top of page

Engele in die Bybel - Lukas en Johannes

  • Regina Torre
  • Jun 9
  • 28 min read

Updated: Jun 23

ree


9 Junie 2025


LUKAS 1:11 AFR53

Toe verskyn daar aan hom 'n engel van die Here, wat aan die regterkant van die reukofferaltaar staan.


Die reukofferaltaar verteenwoordig die gebede van God se volk. Terwyl die volk buite die tempel besig was om te bid, het Sagaria binne die tempel wierook by die altaar geoffer.


Ewe skielik verskyn ‘n engel van die Here aan die regterkant van die reukofferaltaar.


Sagaria skrik homself boeglam en vrees oorval hom. Dit sê nie dat die engel soos ‘n man gelyk het nie, so die engelfiguur moes ‘n vreeslike gesig gewees het. Die engel sê egter gou dat Sagaria nie moet vrees nie en dat sy gebed verhoor is. Sagaria se vrou Elisabet sal vir hom ‘n seun baar en hy moet die seun Johannes noem.


En toe Sagaría hom sien, was hy ontsteld, en vrees het hom oorval. Maar die engel sê vir hom: Moenie vrees nie, Sagaría, want jou gebed is verhoor, en jou vrou Elisabet sal vir jou 'n seun baar, en jy moet hom Johannes noem.   LUKAS 1:12-13 AFR53


Die engel van die Here verduidelik dat die baba sal grootword om God se uitverkore instrument te wees, 'n groot profeet soos Elia, wat Israel sal voorberei vir die Messias se koms.


En hy sal blydskap en verheuging vir jou wees, en baie sal oor sy geboorte bly wees; want hy sal  groot wees voor die Here. En wyn en sterk drank sal hy nooit drink nie, en hy sal vervul word met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy moeder af. En hy sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die Here hulle God. En hy sal voor Hom uit gaan in die gees en die krag van Elía, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here 'n toegeruste volk te berei.   LUKAS 1:14-17 AFR53


Oorweldig deur twyfel, vra Sagaria vir 'n bevestigende teken. Sagaria se versoek vir 'n teken het uit 'n plek van ongeloof gekom. Al het hy en sy vrou vir 'n kind gebid, het die egpaar die hoop laat vaar dat God ooit hul gebede sou antwoord. Die engel van die Here se aankondiging het hul antwoord gebring, God het hulle gebede verhoor, maar Sagaria het nie in geloof gereageer nie.


Toe sê Sagaría vir die engel: Waaraan sal ek dit weet? Want ek is 'n ou man, en my vrou is op ver gevorderde leeftyd.   LUKAS 1:18 AFR53


Die engel antwoord dat hy Gabriël is wat voor God staan, en hy is gestuur om met Sagaria te praat en vir hom die goeie tyding te bring. Maar, omdat Sagaria nie die engel Gabriël geglo het nie, sal hy met stomheid getref word. Sagaria se stomheid was ‘n straf vir sy ongeloof, maar ook die teken waarvoor hy gevra het.


En die engel antwoord en sê vir hom: Ek is Gabriël wat voor God staan, en ek is gestuur om met jou te spreek en jou hierdie goeie tyding te bring. En kyk, jy sal swyg en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde wat op hulle tyd vervul sal word, nie geglo het nie.   LUKAS 1:19-20 AFR53


Toe Sagaria uit die tempel uitkom, moes hy op die tempeltrappe staan, oor die skare uitkyk, en die priesterlike seën oor die mense uitspreek, en dan sou die ander priesters die seën herhaal. Maar Sagaria kon nie praat nie!


Hy het so goed as moontlik met handbewegings probeer verduidelik wat met hom in die tempel gebeur het.


En die volk het op Sagaría bly wag en was verwonderd dat hy so lank in die tempel vertoef. Maar toe hy uitkom, kon hy met hulle nie praat nie; hulle bemerk toe dat hy 'n gesig in die tempel gesien het. En hy het aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly.   LUKAS 1:21-22 AFR53



10 Junie 2025


LUKAS 1:26 AFR53

En in die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na 'n stad in Galiléa met die naam van Násaret,


Die engel Gabriël verskyn in Nasaret aan die maagd Maria, wat aan Josef verloof was, om vir haar ‘n boodskap te gee.


na 'n maagd wat verloof was aan 'n man met die naam van Josef, uit die huis van Dawid; en die naam van die maagd was Maria.   LUKAS 1:27 AFR53


Maria sien die engel en is net ontsteld oor sy woorde, nie oor sy teenwoordigheid nie.


En die engel het by haar binnegekom en gesê: Wees gegroet, begenadigde! Die Here is met jou; geseënd is jy onder die vroue.  En toe sy hom sien, was sy baie ontsteld oor sy woord, en sy het daaroor nagedink wat hierdie groet tog kon beteken. En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind.   LUKAS 1:28-30 AFR53


Die engel sê vir Maria dat sy nie bang moet wees nie, want sy het genade by God gevind. Hierna volg beide ‘n skokkende en ‘n wonderlike boodskap. Sy gaan swanger word en ‘n Seun baar, en sy moet die Seun Jesus noem.


En kyk, jy sal swanger word en 'n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem.   LUKAS 1:31 AFR53


Die engel Gabriël gee vir Maria vyf eienskappe van haar toekomstige Seun Jesus. 1. Hy sal groot wees, 2. Hy sal die Seun van die Allerhoogste genoem word, 3. Hy sal die troon van Sy vader Dawid gegee word, 4. Hy sal vir ewig koning wees oor die huis van Jakob, 5. Sy koninkryk sal nooit eindig nie.


Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.   LUKAS 1:32-33 AFR53


Maria vra vir die engel ‘n geldige vraag. Sy hoor dat sy gaan swanger word, maar hoe is dit moontlik, want sy het nog nooit omgang met ‘n man gehad nie. Die engel se antwoord is van bonatuurlike aard. Die Heilige Gees sal oor haar kom en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in haar verwek. Daarom sal haar Kind wat gebore word, die Seun van God genoem word.


Toe sê Maria vir die engel: Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie? En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.   LUKAS 1:34-35 AFR53


Maria kry ook 'n bevestigende teken van haar swangerskap, deur te hoor dat Elisabet, wat onvrugbaar was, nou al ses maande swanger is. Want by God is niks onmoontlik nie!


En kyk, Elisabet, jou bloedverwant, het self ook 'n seun ontvang in haar ouderdom, en hierdie maand is die sesde vir haar wat onvrugbaar genoem is. Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie.   LUKAS 1:36-37 AFR53


Maria was nooit bang vir die engel Gabriel nie, net sy woorde het haar ontstel. Sy is egter gereed vir die taak wat haar opgelê is en bevestig in geloof met die volgende woorde: Hier is ek, laat dit met my gaan volgens u woord!


En Maria sê: Hier is die diensmaagd van die Here. Laat dit met my gaan volgens u woord. En die engel het van haar weggegaan.   LUKAS 1:38 AFR53



11 Junie 2025


LUKAS 2:9 AFR53

En meteens staan daar 'n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig.


Die herders was in die oop veld, so heel waarskynlik nie later as Oktober nie. Hulle hou nog rustig wag oor hul skape toe ‘n engel van die Here meteens by hulle staan. Uiteraard is die wagters vreesbevange - wie sou nie wees as jou aand ewe skielik hemelse besoekers oplewer nie! Die engel sê dat hulle nie moet vrees nie want hulle bring goeie nuus wat vir die hele volk vreugde sal bring.


En daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. En meteens staan daar 'n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig. En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees,   LUKAS 2:8-10 AFR53


Die goeie tyding is dat die Saligmaker, wat Christus die Here is, in die stad van Dawid gebore is.


dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.   LUKAS 2:11 AFR53


Die engel sê hulle sal ‘n Kindjie sien wat in doeke toegedraai is en wat in ‘n krip lê.


En dit is vir julle die teken: julle sal 'n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê.   LUKAS 2:12 AFR53


En skielik is dit nie meer net een engel nie, maar ‘n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê: Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense 'n welbehae!


En skielik was daar saam met die engel 'n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê: Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense 'n welbehae!   LUKAS 2:13-14 AFR53


Die engele verdwyn net so vinnig as wat hulle verskyn het, en die herders besluit om Betlehem toe te gaan om met hul eie oë te sien wat aan hulle vertel is - en daar kry hulle toe vir Josef en Maria en die Kindjie wat in ‘n krip lê, net soos wat aan hulle vertel is.


En toe die engele van hulle weggegaan het na die hemel, sê die herders vir mekaar: Laat ons dan na Betlehem gaan en hierdie ding sien wat gebeur het, wat die Here aan ons bekend gemaak het. En hulle het met haas gegaan en Maria en Josef gevind en die kindjie wat in die krip lê.   LUKAS 2:15-16 AFR53


Die herders kon die goeie nuus nie vir hulself hou nie en het alles wat gebeur het oral bekend gemaak, en almal wat dit gehoor het was verwonderd.


En toe hulle dit gesien het, het hulle oral die woord bekend gemaak wat aan hulle van dié Kindjie vertel is. En almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat deur die herders aan hulle vertel is;   LUKAS 2:17-18 AFR53


Maria het als wat gebeur het in stilte aanskou en almal se woorde in haar hart bewaar.


maar Maria het al hierdie woorde bewaar en in haar hart oordink. En die herders het teruggegaan en God verheerlik en geprys oor alles wat hulle gehoor en gesien het, net soos aan hulle gesê is.   LUKAS 2:19-20 AFR53



12 Junie 2025


LUKAS 4:1 AFR53

En Jesus het vol van die Heilige Gees teruggekeer van die Jordaan af, en is deur die Gees in die woestyn gelei,


Die tradisionele plek van Jesus se versoeking is 'n dorre gebied noordwes van die Dooie See.


Die eerste Adam is in 'n pragtige tuin versoek en het misluk. Die Laaste Adam is in 'n gevaarlike woestyn versoek en het geslaag.


waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is; en Hy het niks geëet in dié dae nie; en toe hulle verby was, het Hy naderhand honger geword.   LUKAS 4:2 AFR53


Jesus het vir veertig dae niks geëet nie en was natuurlik honger. Die Satan gebruik nou dié swakpunt om Jesus te versoek en sê vir Hom dat as Hy die Seun van God is, moet Hy vir die klip sê om brood te word.


Jesus antwoord uit Deuteronomium 8:3 dat ‘n mens nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God.


Toe sê die duiwel vir Hom: As U die Seun van God is, sê vir hierdie klip dat dit brood moet word. Maar Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God.   LUKAS 4:3-4 AFR53


Vir ‘n tweede keer word Jesus deur die Satan versoek. Hy bring vir Jesus op ‘n hoë berg en wys vir Hom al die koninkryke van die wêreld en sê dat indien Jesus hom sal aanbid, hy al die mag aan Jesus sal oorgee.


Toe bring die duiwel Hom op 'n hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld in 'n oomblik se tyd. En die duiwel sê vir Hom: Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. As U my dan aanbid, sal alles aan U behoort. En Jesus antwoord en sê vir hom: Gaan weg agter My, Satan, want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.   LUKAS 4:5-8 AFR53


Satan se aanbod was geldig, maar die voorwaardes was onaanvaarbaar. Die Vader het reeds belowe om die Seun al die koninkryke van die wêreld te gee. Maar eers moes die Seun ly en sterf. Satan het 'n kortpad aangebied.


Jesus antwoord vanuit Deuteronomium 6:13 - Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.


Dan word Jesus vir ‘n derde keer versoek. Die Satan bring Jesus op die dak van die tempel en sê weereens dat indien Hy die Seun van God is moet Hy afspring want die engele sal Hom kom help.


Toe bring hy Hom na Jerusalem en stel Hom op die dak van die tempel en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself hiervandaan neer. Want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U om U te bewaar, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen 'n klip stamp nie. En Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is gesê: Jy mag die Here jou God nie versoek nie.   LUKAS 4:9-12 AFR53


Die versoeking was dalk om 'n skouspelagtige, maar nuttelose wonderwerk te verrig om verwondering en geloof van 'n soort af te dwing.


Jesus antwoord weer met gesag uit Deuteronomium 6:16 dat jy nie die Here jou God mag versoek nie.


Die Satan het Jesus toe vir ‘n tyd lank uitgelos.


En toe die duiwel elke versoeking geëindig het, het hy 'n tyd lank van Hom gewyk.   LUKAS 4:13 AFR53



13 Junie 2025


LUKAS 12:8 AFR53

En Ek sê vir julle: Elkeen wat My sal bely voor die mense, hom sal die Seun van die mens ook bely voor die engele van God.


Jesus het die gelowiges vertroos en verduidelik dat die lydende Christen, die beloning van trou en eer, voor die troon van God sal ontvang met die engele as getuies.


Net soos daar 'n eervolle beloning vir die gelowiges is, is daar 'n verskriklike straf vir die ongelowiges. Hulle sal verloën en in die skande gebring word voor die troon van God, ook met die engele as getuies.


Maar hy wat My verloën voor die mense, sal verloën word voor die engele van God.   LUKAS 12:9 AFR53


Jesus het nie gesê: verloën My in jul hart of verloën My in jul gedagtes nie. Hy het gesê: verloën My voor die mense. Daar is 'n werklike en belangrike plek vir 'n openbare verklaring van trou aan Jesus. Vir baie is dit die moeilikste ding van alles - en is gewoonlik moeilik as gevolg van 'n vrees vir die mens, presies die ding waarteen Jesus in Sy vorige verse gewaarsku het.


En Ek sê vir julle, my vriende: Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak en daarna niks meer kan doen nie; maar Ek sal julle wys wie julle moet vrees: vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, by magte is om in die hel te werp; ja, Ek sê vir julle, vrees Hom.   LUKAS 12:4-5 AFR53


Die geleentheid om Jesus voor mense te bely of te verloën, sal vir elke persoon die een of ander tyd gebeur. Dit sal nuttig wees om vasberade in hart en verstand te wees voordat die toets oor jou pad kom.


‘n Persoon wat in ‘n oomblik van swakheid, ‘n woord teen die Seun van die mens spreek, sal vergewe word. Maar, ‘n persoon wat teen die Heilige Gees laster, in 'n besliste verwerping van God se waarheid, sal nie vergewe word nie.


En elkeen wat 'n woord teen die Seun van die mens sal spreek, dit sal hom vergewe word; maar vir hom wat gelaster het teen die Heilige Gees, sal dit nie vergewe word nie.   LUKAS 12:10 AFR53


Om seker te maak dat die dissipels verstaan ​​het hoe ernstig dinge vir hulle in hierdie sending sou wees, eindig Jesus met hierdie ontnugterende opmerking.


Hulle sou vervolg word, deur die Fariseërs beskuldig word, voor die hof gesleep word, en hulle sou deur hierdie bose manne ter dood veroordeel word.


Maar die Heilige Gees sal hulle die regte woorde gee, volgens God se doel en Sy wil, en daarom moet hulle mense nie vrees nie, maar slegs vir God dien.


En wanneer hulle jul sal bring voor die sinagoges en die owerhede en die gesaghebbers, moet julle jul nie kwel oor hoe of waarmee julle jul sal verdedig, of wat julle sal sê nie; want die Heilige Gees sal julle in dieselfde uur leer wat julle moet sê.   LUKAS 12:11-12 AFR53



14 Junie 2025


LUKAS 15:10 AFR53

So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.


Die Fariseërs en die skrifgeleerdes murmureer en is ongelukkig omdat Jesus met die tollenaars en die sondaars meng en hulle onderrig.


En al die tollenaars en sondaars het die gewoonte gehad om na Hom te kom en na Hom te luister. En die Fariseërs en die skrifgeleerdes het baie gemurmureer en gesê: Hierdie man ontvang sondaars en eet saam met hulle.   LUKAS 15:1-2 AFR53


In antwoord op hul ongelukkigheid vertel Jesus die gelykenis van die afgedwaalde skaap.


Toe vertel Hy aan hulle hierdie gelykenis en sê: Watter man onder julle wat honderd skape het en een van hulle verloor, laat nie die negen-en-negentig in die woestyn staan en gaan agter die een aan wat verlore is totdat hy dit kry nie? En as hy dit kry, sit hy dit met blydskap op sy skouers. En as hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: Wees saam met my bly, want ek het my skaap gekry wat verlore was.   LUKAS 15:3-6 AFR53


Aardse verhaal:


‘n Persoon het honderd skape en een van die skape raak weg. Die persoon los sy nege-en-negentig skape eenkant om die een verlore skaap te gaan soek. Wanneer die persoon sy verlore skaap vind, is hy meer verheug oor die een wat gevind is, as die res wat nie afgedwaal het nie. By die huis aangekom kry hy sy vriende en bure bymekaar en vier fees, want die een verlore skaap is gevind.


Hemelse betekenis:


Die engele sal meer juig oor een sondaar wat hom bekeer, as oor die res wat nie bekering nodig het nie. Jesus het aarde toe gekom om aan alle sondaars verlossing te bied en te wys dat God almal lief het.


Die Skaapwagter, onse Vader wat in die hemel is, gee genoeg om vir Sy skape om na elkeen wat wegraak, te gaan soek.


So is dit nie die wil van julle Vader wat in die hemele is, dat een van hierdie kleintjies verlore gaan nie.   MATTHÉÜS 18:14 AFR53


Hier is ‘n mooi opsomming van wie Jesus is, en wat Hy gedoen het vir die verlore skape.


Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie; wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel; wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is. Want julle was soos dwalende skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en Opsiener van julle siele.   I PETRUS 2:22-25 AFR53



15 Junie 2025


LUKAS 16:22 AFR53

En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham.


Hierdie gedeelte vertel die gelykenis van die ryk man en Lasarus.


Aardse verhaal


‘n Ryk man wat die mooiste klere dra het elke dag vrolik en weelderig gelewe. Lasarus, ‘n bedelaar vol swere, het voor die poort van hierdie ryk man gelê en gesmag na die krummels wat van sy tafel geval het. Die bedelaar sterf en die engele dra hom weg na Abraham se boesem.


Die ryk man sterf ook, maar daar is nie engele wat hom wegdra nie, hy is in die doderyk en in die smarte. Hy kyk op en sien Lasarus in Abraham se boesem en vra dat Lasarus water op sy tong moet plaas.


Die ryk man se versoek word geweier. Abraham herinner die ryk man aan sy goeie lewe op aarde en Lasarus se slegte lewe, en dat hul lot nou omgekeerd is.


Vêrder sê Abraham vir die ryk man dat daar ‘n kloof is tussen die plek waar hy is en die plek waar Lasarus is, en dat die kloof nie oorbrug kan word nie.


En by dit alles is daar tussen ons en julle ‘n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie.  LUKAS 16:26 AFR53


Hemelse betekenis


Daar is ‘n vraag of die verhaal van die ryk man en Lazarus ‘n ware, werklike weergawe of ‘n gelykenis is, aangesien twee van sy karakters, naamlik Lazarus en Abraham, by die naam genoem word (wat dit uniek maak onder gelykenisse). Maar, gelykenis of nie, daar is baie wat ons uit hierdie gedeelte kan leer.


En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.”  I JOHANNES 5:11-12 AFR53


Jesus leer ons dat die hemel en die hel albei werklike, letterlike plekke is. Die Bybel is duidelik dat elke persoon wat al ooit gelewe het die ewigheid in óf die hemel óf in die hel sal deurbring. Hierdie verhaal illustreer ook dat sodra ons sterf daar nie meer kans is om te kies nie. Die oorgang na ons ewige toestand vind plaas die oomblik wanneer ons sterf.


Wanneer gelowiges sterf, is hulle dadelik in die bewuste gemeenskap en vreugdes van die hemel, maar wanneer ongelowiges sterf, is hulle net so onmiddellik in die bewuste pyn, lyding en pyniging van die hel.


Miskien is die grootste les om uit hierdie verhaal te leer, dat wanneer die dood aan ons deur kom klop, daar net een ding is wat saak maak: ons verhouding met Jesus Christus. Die ewige lewe word net in Christus gevind.


Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel? Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade.  MATTHÉÜS 16:26-27 AFR53



16 Junie 2025


LUKAS 20:36 AFR53

Want hulle kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is soos die engele en is kinders van God, omdat hulle kinders van die opstanding is.


Die briljante antwoorde van Jesus bring die Sadduseërs na die voorgrond.


Die Sadduseërs is veral bekend vir hul ontkenning van die opstanding. Hierdie standpunt word eksplisiet in die Nuwe Testament genoem.


Want die Sadduseërs sê dat daar geen opstanding is nie, ook geen engel of gees nie; maar die Fariseërs bely albei.   HANDELINGE 23:8 AFR53


Hul verwerping van 'n hiernamaals was 'n belangrike twispunt met die Fariseërs, wat in die opstanding en die bestaan ​​van engele en geeste geglo het.


Die Sadduseërs het die idee van 'n onsigbare, geestelike wêreld verwerp, maar die Fariseërs het die bestaan ​​van engele en demone in 'n geestelike ryk geleer.


Omdat die Sadduseërs basies 'n politieke party eerder as 'n godsdienstige groep was, was hulle onbesorg oor Jesus totdat hulle bang geword het dat Hy ongewenste Romeinse aandag sou trek.


Op daardie stadium het die Sadduseërs by die Fariseërs aangesluit en saamgesweer om Jesus dood te maak. En onthou dat Annas en Kajafas, die twee hoëpriesters wat Jesus se lot in die skynverhoor bepaal het, ook Sadduseërs was!


As ons Hom so laat begaan, sal almal in Hom glo; en die Romeine sal kom en ons land en ons nasie albei afneem. En een van hulle, Kájafas, wat daardie jaar hoëpriester was, sê vir hulle: Julle weet niks nie en dink nie daaraan dat dit vir ons voordelig is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie omkom nie. En dit het hy nie uit homself gesê nie; maar omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die volk sou sterwe.   JOHANNES 11:48-51 AFR53


Jesus antwoord nie net hulle vraag nie – deur te wys op hulle onkunde oor wat in die lewe na die dood aangaan nie – maar Hy daag eintlik hulle hele verstaan van die lewe uit. 


Jesus het die werklikheid van die opstanding gedemonstreer deur slegs die Tora te gebruik - die vyf boeke van Moses, die enigste boeke wat die Sadduseërs as gesaghebbend aanvaar het.


As Abraham, Isak en Jakob nie in die opstanding geleef het nie, dan kon God nie sê dat Hy die God van Abraham, Isak en Jakob is nie, en sou eerder sê: ‘Ek was die God van Abraham, Isak en Jakob.


En dat die dode opgewek word, het Moses ook in die gedeelte oor die doringbos aangedui, waar hy die Here noem die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob. Hy is tog nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes, want almal leef vir Hom.   LUKAS 20:37-38 AFR53


Dit demonstreer dat daar 'n opstanding is, en lewe daarna, ten spyte van wat die ongelowige en twyfelagtige Sadduseërs gedink en geleer het. Jesus het goed geantwoord, en beide Sy vriende en vyande het dit herken.


En sommige van die skrifgeleerdes antwoord en sê: Meester, U het goed gespreek. En hulle het Hom nie meer iets durf vra nie.   LUKAS 20:39-40 AFR53



17 Junie 2025


LUKAS 22:43 AFR53

En 'n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk.


Jesus het gedurende die laaste week voor Sy kruisiging, Sy nagte op die Olyfberg deurgebring, en Hy het geweier om hierdie roetine te verander, al het Hy geweet dit beteken dat Judas Hom maklik kon vind.


En Hy het vertrek en volgens gewoonte na die Olyfberg gegaan. En ook sy dissipels het Hom gevolg.   LUKAS 22:39 AFR53


Toe Jesus in die tuin van Getsemane kom, het Hy Sy dissipels gewaarsku om te bid dat hulle nie in versoeking kom nie – om in versoeking te swig nie.


En toe Hy op die plek kom, sê Hy vir hulle: Bid dat julle nie in versoeking kom nie.   LUKAS 22:40 AFR53


Nou word ‘n passievolle verslag van 'n ooggetuie (een van die dissipels) gegee wat dit aan Lukas oorvertel. Slegs 'n ooggetuie sou 'n detail onthou van Jesus wat omtrent 'n klipgooi van die dissipels af gebid het.


Die gewone manier om te bid in Jesus se tyd was in 'n staande posisie. Die geweld van Jesus se stryd in Getsemane word uitgebeeld in Hom wat kniel om te bid.


En Hy het Hom van hulle afgesonder omtrent so ver as 'n mens met 'n klip kan gooi, en neergekniel en gebid.  LUKAS 22:41 AFR53


Jesus het geweet wat die Vader se wil was, maar was in groot sielsangs. Die angs het nie ontstaan ​​uit 'n gebrek van begeerte om die wil van God te doen nie, maar omdat Jesus na die kruis sou gaan as 'n offer vir ons sondes. Hy was geen slagoffer van omstandighede buite Sy beheer nie, en anders as enige diereoffer, het Hy uit eie wil besluit om Sy lewe neer te lê.


Die beker is in die Ou Testament 'n kragtige beeld van God se toorn en oordeel, en help ons om te verstaan hoekom Jesus die beeld van ‘n beker gebruik het.


en gesê: Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!   LUKAS 22:42 AFR53


In antwoord op Jesus se gebede het die Vader nie die beker van Jesus weggeneem nie, maar Hy het Jesus met ‘n engel boodskapper versterk om die beker te kan neem – en te drink.


Hematidrose: onder groot emosionele stres bars klein bloedvate in die sweetkliere en produseer 'n mengsel van bloed en sweet.


En 'n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. En toe Hy in 'n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val.   LUKAS 22:43-44 AFR53


Die dissipels was ook vol droefheid, maar in plaas daarvan om te bid, het hulle geslaap. Jesus het hulle wakker gemaak en hulle dringend aangemoedig om te begin bid.


Toe staan Hy van die gebed op en kom by sy dissipels en vind hulle aan die slaap van droefheid. En Hy sê vir hulle: Wat slaap julle? Staan op en bid, dat julle nie in versoeking kom nie.   LUKAS 22:45-46 AFR53



18 Junie 2025


LUKAS 24:23 AFR53

en toe hulle sy liggaam nie kry nie, het hulle gekom en gesê dat hulle ook 'n gesig gesien het van engele wat sê dat Hy lewe.


Jesus begin die gesprek deur vir die twee Emmausgangers te vra waaroor hulle praat. Ons kan van Jesus se woorde aflei dat Hy 'n rukkie stil saam met hulle geloop het en net geluister het na hul gesprek. Jesus vra ook vir hulle waarom hulle so bedroef is.


En Hy sê vir hulle: Watter woorde is dit wat julle met mekaar loop en wissel, en waarom is julle bedroef?   LUKAS 24:17 AFR53


Kleopas, een van die twee wat stap en gesels, kan nie glo die persoon wat saam met hulle stap weet nie wat aangaan nie. Almal in Jerusalem weet dan wat die afgelope paar dae gebeur het!


En die een wie se naam Kléopas was, antwoord en sê vir Hom: Is U alleen 'n vreemdeling in Jerusalem en weet U nie van die dinge wat in hierdie dae daarin gebeur het nie?   LUKAS 24:18 AFR53


Jesus hou homself dom en vra vir hulle: watter dinge?


Hulle begin vir Jesus te vertel wat gebeur het en sê die dinge aangaande Jesus, die Nasarener, wat ook ‘n profeet was en wat kragtig in werk en woord was voor God en die hele volk.


En Hy sê vir hulle: Watter dinge? En hulle antwoord Hom: Die dinge aangaande Jesus, die Nasaréner, wat 'n profeet was, kragtig in werk en woord voor God en die hele volk;   LUKAS 24:19 AFR53


Hulle vertel vêrder dat die owerpriesters en owerstes Jesus oorgelewer het om gekruisig te word en daarom gesterf het.


en hoe ons owerpriesters en owerstes Hom oorgelewer het tot die doodstraf en Hom gekruisig het.   LUKAS 24:20 AFR53


Almal het gehoop dat Jesus daar was om Israel te verlos van die Romeinse bewind, maar dit gaan nie meer gebeur nie, want Jesus is nou al drie dae lank dood. Baie Jode het 'n politieke en militêre Messias verwag wat hulle van Romeinse onderdrukking sou bevry en die koninkryk van Israel tot sy vorige glorie sou herstel.


En ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos; maar nou is dit vandag, met dit alles, die derde dag vandat dit plaasgevind het.   LUKAS 24:21 AFR53


Al wat die twee Emmausgangers weet is dat sommige vroue by Jesus se graf was en Sy liggaam was weg. Die vroue het net engele gesien wat vir hulle gesê het dat Jesus lewe.


Duidelik glo die twee niks van dit wat hulle gehoor het nie!


Maar sommige vroue uit ons het ons ook ontstel nadat hulle vroeg by die graf was; en toe hulle sy liggaam nie kry nie, het hulle gekom en gesê dat hulle ook 'n gesig gesien het van engele wat sê dat Hy lewe.   LUKAS 24:22-23 AFR53



19 Junie 2025


JOHANNES 1:52 AFR53

En Hy sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, van nou af sal julle die hemel geopend sien en die engele van God opklim en neerdaal op die Seun van die mens.


Daar was niks dramaties opgeteken oor die roeping van Filippus nie. Jesus het eenvoudig vir hom gesê: Volg My, en Filippus het so gedoen.


Die werkwoord volg sal hier in sy volle sin van ‘volg as ’n dissipel’ gebruik word. Die teenwoordige tyd het deurlopende krag - hou aan met volg.


Die volgende dag wou Jesus na Galiléa vertrek; en Hy het Filippus gekry en vir hom gesê: Volg My. En Filippus was van Betsáida, uit die stad van Andréas en Petrus.   JOHANNES 1:44-45 AFR53


Let op hoe Natanael deur Filippus gewerf word. Filippus gee ’n aanduiding van sy insig oor die identiteit van Jesus deur na die wet en die profete se getuienis oor Hom te verwys, maar Hom ook vierkantig in die konteks van ’n aardse familie te plaas – dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.


Filippus het Natánael gekry en vir hom gesê: Ons het Hom gevind van wie Moses in die wet en ook die profete geskrywe het: Jesus, die seun van Josef van Násaret.   JOHANNES 1:46 AFR53


Natanael reageer egter met vooroordeel op Filippus se aankondiging. Toe hy hoor dat Jesus van Nasaret af kom, het hy gedink dat hy geen rede meer het om te dink dat Hy die Messias of enigiemand belangrik kon wees nie. In plaas daarvan om met Natanael te stry, sê Filippus eenvoudig dat hy Jesus self moet ontmoet.


En Natánael sê vir hom: Kan daar uit Násaret iets goeds wees? Filippus antwoord hom: Kom kyk.   JOHANNES 1:47 AFR53


En dan, soos die ontmoeting begin, begin Jesus die gesprek. Hy verklaar dat hier 'n Israeliet is, in wie geen bedrog is nie. Die woord vir bedrog is hier 'n verwysing na Jakob, wat bedrieër beteken.


Nadat Jesus vir Natanael by die naam geroep het, is Natanael verbaas dat Jesus hom kon ken.

Jesus verklaar dat voordat Filippus hom geroep het, Hy hom onder 'n vyeboom sien sit het.


Daarop sien Jesus Natánael na Hom toe kom en sê van hom: Hier is waarlik 'n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie. Natánael sê vir Hom: Waarvandaan ken U my? Jesus antwoord en sê vir hom: Voordat Filippus jou geroep het toe jy onder die vyeboom was, het Ek jou gesien.   JOHANNES 1:48-49 AFR53


Natanael was verstom oor wat hy reeds in Jesus gesien het, maar Jesus het vir hom gesê dat daar baie, baie meer was om te sien – groter dinge as dit.


Natánael antwoord en sê vir Hom: Rabbi, U is die Seun van God, U is die Koning van Israel! Jesus antwoord en sê vir hom: Glo jy omdat Ek vir jou gesê het: Ek het jou onder die vyeboom gesien? Jy sal groter dinge sien as dit.   JOHANNES 1:50-51 AFR53


Jesus het vir Natanael 'n groter teken belowe as wat hy voorheen gesien het, selfs om die hemel geopend te sien. Jesus se aankondiging van die engele van God wat op die Seun van die Mens opklim en neerdaal, hou waarskynlik verband met die droom van Jakob, waar hy 'n leer van die aarde na die hemel gesien het, en die engele wat daarop opklim en neerdaal.


Jesus sê hier dat Hy die leer, die skakel, tussen hemel en aarde is. Toe Natanael tot die besef kom dat Jesus die middelaar tussen God en die mens is, sou dit 'n selfs groter teken wees (jy sal groter dinge as hierdie sien).



20 Junie 2025


JOHANNES 5:4 AFR53

Want 'n engel het op bepaalde tye in die bad neergedaal en die water geroer. Die een wat dan die eerste ingaan ná die roering van die water, het gesond geword, aan watter siekte hy ook al gely het.


Die volgende verhaal vind tydens ’n fees plaas, maar ons is onseker oor watter fees dit was. 


Hierna was daar 'n fees van die Jode, en Jesus het opgegaan na Jerusalem.   JOHANNES 5:1 AFR53


Jesus is in Jerusalem en doen aan by die bad van Betesda. 


Interessant genoeg (volgens Charlesworth) is daar ’n hele aantal slang figure uitgegrawe by hierdie poel wat aan Asclepius, die god van genesing, verbind is.  Dit is daarom moontlik dat daar ’n spanning in die storie is, dat die verlamdes by die poel nie net vir God se ingrype in hulle lewens gewag het nie, maar ook vir Asclepius.  Jesus se genesing van die verlamde man kon dus ook die betekenis gedra het dat dit God is wat genees en nie Asclepius nie.


En daar is in Jerusalem by die Skaapspoort 'n bad met vyf pilaargange wat in Hebreeus Betésda genoem word. Daarin het 'n groot menigte siekes gelê, blindes en kreupeles en lammes, wat op die roering van die water gewag het.   JOHANNES 5:2-3 AFR53


Hier tref Jesus ’n man aan wat al 38 jaar aan sy siekte gely het.


En 'n sekere man was daar, wat agt-en-dertig jaar aan sy siekte gely het.   JOHANNES 5:5 AFR53


Die sieke het niemand gehad wat hom kon help om op die regte tyd in die poel te kom wanneer ‘n engel sou neerdaal om die water te roer nie. Volgens die geloof van daardie tyd, sou daar genesing wees vir die eerste een wat in die water sou ingaan na die roering.


Toe Jesus hom sien lê, terwyl Hy geweet het dat hy al 'n lang tyd siek was, sê Hy vir hom: Wil jy gesond word? Die sieke antwoord Hom: Here, ek het niemand om my in die bad te sit as die water geroer word nie; en onderwyl ek kom, gaan 'n ander een voor my in.   JOHANNES 5:6-7 AFR53


Jesus gee vir die man ‘n onmoontlike opdrag. Hy daag hom uit om in Hom te glo vir die onmoontlike. Staan op, neem jou bed op en loop!


Die man staan op en is dadelik genees, op die sabbatdag.


Jesus sê vir hom: Staan op, neem jou bed op en loop. En dadelik het die man gesond geword en sy bed opgeneem en geloop. En daardie dag was dit sabbat.   JOHANNES 5:8-9 AFR53


Dit het gebeur omdat die man in geloof gereageer het en presies gedoen het wat Jesus hom beveel het om te doen, alhoewel dit 'n oomblik tevore onmoontlik was.



21 Junie 2025


JOHANNES 12:29 AFR53

En die skare wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar 'n donderslag gewees het. Ander het gesê: 'n Engel het met Hom gespreek.


Dit is Paasfees en ‘n hele aantal Griekssprekendes is ook daar vir die fees.


En daar was sommige Grieke onder die wat opgekom het om op die fees te aanbid;   JOHANNES 12:20 AFR53


Filippus en Andreas werk saam om vir Jesus te vertel dat sommige van die Grieke Hom wil ontmoet. Waarom noem Johannes die Grieke op hierdie stadium? Omdat die Koning teen die tyd deur Israel verwerp is.


hulle het na Filippus gegaan wat van Betsáida in Galiléa was, en hom gevra en gesê: My heer, ons wil Jesus graag sien. Filippus kom en sê dit vir Andréas, en Andréas en Filippus vertel dit weer aan Jesus.   JOHANNES 12:21-22 AFR53


En dan is dit asof alles in plek val – Jesus weet die tyd van Sy kruisdood het gekom en interpreteer vir hulle wat aan die gebeur is.


Maar Jesus antwoord hulle en sê: Die uur het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word.   JOHANNES 12:23 AFR53


Jesus maak die metafoor van ‘n koringkorrel wat in die grond moet val en sterf voordat dit vrug kan dra, op Sy eie bediening van toepassing. 


Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug.   JOHANNES 12:24 AFR53


Jesus se siel is ontsteld, maar Hy weet Sy uur het gekom en daar is geen omdraai nie. En daarmee offer Hy Sy lewe op – voor die Joodse Raad ’n hand aan Hom kan slaan.  Jesus gee Homself dus oor in die dood – op Sy eie terme en vrywillig.


Nou is my siel ontsteld, en wat sal Ek sê? Vader, red My uit hierdie uur? Maar hierom het Ek in hierdie uur gekom.   JOHANNES 12:27 AFR53


God verseël Sy offergawe met Sy goedkeurende stem uit die hemel, en die skare dink dat ‘n Engel met Jesus gepraat het.


Vader, verheerlik u Naam! Daar het toe 'n stem uit die hemel gekom: Ek hét dit verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik. En die skare wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar 'n donderslag gewees het. Ander het gesê: 'n Engel het met Hom gespreek.   JOHANNES 12:28-29 AFR53


Jesus verduidelik weereens vir die skare hoe sy lyding inpas in God se plan, maar met min begrip by hulle.


Jesus antwoord en sê: Hierdie stem het nie om My ontwil gekom nie, maar om julle ontwil. Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word. En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek. En dit het Hy gesê om aan te dui hoedanige dood Hy sou sterwe.   JOHANNES 12:30-33 AFR53



22 Junie 2025


JOHANNES 20:11-12 AFR53

Maar Maria het buitekant by die graf gestaan en ween; en terwyl sy ween, buk sy na die graf toe en sien twee engele daar sit met wit klere aan, een by die hoof en een by die voete waar die liggaam van Jesus gelê het.


Petrus en Johannes ondersoek die bewyse van die leë graf en Johannes is oortuig dat Jesus uit die dood uit opgestaan ​​het. Hy verstaan egter nog nie die betekenis daarvan ​​nie.


Maria het nog nie die vertroue gehad dat Jesus opgestaan ​​het nie, en was in trane. Sy wil sien wat Petrus en Johannes gesien het, en daarom begin sy haar eie ondersoek.


Maria sien twee engele in die graf. Sy het nie met skok of vrees gereageer nie - sy het waarskynlik nie dadelik waargeneem dat hulle engele was nie.


Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg.   HEBREËRS 13:2 AFR53


Die engele praat met Maria en wil weet hoekom sy huil. Sy sê vir hulle dat sy Jesus se liggaam soek, en sy weet nie waar wie ook al Hom gevat het, Hom neergelê het nie.


En hulle sê vir haar: Vrou, waarom ween jy? Sy antwoord hulle: Omdat hulle my Here weggeneem het, en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.   JOHANNES 20:13 AFR53


Maria draai om en sien ‘n man wat staan, maar weet nie dat die man Jesus is nie.


En toe sy dit gesê het, draai sy haar om agtertoe en sien Jesus staan, en sy het nie geweet dat dit Jesus was nie.   JOHANNES 20:14 AFR53


Jesus praat met haar en vra vir haar hoekom sy huil en vir wie sy soek. Maria herken steeds nie vir Jesus nie en dink sy praat met die tuinier. Sy vra vir die Man dat indien Hy vir Jesus weggedra het, waar is Hy?


Jesus sê vir haar: Vrou, waarom ween jy? Wie soek jy? Sy het gedink dat dit die tuinier was en antwoord hom: Meneer, as u Hom weggedra het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem.   JOHANNES 20:15 AFR53


Sy staan met haar rug na Jesus toe Hy haar roep: Maria! ….. en daar herken sy haar Meester se stem!


Jesus sê vir haar: Maria! Sy draai haar om en sê vir Hom: Rabboeni! dit beteken Meester.   JOHANNES 20:16 AFR53


Jesus se gou vir haar dat sy Hom nie moet aanraak nie, want Hy het nog nie opgevaar na Sy Vader nie. Hy gee egter vir haar ‘n opdrag -  gaan na my broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God.


Jesus sê vir haar: Raak My nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie; maar gaan na my broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God.   JOHANNES 20:17 AFR53


Maria het toe na die dissipels gegaan en vir hulle als vertel wat sy gesien het en wat Jesus vir haar gesê het.


Maria Magdaléna het aan die dissipels gaan vertel dat sy die Here gesien het en dat Hy dit vir haar gesê het.   JOHANNES 20:18 AFR53



Comments


  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page