en met die oestyd. In die wêreld vandag word die kinders van die koninkryk in ‘n veld gesaai waar hulle verstrengel en omring is deur kinders van die bose – en soms is dit moeilik om hulle van mekaar te onderskei.


Jesus leer vir ons dat Hy met die voleinding van die wêreld Sy engele gaan stuur om die goeie saad en die onkruid van die wêreld te skei.


Die toekoms van die onkruid (die wetteloses) en die koring (die regverdiges) word in hierdie verse beskryf. Die wetteloses is bestem om die vure van die hel te ervaar, waar hulle in ewige ellende sal lewe, maar die regverdiges sal in ewige glans en vreugde lewe. Hulle Koning sal ook hulle Vader wees!


Net soos die onkruid dan bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees in die voleinding van hierdie wêreld: die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen, en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.   MATTHÉÜS 13:40-43 AFR53


Wie ore het om te hoor moet werklik luister na wat Jesus hier vir ons leer.



28 Mei 2025


MATTHÉÜS 13:49 AFR53

So sal dit wees in die voleinding van die wêreld: die engele sal uitgaan en die slegte mense onder die regverdiges uit afskei


Die gelykenis van die treknet wat vis vang.


Aardse verhaal:


Die koninkryk van die hemele is soos: ‘n net wat in die see gegooi word en van elke soort seedier word bymekaargemaak. Op die strand word hulle gesorteer tussen goed en sleg: die goeies word in bakke bymekaar gemaak, maar die slegtes word weggegooi.


Hemelse betekenis:


Die betekenis van hierdie sewende gelykenis in hoofstuk 13 word ook sommer in die volgende sin vir ons gegee, net om seker te maak ons kry die uitleg nie verkeerd nie!


Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n net wat in die see gegooi word en van elke soort bymekaarbring; en as dit vol geword het, trek hulle dit op die strand uit en gaan sit en maak die goeies in bakke bymekaar, maar gooi die slegtes weg.   MATTHÉÜS 13:47-48 AFR53


So sal dit wees wanneer die wêreled tot sy einde kom. Die engele sal uitgaan en die slegte mense van die goeie mense afskei en die slegte mense sal in die vuuroond gegooi word. Dit gaan ‘n baie slegte tyd wees want daar gaan ‘n geween wees en ‘n gekners van tande.


So sal dit wees in die voleinding van die wêreld: die engele sal uitgaan en die slegte mense onder die regverdiges uit afskei en hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande.   MATTHÉÜS 13:49-50 AFR53


Die tweede gelykenis van die onkruid tussen die koring wat ons gister hanteer het, en hierdie sewende gelykenis het alby dieselfde uiteinde.


Die goeie en slegte word geskei – die slegtes word in die vuuroond gegooi en die goeies leef vir ewig saam met Christus.


Die disippels het na Jesus se verduideliking van die sewe gelykenisse in Mattheus 13 blykbaar als mooi verstaan.


Jesus sê vir hulle: Het julle ál hierdie dinge verstaan? Hulle antwoord Hom: Ja, Here!   MATTHÉÜS 13:51 AFR53


Die dissipels wat sopas daarop aanspraak gemaak het dat hulle verstaan ​​wat Jesus vir hulle geleer het, is nou verantwoordelik om hul begrip aan ander oor te dra, asof hulle uit die stoorkamer van hul wysheid en begrip uitdeel. Hierdie pakhuis van inligting bevat dinge wat nuut en oud is.


Toe sê Hy vir hulle: Daarom is elke skrifgeleerde wat ‘n leerling geword het in die koninkryk van die hemele, soos ‘n huisheer wat uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn bring.  MATTHÉÜS 13:52 AFR53



29 Mei 2025


MATTHÉÜS 16:27 AFR53

Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade.


Jesus spel die implikasies van sy eie kruisdood vir die dissipels uit.  Soos Hy gekom het om ter wille van die vestiging van die koninkryk aan ’n kruishout te hang, só sal elke volgeling van Hom bereid moet wees om dieselfde te doen, soms by wyse van spreke, ander kere inderdaad presies soos Jesus dit ervaar het.


Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.   MATTHÉÜS 16:24 AFR53


Die woord ‘lewe’ word in twee betekenisse gebruik: ons huidige lewe - die liggaamlike lewe, en die lewe wat kom - die geestelike of ewige lewe.


Dit is inderdaad twee stadiums van dieselfde lewe - dit wat deur die aarde begrens word en dit wat saam met die verheerlikte liggaam in die hiernamals deurgebring gaan word.


Jesus sê dat enigiemand wat die liggaamlike dood en lyding probeer vermy deur Hom te verloën en die waarheid te verloën, sal die ewige lewe verloor. Aan die ander kant, wie ook al sy lewe ter wille van Jesus opoffer om Sy saak te bevorder - sy siel sal gered en ewig beloon word.


Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.   MATTHÉÜS 16:25 AFR53


Wat baat al die rykdom van hierdie wêreld ‘n persoon as dit beteken dat sy siel sal skade ly? Wat baat ‘n goeie aardse lewe jou, as jou siel eendag in die ewige vuur gaan eindig?


Want wat baat dit 'n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel?   MATTHÉÜS 16:26 AFR53


Jesus verduidelik aan Sy disippels wat met Sy tweede koms gaan gebeur. Daar kom ‘n tyd wat elkeen volgens sy dade vergeld sal word. Vir die ongelowoges met hul bose dade wag die oordeel. Die gelowiges word ook geoordeel volgens hul dade, maar die oordeel is uitsluitlik vir die doel om belonings toe te ken.


Wanneer Jesus terug kom, kom Hy nie alleen nie. Die Seun van die mens staan gereed om met Sy engele in die heerlikheid van Sy Vader te kom.


Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade.   MATTHÉÜS 16:27 AFR53



30 Mei 2025


MATTHÉÜS 18:10 AFR53

Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie; want Ek sê vir julle dat hulle engele in die hemele altyd die aangesig sien van my Vader wat in die hemele is.


Die dissipels het Jesus 'n baie voorbarige vraag gevra: Wie van hulle is die grootste in die koninkryk van die hemele? Die feit dat hulle die vraag vra en sommige van die gebeure wat volg, toon dat hulle nog nie verstaan ​​het dat Jesus nie gekom het om Sy koninkryk op aarde op te rig nie.


In daardie uur het die dissipels na Jesus gekom en gesê: Wie is tog die grootste in die koninkryk van die hemele?   MATTHÉÜS 18:1 AFR53


Jesus antwoord deur 'n klein kindjie te roep om na Hom toe te kom, en tussen hulle te staan.


Toe roep Jesus 'n kindjie na Hom en laat hom in hulle midde staan en Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!   MATTHÉÜS 18:2-3 AFR53


Jesus beskryf die kinderlike geloof en nederigheid wat nodig is om die koninkryk van die hemele in te gaan.


Hierdie gedeelte beteken dat die geloofsgemeenskap as sodanig die opdrag het om uit te reik na mense wat uit hulle geledere afdwaal. Dit is wat die Herder, Jesus, van hulle verwag, want dít is wat Hy sou doen.


Jesus begin die gedeelte deur die dissipels te waarsku om nie neer te sien op een van die geringes nie.  Die rede is, dat elkeen in die koninkryk vir God belangrik is. 


Trouens, die feit dat hier van ’n direkte verband tussen hulle engele en die Vader in die hemel gepraat word, is merkwaardig.  Lukas praat ook daaroor in Handelinge.


En sy het die stem van Petrus herken en van blydskap die poort nie oopgemaak nie, maar na binne gehardloop en vertel dat Petrus voor die poort staan. Maar hulle sê vir haar: Jy is van jou verstand af. Maar sy het volgehou dat dit so is. Daarop sê hulle: Dit is sy engel.   HANDELINGE 12:14-15 AFR53


Die Hebreërskrywer is duidelik daaroor dat die engele (hulle word daar dienende geeste genoem) in diens van God is om dié te dien wat die saligheid gaan beërf, die koninkrykskinders.


Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie?   HEBREËRS 1:14 AFR53


Iets om oor na te dink as koningskind. God is terdeë bewus van wat in jou lewe en rondom jou aangaan - nie net met Sy Gees nie, maar ook met Sy engele wat die opdrag het om jou te dien in die uitvoering van jou verantwoordelikheid in die koninkryk van God. 


Hoe presies dít werk, word nie in die Bybel uitgespel nie.


Dit moet ons ook met ander oë na mekaar laat kyk. Ons moet alles in ons vermoë doen om te sorg dat niemand van die geloofsgemeenskap afvallig raak nie.



31 Mei 2025


MATTHÉÜS 22:30 AFR53

Want in die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele van God in die hemel.


Ons is nou by die gedeelte waar Jesus in Jerusalem ingekom het op ‘n donkie, met wat ons nou reeds ken as die intog in Jerusalem.


Onthou dat tydens Paasfees die Joodse families elk ‘n lam sonder gebrek moes uitsoek en van 10 tot 14 Nisan in hul huis moes hou om te ondersoek vir enige gebreke.


Jesus het in hierdie tyd profesie vervul deur van 10 tot 14 Nisan in die tempel in te gaan en die mense te leer. Hy het die Fariseërs en Sadduseërs en Owerhede se vrae beantwoord en so is Jesus, ons Lam, ondersoek vir enige gebreke.


Omdat die Sadduseërs nie in die opstanding van die dooies glo nie, vra hulle vir Jesus die volgende:


en sê: Meester, Moses het gesê: As iemand sonder kinders sterwe, moet sy broer sy vrou trou en kinders vir sy broer verwek. Nou was daar by ons sewe broers, en die eerste het getrou en gesterwe; en omdat hy geen kinders gehad het nie, het hy sy vrou vir sy broer agtergelaat. So ook die tweede en die derde tot die sewende toe. En laaste van almal het die vrou ook gesterwe.   MATTHÉÜS 22:24-27 AFR53


Dan die strikvraag: In die opstanding - watter een van die sewe mans sal haar as vrou he - want hulle het almal met haar getrou?


In die opstanding dan, van watter een van die sewe sal sy die vrou wees — want hulle almal het haar gehad?   MATTHÉÜS 22:28 AFR53


Hulle ontkenning van die opstanding was gegrond op die feit dat hulle net die eerste vyf boeke van die Ou Testament, die Pentateug, erken het as kanon en volgens hulle lees van die Bybel, nie die opstanding daarin kon naspeur nie.


Jesus ontbloot egter hulle dwaling omdat hulle nie die Bybel of vir God ken nie. 


Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.   MATTHÉÜS 22:29 AFR53


Die opstanding – waarin hulle nie glo nie – is anders as wat hulle hul ingedink het.  Daar trou mense nie. 


Jesus haal aan uit dieselfde boeke van die Pentateug wat hulle erken het!  Hy troef dus hul opvattings in terme van ’n noukeurige lees van dieselfde deel van die Bybel as wat hulle lees.


En wat die opstanding van die dode betref — het julle nie die woord gelees wat tot julle deur God gespreek is nie: Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob? God is nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes.   MATTHÉÜS 22:31-32 AFR53


Jesus sê in vers 30 dat die engele van God in die hemel nie trou nie.


Die mees voor die hand liggende punt moet nie misgelyk word nie: Jesus het vir die Sadduseërs gesê dat engele ‘n werklikheid is. Die Sadduseërs het ook nie die bestaan ​​van engele erken nie.


Die skare in die tempel was verslae oor Jesus se kennis en oor dit wat Hy hulle geleer het.


En toe die skare dit hoor, was hulle verslae oor sy leer.   MATTHÉÜS 22:33 AFR53



1 Junie 2025


MATTHÉÜS 24:31 AFR53

En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.


Jesus en vier van Sy dissipels sit op die Olyfberg regoor die tempel. Die vier dissipels – Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas – is alleen saam met Jesus en hulle vra vir Hom ‘n klomp vrae.


Jesus beweeg nou in die gedeelte na die einde van die sewe jaar verdrukking, en wel na die heel laaste dae wanneer Sy wederkoms slegs ure weg is.


En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word.   MATTHÉÜS 24:29 AFR53


Op daardie tydstip sal die tekens onmiskenbaar wees, aangesien die hemel self sal verdwyn. Jesus sê dat die son sal ophou skyn, die maan gaan donker word en die sterre in die heelal gaan val, wat beteken dat niks in die hemel meer sigbaar sal wees nie.


Die enigste lig wat die wêreld aan die einde van Verdrukking het, is die lig wat deur die son in die dag en die maan en sterre in die nag gegee word. Maar, dan kom daar ‘n oomblik wanneer alle ligbronne weg is, en die wêreld word in volslae duisternis gedompel.


Uit hierdie intense duisternis, ontvang die wêreld een laaste teken van Jesus se koms wanneer ‘n helder teken in die lug verskyn.


Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne.   OPENBARING 19:11-14 AFR53


Die Here het al die ligte in die heelal afgeskakel sodat Sy lig die enigste sigbare ding sou wees en uit hierdie intense duisternis is die wêreld getuie van die wederkoms van Jesus en die Kerk en die engele wat Hom volg.


En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid.   MATTHÉÜS 24:30 AFR53


Jesus vertel dat die stamme van aarde sal rou wanneer hulle Hom in die hemel sien met Sy wederkoms, in kontras met die stamme van Israel wat sal juig wanneer hulle Koning op die wolke verskyn.


Met Jesus se wederkoms word die engele uitgestuur met harde trompetgeluid. Indien jy in daardie tyd niks gesien het nie, word jou volgende sintuig geprikkel met trompetgeluid.


En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.   MATTHÉÜS 24:31 AFR53



2 Junie 2025


MATTHÉÜS 25:31 AFR53

En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit;


Hierdie gedeelte is 'n beskrywing van 'n toekomstige toneel van oordeel na die glorieryke wederkoms van Jesus, nadat die Seun van die mens saam met al die heilige engele gekom het, en Hy op Sy heerlike troon sit.


Die aankondiging is gedeeltelik gebaseer op die visioen van Daniël 7:13.


Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van 'n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom.   DANIËL 7:13 AFR53


Al die nasies, of selfs beter, al die heidene, sal voor die Seun van die mens versamel word. Die heiden nasies van die wêreld sal geskei word van God se volk Israel.


en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit.   MATTHÉÜS 25:32-33 AFR53


Drie groepe mense word hier verteenwoordig - die skape, die bokke en die broeders.


Die skape sal aan die Seun van die mens se regterhand wees - hulle is die geseëndes wat die koninkryk, wat vir hulle voorberei is, beërf.


en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit. Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.   MATTHÉÜS 25:33-34 AFR53


Die bokke word aan die Seun van die mens se linkerhand geplaas - dit is die vervloektes, en hul voorland is die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.


Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.   MATTHÉÜS 25:41 AFR53


Die broeders is God se volk - dit is hulle wat tydens die Groot Verdrukking God se getuies regoor die wêreld gaan wees, meer spesifiek die 144,000 wat die evangelie sal verkondig.


Hulle sal onder groot vervolging wees en sekere mense sal gekies word om hulle te beskerm, te voed, weg te steek, ens. Daar sal verbasing wees dat hierdie nasies uitgesonder en gespaar sal word.


En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom? En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.   MATTHÉÜS 25:39-40 AFR53



3 Junie 2025


MATTHÉÜS 26:53 AFR53

Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie?   


Jesus het saam met die dissipels na Getsemane gegaan, en daar het Hy, voor Hy inhegtenis geneem was, gaan bid.


Toe kom Jesus met hulle in 'n plek met die naam van Getsémané, en Hy sê vir die dissipels: Sit hier onderwyl Ek daar gaan bid.   MATTHÉÜS 26:36 AFR53


Judas, een van die disippels, kom toe daar aan met ‘n groot menigte wat bewapen is met swaarde en stokke.


Hy verraai Jesus met ’n soen terwyl Jesus hom as vriend aanspreek – hoe ironies! 


En sy verraaier het vir hulle 'n teken gegee en gesê: Die een wat ek sal soen, dit is Hy, gryp Hom!   MATTHÉÜS 26:48 AFR53


Een van die dissipels wat saam met Jesus was gryp sy swaard en kap die dienskneg van die hoëpriester se oor af.


En een van die wat saam met Jesus was, het meteens sy hand uitgesteek en sy swaard getrek; en hy het die dienskneg van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap.   MATTHÉÜS 26:51 AFR53


Mattheus vertel ons nie wie die oor afgekap het nie, maar ons weet uit Johannes 18 dat hierdie naamlose swaardvegter Petrus was.


En Simon Petrus wat 'n swaard gehad het, het dit uitgetrek en die dienskneg van die hoëpriester geslaan en sy regteroor afgekap. En die naam van die dienskneg was Malchus.   JOHANNES 18:10 AFR53


Jesus weier om met geweld te reageer en leer selfs in Sy oomblik van grootste nood vir Sy dissipels om dieselfde te doen. 


Toe sê Jesus vir hom: Sit jou swaard in sy plek terug; want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan.  MATTHÉÜS 26:52 AFR53


Dit is nie dat Jesus nie die vermoë gehad het om met geweld te reageer nie, Hy wou nie. Jesus kon bid en vra vir hulp en Sy Vader sou meer as twaalf legioene van engele tot Sy beskikking stel.

’n Romeinse legioen was 6 000 man sterk, d.w.s. 72 000 engele, ‘n magtige hemelse weermag!


Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie?   MATTHÉÜS 26:53 AFR53


Maar, dit was nie die plan nie, en Jesus kies om die voorafbepaalde plan te volg. Die van die Lydende Messias, die Een wat deur die kruisdood vergifnis vir die hele wêreld sal bring.  En Hy laat hulle toe om Hom in hegtenis te neem.


Weereens is Ou Testament profesie vervul.


Die gebeure is egter te veel vir die dissipels se lojaliteit en moed en hulle slaan op die vlug.


Maar dit het alles gebeur, dat die Skrifte van die profete vervul sou word. Toe het al die dissipels Hom verlaat en gevlug.   MATTHÉÜS 26:56 AFR53



4 Junie 2025


MATTHÉÜS 28:2 AFR53

En daar kom 'n groot aardbewing, want 'n engel van die Here het uit die hemel neergedaal en gekom en die steen van die opening weggerol en daarop gaan sit.


Maria Magdalena en die ander Maria het na Jesus se graf gegaan om die voorbereiding van Sy liggaam, wat deur die Sabbat onderbreek is, te voltooi. Hulle het na die Sabbat op die eerste dag van die week (Sondag), by die graf gekom – met die volle verwagting om die dooie liggaam van Jesus te vind.


En laat ná die sabbat toe dit begin lig word, teen die eerste dag van die week, kom Maria Magdaléna en die ander Maria om na die graf te gaan kyk.   MATTHÉÜS 28:1 AFR53


Slegs Mattheus noem hierdie aardbewing. Die aardbewing het nie veroorsaak dat die klip weggerol het nie, die engel van Here wat uit die hemel neergedaal en die steen weggerol het, het die aardbewing veroorsaak.


Nadat die engel van die Here sy taak voltooi het, het hy op die steen gaan sit. Sy gedaante was soos weerlig en sy klere wit soos sneeu.


En sy gedaante was soos weerlig en sy kleding wit soos sneeu.   MATTHÉÜS 28:3 AFR53


Die Romeinse soldate wat verantwoordelik was vir die bewaking van die graf was skoon verskrik. Die engel se teenwoordigheid het hierdie professionele soldate laat bewe en flou word.


En uit vrees vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword.   MATTHÉÜS 28:4 AFR53


Die vroue het ook die engel van die Here gesien, hy sê vir hulle om nie bang te wees nie. Die engel sê verder dat hy weet dat hulle vir Jesus soek wat gekruisig is.


Maar die engel antwoord en sê vir die vroue: Moenie vrees nie, want ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is.   MATTHÉÜS 28:5 AFR53


Vir die eerste keer het die volgelinge van Jesus – hierdie getroue vroue – gehoor wat hulle nie verwag het om te hoor nie. Hulle het gehoor dat Jesus nie in die graf was nie, maar  opgestaan ​​het uit die dood.


Die engel herinner hierdie vroue – en al die dissipels – daaraan dat hulle dit moes verwag het. Dit was presies wat Jesus belowe het.


Die klip is nie weggerol om Jesus uit te laat nie. Dit is weggerol sodat ander kon sien en oortuig kon word dat Jesus Christus uit die dood opgestaan ​​het.


Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het;   MATTHÉÜS 28:6 AFR53


Die engel het hulle beveel om die eerste boodskappers van die goeie nuus van Jesus se opstanding te wees. Aangesien hierdie vroue van die min mense was wat dapper genoeg was om hulself in die openbaar met Jesus te identifiseer, was dit 'n gepaste eer.


en gaan haastig, sê vir sy dissipels: Hy het opgestaan uit die dode en gaan voor julle uit na Galiléa. Daar sal julle Hom sien. Kyk, ek het julle dit gesê.   MATTHÉÜS 28:7 AFR53



5 Junie 2025


MARKUS 1:13 AFR53

En Hy was daar in die woestyn veertig dae lank, terwyl Hy deur die Satan versoek is; en Hy was saam met die wilde diere, en die engele het Hom gedien.



Jesus, wat baie jare lank afgesonderd met Sy ouers in Nasaret gewoon het, het in Galilea aangekom en is daar in die Jordaan deur Johannes gedoop.


En in daardie dae het Jesus van Násaret in Galiléa gekom en is deur Johannes in die Jordaan gedoop.   MARKUS 1:9 AFR53


Wanneer Jesus uit die water opstaan, sien Johannes hoe die hemele oopgeskeur word. Die Griekse stamwoord wat hier gebruik word, ouranos, kan die lug, die buitenste ruimte of die plek waar God woon, beteken.


Aangesien die Heilige Gees neergedaal het, was dit waarskynlik beide die lug en die plek waar God woon. Dit is interessant om daarop te let dat die hemele oopgeskeur het. Die Griekse woord wat in hierdie vers gebruik word, kom van die term schizo, en beteken om te kloof of te skeur.


Die Gees het op Jesus neergedaal op 'n manier soortgelyk aan 'n voël. Op hierdie manier is Hy direk deur God gesalf vir Sy openbare bediening.


En dadelik toe Hy opklim uit die water, sien Hy die hemele skeur en die Gees soos 'n duif op Hom neerdaal.   MARKUS 1:10 AFR53


Hierdie gedeelte is een van die min wat alle lede van die Drie-eenheid noem. God die Vader spreek, Jesus is fisies teenwoordig, en die Gees kom op Hom. Al drie persone van die Drie-eenheid werk onafhanklik op dieselfde tyd, maar in perfekte harmonie. Elke persoon van die Drie-eenheid is goddelik en tog in perfekte gemeenskap met mekaar.


En daar het 'n stem uit die hemele gekom: U is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het.   MARKUS 1:11 AFR53


Verse 12 en 13 bied 'n verkorte weergawe van die versoeking van Jesus. Interessant genoeg is dit die Heilige Gees wat Jesus weg van mense bring na 'n tyd van isolasie. Die woord wat hier as gedryf vertaal word, is die Griekse woord ekballei, en beteken 'n dwingende, aggressiewe druk.


En dadelik het die Gees Hom uitgedryf in die woestyn.   MARKUS 1:12 AFR53


Jesus het die veertig dae na Sy doop alleen in die woestynwildernis deurgebring. Hierdie tyd van eensaamheid het versoeking en gevare van wilde diere ingesluit, maar ook die seëninge van engele wat Hom bedien en gedien het.


En Hy was daar in die woestyn veertig dae lank, terwyl Hy deur die Satan versoek is; en Hy was saam met die wilde diere, en die engele het Hom gedien.   MARKUS 1:13 AFR53


Jesus se doop, versoeking, eerste prediking en roeping van sy dissipels word met vinnige penstrepe geteken.  Sy tuisdorp plaas Hom binne Joodse konteks.  Die doop met water verbind Hom aan mense wat bekering nodig het.  Die doop met die Heilige Gees verbind Hom aan God wat deur Jesus goeie nuus vir die mense bring.  Die versoeking in die woestyn stel Hom voor as ‘n beproefde en getoetste boodskapper.



6 Junie 2025


MARKUS 8:38 AFR53

Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele.


Dit was erg genoeg vir die dissipels om te hoor dat Jesus sou ly, verwerp word en aan 'n kruis sou sterf. Nou het Jesus vir hulle gesê dat hulle dieselfde moes doen.


Almal het geweet wat Jesus bedoel het toe Hy dit gesê het. Almal het geweet dat die kruis 'n onwrikbare instrument van die dood was. Die kruis het geen ander doel gehad nie.


En toe Hy die skare saam met sy dissipels na Hom geroep het, sê Hy vir hulle: Wie agter My aan wil kom, moet homself verloën en sy kruis opneem en My volg.   MARKUS 8:34 AFR53


Die dissipels is die fokus van Jesus se onderrig.  Dissipelskap kos ‘n prys: selfverloëning, kruis opneem (‘n teken van volle oorgawe en nie ‘n verheerliking van pyn nie) en navolging.  Jesus koppel dit aan die paradoks van lewe deur verlies: wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor, en wie sy lewe vir Hom en die evangelie verloor, sal dit behou. 


Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil en om die evangelie ontwil verloor, hy sal dit red.   MARKUS 8:35 AFR53


Daar is geen sin in die wins van die wêreld, maar die verlies van jou lewe nie.


Jesus veroordeel mense se begeerte na die wêreld. Ten spyte van die verwagtinge van byna almal, het Hy nie gekom om politieke orde in Israel te bring nie. Hy kritiseer skynheiliges soos die Fariseërs omdat hulle liefdadigheid en gebed verdraai in pogings om die wêreld se goedkeuring te wen. Jesus sê dat aardse rykdom 'n sterk versperring skep tussen voornemende Christus volgelinge en die koninkryk van God.


Want wat sal dit 'n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly?   MARKUS 8:36 AFR53


Die hele skepping sal vernietig word, maar ons siele, of dit goed of sleg is, is onsterflik. Alle menslike prestasies sal verbrand, maar ons siele sal bly bestaan. Ons identiteite, of dit nou as Christus volgelinge is of as diegene wat God verwerp het, sal vir ewig bestaan.


Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel?   MARKUS 8:37 AFR53


Jesus leer die dissipels die belangrikheid daarvan om openlik geloof in Hom en Sy leringe te erken en te bely. Hy waarsku enigiemand wat skaam is vir Hom en Sy woorde dat Hy ook skaam sal wees vir daardie persoon wanneer Hy in heerlikheid saam met die engele kom.


Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele.   MARKUS 8:38 AFR53



7 Junie 2025


MARKUS 13:27 AFR53

En dan sal Hy sy engele uitstuur, en Hy sal sy uitverkorenes uit die vier windstreke versamel, van die einde van die aarde af tot by die einde van die hemel.


So sal dit wees wanneer die wêreld tot sy einde kom. Die engele sal uitgaan en uit die vier windstreke die uitverkorenes van Jesus versamel.


‘n Gelykenis is ‘n aardse verhaal met ‘n hemelse betekenis. Wat hier is die aardse verhaal?


Kyk na die vyeboom om te bepaal watter seisoen dit is. Wanneer die vyeboom se takke sag word en sy blare uitbot, dan is die somer naby.


En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is.   MARKUS 13:28 AFR53


Wat dan is die hemelse betekenis? Wanneer ons al hierdie dinge sien gebeur weet ons dat die tyd van die einde naby is! Mattheus 24 vertel van al hierdie dinge en hier is die lys.


• baie valse messiasse sal kom (vers 5)

• oorloë en gerugte van oorloë (vers 6)

• nasies sal teen mekaar opstaan ​​(vers 7)

• hongersnode, pessiektes en aardbewings regoor die wêreld (vers 7)

• Christene sal vervolging en dood in die gesig staar (vers 9)

• verklaarde gelowiges sal van die geloof afwyk en mekaar verraai (vers 10)

• valse profete sal massas mense mislei (verse 11, 24)

• goddeloosheid sal toeneem (vers 12)

• die liefde van die meeste sal verkoel (vers 12)

• die evangelie sal aan die hele wêreld verkondig word (vers 14)

• die gruwel van die verwoesting sal in die heilige plek van die tempel staan ​​(vers 15)

• daar sal 'n tyd van groot benoudheid wees, soos daar nog nooit was nie (vers 21)

• daar sal tekens in die hemele wees van die son, maan en sterre (vers 29)

• die teken van die Seun van die Mens sal in die hemel verskyn (vers 30)


So weet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, dat dit naby is, voor die deur.   MARKUS 13:29 AFR53


Die mense wat die begin van AL die gebeure sien, sal dieselfde mense wees wat die einde van die gebeure sien. Soos een geleerde dit stel: Die geslag wat die begin van die einde sien, sien ook die einde daarvan. Wanneer die tekens kom, sal hulle mekaar vinnig opvolg en hulle sal nie vir baie geslagte aanhou nie. Dit sal binne 'n geslag gebeur.


Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.   MARKUS 13:30 AFR53


Die hemel en die aarde sal beslis verbygaan, maar Jesus se woorde sal nooit verbygaan nie.


Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.   MARKUS 13:31 AFR53


Wanneer dan is daardie dag en uur? Jesus sê baie duidelik dat niemand weet wanneer daardie dag en uur is nie. Nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar slegs die Vader.


Maar van daardie dag en dié uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader.   MARKUS 13:32 AFR53



8 Junie 2025


MARKUS 16:5 AFR53

En toe hulle in die graf ingegaan het, sien hulle 'n jongman, met 'n lang wit kleed om, aan die regterkant sit, en hulle het baie geskrik.


Drie vroue besoek Jesus se graf die Sondag oggend na die sabat om Hom te balsem met spesiale speserye - Maria Magdaléna en Maria, die moeder van Jakobus, en Salóme.


En toe die sabbat verby was, het Maria Magdaléna en Maria, die moeder van Jakobus, en Salóme speserye gekoop om Hom te gaan salf.   MARKUS 16:1 AFR53


Die vroegste wat die vroue na die graf kon gaan om Jesus se liggaam behoorlik te balsem, was Sondagoggend. Die Sabbat was aan die begin van Saterdagaand verby, maar dit was eers Sondagoggend lig genoeg om die werk te doen.


En baie vroeg op die eerste dag van die week, net ná sonop, kom hulle by die graf.   MARKUS 16:2 AFR53


Die vroue het nie verwag om 'n leë graf te vind nie. Hulle het soontoe gegaan en gewonder wie die steen voor die opening van die graf sou wegrol.


En hulle sê vir mekaar: Wie sal vir ons die steen voor die opening van die graf wegrol?   MARKUS 16:3 AFR53


Dit was toe nie ‘n probleem nie, want toe hulle daar aankom is die steen reeds weggerol.


En toe hulle opkyk, sien hulle dat die steen weggerol was, want dit was baie groot.   MARKUS 16:4 AFR53


Die vroue gaan in die graf in, en daar sien hulle ‘n jongman met ‘n lang wit kleed wat aan die regterkant sit, en natuurlik skrik hulle groot. Ons weet met nabetragting dat die jongman ‘n engel was met ‘n boodskap vir die vroue.


En toe hulle in die graf ingegaan het, sien hulle 'n jongman, met 'n lang wit kleed om, aan die regterkant sit, en hulle het baie geskrik.   MARKUS 16:5 AFR53


Eerstens sê die engel vir hulle om nie verskrik te wees nie, en tweedens bevestig hy dat hy weet dat hulle vir Jesus, die Nasarener wat gekruisig is, soek.


Dan kom die ongelooflike onthulling. Jesus is nie daar nie want Hy het opgestaan. Die engel wys na die plek waar Jesus gelê het en sê Hy is nie meer daar nie.


En hy sê vir hulle: Moenie verskrik wees nie. Julle soek Jesus die Nasaréner wat gekruisig is. Hy het opgestaan. Hy is nie hier nie. Dáár is die plek waar hulle Hom neergelê het.   MARKUS 16:6 AFR53


Die engel gee vir hulle ‘n opdrag. Hulle moet vir Jesus se dissipels en vir Petrus gaan sê dat Jesus oppad is na Galilea en dat hulle Hom daar sal sien, soos Hy vir hulle gesê het.


Maar gaan sê vir sy dissipels en vir Petrus dat Hy voor julle uit gaan na Galiléa. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.   MARKUS 16:7 AFR53




Comments


  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page