top of page

Engele in die Bybel - Galasiërs tot Judas

  • Regina Torre
  • Jul 9
  • 37 min read

Updated: Jul 28

ree


9 Julie 2025


GALÁSIËRS 1:8 AFR53

Maar al sou ons of 'n engel uit die hemel julle 'n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom 'n vervloeking wees!


Paulus gee in vers 6 van hierdie brief aan die Galasiërs die rede vir sy skrywe. Hy praat direk met die mense wat die evangelie van Jesus geglo het tydens sy eerste sendingreis aan die streek.


Hulle het die eenvoudige waarheid gehoor dat hulle deur geloof in Christus van hul sonde gered kon word. Geen ekstra werke was nodig om hul plek in God se familie te verseker nie. Jesus het ten volle met Sy lewe betaal.


Soos duidelik sal word, is Paulus erg gefrustreerd met sy lesers. Hy is in werklikheid verstom dat hulle so vinnig van die eenvoudige waarheid kon afwyk. Meer spesifiek skryf Paulus dat hulle Christus self versaak, deur 'n ander evangelie te glo as die een wat hy vir hulle gewys het.


Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na 'n ander evangelie toe,   GALÁSIËRS 1:6 AFR53


Paulus beklemtoon dat daar geen ander evangelie is nie! Daar is geen ander weergawe van die waarheid dat verlossing deur geloof alleen, in Christus alleen, deur God se genade alleen kom nie.


Dit is die enigste manier waarop sondaars vergewe kan word, en reg met God kan word. Om daardie boodskap op enige manier te verander, is om die evangelie van Christus te verdraai.


terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai.   GALÁSIËRS 1:7 AFR53


Paulus vervloek nou enigiemand wat 'n ander weergawe van die evangelie van Jesus sou leer as die een wat hulle van hom gehoor het. Hy skryf dat dit homself, of selfs 'n engel uit die hemel sou insluit.


As die evangelie deur enigiemand om enige rede gewysig, aangepas of verander word, is dit nie meer die evangelie nie. Dit is nie die waarheid nie.


Maar al sou ons of 'n engel uit die hemel julle 'n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom 'n vervloeking wees!   GALÁSIËRS 1:8 AFR53


Die vloek wat Paulus uitspreek, behels ewige verdoemenis. Sy implikasie is dat valse leraars jou nie die weg na verlossing kan wys nie, omdat hulle dit self nie het nie. Hulle is veroordeel.


Paulus se brief verduidelik waarom dit so noodsaaklik is om niemand te glo wat 'n evangelie verkondig wat in stryd is met wat hulle reeds van hom ontvang het nie.


Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle 'n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom 'n vervloeking wees!   GALÁSIËRS 1:9 AFR53


Paulus vertel dat wat hy die Galasiërs oor Jesus geleer het, hy nie van ander mense geleer het nie. Hy het hierdie evangeliewaarheid in ‘n openbaring, direk van Jesus Christus ontvang.


Want ek het dit ook nie van 'n mens ontvang of geleer nie, maar deur 'n openbaring van Jesus Christus.   GALÁSIËRS 1:12 AFR53



10 Julie 2025


GALÁSIËRS 3:19 AFR53

Wat beteken die wet dan? Dit is bygevoeg weens die oortredinge, totdat die saad aan wie die belofte gedoen is, sou kom; en dit is deur engele beskik deur tussenkoms van 'n middelaar.


Hierdie is 'n ingewikkelde en belangrike vers in Galasiërs. Paulus het 'n sterk argument opgebou waarom die wet ons nie van ons sondes kan red nie.


Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie.   GALÁSIËRS 3:10 AFR53


Paulus leer dat God nog altyd bedoel het dat Christus die uiteindelike middel tot ons verlossing moet wees.


Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons 'n vloek te word — want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan 'n hout hang — sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang.   GALÁSIËRS 3:13-14 AFR53


Nou vra Paulus die voor die hand liggende vraag: Waarom dan die wet? Met ander woorde, wat is die punt? Waarom het God hierdie komplekse versameling reëls en regulasies vir Sy volk Israel geskep en geïmplementeer?


Paulus se antwoord is dat die wet bygevoeg is weens die volk se oortredings. God het in Sy genade vir hulle die wet gegee om Sy eie standaarde vir hul regte en verkeerde gedrag te wys.


Maar, die wet het ook vir die Israeliete gewys dat hulle wou doen wat verkeerd was, en daarom nie in staat was om God se standaard perfek te gehoorsaam nie.


God het die wet deels ingestel om vir die Israeliete, en vir ons almal, te wys hoe sondig ons werklik is. Slegs sondige mense weet dat hulle van hul sonde gered moet word. Die wet oortuig ons hoeveel sondes ons het.


God het Sy beloftes aan Abraham en sy saad (enkelvoud) gegee. Net een saad of nageslag is hier van toepassing en dit is Jesus wat almal, wat in Hom glo, van hul sondes verlos deur Sy kruisdood en opstanding.


Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus. Maar ek sê dít: die wet wat vierhonderd-en-dertig jaar later gekom het, maak die verbond wat deur God in Christus vantevore bekragtig is, nie kragteloos om die belofte tot niet te maak nie.   GALÁSIËRS 3:16-17 AFR53


Volgens antieke tradisies – ware tradisies, volgens Paulus – is die wet op die berg Sinai deur die hande van engele aan Moses oorhandig. Engele was die tussenganger of middelaar vir Moses toe hy die wet van God ontvang het.


Moses het ’n middelaar tussen homself en God nodig gehad, maar ons het nie ’n middelaar tussen ons en Jesus nodig nie – Hy is ons middelaar.



11 Julie 2025


I THESSALONICENSE 4:16 AFR53

Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.


Die Christene in Thessalonika is bekommerd oor wat met hul medegelowiges gaan gebeur indien hulle sterf voor Jesus se wederkoms.


Paulus praat met hulle en beskryf die dood as iemand wat slaap. Wanneer 'n persoon gaan slaap, verwag hy om wakker te word. Dus, wanneer 'n gelowige se liggaam sterf, slaap dit in die graf, maar dit sal weer wakker word.


Hy gee hierdie verduideliking oor die dood van 'n gelowige, sodat die gelowiges nie die dood van hul medegelowiges sal betreur op dieselfde manier as wat ongelowiges die verlies van hul vriende en geliefdes betreur nie.


Ongelowiges het geen hoop nie, maar gelowiges het 'n vaste hoop op lewe anderkant die graf. Christene kan 'n medegelowige se dood betreur as 'n hartseer, maar tydelike skeiding, eerder as 'n permanente verlies.


Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie.    

I THESSALONICENSE 4:13 AFR53


Die hoop op lewe na die graf berus op die geloof dat Jesus die dood oorwin het, deur uit die dood uit op te staan.


Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring.   I THESSALONICENSE 4:14 AFR53


Paulus verklaar dat lewende Christene nie weggeraap sal word voor afgestorwe Christene met die wederkoms van Jesus nie.


Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie.     

I THESSALONICENSE 4:15 AFR53


Die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n roep, met die stem van ‘n aartsengel en met die klank van ‘n basuin, en die Christene wat reeds gesterf het sal eerste opstaan.


Daarna sal die wat nog lewe saam met diegene wat gesterf het in die wolke weggevoer word om Jesus in die lug te ontmoet. En so sal die wat lewe en die wat reeds gesterf het altyd by die Here wees.


Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.   I THESSALONICENSE 4:17 AFR53



12 Julie 2025


II THESSALONICENSE 1:7 AFR53

en aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele


Paulus antisipeer in die skrywe die wederkoms van Jesus. Christene wat verdruk word kan verligting vind in die wete dat Jesus diegene sal oordeel wat hul verdruk.


Die woord wat in hierdie vers as verligting vertaal word, is anesin, wat losmaak of rus beteken. In plaas daarvan om ontsteld of bekommerd te wees, kan Christene ontspan, want Jesus kom weer, en wanneer Hy kom, sal Hy vergesel word deur Sy magtige engele.


God sal diegene straf wat Hom nie ken nie, wat volgens die Bybel diegene beteken wat kies om Hom te ignoreer.


  in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie.   II THESSALONICENSE 1:8 AFR53


Die gevolg van ongeloof is ewige straf. Die goddeloses sal nie vernietig word of net 'n tydelike straf ervaar nie. Hul straf sal ewige lyding in die hel wees.


Terwyl gelowiges die Here van aangesig tot aangesig sal sien, sal ongelowiges van die aangesig van die Here verdryf word en nooit die vreugde ken om in Sy teenwoordigheid te wees en die vreugde om die prag van Sy mag te aanskou nie.


Hulle sal as straf ondergaan 'n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte,   II THESSALONICENSE 1:9 AFR53


Hierdie vers leer dat God oordeel oor ongelowiges sal voltrek wanneer Jesus terugkom. Hierdie belofte verwys na Jesus se wederkoms, nie na die wegraping nie.


wanneer Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo, in daardie dag; want ons getuienis het by julle geloof gevind.   II THESSALONICENSE 1:10 AFR53


Paulus en sy medewerkers het aanhou bid vir die Christene in Thessalonika. Hulle het God gevra om die gemeente in staat te stel om aan hul roeping te voldoen.


Ons word geroep om te skyn soos ligte in 'n donker, sondige wêreld. As ons 'n heilige en regverdige lewe lei wat Jesus aan ander openbaar, sal ons ons roeping waardig wees.


Daarom bid ons ook altyd vir julle dat onse God julle die roeping waardig mag ag, en dat Hy alle welgevalle aan wat goed is, en alle werk van die geloof met krag volkome mag maak,  sodat die Naam van onse Here Jesus Christus in julle verheerlik kan word en julle in Hom, ooreenkomstig die genade van onse God en die Here Jesus Christus.   II THESSALONICENSE 1:11-12 AFR53



13 Julie 2025


I TIMÓTHEÜS 3:16 AFR53

En, onteenseglik, die verborgenheid van die godsaligheid is groot: God is geopenbaar in die vlees, is geregverdig in die Gees, het verskyn aan engele, is verkondig onder die heidene, is geglo in die wêreld, is opgeneem in heerlikheid.


Die woord verborgenheid is vertaal van die Griekse woord musterion en verwys in die Nuwe Testament na die dinge van God wat eens verborge was, maar later geopenbaar is deur Jesus en die koms van die Heilige Gees.


'n Verborgenheid is dit wat slegs geken kan word wanneer God dit openbaar.


Aan Hom dan wat magtig is om julle te versterk volgens my evangelie en die prediking van Jesus Christus, ooreenkomstig die openbaring van die verborgenheid wat eeue lank verswyg is, maar nou geopenbaar is en deur die profetiese Skrifte bekend gemaak is onder al die heidene, volgens die bevel van die ewige God, tot gehoorsaamheid van die geloof —.  ROMEINE 16:25-26 AFR53


Watter verborgenheid of soos in Engels gesê mystery gee Paulus hier vir ons?


1.  Die kern van die Christendom is dat God menslike vlees geword het om onder die mense wat Hy geskep het, te woon.


Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as 'n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.   FILIPPENSE 2:6-8 AFR53


2.  Jesus is deur die Heilige Gees verklaar dit wat Hy altyd was – volkome geregverdig voor die Vader.


Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring — Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees;   I PETRUS 3:18 AFR53


3.  Die bediening van Jesus, beide op aarde en deur die Kerk, is van groot belang vir engelewesens. Daar was baie gevalle waar Jesus deur engele gesien is, bv:


En Hy was daar in die woestyn veertig dae lank, terwyl Hy deur die Satan versoek is; en Hy was saam met die wilde diere, en die engele het Hom gedien.   MARKUS 1:13 AFR53


4.  Na Jesus se dood, opstanding en hemelvaart het die apostels en Paulus die Woord onder die heidene verkondig, soos ons steeds vandag nog doen.


Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.   MATTHÉÜS 28:19 AFR53


5.  Opgeneem in heerlikheid - dit herinner ons aan Jesus se hemelvaart, en Sy huidige voorbidding vir ons aan die regterhand van God.


Nadat die Here dan met hulle gespreek het, is Hy opgeneem in die hemel en het gaan sit aan die regterhand van God. Maar hulle het uitgegaan en oral gepreek, en die Here het saamgewerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het. Amen.   MARKUS 16:19-20 AFR53



14 Julie 2025


I TIMÓTHEÜS 5:21 AFR53

Ek besweer jou voor God en die Here Jesus Christus en die uitverkore engele dat jy hierdie dinge sonder vooroordeel in ag neem en niks uit partydigheid doen nie.


Paulus begin hierdie sterk stelling aan Timotheus met ‘ek besweer jou voor God en die Here Jesus Christus en die uitverkore engele’.


Die kragtigheid van die stelling weerspieël die ernstige aard van die werk van leiers in die plaaslike gemeente. Hulle dien 'n ewige God en moet Hom eerste behaag, in alles wat hulle doen.


Ons kan met vertroue sê dat die uitverkore engele die ‘goeie’ engele is.


Hulle is nie die engele waarvan Juda gepraat het wat hul eie woning verlaat het nie,


En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar;   JUDAS 1:6 AFR53


en hulle is ook nie die engele wat gesondig het nie.


Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word;   II PETRUS 2:4 AFR53


Paulus voeg die engele by die groep van God en Jesus, nie omdat hulle regters is nie, maar as toekomstige getuies. Hulle is teenwoordig as toeskouers, want hulle is die taak gegee om vir die Kerk te sorg.


Vooroordeel en partydigheid is ernstige sondes voor God. In die Nuwe Testament val die klem op partydigheid volgens klas.


My broeders, laat julle geloof in onse Here Jesus Christus, die Here van die heerlikheid, nie wees met aanneming van die persoon nie. Want as daar in julle vergadering 'n man inkom met goue ringe aan die vingers, met 'n pragtige kleed aan, en daar kom ook 'n arm man in met vuil klere aan; en as julle opsien na hom wat die pragtige kleed dra, en vir hom sê: Gaan u op hierdie goeie plek sit, en vir die arme sê julle: Gaan jy daar staan of hier onder my voetbank sit — het julle dan nie by julleself onderskeid gemaak en regters met verkeerde oorlegginge geword nie?   JAKOBUS 2:1-4 AFR53


Moenie enige mens in godsdienstige sake behandel volgens die rang wat hy in die lewe beklee, of volgens enige persoonlike gehegtheid wat jy aan hom mag hê nie. Elke mens moet in die kerk behandel word soos hy behandel sal word by die regterstoel van Christus.


Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.   GALÁSIËRS 3:26-28 AFR53



15 Julie 2025


HEBREËRS 1:4 AFR53

terwyl Hy soveel uitnemender geword het as die engele namate Hy 'n voortrefliker naam geërf het as hulle.


Die skrywer van Hebreërs begin direk met die hart van sy bemoedigende boodskap - die feit dat God met hulle deur Sy Seun praat. Daar is niemand belangriker as God se Seun nie en daar is geen boodskap belangriker as Syne nie.


Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het.   HEBREËRS 1:1-2 AFR53


Die boodskap van God se Seun word gekontrasteer met die talle en verskillende wyses waarop God in die Ou Testament met Sy volk gepraat het. 


Hy het met Moses gepraat deur 'n brandende bos.


Daarop verskyn die Engel van die Here aan hom in 'n vuurvlam uit 'n doringbos. En toe hy weer sien, brand die doringbos in die vuur, maar die doringbos word nie verteer nie!   EXODUS 3:2 AFR53


Hy het met Elia gepraat deur 'n stil, sagte stem.


En ná die aardbewing 'n vuur; in die vuur was die Here nie. En ná die vuur die gesuis van 'n sagte koelte.   I KONINGS 19:12 AFR53


Hy het met Jesaja gepraat deur 'n hemelse visioen.


In die sterfjaar van koning Ussía het ek die Here sien sit op 'n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het.   JESAJA 6:1 AFR53


Hy het met Hosea gepraat deur sy familiekrisis.


Die begin van wat die Here met Hoséa gespreek het; die Here het aan Hoséa gesê: Gaan heen, neem vir jou 'n hoervrou en hoerkinders; want die land het grootliks owerspel bedrywe deur van die Here afvallig te word.   HOSÉA 1:2 AFR53


Hy het met Amos gepraat deur 'n mandjie vrugte.


Dit het die Here Here my laat sien — kyk, daar was 'n mandjie met somervrugte.   AMOS 8:1 AFR53


Die eerste vier verse van Hebreërs 1 bevestig dat Jesus nie 'n geskape wese of 'n hoër vorm van ‘n engel is nie.


Volgens vers 3 is Jesus die ewebeeld van die wese van God. Dit is die konsekwente leer van die Bybel, dat Christus beide volledig God en volledig mens is.


Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte,   HEBREËRS 1:3 AFR53



16 Julie 2025


HEBREËRS 1:5 AFR53

Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer? en weer: Ek sal vir Hom 'n Vader wees, en Hy sal vir My 'n Seun wees?


Die skrywer van Hebreërs vergelyk die Seun vervolgens met die engele, waarskynlik om ’n groeiende beheptheid met die aanbidding van engele hok te slaan, en om te wys hoe onvergelyklik die Seun in wese met die engele is. Hy gebruik sewe aanhalings uit die Ou Testamemt om sy punt te staaf:


1. God het die Seun verwek: Dit is iets wat nooit van die engele gesê kan word nie. 

Ek wil vertel van die besluit: Die Here het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer.   PSALMS 2:7 AFR53


2. God is die Seun se Vader:

Ek sal vir hom 'n vader wees, en hy sal vir My 'n seun wees; sodat as hy verkeerd handel, Ek hom sal straf met 'n menslike roede en met slae van mensekinders.   II SAMUEL 7:14 AFR53


3. Die engele moet Hom aanbid.


En wanneer Hy weer die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy: En al die engele van God moet Hom aanbid.   HEBREËRS 1:6 AFR53


4. God span die engele in om take vir Hom uit te voer.


En van die engele sê Hy wel: Hy wat van sy boodskappers winde maak en van sy dienaars vuurvlamme;   HEBREËRS 1:7 AFR53


5. Die Seun heers as God:

U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is 'n regverdige septer. U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid. Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle.   PSALMS 45:7-8 AFR53


maar van die Seun: U troon, o God, is tot in alle ewigheid, die septer van u koninkryk is 'n regverdige septer; U het geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat; daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle;   HEBREËRS 1:8-9 AFR53


6. Die Seun is medeskepper:

In die voortyd het U die aarde gegrondves, en die hemele is die werk van u hande. Húlle sal vergaan, maar Ú sal bly; ja, hulle almal sal soos 'n kleed verslyt; U verwissel hulle soos 'n kledingstuk, en hulle verdwyn. Maar U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie.   PSALMS 102:26-28 AFR53


en: U, o Here, het in die begin die aarde gegrondves en die hemele is werke van u hande. Hulle sal vergaan, maar U bly; en hulle sal almal soos 'n kleed verslyt, en soos 'n mantel sal U hulle toerol, en hulle sal verander word, maar U is dieselfde, en u jare het geen einde nie.   HEBREËRS 1:10-12 AFR53


7. Die Seun sit aan God se regterhand:

Van Dawid. 'n Psalm. Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak 'n voetbank vir u voete.   PSALMS 110:1 AFR53


En aan watter een van die engele het Hy ooit gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het 'n voetbank van u voete? Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie?   HEBREËRS 1:13-14 AFR53



17 Julie 2025


HEBREËRS 2:2 AFR53

Want as die woord deur engele gespreek, onwankelbaar was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regverdige vergelding ontvang het,


Die volk van God het in die Ou Testament reeds geleer dat die boodskap wat deur engele verkondig is, inderdaad bindend was.  Hiermee verwys die skrywer na die tradisie dat Moses die wet deur die middelaarskap van engele ontvang het.


Wanneer die volk die verbond verbreek het, het die oordele daarvan in werking getree. Só is die boodskap van Jesus ook in die nuwe verbond bindend. 


Die rede daarvoor is dat die Here Jesus self hierdie verlossing verkondig het tydens Sy aardse bediening, en dat dit daarna aan ons bevestig is deur hulle wat dit gehoor het. Daarvan kan die skrywer en die gemeente getuig.  


hoe sal ons ontvlug as ons so 'n groot saligheid veronagsaam wat, nadat dit eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig is deur die wat dit gehoor het,   HEBREËRS 2:3 AFR53


Daar was ook tekens en wonders en allerhande kragtige dade en gawes van die Heilige Gees wat bevestig het dat die verlossing van God afkomstig was.


terwyl God ook nog saam getuig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade en bedélinge van die Heilige Gees volgens sy wil?   HEBREËRS 2:4 AFR53


God het nie die wêreld wat kom aan engele onderwerp nie. Sy plan was eintlik nog altyd dat die mens die kroon van Sy skepping sal wees, en dat alles aan hulle onderworpe sou wees.


Want aan die engele het Hy die toekomstige wêreld waarvan ons spreek, nie onderwerp nie;   HEBREËRS 2:5 AFR53


Dit is egter iets wat nog nie ’n werklikheid geword het nie, behalwe dat ons iets daarvan kan raaksien in Jesus, die een wat met heerlikheid en eer gekroon is.  Hy is vir ’n kort rukkie minder as die engele gemaak, sodat Hy Sy verlossingswerk kon afhandel en ter wille van almal die dood kon ervaar.


maar iemand het êrens getuig en gesê: Wat is die mens, dat U aan hom dink, of die mensekind, dat U hom besoek? U het hom 'n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel.   HEBREËRS 2:6-7 AFR53


Dit is die weg van verlossing wat God in sy wysheid gekies het, om die Leidsman van hulle verlossing deur lyding tot volmaaktheid te bring. Dit het ’n eenheid tussen die Leidsman en Sy volgelinge gebring wat hulle nie net heilig maak nie, maar familie maak!


Alle dinge het U onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie;  maar ons sien Hom, naamlik Jesus, wat vir 'n kort tydjie minder as die engele gemaak is, vanweë die lyde van die dood met heerlikheid en eer gekroon, sodat Hy deur die genade van God vir elkeen die dood sou smaak.   HEBREËRS 2:8-9 AFR53



18 Julie 2025


HEBREËRS 2:16 AFR53

Want waarlik, Hy bekommer Hom nie oor die engele nie, maar oor die geslag van Abraham bekommer Hy Hom.


Jesus het verseker nie aan engele hulp gegee nie. Watter soort hulp het engele nodig?

Die engele is baie soos die mensdom, ten minste op 'n paar maniere. Soos ons, is hulle wesens wat geskape is met die doel om God te dien.


Tweedens het hulle sonde en rebellie binne hul geledere ervaar. Net soos die mensdom God se gesag in die Tuin verwerp het en gesondig het, so het ook 'n deel van die engeleryk. Satan, die hoof-gerub, het natuurlik die proses begin en ons lees oor sy val in Esegiël 28.


Weens die menigte van jou ongeregtighede, deur die onreg van jou koophandel, het jy jou heiligdomme ontheilig; daarom het Ek 'n vuur uit jou binneste laat uitgaan; dit het jou verteer, en Ek het jou tot as gemaak op die aarde voor die oë van almal wat jou gesien het. Al jou bekendes onder die volke is ontsteld oor jou; jy het 'n verskrikking geword en sal daar nie meer wees tot in ewigheid nie.   ESÉGIËL 28:18-19 AFR53


Openbaring 12 leer ons dat Satan tydens sy val een derde van die engeleryk saam met hom geneem het in rebellie teen God.


en sy stert het die derde van die sterre van die hemel meegesleep en hulle op die aarde gegooi. En die draak het gestaan voor die vrou wat op die punt was om te baar, sodat hy haar kind sou verslind sodra sy gebaar het.   OPENBARING 12:4 AFR53


Die derde van die engele wat in opstand gekom en teen God gesondig het, is die engele wat hulp nodig het. Soos die mens, is hulle verlore en sonder hoop, tensy die Here 'n weg vir verlossing gemaak het.


Maar die skrywer van Hebreërs sê Christus het nog nooit 'n verlossingsplan vir die gevalle engele  opgestel nie. Christus het nooit die vorm van 'n engel aangeneem sodat Hy oordeel in hul plek kon ervaar nie. Gevolglik sal hul veroordeel word vir hul sonde, en eendag sal hulle almal geoordeel en gestraf word in die Poel van Vuur.


Terwyl engele gewaardeerde dienaars van Christus is, en ook vir ons, is hulle nie groter as Christus nie. Trouens, hulle is nie eens so waardevol soos die mensdom nie. Die Vader het geen voorsiening gemaak vir die verlossing van gevalle engele nie. Hy het elke gevalle engel as vir ewig verlore beskou.


Aan die ander kant het God 'n pad van verlossing vir mense beskikbaar gestel. Hy help Abraham se nageslag met graagte, sê die skrywer. 'n Nageslag van Abraham beteken in hierdie konteks iemand wat van die geloof van Abraham is, of dit nou Jood of nie-Jood is.


Soos Paulus mooi verduidelik.


Daarom is dit uit die geloof, sodat dit volgens genade kan wees en die belofte kan vasstaan vir die hele nageslag; nie alleen vir die wat uit die wet is nie, maar ook vir die wat uit die geloof van Abraham is, die vader van ons almal —.  ROMEINE 4:16 AFR53


Die Here het 'n manier gemaak om ons uit ons sonde uit te help, een wat Sy dood in ons plek vereis het. Slegs die mensdom is hierdie seën gegee. Petrus vertel vir ons dat die engele verlang om God se verlossingsplan vir die mens te sien en te verstaan.


Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is — dinge waarin die engele begerig is om in te sien.   I PETRUS 1:12 AFR53



19 Julie 2025


HEBREËRS 9:5 AFR53

en daar bo-op die gérubs van die heerlikheid wat die versoendeksel oorskadu het, waaroor nie nou afsonderlik gespreek kan word nie.


Die skrywer gee nou ‘n verduideliking van die tabernakel in die eerste verbond met bepalings vir aanbidding in ‘n aardse heiligdom.


So het dan die eerste verbond sowel verordeninge vir die erediens asook sy aardse heiligdom gehad.   HEBREËRS 9:1 AFR53


Die eerste vertrek word die Heilige genoem en huisves die kandelaar en die tafel van toonbrode.


Want die tabernakel is so ingerig: die eerste, waarin die kandelaar was en die tafel en die toonbrode, wat die Heilige genoem word;   HEBREËRS 9:2 AFR53


Die eerste en die tweede vertrek word deur ‘n voorhangsel (dik gordyn) geskei en word die Allerheiligste genoem. Hier was in Moses se tyd gehuisves 'n goue wierookbak en die ark van die verbond. In die ark van die verbond was die goue kruik met die manna, Aäron se staf wat gebloei het en die twee kliptafels waarop die wet (tien gebooie) geskryf was - tekens van God se voorsiening vir hulle hele lewe.


en agter die tweede voorhangsel die tabernakel wat genoem word die Allerheiligste, waarin 'n goue wierookbak was en die ark van die verbond, rondom heeltemal met goud oortrek, waarin die goue kruik met die manna was en die staf van Aäron wat gebloei het, en die tafels van die verbond;   HEBREËRS 9:3-4 AFR53


Bo-op die ark was die versoendeksel met die gerubs wat dit oorskadu het.


en daar bo-op die gérubs van die heerlikheid wat die versoendeksel oorskadu het, waaroor nie nou afsonderlik gespreek kan word nie.   HEBREËRS 9:5 AFR53


In die Heilige vertrek het al die priesters hulle dienswerk verrig.  In die Allerheiligste vertrek kon net die hoëpriester verskyn voor God, en dit net een keer ’n jaar.  Daar het hy by die verbondsark, deur die bloed van offers, versoening gedoen in die teenwoordigheid van God self – gesimboliseer deur die gerubs op die versoendeksel.


En nadat hierdie dinge so ingerig was, het die priesters wel gedurig in die eerste tabernakel ingegaan om die dienste te vervul, maar in die tweede die hoëpriester alleen, een maal in die jaar, nie sonder bloed nie, wat hy offer vir homself en vir die sondes van die volk uit onwetendheid begaan — waarmee die Heilige Gees dít duidelik maak, dat die weg na die heiligdom nog nie geopen is so lank as die eerste tabernakel nog standhou nie.   HEBREËRS 9:6-8 AFR53


Die aardse heiligdom kon egter nie die weg na God volledig oopmaak nie, omdat dit eintlik net uiterlike reiniging gebring het, al was dit nie sonder sy waarde nie.  Daarom het Jesus Christus die uitnemender en meer volmaakte tabernakel  betree met Sy eie bloed as offer om God se hemelse heiligdom binne te gaan – Sy liggaam was die tempelgordyn van dié tent – en ’n ewige verlossing bewerkstellig.  Daarmee het Hy Homself as vlekkelose offer aan God geoffer om ons gewete te reinig van dooie werke sodat ons die lewende God kan dien.


want nadat Hy tevore gesê het: Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae, spreek die Here verder: Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe, en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie. Waar daar nou vergifnis van hierdie dinge is, is daar geen offer meer vir die sonde nie.   HEBREËRS 10:16-18 AFR53



20 Julie 2025


HEBREËRS 12:22 AFR53

Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele,


Hierdie gedeelte hanteer die verskille tussen die berg Sinai (waar die wet vir Moses gegee is) en die berg Sion, die woonplek van God.


Met ‘n terugblik word ons vertel wat by die berg Sinai gebeur het. Die volk moes by die berg Sinai vergader om te hoor hoe God met Moses praat. Die hele berg het gerook want God het met vuur daarop neergedaal en die berg het vreeslik gebewe. Die geluid van die basuin het al hoe harder geword terwyl Moses en God met mekaar gekommunikeer het. Selfs Moses het op ‘n stadium bang geword.


Want julle het nie gekom by 'n tasbare berg nie en 'n brandende vuur en donkerheid en duisternis en storm en basuingeklank en die geluid van woorde waarby die hoorders gesmeek het dat hulle geen woord meer sou toegevoeg word nie — want hulle kon die gebod nie verdra nie: selfs as 'n dier die berg aanraak, moet dit gestenig word of met 'n pyl neergeskiet word. En Moses, so vreeslik was die gesig, het gesê: Ek is verskrik en ek sidder.   HEBREËRS 12:18-21 AFR53


Hierdie toneel by die berg Sinai word gekontrasteer met die Nuwe Verbond, gesimboliseer deur die berg Sion – nie die aardse berg nie, maar die hemelse eweknie. (Die berg Sion was die plek van Jerusalem en het die plek geword waar God woon.)


En ek het 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos 'n bruid wat vir haar man versier is. En ek het 'n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.   OPENBARING 21:1-4 AFR53


Oor die algemeen is die toon van die gedeelte wat die berg Sion beskryf, baie minder onheilspellend en meer vreugdevol.


Nie net woon God in die hemelse Jerusalem nie, maar daar is ook tienduisende engele in vreugdevolle vergadering en Jesus, die Middelaar van 'n Nuwe Verbond.


‘n Paar engele het as tussengangers die wet aan Moses op die berg Sinai oorgelewer, en tog het die berg Sion 'n ontelbare groep engele.


Saam met hulle almal is die geeste van die regverdiges wat volmaak gemaak is en die gemeente van die eersgeborenes wie se name in die hemele geskryf is.


Dus, onder die Nuwe Verbond, is daar baie wat God kan nader, anders as wat op die berg Sinai gebeur het.


by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges, en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel.   HEBREËRS 12:23-24 AFR53



21 Julie 2025


HEBREËRS 13:2 AFR53

Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg.


Die skrywer aan die Hebreërs gebruik die Griekse woord philadelphia vir die woord liefde, wat broederliefde beteken. Dit is die liefde van diep vriendskap en vennootskap. Hy het aangeneem dat daar broederliefde onder Christene was, en het eenvoudig gevra dat dit onder hulle moet voortduur.


Die broederliefde moet bly.   HEBREËRS 13:1 AFR53


Gasvryheid is 'n belangrike deug wat van Christene onder mekaar verwag word. Vandag se vers herinner dat ons nie die gasvryheid moet vergeet nie.


wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning;   ROMEINE 12:10 AFR53


Wees gasvry jeens mekaar sonder om te murmureer.   I PETRUS 4:9 AFR53


Want deur gasvry te wees, het sommig onwetend engele onthaal! Wanneer ons gasvry teenoor ander is, verwelkom ons Jesus en miskien ook engele.


Jesus het ook die beginsel van die onthaal van vreemdelinge gehandhaaf. Hy het gesê dat wanneer ons weier om 'n dienaar van die Here te help – die behoeftiges, die vreemdelinge, die hongeriges, die dorstiges, die siekes en die geringstes van hierdie broers en susters van my – weier ons om die Here self te help. Wanneer ons vreemdelinge onthaal, betoon ons gasvryheid teenoor Jesus Christus, ons Here, en demonstreer ons broederliefde.


Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee? En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee? En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom? En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.   MATTHÉÜS 25:37-40 AFR53


Abraham is ‘n voorbeeld van iemand wat onwetend engele onthaal het.


Daarna het die Here aan hom verskyn by die terpentynbome van Mamre terwyl hy by die ingang van die tent sit op die warmste van die dag. Toe hy sy oë opslaan en kyk, staan daar drie manne voor hom. En toe hy hulle sien, loop hy hulle tegemoet van die ingang van die tent af en buig hom na die aarde toe. En hy sê: My heer, as ek nou genade in u oë gevind het, gaan dan tog nie by u kneg verby nie.   GÉNESIS 18:1-3 AFR53


Ook Lot is ‘n voorbeeld van iemand wat onwetend engele onthaal het.


En die twee engele het in die aand in Sodom aangekom, terwyl Lot in die poort van Sodom sit; en toe Lot hulle sien, het hy opgestaan om hulle tegemoet te gaan en hom gebuig met die aangesig na die aarde toe en gesê: Kyk tog, my here, draai tog uit na die huis van u dienaar en bly die nag oor en was u voete; dan kan u vroeg opstaan en u reis voortsit. Maar hulle antwoord: Nee, ons sal op die plein vernag. Maar hy het baie by hulle aangehou, sodat hulle na hom uitgedraai en in sy huis gekom het. En hy het vir hulle 'n maaltyd berei en ongesuurde koeke gebak, en hulle het geëet.   GÉNESIS 19:1-3 AFR53



22 Julie 2025


I PETRUS 1:12 AFR53

Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is — dinge waarin die engele begerig is om in te sien.


Petrus begin met die frase ‘aangaande hierdie saligheid’ of verlossing. Hy praat nie in 'n persoonlike sin van jou redding of my redding nie, maar oor God se verlossingsplan vir almal.   


Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors,   I PETRUS 1:10 AFR53


Die profete van die Bybel het profeties gepraat van die komende genade van 'n Messias, en in daardie openbaring is hulle ook die begrip gegee om te weet dat hierdie boodskap nie vir hulle of hulle geslag was nie. Omdat ons kan terug kyk, kan ons duidelik sien hoe die profete se profesieë gepraat het van Jesus as die Messias.


Petrus sê verder dat hierdie profete die Gees van Christus wat in hulle gewoon het, deursoek het om te weet wie die Messias sou wees en wanneer Hy sou kom. Hulle wou die voorreg hê om meer van hierdie Christus te weet waarvan hulle profeties gepraat het.


Die profete moes ook worstel met wat ons ken as Jesus se eerste en tweede koms. Hoe kan 'n Messias ly en roem? Hoe kan Hy sterf en regeer as koning?


en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna.   I PETRUS 1:11 AFR53


Hulle het gesmag om God se verlossingsplan te verstaan, maar ons het die voorreg om dit te sien uitspeel. Die ontvouing van God se ewige plan is iets wat selfs engele begeer om te sien.


Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is — dinge waarin die engele begerig is om in te sien.   I PETRUS 1:12 AFR53


Omdat ons gekies is vir so 'n ongelooflike verlossing het ons 'n verpligting om te reageer. Petrus gee vyf verskillende vermanings om heilig te lewe.


1. Omgord die lendene van julle verstand.


2. Lewe heilig - wees nugter.


3. Hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.


Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.   I PETRUS 1:13 AFR53


4. Moet nie jou lewe inrig volgens jou vorige begeerlikhede nie.


Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie.   I PETRUS 1:14 AFR53


5. Word heilig in jou lewenswandel, soos Hy wat jou geroep het.


Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word,   I PETRUS 1:15 AFR53



23 Julie 2025


I PETRUS 3:22 AFR53

wat heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van God is, terwyl engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is.


Jesus se kruisiging was Sy lyding vir sonde – nie Sy eie nie, maar ons s’n. En belangrik, Jesus het net een keer gely en gesterf. Hy was die offer vir sondes, maar, anders as die jaarlikse diere-offer vir sondes in die Ou Testament, was Jesus die finale offer vir ons sondes en is drie dae later deur die Heilige Gees uit die dood opgewek.


Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring — Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees;   I PETRUS 3:18 AFR53


Petrus vertel dat Jesus, nadat Hy uit die dood opgewek is, heengegaan het en met die geeste in die gevangenis gespreek het.


Wat ons wel van die geeste weet is dat hulle nie liggame het nie en hulle is gevange geneem. Hulle verhouding met Jesus en die aard van Sy aankondiging aan hulle is egter oop vir spekulasie.


in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis,   I PETRUS 3:19 AFR53


Wie presies hierdie geeste is, is deur die jare heen die onderwerp van debat wat sê dat hulle of gevalle engele of demone is, of die menslike geeste van diegene wat in die vloed van Noag se dag omgekom het.


wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is;   I PETRUS 3:20 AFR53


Die doop verteenwoordig 'n volledige breek met 'n mens se vorige lewe. Soos die Vloed die ou sondige wêreld weggevee het, so beeld die doop 'n mens se breek van ons ou sondige lewe uit

en ons toetrede tot die nuwe lewe in Christus.


Dit is nie die ingaan in die water wat ons red nie, maar dit waarvan die doop praat - die opstanding van Jesus uit die dood.


waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as 'n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as 'n bede tot God om 'n goeie gewete — deur die opstanding van Jesus Christus.  I PETRUS 3:21 AFR53


Die doop is die simbool van wat reeds in die hart en lewe gebeur het van iemand wat Jesus as Verlosser aanvaar het.


omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het.   KOLOSSENSE 2:12 AFR53


Jesus sit tans aan die regterhand van God, die setel van hoogste eer, om te heers oor die ganse skepping. In hierdie posisie is die engele en magte en kragte aan Hom onderwerp.


wat heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van God is, terwyl engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is.   I PETRUS 3:22 AFR53



24 Julie 2025


II PETRUS 2:4 AFR53

Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word;


God bring inderdaad oordeel oor diegene wat teen Hom in opstand kom. In hierdie vers begin hy met die engele wat gesondig het.


Die spesifieke engele word in Genesis 6 die seuns van God genoem.


Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is, sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het. Toe sê die Here: My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd-en-twintig jaar. In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam.   GÉNESIS 6:1-4 AFR53


Hel of Tartarus is 'n Griekse term wat 'n streek aandui wat so ver onder die doderyk was as wat die doderyk onder die aarde was. In die Griekse mitologie was dit die plek van straf vir die afgestorwe geeste van die goddeloses, moontlik gelykstaande aan die afgrond waarvan Openbaring vertel.


En hulle het as koning oor hulle die engel van die afgrond; sy naam in Hebreeus is Abáddon, en in Grieks het hy die naam van Apóllion.   OPENBARING 9:11 AFR53


En wanneer hulle hul getuienis voleindig het, sal die dier wat uit die afgrond opkom, teen hulle oorlog voer en hulle oorwin en hulle doodmaak;   OPENBARING 11:7 AFR53


En ek het 'n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en 'n groot ketting in sy hand.  OPENBARING 20:1 AFR53


Wie was die seuns van God in Genesis 6? Die Hebreeus vir seuns van God is ben Elohim. Die Hebreeuse woord ben beteken manlike seun en Elohim beteken God.


Judas vertel vir ons dat die ben Elohim of die seuns van God, engele was wat hul eie woonplek (die hemel) verlaat het om eerder op aarde as ‘mense’ te kom woon.


En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar;   JUDAS 1:6 AFR53


Waarom sou God die engele nie gespaar het nie, en hulle in die hel neergewerp het?


Genesis 6:2 vertel dat die mense dogters vir die seuns van God mooi was. Die engele het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het, en die kinders wat hier gebore was, was reuse of Nephilim.


Hierdie was Satan se poging om die menslike geslag te korrupteer, om God se verlossingsplan deur Adam se bloedverwant-verlosser te stuit.


God het egter Satan se planne in die wiele gery deur die oordeel van die Vloed.



25 Julie 2025


II PETRUS 2:11 AFR53

terwyl die engele, hoewel groter in sterkte en krag, geen lasterlike oordeel teen hulle by die Here voorbring nie.


Net soos God vir Lot verlos het uit Sodom, so weet Hy hoe om ons te verlos van die versoekings wat ons in die gesig staar, en Hy weet hoe om die onregverdiges te bewaar vir die dag van oordeel.


die Here weet om die godsaliges uit versoeking te verlos en die onregverdiges te bewaar vir die dag van oordeel om gestraf te word;   II PETRUS 2:9 AFR53


Die dwaalleraars matig hulself aan om dinge te belaster wat selfs die engele sidder om te doen.


en veral die wat die vlees in vuile begeerlikheid agternaloop en die heerskappy verag. Vermetel en aanmatigend, skroom hulle nie om die heerlike wesens te belaster nie,   II PETRUS 2:10 AFR53


Judas bevestig wat Petrus sê - dat die valse leraars wat in die kerk insluip en hulle volgelinge, so ongelowig en ongehoorsaam is soos die Israeliete was in die woestyn, so opstandig teen die gesag van God is soos die gevalle engele, en so onrein en onheilig is soos die Sodomiete, en dat hulle gevolglik soortgelyke straf moet verwag.


Tog besoedel ook hierdie mense net so in hulle dromerye die vlees en verag die heerskappy en laster die heerlike wesens. JUDAS 1:8 AFR53


Petrus sê vir ons dat selfs die goeie engele wat namens God praat, nooit so oneerbiedig van gevalle engele sou praat nie. Selfs wanneer hulle God se oordeel uitspreek, sou hulle nie hierdie opstandige engele so behandel nie. Die feit dat die valse leraars so iets doen, demonstreer beide hul arrogansie en onkunde.


terwyl die engele, hoewel groter in sterkte en krag, geen lasterlike oordeel teen hulle by die Here voorbring nie.   II PETRUS 2:11 AFR53


Maar die dwaalleraars ken nie hul perke nie en belaster dit wat hulle nie ken nie. Petrus vergelyk hierdie valse leraars met diere wat slegs deur instink gedryf word en nie deur rasionele denke nie. Hy skryf dat hulle doen wat natuurlik kom op dieselfde manier waarop 'n wilde dier byvoorbeeld 'n mens kan aanval sonder duidelike oorsaak. Soos daardie wilde dier, sal hierdie valse leraars gevang en vernietig word. In hulle geval is dit egter God wat hulle sal vernietig, waarskynlik tydens die ewige oordeel.


Maar hulle sal, omdat hulle belaster wat hulle nie ken nie, soos redelose diere wat die natuur volg, gebore om gevang en vernietig te word, in hulle verdorwenheid te gronde gaan.   II PETRUS 2:12 AFR53


Hulle hart is gerig op die vlees, en hulle oë op owerspel, beide geestelik en seksueel. Hulle prooi op die onvaste siele om by hulle aan te sluit. Hulle is toegerus, maar nie vir bediening nie, net vir selfsugtige gewin - hulle is waarlik vervloek. Ons oefen almal ons harte in iets, óf in hebsug en wellus, óf in godsaligheid.


en die loon van die ongeregtigheid ontvang. Hulle ag die weelderigheid oordag 'n genot; hulle is skandvlekke en smette, weelderig in hul bedrieërye as hulle met julle saamsmul; met oë vol van owerspel, wat nie ophou om te sondig nie; hulle verlok onvaste siele, hulle het 'n hart geoefen in hebsug, hulle is kinders van die vervloeking.   II PETRUS 2:13-14 AFR53



26 Julie 2025


JUDAS 1:6 AFR53

En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar;


Die engele waarvan Juda praat wat hul magsgebied verlaat het, is ‘n verwysing na die gedeelte wat in Genesis 6 bespreek word.


Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is, sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het.   GÉNESIS 6:1-2 AFR53


Jesus het ons ook geleer dat die eindtye gaan wees soos in die dae van Noag. Hierdie verwys ook na die Genesis 6 gedeelte. So kom ons kyk net weer hierna.


En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.   MATTHÉÜS 24:37 AFR53


Die mense op aarde het vermeerder en daar is vir hul dogters gebore. Hierdie stelling is heeltemal normaal, en ons verstaan presies dat daar na menslike dogters verwys word.


Dan praat die vers van die ‘seuns van God’. Indien hierdie seuns van mense was, dan het ons nou nie hierdie gedeelte ondersoek nie. Maar, omdat daar gepraat word van seuns (klein letter) van God moet ons sien dat daar ‘n duidelike verskil is.


In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam.   GÉNESIS 6:4 AFR53


Die geweldiges of reuse is die kinders van die aardse vrouens en die engele. Interessant is dat hierdie reuse deel van die oorsaak was van die tien verkenners wat ‘n negatiewe verslag aan Moses gegee het.


Ons het daar ook die reuse gesien, die kinders van Enak, van die reuse afkomstig; en ons was soos sprinkane in ons oë; so was ons ook in hulle oë.   NÚMERI 13:33 AFR53


Wat het met die engele, wat hul magsgebied verlaat en aardse vrouens geneem het, gebeur.


Volgens Judas het God hulle geboei met ewige boeie en hulle word onder die duisternis bewaar vir die oordeel.


En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar;  JUDAS 1:6 AFR53


Petrus beaam Judas se woorde. Hierdie engele wat gesondig het, is nie gespaar nie, maar hulle is geketting in die hel gewerp, en hulle wag vir die oordeel.


Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word;   II PETRUS 2:4 AFR53



27 Julie 2025


JUDAS 1:9 AFR53

Maar toe Mígael, die aartsengel, met die duiwel in woordestryd was oor die liggaam van Moses, het hy geen oordeel van lastering durf uitspreek nie, maar het gesê: Die Here bestraf jou!


Migael, die aartsengel, word in die Bybel, in die boeke van Daniël, Judas en Openbaring beskryf as 'n vegter-engel wat aan geestelike gevegte deelneem.


Die woord aartsengel beteken engel van die hoogste rang. Die meeste engele in die Bybel word as boodskappers uitgebeeld, maar Migael word in al drie boeke beskryf as ‘n vegter.


maar die vors van die koninkryk van die Perse het een-en-twintig dae lank teenoor my gestaan, en kyk, Mígael, een van die vernaamste vorste, het gekom om my te help; en ék het daar oorgebly by die konings van Persië.   DANIËL 10:13 AFR53


Nogtans sal ek jou te kenne gee wat geskrywe is in die boek van die waarheid; en daar is nie een wat hom saam met my dapper gedra teen hulle nie, behalwe julle vors Mígael.   DANIËL 10:21 AFR53


En in dié tyd sal Mígael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal 'n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat 'n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.   DANIËL 12:1 AFR53


En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer;   OPENBARING 12:7 AFR53


Ons het nie 'n volledige prentjie van enige engel nie, en slegs twee word in die Bybel by die naam genoem - Migael en Gabriël. Die Skrif gee ons net wenke van hul bewegings tydens menslike gebeure, maar dit is veilig om te sê dat Migael, die aartsengel, 'n kragtige wese is.


Daar is meer as 500 Ou-Testamentiese verwysings na Moses, maar slegs een verwys na sy liggaam.


Toe het Moses, die kneg van die Here, daar gesterwe in die land Moab, volgens die bevel van die Here. En Hy het hom in die dal in die land Moab, teenoor Bet-Peor, begrawe; en niemand het tot vandag toe sy graf geken nie.   DEUTERONÓMIUM 34:5-6 AFR53


Ons weet nie hoekom Migael en Satan ‘n woordestryd gehad het oor die liggaam van Moses nie, al wat ons weet van die Ou Testament is dat niemand weet waar hy begrawe is nie.


Die engel Gabriel het geen oordeel van lastering teen Satan durf uitspreek nie. Anders as valse leraars het Migael nooit kwaad gepraat nie, selfs nie teen Satan nie. God se volk moet valse leerstellings verwerp en regstel, maar die versoeking weerstaan ​​om hul teenstanders te beswadder. Die oordeel is altyd in God se hande.


Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.   ROMEINE 12:19 AFR53


Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here; en weer: Die Here sal sy volk oordeel.   HEBREËRS 10:30 AFR53



Comments


  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page