top of page

Kersfees 2025

  • Regina Torre
  • Nov 25, 2025
  • 55 min read

Updated: 2 days ago

ree


25 November 2025


JOHANNES 3:16 AFR53

Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.


Die Kersfees storie is nou al twee duisend jaar oud en nog steeds word dit elke jaar regoor die wêreld vertel en gevier. Dit is ook reg so, want God hou daarvan dat ons moet onthou, en wat ‘n beter manier om iets te onthou as om dit met ‘n spesiale dag te vier.


Moses het aan die volk gesê dat hulle moet dink aan die dag waarop God hulle uit Egipte uit die slawehuis uitgelei het.


Verder het Moses aan die volk gesê: Dink aan hierdie dag waarop julle uit Egipte, uit die slawehuis, uitgegaan het; want die Here het julle deur 'n sterke hand hiervandaan uitgelei; daarom mag geen gesuurde brood geëet word nie.   EXODUS 13:3 AFR53


Maar om net te onthou gaan nie werk nie, want die mens vergeet tog so maklik en so gou. Daarom dat God sewe feestye ingestel het wat Sy volk elke jaar vier om te onthou.


Dit is die feestye van die Here, die heilige vierdae wat julle moet uitroep op hulle bepaalde tyd.   LEVÍTIKUS 23:4 AFR53


Kersfees is nie een van God se feesdae nie, maar dit is die dag wat ons gebruik om Jesus se geboorte te onthou.


Die vraag wat ons nou vra is! Is 25 Desember werklik die geboortedag van Jesus, en kom dit uit die heidendom soos sommige beweer?  Die antwoord op beide die vrae is nee.


25 Desember is nie die werklike geboortedag van Jesus nie en die dag kom nie uit die heidendom nie.   


Wat wel waar is, is dat 25 Desember sedert die vierde eeu n.C. die Christelike kerk se feesdag is waarop Jesus se geboorte gevier word. Let wel: Jesus geboorte en nie Sy geboortedag nie!


Uit ou geskrifte is dit duidelik dat Kersfees nie in die vroeë kerk gevier was nie.  Dit het eers in 386 n.C. ’n vaste datum in die kerk geword, nadat keiser Konstantein die Christelike geloof gewettig het.


Die presiese datum van Jesus se geboorte maak regtig nie saak nie. Wat wel belangrik is, is die wondergebeure van die dag waarvan die teksvers melding maak.


Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het…. Joh.3:16. 


Kersfees is die geleentheid vir getuienis van Jesus se geboorte wêreldwyd en daarom bly Christene dit vier. 



26 November 2025


MATTHÉÜS 1:1 AFR53

Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham:


My Kersfees Bybelstudie vir 2026 gaan die verhaal van Jesus se geboorte kronologies deur die Nuwe Testament volg.


Die evangelie van Mattheus is geskryf deur ‘n Jood, vir Joodse lesers en Mattheus begin sy geslagsregister met die eerste Jood, nl: Abraham. Hy skryf net agterstevoorom: Jesus, die seun van Dawid, die seun van Abraham.


Jesus Christus:


Die woord Christus is 'n Griekse woord wat gesalfde beteken. Die Hebreeuse woord vir Christus is Messias. Daarom word Jesus óf die Messias óf die Christus genoem, wat beide gesalfde beteken.


Die Jode praat van die Messias en Christene praat van Jesus Christus. In die ou tyd, toe konings en priesters vir hul amp afgesonder was, is hulle met olie gesalf. Om te salf, beteken dus dikwels dieselfde as om in te wy, of om tot 'n amp af te sonder. Daarom word gesê dat diegene wat so afgesonder is, gesalf is, of die gesalfdes van God is.


Jesus is deur God afgesonder om Koning, Hoëpriester en Profeet van Sy volk te wees. Oliesalwing was boonop veronderstel om ‘n teken te wees van die invloed van die Heilige Gees, en aangesien God aan Jesus, die Gees sonder maat gegee het, word hy veral die Gesalfde van God genoem.


Die seun van Dawid:


Die woord seun onder die Jode het 'n groot verskeidenheid betekenisse gehad. Dit beteken letterlik seun, of kleinseun, of 'n afstammeling. In hierdie konteks beteken dit 'n afstammeling van Dawid, of iemand wat uit die geslag van Dawid was.


Dit was belangrik om die geslagsregister van Jesus tot by Dawid na te spoor, want die belofte was gemaak dat die Messias van Dawid se familie sou wees, en al die Jode het verwag dat dit so sou wees. Dit sou dus onmoontlik wees om 'n Jood te oortuig dat Jesus die Messias is, tensy daar gewys kon word dat hy van Dawid afstam.


Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek vir Dawid 'n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land.   JEREMIA 23:5 AFR53


Die seun van Abraham:


Die afstammeling van Abraham. Die belofte is ook aan Abraham gemaak.


Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus.   GALÁSIËRS 3:16 AFR53


Die Jode het verwag dat die Messias van Abraham sou afstam, en dit was dus belangrik om die geslagsregister ook tot by hom na te volg. Alhoewel Jesus van nederige geboorte was, was Hy tog ‘n afstammeling van die mees roemryke voorvaders.


Abraham, ook genoem die vader van die gelowiges, en Dawid, ‘n psalm skrywer, krygsman en koning van die volk van God, was albei onder Jesus se voorvaders. Uit hierdie twee persone, die vroomste en voortreflikste, het die Here Jesus afgestam.



27 November 2025


LUKAS 3:23a AFR53

En Hy, Jesus, was omtrent dertig jaar oud toe Hy begin leer het;


Dertig was in die Ou Testament die ouderdom wat priesters se bediening begin het. Jesus, soos vele ander voor Hom, was omtrent dertig jaar oud toe Hy die volk begin onderrig het.


van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat dienspligtig is, om werk by die tent van samekoms te verrig.   NÚMERI 4:3 AFR53


Van al die disippels was Lukas die enigste wat nie ‘n Jood was nie, en hy skryf sy evangelie vir nie-Joodse lesers.  Lukas se geslagsregister volg die lyn van Jesus se moeder Maria (Jesus se bloedverwant) deur Dawid se seun Natan en dan heeltemal terug na Adam wat ook nie ‘n Jood was nie.


die seun van Meléas, die seun van Mainan, die seun van Máttata, die seun van Natan, die seun van Dawid,   LUKAS 3:31 AFR53


Volgens ou gebruike is geslagsregisters byna altyd deur die vader nagespoor, nie die moeder nie. Dit was 'n probleem in hierdie unieke situasie van 'n maagdelike geboorte.


Lukas se geslagsregister verskil met die van Mattheus vanaf Dawid vorentoe, maar hulle eindig albei met Josef. Die beste verduideliking hiervoor blyk te wees dat Lukas, Maria se lyn (Jesus se bloedlyn) gevolg het, terwyl Mattheus Josef se lyn (Sy wettige geslag deur aanneming) gevolg het.


Lukas het met Josef begin omdat hy die regte vorm gevolg het en geen vroue in sy geslagsregister ingesluit het nie. Hy het sy geslagsregister tot by Adam geneem om te wys dat Jesus aan die hele mensdom behoort, nie net aan die Joodse volk nie.


Jesus se geslagsregister deur sy moeder, wat hom wonderbaarlik verwek het, is ‘n vervulling van die profesie wat reeds in Genesis gegee is. Dat Jesus die saad van die vrou was, wat die kop van die slang vermorsel.


En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.   GÉNESIS 3:15 AFR53


Sewentien verse in die Nuwe Testament beskryf Jesus as die seun van Dawid. Maar, die vraag ontstaan, hoe kan Jesus die seun van Dawid wees as Dawid ongeveer 1 000 jaar voor Jesus gelewe het?


Die antwoord is dat Jesus (die Messias) die vervulling van die profesie van die nageslag van Dawid was.


En jou huis en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid voor jou; jou troon sal vasstaan tot in ewigheid.   II SAMUEL 7:16 AFR53


Jesus is die beloofde Messias, wat beteken dat Hy uit die geslag van Dawid moes wees.


Mattheus se geslagsregister gee die bewys dat Jesus, in Sy menslikheid, 'n direkte afstammeling van Abraham en Dawid was deur Josef, Jesus se wettige vader.


Die geslagsregister in Lukas volg Jesus se geslagslyn deur Sy moeder, Maria na koning Dawid.


Jesus is 'n afstammeling van Dawid, eerstens deur aanneming deur Josef, en tweedens deur bloed deur Maria.


aangaande sy Seun wat gebore is na die vlees uit die geslag van Dawid.  ROMEINE 1:3 AFR53



28 November 2025


JOHANNES 1:1 AFR53

In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.


Johannes begin nie by Jesus se geboorte nie.  Hy begin ook nie met ’n geslagsregister wat Jesus binne die geskiedenis van die mens en Israel sou plaas nie.  Hy begin selfs nie by Jesus se betrokkenheid by die skepping waarvan die Psalms (33:6) en die Pentateug (Gen 1:3) vertel nie. 


Deur die Woord van die Here is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër.   PSALMS 33:6 AFR53


En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.   GÉNESIS 1:3 AFR53


Hy begin by God se tyd, die ewigheid, voordat alles gemaak is, voordat daar selfs iets soos ons tyd was.


Jesus is die Woord (logos) van God, nie net goddelik nie, maar Godself!  Uit Hom is alles gemaak, want Hy was die lewe van alles.  En dit skyn soos ’n lig in die duisternis wat ons lewens verlig.


want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte — alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.   KOLOSSENSE 1:16 AFR53


Hierdie lewenslig is die kern van God se manier van kontak maak met ons. Dit is van hierdie lig wat ons getuig, soos ’n Johannes die Doper, sodat mense in God kan glo. Hierdie lig is Jesus, die mensgeworde Woord van God.


Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie.   JOHANNES 1:10 AFR53


Let egter op hoe Johannes onmiddellik die realiteit skets van die reaksie van die duisternis op die lig. Dié mense wat deur Hom tot stand gekom het, het Hom nie erken nie. Selfs sy eie mense, die Jode, het Hom nie aangeneem nie.


Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie. Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.   JOHANNES 1:10-11 AFR53


Jesus se menswording word met twee woorde beskrywe wat baie betekenisvol is, Hy het vlees geword en onder ons gewoon.  Dit beteken dat Hy volledig mens geword het, ons sondige vlees aangetrek het, en ’n menslike bestaan aanvaar het. 


En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon — en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom — vol van genade en waarheid.   JOHANNES 1:14 AFR53


Die wonder is dat ons nou die heerlikheid van God kan sien in ’n gewone mens.  En ons sien spesifiek Sy genade en Sy waarheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het. 


Dit nooi ons uit om Hom te vertrou vir ons lewe.  Sy waarheid word ervaar in ’n verhouding met God, iets wat die wet van Moses nooit kon gee nie. Ons kan God in Hom raaksien – iets wat Moses begeer het, maar nooit voluit kon beleef nie.



29 November 2025


LUKAS 1:5 AFR53

Daar was in die dae van Herodes, koning van Judéa, 'n sekere priester met die naam van Sagaría, uit die afdeling van Abía; en sy vrou was uit die dogters van Aäron, en haar naam was Elisabet.


Hierdie gebeure het op 'n bepaalde tydstip plaasgevind. Die koning van Judea was die man bekend as Herodes die Grote, en hy was hier aan die einde van 'n lang en verskriklike heerskappy.


Etnies was hy nie 'n afstammeling van Israel nie, maar van Jakob se broer Esau – dus 'n Edomiet. Hy was bekend vir sy skouspelagtige bouprogramme, maar meer nog vir sy paranoïese wreedheid, wat hom daartoe gedryf het om baie mense tereg te stel, insluitend lede van sy eie familie.


Ons ontmoet twee mense, Sagaria en Elisabet, en ons word vertel dat hulle regverdig en gehoorsaam was. Ons lees ook dat hulle albei reeds op ver gevorderde leeftyd was en kinderloos omdat Elisabet onvrugbaar was.


En hulle was altwee regverdig voor God en het in al die gebooie en regte van die Here onberispelik gewandel. En hulle het geen kind gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was en albei op ver gevorderde leeftyd.   LUKAS 1:6-7 AFR53


Sagaria was ‘n priester van beroep en dit was sy beurt om die reukwerk in die tempel te brand. Slegs priesters van 'n spesifieke bloedlyn kon in die tempel dien.


Oor die jare het die aantal priesters vermenigvuldig (daar word bereken dat daar soveel as 20 000 priesters in die tyd van Jesus kon wees), daarom het hulle die lot gebruik om te bepaal watter priesters wanneer sou dien. Die lot om te dien, kon dalk net een keer in sy lewe op 'n priester val.


Vir Sagaria was dit waarskynlik die grootste gebeurtenis van sy lewe, 'n geweldige voorreg, 'n eenmalige geleentheid.


En terwyl hy besig was om die priesteramp voor God te bedien in die beurt van sy afdeling, het die lot volgens priesterlike gewoonte op hom geval om in te gaan in die tempel van die Here en reukwerk te brand.   LUKAS 1:8-9 AFR53


Volgens die Wet van Moses is reukwerk aan God, elke oggend en elke aand op die goue altaar geoffer. Teen hierdie tyd was daar 'n gevestigde ritueel vir die praktyk.


En Aäron moet daarop reukwerk van speserye aan die brand steek; elke môre as hy die lampe regmaak, moet hy dit aan die brand steek. En as Aäron teen die aand die lampe opsteek, moet hy dit aan die brand steek as 'n voortdurende reukwerk voor die aangesig van die Here in julle geslagte.   EXODUS 30:7-8 AFR53


Terwyl die priester binne die tempel in die teenwoordigheid van God vir die hele nasie gebid het, het die volk buite ook gebid.


En die hele menigte van die volk was buite, besig om te bid op die uur van die reukoffer.   LUKAS 1:10 AFR53


Die verband tussen die brand van wierook en gebed mag vir sommige vreemd lyk, maar in die Bybel is die brand van wierook 'n sterk beeld van gebed.


Laat my gebed soos reukwerk voor u aangesig staan, die opheffing van my hande soos die aandoffer.   PSALMS 141:2 AFR53



30 November 2025


LUKAS 1:11 AFR53

Toe verskyn daar aan hom 'n engel van die Here, wat aan die regterkant van die reukofferaltaar staan.


En toe staan die engel langs die reukofferaltaar. Sagaria het waarskynlik sy oë toe gehad in passievolle gebed, want toe hy hulle oopmaak, skrik hy homself boeglam.


Wat ‘n gesig - 'n glorieryke, vreesaanjaende en ontslaglike wese. Sagaria is ontsteld en vrees oorval hom.


En toe Sagaría hom sien, was hy ontsteld, en vrees het hom oorval.  LUKAS 1:12 AFR53


Die engel sê vir Sagaria - wat hy sekerlik met elke verskyning moet doen - moenie vrees nie!


Dit is twyfelagtig dat Sagaria vir 'n seun gevra het toe hy by die goue reukofferaltaar gebid het. Eerstens sou dit selfsugtig wees en tweedens, aangesien hy en Elisabet albei op gevorderde ouderdom was, het hulle waarskynlik lankal opgegee op hierdie gebed.


Maar die engel sê sy gebed is verhoor en hy en Elisabet gaan ‘n seun baar en hulle moet hom Johannes noem.


Maar die engel sê vir hom: Moenie vrees nie, Sagaría, want jou gebed is verhoor, en jou vrou Elisabet sal vir jou 'n seun baar, en jy moet hom Johannes noem.   LUKAS 1:13 AFR53


Die engel het nie net die naam van die seun aan Sagaria gegee nie, maar ook sewe aspekte van hul seun Johannes se karakter uiteengesit.


1) Hy sal ‘n bron van blydskap en vreugde wees.


En hy sal blydskap en verheuging vir jou wees, en baie sal oor sy geboorte bly wees;   LUKAS 1:14 AFR53


2) Hy sal groot wees voor die Here.


3) Hy sal nooit wyn en sterk drank drink nie.


4) Hy sal reeds van die skoot van sy moeder met die Heilige Gees vervul wees.


want hy sal groot wees voor die Here. En wyn en sterk drank sal hy nooit drink nie, en hy sal vervul word met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy moeder af.   LUKAS 1:15 AFR53


5) Hy sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die Here hulle God.


En hy sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die Here hulle God.   LUKAS 1:16 AFR53


6) Sy bediening sou wees soos die van Elia.


7) Hy sal die voorloper van die Messias wees.


En hy sal voor Hom uit gaan in die gees en die krag van Elía, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here 'n toegeruste volk te berei.   LUKAS 1:17 AFR53



1 Desember 2025


LUKAS 1:18 AFR53

Toe sê Sagaría vir die engel: Waaraan sal ek dit weet? Want ek is 'n ou man, en my vrou is op ver gevorderde leeftyd.


Sagaria kan duidelik nie glo wat hy hoor nie en wil graag ‘n bewys he vir die engel se stelling. Logika sê vir hom dat hy en sy vrou te oud is om kinders te kry.


Gabriël herinner Sagaria aan wie hy is en waar hy vandaan kom. Daar is 'n groot kontras tussen ek is 'n ou man en ek is Gabriël — watter een dra meer gewig!


En die engel antwoord en sê vir hom: Ek is Gabriël wat voor God staan, en ek is gestuur om met jou te spreek en jou hierdie goeie tyding te bring.   LUKAS 1:19 AFR53


Sagaria het 'n prys betaal vir sy ongeloof. Sy ongeloof het nie veroorsaak dat God Sy belofte teruggetrek het nie, dit het net Sagaria daarvan weerhou om dit te geniet.


En kyk, jy sal swyg en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde wat op hulle tyd vervul sal word, nie geglo het nie.   LUKAS 1:20 AFR53


Die gebruik was dat die priester by die tempel moes uitkom sodra hy klaar gebid het, om die mense te verseker dat hy nie deur God doodgeslaan is nie. Sagaria se vertraging het die skare senuweeagtig begin maak.


En die volk het op Sagaría bly wag en was verwonderd dat hy so lank in die tempel vertoef.   LUKAS 1:21 AFR53


Toe Sagaria wel uitkom, moes hy op die tempeltrappe staan, oor die skare uitkyk, en die priesterlike seën oor die mense uitspreek, en die ander priesters sou dit na hom herhaal. Maar Sagaria kon nie praat nie, hy was stom!


Maar toe hy uitkom, kon hy met hulle nie praat nie; hulle bemerk toe dat hy 'n gesig in die tempel gesien het. En hy het aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly.   LUKAS 1:22 AFR53


Sagaria het wel sy tempeldiens voltooi en daarna huis toe gegaan.


En toe die dae van sy diens vervul was, het hy huis toe gegaan.   LUKAS 1:23 AFR53


Soos die engel Gabriël aan Sagaria gesê het, het Elisabet swanger geraak en sy het haarself vir vyf maande verberg.


En ná hierdie dae het Elisabet, sy vrou, ontvang en haar vyf maande lank verberg en gesê:   LUKAS 1:24 AFR53


Elisabet was dankbaar om na al die jare van wag, swanger te wees en het geseënd gevoel. God het haar smaad onder die mense weggeneem.


So het die Here met my gedoen in die dae toe Hy my aangesien het om my smaad onder die mense weg te neem.   LUKAS 1:25 AFR53



2 Desember 2025


LUKAS 1:26 AFR53

En in die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na 'n stad in Galiléa met die naam van Násaret,


Die engel Gabriël se werk was nie klaar met sy aankondiging aan Sagaria in die tempel nie. In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het die engel na 'n dorpie in Galilea gegaan.


Kronologies is dit die eerste melding van Nasaret in die Ou of Nuwe Testamente. Jesus sou vir ewig met hierdie plek geïdentifiseer word, en word Jesus van Nasaret genoem. Jesus se volgelinge is ook Nasareners genoem.


Maria was verloof aan Josef - daar was drie fases van 'n Joodse troue in daardie tyd.


- Kontrak (’n formele ooreenkoms wat deur die vaders bekragtig is)

- Verlowing (die seremonie waar wedersydse beloftes gemaak word)

- Huwelik (ongeveer een jaar later, wanneer die bruidegom op 'n onverwagte tyd sy bruid kom haal)


Wanneer 'n paartjie verloof was, was hulle onder die verpligting van getrouheid, en 'n egskeiding was nodig om die verlowing te verbreek. Dit was nie 'n terloopse belofte nie.


Maria word duidelik as 'n maagd beskou. Daar is geen dubbelsinnigheid oor hierdie idee nie – Maria het nog nooit seksuele verhoudings met enige man gehad nie.


na 'n maagd wat verloof was aan 'n man met die naam van Josef, uit die huis van Dawid; en die naam van die maagd was Maria.   LUKAS 1:27 AFR53


Gabriël sê drie dinge vir Maria. Elkeen hiervan was beslis waar van Maria, wat unieke was onder vroue van alle tye.


- Sy was begenadig.

- Die Here was met haar.

- Sy was geseënd onder die vroue.


En die engel het by haar binnegekom en gesê: Wees gegroet, begenadigde! Die Here is met jou; geseënd is jy onder die vroue.   LUKAS 1:28 AFR53


Maria was onkant gevang en ontsteld oor die engel Gabriël se woorde en het gewonder wat dit kon beteken.


En toe sy hom sien, was sy baie ontsteld oor sy woord, en sy het daaroor nagedink wat hierdie groet tog kon beteken.   LUKAS 1:29 AFR53


Weereens moet Gabriël die mens met wie hy praat gerusstel met ‘moenie vrees nie’! Dan gee hy sy boodskap. Jy het genade by God gevind, jy sal swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem.


En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. En kyk, jy sal swanger word en 'n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem.   LUKAS 1:30-31 AFR53



3 Desember 2025


LUKAS 1:32 AFR53

Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee,


Die fokus was nie op Maria nie, maar op 'n Seun wat Jesus genoem sou word. Hierdie Seun is onmiskenbaar geïdentifiseer as die Messias wat deur die Ou Testament geprofeteer is.


en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.   LUKAS 1:33 AFR53


Vyf belangrike voorspellings word oor die Messias gemaak:


1. Hy sal groot wees,

2. Hy sal die Seun van die Allerhoogste genoem word,

3. Die Here God sal aan Hom die troon van Sy vader Dawid gee,

4. Hy sal Koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en

5. Aan Sy koninkryk sal daar geen einde wees nie!


Maria sou verstaan ​​dat die engel met haar oor die Messias praat. Al vyf voorspellings handel oor die grootheid van die Seun, nie die grootheid van die moeder nie.


Maria vra ‘n logiese vraag, hoe? Sy het dieselfde vraag gevra as wat Sagaria gevra het. Sy vraag is egter gevra in skeptiese ongeloof, en haar vraag is gevra in verwonderde geloof.


Toe sê Maria vir die engel: Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie?   LUKAS 1:34 AFR53


Die engel antwoord Maria dat die Heilige Gees oor haar sal kom en die krag van die Allerhoogste sal haar oorskadu.


En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.   LUKAS 1:35 AFR53


Die woord oorskadu hier is dieselfde woord vir oordek in die Allerheiligste van Moses se tabernakel.


Toe het die wolk die tent van samekoms oordek, en die heerlikheid van die Here het die tabernakel vervul,   EXODUS 40:34 AFR53


Maria se baarmoeder sou 'n Allerheiligste word vir die Seun van God. Die Heilige Gees sou die wonderbaarlike bevrugting en maagdelike geboorte van Christus teweegbring.


Met so 'n verstommende belofte het Gabriël ook bewys gebring en verduidelik dat Elisabet swanger was. As God dit kon doen, kon Hy doen wat Hy vir Maria belowe het.


Die punt is duidelik en letterlik kan mens dit vertaal as:  geen woord van God sal kragteloos wees nie. God sal absoluut uitvoer wat Hy sê.


Maria reageer met 'n bevestiging van geloof: Laat dit met my wees volgens u woord!  ‘n Gepaste reaksie van elke gelowige op elke belofte van God.


En die engel het van haar weggegaan.


En kyk, Elisabet, jou bloedverwant, het self ook 'n seun ontvang in haar ouderdom, en hierdie maand is die sesde vir haar wat onvrugbaar genoem is. Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie. En Maria sê: Hier is die diensmaagd van die Here. Laat dit met my gaan volgens u woord. En die engel het van haar weggegaan.   LUKAS 1:36-38 AFR53



4 Desember 2025


LUKAS 1:39 AFR53

En in daardie dae het Maria opgestaan en haastig na die bergstreek gegaan, na 'n stad van Juda


Maria het van die engel Gabriel gehoor dat haar familielid Elisabet, swanger was. Sy weet dat sy haar ondervinding met die engel Gabriel, met Elisabet kan deel, sy sal verstaan.


Sy het die aansienlike afstand (êrens tussen 130 en 160 km) van die gebied van Galilea na die heuwelagtige gebied van Judea afgelê vir hierdie besoek.


en sy het in die huis van Sagaría gekom en Elisabet gegroet.   LUKAS 1:40 AFR53


Toe Elisabet vir Maria sien, het haar ongebore kind – Johannes die Doper – in haar skoot gespring, want hy was vol vreugde.


Alhoewel Johannes nog nie gebore was nie, het hy 'n geestelike bewustheid gehad en kon hy op die Gees van God reageer.


En toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in haar skoot opgespring; en Elisabet is vervul met die Heilige Gees.  LUKAS 1:41 AFR53


Johannes die Doper was nog nie gebore nie, en Sagaria was nog steeds stom. Tog het Elisabet die woord van die Here geglo wat aan haar man Sagaria gegee was tydens sy tempeldiens.  In die tempel het Gabriël vir hom gesê dat hulle beloofde seun 'n volk vir die Here sou voorberei.


en het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Geseënd is jy onder die vroue, en geseënd is die vrug van jou skoot!   LUKAS 1:42 AFR53


Elisabet het dit geglo, en ook geglo dat die baba in Maria se skoot die Here was vir wie haar seun die weg sou voorberei (die moeder van my Here). Elisabet het dit geglo omdat sy met die Heilige Gees vervul was.


En wat het my oorgekom dat die moeder van my Here na my toe kom?   LUKAS 1:43 AFR53


Elisabet vertel vir Maria dat, toe die kindjie in haar skoot Maria se stem gehoor het, het hy van vreugde opgespring.


Want kyk, toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my skoot van vreugde opgespring.   LUKAS 1:44 AFR53


Elisabet het erken dat Maria se geloof 'n aktiewe rol gespeel het in die ontvangs van die belofte.


Sy het verklaar dat Maria geseënd was omdat sy geglo het wat aan haar gesê is en dat dit wat die Here aan haar oorgedra het wel vervul sal word.


En salig is sy wat geglo het, want die dinge wat deur die Here aan haar gesê is, sal vervul word.   LUKAS 1:45 AFR53



5 Desember 2025


LUKAS 1:46-47 AFR53

En Maria het gesê: My siel maak die Here groot, en my gees is verheug in God, my Saligmaker;


Die lied wat Maria in hierdie gedeelte voordra, demonstreer haar vertroudheid met die Ou Testament. Verskeie van haar kommentare haal die Skrif aan of verwys daarna. Die eerste deel van haar lied klink baie soos 1 Samuel 2:1–10 wat vertel van Hanna wat bly is omdat sy ‘n kind verwag.


Maria het duidelik verstaan ​​dat sy 'n sondaar was wat verlossing nodig het, en daarom noem sy God haar Saligmaker. Haar loflied verklaar wat God doen en hoe Hy red, sonder om te suggereer dat sy 'n aktiewe deel van daardie proses is. Sy is geëerd en bly om God se plan te gehoorsaam en Sy wil te volg.


Maria het verstaan ​​dat die geboorte van die Seun van God 'n groot eer en verantwoordelikheid was. Soos sy hier voorspel, het geslagte van daardie tyd af, haar voorreg verstaan.


omdat Hy die nederige toestand van sy diensmaagd aangesien het; want kyk, van nou af sal al die geslagte my salig noem.   LUKAS 1:48 AFR53


Hier gee sy weer alle krediet vir hierdie wonderwerk aan God. Sy erken dat God kragtig en heilig en barmhartig is vir geslag tot geslag wat Hom eer. Die vrees waarvan Maria hier praat, is eerbied en ontsag vir God en nie volslae vrees nie.


Want Hy wat magtig is, het groot dinge aan my gedoen, en heilig is sy Naam. En sy barmhartigheid is van geslag tot geslag vir die wat Hom vrees.   LUKAS 1:49-50 AFR53


God se werk onderhou diegene wat behoeftig is. Terselfdertyd demonstreer Hy dat aardse rykdom geen ewige waarde het nie.


Hy het deur sy arm kragtige dade gedoen. Hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart het Hy verstrooi. Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog. Hongeriges het Hy met goeie dinge vervul en rykes met leë hande weggestuur.   LUKAS 1:51-53 AFR53


Profesieë oor 'n Beloofde Een was gesentreer rondom die nasie van Israel. Die Messias sou uit die stam van Juda, en die familielyn van Dawid kom. Hy sou die beloftes wat aan die Joodse voorouers Abraham, Isak en Jakob gemaak is, ten volle vervul. Jesaja teken aan dat God na Israel as Sy dienaar verwys het en belowe het om die nasie nie te verlaat nie. Dit demonstreer weereens die genade wat God betoon aan diegene wat Hom vertrou en eer.


Hy het sy kneg Israel bygestaan, sodat Hy aan sy barmhartigheid sou dink —.  LUKAS 1:54 AFR53


Elke geslag sedert Abraham het toenemend meer van God se beloftes sien waar word. God se verklaring dat Jesus Christus gebore sal word, bevestig Sy belofte om die volk van Israel nie te vergeet nie.


soos Hy tot ons vaders gespreek het — aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid.   LUKAS 1:55 AFR53


Maria het moontlik by Elisabet gebly tot haar seun, Johannes die Doper, gebore is, en toe het sy huis toe gegaan.


En Maria het by haar omtrent drie maande gebly; en sy het teruggegaan na haar huis toe.   LUKAS 1:56 AFR53



6 Desember 2025


MATTHÉÜS 1:18 AFR53

Die geboorte van Jesus Christus was dan só: Toe sy moeder Maria verloof was aan Josef, voordat hulle saamgekom het, is sy swanger bevind uit die Heilige Gees.


Mattheus vertel ons nie eintlik van die geboorte van Jesus nie, Lukas doen dit. Mattheus vertel ons eerder waar Jesus vandaan kom, en hy vertel die storie deur die oë van Josef.


Dit word baie duidelik gestel dat Josef nie met Maria gemeenskap gehad het vóór haar swangerskap nie, en ook nie ná die tyd tot en met Jesus se geboorte nie (verse 18 en 25). 


Die goddelikheid van Jesus se geboorte word daarmee beklemtoon (die swangerskap is uit die Heilige Gees, nie uit Josef nie), sowel as die menslikheid daarvan (Jesus is uit Maria gebore, nie uit ’n engel of een of ander ander geestelike of goddelike wese nie). 


Dié getuienis het tot die belydenis van die maagdelike geboorte gelei, hoewel dit duidelik ook ’n goddelike geboorte was.


As 'n regverdige man het Josef geweet dat as Maria ontrou aan hom was, dit onmoontlik sou wees om met die huwelik voort te gaan. Tog wou hy, as 'n regverdige man, nie hierdie onnodige stigma op Maria plaas nie. Josef het die verstaanbare besluit geneem om in die geheim van Maria te skei.


In die Joodse kultuur van daardie tyd was 'n verlowing bindend en 'n mens het 'n egskeiding nodig gehad om die reëling te verbreek.


En Josef, haar man, omdat hy regverdig was en onwillig om haar openbaar te maak, het hom voorgeneem om in die geheim van haar te skei.   MATTHÉÜS 1:19 AFR53


‘n Engel het egter aan Josef verskyn en hom bemoedig met die feit dat Maria se swangerskap deur die Heilige Gees gebeur het, en dat hy dus met haar kon trou.


Maar terwyl hy dit in die gedagte gehad het, verskyn daar 'n engel van die Here in 'n droom aan hom en sê: Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees;   MATTHÉÜS 1:20 AFR53


Die engel het verder vir Josef gesê dat Maria ‘n seun sou baar en hy moet Hom Jesus noem.


en sy sal 'n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.  En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.   MATTHÉÜS 1:21-23 AFR53


Jesaja se profesie van die maagdelike geboorte is hier vervul.


Daarom sal die Here self aan julle 'n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar en hom Immánuel noem.   JESAJA 7:14 AFR53


Josef het uit sy slaap wakker geword en gedoen soos die engel hom beveel het. Hy het Maria sy vrou gemaak en toe die Seun gebore is, het hulle Hom Jesus genoem.


En toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gedoen soos die engel van die Here hom beveel het en sy vrou by hom geneem; en hy het haar nie beken totdat sy haar eersgebore Seun gebaar het nie; en hy het Hom Jesus genoem.   MATTHÉÜS 1:24-25 AFR53



7 Desember 2025


LUKAS 1:57 AFR53

En die tyd dat sy moeder moes word, is vir Elisabet vervul, en sy het 'n seun gebaar.


Die belofte is vervul net soos God gesê het dit sou wees. God hou altyd Sy beloftes.


Elisabet se bure en bloedverwante was saam met haar bly.


En toe haar bure en bloedverwante hoor dat die Here sy barmhartigheid aan haar groot gemaak het, was hulle saam met haar bly.   LUKAS 1:58 AFR53


Dit het Gabriël se belofte vervul wat vroeër opgeteken is dat baie sal bly wees oor sy geboorte.


En hy sal blydskap en verheuging vir jou wees, en baie sal oor sy geboorte bly wees;   LUKAS 1:14 AFR53


Verskeie verse fokus op en beklemtoon die gehoorsaamheid van Sagaria en Elisabet. Die twee ouer mense was versigtig om die Wet te volg en het daarom hul seun op die agtste dag besny. Natuurlik was daar baie mense teenwoordig by die besnydenis en hulle wou almal die nuwe baba Sagaria noem, die naam van sy vader.


En op die agtste dag het hulle gekom om die kindjie te besny, en hulle wou hom Sagaría noem, na die naam van sy vader.   LUKAS 1:59 AFR53


Elisabet keer egter en sê dat die seun se naam Johannes moet wees.


Toe antwoord sy moeder en sê: Nee, maar hy moet Johannes genoem word.   LUKAS 1:60 AFR53


Die groep mense verstaan nie die naam Johannes nie, want dit is glad nie ‘n familienaam nie. Hulle draai toe na Sagaria om sy opinie oor die saak te kry. Hy is nog stom na sy ontmoeting met die engel in die tempel en skryf op ‘n skryfbordjie: Johannes is sy naam!

Dit het almal verwonderderd gelaat.


En hulle sê vir haar: Daar is niemand in jou familie wat dié naam het nie. En hulle beduie vir sy vader hoe hy wou hê dat hy genoem moes word. Hy vra toe 'n skryfbordjie en skryf: Johannes is sy naam. En almal was verwonderd.   LUKAS 1:61-63 AFR53


Sagaria se gehoorsaamheid maak dat sy straf tot ‘n einde kom, en hy kry onmiddelik sy spraak terug en hy loof God.


En onmiddellik is sy mond geopen en het sy tong losgeraak, en hy het gepraat en God geloof.   LUKAS 1:64 AFR53


Die woord vrees dui dikwels op godsdienstige eerbied. Die merkwaardige omstandighede met die geboorte van Johannes, en die feit dat Sagaria skielik weer kon praat, het die omstanders oortuig dat God wel daar was, en het hulle gedagtes met ontsag en eerbied gevul.


Almal wat daar was het vermoed dat Johannes as 'n profeet bekend sou staan, of dat ‘n groot gebeurtenis uit sy lewe sou voortspruit.


En daar het vrees gekom oor almal wat rondom hulle gewoon het, en daar is baie gepraat oor al hierdie dinge in die hele bergstreek van Judéa. En almal wat dit gehoor het, het dit ter harte geneem en gesê: Wat sal tog van hierdie kindjie word? En die hand van die Here was met hom.   LUKAS 1:65-66 AFR53



8 Desember 2025


LUKAS 1:67 AFR53

En Sagaría, sy vader, is vervul met die Heilige Gees en het geprofeteer en gesê:


Die profetiese stem van God was stil vir 400 jaar, maar nie meer nie. God het die engel Gabriël gebruik om met Elisabet, Maria en ook met en deur Sagaria te praat en die tema was deurentyd Jesus en Sy werk.


Sagaria vier die geboorte van sy seun wat sal groei tot 'n kragtige voorloper van die Messias.


'n Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die Here; maak gelyk in die wildernis 'n grootpad vir onse God!   JESAJA 40:3 AFR53


Kyk, Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan; dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle 'n begeerte het. Kyk, Hy kom, sê die Here van die leërskare.   MALEÁGI 3:1 AFR53


Sy profesie kom in die vorm van 'n lied, met baie verwysings na die Ou Testament. Sagaria wys God se diep verbintenis met die volk van Israel en Sy belofte om Sy uitverkore volk te verlos.


Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het,   LUKAS 1:68 AFR53


Om na Jesus as 'n horing van heil te verwys, weerspieël die idee dat die Messias uit die geslag van Dawid sal wees.


en 'n horing van heil vir ons opgerig het in die huis van Dawid, sy kneg.  LUKAS 1:69 AFR53


In Bybelse tekste is horings simbolies van mag soos ons hier in Daniel lees.


Daarna het ek in die naggesigte gesien, en kyk, daar was 'n vierde dier, vreeslik en skrikwekkend en baie sterk, en dit het groot ystertande gehad; dit het verslind en vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap; en dit was verskillend van al die diere wat voor hom gewees het, en dit het tien horings gehad.   DANIËL 7:7 AFR53


Ou Testament profete het geprofeteer dat Jesus uit die stam van Dawid sou kom.


Daar sal Ek vir Dawid 'n horing laat uitspruit; Ek het vir my gesalfde 'n lamp toeberei.   PSALMS 132:17 AFR53


Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek vir Dawid 'n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land.   JEREMIA 23:5 AFR53


Toe Hanna, moeder van die profeet Samuel, God geprys het vir haar seun se geboorte, het sy soortgelyke frases gebruik.


Die wat met die Here twis, word verpletter; oor hulle donder Hy in die hemel; die Here oordeel die eindes van die aarde, en Hy gee sterkte aan sy koning en verhef die horing van sy gesalfde.   I SAMUEL 2:10 AFR53



9 Desember 2025


LUKAS 1:70 AFR53

soos Hy gespreek het deur die mond van sy heilige profete van ouds af —


God het in die Ou Testament baie beloftes gemaak oor die Verlosser, Jesus Christus, en dan ook die besonderhede oor Sy geboorte. Dit het die feit ingesluit dat die Messias maagdelik gebore sou word.


Daarom sal die Here self aan julle 'n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar en hom Immánuel noem.   JESAJA 7:14 AFR53


Die profesieë het genoem dat Jesus uit die geslag van Dawid sou wees,


Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek vir Dawid 'n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land.   JEREMIA 23:5 AFR53


en die mag wat Hy sou uitoefen.


Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors — tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen.   JESAJA 9:5-6 AFR53


Ander profesieë het 'n voorloper genoem om die wêreld voor te berei vir Jesus se boodskap.


'n Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die Here; maak gelyk in die wildernis 'n grootpad vir onse God!   JESAJA 40:3 AFR53


Sagaria, die man wat die woorde van hierdie gedeelte spreek, is die vader van daardie voorloper.


Sagaria kyk in sy lied nou terug na God se ingryping by die Rooi See waar Hy Sy volk uit die hande van die Egiptenare gered het.


redding van ons vyande en uit die hand van almal wat vir ons haat,    LUKAS 1:71 AFR53


Die uittog uit Egipte was beide 'n letterlike redding uit slawerny asook 'n kragtige simbool van geestelike verlossing.


So was ons ook, toe ons kinders was, in diensbaarheid onder die eerste beginsels van die wêreld. Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit 'n vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.   GALÁSIËRS 4:3-5 AFR53


Daardie redding het bewys dat God se beloftes aan manne soos Abraham en Isak waar was.


om barmhartigheid te bewys aan ons vaders en aan sy heilige verbond te dink,   LUKAS 1:72 AFR53


'n Unieke aspek van Bybel profesieë is dat diegene wat dit eerste hoor, dikwels nie die beloftes se vervulling tydens hul aardse lewens sien nie. Diegene wat daarna kom, het die voordeel om te sien hoe God Sy waarborge nagekom het.


In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.   HEBREËRS 11:13 AFR53



10 Desember 2025


LUKAS 1:73 AFR53

aan die eed wat Hy gesweer het vir Abraham, ons vader, om aan ons te gee


Israel se mees gekoesterde profesie was die belofte om 'n Messias – 'n Verlosser – te stuur om die bose en sonde eens en vir altyd te verslaan.


Dit was die uiteindelike einde van die eed wat hier genoem word, wat God met patriarge soos Abraham bevestig het.


en sê: Ek sweer by Myself, spreek die Here, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem. En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het.   GÉNESIS 22:16-18 AFR53


Elke geslag in die Ou Testament het sedertdien geleef en gesterf sonder om daardie belofte ten volle vervul te sien. Sagaria egter, vier ‘n vervulde profesie met die geboorte van sy seun Johannes. Hy verwag ook die geboorte van Jesus Christus, die Messias.


dat ons, verlos uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien, in heiligheid en geregtigheid voor Hom, al die dae van ons lewe.   LUKAS 1:74-75 AFR53


Sagaria se kind sal eendag bekend staan ​​as Johannes die Doper. Hy sal 'n rol vervul wat in Ou Testamentiese profesieë vasgestel is. Jesaja het geprofeteer dat daar 'n stem sou wees wat uitroep om mense voor te berei vir die koms van die Messias. Die laaste profeet van die Ou Testament, Maleagi, het ook opgemerk dat iemand sou kom om die wêreld voor te berei vir die koms van die Messias. Dit is die rol wat Johannes, Sagaria se seun, sal speel.


En jy, kindjie, sal 'n profeet van die Allerhoogste genoem word, want jy sal voor die aangesig van die Here uitgaan om sy weë reg te maak;   LUKAS 1:76 AFR53


Johannes sal die noodsaaklikheid van bekering verkondig, terwyl hy mense na die Verlosser wys. Johannes die Doper sal baie duidelik wees oor sy minderwaardigheid teenoor Jesus. Sy doel is om ander te vertel om Jesus te volg.


om kennis van saligheid aan sy volk te gee in die vergifnis van hulle sondes,   LUKAS 1:77 AFR53


Ou Testamentiese profesieë het die koms van 'n Verlosser verwag wie se bediening die konsep van 'n lig ingesluit het.


deur die innige barmhartigheid van onse God waarmee die opgaande Lig uit die hoogte ons besoek het, om te skyn oor die wat in duisternis en doodskaduwee sit, om ons voete na die pad van vrede te rig.   LUKAS 1:78-79 AFR53


Die vervulling van daardie voorspelling kom in die vorm van Jesus Christus.


Die volk wat in duisternis wandel, het 'n groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het 'n lig geskyn.   JESAJA 9:1 AFR53


Johannes het gegroei met merkbare krag van die Gees. Sy wonderbaarlike geboorte en ongewone persoonlikheid het bygedra tot belangstelling in sy boodskap. Die boodskap het daarop gefokus om mense na die Messias, Jesus, te lei.


En die kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees; en hy was in die woestyne tot op die dag van sy vertoning aan Israel.   LUKAS 1:80 AFR53



11 Desember 2025


LUKAS 2:1 AFR53

En in daardie dae het daar 'n bevel uitgegaan van keiser Augustus dat die hele wêreld ingeskryf moes word.


Lukas verbind die verhaal van die Verlosser aan die gebeure op die wêreldfront ter wille van die konteks daarvan. Daarom dat hy verwys na die keiser en die goewerneur van sy tyd - dit gee vir die leser tydmerkers.


Die verhaal van Jesus se geboorte het begin tydens die heerskappy van keiser Augustus.


Keiser Augustus is in Rome gebore op 23 September 63 v.C. as Gaius Octavius en hy sterf op 19 Augustus 14 n.C. in Nola naby Napels.


Hy was die hooferfgenaam van Julius Ceasar en het die politieke magstryd gewen wat ná die moord op Caesar in 44 v.C. uitgebreek het. In 31 v.C. word hy alleenheerser van die Romeinse Ryk en maak 'n einde aan die burgeroorloë wat 'n eeu lank gewoed het.


Met sy slagsprek restitutio rei publicae - herstel die republiek - het keiser Augustus daarop  aanspraak gemaak dat hy die ou politieke orde sou herstel, maar met sy beleid het hy die republikeinse staatsstruktuur omskep in 'n monargiese stelsel en 'n soort militêre diktatuur met diktatoriale magte vir homself geskep.


Sy heerskappy het nogtans 'n lang tyd van binnelandse vrede gebring wat later as Pax Augusta opgeteken is.


Keiser Augustus het regeer, maar God was in beheer. God het Augustus se bevel gebruik om Maria en Josef kilometers te laat trek om Sy profetiese plan te vervul.


Die registrasie en sensus wat beskryf word, was nie vir eenvoudige rekordhouding of statistieke nie. Dit was om almal in die Romeinse Ryk doeltreffend en effektief te belas.


Die gebruik van 'n sensus vir belastingdoeleindes was algemeen in antieke Rome, daarom het Lukas hierdie een die eerste inskrywing genoem om dit te onderskei van die bekende inskrywing in 6 n.C. wat hy later in Handelinge 5 genoem het.


En ná hom het Judas, die Galiléër, opgestaan, in die dae van die inskrywing, en 'n aansienlike getal mense afvallig gemaak agter hom aan. Hy het ook omgekom, en almal wat na hom geluister het, is verstrooi.   HANDELINGE 5:37 AFR53


Cirenius as goewerneur van Sirië was nog 'n historiese anker wat Lukas se weergawe verbind met die heerskappy van bekende, verifieerbare historiese mense.


Hierdie eerste inskrywing het plaasgevind toe Cirénius goewerneur van Sírië was.   LUKAS 2:2 AFR53


Dit is indrukwekkend dat een man, in die ivoorpaleise van Rome, 'n bevel kon gee, en die hele wêreld reageer. Dit mag heel moontlik wees dat daar tot op daardie stadium nog nooit 'n man was met soveel mag oor soveel lewens as keiser Augustus nie.


Almal moes reis, en almal moes belasting betaal – maar hulle sou ook saam met familie bymekaar kom en familielede sien wat hulle dalk lanklaas gesien het, want elkeen moes na sy eie stad gaan.


En almal het gegaan om ingeskryf te word, elkeen na sy eie stad.   LUKAS 2:3 AFR53



12 Desember 2025


LUKAS 2:4 AFR53

En Josef het ook opgegaan van Galiléa, uit die stad Násaret, na Judéa, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy uit die huis en geslag van Dawid was,


Bethlehem was  ongeveer 85 km vanaf Nasaret. Dit was nie 'n kort entjie in daardie dae nie, dit was 'n beduidende onderneming wat tyd en geld gekos het.


Die naam Betlehem is betekenisvol en beteken letterlik huis van brood - Jesus is die brood

van die lewe.


Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee.   JOHANNES 6:51 AFR53


Betlehem is ook die plek waar Rut en Naomi (in die Rigtertyd) nie net fisiese brood gekry het nie, maar Rut, die Moabiet, wat met Boas getrou het, het Jesus se voorouer geword.


En mag jou huis word soos die huis van Peres wat Tamar vir Juda gebaar het — uit die nageslag  wat die Here jou uit hierdie jong vrou sal gee! So het Boas Rut dan geneem, en sy het sy vrou geword; en hy het by haar ingegaan, en die Here het vir haar swangerskap gegee, en sy het 'n seun gebaar.   RUT 4:12-13 AFR53


Betlehem Efrata was ook profeties die plek waar Jesus gebore moes word.


En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat 'n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.   MIGA 5:1 AFR53


Josef en Maria was in Betlehem vir die volkstelling omdat hulle uit die huis en die geslag van Dawid was.


om hom te laat inskrywe saam met Maria, die vrou aan wie hy hom verloof het, wat swanger was.   LUKAS 2:5 AFR53


Terwyl die paartjie in Betlehem was het dit tyd geword vir Maria om geboorte te gee aan haar Seun.


En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar;   LUKAS 2:6 AFR53


Een van die treffende dinge van Lukas is hoe eenvoudig die verhaal vertel word in teenstelling met hoe groot die gebeure eintlik was.


Ons word nie vertel of iemand Maria bygestaan het met die geboorte nie, maar ons word wel vertel dat haar Seun gebore is, dat sy Hom met doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê het omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.


en sy het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en Hom in die krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.   LUKAS 2:7 AFR53



13 Desember 2025


LUKAS 2:8 AFR53

En daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het.


Die boodskap van Jesus kring uit na die skaapwagters wat nie gerekende mense in daardie tyd was nie.


Dit was bekend dat Bethlehem se herders die tempeltrop versorg het. Hierdie manne het dalk ook die lammers wat in tempeloffers gebruik is beskerm en versorg.


Die herders bly in die oop veld waar hulle wag hou oor hul skape, en meteens onderbreek ‘n engel hierdie groepie skaapwagters. In die stil en donker nag is daar skielik die helder teenwoordigheid van 'n engel en die heerlikheid van die Here.


En meteens staan daar 'n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig.   LUKAS 2:9 AFR53


Hierdie engel het die goeie tyding aan die herders gebring. Die goeie tyding beteken letterlik dat die evangelie verkondig is - die evangelie van groot blydskap vir die hele volk.


En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees,   LUKAS 2:10 AFR53


Die engel noem Jesus met drie name wat Sy hele bediening uitbeeld:


Saligmaker – dit is ’n sinoniem vir die naam Jesus wat ook Verlosser of Redder beteken en wat dui op die doel van Sy koms.


Christus is 'n titel - Christos, die Griekse ekwivalent van die Hebreeuse woord Meshiach of Messias, wat gesalfde beteken.


Here – Kurios – die Griekse woord wat Jode gebruik het om die Hebreeuse naam vir God in die Ou Testament, JAHWE, te vertaal, en waarmee Jesus se Goddelike status aangedui word.


dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.   LUKAS 2:11 AFR53


Die herders moes instruksies ontvang, want dit wat vir hulle gesê was en dit waarvoor hulle moes soek, het nie bymekaar gepas nie.


Die was ‘n oorweldigende kontras tussen die dinge wat so pas van Hom gesê is en die nederige toestand waarin hulle Hom sou vind.


En dit is vir julle die teken: julle sal 'n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê.   LUKAS 2:12 AFR53



14 Desember 2025


LUKAS 2:13 AFR53

En skielik was daar saam met die engel 'n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê:


Die een engel is nie meer alleen nie. ‘n Menigte van die hemelse leërskare is skielik ook op die toneel en hulle prys God en sê: Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense 'n welbehae!


Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense 'n welbehae!   LUKAS 2:14 AFR53


Na die wonderlike skouspel is die engele terug na hul woonplek in die hemel en die herders praat met mekaar. Hulle besluit om na Betlehem te gaan om self te sien wat gebeur het. Dit wat die Here aan hulle bekend gemaak het.


En toe die engele van hulle weggegaan het na die hemel, sê die herders vir mekaar: Laat ons dan na Betlehem gaan en hierdie ding sien wat gebeur het, wat die Here aan ons bekend gemaak het.   LUKAS 2:15 AFR53


Hulle haas toe na Betlehem en kry daar vir Maria, Josef en die Kindjie wat in die krip lê, presies soos aan hulle bekend gemaak is.


En hulle het met haas gegaan en Maria en Josef gevind en die kindjie wat in die krip lê.   LUKAS 2:16 AFR53


Die kombinasie van die engele se aankondiging en die teken van die Kindjie in ‘n krip, het die herders geïnspireer om soveel moontlik mense te vertel van wat hulle gehoor en ervaar het.


En toe hulle dit gesien het, het hulle oral die woord bekend gemaak wat aan hulle van dié Kindjie vertel is.   LUKAS 2:17 AFR53


Die herders se goeie nuus het almal wat dit gehoor het, verbaas. Selfs al het hulle dit nie regtig verstaan ​​nie, het hulle besef dat iets betekenisvols gebeur het.


En almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat deur die herders aan hulle vertel is;   LUKAS 2:18 AFR53


Maria se reaksie was anders as die van die herders of die wat van die herders gehoor het. Sy het dit alles kalm ingeneem en in haar hart daaroor gepeins in 'n poging om die diep betekenis daarvan te verstaan.


maar Maria het al hierdie woorde bewaar en in haar hart oordink.   LUKAS 2:19 AFR53


Die herders het toe ook teruggegaan na hul blyplek en God geprys oor wat met hulle gebeur het.


En die herders het teruggegaan en God verheerlik en geprys oor alles wat hulle gehoor en gesien het, net soos aan hulle gesê is.   LUKAS 2:20 AFR53



15 Desember 2025


LUKAS 2:21 AFR53

En toe agt dae vervul was, dat hulle die Kindjie sou besny, het hulle Hom Jesus genoem, die naam wat deur die engel gegee is voor sy ontvangenis in die moederskoot.


Die besnydenis op die agtste dag is gedoen sodat Jesus elke aspek van die wet kon vervul - soos beveel in Levitikus 12.


Spreek met die kinders van Israel en sê: As 'n vrou swanger word en 'n seun baar, sal sy sewe dae lank onrein wees; soos in die dae van die onreinheid as sy onwel is, sal sy onrein wees. En op die agtste dag moet hy aan die vlees van sy voorhuid besny word.   LEVÍTIKUS 12:2-3 AFR53


Dit wys ook dat Josef en Maria werklik vroom, gehoorsame ouers was. Hulle het God se wet  gehoorsaam, en so het Jesus dit ook gehoorsaam.


Die besnydenis- en reinigingseremonies was nodig as 'n herinnering dat ons almal in sonde gebore word. Jesus kon verskoon gewees het omdat Hy nie in sonde gebore was nie. Tog sien ons dat Hy selfs as 'n baba, Hom met sondaars identifiseer, soos Hy ook later by Sy doop en aan die kruis gedoen het.


Josef en Maria was deur die Wet verplig om hul eersgebore Seun 33 dae later na God in die tempel in Jerusalem te bring.


Dan moet sy drie-en-dertig dae in die reinigingsbloed bly. Aan niks wat heilig is, moet sy raak nie en in die heiligdom mag sy nie kom nie totdat die dae van haar reiniging verby is.   LEVÍTIKUS 12:4 AFR53


Na die reiniging tydperk verby was, het hulle Jesus aan God, in die tempel, voorgestel


En nadat die dae van haar reiniging volgens die wet van Moses vervul was, het hulle Hom na Jerusalem gebring om Hom aan die Here voor te stel, soos geskrywe is in die wet van die Here: Elke manlike kind wat die moederskoot open, sal heilig vir die Here genoem word;   LUKAS 2:22 23 AFR53


Levitikus het verder beveel dat 'n lam by die geboorte van 'n seun as deel van die reinigings- en toewydingseremonie geoffer moet word. Tog het die wet toegelaat dat twee voëls geoffer word as die gesin dit nie kon bekostig om 'n lam aan te bied nie.


Die offer van die twee duiwe in plaas van die lam is tegnies die offer van die armes genoem.


Dit dui daarop dat alles gebeur het voordat die wyse manne uit die Ooste gekom het.


Maria en Josef sou nie na Jerusalem teruggekeer het nadat hulle deur die engel gewaarsku is nie, en hulle sou nie net twee voëls geoffer het nadat hulle die ryk geskenke van die wyse manne ontvang het nie.


en om die offer te gee volgens wat gesê is in die wet van die Here: 'n paar tortelduiwe of twee jong duiwe.   LUKAS 2:24 AFR53



16 Desember 2025


LUKAS 2:25 AFR53

En daar was 'n man in Jerusalem met die naam van Símeon; en hierdie man was regverdig en vroom en het die vertroosting van Israel verwag, en die Heilige Gees was op hom.


Soos Anna, Sagaria en Elisabet, was Simeon deel van die getroue Joodse oorblyfsel. Anders as die godsdienstige leiers, het hy gewag vir die Messias, die Een wat vertroosting aan die nasies sou bring.


Die Heilige Gees het aan hom openbaar dat hy eers sou sterf nadat hy die Christus van die Here gesien het.


En aan hom was dit deur die Heilige Gees geopenbaar dat hy die dood nie sou sien voordat hy die Christus van die Here gesien het nie.   LUKAS 2:26 AFR53


Die Heilige Gees het Simeon daardie dag na die tempel gelei. Hy was 'n man wat geweet het hoe om deur die Heilige Gees gelei te word, beide deur God se belofte aan hom en deur die aansporing om op die regte tyd na die tempel te gaan.


Dit was vir Simeon ‘n groot voorreg om die Kindjie Jesus in sy arms te neem en hy het God geloof en geprys.


En hy het deur die Gees in die tempel gekom; en toe die ouers die Kindjie Jesus inbring om met Hom te handel volgens die gebruik van die wet, het hy Hom in sy arms geneem en God geloof en gesê:   LUKAS 2:27-28 AFR53


Simeon het nou die vrede gehad om te sien hoe God se belofte in sy lewe vervul word. Dit was asof Simeon deur God beveel was om 'n eensame wag deur die nag te hou totdat hy die son kon sien opkom. Dit was nou vir hom God se sonsopkoms, en omdat Jesus gekom het, kon Simeon van sy wag verlig word.


Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord, omdat my oë u heil gesien het,   LUKAS 2:29-30 AFR53


Die verstommende ding omtrent Simeon se profesie is dat dit wys dat hierdie lig ook vir die heidene is. Die verlossing van Jesus het met Israel begin, maar sou altyd verder as Israel uitgebrei word.


wat U berei het voor die oë van al die volke — 'n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel.   LUKAS 2:31-32 AFR53


Josef en Maria was verwonderd oor alles wat van hul Kindjie gesê is.


En Josef en sy moeder het hulle verwonder oor die dinge wat van Hom gesê is.   LUKAS 2:33 AFR53


Simeon het aan Maria probeer verduidelik dat om die Messias se ouers te wees beide 'n groot voorreg en 'n groot las sou wees.


En Símeon het hulle geseën en aan Maria, sy moeder, gesê: Kyk, hierdie Kind is bestemd tot 'n val en 'n opstanding van baie in Israel en tot 'n teken wat weerspreek sal word — ja, 'n swaard sal deur jou eie siel gaan — sodat die gedagtes uit baie harte openbaar kan word.   LUKAS 2:34-35 AFR53



17 Desember 2025


LUKAS 2:36 AFR53

En daar was Anna, 'n profetes, die dogter van Fánuel, uit die stam van Aser. Sy was op baie ver gevorderde leeftyd en het van haar maagdom af sewe jaar lank met haar man saamgelewe;


Josef, Maria en die baba Jesus het so pas vir Simeon, 'n vroom man teëgekom terwyl hulle in die tempel in Jerusalem was. Simeon is deur die Heilige Gees na die tempel gelei, spesifiek vir hierdie ontmoeting met Jesus en Sy familie. Hierdie vers stel 'n ander persoon voor wat blykbaar op dieselfde manier gelei is: 'n vrou met die naam Anna.


Die Skrif gee geen besonderhede oor Anna behalwe wat in hierdie verse beskryf word nie. Afhangende van hoe 'n mens hierdie gedeelte vertaal, is sy óf vier-en-tagtig jaar oud, óf het sy vier-en-tagtig jaar geleef sedert die dood van haar man. Die eerste opsie lyk die mees korrekte.


Anna word beskryf as ‘n profetes wat haar lewe meestal in gebed en vas deurgebring het. Die Bybel verduidelik nie presies wat sy gedoen het om hierdie benaming te verdien nie.


en sy was 'n weduwee van omtrent vier-en-tagtig jaar. Sy het nie weggebly van die tempel nie, en met vaste en gebede God gedien, nag en dag.   LUKAS 2:37 AFR53


Ander vroue in die Ou Testament, soos Miriam (Eksodus 15:20) en Debora (Rigters 4:4), is met dieselfde titel genoem.


Anna, soos Simeon, is aan God toegewy. Wanneer sy Jesus – die Messias – sien, begin sy Sy koms aan almal verkondig. Haar begrip van Jesus se rol gebruik soortgelyke bewoording as dié van Simeon. Jesus word na verwys as die verlosser van Israel, net soos Simeon uitgesien het na die vertrooster van Israel.


En sy het in dieselfde uur daar gekom en die Here geprys en van Hom gespreek met almal in Jerusalem wat die verlossing verwag het.    LUKAS 2:38 AFR53


Ou-Testamentiese profesieë het aangedui dat die Messias 'n ewige koninkryk vir Israel sou inlui.


Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors — tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen.   JESAJA 9:5-6 AFR53


Josef en Maria was versigtig om al die instruksies in die Wet van Moses te volg. Dit het ingesluit dat Jesus besny is toe Hy agt dae oud was. Dit het ook beteken dat hulle ongeveer 'n maand later offers vir die rituele reiniging moes bring. Reiniging is by die tempel in Jerusalem gedoen, nie ver van Betlehem nie.


Gebaseer op hierdie konteks, lyk dit asof Josef en Maria in Betlehem gebly het vanaf die tyd van Jesus se geboorte tot nadat al hierdie vereistes voltooi is.


En toe hulle alles volbring het wat volgens die wet van die Here was, het hulle teruggegaan na Galiléa, na hulle stad Násaret.  En die Kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees en vol van wysheid. En die genade van God was op Hom.   LUKAS 2:39-40 AFR53



18 Desember 2025


MATTHÉÜS 2:1 AFR53

En toe Jesus te Betlehem in Judéa gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom


Mattheus vertel ons eintlik min oor die geboorte van Jesus, hy konsentreer eerder op dit wat gebeur het nadat Jesus in Betlehem gebore is.


Jesus se geboorte het plaasgevind tydens die heerskappy van koning Herodes, ook genoem Herodes die Grote. Herodes se koningskap was heeltemal kunsmatig. Die Romeine het dikwels 'n plaaslike heerser oor mense wat hulle verower het, aangestel. Onder hul gesag het Herodes van 37–4 v.C. as koning oor Israel regeer. Jesus is teen die einde van sy heerskappy gebore.


Herodes het groot dinge as koning oor Israel bereik, insluitend die herstel van die imposante tempel in Jerusalem. Hy was ook genadeloos, veral teen die einde van sy lewe. Hy het sy vrou, verskeie seuns en baie ander familielede vermoor om sy eie mag te beskerm. Sy benadering tot die nuus van 'n pasgebore koning van die Jode sou daardie patroon volg.


Die wyse manne uit die Ooste was in antieke Grieks magoi genoem. Wanopvattings en legendes is volop oor hierdie wyse manne. Hulle was nie konings nie, maar wyse manne, wat beteken dat hulle sterrekundiges was. Daar was nie net drie nie, maar waarskynlik 'n groot geselskap en dit lyk asof hulle nie op die geboortenag gekom het nie, maar waarskynlik 'n paar maande later.


Geleerdes beweer dat die wyse manne wat Mattheus beskryf, van so ver as Babilon, Persië of die Arabiese woestyn kon gekom het.


Gelei deur die ster wat hulle gevolg het, het hulle in Jerusalem aangekom en verwag om antwoorde van die leiers en die mense van hierdie hoofstad van die Jode te vind. Hulle het aangeneem dat almal opgewonde sou wees oor die Koning van Jode wat gebore is.


Selfs in daardie tyd was die Joodse volk egter dikwels verag weens hul unieke gebruike en oortuigings, en ook dikwels weens hul sukses en voorspoed. Hulle is dikwels beskou as 'n lae, lastige en verowerde ras.


en gesê: Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys.   MATTHÉÜS 2:2 AFR53


Daar is baie verskillende voorstelle vir die natuurlike oorsprong van hierdie merkwaardige ster.


Wat dit ook al was, dit is betekenisvol dat God die wyse manne in hul eie omgewing ontmoet het. Hy het die sterrekundiges met 'n ster gelei. Dit was ook 'n vervulling van Numeri 24:17 wat deur antieke Joodse geleerdes as 'n Messiaanse profesie beskou is.


Ek sien hom, maar nie nou nie, ek aanskou hom, maar nie naby nie: 'n ster kom te voorskyn uit Jakob, en 'n septer kom uit Israel op, en hy verbrysel die slape van die hoof van Moab en werp al die oorlogsugtiges omver.   NÚMERI 24:17 AFR53


Ons weet nie baie van die ster nie. Dit kon ‘n supernova of ‘n samekoms van ‘n paar planete of doodgewoon ‘n natuurwonder gewees het.  En hoe hulle die ster se pad bereken het en toe gevolg het – dit weet ons ook nie.


Die feit is dat die sterrekenners deur die ster gelei is tot ’n ontmoeting met Jesus.  Die nasies kom dus eerste tot insig oor Jesus, nie die Jode nie, behalwe vir die klompie mense wat vergader het rondom Josef en Maria.



19 Desember 2025


MATTHÉÜS 2:3 AFR53

En toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld en die hele Jerusalem saam met hom;   


Toe die wyse manne in Jerusalem aankom en vra waar die pasgebore Koning was sodat hulle Hom kon aanbid, het dit Herodes se aandag getrek.


In plaas daarvan om opgewonde te wees oor die moontlikheid dat die Messias, ook bekend as die Christus, in Israel gebore is, was Herodes bekommerd. Die hele Jerusalem was ook bekommerd, maar ons word nie presies vertel hoekom ander ook bekommerd was nie.


Die geskiedenis beskryf Herodes as meedoënloos en wreed, maar beslis nie dom nie. Sy poging om hierdie potensiële bedreiging uit te skakel, is slim en subtiel. Sy eerste stap is om die owerpriesters en skrifgeleerdes bymekaar te maak. Hierdie twee groepe het waarskynlik nie van Herodes of mekaar gehou nie.


Herodes verwerp hierdie verskille, want hy het hierdie groepe nodig om een ​​vraag uit Israel se Skrif te beantwoord: Waar sal die Christus gebore word?


en hy het al die owerpriesters en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar laat kom en by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word.   MATTHÉÜS 2:4 AFR53


Hulle het 'n duidelike antwoord vir hom. Deur dit te gebruik, en die wyse manne se eie inligting, sal Herodes verskeie opsies hê om hierdie kind te vind en dood te maak.


En hulle het vir hom gesê: Te Betlehem in Judéa, want so is daar deur die profeet geskrywe: En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal 'n leidsman voortkom wat vir my volk Israel 'n herder sal wees.   MATTHÉÜS 2:5-6 AFR53


Deur Miga 5:1 aan te haal, het die owerpriesters en skrifgeleerdes verstaan ​​dat die Messias in Betlehem in Judea gebore sou word, wat dit onderskei van 'n ander dorp met dieselfde naam verder noord.


Die leierpriester en skrifkenners is weer interessant genoeg tevrede om net die Bybel te lees, die regte antwoord daaruit te haal, en dan terug te sit en niks te doen nie.  Hulle gaan kyk nie eens of daar iemand in Betlehem is nie.  Hulle mis die beslissende moment van die wêreldgeskiedenis.


En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat 'n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.   MIGA 5:1 AFR53


Herodus roep die wyse manne in die geheim om uit te vind wanneer hulle die ster oorspronklik gesien het. Hy wil vir homself bereken hoe oud die Jesus Kind moet wees.


Dan stuur Herodes hulle na Betlehem om die Seun te vind, terwyl hy blatant lieg. Herodes beweer dat hy ook aan die Christus Kind hulde wil bring. Hy sê vir hulle om ywerig te gaan soek en hom te laat weet sodra hulle die Kind gevind het.


Toe het Herodes die wyse manne in die geheim geroep en hulle na die tyd van die ster se verskyning uitgevra; en hy het hulle na Betlehem gestuur en gesê: Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom vind, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en Hom hulde bewys.   MATTHÉÜS 2:7-8 AFR53



20 Desember 2025


MATTHÉÜS 2:9 AFR53

En nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek. En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, gaan voor hulle uit totdat hy kom en bly staan bo-oor die plek waar die Kindjie was.


Die wyse manne het die Kindjie nie in Jerusalem gevind nie, maar hulle het wel 'n nuwe leidraad gekry. Herodes die Grote self het met Israel se profesie-kundiges gepraat en die wyse manne na Betlehem gestuur.


Die leidraad is bevestig deur die herverskyning van die ster wat hulle die hele tyd gevolg het. Dit het hulle ook na Betlehem geneem en, op die een of ander manier, na die einste huis waar die Kindjie was. Dit was duidelik ‘n bonatuurlike verskynsel.


En toe hulle die ster sien, het hulle hul met baie groot blydskap verheug.   MATTHÉÜS 2:10 AFR53


Etlike maande of selfs twee jaar het verloop vanaf Jesus se geboorte tot en met die wyse manne se besoek. Teen hierdie tyd het Josef, Maria en Jesus hulle in 'n huis in Betlehem gevestig.


Die wyse manne val voor die Kindjie neer in 'n gebaar van diep respek. Hulle plaas die uiters waardevolle geskenke voor Jesus neer. Om geskenke aan 'n koning of ander meerdere te gee, was 'n algemene Midde-Oosterse praktyk en 'n teken van groot respek.


Die geskenke in nie noodwendig almal genoem nie. Goud, mirre en wierook word genoem omdat hulle profeties is. Goud = godheid, wierook = priesterskap (deur die priesters in die toonbrode ingemeng) en mirre = wanneer dit fyngedruk word is dit ‘n salf in die balsem proses.


En hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria, sy moeder, gevind en neergeval en Hom hulde bewys. Daarop maak hulle hul skatte oop en bring vir Hom geskenke: goud en wierook en mirre.   MATTHÉÜS 2:11 AFR53


Die wyse manne ontvang die aand in ‘n droom ‘n goddelike waarskuwing om nie na Herodes terug te keer nie. Hulle is gehoorsaam en gaan terug na hul eie land met ‘n ander pad.


En omdat hulle in 'n droom 'n goddelike waarskuwing ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met 'n ander pad na hul land teruggegaan.   MATTHÉÜS 2:12 AFR53


Josef word ook in ‘n droom deur ‘n engel gewaarsku. Hulle moet na Egipte vlug om weg te kom van Herodes wat Jesus wil doodmaak.


En toe hulle teruggegaan het, verskyn daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef en sê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek jou sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak.   MATTHÉÜS 2:13 AFR53


Weereens is Josef gehoorsaam en hy neem Maria en Jesus en vertrek na Egipte waar hulle gebly het tot die dood van Herodes.


Hy het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder in die nag geneem en na Egipte vertrek. En hy was daar tot die dood van Herodes, sodat die woord vervul sou word wat die Here gespreek het  deur die profeet: Uit Egipte het Ek my Seun geroep.   MATTHÉÜS 2:14-15 AFR53



21 Desember 2025


MATTHÉÜS 2:16 AFR53

Toe Herodes sien dat hy deur die wyse manne mislei was, het hy baie woedend geword en gestuur en in Betlehem en in al die omstreke daarvan al die seuntjies van twee jaar en daaronder laat ombring, ooreenkomstig die tyd wat hy van die wyse manne uitgevra het.


Ons het al gesien dat Herodes ‘n wrede en magsbehepte karakter was. Van hom het keiser Augustus gesê hy sal eerder Herodes se vark as sy seun wees (vark en seun is ‘n woordspel in Grieks – die twee woorde eindig dieselfde: choiros en uios).


Die rede was dat Herodes nie gehuiwer het om sy eie familie en vriende te laat vermoor nie. Naas ‘n klomp ander onskuldiges, het hy by verskillende geleenthede drie van sy seuns en selfs sy gunsteling vrou koelbloedig laat vermoor. Vir hom was geweld ‘n oplossing vir enige probleem, die enigste manier om te regeer.


Ons teks vertel vir ons vandag van sy heftige reaksie op die wyse manne se verraad. Hy kom agter dat hulle met ‘n ander pad teruggekeer het na hul land sonder om hom te vertel waar die nuutgebore Kind tuisgaan.


Sy komplot om hulle te gebruik om Jesus te vind, misluk dus. Herodes gee daarom ‘n wraaksugtige en koelbloedige bevel dat alle seuns van twee jaar en jonger in die omgewing van Bethlehem doodgemaak moet word. 


Toe is vervul wat deur Jeremia, die profeet, gespreek is toe hy gesê het: 'n Stem is in Rama gehoor: rouklag en geween en groot gekerm; Ragel beween haar kinders en wil nie vertroos word nie, omdat hulle daar nie meer is nie.   MATTHÉÜS 2:17-18 AFR53


Dié gebeure word ook as vervulling van die ontsteltenis van die profeet Jeremia oor Ragel se kinders geïnterpreteer.


So sê die Here: 'n Stem word gehoor in Rama, geklaag, bitter geween; Ragel ween oor haar kinders; sy weier om getroos te word oor haar kinders, omdat hulle daar nie is nie.   JEREMIA 31:15 AFR53


Hierdie profesie is letterlik vervul toe Juda in ballingskap weggevoer is. Daar was toe 'n groot rou in die stamme van Benjamin en Juda oor hul kinders wat doodgemaak was en in ballingskap weggevoer is.


Die profesie word nou 'n tweede keer vervul met Betlehem se moeders wat treur omdat Herodes hul seuns vermoor.



22 Desember 2025


MATTHÉÜS 2:19 AFR53

En ná die dood van Herodes het daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef in Egipte verskyn


‘n Engel verskyn weer aan Josef met ‘n nuwe opdrag. Teen die tyd moet Josef al gewoond wees aan die engel en hy doen presies wat aan hom gesê word.


en gesê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder, en gaan na die land van Israel; want hulle is dood wat die lewe van die Kindjie gesoek het. En hy het opgestaan, die Kindjie en sy moeder geneem en in die land van Israel gekom.   MATTHÉÜS 2:20-21 AFR53


God lei hulle uit Egipte na ‘n veiliger plek in die land Israel, na die klein dorpie Nasaret.  Die dorpie in Galilea is ná die dood van Herodes onafhanklik van Juda deur Antipas, ’n ander seun van Herodes, geregeer.


Maar toe hy hoor dat Archeláüs oor Judéa koning was in die plek van sy vader Herodes, was hy bevrees om daarheen te gaan. En hy het 'n goddelike waarskuwing in 'n droom ontvang en na die streke van Galiléa teruggekeer.   MATTHÉÜS 2:22 AFR53


Die veiliger plek waar hulle toe opeindig is Nasaret en daarmee word nog ‘n Ou Testament profesie vervul.


En hy het gaan woon in 'n stad met die naam van Násaret, sodat vervul sou word wat deur die profete gespreek is, dat Hy Nasaréner genoem sou word.  MATTHÉÜS 2:23 AFR53


Die lank verwagte Messias, dié een wat selfs Herodes se aandag getrek het, sê Mattheus, is die Nasarener.


Wat Mattheus hier doen met die woord Nasarener, is waarskynlik om iets oor Jesus te sê aan die hand van ‘n woordspeling tussen die dorpie se naam Nasaret en die Hebreeuse woord neser wat loot of takkie beteken. 


Maar daar sal 'n takkie uitspruit uit die stomp van Ísai, en 'n loot uit sy wortels sal vrugte dra;   JESAJA 11:1 AFR53


Uit die stomp van Isai - die vader van Dawid. Dit beteken dat Hy van wie hier gepraat word, uit die familie van Isai of Dawid moet wees.    


En 'n loot - (neser).  'n Takkie, tak of loot;  'n loot van 'n boom, gekies om uitgeplant te word, en wat met spesiale sorg dopgehou moet word.


Die term Nasarener het hier dus waarskynlik die dubbele betekenis dat dit ironies op Nasaret sinspeel – ‘n plek waarvan niemand iets goed verwag het nie – en op ‘n dieper vlak sinspeel op die Messias, die takkie van Isai, dié Een op wie die Gees van die Here sal rus, wat verandering bring vanaf ’n plek waar niemand dit verwag nie, en wat die Verlosser van die wêreld is.


Nasaret was immers ’n onbenullige dorpie van skaars 480 inwoners genestel in die heuwels van Galilea. Dit was skaars 6 km van Seporis, ’n groeiende Hellenistiese stad, die hoofstad van Galilea. 


Dit is egter van dié plek wat die Messias kom – die Nasarener – sê Mattheus.


Dié uitspraak is dus die slotsom van die tweede hoofstuk van Mattheus: Jesus van Nasaret is die langverwagte Messias van Bethlehem, die uitverkore herderleier van God. Wié sou dit nou kon verwag?!



23 Desember 2025


GÉNESIS 3:15 AFR53

En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt


Kom ons kyk na Ou Testament profesieë aangaande Jesus wat uitgespreek is en toe ook vervul is.


Die heel eerste profesie oor die maagdelike geboorte word gevind in Genesis 3:15, en die vervulling daarvan kry ons in die Nuwe Testament.


Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ’n vrou, gebore onder die wet, GALASIËRS 4:4


Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het — dit is die duiwel —.  HEBREËRS 2:14 AFR53


Die profeet Jeremia profeteer dat Jesus, die regverdige Spruit, sal afstam van koning Dawid.


Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek vir Dawid ’n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land.   JEREMIA 23:5 AFR53


In Genesis lees ons dan ook dat Abraham ‘n groot nageslag sal he, en


En die Here het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.   GÉNESIS 12:1-3 AFR53


dat Jesus sal afstam van die stam van Juda.


Die septer sal van Juda nie wyk nie, nòg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.   GÉNESIS 49:10 AFR53


Elkeen van die profesieë word vervul in Mattheus se geslagsregister. Jesus se voorgeslagte was Dawid, Abraham, Isak, Jakob en dan ook Juda en sy broers.


Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham: Abraham was die vader van Isak, en Isak die vader van Jakob, en Jakob die vader van Juda en sy broers;   MATTHÉÜS 1:1-2 AFR53


Psalms profeteer dat konings vir Jesus geskenke sal bring en voor Hom buig.


Die konings van Tarsis en van die eilande sal geskenke aanbied, die konings van Skeba en Seba belasting aanbring. Ja, al die konings sal hulle voor hom buig, al die nasies sal hom dien.   PSALMS 72:10-11 AFR53


En dit het presies so gebeur.


En toe Jesus te Betlehem in Judéa gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom en gesê: Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys.  MATTHÉÜS 2:1-2 AFR53



24 Desember 2025


MALEÁGI 3:1 AFR53

Kyk, Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan; dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle ’n begeerte het. Kyk, Hy kom, sê die Here van die leërskare.


Die profeet Maleagi profeteer dat ‘n boodskapper Jesus sal voorafgaan, en dit het presies so gebeur.


Maar wat het julle uitgegaan om te sien? ’n Profeet? Ja, Ek sê vir julle, ook baie meer as ’n profeet! Want dit is hy van wie daar geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u weg voor U uit sal regmaak. Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy.   MATTHÉÜS 11:9-11 AFR53


Die profeet Jesaja vertel dat Jesus uit 'n maagd gebore sou word.


Daarom sal die Here self aan julle 'n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar en hom Immánuel noem.   JESAJA 7:14 AFR53


En dit het presies so gebeur.


En in die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na 'n stad in Galiléa met die naam van Násaret, na 'n maagd wat verloof was aan 'n man met die naam van Josef, uit die huis van Dawid; en die naam van die maagd was Maria.

En kyk, jy sal swanger word en 'n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem.   LUKAS 1:26-27, 31 AFR53


Die profeet Miga profeteer dat Jesus in Betlehem gebore sou word.


En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat 'n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.   MIGA 5:1 AFR53


En dit het presies so gebeur.


En toe Jesus te Betlehem in Judéa gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom.  MATTHÉÜS 2:1 AFR53


Die profeet Hosea vertel dat Jesus na Egite geneem sou word.


Toe Israel 'n kind was, het Ek hom liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep.   HOSÉA 11:1 AFR53


En dit het presies so gebeur.


En toe hulle teruggegaan het, verskyn daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef en sê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek jou sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak. Hy het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder in die nag geneem en na Egipte vertrek. En hy was daar tot die dood van Herodes, sodat die woord vervul sou word wat die Here gespreek het deur die profeet: Uit Egipte het Ek my Seun geroep.   MATTHÉÜS 2:13-15 AFR53



25 Desember 2025


JESAJA 9:5 AFR53

Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors —


Die eerste gedeelte van die vers is vervul met Jesus se geboorte, die tweede gedeelte word vervul met Jesus se tweede koms.


LUKAS 2:11 AFR53

dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.

Geseënde Kersfees aan al my lesers!



NB!  Ek vat ‘n paar dae af en ons sal weer op Maandag 5 Januarie 2026 Jeremia se studie voortsit!



Comments


  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page