top of page

Engele in die Bybel - Handelinge tot Korinthiërs

  • Regina Torre
  • Jun 23
  • 34 min read

Updated: 11 hours ago

Scroll asb. ondertoe om vandag se inskrywing te sien!

23 Junie 2025


HANDELINGE 5:19 AFR53

Maar 'n engel van die Here het in die nag die deure van die gevangenis oopgemaak en hulle uitgelei en gesê:


Die mense het van oral gekom om genees te word. Nie net is die siekes gesond gemaak nie, maar onrein geeste is uitgedryf. Hierdie wonderwerke het die kerk versterk en hulle voorberei vir die komende beproewinge.


sodat hulle die siekes op die strate uitgedra en op bedde en draagbare gelê het, met die bedoeling dat, as Petrus kom, al was dit net sy skaduwee op iemand van hulle sou val. En die menigte van die stede in die omtrek het ook in Jerusalem bymekaargekom en siekes gebring en mense wat deur onreine geeste gekwel was; en hulle is almal genees.   HANDELINGE 5:15-16 AFR53


Let wel—dit sê nie dat die skaduwee van Petrus die siekes werklik genees het nie (dit mag dalk gedoen het, maar dit sê dit nie).


Die Joodse Raad het uit twee verskillende magsgroepe bestaan. Die Fariseërs wat Jesus se vervolging en kruisiging uitgevoer het, en die Sadduseërs wat die vroeë kerk se vervolging uitgevoer het. Die genesings en wonderwerke was vir die Sadduseërs 'n verleentheid aangesien hulle die bonatuurlike ontken het. Die apostels is dus sonder seremonie gevang en in die tronk gestop.


En die hoëpriester het opgestaan en almal wat saam met hom was — dit is die party van die Sadduseërs — en hulle was met nydigheid vervul, en hulle het die hande aan die apostels geslaan en hulle in die openbare gevangenis gesit.   HANDELINGE 5:17-18 AFR53


Die feit dat die Sadduseërs nie in die bonatuurlike glo nie, maak nie dat dit nie bestaan nie. ‘n Engel van die Here verskyn in die nag aan die apostels en sluit die gevangenis oop met die volgende opdrag: gaan na die tempel, en vertel vir die volk die boodskap van hierdie nuwe lewe.


Maar 'n engel van die Here het in die nag die deure van die gevangenis oopgemaak en hulle uitgelei en gesê: Gaan heen, staan en vertel in die tempel aan die volk al die woorde van hierdie lewe.   HANDELINGE 5:19-20 AFR53


Twee goed gebeur die volgende oggend. Petrus en Johannes luister vir die engel en is vroeg by die tempel om die mense te leer. Intussen kom die Joodse Raad bymekaar en stuur dienaars na die gevangenis om Petrus en Johannes te laat haal.


En hulle het geluister en vroeg in die môre in die tempel gegaan en begin leer. Maar die hoëpriester en die wat saam met hom was, het gekom en die Raad en al die oudstes van die kinders van Israel bymekaargeroep; en hulle het na die gevangenis gestuur om hulle te laat haal.”   HANDELINGE 5:21 AFR53


Die dienaars wat by die gevangenis was rapporteer terug aan die Joodse Raad dat die twee wat hulle moes gaan haal het nie daar is nie, alhoewel die gevangenis toegesluit is en die wagte op hul poste is.


Maar toe die dienaars daar kom, het hulle hul nie in die gevangenis gekry nie; en hulle het omgedraai en berig gebring en gesê: Die gevangenis het ons in alle sekerheid toegesluit gevind, en die wagte het buite gestaan voor die deure; maar toe ons oopmaak, kry ons niemand daarbinne nie.   HANDELINGE 5:22-23 AFR53



24 Junie 2025


HANDELINGE 6:15 AFR53

En terwyl almal wat in die Raad sit, hul oë stip op hom hou, sien hulle dat sy gesig soos die gesig van 'n engel was.


Stefanus, een van die eerste diakens, het groot geestelike krag getoon en hy was een van die groot manne in die vroeë kerk. Hy was ‘n sterk getuie van die Evangelie en daarom was hy die middelpunt van belangstelling met teenkanting van verskillende groepe.


Stefanus, aan wie God baie genade en krag gegee het, het groot wonders en tekens onder die volk gedoen.   HANDELINGE 6:8 AFR53


Stefanus is die eerste leeraar aan wie wysheid toegeskryf word. Natuurlik is die wysheid deur die Heilige Gees aan hom gegee, en daarom sou hy ieder en elk wat met hom geredeneer het, kon uitoorlê.


En daar het sommige van die sogenaamde sinagoge van die Libertyne opgestaan, en van die Cirenéërs en Alexandryne, en van die mense van Cilícië en Asië, en hulle het met Stéfanus geredetwis.   HANDELINGE 6:9 AFR53


Die klomp het nie hiervan gehou nie en moes van agterbakse taktieke gebruik maak om te ‘wen’. Hulle verkondig toe dat hulle ‘gehoor’ het hoe hy lasterlik praat teen God en teen Moses.


Maar hulle kon die wysheid en die Gees waardeur hy gespreek het, nie weerstaan nie. Toe het hulle manne opgestook om te sê: Ons het hom lasterlike dinge hoor praat teen Moses en God.   HANDELINGE 6:10-11 AFR53


Stefanus is toe gevang en voor die Joodse Raad gebring. Twee aantygings word teen hom gemaak. Hy praat lasterlike dinge teen die heilige tempel, en teen Moses se wet.


En hulle het die volk en die ouderlinge en die skrifgeleerdes in beweging gebring en op hom afgekom en hom gegryp en voor die Raad gebring. En hulle het valse getuies laat optree om te sê: Dié man hou nie op om lasterlike dinge te praat teen hierdie heilige plek en die wet nie.”   HANDELINGE 6:12-13 AFR53


Hierdie valse getuies was ongetwyfeld op een of ander skyn van die waarheid gebaseer, en het uiters minagtend van Jesus gepraat met ‘hierdie Jesus, die Nasarener.’


Want ons het hom hoor sê: Hierdie Jesus, die Nasaréner, sal hierdie plek afbreek en die sedes wat Moses aan ons oorgelewer het, verander.   HANDELINGE 6:14 AFR53


Stefanus is 'n nuwe Christen, en tog is sy insigte en agtergrond verbysterend. Hy moet voor die Joodse Raad getuig waar die Sadduseërs die oorheersende groep is.


Terwyl hulle hom oordeel en valse getuies teen hom voorlê, sien hulle hoe hy voor hul oë verheerlik word, met sy gesig wat soos dié van 'n engel word. Stefanus se ervaring herinner ons aan die verheerliking van Jesus op die berg.


En terwyl almal wat in die Raad sit, hul oë stip op hom hou, sien hulle dat sy gesig soos die gesig van 'n engel was.   HANDELINGE 6:15 AFR53



25 Junie 2025


HANDELINGE 8:26 AFR53

En 'n engel van die Here het met Filippus gespreek en gesê: Staan op en gaan na die suide op die pad wat afloop van Jerusalem na Gasa. Dit is 'n eensame pad.


‘n Engel van die Here praat met Filippus en sê hy moet afloop na Gasa wat suid van Jerusalem is.


Op die pad tussen Jerusalem en Gasa kom Filippus af op ‘n man van Etihopië. Die Etihopiese hofdienaar wat hier genoem word, was die tesourier van Kandace, die koningin van Etihopië en hy was in Jerusalem om te aanbid.


Toe het hy opgestaan en gegaan. En daar was 'n man van Ethiópië, 'n hofdienaar, 'n staatsamptenaar van Kandacé, die koningin van die Ethiópiërs, wat oor al haar skatte was en na Jerusalem gekom het om te aanbid.   HANDELINGE 8:27 AFR53


Die hofdienaar sit in sy wa en lees. Die Gees van die Here het vir Filippus gesê om oor te gaan en by die wa aan te sluit. Toe Filippus nader kom, hoor hy hoe die hofdienaar hardop uit Jesaja lees. Filippus vra die man of hy verstaan wat hy lees.


En hy was op die terugreis en het op sy wa gesit en die profeet Jesaja gelees. Toe sê die Gees vir Filippus: Gaan daarheen en bly by daardie wa. En Filippus het daarheen gehardloop en hom die profeet Jesaja hoor lees; en hy sê: Verstaan u wel wat u lees?   HANDELINGE 8:28-30 AFR53


Die hofdienaar sê nee, hy het hulp nodig om die gedeelte te verstaan, en vra Filippus om by hom te sit.


En hy antwoord: Hoe kan ek tog as niemand my die weg wys nie? Toe vra hy Filippus om op te klim en by hom te kom sit.   HANDELINGE 8:31 AFR53


Die gedeelte wat die hofdienaar uit die Skrif gelees het was uit die boek Jesaja.


En die gedeelte van die Skrif wat hy besig was om te lees, was dít: Soos 'n skaap is Hy gelei om geslag te word, en soos 'n lam wat stom is voor die een wat hom skeer, so maak Hy sy mond nie oop nie. In sy vernedering is sy oordeel weggeneem, en wie sal sy geslag beskrywe? Want sy lewe word van die aarde weggeneem.   HANDELINGE 8:32-33 AFR53


Hier is ons Jesaja AFR 53 vertaling.


Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos 'n lam wat na die slagplek gelei word en soos 'n skaap wat stom is voor sy skeerders — ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie. Uit die druk en uit die strafgerig is Hy weggeneem; en onder sy tydgenote — wie het daaroor gedink dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes? Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom.   JESAJA 53:7-8 AFR53


Die hofdienaar het gewonder van wie die profeet hier praat, van homself of van iemand anders?


Filippus het hierdie geleentheid gebruik om die gedeelte van Jesaja wat gelees is, te verduidelik: dit was 'n profesie oor Jesus Christus, wat Sy lewe gegee het om die wêreld te red. Terwyl Filippus die evangelie verduidelik het, het die hofdienaar geglo.


En die hofdienaar antwoord en sê vir Filippus: Ek bid u, van wie sê die profeet dit, van homself of van iemand anders? En Filippus het sy mond geopen en van hierdie Skrif af begin en die evangelie van Jesus aan hom verkondig.   HANDELINGE 8:34-35 AFR53



26 Junie 2025


HANDELINGE 10:3 AFR53

Hy het duidelik in 'n gesig omtrent die negende uur van die dag 'n engel van God na hom sien inkom en vir hom sê: Cornelius!


Cornelius was 'n hoofman oor honderd, 'n bevelvoerder in die Italiaanse regiment van die Romeinse weermag en hy het in Cesarea gewoon. Sy verhaal is belangrik omdat dit in Cornelius se huishouding was dat God die deure van die kerk oopgemaak het vir die nie-Joodse wêreld. Petrus was teenwoordig om dit te sien gebeur, net soos hy ook 'n getuie was tydens die opening van die deure vir die Samaritane (Hand 8) en die Jode (Hand 2).


En daar was in Cesaréa 'n man met die naam van Cornelius, 'n hoofman oor honderd van die sogenaamde Italiaanse leërafdeling.   HANDELINGE 10:1 AFR53


Ten spyte daarvan dat Cornelius 'n Romein was het hy in God geglo. Hy was ook 'n toegewyde man wat gereeld gebid het en vir liefdadigheid gegee het.


Hy met sy hele huis was vroom en godvresend en het baie aalmoese aan die volk gegee en was altyddeur in die gebed tot God.   HANDELINGE 10:2 AFR53


Een middag, terwyl Cornelius besig was om te bid, sien hy 'n engel van God wat vir hom sê dat God sy gebede verhoor het.


Hy het duidelik in 'n gesig omtrent die negende uur van die dag 'n engel van God na hom sien inkom en vir hom sê: Cornelius! En hy het die oë op hom gehou en vol vrees gesê: Wat is dit, my heer? Toe antwoord hy hom: Jou gebede en jou aalmoese het voor God in gedagtenis gekom.   HANDELINGE 10:3-4 AFR53


Die engel sê vir Cornelius om Petrus te vind wat in Joppe woon by die huis van Simon, 'n leerlooier. Cornelius het dadelik twee van sy dienaars en 'n toegewyde soldaat na Joppe gestuur om Petrus te vind en hom terug te bring.


Stuur dan nou manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word. Hy is tuis by 'n sekere Simon, 'n leerlooier, wie se huis by die see is. Hy sal jou sê wat jy moet doen. En toe die engel wat met Cornelius gespreek het, weg was, roep hy twee van sy huisbediendes en 'n vroom soldaat van die wat altyd by hom was, en vertel hulle alles en stuur hulle na Joppe.   HANDELINGE 10:5-8 AFR53


Terwyl Cornelius se mense oppad is na Petrus, word Petrus voorberei vir sy ontmoeting met hulle. Die middag twalfuur terwyl die tafel binne die huis gedek word, klim hy op sy huis se dak om te bid. Hy word skielik erg honger en begin om in die gees ‘n gesig te sien.


En die volgende dag, terwyl hulle op pad was en naby die stad kom, het Petrus omtrent die sesde uur op die dak geklim om te bid; en hy het baie honger geword en wou eet; en terwyl hulle besig was om klaar te maak, het daar 'n verrukking van sinne oor hom gekom:   HANDELINGE 10:9-10 AFR53


Die hemel maak oop en Petrus sien iets soos ‘n groot laken wat afkom na hom toe. In die laken sien hy ‘n verskeidenheid diere van die aarde, rein en onrein, en ‘n stem sê vir hom om op te staan, te slag en te eet. Petrus is geskok en sê vir die Here dat hy dit nie kan doen nie, hy het nog nooit iets onheilig of onrein geëet nie.


hy sien die hemel geopend en 'n voorwerp soos 'n groot laken na hom afdaal, wat aan die vier hoeke vasgebind is en op die aarde neergelaat word. Daarin was al die viervoetige diere van die aarde en die wilde en kruipende diere en die voëls van die hemel. Toe kom daar 'n stem na hom: Staan op, Petrus, slag en eet! En Petrus sê: Nooit nie, Here, want ek het nooit iets onheiligs of onreins geëet nie.   HANDELINGE 10:11-14 AFR53



27 Junie 2025


HANDELINGE 10:22 AFR53

En hulle sê: Cornelius, 'n hoofman oor honderd, 'n regverdige en godvresende man, wat 'n goeie naam het by die hele Joodse nasie, het 'n goddelike openbaring ontvang deur 'n heilige engel, om u te laat haal na sy huis om te hoor wat u sal sê.


Drie maal sien Petrus die laken met die rein en onrein diere.


En weer het die stem vir die tweede keer na hom gekom: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie.   HANDELINGE 10:15 AFR53


Terwyl hy op sy dak verleë probeer uitwerk wat die gesig beteken, arriveer Cornelius se mense by sy voordeur en vra of hy daar is.


En dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is weer in die hemel opgeneem. En terwyl Petrus by homself daaroor verleë was wat die gesig tog kon beteken wat hy gesien het, staan die manne wat deur Cornelius gestuur was, daar by die poort en verneem na die huis van Simon. En hulle roep en vra of Simon, wat ook Petrus genoem word, daar tuis is.   HANDELINGE 10:16-18 AFR53


Petrus dink nog, toe die Gees vir hom sê dat daar mense by sy voordeur is, en hy moet hulle sonder twyfel ontvang.


En terwyl Petrus nadink oor die gesig, sê die Gees vir hom: Daar is drie manne wat jou soek. Staan dan op, klim af en gaan saam met hulle sonder om te twyfel, want Ek het hulle gestuur.   HANDELINGE 10:19-20 AFR53


Petrus ontvang sy gaste, en hulle vertel vir hom van Cornelius se besoek deur 'n engel en vra hom om met Cornelius te kom praat. Petrus nooi die mans om te oornag, en die volgende dag reis Petrus saam met hulle na Cesarea.


En Petrus het afgeklim na die manne wat deur Cornelius na hom gestuur was, en gesê: Kyk, dit is ek wat julle soek. Wat is die rede waarom julle hier is? En hulle sê: Cornelius, 'n hoofman oor honderd, 'n regverdige en godvresende man, wat 'n goeie naam het by die hele Joodse nasie, het 'n goddelike openbaring ontvang deur 'n heilige engel, om u te laat haal na sy huis om te hoor wat u sal sê. En hy het hulle binnegenooi en geherberg. En die volgende dag het Petrus saam met hulle afgereis, en enkele van die broeders uit Joppe het met hom saamgegaan.   HANDELINGE 10:21-23 AFR53


Cornelius het reeds sy familie en vriende bymekaargeroep toe Petrus daar aankom. Cornelius val voor Petrus neer, maar Petrus sê hy moet opstaan, want hyself is net ‘n mens.


Die dag daarop het hulle in Cesaréa aangekom. En Cornelius was hulle te wagte, en hy het alreeds sy familie en besondere vriende bymekaargeroep. Toe Petrus dan binnekom, het Cornelius hom tegemoetgegaan en aan sy voete neergeval en hom hulde bewys. Maar Petrus het hom opgerig en gesê: Staan op, ek is self ook maar 'n mens. En onderwyl hy met hom spreek, gaan hy binne en vind baie wat vergader het;   HANDELINGE 10:24-27 AFR53


Petrus praat met die groep mense en sê dat dit ongeoorloof is vir ‘n Joodse man om in die geselskap van nie Jode te wees, maar dat God vir hom gewys het dat hy geen mens onheilig of onrein mag noem nie. Petrus wil nou van Cornelius weet hoekom hulle hom nodig het.


en hy sê vir hulle: Julle weet dat dit ongeoorloof is vir 'n Joodse man om met iemand van 'n ander volk omgang te hê of hom te besoek; maar God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie. Daarom het ek, toe ek gehaal is, gekom sonder om teë te spreek. Ek vra dan om watter rede julle my laat haal het.   HANDELINGE 10:28-29 AFR53



28 Junie 2025


HANDELINGE 11:13 AFR53

En hy het ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het en vir hom sê: Stuur manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word;


Terwyl Petrus in Cesarea vertoef het, het die bostelegraaf Judea bereik. Die apostels en broers in Judea het gehoor dat heidene ook die woord van God aangeneem het.


En die apostels en die broeders wat in Judéa was, het gehoor dat die heidene ook die woord van God aangeneem het.   HANDELINGE 11:1 AFR53


Hierdie inligting het nie goed afgegaan met die Joodse Christene nie, en hulle het met Petrus getwis omdat hy dit durf waag het om by heidene aan huis te gaan en saam met hulle te eet.


En toe Petrus opgaan na Jerusalem, het die wat uit die besnydenis was, met hom getwis en gesê: By onbesnede manne het jy in die huis gegaan en saam met hulle geëet.   HANDELINGE 11:2-3 AFR53


Toe vertel Petrus vir hulle van sy gesig met die rein en onrein diere, sy reis na Cesarea en hoe hy met Cornelius, wat ‘n engel gesien het, en sy huishouding gepraat het.


En Petrus het begin en vir hulle die loop van die saak uiteengesit en gesê: Ek was in die stad Joppe in die gebed, en in 'n verrukking van sinne het ek 'n gesig gesien: 'n voorwerp het uit die hemel neergedaal soos 'n groot laken wat aan die vier hoeke uit die hemel neergelaat word, en dit het tot by my gekom. En toe ek die oë daarop hou en dit waarneem, sien ek die viervoetige diere van die aarde en die wilde en die kruipende diere en die voëls van die hemel. En ek hoor 'n stem vir my sê: Staan op, Petrus, slag en eet! Maar ek antwoord: Nooit nie, Here, want niks onheiligs of onreins het ooit in my mond ingegaan nie. En die stem het die tweede keer my uit die hemel geantwoord: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie. En dit het drie maal gebeur en alles is weer opgetrek in die hemel. En dadelik staan daar drie manne voor die huis waar ek in was, wat van Cesaréa na my gestuur was. En die Gees het vir my gesê dat ek saam met hulle moes gaan sonder om te twyfel. En saam met my het ook hierdie ses broeders gegaan, en ons het in die huis van die man ingegaan. En hy het ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het en vir hom sê: Stuur manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word; hy sal woorde tot jou spreek waardeur jy en jou hele huis gered sal word. En toe ek begin spreek, het die Heilige Gees op hulle geval soos ook op ons in die begin.   HANDELINGE 11:4-15 AFR53


Petrus vertel dat die Heilige Gees op die mense geval het soos ook met almal van hulle in die begin gebeur het, en hy het toe Jesus se woorde onthou: Johannes het met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.


En toe ek begin spreek, het die Heilige Gees op hulle geval soos ook op ons in die begin. En ek het die woord van die Here onthou, hoe Hy gesê het: Johannes het met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.   HANDELINGE 11:15-16 AFR53


Petrus sê toe dat dit nie sy plek is om in God se pad te staan, as Hy die Heilige Gees aan ander volke wat in Hom glo, wil gee nie. En met dit het almal geswyg en God verheerlik. So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.


As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het soos aan ons wat in die Here Jesus Christus geglo het, wie was ek dan, dat ek God kon verhinder? En toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.   HANDELINGE 11:17-18 AFR53



29 Junie 2025


HANDELINGE 12:7 AFR53

En meteens staan daar 'n engel van die Here by hom, en 'n lig skyn in die gevangenis. Toe slaan hy Petrus op die sy, maak hom wakker en sê: Staan gou op! En die boeie het van sy hande afgeval.


Herodus wou polities in die goeie boeke van die Joodse leierskap wees, en toe hy sien dat sy vervolging van die Christene by die Jode byval vind, het hy besluit om Petrus ook in hegtenis te neem. Herodus het genoeg wagte by die tronk geplaas om te verseker dat Petrus nie wegkom nie - vier groepe van vier wagte elk.


En toe hy sien dat dit die Jode welgevallig was, het hy verder ook Petrus in hegtenis geneem. En dit was die dae van die ongesuurde brode. Toe hy hom dan gegryp het, het hy hom in die gevangenis gesit en oorgegee aan vier wagte, elkeen van vier soldate, om hom te bewaak, met die bedoeling om hom ná die paasfees voor die volk te bring.   HANDELINGE 12:3-4 AFR53


Soos die laaste dae van die fees van ongesuurde brode nader kom, het die gebede van die kerk meer en meer intens geword.


So is Petrus dan in die gevangenis bewaak; maar daar het 'n aanhoudende gebed tot God deur die gemeente vir hom opgegaan.   HANDELINGE 12:5 AFR53


Petrus slaap die nag in die tronk tussen twee soldate, geboei aan hulle met twee kettings. Die ander twee soldate hou wag by die eerste en tweede wagstasies en daar is ‘n ysterhek wat stewig toegesluit is.


En toe Herodes hom wou voorbring, het Petrus in daardie nag tussen twee soldate geslaap, met twee kettings geboei, en wagte voor die deur het die gevangenis bewaak.   HANDELINGE 12:6 AFR53


‘n Engel van die Here staan skielik in die tronk langs Petrus en dit lyk of daar ‘n lig aangeskakel is.  Nie Petrus of die wagte word wakker nie. Die engel slaan Petrus op sy sy om hom wakker te maak en sê hy moet opstaan. Die boeie val van Petrus se hande af. Die engel beveel Petrus om aan te trek en hom te volg, alles terwyl die wagte slaap.


En meteens staan daar 'n engel van die Here by hom, en 'n lig skyn in die gevangenis. Toe slaan hy Petrus op die sy, maak hom wakker en sê: Staan gou op! En die boeie het van sy hande afgeval. En die engel sê vir hom: Omgord jou en trek jou skoene aan! En hy het dit gedoen. Verder sê hy vir hom: Gooi jou bo-kleed om en volg my!”   HANDELINGE 12:7-8 AFR53


Petrus weet nie of wat met hom gebeur werklikheid of ‘n gesig is nie, maar hy weet dat hy die engel volg. Hulle loop verby die eerste en toe die tweede wag, en toe hulle by die ysterpoort van die tronk kom gaan die hek vanself oop. Hulle loop uit die tronk en ‘n straat verder verlaat die engel vir Petrus.


En hy het uitgegaan en hom gevolg; en hy het nie geweet dat wat deur die engel plaasgevind het, werklikheid was nie, maar hy het gemeen dat hy 'n gesig sien.  En toe hulle by die eerste en die tweede wag verbygegaan het, kom hulle by die ysterpoort wat na die stad lei, en dit het vanself vir hulle oopgegaan. En hulle het buitekant gekom en een straat ver gegaan, en dadelik het die engel hom verlaat.”  HANDELINGE 12:9-10 AFR53


Petrus kom tot homself en besef dat hy nie gedroom het of ‘n gesig gesien het nie. ‘n Engel het hom werklik uit die tronk gered.


Toe kom Petrus tot homself en sê: Nou weet ek waarlik dat die Here sy engel gestuur en my gered het uit die hand van Herodes en uit al die verwagtinge van die Joodse volk.   HANDELINGE 12:11 AFR53



30 Junie 2025


HANDELINGE 12:23 AFR53

En onmiddellik het 'n engel van die Here hom getref, omdat hy die eer nie aan God gegee het nie; en hy is deur wurms verteer en het gesterwe.


Petrus vertel die verbaasde groep wat vir hom gebid het, hoe die Here hom uit die gevangenis gered het en dat hulle dit vir Jakobus en die broeders moet vertel. Petrus vertrek toe na ‘n ander plek.


Maar hy het hulle met die hand gewink om stil te bly en aan hulle vertel hoe die Here hom uit die gevangenis uitgelei het. En hy sê: Vertel dit aan Jakobus en die broeders. En hy het uitgegaan en na 'n ander plek vertrek.   HANDELINGE 12:17 AFR53


Die wagte wat Petrus opgepas het en hom ‘verloor’ het, is deur Herodus tereggestel.


En toe dit dag geword het, was daar onder die soldate geen kleine opskudding oor wat van Petrus geword het nie. Daarop het Herodes hom gesoek en nie gekry nie, en die wagte onder verhoor geneem en bevel gegee dat hulle tereggestel moes word. En hy het van Judéa weggegaan na Cesaréa en daar gebly.   HANDELINGE 12:18-19 AFR53


Die Tiriërs en Sidoniërs was onder die beheer van Rome en hulle het vrede kom soek met Herodes sodat hy nie die uitvoer van mielies, olie en wyn na hulle sou stop nie.


En Herodes was verbitterd teen die Tiriërs en Sidoniërs. En hulle het eenparig na hom gekom, en nadat hulle Blastus, die koning se hofdienaar, omgepraat het, vrede gevra, omdat hulle land onderhoud uit die koning s'n ontvang het.   HANDELINGE 12:20 AFR53


Op die tweede dag van die spele ter ere van die Keiser, betree Herodus (volgens Josefus, die geskiedkundige) die arena met ‘n silwer kleed. Die son skyn die oggend op die kleed sodat dit vir die toeskouers lyk of hy met heerlikheid bestraal is, waarop hulle uitroep: die stem van ‘n god en nie van ‘n mens nie!


En op 'n bepaalde dag het Herodes 'n koninklike kleed aangetrek en op die troon gaan sit en hulle toegespreek. Daarop het die volk hom toegeroep: 'n Stem van 'n god en nie van 'n mens nie!   HANDELINGE 12:21-22 AFR53


Herodus het daarvan gehou om as ‘n god gesien te word, en het die mense nie bestraf oor hul goddelose denke nie.


‘n Engel van die Here tref hom toe, en hy kry onmiddelik ‘n geweldige maagpyn en sterf.


En onmiddellik het 'n engel van die Here hom getref, omdat hy die eer nie aan God gegee het nie; en hy is deur wurms verteer en het gesterwe.   HANDELINGE 12:23 AFR53


Ten spyte van al die gebeure is die kerk onaangeraak en groei met rasse skrede.


Maar die woord van God het gegroei en toegeneem.   HANDELINGE 12:24 AFR53


Baranabas en Saulus gee vir die kerk in Jerusalem die goedere wat die gemeente van Antiogië bymekaar gemaak het, en keer terug saam met Markus.


En Bárnabas en Saulus het van Jerusalem teruggekeer, nadat hulle hul diens vervul het, en hulle het Johannes saamgeneem, wat ook Markus genoem word.   HANDELINGE 12:25 AFR53



1 Julie 2025


HANDELINGE 23:9 AFR53

Toe was daar 'n groot geroep, en die skrifgeleerdes van die party van die Fariseërs het opgestaan en heftig gestry en gesê: Ons vind geen kwaad in hierdie man nie; en as 'n gees met hom gespreek het, of 'n engel, laat ons nie teen God stry nie.


Paulus lees sy gehoor en besef hy moet iets doen om hul aandag op ‘n ander onderwerp te vestig. Hy roep uit dat hyself ‘n Fariseër is en ook die seun van ‘n Fariseër is. Nou gaan hy die Joodse Raad in twee skeur tussen die Fariseërs en die Sadduseërs, want hy sê dat hy ook glo in die opstanding van die dode soos die Fariseërs doen.


En omdat Paulus geweet het dat die een deel uit Sadduseërs en die ander uit Fariseërs bestaan, het hy in die Raad uitgeroep: Broeders, ek is 'n Fariseër, die seun van 'n Fariseër. Oor die hoop en die opstanding van die dode staan ek voor die gereg.   HANDELINGE 23:6 AFR53


Hy slaag in sy doel want hierdie is ‘n groot verskil tussen die twee groepe. Die Sadduseërs glo nie in die opstanding nie en ook nie in engele of geeste nie, maar die Fariseërs glo in beide.


En toe hy dit sê, het daar twis ontstaan tussen die Fariseërs en die Sadduseërs, en die menigte het verdeeld geraak. Want die Sadduseërs sê dat daar geen opstanding is nie, ook geen engel of gees nie; maar die Fariseërs bely albei.   HANDELINGE 23:7-8 AFR53


Die skrifgeleerdes van die Fariseërs sinspeel op wat Paulus in sy toespraak op die trappe gespreek het. Dat Jesus, van wie hulle geweet het dat hy dood was, lewend was, en het verskyn en met Paulus gepraat op pad na Damaskus, en weer in 'n visioen. Dit interpreteer hulle as 'n engel of gees wat aan hom verskyn het.


As dit so was en dit was God wat met Paulus gepraat het, dan is dit moeilik om met God te stry, en daarom dat hul opstaan en sê hulle vind geen kwaad in Paulus nie.


Toe was daar 'n groot geroep, en die skrifgeleerdes van die party van die Fariseërs het opgestaan en heftig gestry en gesê: Ons vind geen kwaad in hierdie man nie; en as 'n gees met hom gespreek het, of 'n engel, laat ons nie teen God stry nie.   HANDELINGE 23:9 AFR53


Weereens voel die owerste oor duisend dat Paulus se lewe in gevaar is en hy gee sy soldate bevel om Paulus weg te neem na hulle kamp.


En toe daar 'n groot twis ontstaan het en die owerste oor duisend gevrees het dat Paulus deur hulle verskeur sou word, het hy die soldate bevel gegee om te gaan en hom met geweld weg te neem onder hulle uit en in die kamp te bring.   HANDELINGE 23:10 AFR53


Hierdie ondervinding moes beslis vir Paulus ‘n laagtepunt in sy bedieding wees, want Jesus verskyn weer aan hom om hom te bemoedig. Jesus vertel vir Paulus dat hy in Rome gaan getuig soos hy in Jerusalem gedoen het, en so kry hy sy volgende opdrag.


En die volgende nag het die Here by hom gestaan en gesê: Hou goeie moed, Paulus, want soos jy aangaande My in Jerusalem kragtig getuig het, so moet jy in Rome ook getuig.   HANDELINGE 23:11 AFR53



2 Julie 2025


HANDELINGE 27:23 AFR53

Want daar het in hierdie nag by my gestaan 'n engel van die God aan wie ek behoort, wat ek ook dien.


Paulus en die ander gevangenes is op ‘n skip oppad na Rome. Hulle word deur ‘n erge storm geteister en moet van die vrag en skeepsgereedskap oorboord gooi. Die son en die sterre wat hul rigtingwysers was, word deur die wolke geblokkeer, en so het hul geen manier gehad om te weet waar hulle was nie en hulle het reddeloos begin voel.


En terwyl ons geweldig deur die storm geteister is, het hulle op die volgende dag van die vrag uitgegooi; en op die derde dag het ons met ons eie hande die skeepsgereedskap uitgegooi. En omdat die son en ook die sterre baie dae lank nie geskyn het nie, en 'n hewige storm ons gedruk het, is eindelik alle hoop om gered te word, ons ontneem.   HANDELINGE 27:18-20 AFR53


Nadat hulle vir lank nie geëet het nie, staan Paulus op en praat met almal. Hy begin deur hulle te vermaan dat hulle eerder na hom moes geluister het, dan sou hierdie ramp hulle nie getref het nie.  Maar, hulle moet goeie moed hou want ‘n engel, van die God in wie hy glo, het aan hom verskyn en gesê dat hy nog in Rome voor die keiser moet verskyn en hy en almal op die skip sal gespaar word. Die skip sal dit egter nie maak nie.


En nadat hulle lank sonder ete was, het Paulus in hul midde opgestaan en gesê: Manne, julle moes na my geluister en nie van Kreta afgevaar het nie en julle so hierdie ramp en skade bespaar het. Maar nou vermaan ek julle om moed te hou, want daar sal hoegenaamd geen verlies van lewe onder julle wees nie, maar alleen van die skip. Want daar het in hierdie nag by my gestaan 'n engel van die God aan wie ek behoort, wat ek ook dien. En hy het gesê: Moenie vrees nie, Paulus; jy moet voor die keiser staan, en kyk, God het aan jou geskenk almal wat saam met jou vaar. Daarom, hou moed, manne; want ek glo God dat dit so sal wees soos aan my gesê is.   HANDELINGE 27:21-25 AFR53


Hierdie was die sewende geleentheid wat Paulus ‘n visioen van God gehad het. Hier is ‘n lys van Paulus se visioene.


1.   Paulus het die verheerlikte Christus gesien op dieselfde dag toe hy tot bekering gekom het.

- En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik 'n lig van die hemel af;   HANDELINGE 9:3 AFR53


2.   Hy het 'n visioen gesien van Ananias wat kom om hom te bedien. - en hy het in 'n gesig 'n man met die naam van Ananías sien inkom en hom die hande oplê, sodat hy weer kon sien.   HANDELINGE 9:12 AFR53


3.   Hy het 'n visioen van God gehad toe hy geroep is om vir die heidene te preek. - En toe ek in Jerusalem teruggekom het en besig was om in die tempel te bid, het ek in 'n verrukking van sinne gekom.  HANDELINGE 22:17 AFR53


4.   Hy het 'n visioen van God gehad toe hy na Masedonië geroep is. - En Paulus het 'n gesig in die nag gesien — daar staan 'n Macedóniër wat hom smeek en sê: Kom oor na Macedónië en help ons!   HANDELINGE 16:9 AFR53


5.   Toe sy bediening moeilik was in Korinte, het God hom bemoedig deur 'n visioen. - En die Here het deur 'n gesig in die nag aan Paulus gesê: Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie;   HANDELINGE 18:9 AFR53


6.   Na sy arrestasie in Jerusalem is Paulus bemoedig deur 'n visioen. - En die volgende nag het die Here by hom gestaan en gesê: Hou goeie moed, Paulus, want soos jy aangaande My in Jerusalem kragtig getuig het, so moet jy in Rome ook getuig.   HANDELINGE 23:11 AFR53


7.   In vandag se vers, te midde van die storm op die see, het 'n engel aan hom verskyn en hom verseker dat hy en die passasiers gered sou word.



3 Julie 2025


ROMEINE 8:38 AFR53

Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge


Paulus sluit sy lofrede af met hierdie bemoedigende verse: as God vir ons is, wie kan teen ons wees. 


God die Vader het Sy sondelose, regverdige Seun, Jesus, geoffer om die prys vir ons sonde te betaal. As God dit vir ons gedoen het, hoe kan ons ooit dink dat Hy nie vir ons is nie?


Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?   ROMEINE 8:31-32 AFR53


Ons is veilig van elke aanklag teen ons. As ons deur die hoogste Regter onskuldig verklaar word, wie kan 'n bykomende aanklag instel?


Ons is ook veilig van elke veroordeling. Met Jesus wat ons voorspraak is, wie kan ons dan veroordeel?


Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.   ROMEINE 8:33-34 AFR53


Daar is geen aanklag, of veroordeling, of lyding, of benoudheid, of vervolging, of honger, of naaktheid, of gevaar, of die swaard wat ons kan skei van God se liefde nie. 


Wie sal ons skei van die liefde van Christus — verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?   ROMEINE 8:35 AFR53


Inteendeel, ons sal saam met Hom oorwinnaars wees.


Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape. Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.   ROMEINE 8:36-37 AFR53


Paulus toon die diepte van God se liefde wat in Jesus Christus gemanifesteer word. Dit verklaar dat niks gelowiges kan skei van die liefde van God nie.


Deur potensiële bronne van skeiding uit te lig soos: dood, lewe, engele, owerhede of magte, huidige of toekomstige dinge, hoogte, diepte of enige ander skepsel, maak Paulus dit duidelik dat niks ooit die band van liefde wat God vir diegene het wat in Jesus Christus is, kan breek nie.


Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.   ROMEINE 8:38-39 AFR53



4 Julie 2025


I KORINTHIËRS 4:9 AFR53

Want dit lyk vir my dat God ons apostels die laaste plek aangewys het as tot die dood veroordeel; want ons het 'n skouspel geword vir die wêreld, vir die engele sowel as vir die mense.


Paulus skryf dat die Korintiese Christene op 'n baie spesifieke manier aan hom, Apollos en ander bedienaars moet dink. Daar moet aan hulle gedink word as dienaars van Christus.


So moet ons dan beskou word as dienaars van Christus en bedienaars van die verborgenhede van God.   I KORINTHIËRS 4:1 AFR53


Paulus bespreek die kwessie van verdeeldheid rondom leiers, meer spesifiek oor die stryd in die gemeente om óf Paulus óf Apollos óf Sefas (Petrus) aan te hang. 


En verder word van die bedienaars vereis dat hulle getrou bevind moet word. Maar vir my beteken dit baie min of ek deur julle of deur 'n menslike regbank beoordeel word; ja, ek beoordeel myself nie eens nie,   I KORINTHIËRS 4:2-3 AFR53


Die apostels is dienaars van Christus (nie van die gemeente nie), wat deur Hom beoordeel word, en hulle moet binne die perke bly van wat Hy bepaal.


Daarom moet julle nie voor die tyd oordeel, voordat die Here kom nie, wat die verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die harte openbaar sal maak; en dan sal elkeen lof van God ontvang. Hierdie dinge, broeders, het ek op myself en Apollos toegepas om julle ontwil, dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen 'n derde nie.   I KORINTHIËRS 4:5-6 AFR53


Die toestand van die Korintiese Christene het beteken dat daar 'n probleem met trots was. Paulus spreek hul trotse harte aan met drie vrae.


1. Wat maak jou so belangrik?     As daar 'n verskil tussen ons is, is dit as gevolg van wat God in ons gedoen het, so daar is geen rede vir trots nie.

2. Wat het jy, wat jy nie ontvang het nie?     Alles wat ons het, kom van God, so daar is geen rede vir trots nie.

3. Waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?       As wat jy geestelik het, 'n gawe van God is, waarom roem jy daarin asof dit jou eie prestasie is? Daar is geen rede vir hierdie selfverheerlikende trots nie.


Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?   I KORINTHIËRS 4:7 AFR53


Paulus sê dat die Christene te selfstandig is en dat hulle optree soos welgestelde mense wat reeds alles het wat hulle wil hê, in plaas van mense wat Christus nodig het.


Alreeds is julle versadig, alreeds het julle ryk geword, sonder ons het julle geheers. Het julle tog maar geheers, sodat ons saam met julle kon heers!   I KORINTHIËRS 4:8 AFR53


Paulus deel sy intieme gedagtes met ons in hierdie gedeelte, waar dit vir hom, as hy na sy reis en dié van die ander apostels kyk, lyk asof God hulle as ter dood veroordeeldes aangestel het, omdat hulle 'n skouspel vir beide die wêreld en die engele gemaak is.


Want dit lyk vir my dat God ons apostels die laaste plek aangewys het as tot die dood veroordeel; want ons het 'n skouspel geword vir die wêreld, vir die engele sowel as vir die mense.   I KORINTHIËRS 4:9 AFR53



5 Julie 2025


I KORINTHIËRS 6:3 AFR53

Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?


In sy brief aan die kerk in Korinte vertel die apostel Paulus vir ons dat gelowiges nie net die wêreld sal oordeel nie, maar ook die engele.


Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake?   I KORINTHIËRS 6:2 AFR53


Die Skrif leer dat die gevalle engele deur God geoordeel sal word.


Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word;   II PETRUS 2:4 AFR53


En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar;   JUDAS 1:6 AFR53


Maar, wat bedoel Paulus wanneer hy sê dat die heiliges ook engele sal oordeel?


Wat ons uit hierdie 1 Korintiërs gedeelte kan aflei, is dat ons, as God se kinders, 'n hoër posisie as die engele gegee sal word. Ons is nie net na God se beeld geskape nie, maar deur Christus verlos.


Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het,   LUKAS 1:68 AFR53


Engele is nie na God se beeld geskape nie en word nie deur Christus verlos nie.


Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie?   HEBREËRS 1:14 AFR53


Ook stuur God Sy engele om Sy heiliges te dien, d.w.s. diegene wat die ewige lewe sal beërwe.


want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.   PSALMS 91:11 AFR53


Christus is bo al die engele verhewe, en dit lyk redelik dat diegene wat in Hom is en na Sy gelykenis gemaak is, in Sy gesag sal deel, insluitend Sy gesag oor die engele.


As ons verdra, sal ons met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën.   II TIMÓTHEÜS 2:12 AFR53


En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.   OPENBARING 20:4 AFR53



6 Julie 2025


I KORINTHIËRS 11:10 AFR53

Daarom moet die vrou 'n aanduiding van gesag op die hoof hê ter wille van die engele.


Waarom sou Paulus se instruksie 'n waarskuwing oor engele insluit?


Wat op aarde het engele met vroue se hare te doen?


Daar is eintlik 'n verband as ons na Joodse tradisie kyk en hierdie inligting vind ons in die Talmud.


Die woord Talmud is 'n Hebreeuse woord wat leer of onderrig beteken. Die Talmud bestaan ​​hoofsaaklik uit besprekings en kommentaar oor Joodse geskiedenis, wetgewing (veral die praktiese toepassing daarvan op die lewe), gebruike en kultuur.


Die Talmud leer dat 'n vrou se hare, veral wanneer dit op 'n uiterlik verleidelike of onbeskeie manier ontbloot word, as naaktheid beskou word.


Naaktheid is ook 'n eufemisme vir gedrag wat nie in lyn is met God se wil nie, d.w.s. sonde. Ons sien hierdie taal in Genesis nadat Adam en Eva by die boom gesondig het, en hulle besef het dat hulle naak was.


Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak.   GÉNESIS 3:7 AFR53


Ons het ook in Genesis 6 gesien dat van die engele of die seuns van God vir hulself vrouens geneem het van die mense dogters. Hierdie boosheid het gemaak dat God berouvol was dat Hy die mens geskape het.


In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam. Toe die Here sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het dit die Here berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart.   GÉNESIS 6:4-6 AFR53


‘n Vrou moes dus haar hoof bedek ter wille van die engele, sodat sy nie naak voorkom vir die engele nie.


Ek plaas ook Jaco Thom se verduidelik van die gedeelte hier onder.


Paulus praat in hierdie hoofstuk oor die probleme wat daar in Korinte se eredienste opgeduik het. Hy begin deur te verwys na die feit dat die vroue in die gemeente nie, soos die kulturele gebruik van destyds, met hoofbedekkings kerk toe gekom het nie. Dit was nie hoedens soos ons dit ken nie, maar iets tussen ’n sluier en ’n hoofversiering.


Paulus was sensitief daarvoor dat die gemeente nie die naam moes kry dat hulle die bestaande kultuur uitdaag en uittart nie, want dit sou rampspoedige gevolge hê vir hulle getuienis na buite. Vroue wat nie hulle hare bedek het nie, is in daardie tyd gesien as promisku, aangesien dit prostitute was wat so verskyn het.


Ons kulturele gebruike vandag verskil hemelsbreed van dié van Korinte, en daarom moet ons versigtig wees om nie te maklik afleidings te maak oor wat Paulus hier leer nie. Wat ons wel kan sê, is dat Paulus ons daarop wys dat dinge in die kerk ordelik moet verloop, met respek en agting vir mekaar en vir die verskillende rolle wat ons van God ontvang het.



7 Julie 2025


I KORINTHIËRS 13:1 AFR53

Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek 'n klinkende metaal of 'n luidende simbaal geword.


Die kerk in Korinthe het nie die aard en doel van die geestelike gawes verstaan nie.


Die feit dat sommige in tale gepraat en ook ander gawes beoefen het, terwyl ander dit nie gedoen het nie, was nog 'n bron van verdeeldheid onder die mense.


Dit het gelei tot die verkeerde idee dat sommige meer geestelik as ander was. Paulus het hul denke noukeurig reggestel en getoon dat elke gawe in die kerk nodig is, veral die gawes wat buite die sig van ander beoefen word.


Paulus moedig dan sy lesers aan om te begeer dat die hoër gawes van apostels, profete en leraars deur God aan hul kerk gegee moet word.


En God het sommige in die gemeente gestel: in die eerste plek apostels, ten tweede profete, ten derde leraars, daarna kragte, daarna genadegawes van gesondmaking, helpers, regeringe, allerhande tale.   I KORINTHIËRS 12:28 AFR53


Die belangrikheid van die indrukwekkende gawes van gesondmaking, helpers, regeringe en allerhande tale is ondergeskik aan die hoër gawes van apostels, profete en leraars.


Almal is tog nie apostels nie, almal is tog nie profete nie, almal is tog nie leraars nie, almal is tog nie kragte nie? Het almal genadegawes van gesondmaking, spreek almal in tale, kan almal dit uitlê? Maar beywer julle met die oog op die beste gawes; en ek wys julle 'n nog uitnemender weg.   I KORINTHIËRS 12:29-31 AFR53


Dan begin Paulus met een van die mees geliefde en betekenisvolle hoofstukke in die Bybel. Dit is kort, maar dit beskryf kragtig die kern van wat dit beteken om saam te leef as gelowiges in Jesus.


Hy begin deur te wys hoe nutteloos selfs die mees indrukwekkende geestelike gawes sonder die liefde is.


Selfs die Godgegewe, bonatuurlike vermoë om in 'n taal te praat wat 'n mens nie ken nie, selfs die taal van engele, word soos die geluid van 'n raserige simbaal en 'n klinkende metaal as dit nie met liefde beoefen word nie. Die spesifieke woord wat hier gebruik word, is agape, wat 'n selfopofferende en goddelike liefde beteken.


Die tale van mense word verstaan ​​as ‘n behoorlike menslike taal. Dit is 'n gawe wat gegee word aan ‘n spreker om die boodskap wat deur God gegee word, in ‘n taal te gee wat onbekend is aan die spreker.


Die taal van engele kan heel moontlik verwys na die werklike taal wat gepraat word deur hemelse wesens.


Paulus beklemtoon dat dit nie saak maak hoe indrukwekkend so 'n vertoon sou wees nie, dit word niks anders as ‘n afstootlike geraas wanneer dit sonder liefde vir ander gelowiges beoefen word nie.



8 Julie 2025


II KORINTHIËRS 11:14 AFR53

En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in 'n engel van die lig.


Paulus het sy teenstanders in Korinthe behoorlik ontbloot vir dit wat hulle was: bedrieërs wat voorgee om te wees wat Paulus werklik was - 'n apostel van Jesus.


Die bedrieërs het probeer om die Christene weg te lei van ware toewyding aan Jesus, deur vir hulle 'n ander evangelie oor 'n ander Jesus en 'n ander gees te verkondig. Met ander woorde, hulle het alles wat Paulus aan die Korinthiërs geleer het verdraai om 'n voordeel vir hulself te verkry.


Want as iemand kom en 'n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle 'n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of 'n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval.   II KORINTHIËRS 11:4 AFR53


Die Skrif dui aan dat ons nie verbaas moet wees wanneer hierdie taktiek gebruik word nie.


Satan vermom homself ook as 'n engel van die lig en sy grootste wapen was nog altyd misleiding. Die mees effektiewe misleiding is om mense te oortuig dat dit wat kwaad is, eintlik goed is, en dat dit wat donker is, eintlik lig is.


Jesaja het in die Ou Testament sy mense al hierteen gewaarsku.


Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.   JESAJA 5:20 AFR53


Paulus het die werk van hierdie valse apostels vergelyk met Satan se misleiding van Eva in die tuin.


Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus.   II KORINTHIËRS 11:3 AFR53


Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die Here God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?   GÉNESIS 3:1 AFR53


Hierdie valse leraars het hulself aan die Korintiërs voorgedoen as werkers vir die goeie met indrukwekkende spreek- en aanbiedingsvaardighede. Paulus noem hulle nou die dienaars van Satan. Soos die Duiwel, gee hulle voor dat hulle dienaars van geregtigheid is. Hulle gee voor dat hulle Christus en Sy evangelie verkondig, maar verkondig eerder 'n valse weergawe van beide.


Dit is duidelik nie bloot 'n groep Christen-leraars wat met Paulus oor subtiele leerstellings stry nie. Dit is nie eens 'n groep ongelowiges met opregte meningsverskille oor wat waar is nie. Hierdie valse leraars is doelbewus in hul misleiding van die Christene. Hulle gee doelbewus voor dat hulle iets is wat hulle nie is nie om iets vir hulself te verkry.


Paulus skryf onheilspellend dat hul einde by hul dade sal pas. Hierdie feitestelling behoort die Korintiërs te waarsku om nie te naby aan hierdie manne te kom nie. Paulus sê kortliks dat hulle oordeel kom - hul einde sal wees volgens hul werke.


Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.   II KORINTHIËRS 11:15 AFR53



Comments


  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page