Efesiërs - Hoofstuk 4
Updated: 19 hours ago

Scroll asb. ondertoe om vandag se inskrywing te sien!
23 September 2026
EFÉSIËRS 4:1 AFR53
Ek vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is,
Die eerste helfte van Efesiërs, hoofstukke 1–3, het op leerstellings gefokus.
Die term leerstelling kom van die Latynse woord doctrina, wat onderrig of instruksie beteken. Leerstellings is noodsaaklik om God se wil te verstaan, 'n gesonde geloof te handhaaf en die integriteit van die Kerk se leringe te verstaan.
Nou gaan Paulus vir ons leer hoe om die leerstellings prakties toe te pas.
Hy begin hierdie hoofstuk deur sy gehoor te vermaan of te smeek om te luister. Hy het dieselfde in Romeine 12 gedoen.
Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelike godsdiens. ROMEINE 12:1 AFR53
Paulus sê vir ons waar hy is terwyl hy die brief skryf. Hy is ‘n gevangene van die Here - hy was vir twee jaar onder huisarres in Rome.
En Paulus het twee volle jare in sy eie gehuurde huis gebly en almal ontvang wat na hom gekom het, terwyl hy die koninkryk van God gepreek en onderrig gegee het aangaande die Here Jesus Christus, met volle vrymoedigheid sonder enige verhindering. HANDELINGE 28:30-31 AFR53
Hy bemoedig gelowiges om 'n lewe te lei wat eer aan God se genadegawes bring. Paulus sê aan gelowiges dat ons waardig moet wandel in die roeping waarmee ons geroep is.
Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees. As ek dan kom, sal ek self sien, of as ek nie kan kom nie, sal ek deur berigte hoor dat julle in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie. FILIPPENSE 1:27 AFR83
en betuig het dat julle waardiglik moet wandel voor God wat julle tot sy koninkryk en heerlikheid roep. I THESSALONICENSE 2:12 AFR53
sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei, KOLOSSENSE 1:10 AFR53
Wanneer ons werklik verstaan hoeveel God vir ons gedoen het, sal ons Hom natuurlik uit dankbaarheid wil dien en aan Hom gehoorsaam wil wees.
Om te verstaan wie ons is, vorm die grondslag van hierdie lewenswandel wat by ons roeping pas.
Die gedagte is duidelik. Ons leef nie op ’n manier wat by ons roeping pas sodat God ons sal liefhê nie, maar omdat Hy ons reeds liefhet. Dit spruit voort uit dankbaarheid, nie uit ’n begeerte om verdienste te verwerf nie.
24 September 2026
EFÉSIËRS 4:2a AFR53
met alle nederigheid en sagmoedigheid, ……………..
Paulus wys nou vir ons hoe ons lewenswandel waardig kan wees volgens die roeping waarmee elkeen geroep is. Hy begin deur ‘n paar karaktereienskappe te gee.
1. Nederigheid
Die eerste eienskap is nederigheid. In die Griekse kultuur was nederigheid as 'n gebrek beskou – iets wat slegs deur slawe beoefen moes word. Paulus het egter verklaar dat gelowiges in hul daaglikse lewenswandel volkome nederig moet wees.
Soms is dit makliker om ‘n eienskap te verstaan as jy weet wat die teenoorgestelde daarvan is. Nederigheid is die teenoorgestelde van hoogmoed. Hoogmoed is deesdae baie in die nuus, makliker herkenbaar as ons na die Engelse woord kyk - pride.
Christene moet besef wie hulle in God se plan is.
Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat 'n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het. ROMEINE 12:3 AFR53
Hy moet meer word, maar ek minder. JOHANNES 3:30 AFR53
Die deug van nederigheid word eerste genoem want Paulus beklemtoon die eenheid van die Kerk - hoogmoed bevorder verdeeldheid, terwyl nederigheid eenheid bevorder.
Ek is derde? Ja, want Christus is eerste en ander tweede. Dit beteken dat ons nie 'n hoër – of ‘n laer – dink van onsself moet hê as wat gepas is nie.
2. Sagmoedigheid
Sagmoedigheid is nie swakheid nie. Dit is krag onder beheer, sonder dat jy enigiets moet bewys.
Moses was sagmoedig Numeri, en tog was hy kwaad Eksodus.
Maar die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem. NÚMERI 12:3 AFR53
En toe hy naby die laer kom en die kalf en koordanse sien, het die toorn van Moses ontvlam, en hy het die tafels uit sy hande gegooi en hulle onder aan die berg verbrysel. EXODUS 32:19 AFR53
Jesus was sagmoedig Matteus 11, en tog ook kwaad in Matteus 21.
Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; MATTHÉÜS 11:29 AFR53
En Jesus het in die tempel van God ingegaan en almal wat in die tempel verkoop en koop, uitgejaag en die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers omgegooi. En Hy sê vir hulle: Daar is geskrywe: My huis moet 'n huis van gebed genoem word. Maar julle het dit 'n rowerspelonk gemaak. MATTHÉÜS 21:12-13 AFR53
Sagmoedigheid beteken om jou aan die wil van God te onderwerp. Die Griekse woord prautēs is gebruik vir kalmerende medisyne, 'n mak jong donkie en 'n sagte wind.




Comments