Engele in die Bybel - Genesis tot Deuteronomium
- Regina Torre
- Feb 18
- 51 min read
Updated: Mar 12

18 Februarie 2025
HEBREËRS 13:2 AFR53
Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg.
Ek het besluit om ‘n Bybelstudie te doen van elke geval waar ‘n engel aan iemand in die Bybel verskyn. Hierdie studie sal ons op ‘n reis neem deur die hele Bybel, van Genesis tot by Openbaring.
Die Bybel identifiseer vier kategorieë van engele - engele, gerubs, serafs, en aartsengele.
Die woord engel is in Latyn angelus, in Grieks angelos, en in Hebreeus mal'ak. In al hierdie tale beteken hierdie woord boodskapper.
Engele kan gedefinieer word as geestelike wesens wat toegerus is met buitengewone magte, wat die funksies van God se boodskappers vervul en die vermoë het om van die geestelike wêreld na die fisiese wêreld en van die fisiese wêreld na die geestelike wêreld te reis.
Daar is ook talle verskynings in die Ou Testament van iemand wat beskryf word as die Engel van die Here, maar wat – anders as ander engele – behandel word as waardig om aanbid te word en wat met God self geïdentifiseer kan word.
Hierdie verskynsels word ‘n Teofanie of ‘n Christofanie genoem. Teofanie beteken ‘n verskyning van God, en Christofanie beteken ‘n verskyning van Jesus.
Met hierdie Bybelstudie sal ons sien dat engele:
- Kan verskyn en verdwyn.
- Eet, drink, en kos voorberei.
- Sosiaal is.
- Wapens dra wanneer nodig.
- Sing en musiekinstrumente bespeel.
- Nie probeer om ‘n indruk te maak of aandag te trek nie.
- Aanvaar nie aanbidding nie.
- Manifesteer op verskeie maniere: ligwesens, menslike vorms (volwasse mans, jong adolessente, ens.), angswekkende wesens, vuurkolom, brandende bos, ens.
Engele werk op verskillende maniere:
- Fisies, waar ons hulle kan sien
- Geestelik, waar net sekere mense hulle kan sien
- In visioene en drome, waar net die mense wat die visioene of drome het, hulle kan sien
Enkele feite oor engele in die Bybel:
- Die Bybel praat van die duisend maal duisend engele wat God dien - dit wil sê, hulle is ontelbaar. Hulle sal altyd die bevolking van die planeet aarde oorskry.
- Daar is geen vroulike engele nie.
- Hulle manifesteer nooit as jong kinders nie.
- Die Bybel gee nie dikwels die name van engele nie. Slegs twee name word in die Bybelse tekste vir ons gegee: Gabriël en Migael.
- Hulle tree nie op om hulself aan mense te bevorder nie.
- Hulle voer hul missies met die grootste diskressie uit.
- Hulle is toegerus met buitengewone vermoëns.
- Hulle kan skrikwekkend wees. Dit is hoekom hulle dikwels vir diegene aan wie hulle hulself openbaar, sê: Moenie vrees nie.
Ek hoop dat ons met hierdie studie meer kan leer oor dit wat ons nie kan sien nie.
19 Februarie 2025
GÉNESIS 3:24 AFR53
So het Hy dan die mens weggedrywe en gérubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon, met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak.
Gerubs bewapen met swaarde wat vlam en flikker is deur God aan die oostekant van die tuin van Eden geplaas, om toegang tot die boom van die lewe te bewaak. Die teenwoordigheid van die swaarddraende gerubs beklemtoon dat Adam en Eva met geweld uit die tuin van Eden verdryf is.
Die woord gerubs is meervoud, wat verskeie engelewesens aandui. Die gerubs se enigste taak is om die boom van die lewe te beskerm. Daar was geen moontlikheid dat Adam en Eva of enige ander persoon later die boom van die lewe kon bereik nie.
Ons is maar in Genesis hoofstuk 3 en klaar is daar meer drama as wat ‘n mensehart kan hanteer. Eva word besoek deur die listige slang wat haar verlei om die vrug van die boom van goed en kwaad te eet.
Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die Here God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? GÉNESIS 3:1 AFR53
Eva se oë sien dat die boom goed was om van te eet, ‘n begeerlike vrug wat vir jou verstand kan gee, en sy eet toe die vrug en gee vir Adam ook om daarvan te eet.
Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy 'n lus was vir die oë, ja, 'n boom wat 'n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet. GÉNESIS 3:6 AFR53
Onmiddelik besef die twee dat hulle naak is en dat hulle gesondig het, en hulle kruip weg vir God wat hulle ‘uitgevang’ het.
En Hy sê: Wie het jou te kenne gegee dat jy naak is? Het jy geëet van die boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie? GÉNESIS 3:11 AFR53
Die natuurlike gevolg vir sonde is straf. Die slang se straf was om vervloek te wees onder die diere van die veld en op sy buik te seil vir ewig. Adam sou in die sweet van sy aangesig sy brood verdien en Eva sou met moeite kinders in die wêreld inbring.
Toe sê God dat die mens soos een van Hulle geword het deur goed en kwaad te ken, en om te keer dat hulle van die boom van die lewe eet en vir ewig lewe, het Hy hulle uit die tuin verban.
Toe sê die Here God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie! Toe stuur die Here God hom weg uit die tuin van Eden om die grond te bewerk waaruit hy geneem is. GÉNESIS 3:22-23 AFR53
Die Bybel maak weer melding van die boom van die lewe na die Millenium.
In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies. En daar sal geen enkele vervloeking meer wees nie, en die troon van God en van die Lam sal daarin wees, en sy diensknegte sal Hom dien. OPENBARING 22:2-3 AFR53
Aan die einde van die tyd sal God se volk die seëninge van 'n herstelde skepping en hernieude toegang tot die boom van die lewe ervaar.
20 Februarie 2025
GÉNESIS 6:2 AFR53
sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het.
Wie was die seuns van God? Die Hebreeus vir seuns van God is ben Elohim. Die Hebreeuse woord ben beteken manlike seun en Elohim beteken God.
Judas vertel vir ons dat die ben Elohim of die seuns van God, engele was wat hul eie woonplek (die hemel) verlaat het om eerder op aarde as ‘mense’ te kom woon.
En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar; JUDAS 1:6 AFR53
Selfs Petrus maak melding van die engele wat voor die vloed gesondig het en nie deur God gespaar is nie, maar in die hel gewerp is.
Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word; en die ou wêreld nie gespaar het nie, maar Noag, die prediker van geregtigheid, met sewe ander bewaar het toe Hy die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring het; II PETRUS 2:4-5 AFR53
Genesis 6 begin deur te vertel dat die mense op aarde vermeerder het en daar is vir hulle dogters gebore. Dit is baie duidelik dat die dogters vroue van die menslike spesie was.
Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is, GÉNESIS 6:1 AFR53
Vers 2 vertel verder dat die mense dogters vir die seuns van God mooi was. Die engele het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het. Klink nie of die meisies ‘n keuse of ‘n sê gehad het nie!
Die engele en die vrouens het omgang gehad en die kinders wat gebore is, was reuse.
In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam. GÉNESIS 6:4 AFR53
Die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam, die reuse wat ook bekend staan as Nephilim.
Wat het met die Nephilim gebeur? Dit was een van die hoofredes vir die groot vloed in Noag se tyd. Onmiddellik na die bekendmaking van die Nephilim, sê God se Woord.
Toe die Here sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het dit die Here berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart. En die Here sê: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; want dit berou My dat Ek hulle gemaak het. GÉNESIS 6:5-7 AFR53
God het toe vir Noag, wat genade in Sy oë gevind het, beveel om ‘n ark te bou. God het voortgegaan om die hele aarde te laat oorstroom en elkeen, met alles op aarde te laat sterf, behalwe Noag en sy familie en die diere in die ark. Alles het tot niet gegaan, insluitend die Nephilim.
21 Februarie 2025
GÉNESIS 16:7 AFR53
En die Engel van die Here het haar by 'n fontein in die woestyn gevind, by die fontein op pad na Sur,
Die Engel van die Here het haar, Hagar, by 'n fontein in die woestyn gevind, oppad na Sur in haar vaderland, Egipte.
Hierdie is die eerste verwysing in die Ou Testament na die Engel van die Here. Die Here openbaar Homself aan Hagar skynbaar op grond van haar verhouding met Abram, maar in die vorm van ‘n engel. Sy self blyk 'n gelowige in God te wees.
Hagar was die slavin van Sarai, Abram se vrou. God het aan Abram baie afstammelinge belowe, maar tien jaar na die belofte was Sarai nog nie swanger nie, en hulle was albei op die punt om te oud te word om enigsins kinders te hê. Sarai het gekies om haar slavin Hagar aan Abram te gee, ooreenkomstig die gebruik van die dag, sodat Sarai deur haar 'n kind kon hê.
Hagar is swanger met Abram se eerste kind, en sy het haar meesteres begin verag. Sarai het op haar beurt Hagar sleg behandel met die gevolg dat Hagar besluit het om na die woestyn te vlug om te ontsnap. En daar ontmoet Hagar toe die Engel van die Here wat haar op haar naam noem, haar vra waar sy vandaan kom en waarheen sy oppad is.
en gevra: Hagar, slavin van Sarai, waar kom jy vandaan, en waar gaan jy heen? En sy antwoord: Ek vlug van my meesteres Sarai af weg. GÉNESIS 16:8 AFR53
Die Engel van die Here sê vir Hagar om terug te keer en om haar aan haar meesteres Sarai te onderwerp.
Toe sê die Engel van die Here vir haar: Gaan terug na jou meesteres en verneder jou onder haar hande. GÉNESIS 16:9 AFR53
Die Engel van die Here maak nou 'n bekende belofte aan hierdie slavin. Die belofte is bekend, want dit is dieselfde belofte wat God verskeie kere aan Abram self gemaak het. Spesifiek dat Hy—hierdie Engel van die Here— Hagar se nageslag sal vermeerder sodat hulle ontelbaar sal wees. Natuurlik kan net die Here self so 'n belofte maak. Dit is 'n primêre rede waarom die meeste geleerdes veronderstel dat hierdie Engel van die Here 'n teofanie is, die Here self in 'n fisiese vorm.
Tog is hierdie kind nie die beloofde erfgenaam van Abram nie en hy sal nie die seëninge erf wat God vir Abram se nageslag gewaarborg het nie.
Verder sê die Engel van die Here vir haar: Ek sal jou nageslag grootliks vermeerder, sodat dit vanweë die menigte nie getel kan word nie. GÉNESIS 16:10 AFR53
Hagar kry 'n profesie oor die kind wat sy gedra het, 'n seun wat sy Ismael sou noem. Ismael se nageslag sou gekenmerk word deur hul konflik met ander, veral hul verwantes, wat Abram se ander kinders beteken. Histories sien ons dat dit waar is: die (Arabiese) kinders van Ismael is al millennia lank in stryd met die (Joodse) kinders van Abram se seun Isak.
Ten spyte van die negatiewe gevolgtrekking tot die profesie, praat Hagar in gloeiende terme van die Here. Sy noem Hom 'n God wat sien. Hy het haar gesien en opgepas, en sy is toegelaat om Hom te sien. Sy blyk tereg verstom te wees oor die hele ervaring.
Ook sê die Engel van die Here vir haar: Kyk, jy is swanger en sal 'n seun baar, en jy moet hom Ismael noem, want die Here het jou in jou ellende verhoor. En hý sal 'n wilde-esel van 'n mens wees: sy hand teen almal, en almal se hand teen hom! En hy sal teenoor al sy broers woon. Toe noem sy die Naam van die Here wat met haar gespreek het: U is 'n God wat sien. Want sy het gesê: Het ek hier ook gesien na Hom wat my sien? GÉNESIS 16:11-13 AFR53
22 Februarie 2025
GÉNESIS 18:2 AFR53
Toe hy sy oë opslaan en kyk, staan daar drie manne voor hom. En toe hy hulle sien, loop hy hulle tegemoet van die ingang van die tent af en buig hom na die aarde toe.
Abraham word op ‘n dag deur drie mans besoek, en die mans blyk ongewone gaste te wees om die minste te sê.
Daarna het die Here aan hom verskyn by die terpentynbome van Mamre terwyl hy by die ingang van die tent sit op die warmste van die dag. GÉNESIS 18:1 AFR53
Abraham het onmiddellik gasvryheid aan die drie mans betoon, hulle genooi om onder 'n boom te rus en vir hulle 'n groot maaltyd voor te berei.
En hy sê: My heer, as ek nou genade in u oë gevind het, gaan dan tog nie by u kneg verby nie. Laat hulle tog 'n bietjie water bring, en was u voete, en lê en rus onder die boom. En laat ek 'n stukkie brood gaan haal, en versterk u hart — daarna kan u verder gaan — want daarom het u by u kneg aangekom. En hulle antwoord: Doen soos u gesê het. GÉNESIS 18:3-5 AFR53
Tydens hul besoek aan Abraham het die drie mans hom gewaarsku dat God se oordeel op die punt was om oor Sodom en Gomorra te val.
Verder het die Here gesê: Die geroep oor Sodom en Gomorra is waarlik groot, en hulle sonde is waarlik baie swaar. Ek wil neerdaal en sien of hulle werklik gehandel het soos die geroep oor hulle is wat by My gekom het; en so nie, Ek wil dit weet. GÉNESIS 18:20-21 AFR53
Hulle het ook belowe dat Abraham se vrou, Sara, teen dieselfde tyd volgende jaar 'n baba sou hê.
Toe sê hulle vir hom: Waar is Sara, u vrou? En hy antwoord: Daar in die tent. En Hy sê: Ek sal oor 'n jaar sekerlik weer na jou toe kom — dan sal jou vrou Sara 'n seun hê. En Sara het geluister by die ingang van die tent wat agter Hom was. GÉNESIS 18:9-10 AFR53
Dit blyk duidelik uit die konteks van die gedeelte dat een van die drie besoekers aan Abraham, God self was, en die ander twee was die engele wat later Sodom besoek het om Lot te help.
Toe het die manne daarvandaan weggedraai en na Sodom gegaan, maar Abraham het nog bly staan voor die aangesig van die Here. GÉNESIS 18:22 AFR53
Abraham se reaksie op die verskyning van die drie mans dui daarop dat hy instinktief geweet het dat hy in die teenwoordigheid van God was. ’n Tipiese reaksie op besoekers in daardie kultuur was om op te staan en te wag dat hulle die huis nader, maar Abraham het hulle tegemoet gehardloop en laag na die grond gebuig, ’n neergestrekte houding wat vir koninklikes gereserveer is.
Abraham was goed bekend met God en sou Hom dadelik herken het, want God het al vele kere met hom gepraat en/of aan hom verskyn.
Hierdie drie besoekers wat Abraham onthaal het, was hemels, en Abraham en Sara was in die geselskap van God self. Die verhaal leer ons dat God bewus is van wat op aarde gebeur, en Hy is betrokke. God kan selfs Sy hemelse boodskappers stuur om Sy planne te help vervul.
Ons besef dalk nie altyd met wie ons praat nie, en daarom moet ons almal behandel asof hulle op spesiale opdrag van God is.
23 Februarie 2025
GÉNESIS 18:23 AFR53
En Abraham het nader gekom en gesê: Sal U ook die regverdige saam met die goddelose ombring?
Die twee engele wat saam met God by Abraham aangekom het, het na Sodom vertrek. God het agtergebly en Sy gesprek rakende Sodom en Gomorra met Abraham voortgesit.
Abraham wil by God weet of Hy die regverdiges saam met die goddeloses gaan ombring. Hy is nie bang nie en vra vêrder vir God of hy die mense sal ombring as daar vyftig regverdiges in die stad is.
Miskien is daar vyftig regverdiges binne-in die stad; sal U hulle ook ombring en die plek nie spaar ter wille van die vyftig regverdiges wat daarin is nie? Laat dit ver van U wees om so iets te doen: om die regverdige saam met die goddelose om te bring, sodat die regverdige gelyk is met die goddelose. Laat dit ver van U wees! Sal die Regter van die ganse aarde geen reg doen nie? GÉNESIS 18:24-25 AFR53
God antwoord Abraham dat as daar vyftig regverdiges is, dan sal Hy die hele plek spaar.
Toe sê die Here: As Ek in Sodom vyftig regverdiges vind binne-in die stad, dan sal Ek die hele plek spaar om hulle ontwil. GÉNESIS 18:26 AFR53
Dit lyk asof Abraham 'n helder oomblik het. Hy verstaan skielik dat hy net as en stof is en dat hy erg voorbarig is om so met God te praat.
En Abraham antwoord en sê: Kyk tog, ek het dit gewaag om met die Here te spreek alhoewel ek stof en as is. GÉNESIS 18:27 AFR53
Alhoewel Abraham besef dat hy voorbarig is, pleit hy tog verder met God vir Sodom se regverdiges. Hy vra as daar 45 regverdiges of God hulle sal spaar.
Miskien sal daar aan die vyftig regverdiges vyf ontbreek; sal U ter wille van vyf die hele stad verwoes? En Hy antwoord: Ek sal dit nie verwoes as Ek daar vyf-en-veertig vind nie. GÉNESIS 18:28 AFR53
Abraham het seker besluit hy moet aangaan terwyl hy ‘wen’ en vra as daar veertig, en toe dertig, twintig of tien regverdiges is, sal God hulle spaar.
God antwoord elke keer dat as hy die aantal regverdiges sal vind, dan sal hy die stede nie verwoes nie.
Toe sê hy: Laat die Here tog nie toornig wees nie en laat my net hierdie keer mag spreek. Miskien sal daar tien gevind word. En Hy antwoord: Ek sal dit ter wille van die tien nie verwoes nie. GÉNESIS 18:32 AFR53
Die onderhandelinge staak by die getal tien, wat aantoon dat daar nie eers tien regverdiges in Sodom en Gomorra gevind kon word nie.
God het na die gesprek met Abraham weggegaan, en Abraham het na sy woonplek teruggekeer
En die Here het weggegaan toe Hy opgehou het om met Abraham te spreek, en Abraham het na sy woonplek teruggekeer. GÉNESIS 18:33 AFR53
24 Februarie 2025
GÉNESIS 19:1 AFR53
En die twee engele het in die aand in Sodom aangekom, terwyl Lot in die poort van Sodom sit; en toe Lot hulle sien, het hy opgestaan om hulle tegemoet te gaan en hom gebuig met die aangesig na die aarde toe
Die twee engele wat in die vorige hoofstuk saam met God geloop het, kom nou Sodom aan. Die afstand van Abraham se huis in Mamre, naby Hebron, tot by Sodom was ongeveer 32 km.
Die engele is steeds in hul menslike vorm, en dit is nie duidelik wanneer Lot besef het dat hierdie twee mans bonatuurlike wesens is nie. Die kultuur van die dag het vereis dat goeie burgers groot gasvryheid aan reisigers toon. Lot doen dit nou en buig laag voor hulle om hulle in Sodom te verwelkom.
Lot is 'n leier van die gemeenskap, blykbaar ’n regter, want hy sit soos regters in daardie tyd gewoonlik gedoen het, in die poort van Sodom.
Lot het met moeite die engele gekry om die nag by hom aan huis deur te bring en by hom te eet.
en gesê: Kyk tog, my here, draai tog uit na die huis van u dienaar en bly die nag oor en was u voete; dan kan u vroeg opstaan en u reis voortsit. Maar hulle antwoord: Nee, ons sal op die plein vernag. Maar hy het baie by hulle aangehou, sodat hulle na hom uitgedraai en in sy huis gekom het. En hy het vir hulle 'n maaltyd berei en ongesuurde koeke gebak, en hulle het geëet. GÉNESIS 19:2-3 AFR53
Net voor hulle wou regmaak om te slaap, omsingel die manne van die stad Sodom, oud en jonk, Lot se huis. Hulle roep uit dat die twee mans wat hom besoek het na buite gebring moet word, sodat hulle die mans kan beken.
Hulle het nog nie gaan slaap nie toe die manne van die stad, die manne van Sodom, die huis omsingel: jonk en oud, die hele bevolking, almal saam. En hulle het na Lot geroep en aan hom gesê: Waar is die manne wat vannag na jou gekom het? Bring hulle na ons toe uit, dat ons hulle kan beken. GÉNESIS 19:4-5 AFR53
Lot het geweier om die twee mans vir die gespuis buite los te laat, maar het sy dogters vir hulle aangebied. Die engele het gelukkig ingegryp en die massas buite die deur met blindheid geslaan.
Toe slaan hulle die manne wat by die ingang van die huis was, klein en groot, met blindheid, sodat hulle tevergeefs na die ingang gesoek het. GÉNESIS 19:11 AFR53
Die engele het vir Lot beveel om sy dogters en seuns en skoonfamilie bymekaar te maak sodat almal saam uit die stad kon vlug. Die skoonseuns wat met Lot se dogters sou trou, het egter gedink hy skeer die gek.
Toe gaan Lot uit en praat met sy skoonseuns wat met sy dogters sou trou, en sê: Maak julle klaar, gaan uit hierdie plek uit, want die Here gaan die stad verwoes. Maar hy was in die oë van sy skoonseuns soos een wat gekskeer. GÉNESIS 19:14 AFR53
Die engele het Lot, sy vrou en twee dogters aan die hand gegryp en uit die dorp gejaag met die opdrag om nie terug te kyk nie maar vinnig te vlug. Lot se vrou kon haarself egter nie help nie, sy het omgekyk en toe in ‘n soutpilaar verander.
Die son het oor die aarde opgegaan toe Lot in Soar aankom. En die Here het swawel en vuur oor Sodom en Gomorra laat reën van die Here uit die hemel, GÉNESIS 19:23-24 AFR53
25 Februarie 2025
GÉNESIS 21:17 AFR53
Toe hoor God die stem van die seun, en die Engel van God het na Hagar geroep uit die hemel en haar gevra: Wat is dit met jou, Hagar? Wees nie bevrees nie, want God het na die stem van die seun geluister op die plek waar hy is.
Isak is gebore soos God belowe het toe Abraham eenhonderd jaar oud was.
Sara sien hoe Hagar se seun Ismael, spot, en sê vir Abraham dat hy die seun en sy ma moet wegjaag. Sara se rede is dat Ismael nie saam met Isak, haar seun mag erwe nie.
Toe sien Sara hoe die seun van Hagar, die Egiptiese slavin, wat sy vir Abraham gebaar het, spot; en sy sê aan Abraham: Jaag hierdie slavin en haar seun weg, want die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun Isak erwe nie. GÉNESIS 21:9-10 AFR53
Vir Abraham was dit verkeerd om sy seun weg te jaag, maar God het vir hom gesê dat dit nie verkeerd is nie, en dat hy na Sara moet luister, want deur Isak sal sy nageslag genoem word.
Abraham het toe die volgende oggend vroeg padkos gepak vir Hagar en Ismael en die twee weggestuur. Hagar het met haar seun Ismael in die woestyn van Berseba rondgedwaal.
God het Abraham getroos met ‘n belofte dat hy Ismael tot ‘n nasie sal maak omdat hy Abraham se kind is.
Maar Ek sal ook die seun van die slavin tot 'n nasie maak, omdat hy jou kind is. GÉNESIS 21:13 AFR53
Natuurlik het die padkos nie vir ewig gehou nie. Toe die water klaar is, het Hagar haar kind onder een van die bosse neergewerp en so ver moontlik weg van die seun gaan sit, want sy wou nie aanskou hoe hy sou sterf nie, en het daar waar sy gaan sit het, hard begin huil.
En toe die water in die sak op was, het sy die kind onder een van die bosse neergewerp en geloop en op 'n afstand gaan sit so ver as 'n boog kan skiet; want sy het gesê: Ek wil die dood van die kind nie aansien nie. En sy het op 'n afstand gaan sit en haar stem verhef en geween. GÉNESIS 21:15-16 AFR53
God het die seun se stem gehoor, en die Engel van God het uit die hemel na Hagar geroep en gevra wat haar makeer. Die Engel praat met Hagar - wees nie bevrees nie, want God het geluister na die seun se stem op die plek waar hy is.
Die Engel herhaal aan Hagar die belofte wat God aan Abraham gegee het. Staan op, tel jou seun op en hou sy hand vas, wat Ek (God) sal hom ‘n groot nasie maak.
Staan op, tel die seun op en hou hom vas met jou hand, want Ek sal hom 'n groot nasie maak. GÉNESIS 21:18 AFR53
God het Hagar se oë oopgemaak sodat sy ‘n put met water kon sien. Uitkoms vir ‘n moedelose ma. Hagar het na die put gegaan, die watersak volgemaak en vir Ismael water gegee om te drink.
Daarop het God haar oë geopen, en sy sien 'n put! En sy het geloop en die sak vol water gemaak en die seun laat drink. GÉNESIS 21:19 AFR53
God was van daardie dag af met die seun. Hy het opgegroei in die woestyn Paran en ‘n boogskutter geword. Later het sy ma vir hom ‘n vrou uit Egipteland gekry.
En God was met die seun; en hy het opgegroei en in die woestyn gewoon en 'n boogskutter geword: hy het in die woestyn Paran gewoon; en sy moeder het vir hom 'n vrou uit Egipteland geneem. GÉNESIS 21:20-21 AFR53
26 Februarie 2025
GÉNESIS 22:11 AFR53
Maar die Engel van die Here het na hom van die hemel af geroep en gesê: Abraham, Abraham! En hy antwoord: Hier is ek!
God het Abraham getoets, ‘n toets om sy geloof te bewys. God het met Abraham gepraat en vir hom gesê dat hy sy enigste seun Isak, wat hy lief het, na Moria moet neem en hy moet hom daar gaan offer op ‘n berg wat God aan hom sal wys.
Abraham het vroeg die volgende oggend ‘n esel opgesaal, hout bymekaar gemaak en Isak en twee dienaars saam geneem en die pad na Moria aangepak. Op die derde dag het hy vir sy dienaars gesê om te wag. Hy het die hout gevat, ‘n fakkel met vuur, en ‘n mes, en saam met Isak het die twee begin stap.
Isak wou weet waar die slagoffer is en Abraham se antwoord was: God sal vir Homself die lam vir ‘n brandoffer voorsien. Toe hulle by die plek kom wat God aangewys het, het Abraham ‘n altaar gebou, die hout neergelê en sy seun op die altaar vasgemaak.
Abraham was gereed om met die mes sy seun te slag toe die Engel van die Here uit die hemel na hom roep en sê dat hy nie sy hand na die seun moet uitsteek nie. Hy het die toets geslaag!
En Hy sê: Moenie jou hand na die seun uitsteek nie, en doen hom niks nie; want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie. GÉNESIS 22:12 AFR53
In die boek Hebreërs lees ons dat Abraham geglo het dat God die mag het om Isak uit die dode uit op te wek, en daarom het hy die moed gehad om Isak te offer. Hy het ook besef dat hy ‘n profesie soos ‘n toneelopvoering uitspeel. God sou jare later Sy enigste Seun, wat Jerusalem op ‘n esel ingegaan het, aan die kruishout offer vir die mensdom se sondes, moontlik op dieselfde plek waar Abraham vir Isak geoffer het. Na drie dae sou Jesus opstaan uit die dood en opvaar na die hemel om aan God se regterhand te sit.
Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer, aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word — want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek; HEBREËRS 11:17-18 AFR53
Abraham sien toe ‘n ram wat in ‘n bos verstrengel geraak het, en neem die ram en offer hom in die plek van sy seun. Die plek het hy toe genoem: Die Here sal voorsien!
En toe Abraham sy oë opslaan, sien hy meteens 'n ram wat agter in die bos met sy horings vasgeraak het. En Abraham het gegaan en die ram geneem en dit as brandoffer in die plek van sy seun geoffer. En Abraham het dié plek genoem: Die Here sal voorsien! Sodat vandag nog gesê word: Op die berg van die Here sal dit voorsien word. GÉNESIS 22:13-14 AFR53
Die Engel van die Here het weer vanuit die hemel na Abraham geroep en gesê: omdat hy sy seun nie teruggehou het nie, sal hy ryklik geseën word en sy nageslag sal wees soos die sterre in die hemel, en die sand van die see.
Toe roep die Engel van die Here vir die tweede keer na Abraham van die hemel af. en sê: Ek sweer by Myself, spreek die Here, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem. En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het. GÉNESIS 22:15-18 AFR53
27 Februarie 2025
GÉNESIS 24:7 AFR53
Die Here, die God van die hemel, wat my uit my vader se huis en uit my geboorteland weggeneem het, en wat met my gespreek en vir my gesweer het met die woorde: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee — Hy sal sy engel voor jou uit stuur, en jy moet vir my seun daar 'n vrou gaan haal.
Abraham laat sy dienaar sweer om na sy geboorteland en na sy familie te gaan om 'n vrou vir sy seun Isak terug te bring, en beklemtoon dat hy nie met 'n Kanaänitiese vrou mag trou nie. Hy deel die dienskneg mee dat God Sy engel sal stuur om hom op die reis te vergesel en dat hy van sy eed verlos sal word as die vrou weier om te kom.
Die dienaar vertrek met kamele en goedere en reis na Nahor in Mesopotamië, waar Abraham se familie woon. By die stadsput aangekom, vra die dienaar vir God dat die uitverkore vrou die een moet wees wat vir hom water gee wanneer hy vra en ook sy kamele sal water gee.
en gesê: Here, God van Abraham, my heer, laat ek haar tog vandag ontmoet, en bewys guns aan Abraham, my heer. Hier staan ek by die fontein, terwyl die dogters van die manne van die stad uitkom om water te skep. Laat dít nou tog gebeur: as die dogter aan wie ek sal sê: Hou tog jou kruik, dat ek kan drink, antwoord: Drink, en ek sal ook u kamele laat drink — dan is sy dit wat U bestem het vir u kneg Isak, en daaraan sal ek weet dat U guns aan my heer bewys het. GÉNESIS 24:12-14 AFR53
Onmiddellik kom Rebekka by die put aan en vervul sy versoek deur vir hom en sy kamele water aan te bied.
Ek het nog nie klaar in my hart gespreek nie of daar het Rebekka uitgekom met haar kruik op die skouer en na die fontein afgedaal en geskep. Ek het toe vir haar gesê: Laat my tog drink! En sy het dadelik haar kruik van haar laat afsak en gesê: Drink, en ek sal u kamele ook laat drink. En ek het gedrink, en sy het ook die kamele laat drink. GÉNESIS 24:45-46 AFR53
Die dienaar doen navraag oor haar familie en ontdek dat sy die dogter van Betuel, die broerskind van Abraham, is.
Toe vra ek haar en sê: Wie se dogter is jy? En sy antwoord: Die dogter van Bétuel, die seun van Nahor wat Milka vir hom gebaar het. Daarop het ek die ring aan haar neus gesit en die armbande aan haar hande, GÉNESIS 24:47 AFR53
Die dienaar is verlig en verheug en buig in aanbidding neer voor die Here, die God van Abraham wat Hom op die regte weg gelei het om die regte vrou vir Isak so vinnig te ontmoet.
en ek het my in aanbidding neergebuig voor die Here en die Here geloof, die God van Abraham, my heer, wat my op die regte weg gelei het om die dogter van my heer se broer vir sy seun te gaan haal. GÉNESIS 24:48 AFR53
Rebekka keer terug huis toe en vertel van haar ontmoeting met Abraham se dienaar. Laban en Betuel, Rebekka se pa, erken dat dit die werk van God is en gee hulle seën vir Rebekka om met Isak te gaan trou. Die dienaar gee geskenke van goud en silwer aan Rebekka en haar gesin as 'n teken van sy dankbaarheid.
Toe antwoord Laban en Bétuel en sê: Van die Here kom die saak; ons kan jou daar geen kwaad of goed van spreek nie. Daar staan Rebekka voor jou, neem haar en gaan heen, dat sy 'n vrou kan wees vir die seun van jou heer, soos die Here gespreek het. GÉNESIS 24:50-51 AFR53
God het inderdaad ‘n engel gestuur om die dienaar met sy misie by te staan en te help. Alhoewel ‘n engel nie fisies aan hom verskyn het nie, kan ons sien dat hy hulp gehad het met sy versoeke wat op die letter vervul is.
28 Februarie 2025
GÉNESIS 28:12 AFR53
En hy het gedroom — daar is 'n leer op die aarde opgerig waarvan die spits tot aan die hemel reik, terwyl die engele van God daarlangs opgeklim en daarlangs neergedaal het.
Nou is dit Isak se beurt om te sorg dat sy seun Jakob, vir hom ‘n vrou neem uit die dogters van Kanaän, net soos sy pa Abraham vir hom gereël het.
Toe het Isak Jakob geroep en hom geseën; en hy het hom bevel gegee met die woorde: Jy mag geen vrou neem uit die dogters van Kanaän nie. Maak jou klaar, gaan na Paddan-Aram, na die huis van Bétuel, jou moeder se vader, en gaan haal vir jou daar 'n vrou uit die dogters van Laban, jou moeder se broer. GÉNESIS 28:1-2 AFR53
Jakob vertrek ooswaarts uit Berseba na Haran. Oppad oornag hy op ‘n plek want die son was al onder en hy neem een van die klippe as ‘n kussing en slaap op die plek.
En Jakob het uit Berséba vertrek en na Haran gegaan. Daarop kom hy by 'n plek waar hy die nag oorgebly het, want die son was al onder. En hy neem een van die klippe van die plek en sit dit onder sy hoof, en hy gaan lê en slaap op dié plek. GÉNESIS 28:10-11 AFR53
Jakob droom en hy sien ‘n leer wat strek van die aarde tot in die hemel, met engele van God wat opklim en neerdaal.
God openbaar Homself aan Jakob en herbevestig die verbond wat Hy met Abraham gesluit het. Jakob (wat later Israel genoem sal word) word belowe dat sy nageslag baie sal wees en dat die Beloofde Land eendag aan sy nageslag sal behoort.
En kyk, die Here het bo-aan gestaan en gesê: Ek is die Here, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee; GÉNESIS 28:13 AFR53
Soos die geval was met Abraham, kom staan God by Jakob om aan hom die belofte, wat aan sy oupa en pa gegee was, te herhaal. Dit sluit die grondgebied in sowel as ‘n groot nageslag waarin die seën vir die nasies ook lê.
en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word. GÉNESIS 28:14 AFR53
Maar die belangrikste is dat God belowe dat Hy by Jakob is en hom sal beskerm waar hy ook al gaan, selfs al is dit nou buite die Beloofde Land. God belowe ook om hom na hierdie land toe terug te bring. Hy sal Jakob nie in die steek laat nie en doen wat Hy hom beloof het.
En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het. GÉNESIS 28:15 AFR53
Jakob het wakker geword en in ontsag vir God die plek Bet-El genoem, wat beteken ‘huis van God’, ‘n poort of kontakpunt na die hemel.
Daarop word Jakob uit sy slaap wakker en sê: Waarlik, die Here is op hierdie plek, en ék het dit nie geweet nie. En hy het bevrees geword en gesê: Hoe vreeslik is hierdie plek! Dit is hier niks anders as 'n huis van God nie, en dit is hier die poort van die hemel. Toe staan Jakob die môre vroeg op en neem die klip wat hy onder sy hoof gesit het, en rig dit as 'n gedenksteen op; en hy het olie daaroor uitgegiet. En hy het die plek Bet-el genoem; maar die naam van die stad was tevore Lus. GÉNESIS 28:16-19 AFR53
1 Maart 2025
GÉNESIS 31:11 AFR53
En die Engel van God sê vir my in die droom: Jakob! En ek antwoord: Hier is ek!
Na twintig jaar in die vreemde raak die verlange na sy vaderland vir Jakob te veel. Laban se seuns het ook al hoe meer jaloers geraak op Jakob se vermoë om slegte situasies om te keer in ‘n voordeel vir homself. Jakob het net te ryk en te sterk geword vir hulle. Ook Laban het ongemaklik begin raak met Jakob se sukses.
Jakob hoor die roepstem van God om terug te keer na sy vaderland en sy familie en dat God met hom sal wees.
En die Here het aan Jakob gesê: Gaan terug na die land van jou vaders en na jou familie; en Ek sal met jou wees. GÉNESIS 31:3 AFR53
Let op hoe effektief Jakob telkens Laban se houding teenoor hom kontrasteer met wat God vir hom gedoen het as ‘n motivering vir sy twee vroue, Ragel en Lea, dat hulle moet trek.
Laban, sê Jakob, voel nie meer soos voorheen oor my nie. Maar, die God van my vader was by my.
en sê vir hulle: Ek sien dat die aangesig van julle vader teenoor my nie meer is soos gister en eergister nie, maar die God van my vader was met my. GÉNESIS 31:5 AFR53
Laban het my bedrieg, maar God het hom nie toegelaat om my te benadeel nie.
En julle weet self dat ek met al my krag julle vader gedien het; maar julle vader het my bedrieg: hy het my loon tien maal verander. Maar God het hom nie toegelaat om my skade aan te doen nie. GÉNESIS 31:6-7 AFR53
Laban, sê Jakob, het my met die kleinvee probeer bedrieg, maar God het Laban se besittings vir my gegee.
As hy sê: Die gestippeldes sal jou loon wees, dan lam al die vee gestippeldes. En as hy sê: Die gestreeptes sal jou loon wees, dan lam al die vee gestreeptes. So het God dan die vee van julle vader weggeneem en aan my gegee. GÉNESIS 31:8-9 AFR53
Dit dek egter net die tafel vir die eintlike beweegrede vir sy trek terug na sy land toe.
Die Engel van God het in ‘n droom aan hom verskyn en opdrag gegee om terug te trek. Dit is duidelik uit die inhoud van die gesprek met Jakob dat dit God self is wat met hom kommunikeer, dieselfde God wat by Bet-El aan hom verskyn het.
Dit oortuig Ragel en Lea om in te val by sy voorneme. Omdat Jakob hulle in dié geval gelyk hanteer het, het waarskynlik ook ‘n rol gespeel in hul gesamentlike aanvaarding van sy voorneme.
Jakob laat daarom nie gras onder sy voete groei nie en neem al sy besittings en begin die lang trek terug na Kanaän toe.
Toe maak Jakob hom klaar en laai sy kinders en sy vroue op die kamele, en hy voer al sy vee weg en al sy goed wat hy versamel het, die vee wat syne was, wat hy in Paddan-Aram versamel het, om te gaan na sy vader Isak in die land Kanaän. GÉNESIS 31:17-18 AFR53
2 Maart 2025
GÉNESIS 32:1 AFR53
Jakob het ook verder gereis, en die engele van God het hom ontmoet.
Jakob word ouer en bevind homself in en uit die moeilikheid, tog is God met hom. Nadat hy daarin geslaag het om van sy oom Laban te vlug, verneem Jakob dat hy binnekort van aangesig tot aangesig met Esau, die broer van wie hy sy pa se seën gesteel het, in aanraking gaan kom.
Tydens Jakob se bedrog het Esau probeer om hom dood te maak, en daarom wonder Jakob nou of sy broer nog steeds ‘n wrok teen hom koester. Hierdie ontmoeting vind plaas in Genesis 33, maar dit is wat met Jakob gebeur in die voorafgaande hoofstuk wat ons aandag trek.
Jakob is nog besig met sy trek terug Kanaän toe, toe die engele van God hom ontmoet, en toe Jakob die engele sien weet hy onmiddelik dat hulle die leër van God is, en hy noem die plek Mahanaim.
Toe hy hulle sien, sê Jakob: Dit is 'n leër van God! En hy het die plek Mahanáim genoem. GÉNESIS 32:2 AFR53
Die Hebreeuse woord Mahanaim beteken twee kampe, wat die teenwoordigheid van beide Jakob se kamp en die laer van God se engele aandui. Hierdie ontmoeting verseker Jakob van God se beskerming en teenwoordigheid, selfs terwyl hy potensiële gevaar van Esau in die gesig staar.
Ons leer in hierdie hoofstuk baie oor Jakob se gemoedstoestand – en God se lojaliteit aan hom. God stuur engele om hom te ontmoet. Hierdie keer is dit nie ‘n droom nie, nietemin kan Jakob nie sy angs opsy skuif nie. Hy neem stappe om Esau om te koop, en stuur buitensporige geskenke aan hom. Hy verwyder selfs sy kinders en hulle vier moeders na die oorkant van ‘n stroompie, die Jabbok.
Alleen, daardie aand, het hy sy bekendste ontmoeting met God en Jakob se naam verander na Israel.
Maar Jakob het alleen agtergebly, en 'n Man het met hom geworstel tot dagbreek. En toe Hy sien dat Hy hom nie kon oorwin nie, slaan Hy hom op sy heupbeen, sodat die heupbeen van Jakob uit lit geraak het in die worsteling met Hom. Toe sê Hy: Laat My gaan, want die dag het gebreek. Maar hy antwoord: Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën. En Hy vra hom: Hoe is jou naam? En hy antwoord: Jakob. Toe sê Hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin. GÉNESIS 32:24-28 AFR53
Hosea bevestig die goddelike identiteit van Jakob se teenstander.
Die Here het ook 'n twis met Juda, en Hy sal oor Jakob besoeking doen volgens sy weë, hom vergelde na sy dade. In die moederskoot het hy sy broer by die hakskeen gehou, en in sy manlike krag het hy met God geworstel. Ja, hy het met die Engel geworstel en die oorhand gekry, hy het geween en Hom gesmeek. By Bet-el het hy Hom gevind, en daar het Hy met ons gespreek. En Here God van die leërskare, Here is sy gedenknaam. HOSÉA 12:3-6 AFR53
Hosea beskryf nie net Jakob se Elohim-teenstander as 'n engel nie, maar hy identifiseer hierdie engel met Bet-el. Vreemd genoeg weet ons uit Genesis 32 dat hierdie voorval nie by Bet-El plaasgevind het nie - dit was by die water van die Jabbok. Hosea se geïnspireerde kommentaar oor die voorval gaan egter nie oor geografie nie. Hy vertel vir ons dat Jakob met God self geworstel het, fisies beliggaam en God identifiseer met die engel wat gesê het dat hy die God van Bet-el is.
Ons het hierdie ‘verwarring’ van God met 'n engel al voorheen gesien. Dit is doelbewus. Die punt is nie dat die God van Israel, 'n blote engel is nie. Die omgekeerde is die geval. Hierdie engel is God.
3 Maart 2025
GÉNESIS 48:15 AFR53
En hy het Josef geseën en gesê: Die God voor wie se aangesig my vaders Abraham en Isak gewandel het, die God wat my as Herder my lewe lank gelei het tot vandag toe,
Verse 15 en 16 is een sin waar God (Elohim) en die Engel (mal’ak) op dieselfde vlak gestel word.
Aangesien die Bybel baie duidelik leer dat God ewig is en voor alle dinge bestaan het, en dat engele geskape wesens is, is die punt van hierdie eksplisiete parallel nie om te sê dat God 'n engel is nie. Aan die ander kant bevestig dit dat hierdie engel God is.
die Engel wat my uit elke teëspoed verlos het — mag Hy die seuns seën, en mag deur hulle my naam genoem word en die naam van my vaders Abraham en Isak, en mag hulle vermeerder in die land in menigte. GÉNESIS 48:16 AFR53
Die opvallendste kenmerk is die werkwoord ‘mag Hy seën’. In Hebreeus is die werkwoord seën in hierdie gedeelte nie grammatikaal in die meervoud nie, wat sou aandui dat twee verskillende persone gevra word om die seuns te seën.
Dit is eerder enkelvoud en toon daardeur 'n hegte samesmelting van die twee goddelike wesens. Met ander woorde, die skrywer het 'n duidelike geleentheid gehad om die God van Israel, van die Engel te onderskei, maar het eerder hul identiteite saamgesmelt.
Uit Jakob se lang loopbaan kies die skrywer van die boek Hebreërs hierdie seën van Josef se seuns deur die aartsvader as sy groot geloofsdaad. Dit was sy manier om God se belofte te laat voortleef in die aangesig van sy eie dood.
Deur die geloof het Jakob op sy sterfbed altwee die seuns van Josef geseën; en hy het aanbid terwyl hy leun op die knop van sy staf. HEBREËRS 11:21 AFR53
Geloof, volgens Hebreërs 11:1, beteken om God te vertrou om op onsigbare maniere te werk, selfs wanneer ons nie heeltemal verstaan wat aan die gebeur is nie.
Die geloof dan is 'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, 'n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. HEBREËRS 11:1 AFR53
Dit sluit in om te onthou dat God se perspektief ewig is, en daarom kan ons verby ons eie aardse lewens kyk as deel van daardie geloof. Abraham het hierdie geloof geopenbaar toe hy 'n verwarrende en uitdagende opdrag van God ontvang het om sy enigste seun Isak te offer.
Isak het godvrugtige geloof getoon deur God se beloftes en seëninge aan sy kinders oor te dra.
Deur die geloof het Isak vir Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms. HEBREËRS 11:20 AFR53
Jakob het op sy beurt hierdie patroon van vertroue op God voortgesit deur na die toekoms te kyk.
In nabetragting weet ons vandag dat God in werklikheid daardie beloftes nagekom het. Die kinders van Abraham, Isak en Jakob het ’n groot menigte mense geword, en daardie mense het die Beloofde Land in besit geneem.
Maar, toe hy die dood nader, het Jakob nog nie daardie beloftes sien waar word nie. Sy geloof word geïllustreer deur aan te hou om die seëninge oor te dra, net soos sy vaders gedoen het.
4 Maart 2025
EXODUS 3:2 AFR53
Daarop verskyn die Engel van die Here aan hom in 'n vuurvlam uit 'n doringbos. En toe hy weer sien, brand die doringbos in die vuur, maar die doringbos word nie verteer nie!
Die verhaal van die uittog uit Egipte begin in Exodus hoofstuk 3 wanneer Moses vir God in die brandende bos ontmoet.
Moses was veertig jaar oud toe hy uit Egipte moes vlug en woon nou in Midian waar hy getrou het en hy pas sy skoonvader Jetro se kleinvee op. Op ‘n dag dryf hy die kleinvee in die woestyn in tot by die berg van God, by Horeb.
Die Engel van die Here verskyn aan Moses in ‘n vuurvlam in ‘n doringbos, en die doringbos hou aan met brand, maar brand nie uit nie.
En Moses het die kleinvee opgepas van sy skoonvader Jetro, die priester van Mídian. En toe hy die kleinvee agter die woestyn gedryf het, kom hy by die berg van God, by Horeb. EXODUS 3:1 AFR53
Hierdie brandende bos is ‘n vreemde verskynsel vir Moses en nuuskierig besluit hy om nader te stap om te kyk wat aangaan.
En Moses sê: Laat ek tog nader gaan en hierdie groot verskynsel bekyk, waarom die doringbos nie verbrand nie. EXODUS 3:3 AFR53
Vers 2 sê baie duidelik dat die Engel van die Here in die bos was, maar wanneer Moses omdraai om na die bos te kyk, vertel vers 4 dat God hom vanuit die doringbos nader roep.
Toe die Here sien dat hy nuuskierig nader kom, roep God na hom uit die doringbos en sê: Moses, Moses! En hy antwoord: Hier is ek. EXODUS 3:4 AFR53
Ons sien duidelik dat die Engel in die bos (God in sigbare menslike vorm) en die onsigbare stem wat vanuit die bos roep, beide God is.
God se stem praat vêrder met Moses en beveel hom om sy skoene uit te trek, want die plek waarop hy staan is heilige grond.
En Hy sê: Moenie nader kom nie. Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond. EXODUS 3:5 AFR53
Die stem uit die bos stel Homself voor: Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob. Moses was bang om na God te kyk, wat aandui dat hy wel iets in die vuur gesien het, heel waarskynlik die menslike vorm van die Engel.
Verder sê Hy: Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob. Toe het Moses sy aangesig verberg, want hy was bevrees om God aan te sien. EXODUS 3:6 AFR53
In die Nuwe Testament bevestig die martelaar Stefanus twee keer dat daar 'n Engel in die bos was.
En toe veertig jaar verby was, het 'n Engel van die Here aan hom verskyn in die woestyn van die berg Sinai, in die vuurvlam van 'n doringbos.
Hierdie Moses wat hulle verloën het deur te sê: Wie het jou aangestel as 'n owerste en regter? — hom het God as owerste en verlosser gestuur deur die hand van die Engel wat aan hom verskyn het in die doringbos. HANDELINGE 7:30, 35 AFR53
5 Maart 2025
EXODUS 14:19 AFR53
En die Engel van God wat voor die leër van Israel uit getrek het, het daar weggegaan en agter hulle aan getrek. En die wolkkolom het ook voor hulle weggetrek en agter hulle gaan staan;
Die tien plae het Egipte getref. God se volk het na 430 jaar hul ongesuurde brode en die silwergoed, goue goed en klere van die Egiptenare geëis, en die groot trek uit Egipte aangepak.
God het voor hulle uitgetrek, bedags in ‘n wolkkolom en snags in ‘n vuurkolom, sodat hulle dag en nag kon trek.
En die Here het voor hulle uitgetrek, bedags in 'n wolkkolom om hulle op die pad te lei, en snags in 'n vuurkolom om hulle voor te lig, sodat hulle dag en nag kon trek. EXODUS 13:21 AFR53
God stel 'n hinderlaag vir Farao. Selfs ná die afgryse van die dood van die eersgeborenes, was die verandering in Farao se hart net tydelik. Hy was gou spyt dat hy die Israeliete, die slawe wat al hul werk gedoen het, laat gaan het, en het besluit om agter hulle aan te gaan.
Toe die koning van Egipte berig ontvang dat die volk gevlug het, het die hart van Farao en van sy dienaars teenoor die volk verander, en hulle sê: Wat het ons nou gedoen dat ons Israel laat trek het, sodat hulle ons nie meer dien nie? EXODUS 14:5 AFR53
Die Israeliete het intussen onder opdrag van God by Pi-Hágirot tussen Migdol en die see laer opgeslaan. Die Egiptenaars het hulle agtervolg met al Farao se perde en strydwaens en ruiters en hulle ingehaal.
En die Egiptenaars het hulle agtervolg — al Farao se perde en strydwaens, sy ruiters en sy leërmag — en hulle ingehaal terwyl hulle in die laer gestaan het by die see by Pi-Hágirot, voor Baäl-Sefon. EXODUS 14:9 AFR53
Die Israeliete het baie bang geword toe hulle sien dat die massiewe Egiptiese leër hulle ingehaal het. Die volk is onsteld en haal dit op Moses uit. Hulle is sommer omgekrap en wil by Moses weet of hulle hier in die woestyn gaan sterf. Moses kalmeer die volk en sê dat hulle nie bevrees moet wees nie. Hulle moet vas staan en die verlossing aanskou wat God vandag vir hulle gaan bewerk.
Maar Moses het aan die volk gesê: Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die Here wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie. EXODUS 14:13 AFR53
Dit is hier waar die Engel van God ingetree het. Die Engel wat voor die leër van Israel uitgetrek het, het na die agterkant van die volk beweeg. Saam met die Engel het die wolkkolom ook agter die volk gaan staan. So het die Engel en die wolkkolom tussen die leër van die Egiptenaars en die leër van Israel ingekom. Die wolk het gemaak dat die nag donker was vir die Egiptiese leër, maar het die nag helder verlig vir die Israeliete.
so het dit dan tussen die leër van die Egiptenaars en die leër van Israel in gekom. En die wolk was daar met die duisternis, en dit het die nag verlig, sodat die een nie naby die ander gekom het die hele nag deur nie. EXODUS 14:20 AFR53
Moses steek sy hand oor die water uit, en ‘n wind het heel nag deur die see opgedroog, sodat die volk veilig op droeë grond kon deurstap.
Toe steek Moses sy hand oor die see uit, en die Here het deur 'n sterk oostewind die see laat wegvloei, die hele nag deur, en die see droog gemaak; en die waters is gekloof. En die kinders van Israel het midde-in die see getrek op droë grond. En die waters was vir hulle 'n muur aan hul regter- en aan hul linkerkant. EXODUS 14:21-22 AFR53
6 Maart 2025
EXODUS 23:20 AFR53
Kyk, Ek stuur 'n Engel voor jou uit om jou op die pad te bewaar en om jou na die plek te bring wat Ek gereedgemaak het.
Na die brandende bos het God vir Moses gebruik om Sy volk uit Egipte uit te lei en hulle toe na Sinai te bring om God te ontmoet, die wet te ontvang en voor te berei vir die reis na die Beloofde Land.
Nou is daar 'n kort gesprek tussen God en Moses oor daardie taak wat gewoonlik misgekyk word.
God lig die volk Israel in dat 'n Engel voor hulle sal gaan om hulle te bewaak en hulle te lei op hul reis na die land wat Hy beloof het om aan hulle te gee. Hy waarsku hulle egter om enige rebellie en ongehoorsaamheid te vermy omdat hul sukses en hul veiligheid in hierdie reis afhang van hul gedrag teenoor hierdie Engel, en hy sal nie hul oortredings vergewe nie.
Daar is iets vreemd in God se beskrywing aan Moses wat vir ons sê dat hierdie geen gewone engel is nie. Hierdie engel het die gesag om sondes te vergewe of nie, 'n status wat aan God behoort. Meer spesifiek, God sê vir Moses dat die rede waarom hierdie engel hierdie gesag het, is ‘My Naam is in Hom’.
Neem jou in ag vir Hom en luister na sy stem; wees nie wederstrewig teen Hom nie; want Hy sal julle oortreding nie vergewe nie, want my Naam is in Hom. EXODUS 23:21 AFR53
Wat beteken hierdie eienaardige frase? Moses het dadelik geweet, en enige persoon wat aan die brandende bos dink, moet ook. Toe God vir Moses gesê het dat Sy Naam in hierdie engel was, het Hy gesê dat Hy in hierdie engel was - Sy teenwoordigheid of wese. Die EK IS van die brandende bos sou Moses en die Israeliete na die Beloofde Land vergesel en vir hulle veg. Net hy kon die gode van die nasies en die nageslag van die Nefilim verslaan wat Moses en Josua daar sou vind.
Maar as jy terdeë na sy stem luister en alles doen wat Ek sal sê, sal Ek die vyand van jou vyande en die teëstander van jou teëstanders wees. Want my Engel sal voor jou uit gaan en jou bring na die Amoriete en Hetiete en Feresiete en Kanaäniete, Hewiete en Jebusiete; en Ek sal hulle vernietig. EXODUS 23:22-23 AFR53
Ander gedeeltes bevestig dat hierdie Engel God is. Die maklikste manier om dit te demonstreer is om Ou Testamentiese gedeeltes te vergelyk oor wie dit was wat Israel uit Egipte na die Beloofde Land gebring het.
Want Ek is die Here wat julle uit Egipteland laat optrek het om julle God te wees. So moet julle dan heilig wees, omdat Ek heilig is. LEVÍTIKUS 11:45 AFR53
En omdat Hy jou vaders liefgehad en hulle nageslag na hulle uitverkies het, en Hy self jou deur sy grote krag uit Egipte uitgelei het, DEUTERONÓMIUM 4:37 AFR53
want die Here onse God, dit is Hy wat ons en ons vaders uit Egipteland uit die slawehuis laat optrek het, en wat voor ons oë hierdie groot tekens gedoen het en ons bewaar het op die hele pad wat ons gegaan en onder al die volke waar ons dwarsdeur getrek het; en die Here het al die volke en die Amoriet, die inwoner van die land, voor ons uit verdrywe. Ook ons sal die Here dien, want Hy is onse God. JOSUA 24:17-18 AFR53
In hierdie gedeeltes verwissel God, die Engel van God, en die Naam van God as die identiteit van die goddelike Verlosser van Israel uit Egipte. Daar was nie drie verskillende Verlossers nie. Hulle is almal dieselfde. Een van hulle, die Engel, neem menslike gestalte aan. As Deuteronomium 4:37 gelees word in die lig van Exodus 23:20-23 is die Engel, en die Naam mede-geïdentifiseer. Dit maak goeie sin in die lig van die betekenis van die Naam wat in die Engel was.
7 Maart 2025
EXODUS 25:18 AFR53
Maak ook twee gérubs van goud. Van dryfwerk moet jy hulle maak, aan die twee ente van die versoendeksel.
Ons het gerubs vir die eerste keer ontmoet toe God hulle, bewapen met swaarde wat vlam en flikker, aan die oostekant van die tuin van Eden geplaas het, om toegang tot die boom van die lewe te bewaak.
Ons ontmoet hulle nou weer waar hulle simbolies die tabernakel en die verbondsark met sy versoendeksel bewaak.
Heelwat later na die storie van Eden, gee God instruksie vir die bou van die verbondsark. Die vakmanne moet twee gerubs uit soliede goud hamer - een vir elke punt van die versoendeksel. God sê Hy sal met die mense praat vanuit daardie posisie, tussen die vlerke van hierdie twee gerubsbeelde.
En maak een gérub aan die een ent en een gérub aan die ander ent. Uit een stuk, saam met die versoendeksel, moet julle die gérubs maak, aan die twee ente. En die gérubs moet die vlerke boontoe uitgesprei hou, terwyl hulle met hul vlerke die versoendeksel beskut; en hulle aangesigte moet na mekaar toe wees; die gesigte van die gérubs moet op die versoendeksel gerig wees. EXODUS 25:19-20 AFR53
Die versoendeksel het die volk van God verberg van die immer veroordelende oordeel van die Wet. Elke jaar op die Versoendag het die hoëpriester die Allerheiligste binnegegaan en die bloed van diere gesprinkel vir die versoening van die volk se sondes. Hierdie bloed is op die versoendeksel gesprinkel.
En sit die versoendeksel bo-op die ark; maar in die ark moet jy die Getuienis neerlê wat Ek aan jou sal gee. En daar sal Ek met jou saamkom, en van die versoendeksel af, tussen die twee gérubs uit wat op die ark van die Getuienis is, sal Ek jou alles sê wat Ek jou vir die kinders van Israel sal beveel. EXODUS 25:21-22 AFR53
Die tabernakel het uit twee vertrekke bestaan - die Heilige vertrek en die Allerheiligste vertrek. Net priesters kon by die tabernakel ingaan en in die Heilige vertrek het hulle diens gedoen by die tafel van vertoonbrode, die reukaltaar en die kandelaar of menorah.
Die Allerheilgste vetrek waar die ark en die versoendeksel was, was gereserveer slegs vir die hoëpriester, en net een maal ‘n jaar op die Versoendag. Die twee vertrekke is geskei van mekaar met ‘n spesiale gordyn wat ons ken as die voorhangsel van die tempel.
Verder moet jy 'n voorhangsel maak van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne. As kunstige werk moet jy dit maak, met gérubs. EXODUS 26:31 AFR53
Dit is hierdie gordyn of voorhangsel van die tempel wat in twee geskeur het tydens Jesus se kruisiging,
En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur; MATTHÉÜS 27:51 AFR53
Enige persoon wat na die tabernakel gekyk het sou die afbeelding van gerubs sien op die tentdoeke waarmee die tabernakel oorgetrek is.
En die tabernakel moet jy van tien tentdoeke maak, van fyn dubbeldraad- linne en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe, met gérubs; as kunstige werk moet jy dit maak. EXODUS 26:1 AFR53
8 Maart 2025
EXODUS 32:34 AFR53
Maar gaan nou en lei die volk waarheen Ek jou gesê het. Kyk, my engel sal voor jou uit gaan. Maar die dag as Ek besoeking doen, dan sal Ek hulle sonde oor hulle besoek.
God bevestig aan Moses dat die engel sy sending sal voortsit om Israel na hul bestemming te vergesel ten spyte van hul ongehoorsaamheid en rebellie. Almal sal egter verantwoordelik gehou word vir hul dade. God sal die volk Israel op die gepaste tyd straf.
Watter sonde het die volk gedoen wat so groot was?
Die episode van die goue kalf staan vir altyd as ‘n herinnering aan die eerste en grootste versoeking vir God se volk om ander gode náás Hom te aanbid.
Die volk se probleem was nie met Moses se leierskap nie, maar met sy afwesigheid. Hulle het gekies om nie self met God te kommunikeer nie, al het Hy hulle daardie opsie gegee, en al het hulle die Tien Gebooie aanvanklik direk en gesamentlik hoorbaar ontvang. Hulle wou eerder deur Moses werk … en nou is Moses weg. Hulle herinnering aan God se stem het vervaag en iets moes in die plek daarvan kom.
Hulle konfronteer daarom vir Aäron met die duidelike opdrag: Staan op en maak vir ons gode wat voor ons kan uitgaan. Let op die meervoud. Die werkwoord wat met ‘gode’ verbind word, is ook in die meervoud wat dit duidelik maak dat hulle hier ‘gode’ wil hê, nie net ’n God nie. Daarmee oortree hulle alreeds die eerste en tweede gebod - geen afgode en geen afgodsbeelde nie.
Toe die volk sien dat Moses vertoef om van die berg af te kom, het die volk rondom Aäron versamel en vir hom gesê: Kom, maak vir ons gode wat voor ons uit trek; want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat van hom geword het nie. EXODUS 32:1 AFR53
Met die goue oorringe van die vroue en die mans maak Aäron toe ‘n beeld in die vorm van ‘n kalf, ‘n heel algemene voorstelling wat vir gode van daardie tyd gebruik is, bv. die Egiptiese Apis en die Kanaänitiese Baäl.
En hy het dit uit hulle hand geneem en dit met die beitel bewerk en daar 'n gegote kalf van gemaak. Daarop sê hulle: Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het. EXODUS 32:4 AFR53
Al sou daar ‘n redelike verduideliking wees waarom Aäron en die mense die goue kalf begin aanbid het, verskoon daardie verduidelikings nie die sonde nie. God het beslis die mense verantwoordelik gehou vir hul korrupsie en was gereed om hulle vir hul sonde te vernietig.
Moses se persoonlike voorbidding namens die volk het hulle egter gered. God het ingestem om die volk as geheel te spaar, maar Hy het beslis die reg voorbehou om individuele sondaars te oordeel.
Moses het in die poort gaan staan en gevra wie is saam met hom vir God. Die seuns van Levi het na vore gekom en onder Moses se opdrag het hulle daardie dag drieduisend mans doodgemaak.
Ook sou die hele geslag volwasse Israeliete, behalwe Joshua en Kaleb, nooit die Beloofde Land binnegaan nie. Hierdie spesifieke oordeel moes nog uitgespreek word, maar God het geweet dit sou gebeur.
Intussen was God getrou aan Sy belofte om by hulle te wees en Sy teenwoordigheid by hulle te hou, daarom dat Hy vir Moses bevestig dat Sy engel voor hulle uit sal gaan.
9 Maart 2025
EXODUS 33:2 AFR53
en Ek sal 'n engel voor jou uit stuur — en die Kanaäniete, Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete verdrywe —
Die diepste impak van die destruktiewe gevolge van die sonde lê altyd in die afstand wat kom tussen God en die mens. Soos Jesaja eeue later sou verklaar:
Kyk, die hand van die Here is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie; maar julle ongeregtighede het 'n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie. JESAJA 59:1-2 AFR53
Die rede vir die afstand lê nooit in God opgesluit nie, maar in die sonde en moedswilligheid van Sy mense.
Daarom wil God nie saamtrek met die volk na Kanaän nie, al sou Hy steeds Sy belofte om die Beloofde Land vir hulle te gee, uitvoer.
Verder het die Here met Moses gespreek: Gaan heen, trek hiervandaan op, jy en die volk wat jy uit Egipteland laat optrek het, na die land wat Ek met 'n eed aan Abraham, Isak en Jakob beloof het, met die woorde: Aan jou nageslag sal Ek dit gee; EXODUS 33:1 AFR53
Net God se engel sou saamtrek, anders sou Hy waarskynlik genoodsaak wees om die volk uit te wis weens hulle moedswilligheid.
Die Here het naamlik met Moses gespreek: Sê aan die kinders van Israel: Julle is 'n hardnekkige volk; as Ek vir een oomblik in jou midde sou optrek, sou Ek jou vernietig. Maar haal nou jou versiersels van jou af, dan sal Ek weet wat Ek met jou moet doen. EXODUS 33:5 AFR53
Moses slaan ‘n tydelike tent van ontmoeting op buite die kamp om as middelaar tussen God en die volk op te tree, sodat hulle as’t ware van ver af die interaksie wat hy met God het, kan sien en benut.
En Moses het elke keer 'n tent geneem en dit vir hom buitekant die laer opgeslaan, ver van die laer af; en hy het dit genoem die tent van samekoms. En elkeen wat die Here wou raadpleeg, het uitgegaan na die tent van samekoms wat buitekant die laer was. En as Moses uitgaan na die tent, staan die hele volk op en gaan elkeen aan die ingang van sy tent staan. Dan kyk hulle Moses agterna tot hy in die tent ingegaan het. En as Moses in die tent ingaan, kom die wolkkolom af en gaan by die ingang van die tent staan, en dan spreek Hy met Moses. En as die hele volk die wolkkolom sien staan by die ingang van die tent, staan die hele volk op en buig, elkeen aan die ingang van sy tent. Dan spreek die Here met Moses van aangesig tot aangesig soos 'n man met sy vriend spreek. Daarna gaan hy na die laer terug; maar sy dienaar Josua, 'n jongman, die seun van Nun, het hom nie uit die tent verwyder nie. EXODUS 33:7-11 AFR5
10 Maart 2025
NÚMERI 7:89 AFR53
En as Moses in die tent van samekoms gegaan het om met Hom te spreek, het hy die stem met hom hoor spreek van die versoendeksel af wat op die ark van die Getuienis is, tussen die twee gérubs uit. So het Hy dan met hom gespreek.
God het met Moses gekommunikeer deur ‘n stem wat van die versoendeksel, tussen die twee gerubs gekom het.
En daar sal Ek met jou saamkom, en van die versoendeksel af, tussen die twee gérubs uit wat op die ark van die Getuienis is, sal Ek jou alles sê wat Ek jou vir die kinders van Israel sal beveel. EXODUS 25:22 AFR53
Die volk van God het ‘n leier nodig gehad wat God geken het en direk van Hom gehoor het. Ons lees selde in die Bybel van presies hoe God met Moses gepraat het. Hier, in die tabernakel, sien ons dat dit in 'n hoorbare stem was, en nie bloot 'n gedagte in sy kop nie.
Maar, waar is die Ark vandag? Wat met die Verbondsark en die versoendeksel gebeur het, is 'n vraag wat teoloë, Bybelstudente en argeoloë al eeue lank gefassineer het.
In die agtiende jaar van sy regering het koning Josia van Juda die opsigters van die Verbondsark beveel om dit terug te neem na die tempel in Jerusalem.
Daarna het Josía in Jerusalem die pasga tot eer van die Here gehou; en hulle het die pasga geslag op die veertiende van die eerste maand. En hy het die priesters hulle dienspligte laat waarneem en hulle versterk vir die diens in die huis van die Here. Ook het hy aan die Leviete, die onderwysers van die hele Israel, wat heilig was aan die Here, gesê: Sit die heilige ark in die huis wat Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel, gebou het; julle hoef niks meer op die skouers te dra nie: dien nou die Here julle God en sy volk Israel; II KRONIEKE 35:1-3 AFR53
Dit is die laaste keer dat die ark se ligging in die Skrif genoem word. Veertig jaar later het koning Nebukadnesar van Babilon Jerusalem ingeneem en die tempel ingeval. Minder as tien jaar daarna het hy teruggekeer, wat in die tempel oorgebly het geneem, en toe die stad tot op die grond afgebrand.
Wat het dan met die ark gebeur? Is dit deur Nebukadnesar geneem? Is dit saam met die stad vernietig? Of is dit verwyder en veilig weggesteek,
Daar is ‘n paar teorieë oor waar die Ark kan wees.
1. Die amptelike posisie van konserwatiewe rabbies en die Tempel Instituut in Jerusalem is dat die Ark iewers op ‘n geheime plek onder die Tempelberg versteek is.
2. Jode van Etihopië glo dat hulle die Ark in hul stad Axum bewaar. Die legende vertel dat die seun van Salomo en die koningin van Skeba (Menelik I) die Ark moes bewaar in Etihopië omdat Salomo besef het dat sy koninkryk tot niet sou gaan na sy dood.
3. Vêrder word gespekuleer dat die Ark nie Etihopië toe is nie, maar nadat Salomo se koninkryk wel verdeel het, het sy seun koning Rehoboam koning van Juda, die Ark vir farao Shisak van Egipte gegee om te verseker dat hulle nie deur die Egitenare aangeval sou word nie.
4. 2 Makkabeers 2:4-7 vertel dat die profeet Jeremia die Ark en die Reukofferaltaar op ‘n geheime plek in die berg Nebo (die berg waar Moses vir God gesien het) versteek het, en dat dit slegs gevind sal word wanneer God so besluit.
11 Maart 2025
NÚMERI 20:16 AFR53
Toe het ons die Here aangeroep, en Hy het ons stem gehoor: Hy het 'n Engel gestuur en ons uit Egipte uitgelei. Hier is ons nou in Kades, 'n stad op die grens van jou grondgebied.
God se volk is by Kades, en hulle wil deur die land van Edom reis - hulle is nou nader aan die Beloofde Land as wat hulle ooit tevore was. Moses stuur boodskappers na die koning van Edom om toestemming te kry om deur hul grondgebied te reis.
Die boodskappers begin hul versoek aan die koning met ‘n herinnering dat Israel hul broer is - ‘n verwysing na Jakob en Esau wat broers was. Hulle vertel verder hul hele verhaal van hul vaders wat na Egipte getrek het, baie jare daar gewoon het en dat die Egiptenaars hulle sleg hanteer het. Toe het die volk God aangeroep wat hul stem gehoor het en Hy het ‘n Engel gestuur om hulle uit Egipte uit te bring.
Daarna het Moses uit Kades boodskappers na die koning van Edom gestuur: So sê jou broer Israel: Jy weet self al die moeilikheid wat ons oorgekom het. Ons vaders het na Egipte afgetrek, en ons het baie dae in Egipte gewoon, en die Egiptenaars het ons en ons vaders sleg behandel. NÚMERI 20:14-15 AFR53
Die boodskappers vra toestemming om deur Edom se grondgebied te trek, en onderneem om nie deur lande of wingerde te trek nie, en ook nie die water in die putte te drink nie.
Laat ons tog deur jou land trek: ons sal nie deur lande of wingerde trek nie en die water uit die putte nie drink nie; ons sal die koningsweg hou; ons sal nie regs of links uitdraai nie, totdat ons deur jou grondgebied getrek het. NÚMERI 20:17 AFR53
Maar, Edom weier die versoek en sê dat Israel nie deur hul grondgebied sal trek nie, en indien hulle dit doen sal hulle die swaard van Edom op hul afbring.
Maar Edom antwoord hom: Jy sal deur my nie trek nie, anders sal ek jou met die swaard tegemoettrek. NÚMERI 20:18 AFR53
Verrskeie profesieë is later oor Edom uitgespreek en die profete het gedurig terugverwys na hierdie treurige gebeurtenis.
Obadja profeteer oor Edom, en sy profesie se oorsprong is in Esau.
Want Israel het toe hy uit Egipte opgetrek het, deur die woestyn gegaan tot by die Skelfsee en het by Kades gekom. RIGTERS 11:16 AFR53
Toe die koning van Edom geweier het dat die kinders van Israel op pad na Kanaän deur sy land moes trek, het hulle om die land getrek weens sy magsvertoon en omdat God hulle beveel het om dit te doen eerder as om oorlog te voer.
En Israel het boodskappers gestuur na die koning van Edom om te sê: Laat my tog deur u land trek; maar die koning van Edom het geen gehoor gegee nie; en na die koning van Moab het hy gestuur, maar hy wou ook nie. Daarom het Israel in Kades gebly. RIGTERS 11:17 AFR53
God het Israel verbied om hul Edomitiese broer te verafsku.
Die Edomiet moet jy nie as 'n gruwel beskou nie, want hy is jou broer; die Egiptenaar moet jy nie as 'n gruwel beskou nie, want jy was 'n vreemdeling in sy land. DEUTERONÓMIUM 23:7 AFR53
12 Maart 2025
NÚMERI 22:22 AFR53
Maar die toorn van God het ontvlam, omdat hy weggetrek het; en die Engel van die Here het gaan staan in die pad as sy teëparty, terwyl hy op sy esel ry en sy twee dienaars by hom was.
God het vir Bileam in die nag opdrag gegee om saam met die manne van Moab te gaan, INDIEN hulle hom kom roep. Bileam het egter nie gewag vir hulle om hom te roep nie, hy het net die volgende oggend klaargemaak en saam met hulle getrek. Hy was ongehoorsaam aan God en daarom het God se toorn oor hom ontvlam en het die Engel van die Here in die pad voor sy esel gaan staan.
En God het in die nag na Bíleam gekom en aan hom gesê: As die manne gekom het om jou te roep, staan dan op, gaan met hulle saam; maar net wat Ek jou sê, dit moet jy doen. Toe maak Bíleam die môre klaar en saal sy eselin op, en hy het weggetrek saam met die vorste van Moab. NÚMERI 22:20-21 AFR53
Bileam se esel sien die Engel van Here met ‘n ontblote swaard in Sy hand, en loop summier in die veld in. Bileam slaan die esel en stuur haar terug na die pad.
Toe gaan staan die Engel van die Here in ‘n smal pad tussen die wingerde met mure weerskante van Bileam. Weer sien die esel die Engel van die Here en sy skuur teen die muur en druk Bileam se voet in die proses vas teen die muur, en weer slaan Bileam sy esel.
Toe gaan staan die Engel van die Here op ‘n nou plek waar daar nie plek was om verby te gaan nie. Toe die esel die Engel van Here weer sien gaan lê sy summier op die grond. Bileam is woedend en slaan die esel met ‘n stok.
God open die esel se bek sodat sy kan praat en sy vra summier: Wat het ek jou gedoen, dat jy my nou al drie maal geslaan het?
Sonder om te besef wat hy doen antwoord Bileam die esel: Omdat jy die spot met my drywe. Was daar net 'n swaard in my hand — dan het ek jou sekerlik doodgeslaan.
Die esel vra verder of Bileam nie al sy hele lewe op haar ry nie, en of dit haar gewoonte is om soos vandag op te tree nie? En hy antwoord: Nee!
Toe open God Bileam se oë sodat hy ook die Engel van Here kon sien staan in die pad met Sy ontblote swaard. Bileam buig en val op sy aangesig neer terwyl die Engel van die Here hom vra hoekom hy sy esel so slaan.
Toe open die Here die oë van Bíleam, sodat hy die Engel van die Here in die pad sien staan met sy ontblote swaard in sy hand, en hy het gebuig en op sy aangesig neergeval. En die Engel van die Here vra hom: Waarom het jy jou esel nou al drie maal geslaan? Kyk, Ek self het uitgegaan as 'n teëparty, want jou weg loop gevaarlik steil in my oog! NÚMERI 22:31-32 AFR53
Die Engel van die Here sê vir Bileam dat die esel Hom nou al drie keer gesien het, en drie keer vir Hom uitgedraai het. As dit nie vir die esel was nie sou Bileam nou dood gewees het. Bileam erken sy sonde en besluit om terug te keer huis toe, maar die Engel van die Here vra hom om sy reis voort te sit om Balak te sien. Hy waarsku hom egter dat hy net die woorde moet spreek wat God in sy mond lê.
Maar die esel het My gesien en nou al drie maal voor My uitgedraai. As sy nie voor My uitgedraai het nie — dan het Ek jou alte seker gedood en haar laat lewe. Toe antwoord Bíleam die Engel van die Here: Ek het gesondig, want ek het nie geweet dat U teenoor my in die pad gestaan het nie. Maar nou, as dit verkeerd is in u oë, sal ek teruggaan. En die Engel van die Here sê vir Bíleam: Gaan saam met die manne, maar net die woord wat Ek jou sê, dit moet jy spreek. So het Bíleam dan met die vorste van Balak saamgegaan. NÚMERI 22:33-35 AFR53




Comments