Die profete na die ballingskap: Maleagi 1-4
- Regina Torre
- Oct 18, 2024
- 22 min read
Updated: Oct 30, 2024

19 Oktober 2024
MALEÁGI 1:1 AFR53
Godspraak. Die woord van die Here aan Israel deur die diens van Maleági.
Die twaalfde boek, die boek van die profeet Maleagi, sluit die boodskap van die twaalf kleiner profete af.
Maleagi se boek is ‘n boodskap van teregwysing eerder as ‘n boodskap van troos of bemoediging. Die Engelse KJV begin die vers met die woord ‘burden’ wat as, ‘n las, vertaal word.
Die profeet het met die ballinge gepraat sowat 100 jaar ná hul aanvanklike terugkeer uit Babilon, ná die dae van Sagaria en Haggai. Maleagi het God gedien óf in die tyd van Nehemia óf onmiddellik nadat die boek geëindig het.
Ons weet dit want in Maleagi se dag was die tempel reeds herbou.
En julle sê: Kyk, wat 'n moeite! En julle verag dit, sê die Here van die leërskare; en julle bring geroofde en lam en siek diere — so bring julle dan die offer! Kan Ek dit met welgevalle uit julle hand aanneem? sê die Here. MALEÁGI 1:13 AFR53
Ons weet dit omdat die Jode onder 'n burgerlike heerser was, en Nehemia was die laaste goewerneur oor Jerusalem.
En as julle 'n blinde dier bring om te offer, is dit geen kwaad nie! En as julle 'n lam of 'n siek dier bring, is dit geen kwaad nie! Bring dit tog vir jou goewerneur! Sal hy 'n welgevalle aan jou hê of jou goedgesind wees? sê die Here van die leërskare. MALEÁGI 1:8 AFR53
Ons weet dit want die sondes wat Maleagi bestraf het, was dieselfde sondes wat Nehemia bestraf het.
Die priesterskap was besoedel.
Dink aan hulle, my God, oor die bevlekking van die priesterskap en van die verbond met die priesterskap en met die Leviete.NEHEMÍA 13:29 AFR53
Die huwelik in Israel was korrup.
In dié dae het ek ook Jode gesien wat Asdodiese, Ammonitiese, Moabitiese vroue getrou het. En van hulle kinders het die helfte Asdodies gepraat, of die taal van watter volk ook al; maar hulle kon geen Joods praat nie. Daarom het ek met hulle getwis en hulle gevloek, en sommige van hulle geslaan en die hare uitgepluk en hulle by God besweer: Julle mag julle dogters nie aan hulle seuns gee, en julle mag nie van hulle dogters vir julle seuns of vir julleself neem nie! NEHEMÍA 13:23-25 AFR53
Die tiende wat aan die Leviete moes gaan, is van hulle weggehou.
Ook het ek verneem dat die aandele van die Leviete nie gegee is nie, sodat die Leviete en die sangers wat die dienswerk moes verrig, elkeen na sy grond gevlug het. En ek het met die leiers getwis en gesê: Waarom is die huis van God in verwaarlosing? En ek het hulle bymekaar laat kom en hulle weer op hulle pos aangestel. NEHEMÍA 13:10-11 AFR53
Teen hierdie tyd was die tempel herbou, offerandes en feeste het hervat, maar die dramatiese beloftes van die profete soos Haggai en Sagaria was nog ver van vervulling.
Dit het die nasie moedeloos en teleurgesteld gelaat in wat hulle gedink het onvervulde beloftes was. Dit het hulle tot 'n lae agting van God gelei. Israel het 'n versekering van God se liefde nodig en 'n uitdaging vir hul ongehoorsaamheid.
20 Oktober 2024
MALEÁGI 1:2 AFR53
Ek het julle liefgehad, sê die Here. Nogtans vra julle: Waarin het U ons liefgehad? Is Esau nie die broer van Jakob nie? spreek die Here. Tog het Ek Jakob liefgehad,
Maleagi sou ‘n baie spesifieke teregwysing aan Israel bring, maar voordat God hulle berispe, het Hy hulle eers van Sy liefde verseker. Dit het die grondslag vir hul gehoorsaamheid neergelê, want as hulle Hom liefgehad het, sou hulle Sy gebooie onderhou. Israel vra nou ‘n paar vrae.
As julle My liefhet, bewaar my gebooie. JOHANNES 14:15 AFR53
Israel se eerste vraag: Hoe het God Sy liefde aan Israel getoon?
Hierdie is die soort vraag wat selde hardop gevra word, maar dikwels in die hart gehou word. Die vraag is: God, as U my regtig liefhet, hoekom is dinge dan soos dit is?
God het Israel gevra om versekering te vind in Sy uitverkiesing, Sy keuse van hulle. Hy wou hê hulle moet verstaan dat hulle uitverkies is en Sy uitverkore en begunstigde volk bly.
Toe die volk Israel hulself met hul bure die Edomiete (die nageslag van Esau) vergelyk, het hulle gesien dat God gekies het om Israel te bewaar en Hy het die Edomiete verwerp. God se haat teenoor Esau was egter welverdiend na die volgehoue teenstand teen God deur die eeue. Esau en sy nageslag het geen hart vir God of God se mense nie.
Edom se vermorsing van sy erfenis (hy het sy erfenis verruil vir ‘n pot lensies) het dit ’n plek gemaak vir die jakkalse van die wildernis. Elke poging om te herbou sal tervergeefs wees. Jakob se stede is verwoes, maar hulle is herbou, Edom s'n word verwoes, en nooit herbou nie.
maar Esau het Ek gehaat en sy gebergte 'n wildernis gemaak en sy erfdeel aan die jakkalse van die woestyn prysgegee. MALEÁGI 1:3 AFR53
Die lyding van die regverdiges sal 'n einde hê en sal goed eindig. Al hul griewe sal reggestel word, en hul droefheid word verander in blydskap, maar die lyding van die goddeloses sal eindeloos en onheilspellend wees, soos Edom se verwoestings.
As Edom sê: Ons is wel verwoes, maar ons sal die puinhope weer opbou — dan sê die Here van die leërskare dit: Laat hulle bou, Ek breek dit tog af; en die mense sal hulle noem: Grondgebied van goddeloosheid, en: Die volk waarop die Here vertoornd is tot in ewigheid! MALEÁGI 1:4 AFR53
Israel word hier aangespreek. Wanneer julle hierdie bewyse van God se liefde vir julle sien, sal julle ophou murmureer en gereed wees om God te loof vir Sy goedheid en krag. Die Here sal groot gemaak word, of beter, die Here is groot. God maak Sy grootheid aan Israel bekend.
En julle oë sal dit aanskou, en julle sal sê: Groot is die Here oor die gebied van Israel! MALEÁGI 1:5 AFR53
Israel se tweede vraag: Waardeur het ons U Naam verag?
Deur Maleagi het God die priesters van Israel gevra hoekom hulle so min respek en eer aan Hom betoon in hul offers. Hulle noem God Vader, hulle noem Hom Meester, en tog het hulle Hom nie geëer en Hom eerbied betoon met hul offers nie.
'n Seun eer die vader, en 'n kneg sy heer. As Ek dan 'n Vader is, waar is my eer? En as Ek 'n Heer is, waar is die vrees vir My? sê die Here van die leërskare aan julle, o priesters, wat my Naam verag! Maar julle sê: Waardeur het ons u Naam verag? MALEÁGI 1:6 AFR53
21 Oktober 2024
MALEÁGI 1:7 AFR53
Julle bring spys wat verontreinig is, op my altaar, en dan vra julle: Waardeur het ons U verontreinig? Deurdat julle sê: Die tafel van die Here is veragtelik.
Israel se derde vraag: Waardeur het ons U verontreinig?
Die priesters van Israel het die offers gebring en dit was hul plig om die eer en waardigheid van die offerstelsel te handhaaf. Tog het hulle besoedelde voedsel aan God voorgesit en diere geoffer wat blind, lam of siek was.
En as julle 'n blinde dier bring om te offer, is dit geen kwaad nie! En as julle 'n lam of 'n siek dier bring, is dit geen kwaad nie! Bring dit tog vir jou goewerneur! Sal hy 'n welgevalle aan jou hê of jou goedgesind wees? sê die Here van die leërskare. MALEÁGI 1:8 AFR53
Die Wet het dit duidelik verbied om gebrekkige offers aan God te bring.
Maar as daar 'n liggaamsgebrek aan is — lam of blind, enige lelike gebrek — dan moet jy dit nie aan die Here jou God offer nie; DEUTERONÓMIUM 15:21 AFR53
God praat steeds met die priesters wat hul besoedelde offers aan Hom gee. Sal Hy guns aan iemand bewys omdat julle vir hom intree?
Smeek dan nou tog die aangesig van God, dat Hy ons genadig kan wees! Sulke dinge is deur julle gedoen — sal Hy dan om julle ontwil goedgesind wees? sê die Here van die leërskare. MALEÁGI 1:9 AFR53
God sê dit is beter om die deure van die tempel te sluit eerder as om voort te gaan met waardelose aanbidding.
Ag, was daar maar iemand onder julle wat die deure wou sluit, sodat julle nie tevergeefs vuur op my altaar kan aansteek nie! Ek het in julle geen welgevalle nie, sê die Here van die leërskare, en in 'n offer uit julle hand het Ek geen behae nie. MALEÁGI 1:10 AFR53
Tog sal God nie sonder aanbidding gaan nie. As die priesters en mense onder die Joodse volk Hom nie in Gees en in waarheid sou aanbid nie, sou God aanbidders onder die heidene vind.
Want van die opgang van die son tot sy ondergang toe is my Naam groot onder die heidene; en in elke plek word tot eer van my Naam reukwerk gebring en 'n rein offer; want my Naam is groot onder die heidene, sê die Here van die leërskare. MALEÁGI 1:11 AFR53
Die priesters laat toe dat die volk blinde, siek, lam of verminkte, en soms selfs gesteelde diere offer. Deur aan God minder as hulle beste te bring, was hulle bedrieërs.
Julle daarenteen ontheilig dit as julle sê: Die tafel van die Here is verontreinig, en wat sy opbrings betref — sy spys is veragtelik. En julle sê: Kyk, wat 'n moeite! En julle verag dit, sê die Here van die leërskare; en julle bring geroofde en lam en siek diere — so bring julle dan die offer! Kan Ek dit met welgevalle uit julle hand aanneem? sê die Here. MALEÁGI 1:12-13 AFR53
Die priesters het God eenvoudig nie behandel soos 'n groot Koning, en Een wat gevrees en geëer moet word nie.
Vervloek is ook die bedrieër wat, terwyl daar onder sy kleinvee 'n manlike dier is, 'n gelofte doen en tog iets wat vermink is, aan die Here offer; want Ek is 'n groot Koning, sê die Here van die leërskare, en my Naam is gedug onder die heidene. MALEÁGI 1:14 AFR53
22 Oktober 2024
MALEÁGI 2:1 AFR53
En nou, priesters, tot julle kom hierdie gebod.
As die priesters nie wou hoor en eer aan God bewys nie, het God belowe om hul seëninge te vervloek. Die priesters se sonde is gekenmerk aan hul leë formaliteite. Hul godsdiens was oppervlakkige emosies en uiterlike tekens, maar nie van harte nie.
As julle nie gehoor gee nie, en as julle dit nie ter harte neem om my Naam eer te bewys nie, sê die Here van die leërskare, dan sal Ek die vloek onder julle stuur en julle seëninge in 'n vloek verander; ja, Ek het dit alreeds vervloek, omdat julle niks ter harte neem nie. MALEÁGI 2:2 AFR53
Geofferde diere het steeds ontlasting in hul binnegoed gehad, en God het gesê dit moet buite die heiligdom verbrand word.
Maar die vleis van die bul en sy vel en sy mis moet jy buitekant die laer met vuur verbrand. Dit is 'n sondoffer. EXODUS 29:14 AFR53
Nou sê God dat Hy daardie mis op die priesters se gesigte sal smeer, sodat hulle ook buite die heiligdom geneem moet word.
Kyk, Ek sal julle nakomelingskap bedreig, en Ek sal mis op julle gesigte strooi, die mis van julle feeste; en hulle sal julle na die mishoop dra. MALEÁGI 2:3 AFR53
Ons sien nou die rede vir God se dissipline teen hierdie goddelose priesters. Hy waarsku hulle om terug te keer na die bepalings van die Wet.
En julle sal gewaar word dat Ek julle hierdie gebod gestuur het, dat dit my verbond kan wees met Levi, sê die Here van die leërskare. MALEÁGI 2:4 AFR53
God se verbond met Levi het lewe en vrede ingesluit - God se gawes aan gehoorsame mense.
My verbond met hom was die lewe en die vrede; en Ek het dié aan hom gegee tot vrees; en hy het My gevrees en vir my Naam gebewe. MALEÁGI 2:5 AFR53
Die eintlike taak van die dienaar van God is om met vrymoedigheid die Wet van God uiteen te sit soos dit in Sy Woord gevind word – of dit gewild is of nie. Getroue verkondiging van God se Woord sal baie tot geregtigheid verander.
Betroubare regsleer was in sy mond, en onreg is op sy lippe nie gevind nie; in vrede en opregtheid het hy met My gewandel, en baie mense het hy van ongeregtigheid teruggebring. MALEÁGI 2:6 AFR53
Die Leviete was ook die leermeesters van die volk.
Want die lippe van 'n priester moet kennis bewaar, en uit sy mond word onderrig gesoek, want hy is 'n boodskapper van die Here van die leërskare. MALEÁGI 2:7 AFR53
23 Oktober 2024
MALEÁGI 2:8 AFR53
Maar júlle het van die weg afgewyk, julle het baie deur jul onderrig laat struikel, julle het die verbond met Levi verbreek, sê die Here van die leërskare.
Die priesters moes die woord van God in kennis, eerbied en gehoorsaamheid onderhou. Maar, hulle het van die weg afgewyk, die verbond verbreek en die volk laat struikel. Omdat die priesters van Maleagi se tyd so ver tekort geskiet het aan God se ideaal vir hulle, het die volk hulle verag.
So maak Ek julle dan ook veragtelik en gering by die hele volk, omdat julle my weë nie hou nie en partydig handel by die regspraak. MALEÁGI 2:9 AFR53
Daar is geen eerbied vir God meer nie en die priesters behandel God met minagting. Die verhouding met God behoort die verhouding met die naaste te bepaal. Dit is soos vinkel en koljander, die een is soos die ander.
Het ons nie almal een Vader nie? Het een God ons nie geskape nie? Waarom handel ons dan troueloos met mekaar, deur die verbond van ons vaders te ontheilig? MALEÁGI 2:10 AFR53
Die Joodse mans het met vrouens getrou wat in diens van ‘n ander god gestaan het, waarskynlik veral Moabitiese en Ammonitiese vroue, soos Esra en Nehemia dit aandui. Gemengde godsdiens huwelikke word dus skerp veroordeel, omdat dit nie net die geloof van die Joodse eggenoot bedreig nie, maar veral die kinders blootstel aan ‘n ander godsdiens.
Juda het troueloos gehandel, en 'n gruwel is in Israel en in Jerusalem gepleeg; want Juda het die van die Here, wat Hy liefhet, ontheilig, en hy het die dogter van 'n uitlandse god getrou. MALEÁGI 2:11 AFR53
Die ware kind van God sal nie voortgaan om in sonde te lewe nie.
Mag die Here van die man wat so iets doen, uitroei hom wat roep en hom wat antwoord gee uit die tente van Jakob, en hom wat 'n offer aan die Here van die leërskare bring. MALEÁGI 2:12 AFR53
Die profeet bestraf nou die mense vir hul ligsinnige egskeidings van hul eerste vrouens, wat 'n natuurlike gevolg was van hul huwelike met heidense vroue.
En boonop doen julle dít: julle bedek die altaar van die Here met trane, met geween en versugting, omdat Hy Hom nie meer wend na die offer nie en dit van julle hand nie aanneem as welgevallig nie. En julle vra: Waarom? Omdat die Here getuie is tussen jou en die vrou van jou jeug aan wie jy ontrou geword het, terwyl sy tog jou metgesel is en die vrou van jou verbond. Het Hy dan nie een mens gemaak nie, hoewel Hy gees oorgehad het? En waarom die een? Hy het 'n geslag van God gesoek. Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou aan die vrou van jou jeug nie. MALEÁGI 2:13-15 AFR53
Hierdie vers is een van die sterkste uitsprake, enige plek in die Skrif, teen egskeiding.
Want Ek haat egskeiding, sê die Here, die God van Israel, en dat 'n mens sy kleed met geweldpleging bedek, sê die Here van die leërskare. Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou nie. MALEÁGI 2:16 AFR53
24 Oktober 2024
MALEÁGI 2:17 AFR53
Julle vermoei die Here met julle woorde. Nogtans vra julle: Waarmee vermoei ons Hom? Deurdat julle sê: Elkeen wat kwaad doen, is goed in die oë van die Here, en in hulle het Hy 'n behae; of waar is anders die God van die reg?
Die volk van God in Maleagi se tyd was depresief en moedeloos, omdat dit gelyk het of die goddeloses voorspoedig was en dit met hulle beter gegaan het as die gelowiges. Dit het hulle met twyfel en ongeloof vervul, en hulle het gemurmureer dat elkeen wat kwaad doen, goed is in die oë van God.
Toe die volk hulself met ander vergelyk, het hulle gedink dit is onregverdig van God om ander te seën en nie hulle nie. Nietemin toon hul vraag dat hulle nie verstaan wat die God van geregtigheid aan hulle sou gee nie.
Hierdie soort onkundige en ongelowige praatjies van die volk is vir God vermoeiend. Dit wys hoeveel Sy mense Sy waarheid en Sy werk weerstaan.
God reageer op hul klagtes deur te sê dat Hy dinge sal regstel met die Messias, en voor Hom sal Sy boodskapper kom.
Kyk, Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan; dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle 'n begeerte het. Kyk, Hy kom, sê die Here van die leërskare. MALEÁGI 3:1 AFR53
Hierdie geprofeteerde boodskapper is niemand anders nie as Johannes die Doper.
Want dit is hy van wie daar geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u weg voor U uit sal regmaak. Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy. MATTHÉÜS 11:10-11 AFR53
Jesaja maak ook melding van iemand wat die Here se weg sal voorberei
'n Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die Here; maak gelyk in die wildernis 'n grootpad vir onse God! Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet 'n gelykte en die rotsagtige plekke 'n laagte word. En die heerlikheid van die Here sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien: want die mond van die Here het dit gespreek. JESAJA 40:3-5 AFR53
In koninklike optogte van ouds het ‘n boodskapper voor die Koning gegaan om sy aankoms aan te kondig, om hul roete aan te dui en om enige hindernisse wat in die pad mag wees uit die weg te ruim. Johannes die Doper het hierdie presiese bediening vir Jesus vervul.
God se doel om hierdie spesifieke profesie deur Maleagi te bring, was waarskynlik omdat Israel gekla het dat die Messiaanse beloftes van Haggai en Sagaria nie vervul is nie. Hier het Maleagi gewys dat die weg vir die Messias voorberei moet word, en hulle was nog nie gereed nie.
Die tweede boodskapper is Jesus – die Boodskapper van die verbond. Hierdie profesie verwys na Jesus se tweede koms, as 'n regter, wat Sy koninkryk op aarde vestig.
Hy word Here genoem, dit is Sy Tempel, en Hy is die Boodskapper van die verbond. Dit is die Here Jesus Christus.
25 Oktober 2024
MALEÁGI 3:2 AFR53
Maar wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn? Want Hy sal wees soos die vuur van die smelter en soos die loog van die wassers.
Wie kan die dag van Sy koms verduur? Maleagi 3:1 het gepraat van twee boodskappers wat sou kom – een om die weg van die Here te berei en een om die Boodskapper van die verbond te wees. Die koms wat die mense moet verduur, is die koms van die Boodskapper van die verbond, maar dit is met Sy tweede koms.
Soos die meeste Ou Testament profete, het Maleagi, in sy prentjie van die komende Christus, Jesus se eerste en tweede koms vermeng.
Die Boodskapper is soos 'n smelter se vuur en soos wasgoedseep. Die koms van hierdie tweede Boodskapper sal vreeslik en verskriklik wees, maar met 'n doel. Beide die smelter en die wasser se werk is om skoon te maak, nie om te vernietig nie.
En Hy sal sit: 'n smelter en reiniger van silwer, en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud en soos silwer, sodat hulle aan die Here in geregtigheid 'n offer sal bring. MALEÁGI 3:3 AFR53
In die eerste twee hoofstukke van Maleagi het God Homself uitgespreek teen die verdorwenheid van die priesterskap. Hier gee God Sy uiteindelike antwoord teen daardie korrupsie – die Messias sal die seuns van Levi reinig.
Dan sal die offer van Juda en Jerusalem vir die Here aangenaam wees soos in die ou dae en soos in die jare van die voortyd. MALEÁGI 3:4 AFR53
God se uiteindelike doel is om die samelewing te reinig en die harte van mense te verander. Wanneer Jesus in heerlikheid terugkeer en op die aarde regeer, sal die bose vinnig gestraf word.
Towenaars: Hierdie sonde word eerste genoem omdat die Jode tydens hul ballingskap in Babilon vertroud geraak het met towery en ander towerkunste.
En Ek sal tot julle nader om strafgerig te hou, en Ek sal 'n haastige getuie wees teen die towenaars en teen die egbrekers en teen die meinediges en teen die wat die dagloner in sy loon, die weduwee en die wees verdruk; en teen die wat die vreemdeling wegstoot en My nie vrees nie, sê die Here van die leërskare. MALEÁGI 3:5 AFR53
Omdat dit God se onveranderlike wil is dat die kinders van Jakob, Sy uitverkore volk, nie as 'n nasie moet omkom nie, sal Hy hulle reinig deur die goddeloses onder hulle uit te wis, sodat die oorblyfsel kan terugkeer na hul getrouheid.
Want Ek, die Here, het nie verander nie; en julle, kinders van Jakob, is nie verteer nie. MALEÁGI 3:6 AFR53
Ongehoorsaamheid was geen nuwe oortreding nie. Die volk het van die begin af volhard in goddeloosheid. Indien die uitvoering van God se vaste belofte vertraag is, is dit omdat hulle nie die voorwaardes van die verbond vervul het nie. Keer terug na My toe, sê God, en Ek sal na julle terugkeer.
Sedert die dae van julle vaders het julle van my insettinge afgewyk en dit nie onderhou nie. Keer terug na My, en Ek wil na julle terugkeer, sê die Here van die leërskare. Maar julle vra: Waarin moet ons terugkeer? MALEÁGI 3:7 AFR53
26 Oktober 2024
MALEÁGI 3:8 AFR53
Mag 'n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe.
Dit klink ongelooflik om te dink dat 'n mens God kan beroof. Wat kan iemand moontlik van God steel? God verduidelik – hulle beroof Hom deur hul tiendes en offergawes te weerhou.
Omdat God se mense nie gegee het soos Hy beveel het nie, het God hulle nie materieel of geestelik geseën soos Hy andersins sou doen nie.
Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie! MALEÁGI 3:9 AFR53
Hier is nou die antwoord op hul probleme – om werklik te doen wat God hulle beveel het om te doen, en om hul volle tiendes vir God te bring.
Dit was nie dat hulle niks vir God gegee het nie, hulle het eenvoudig nie hul volle tiende vir Hom gebring nie. Hulle wou nie te kort skiet om aan God alles te gee waarvoor Hy vra nie.
Die doel van die tiende was hoofsaaklik om die priesters te ondersteun wat voor God gedien het. Toe die volk nie hul tiendes gebring het nie, was die priesters nie behoorlik onderhou nie en was daar nie genoeg kos vir hulle in die huis van God nie.
Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die Here van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle 'n oorvloedige seën sal uitstort nie. MALEÁGI 3:10 AFR53
Dit is moeilik om 'n vergelykbare Skrifgedeelte te vind waar God Sy mense beveel om Hom te toets. Hier, met betrekking tot gee en Sy seën daarvan, het Hy vir Sy mense gesê - beproef My hierin.
Indien hulle God op Sy woord sou neem en Hom sou toets deur hul volle tiendes te gee, sou God van Sy kant die vensters van die hemel oopmaak en oorvloedige seën op hul uitstort.
God sou nie net 'n vrugbare seisoen gee, sodat die opbrengs van die grond goed sou opkom nie, maar sou hulle oeste beskerm teen alles wat dit moontlik kon vernietig.
Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrugbaar wees nie, sê die Here van die leërskare. MALEÁGI 3:11 AFR53
Al die nasies om hulle sou die volk van God se voorspoed sien en dink hoe gelukkig hulle is.
En al die nasies sal julle gelukkig prys, omdat julle die land van welbehae sal wees, sê die Here van die leërskare. MALEÁGI 3:12 AFR53
27 Oktober 2024
MALEÁGI 3:13 AFR53
Vermetel is julle woorde teen My, sê die Here. Maar julle vra: Wat het ons onder mekaar teen U gespreek?
Israel het op 'n vermetel en sondige manier teen God gespreek - en hulle het blykbaar nie eens besef dat hulle dit gedoen het nie.
Dit was harde woorde wat God se volk teen Hom gespreek het. Hulle het die voorspoed van die hoogmoediges en goddeloses gesien, en gevoel dat dit nutteloos was om God te dien as dit beter gaan met die wat God haat.
Julle het gesê: Dit is tevergeefs om God te dien, en wat baat dit ons om sy verordening te onderhou en in rouklere voor die aangesig van die Here van die leërskare te wandel? MALEÁGI 3:14 AFR53
Dit is steeds die murmureerders wat hier kla. Hulle reken die nederiges en sagmoediges is nie geseënd nie. Die enigste geseëndes is die arrogante heidene of vry denkers wat voorspoed en geluk in hierdie wêreld kry.
En nou prys ons die vermeteles gelukkig; nie alleen word die wat goddeloosheid bedrywe, gebou nie, maar hulle versoek God en raak vry! MALEÁGI 3:15 AFR53
Al hierdie negatiewe gevoelens, het gemaak dat die wat God gevrees het, met mekaar begin praat het om mekaar te bemoedig.
Maleagi belowe dat God nie net sal onthou nie, maar dat Hy dit in ‘n gedenkboek sal neerskryf!
Toe het die wat die Here vrees, met mekaar gespreek; en die Here het dit opgemerk en gehoor, en daar is 'n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die Here vrees en sy Naam eer. MALEÁGI 3:16 AFR53
Die gedagte dat God ’n gedenkboek het, is algemeen maar uiteenlopend.
Nou dan, as U tog maar hulle sonde wou vergewe! En so nie, delg my dan maar uit u boek wat U geskryf het! EXODUS 32:32 AFR53
En in dié tyd sal Mígael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal 'n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat 'n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan. DANIËL 12:1 AFR53
Die gelowiges het hulself versterk in hul geloof in God, die heilige en regverdige Regter wat mettertyd beide die goddeloses en die regverdiges volgens hul dade sal vergeld. Op die dag sal dan ‘n groot onderskeid wees tussen die regverdiges en die goddeloses.
En hulle sal My tot 'n eiendom wees, sê die Here van die leërskare, op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelyde hê soos 'n man medelyde het met sy seun wat hom dien. Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie. MALEÁGI 3:17-18 AFR53
28 Oktober 2024
MALEÁGI 4:1 AFR53
Want kyk, die dag kom, en dit brand soos 'n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, 'n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek, sê die Here van die leërskare; sodat dit vir hulle geen wortel of tak sal oorlaat nie.
Maleagi beklemtoon nou die vernietiging van die goddelose net soos Jesaja ook geprofeteer het.
Want kyk, die Here sal kom in vuur, en sy waens soos 'n stormwind, om in hittigheid sy toorn te openbaar en in vuurvlamme sy dreiging. Want met vuur en met sy swaard sal die Here strafgerig hou oor alle vlees, en hulle wat deur die Here verslaan is, sal baie wees. JESAJA 66:15-16 AFR53
So volkome sal die oordeel wees dat die goddeloses, die hoogmoediges en elke kwaaddoener soos stoppels sal wees, nie 'n wortel of 'n tak sal oorbly nie. Dit beteken nie uitwissing in die sin van die beëindiging van hul ewige bestaan nie, want die goddelose sal ook opgewek word.
En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik. DANIËL 12:2 AFR53
Die goddeloses word totaal uit God se Koninkryk uitgesluit.
En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe. MATTHÉÜS 25:46 AFR53
Die wat God se Naam vrees sal gered word. Die son van redding skyn met genesing in sy strale.
Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal. MALEÁGI 4:2 AFR53
Dié wat eerbied vir God het, sê Maleagi, sal dus ervaar dat God vir hulle goed is. Daardeur sal die verskil tussen dié wat goed doen en dié wat goddeloos is, duidelik sigbaar word, al beskryf Maleagi dit as iets wat eers op die dag van die Here volledig gesien sal word.
En julle sal die goddelose vertrap, want hulle sal soos stof wees onder julle voetsole op die dag wat Ek skep, sê die Here van die leërskare. MALEÁGI 4:3 AFR53
God hou daarvan as ons terugdink en onthou wat Hy gedoen het, want as jy die geskiedenis ken, dan weet jy hoe groot God se krag en mag is.
Dink aan die wet van Moses, my kneg, wat Ek hom beveel het op Horeb vir die hele Israel — insettinge en verordeninge. MALEÁGI 4:4 AFR53
In hierdie laaste paar profetiese woorde van die Ou Testament waarsku Maleagi Israel om die Wet te onthou, want God se profetiese stem sou vir sowat 400 jaar stil wees.
God het by Horeb of die die berg Sinai vir Moses die Tien Gebooie gegee. Die mense in Maleagi se tyd het 'n hernude vrees vir God nodig gehad - hulle moes bekeer en getrou wees aan God se verbond. Sulke bekering sou maak dat hul voordeel trek, eerder as om te ly in die komende dag van die Here.
29 Oktober 2024
MALEÁGI 4:5 AFR53
Kyk, Ek stuur julle die profeet Elía voordat die groot en vreeslike dag van die Here aanbreek.
God het deur Maleagi belowe dat die profeet Elia sou kom om die volk te bedien voor die dag van die Here.
Ons het in Maleagi 3:1 gesien dat ‘n boodskapper sou kom om die weg te baan vir die Messias, en die boodskapper was Johannes die Doper.
Net om seker te maak dat daar geen verwarring is nie, kyk ons hoe Johannes die Doper self sê dat hy nie Elia is nie.
En dit is die getuienis van Johannes, toe die Jode uit Jerusalem priesters en Leviete gestuur het om hom te vra: Wie is u? En hy het erken en nie ontken nie, maar het erken: Ek is nie die Christus nie. Toe vra hulle hom: Wat dan? Is u Elía? En hy sê: Ek is nie. Is u die profeet? En hy antwoord: Nee. JOHANNES 1:19-21 AFR53
Die volgende keer in die Nuwe Testament wat Elia genoem word is wanneer hy saam met Moses en Jesus en drie disippels op die berg verskyn.
En ná ses dae het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes, sy broer, saamgeneem en hulle op 'n hoë berg in die eensaamheid gebring. En Hy het voor hulle van gedaante verander, en sy aangesig het geblink soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig. En kyk, daar verskyn aan hulle Moses en Elía in gesprek met Hom. MATTHÉÜS 17:1-3 AFR53
Dit lyk asof Petrus die betekenis van hierdie gebeurtenis begryp het, want hy maak ‘n voorstel om drie skuilings oprig, vir Jesus, Moses (die Wet), en Elia (profete) wat verwys na die huttefees.
Toe begin Petrus vir Jesus te sê: Here, dit is goed dat ons hier is; as U wil, laat ons hier drie hutte maak: vir U een en vir Moses een en een vir Elía. MATTHÉÜS 17:4 AFR53
Selfs tydens die Sederfees wat Jode met Paasfees vier word ‘n spesiale plek vir die profeet Elia gedek.
Ons is nog nie saam met Jesus in die koninkryk van die Vader nie. Dit gebeur nog in die toekoms na Jesus se tweede koms.
Die Jode wag nog vir Elia om terug te kom, om Jesus aan die volk te bied. Maleagi 4:5 word aan die einde van die aand gelees - die laaste boek en laaste hoofstuk van die Ou Testament.
Ons weet dat hierdie gedeelte vorentoe wys na Jesus se tweede koms, en dit het nog nie gebeur nie. Op elke Seder tafel is daar ‘n plek gedek wat nie gebruik is nie – die plek is vir Elia.
‘n Familielid sal gewoonlik na die voordeur stap om te kyk of Elia daar is. Wanneer hy nie by die deur is nie, word die verrigtinge afgesluit met die woorde – tot volgende jaar in Jerusalem!
Die laaste vers gee die rede hoekom Elia weer moet terugkom. Hy sal vaders en kinders met mekaar versoen sodat God nie die land heeltemal moet vernietig nie.
En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders, sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie. MALEÁGI 4:6 AFR53
コメント