Kersfees 2024!
- Regina Torre
- Dec 13, 2024
- 24 min read
Updated: Dec 28, 2024

14 Desember 2024
LUKAS 1:13 AFR53
Maar die engel sê vir hom: Moenie vrees nie, Sagaría, want jou gebed is verhoor, en jou vrou Elisabet sal vir jou 'n seun baar, en jy moet hom Johannes noem.
Johannes die Doper se ouers het geleef toe Herodes die Grote as koning van Juda regeer het.
Sagaria, sy vader, was deel van die 8ste van 24 klasse van priesters soos opgestel in Dawid se tyd. Sagaria se vrou se naam was Elisabet.
Daar was in die dae van Herodes, koning van Judéa, 'n sekere priester met die naam van Sagaría, uit die afdeling van Abía; en sy vrou was uit die dogters van Aäron, en haar naam was Elisabet. LUKAS 1:5 AFR53
Sagaria beteken God onthou, en Elisabeth beteken Sy eed. As huwelikspaar beteken hul name saam - God onthou sy eed. Onvrugbaarheid was 'n skande in daardie kultuur en dit was vir Elisabet 'n verleentheid om kinderloos te wees.
En hulle was altwee regverdig voor God en het in al die gebooie en regte van die Here onberispelik gewandel. En hulle het geen kind gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was en albei op ver gevorderde leeftyd. LUKAS 1:6-7 AFR53
Sagaria as priester het sy amp beoefen, en is deur die lot gekies om die reukwerk in die tempel te brand.
En terwyl hy besig was om die priesteramp voor God te bedien in die beurt van sy afdeling, het die lot volgens priesterlike gewoonte op hom geval om in te gaan in die tempel van die Here en reukwerk te brand. LUKAS 1:8-9 AFR53
Die reukofferaltaar verteenwoordig die gebede van die nasie. Terwyl die mense buite besig was om te bid, het Sagaria binne die tempel, die reukoffer aan die brand gesteek. Toe Sagaria die engel aan sy regterkant sien staan is hy erg onsteld en vrees het hom oorval.
En die hele menigte van die volk was buite, besig om te bid op die uur van die reukoffer. Toe verskyn daar aan hom 'n engel van die Here, wat aan die regterkant van die reukofferaltaar staan. En toe Sagaría hom sien, was hy ontsteld, en vrees het hom oorval. LUKAS 1:10-12 AFR53
Die engel sê vir Sagaria dat hy nie bang moet wees nie, want sy gebed vir ‘n seun is verhoor en wanneer die seun gebore word, moet hy hom Johannes noem.
Maar die engel sê vir hom: Moenie vrees nie, Sagaría, want jou gebed is verhoor, en jou vrou Elisabet sal vir jou 'n seun baar, en jy moet hom Johannes noem. LUKAS 1:13 AFR53
Die engel Gabriël verduidelik dat die baba sal grootword om God se uitverkore instrument te wees, 'n groot profeet soos Elia, wat Israel sal voorberei vir die Messias se koms.
En hy sal blydskap en verheuging vir jou wees, en baie sal oor sy geboorte bly wees; want hy sal groot wees voor die Here. En wyn en sterk drank sal hy nooit drink nie, en hy sal vervul word met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy moeder af. En hy sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die Here hulle God. En hy sal voor Hom uit gaan in die gees en die krag van Elía, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here 'n toegeruste volk te berei. LUKAS 1:14-17 AFR53
15 Desember 2024
LUKAS 1:18 AFR53
Toe sê Sagaría vir die engel: Waaraan sal ek dit weet? Want ek is 'n ou man, en my vrou is op ver gevorderde leeftyd.
Oorweldig deur twyfel, vra Sagaria vir 'n bevestigende teken. Gabriël wys hom vinnig daarop dat die verskyning van God se boodskapper in die tempel genoeg van 'n teken moet wees.
Sagaria se versoek vir 'n teken het uit 'n plek van ongeloof gekom. Al het hy en sy vrou vir 'n kind gebid, het die egpaar die hoop laat vaar dat God ooit hul gebede sou antwoord. Gabriel se aankondiging het hul antwoord gebring, God het hulle gebede verhoor, maar Sagaria het nie in geloof gereageer nie.
En die engel antwoord en sê vir hom: Ek is Gabriël wat voor God staan, en ek is gestuur om met jou te spreek en jou hierdie goeie tyding te bring. En kyk, jy sal swyg en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde wat op hulle tyd vervul sal word, nie geglo het nie. LUKAS 1:19-20 AFR53
God het Sagaria met stomheid getref, nie net as 'n straf vir sy ongeloof nie, maar as 'n teken, eers vir Sagaria en ook vir al die mense rondom hom.
En die volk het op Sagaría bly wag en was verwonderd dat hy so lank in die tempel vertoef. Maar toe hy uitkom, kon hy met hulle nie praat nie; hulle bemerk toe dat hy 'n gesig in die tempel gesien het. En hy het aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly. LUKAS 1:21-22 AFR53
Sagaria is na sy diensbeurt huis toe. Sy vrou Elizabet het swanger geword, en sy het haarself vir vyf maande verberg.
En toe die dae van sy diens vervul was, het hy huis toe gegaan. En ná hierdie dae het Elisabet, sy vrou, ontvang en haar vyf maande lank verberg en gesê: So het die Here met my gedoen in die dae toe Hy my aangesien het om my smaad onder die mense weg te neem. LUKAS 1:23-25 AFR53
In die sesde maand word die engel Gabriel deur God na Nasaret gestuur, ‘n stad in Galilea.
En in die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na 'n stad in Galiléa met die naam van Násaret, LUKAS 1:26 AFR53
Nasaret was 'n dorp met 'n ongewenste reputasie. Die konsensus was dat niks goeds uit Nasaret kon kom nie.
Filippus het Natánael gekry en vir hom gesê: Ons het Hom gevind van wie Moses in die wet en ook die profete geskrywe het: Jesus, die seun van Josef van Násaret. En Natánael sê vir hom: Kan daar uit Násaret iets goeds wees? Filippus antwoord hom: Kom kyk. JOHANNES 1:46-47 AFR53
Mattheus merk op dat Jesus se assosiasie met Nasaret profeties was: Hy sal 'n Nasarener genoem word.
En hy het gaan woon in 'n stad met die naam van Násaret, sodat vervul sou word wat deur die profete gespreek is, dat Hy Nasaréner genoem sou word. MATTHÉÜS 2:23 AFR53
Mattheus assosieer die woord Nasarener met die Hebreeuse woord netser wat tak of spruit beteken.
Maar daar sal 'n takkie uitspruit uit die stomp van Ísai, en 'n loot uit sy wortels sal vrugte dra; JESAJA 11:1 AFR53
16 Desember 2024
LUKAS 1:27 AFR53
na 'n maagd wat verloof was aan 'n man met die naam van Josef, uit die huis van Dawid; en die naam van die maagd was Maria.
In Nasaret verskyn die engel Gabriel nou aan Maria, wat aan Josef verloof is, om vir haar ook ‘n boodskap te gee.
Maria was 'n onbekende persoon, in 'n onbenullige dorp, in die middel van nêrens, en tog is sy gekies vir hierdie belangrike ‘werk’.
Daar was drie fases vir 'n Joodse troue in daardie dag
‘n Kontrak - 'n formele ooreenkoms wat tussen die vaders gemaak word.
‘n Verlowing - die seremonie waar wedersydse beloftes gemaak word.
Die huwelik - ongeveer een jaar later, wanneer die bruidegom sy bruid op 'n onverwagte tyd kom haal.
Wanneer 'n egpaar verloof was, was hulle onder ‘n verpligting van getrouheid, en 'n egskeiding was nodig om die verlowing te verbreek. Dit was nie 'n terloopse belofte nie.
Dit word duidelik vir ons vertel dat Josef en Maria verloof was aan mekaar.
Daar word ook duidelik vertel dat Maria 'n maagd was. Daar is geen onduidelikheid oor die idee hier nie - Maria het nog nooit seksuele verhoudings met enige man gehad nie.
Die engel Gabriel praat met Maria en sê: ‘Wees gegroet, begenadigde! Die Here is met jou; geseënd is jy onder die vroue.’ Sy sien die engel en is net ontsteld oor sy woorde, nie oor sy teenwoordigheid nie.
Die feit dat Maria ontsteld was oor dit wat die engel gesê het, wys haar nederigheid. Maria was verbaas om sulke buitensporige woorde van haarself te hoor.
En die engel het by haar binnegekom en gesê: Wees gegroet, begenadigde! Die Here is met jou; geseënd is jy onder die vroue. En toe sy hom sien, was sy baie ontsteld oor sy woord, en sy het daaroor nagedink wat hierdie groet tog kon beteken. LUKAS 1:28-29 AFR53
Gabriël het drie dinge vir Maria gesê.
- Sy was begenadig.
- Die Here was by haar.
- Sy was geseënd onder die vroue.
Al hierdie dinge is egter ook waar van elke gelowige in Jesus.
Ons is begenadig soos Maria was,
tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde. EFÉSIËRS 1:6 AFR53
die Here is met ons,
En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen. MATTHÉÜS 28:20 AFR53
en ons is geseënd.
Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus, EFÉSIËRS 1:3 AFR53
17 Desember 2024
LUKAS 1:30 AFR53
En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind.
Die engel sê vir Maria dat sy nie bang moet wees nie, want sy het genade by God gevind. Hierna volg beide ‘n skokkende en ‘n wonderlike boodskap. Sy gaan swanger word en ‘n Seun baar, en sy moet die Seun Jesus noem.
En kyk, jy sal swanger word en 'n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. LUKAS 1:31 AFR53
En net so word Jesaja se profesie van drie eeue vroeër vervul.
Daarom sal die Here self aan julle 'n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar en hom Immánuel noem. JESAJA 7:14 AFR53
Die engel Gabriël gee vir Maria vyf eienskappe van haar toekomstige Seun Jesus.
Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie. LUKAS 1:32-33 AFR53
1. Hy sal groot wees - nie fisies nie maar Sy invloed.
2. Hy sal die Seun van die Allerhoogste genoem word. - Maria kon nie die betekenis van hierdie terminologie misgekyk het nie. Die feit dat haar Baba die Seun van die Allerhoogste genoem sou word, het gewys op Sy gelykheid met God.
3. Hy sal die troon van Sy vader Dawid gegee word. - Jesus, as Dawid se nageslag, sal op Dawid se troon sit wanneer Hy in die Millennium regeer.
Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors — tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen. JESAJA 9:5-6 AFR53
Dit is uiters betekenisvol want die troon van Dawid het nie gedurende Jesus se aardse bediening bestaan nie en moet nog letterlik vervul word. Vandag is Jesus op Sy Vader se troon in die hemel, nie op Dawid se troon nie.
Nadat die Here dan met hulle gespreek het, is Hy opgeneem in die hemel en het gaan sit aan die regterhand van God. MARKUS 16:19 AFR53
4. Hy sal vir ewig koning wees oor die huis van Jakob - Jesus se heerskappy oor die nasie Israel as haar Koning sal in die Millennium begin en voortgaan tot in ewigheid.
5. Sy koninkryk sal nooit eindig nie. - Hierdie beloftes moes Maria dadelik herinner het aan die belofte van God aan Dawid. Dawid het verklaar dat God van die verre toekoms gepraat het.
En jou huis en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid voor jou; jou troon sal vasstaan tot in ewigheid. Volgens al hierdie woorde en volgens hierdie hele gesig, so het Natan met Dawid gespreek. Koning Dawid het toe ingegaan en voor die aangesig van die Here gebly en gesê: Wie is ek, Here Here, en wat is my huis, dat U my tot hiertoe gebring het? En dit was nog te gering in u oë, Here Here, sodat U ook aangaande die huis van u kneg tot ver in die toekoms gespreek het; en dit is die wet vir mense, Here Here! II SAMUEL 7:16-19 AFR53
18 Desember 2024
LUKAS 1:34 AFR53
Toe sê Maria vir die engel: Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie?
Maria vra vir die engel ‘n geldige vraag. Sy hoor dat sy gaan swanger word, maar hoe is dit moontlik, want sy het nog nooit omgang met ‘n man gehad nie.
Die engel se antwoord is van bonatuurlike aard. Die Heilige Gees sal oor haar kom en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in haar verwek. Daarom sal haar Kind wat gebore word, die Seun van God genoem word.
En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word. LUKAS 1:35 AFR53
Die woord oorskadu - soos in ‘die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu’ - beteken om met ‘n wolk te bedek. Dieselfde manier wat God aan Aäron en Moses en vele ander verskyn het.
En onderwyl Aäron die hele vergadering van die kinders van Israel toespreek, draai hulle na die woestyn toe en meteens verskyn die heerlikheid van die Here in die wolk. EXODUS 16:10 AFR53
En die Here het met Moses gespreek: Kyk, Ek sal in 'n dik wolk na jou toe kom, dat die volk kan hoor as Ek met jou spreek, en hulle ook vir altyd aan jóú kan glo. Want Moses het die woorde van die volk aan die Here meegedeel. EXODUS 19:9 AFR53
Hierdie wolk was 'n sigbare manifestasie van die heerlikheid en teenwoordigheid van God. Dit beteken dat dieselfde krag van God wat by Moses en ander in die Ou Testament was, nou 'n unieke werk in die lewe van Maria sou doen.
Maria kry ook 'n bevestigende teken van haar swangerskap, deur te hoor dat Elisabet, wat onvrugbaar was, nou al ses maande swanger is.
En kyk, Elisabet, jou bloedverwant, het self ook 'n seun ontvang in haar ouderdom, en hierdie maand is die sesde vir haar wat onvrugbaar genoem is. LUKAS 1:36 AFR53
Want by God is niks onmoontlik nie!!!!
Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie. LUKAS 1:37 AFR53
Maria was nooit bang vir die engel Gabriel nie, net sy woorde het haar ontstel. Sy is egter gereed vir die taak wat haar opgelê is en bevestig in geloof met die volgende woorde: Hier is ek, laat dit met my gaan volgens u woord!
En Maria sê: Hier is die diensmaagd van die Here. Laat dit met my gaan volgens u woord. En die engel het van haar weggegaan. LUKAS 1:38 AFR53
19 Desember 2024
LUKAS 1:39 AFR53
En in daardie dae het Maria opgestaan en haastig na die bergstreek gegaan, na 'n stad van Juda;
Nuuskierig oor die nuus wat die engel vir haar gegee het, haas Maria haar na Elisabet en Sagaria wat in ‘n bergstreek in Juda woon.
en sy het in die huis van Sagaría gekom en Elisabet gegroet. LUKAS 1:40 AFR53
Elisabet hoor Maria se groet, en die baba in haar skoot spring op. Eers word die baba en toe word Elisabet vervul met die Heilige Gees.
En toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in haar skoot opgespring; en Elisabet is vervul met die Heilige Gees LUKAS 1:41 AFR53
Johannes die Doper was nog nie gebore nie, en Sagaria was nog stom, tog het Elisabet die woord van die Here geglo wat aan haar man Sagaria gegee is toe hy in die tempel was. In die tempel het Gabriël vir hom gesê dat hul beloofde seun 'n volk sou voorberei vir die Here.
En hy sal voor Hom uit gaan in die gees en die krag van Elía, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here 'n toegeruste volk te berei. LUKAS 1:17 AFR53
Elisabet roep uit dat Maria geseënd is onder die vroue - let wel onder die vroue as een van hulle, nie oor die vroue as verhewe bo hulle nie.
en het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Geseënd is jy onder die vroue, en geseënd is die vrug van jou skoot! LUKAS 1:42 AFR53
Elisabet het ook geglo dat die baba in Maria se skoot die Here was, vir wie haar seun die weg sou voorberei (die moeder van my Here). Hierdie geloof was in Elisabet omdat sy met die Heilige Gees vervul was.
En wat het my oorgekom dat die moeder van my Here na my toe kom? LUKAS 1:43 AFR53
Elisabet sê vir Maria dat met haar groet, die kindjie in haar skoot, met vreugde gespring het.
Want kyk, toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my skoot van vreugde opgespring. LUKAS 1:44 AFR53
Elisabet sê verder vir Maria dat sy geseënd is want sy het geglo en dit wat aan haar gesê is, sal vervul word.
En salig is sy wat geglo het, want die dinge wat deur die Here aan haar gesê is, sal vervul word. LUKAS 1:45 AFR53
20 Desember 2024
LUKAS 1:46 AFR53
En Maria het gesê: My siel maak die Here groot,
Die lied wat Maria in hierdie gedeelte voordra is ‘n lofsang aan God, en demonstreer haar kennis van die Ou Testament. Verskeie van haar opmerkings is aanhalings of verwysings uit die Skrif. Die eerste deel van haar lofsang klink baie soos Hanna se gebed in 1 Samuel 2:1–10 wat 'n voorbeeld is van 'n vrou wat bly is oor die verwagting van 'n kind.
Maria verwys na God as haar Verlosser. Toe Gabriël die eerste keer aan haar verskyn het, het hy Maria – baie spesifiek, in Griekse grammatika – beskryf as ’n ontvanger van God se genade. Maria het duidelik verstaan sy is 'n sondaar wat redding nodig het. Haar loflied verklaar wat God doen, en hoe Hy red, sonder om te suggereer dat sy 'n aktiewe deel in daardie proses is. Sy is geëerd en bly om God se plan te gehoorsaam en Sy wil te volg.
en my gees is verheug in God, my Saligmaker; omdat Hy die nederige toestand van sy diensmaagd aangesien het; want kyk, van nou af sal al die geslagte my salig noem. Want Hy wat magtig is, het groot dinge aan my gedoen, en heilig is sy Naam. LUKAS 1:47-49 AFR53
Maria prys God vir Sy spesiale guns oor Israel. Deur die Kindjie wat sy sou baar, was God genadig teenoor Abraham en sy nageslag. God se arm is ‘n verwysing na Sy se hulp met die volk se uittog uit Egipte.
En sy barmhartigheid is van geslag tot geslag vir die wat Hom vrees. Hy het deur sy arm kragtige dade gedoen. Hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart het Hy verstrooi. LUKAS 1:50-51 AFR53
In Daniel 2:21 word ons geleer dat God konings aanstel en afstel.
Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog. LUKAS 1:52 AFR53
God onderhou diegene wat behoeftig is, en Hy leer ons dat aardse rykdom geen ewigheidswaarde het nie.
Hongeriges het Hy met goeie dinge vervul en rykes met leë hande weggestuur. LUKAS 1:53 AFR53
Profesieë oor 'n Beloofde was gesentreer rondom die nasie Israel. Hierdie Messias sou kom uit die stam van Juda en die familielyn van Dawid. Toe Maria hoor dat sy die Messias gaan dra, het sy geweet dat dit een van Israel se mees gekoesterde profesieë sou vervul. God het beloftes gemaak aan die aartsvaders Abraham, Isak en Jakob en latere profete het die koms van 'n Beloofde voorspel wat uiteindelik alles reg sou stel en Israel sou red. Elke geslag sedert Abraham het progressief meer van God se beloftes sien waar word. God se verklaring dat Jesus Christus gebore sal word, bevestig Sy belofte om nie die volk Israel te vergeet nie.
Hy het sy kneg Israel bygestaan, sodat Hy aan sy barmhartigheid sou dink — soos Hy tot ons vaders gespreek het — aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid. LUKAS 1:54-55 AFR53
Maria het by Elisabet gebly totdat Johannes gebore is. Die Griekse woorde vir ‘haar huis’ dui aan dat sy nog 'n maagd was en nog nie met Josef getrou het nie. Teen hierdie tyd sou die skinderstories al begin het ... maar God het ook nou al die goeie nuus aan Josef gegee en hom opdrag gegee oor wat om te doen.
En Maria het by haar omtrent drie maande gebly; en sy het teruggegaan na haar huis toe. LUKAS 1:56 AFR53
21 Desember 2024
LUKAS 1:57 AFR53
En die tyd dat sy moeder moes word, is vir Elisabet vervul, en sy het 'n seun gebaar.
Presies volgens die engel Gabriel se woorde aan Sagaria, gee sy vrou Elisabet geboorte aan ‘n seun.
Elisabet se bure en familie was saam met haar bly. Nadat hulle gehoor het dat die Here op so 'n roemryke en merkwaardige wyse Sy barmhartigheid aan haar getoon het, het hulle saamgekom om hul blydskap te wys en haar opreg gelukgewens met die besonderse geleentheid.
En toe haar bure en bloedverwante hoor dat die Here sy barmhartigheid aan haar groot gemaak het, was hulle saam met haar bly. LUKAS 1:58 AFR53
Die kindjie is, soos die wet bepaal, op die agtste dag besny.
En op die agtste dag het hulle gekom om die kindjie te besny, en hulle wou hom Sagaría noem, na die naam van sy vader. LUKAS 1:59 AFR53
Die moeder is vir sewe dae as onrein beskou, en so ook die kind wat haar aanraak.
Spreek met die kinders van Israel en sê: As 'n vrou swanger word en 'n seun baar, sal sy sewe dae lank onrein wees; soos in die dae van die onreinheid as sy onwel is, sal sy onrein wees. En op die agtste dag moet hy aan die vlees van sy voorhuid besny word. LEVÍTIKUS 12:2-3 AFR53
Die mense by Elisabet wil almal he dat die kind sy pa, Sagaria, se naam moet kry, maar Elisabet skop viervoetig vas en sê dat die kind se naam Johannes sal wees.
Toe antwoord sy moeder en sê: Nee, maar hy moet Johannes genoem word. LUKAS 1:60 AFR53
Die mense protesteer dat niemamd in hul familie die naam Johannes het nie, en hulle beduie vir Sagaria dat hy self wou he dat sy kind na hom vernoem moes word. Maar Sagaria vra vir ‘n skryfbordjie en skryf vir die mense daarop: Johannes is sy naam!
En hulle sê vir haar: Daar is niemand in jou familie wat dié naam het nie. En hulle beduie vir sy vader hoe hy wou hê dat hy genoem moes word. Hy vra toe 'n skryfbordjie en skryf: Johannes is sy naam. En almal was verwonderd. LUKAS 1:61-63 AFR53
En net daar kan Sagaria weer praat, en die skare is verwonderd. Sagaria an almal daar het God geloof.
En onmiddellik is sy mond geopen en het sy tong losgeraak, en hy het gepraat en God geloof. LUKAS 1:64 AFR53
Woord het toe deur die hele bergstreek versprei (waarskynlik ook die Jerusalem-omgewing) dat hierdie 'n ongewone kind was. Die mense het deur die jare vorentoe daarop gelet dat die Here se hand met hom was. Dertig jaar later, toe Johannes sy bediening begin het, het baie uit hierdie omgewing ongetwyfeld die wonderlike gebeure onthou.
En daar het vrees gekom oor almal wat rondom hulle gewoon het, en daar is baie gepraat oor al hierdie dinge in die hele bergstreek van Judéa. En almal wat dit gehoor het, het dit ter harte geneem en gesê: Wat sal tog van hierdie kindjie word? En die hand van die Here was met hom. LUKAS 1:65-66 AFR53
22 Desember 2024
MATTHÉÜS 1:18 AFR53
Die geboorte van Jesus Christus was dan só: Toe sy moeder Maria verloof was aan Josef, voordat hulle saamgekom het, is sy swanger bevind uit die Heilige Gees.
Mattheus gee sy weergawe van Jesus se geboorte. Maria was verloof aan Josef, en op die stadium het hulle nog nie ‘saamgekom’ nie. Maria was egter swanger, maar nie van Josef nie. Maria se swangerskap was uit die Heilige Gees.
Josef het dit natuurlik nie verstaan nie, en wou van haar skei. Onthou dat ‘n verlowing ‘n wettige kontrak was en die kontrak kon net met ‘n egskeiding verbreek word. Omdat hy ‘n regverdige man was het hy homself voorgeneem om die egskeiding ‘n geheim te hou.
En Josef, haar man, omdat hy regverdig was en onwillig om haar openbaar te maak, het hom voorgeneem om in die geheim van haar te skei. MATTHÉÜS 1:19 AFR53
Josef het nie besef dat hy deel van ‘n hemelse plan was nie. Hy is nog besig om met sy gedagtes te worstel toe ‘n engel in ‘n droom aan hom verskyn en vir hom berusting bring. Maria was nie ontrou aan hom nie - die kind in haar is van die Heilige Gees.
Maar terwyl hy dit in die gedagte gehad het, verskyn daar 'n engel van die Here in 'n droom aan hom en sê: Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees; MATTHÉÜS 1:20 AFR53
Die engel sê verder dat Maria ‘n seun sal kry en Josef moet Hom Jesus noem. Die engel gee ook meer inligting oor die Kind. Hy gaan eendag Sy volk van hul sondes verlos.
en sy sal 'n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos. MATTHÉÜS 1:21 AFR53
Alles moet presies so gebeur om die profesie van die Ou Testament profete te vervul.
En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons. MATTHÉÜS 1:22-23 AFR53
Jesaja is die profeet waarna hier verwys word.
Daarom sal die Here self aan julle 'n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar en hom Immánuel noem. JESAJA 7:14 AFR53
Josef word wakker uit sy slaap en doen wat die engel hom beveel het.
En toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gedoen soos die engel van die Here hom beveel het en sy vrou by hom geneem; MATTHÉÜS 1:24 AFR53
Hy hou Maria as sy vrou en hulle noem die Seun wat gebore is, Jesus.
en hy het haar nie beken totdat sy haar eersgebore Seun gebaar het nie; en hy het Hom Jesus genoem. MATTHÉÜS 1:25 AFR53
23 Desember 2024
LUKAS 2:8 AFR53
En daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het.
Die herders was in die oop veld, so heel waarskynlik nie later as Oktober nie. Hulle hou nog rustig wag oor hul skape toe ‘n engel meteens by hulle staan. Uiteraard is die wagters vreesbevange - wie sou nie wees as jou aand ewe skielik hemelse besoekers oplewer nie! Die engel sê dat hulle nie moet vrees nie want hulle bring goeie nuus wat vir die hele volk vreugde sal bring.
En meteens staan daar 'n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig. En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, LUKAS 2:9-10 AFR53
Die goeie tyding is dat die Saligmaker, wat Christus die Here is, in die stad van Dawid gebore is.
dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is. LUKAS 2:11 AFR53
En so word nog een van Jesaja se profesieë vervul.
Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors —. JESAJA 9:5 AFR53
Die engel sê hulle sal ‘n Kindjie sal sien wat in doeke toegedraai is en wat in ‘n krip lê.
En dit is vir julle die teken: julle sal 'n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê. LUKAS 2:12 AFR53
En skielik is dit nie meer net een engel nie, maar ‘n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê: Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense 'n welbehae!
En skielik was daar saam met die engel 'n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê: Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense 'n welbehae! LUKAS 2:13-14 AFR53
Die engele verdwyn net so vinnig as wat hulle verskyn het, en die herders besluit om Betlehem toe te gaan om met hul eie oë te sien wat aan hulle vertel is - en daar kry hulle toe vir Josef en Maria en die Kindjie wat in ‘n krip lê, net soos wat aan hulle vertel is.
En toe die engele van hulle weggegaan het na die hemel, sê die herders vir mekaar: Laat ons dan na Betlehem gaan en hierdie ding sien wat gebeur het, wat die Here aan ons bekend gemaak het. En hulle het met haas gegaan en Maria en Josef gevind en die kindjie wat in die krip lê. LUKAS 2:15-16 AFR53
Die herders kon die goeie nuus nie vir hulself hou nie en het alles wat gebeur het oral bekend gemaak, en almal wat dit gehoor het was verwonderd.
En toe hulle dit gesien het, het hulle oral die woord bekend gemaak wat aan hulle van dié Kindjie vertel is. En almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat deur die herders aan hulle vertel is; LUKAS 2:17-18 AFR53
Maria het als wat gebeur het in stilte aanskou en almal se woorde in haar hart bewaar.
maar Maria het al hierdie woorde bewaar en in haar hart oordink. En die herders het teruggegaan en God verheerlik en geprys oor alles wat hulle gehoor en gesien het, net soos aan hulle gesê is. LUKAS 2:19-20 AFR53
24 Desember 2024
MATTHÉÜS 2:1 AFR53
En toe Jesus te Betlehem in Judéa gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom
Wyse manne of sterrekundiges uit die Ooste daag in Jerusalem op in die dae van koning Herodes. Hulle het waarskynlik etlike maande na Jesus se geboorte in Jerusalem aangekom. Hulle was daar op ‘n spesifieke misie - om die Koning van die Jode hulde te bewys, want hulle het Sy ster in die Ooste gesien.
en gesê: Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys. MATTHÉÜS 2:2 AFR53
Die wyse manne se inligting maak Herodes senuweeagtig aangesien hy nie die koning van die Jode was nie. Herodes is deur Rome aangestel - hy was nie ‘n Jood nie maar ‘n Idumeeër.
Herodes, wat met omkopery en bedrog in sy posisie aangestel is, het nie gehou daarvan om te hoor dat daar moontlik vir die Jode ‘n Koning gebore is nie. Dit was vir hom ‘n bedreiging.
En toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld en die hele Jerusalem saam met hom; en hy het al die owerpriesters en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar laat kom en by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word. MATTHÉÜS 2:3-4 AFR53
Herodes wil ook meer weet en raadpleeg die owerpriesters en skrifgeleerdes van die volk oor die Koning se geboorte. Hulle haal vir hom Miga 5:1 aan.
En hulle het vir hom gesê: Te Betlehem in Judéa, want so is daar deur die profeet geskrywe: En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal 'n leidsman voortkom wat vir my volk Israel 'n herder sal wees. MATTHÉÜS 2:5-6 AFR53
Uit hierdie gedeelte in Miga het hulle nie net verstaan dat die Messias in Betlehem gebore sou word nie, maar ook dat Hy 'n Heerser sou wees wat Sy volk Israel as herder sal versorg. Die geleerdes het die regte inligting gehad, maar was nie persoonlik geïnteresseerd om die Messias self te ontmoet nie.
En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat 'n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid. MIGA 5:1 AFR53
Die onderduimse Herodes praat in die geheim met die wyse manne en probeer meer inligting kry oor die Kindjie se geboorte. Hy sê dat hulle alles moet uitvind en dan terug moet rapporteer aan hom sodat hy ook hulde aan die Koning kan bewys.
Toe het Herodes die wyse manne in die geheim geroep en hulle na die tyd van die ster se verskyning uitgevra; en hy het hulle na Betlehem gestuur en gesê: Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom vind, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en Hom hulde bewys. MATTHÉÜS 2:7-8 AFR53
Die ster het die wyse manne gebring tot by die plek waar die Kindjie was met Sy moeder Maria.
Hulle het neergeval en aan Hom hulde bewys en hul geskenke was goud, mirre en wierook.
En nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek. En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, gaan voor hulle uit totdat hy kom en bly staan bo-oor die plek waar die Kindjie was. En toe hulle die ster sien, het hulle hul met baie groot blydskap verheug. En hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria, sy moeder, gevind en neergeval en Hom hulde bewys. Daarop maak hulle hul skatte oop en bring vir Hom geskenke: goud en wierook en mirre. MATTHÉÜS 2:9-11 AFR53
25 Desember 2024
JESAJA 9:5 AFR53
Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors —
Die engel Gabriël verwys direk na hierdie beroemde profesie wanneer hy vir Maria vertel van die Kind wat sy gaan baar.
Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie. LUKAS 1:32-33 AFR53
Keiser Augustus het regeer, maar God is in beheer. God het keiser Augustus se bevel gebruik om Maria en Josef te kry om na Betlehem te reis om Sy profetiese plan te vervul.
En in daardie dae het daar 'n bevel uitgegaan van keiser Augustus dat die hele wêreld ingeskryf moes word. LUKAS 2:1 AFR53
Rome het elke 14 jaar 'n sensus vir militêre en belastingdoeleindes geneem.
Hierdie eerste inskrywing het plaasgevind toe Cirénius goewerneur van Sírië was. En almal het gegaan om ingeskryf te word, elkeen na sy eie stad. LUKAS 2:2-3 AFR53
Bethlehem – 130 km van Nasaret af – is die stad van Dawid. Die naam is nogal betekenisvol. Die naam beteken letterlik: huis van brood, en is die plek waar Rut en Naomi (in die Rigtertyd) nie net fisiese brood gekry het nie, maar Rut, die Moabiet, ook met haar troue met Boas, Jesus se voorouer geword het.
En Josef het ook opgegaan van Galiléa, uit die stad Násaret, na Judéa, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy uit die huis en geslag van Dawid was, LUKAS 2:4 AFR53
Dit is moontlik dat Josef die keiser se bevel gebruik het as 'n manier om Maria te verwyder van moontlike skinderpraatjies en emosionele spanning in haar eie dorpie. Hy het haar reeds as sy vrou aanvaar, maar was nog verloof, met die onderneming om te trou ná die geboorte.
om hom te laat inskrywe saam met Maria, die vrou aan wie hy hom verloof het, wat swanger was. LUKAS 2:5 AFR53
Sommer net terloops vertel Lukas dat Maria se dae vervul was en dit was tyd vir haar om geboorte te gee aan die Kindjie.
En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar; LUKAS 2:6 AFR53
Haar eerste Seun is gebore in ‘n stal, omdat daar geen plek in die herberg was nie, en sy het Hom, Jesus, in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê.
en sy het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en Hom in die krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie. LUKAS 2:7 AFR53
Geseënde Kersfees 🎄 aan al my lesers.
Ek gaan bietjie rus en sien julle weer op Maandag, 6 Januarie 2025!




Comments