top of page

Die profete na die ballingskap: Haggai 1-2

  • Regina Torre
  • Aug 14, 2024
  • 20 min read

Updated: Sep 23, 2024


15 Augustus 2024


JEREMIA 25:11-12 AFR53

En hierdie hele land sal 'n puinhoop, 'n woesteny word; en hierdie nasies sal die koning van Babel sewentig jaar lank dien. En as sewentig jaar vol is, sal Ek oor die koning van Babel en oor dié nasie, spreek die Here, hulle ongeregtigheid besoek, en oor die land van die Chaldeërs, en sal dit ewige wildernisse maak.


Ons is besig met die ‘klein profete’ en het tot dusver die volgende profete bestudeer.


Die profete aan die heidene:

- Jona, Nahum, Obadja


Die profete aan die Noordelike Koninkryk:

- Hosea, Amos


Die profete aan die Suidelike Koninkryk:

- Joël, Miga, Sefanja, Habakuk


Ons het opsommend deur die geskiedenis van Israel en Juda se Koninkryke gewerk, en gesien dat hul ongehoorsaamheid aan God tot hul eie oordeel gelei het. God het eers die Assiriërs gebruik om die Noordelike Koninkryk tot ‘n val te bring, en toe die Babiloniese Ryk gebruik om die Suidelike Koninkryk tot ‘n val te bring.


Juda was vir sewentig jaar in Babeloniese ballingskap. Hoekom sewentig? God se volk het vir 490 jaar versuim om hul land, sy sabatte te gee. Wat beteken dit? Elke sewende jaar mag die volk niks geplant het nie, die land moes rus. Hierdie reël is versuim.  70 jaar x 7 = 490 jaar. God hou van wiskunde!


sodat die woord van die Here deur die mond van Jeremia vervul sou word: totdat die land vir sy sabbatte vergoeding gekry het; al die dae van die verwoesting het dit gerus om sewentig jaar vol te maak.   II KRONIEKE 36:21 AFR53


Daniël het in Babilon gewerk tot die eerste jaar van Kores— die jaar wat die Persiese keiser 'n proklamasie uitgevaardig het, om God se volk toe te laat, om na Jerusalem terug te keer, en die tempel te herbou. Die jaar van hierdie proklamasie was die einde van die 70 jaar ballingskap van God se volk.


En Daniël was daar tot die eerste jaar van koning Kores.   DANIËL 1:21 AFR53


Die mense wat teruggekeer het na Jerusalem het die tempelhof se puin skoongemaak en die brandofferaltaar op die fondament daarvan geplaas, sodat die daaglikse offers kon begin. In die lente van die volgende jaar was die fondamente van die tempel gelê, en toe het die probleme begin.


Buurstamme—veral die Samaritane—was vyandiggesind. Kores het in ‘n geveg gesterf, en sy opvolger, Ahasveros, is onder druk geplaas om die werk te staak.


Toe die werk aan die tempel opgehou het, het die mense teruggekeer na hul privaatsake en geleidelik gewoond geraak om tussen die ruïnes van die eens groot tempel te aanbid. Die begeerte om te herbou het uitgesterf en hulle het versoen geraak om saam die sekulêre bewoners in 'n verarmde land te bly.


Met hierdie agtergrond gaan ons nou die profete bestudeer wat optree na die ballinskap:

- Haggai, Sagaria en Maleagi.


16 Augustus 2024


Haggai 1:1 AFR53

In die tweede jaar van koning Daríus, op die eerste dag van die sesde maand, het die woord van die Here deur die diens van die profeet Haggai gekom tot Serubbábel, die seun van Seáltiël, die goewerneur van Juda, en tot Josua, die seun van Jósadak, die hoëpriester, en gesê:   


In September 521 v.C., op die eerste dag van die sesde maand, die Joodse maand Elul, 18 jaar ná die volk in 539 v.C. van Babel af teruggekeer het, kom die woord van die Here tot Haggai.


Die fees van die nuwemaan is 'n heilige dag waar geen werk gedoen word nie en ‘n dag waar spesiale dienste in die tempel gehou word. Dit was dus 'n gepaste geleentheid vir Haggai om 'n reeks vermanings te begin wat intiem verband hou met die tempel. Boonop blyk dit 'n ou gewoonte te wees dat die mense hulle tot die profete moes wend vir godsdiensonderrig op nuwemane en sabbatte.


En elke maand op die nuwemaan en elke week op die sabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor my aangesig, sê die Here.   JESAJA 66:23 AFR53


Haggai se profesie is bedoel vir die twee leiers van die volk, die goewerneur Serubbabel en die hoëpriester Josua.


Weg is die heerlikheid van die vorige koninkryk en die tempel. Weg is die groot bevolking. Al wat oorgebly het, was die puin van Jerusalem, die oorblyfsel van die mense, en die taak om die tempel te herstel.


Met al die teenstand wat die volk gekry het met die bou van die tempel het hulle besluit dat dit ‘n teken was van God dat hulle nie moet aangaan met die bouwerk nie.


God spreek tot Haggai en begin met ‘hierdie volk’. God wys dus dat die besluit om die tempel se bouwerk te staak nie Sy besluit was nie, maar hierdie volk se eie besluit, wat voor ‘n bietjie teenstand, te gou moed opgegee het.


So spreek die Here van die leërskare: Hierdie volk sê: Nog het die tyd nie gekom, die tyd dat die huis van die Here gebou moet word nie.   HAGGAI 1:2 AFR53


Serubbabel en Josua het ‘n aanbod van die Samaritane, om te help om die tempel te herbou, van die hand gewys. Die Samaritane was die huidige inwoners van daardie gedeelte van die land en hulle was glad nie gelukkig met Serubbabel en Josua se besluit nie. Hulle het toe alles in hul vermoeë gedoen om die bou van die tempel teen te staan en was ook suksesvol in hul poging.


Toe het die volk van die land die hande van die volk van Juda laat verslap en hulle afgeskrik om nie te bou nie. En hulle het raadgewers teen hulle gehuur om hulle plan te verydel al die dae van Kores, die koning van Persië, tot op die regering van Daríus, die koning van Persië.   ESRA 4:4-5 AFR53


Esra bevestig Haggai se tydlyn, dat die bou van die tempel gestaak is tot en met die tweede jaar van die regering van Daríus, die koning van Persië.


Toe het die werk aan die huis van God wat in Jerusalem is, opgehou; en dit is gestaak tot op die tweede jaar van die regering van Daríus, die koning van Persië.   ESRA 4:24 AFR53


17 Augustus 2024


Haggai 1:3 AFR53

So het die woord van die Here dan gekom deur die diens van die profeet Haggai en gesê:


Haggai herhaal dat nie hyself nie, maar God nou praat. So het die woord van die Here gekom deur die profeet Haggai.


Haggai bevraagteken die volk se standpunt dat die bouwerk van die tempel nie ‘n prioriteit is nie. Hy doen dit met ‘n vraag van God: Is dit nou die tyd vir julle om in pragtige huise te woon terwyl My huis in puin lê?


Hiermee ontbloot God die volk se verkeerde prioriteite wat tot gevolg het dat dinge ekonomies nie vir hulle wil vlot nie, al is hulle nou al amper twee dekades terug in die land.


Is dit vir julle self wel tyd om in julle betimmerde huise te woon, terwyl hierdie huis in puin lê?   HAGGAI 1:4 AFR53


Nou gaan God vir die volk sê hoekom dit nie goed gaan met hulle nie.


So sê die Here van die leërskare dan nou: Gee ag op wat julle wedervaar het:   HAGGAI 1:5 AFR53


Julle saai maar die oeste se opbrengs is klein, julle eet maar word nie versadig nie, Julle drink maar jul dors word nie geles nie en julle klere maak jul nie warm nie. Julle is soos ‘n dagloner wat sy loon in ‘n stukkende beursie steek.


julle het baie gesaai, maar min ingebring; julle het geëet, maar nie tot versadiging nie; julle het gedrink, maar nie genoeg gekry nie; julle het jul geklee, maar nie warm geword nie; en wie hom vir loon verhuur, verhuur hom om dit in 'n stukkende beurs te steek.   HAGGAI 1:6 AFR53


God herhaal dat hulle moet ag slaan op hul omstandighede.


So sê die Here van die leërskare: Gee ag op wat julle wedervaar het!   HAGGAI 1:7 AFR53


God beveel nou drie dinge:

1) Klim op die berg

2) bring hout, en

3) bou die huis.


Die lewe is nie ingewikkeld as jy God eerste stel nie. God verkies werk. Daar is geen maklike wonderwerk kortpad na sukses nie. Die Heilige Gees seën nooit luiheid nie.


Die volk word beveel om die boumateriaal bymekaar te maak wat nodig is om die tempel te bou, en dan om die tempel self te bou. Die aksies sal goed wees in God se oë en Hom verheerlik.


Klim op die berg en bring hout aan en bou die huis; dan sal Ek 'n welgevalle daaraan hê en My verheerlik, sê die Here.   HAGGAI 1:8 AFR53


Dit was tyd vir God se mense om bekommerd te wees om Hom te behaag in plaas van hulself. In hul mooi huise en voorspoedige lewens het hulle plesier gehad en hulle is verheerlik - nou is dit God se beurt.


God het ook vir hulle gesê om dit met die regte soort hart te doen - 'n hart wat God wil behaag en verheerlik.


18 Augustus 2024


Haggai 1:9 AFR53

Julle het uitgesien na baie, en kyk, dit het min geword; en julle het dit in die huis gebring, maar Ek het dit weggeblaas. Waarom? spreek die Here van die leërskare. Ter wille van my huis wat in puin lê, terwyl elkeen van julle vir sy eie huis hardloop.


God spreek deur Haggai dat die volk ‘n hoop en ‘n verwagting van groot rykdom gehad het, maar daar het niks van gekom nie. Waarom? Omdat God se huis nie gebou is nie. Almal bou hul eie huise, maar vergeet van God se huis.


Daarom het God die reën en die opbrengs van hul oeste teruggehou.


Daarom het die hemel bo julle die dou ingehou en die aarde het sy opbrings teruggehou.   HAGGAI 1:10 AFR53


God sê vir Israel dat Hy verantwoordelik is vir die rampe wat hul tref, want hulle het Hom verwaarloos.


En Ek het droogte oor die land geroep en oor die berge en oor die koring en oor die mos en oor die olie en oor alles wat die grond oplewer; en oor die mense en oor die diere en oor alle arbeid van die hande.   HAGGAI 1:11 AFR53


Droogte en hongersnood in die Skrif is dikwels 'n instrument van God se toorn.


En Ek sal julle trotse mag verbreek, en sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper. En julle krag sal tevergeefs verbruik word, want julle land sal sy opbrings nie gee nie, en die bome van die land sal hulle vrugte nie gee nie.   LEVÍTIKUS 26:19-20 AFR53


Gehoorsaamheid moes by die leierskap begin. Dit was nie 'n preek net vir die mense nie, maar ook vir die hoogste leiers onder God se mense.

Serubbabel en Josua en die hele oorblyfsel van die volk is so begeesterd deur Haggai se woorde dat hulle na hom luister, en die opdrag van God om die tempel te bou, ter harte neem.

Hulle vrees vir God het gehoorsaamheid aangespoor. Dit was meer as basiese respek; dit was erkenning dat God 'n regter is wat regverdig met ons handel.


Toe het Serubbábel, die seun van Seáltiël, en Josua, die seun van Jósadak, die hoëpriester, en die hele oorblyfsel van die volk gehoor gegee aan die stem van die Here hulle God en aan die woorde van Haggai, die profeet, volgens die opdrag waarmee die Here hulle God hom gestuur het; en die volk was vervul met vrees voor die aangesig van die Here.   HAGGAI 1:12 AFR53


God was daar om hulle te bemoedig, en om hulle te versterk vir die werk. God bemagtig en bemoedig ons altyd om te doen wat Hy beveel.


Daarop het Haggai, die boodskapper van die Here, kragtens die boodskap van die Here, met die volk gespreek en gesê: Ek is met julle, spreek die Here. En die Here het die gees van Serubbábel, die seun van Seáltiël, die goewerneur van Juda, en die gees van Josua, die seun van Jósadak, die hoëpriester, en die gees van die hele oorblyfsel van die volk opgewek. En toe het hulle gekom en die werk begin aan die huis van die Here van die leërskare, hulle God.   HAGGAI 1:13-14 AFR53


Haggai spreek sy profesie in vers 1 uit , en nou 23 dae later gaan die volk begin met die herbou van die tempel.


Dit was op die vier-en-twintigste dag van die sesde maand, in die tweede jaar van koning Daríus.   HAGGAI 1:15 AFR53


19 Augustus 2024


Haggai 2:1 AFR53

Op die een-en-twintigste dag van die sewende maand het die woord van die Here deur die diens van die profeet Haggai gekom en gesê:


Die oorblyfsel van die volk het die tempel begin bou op die 24ste dag van die 6de maand. Dit is nou amper ‘n maand later op die 21ste dag van die 7de maand.


Die datums word vir ons gegee want die laaste 3 van die 7 feeste wat God vir Moses gegee het word in die 7de maand gevier. Die laaste fees of die huttefees word 7 dae lank gevier, van die 15de tot die 21ste dag van die sewende maand. Die dag na die huttefees, die 8ste dag, is dan ook ‘n rusdag.


Rusdae het dieselfde waarde as ons Sondae. Geen werk word gedoen nie, en van die verrigtinge het by en in die tempel plaasgevind. Alhoewel die tempel se herstelproses net in die beginfase was, sou die feesdae besonderse betekenis vir die oorblyfsel van die volk gehad het.


Dit is die feestye van die Here wat julle moet uitroep as heilige vierdae om aan die Here 'n vuuroffer te bring: 'n brandoffer en spysoffer, 'n slagoffer en drankoffers soos vir elke dag voorgeskrywe; behalwe die sabbatte van die Here en behalwe julle gawes en behalwe al julle geloftes en behalwe al julle vrywillige offers wat julle aan die Here gee.

Maar op die vyftiende dag van die sewende maand, as julle die opbrings van die land insamel, moet julle die fees van die Here sewe dae lank vier; op die eerste dag is dit rusdag, en op die agtste dag is dit rusdag.

En op die eerste dag moet julle vir julle vrugte neem van sierlike bome, met palmtakke en takke van digte bome en rivierwilgers, en sewe dae lank voor die aangesig van die Here julle God vrolik wees.

En julle moet dit as fees van die Here sewe dae in die jaar vier. Dit is 'n ewige insetting vir julle geslagte. In die sewende maand moet julle dit vier. Sewe dae lank moet julle in hutte woon; almal wat in Israel gebore is, moet in hutte woon,   LEVÍTIKUS 23:37-42 AFR53


Op die laaste dag van die huttefees, op die 21ste dag van die 7de maand, kry Haggai ‘n tweede woord van God. Hy moet die goewerneur, die hoë priester en die oorblyfsel van die volk aanspreek.


Spreek tog met Serubbábel, die seun van Seáltiël, die goewerneur van Juda, en met Josua, die seun van Jósadak, die hoëpriester, en met die oorblyfsel van die volk en sê:   HAGGAI 2:2 AFR53


Die woord van God word nou aan al die mense gerig: Wie van julle het gesien hoe mooi die vorige tempel was? Hoe lyk dié een vir julle? Lyk hy nie na niks in vergelykig met die vorige een nie? God is duidelik bewus van die gesprekke wat onder die volk gevoer word en waarin die moedeloosheid wou-wou oorneem.


Wie is onder julle nog oor wat hierdie huis in sy vroeëre heerlikheid gesien het? En hoedanig sien julle dit nou? Lyk dit nie net soos niks in julle oë nie?   HAGGAI 2:3 AFR53


Die tempel sou nooit weer wees soos dit vroeër was nie. Salomo se tempel, wat ironies genoeg ook in die sewende maand in gebruik geneem is, was ‘n verstommende luukse gebou.


Daarna het Salomo die oudstes van Israel en al die stamhoofde, die familie-owerstes van die kinders van Israel, by koning Salomo in Jerusalem byeen laat kom om die verbondsark van die Here uit die stad van Dawid, dit is Sion, op te bring. En al die manne van Israel het by koning Salomo op die fees vergader in die maand Étanim, dit is die sewende maand.     I KONINGS 8:1-2 AFR53


20 Augustus 2024


Haggai 2:4 AFR53

Nou dan, skep moed, Serubbábel, spreek die Here, en skep moed, Josua, hoëpriester, seun van Jósadak, en skep moed, julle almal, volk van die land, spreek die Here, en werk! Want Ek is met julle, spreek die Here van die leërskare,


Skep moed ... en werk ... wees nie bevrees nie! God gee die leiers en mense van Israel drie duidelike opdragte. Elkeen van hierdie drie opdragte was noodsaaklik om die werk van God gedoen te kry. Groot dinge word nie bereik sonder aksie nie. Skep moed, werk, wees nie bevrees nie!


Ek is met julle... volgens die verbond wat God met Sy volk gesluit het toe hulle uit Egipte uitgetrek het. Dieselfde God wat groot dinge in die verlede gedoen het, was vandag onder hulle, sodat hulle bemoedig kon word.


Vrees was ongetwyfeld by baie van die teruggekeerdes, maar God herinner die volk dat Hy hulle bystaan net soos hy hulle bygestaan het tydens die uittog uit Egipte.


met betrekking tot die verbond wat Ek met julle gesluit het by julle uittog uit Egipteland, en my Gees sal in julle midde bestendig bly; wees nie bevrees nie!   HAGGAI 2:5 AFR53


God het met die volk wat in Egipte in ballingskap was ‘n verbond gesluit en hierdie volgende vier beloftes aan hulle gegee:


1) Ek sal julle uitlei uit Egipte uit,

2) Ek sal julle red uit jul slawerny,

3) Ek sal julle verlos met ‘n uitgestrekte arm, en

4) Ek sal julle as My volk aanneem.


en Ék het ook gehoor die gekerm van die kinders van Israel wat deur die Egiptenaars in slawerny gehou word, en Ek het aan my verbond gedink. Daarom, sê aan die kinders van Israel: Ek is die Here, en Ek sal julle onder die harde arbeid van die Egiptenaars uitlei en julle red uit hulle slawerny, en Ek sal julle verlos deur 'n uitgestrekte arm en deur groot strafgerigte; en Ek sal julle as my volk aanneem en vir julle 'n God wees. En julle sal erken dat Ek die Here julle God is wat julle uitlei onder die harde arbeid van die Egiptenaars uit.   EXODUS 6:4-6 AFR53


Die 4 beloftes word jaarliks uitgebeeld in die Joodse paasfees met 4 bekers wyn wat gedurende die fees gebruik word. Jesus het die aand met Sy laaste paasmaal, volgens Joodse tradisie, die 3de beker wyn gebruik. Toepaslik, want Hy het geweet dat Hy ons gaan verlos die volgende dag aan die kruis.


Nou kondig God Sy voorneme aan om die huidige orde te skud in Sy komende dag van oordeel.


Want so sê die Here van die leërskare: 'n Rukkie nog, 'n kort tydjie, dan sal Ek die hemel en die aarde en die see en die droë grond laat bewe.   HAGGAI 2:6 AFR53


Hierdie vers is die enigste gedeelte van Haggai wat in die Nuwe Testament aangehaal word.


Toe het sy stem die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe.   HEBREËRS 12:26 AFR53


21 Augustus 2024


Haggai 2:7 AFR53

Ek sal ook al die nasies laat bewe, sodat die skatte van al die nasies sal toevloei; en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vervul, sê die Here van die leërskare.


Die omverwerping van die Persiese Ryk deur die Grieke en die opkoms van Alexander die Grote het beslis 'n skudding van die nasies veroorsaak. Die nasies sal egter aanhou bewe, tot en met Jesus se tweede koms wanneer Hy die nasies finaal oorwin.


Die Millenium volg na die nasies genoegsaam gebewe het, en hul skatte of rykdom sal na die tempel toestroom. Die heerlikheid van die Here sal ook weer die tempel vul soos in Salomo se tyd.


Die heerlikheid van God het Salomo se tempel verlaat lank voordat dit deur die Babiloniërs vernietig is, en was glad nie in die tweede tempel nie.


En toe die priesters uit die heiligdom uitgaan, het die wolk die huis van die Here vervul. En die priesters kon vanweë die wolk nie staan om diens te doen nie, want die heerlikheid van die Here het die huis van die Here vervul.   I KONINGS 8:10-11 AFR53


God sou alles voorsien wat die volk nodig gehad het om die tempel te bou, hulle moes net hulle deel doen.


Aan My behoort die silwer en aan My die goud, spreek die Here van die leërskare.   HAGGAI 2:8 AFR53


Hoewel die volk van 520 v.C. dié visie beswaarlik volledig kon verstaan, het dit hulle bemoedig. Hulle is uitgenooi om hul oë te vestig op wat kom, en nie net te onthou wat hulle verloor het nie.


Die toekomstige heerlikheid van hierdie huis sal groter wees as die vroeëre, sê die Here van die leërskare; en op hierdie plek sal Ek vrede gee, spreek die Here van die leërskare.   HAGGAI 2:9 AFR53


Die glorie van die tweede tempel was in werklikheid groter as Salomo se tempel. Eerstens het Herodes hierdie tweede tempel omskep in iets groter as Salomo se tempel en tweedens het die Here van Heerlikheid – Jesus – dit persoonlik besoek en daar aanbid.


Drie maande later, op die 24ste dag van die negende maand, die Joodse maand Kislev, kom die woord van die Here vir die derde keer tot Haggai. Weereens kon hulle aandag gee aan die woorde van die profeet, want dit was die groeiseisoen waarin die boeregemeenskap nie te besig was nie.


Op die vier-en-twintigste van die negende maand in die tweede jaar van Daríus, het die woord van die Here gekom deur die diens van die profeet Haggai en gesê:    HAGGAI 2:10 AFR53


Die fokus dié keer is op die bemoediging van die priesters. In ‘n reeks vrae oor die kwessie van die reinheid al dan nie van die offers wat die volk bring, en waarop die priesters telkens negatief antwoord, help Haggai hulle om te besef dat dit eintlik die volk is wat deur hulle ongehoorsaamheid aan God onrein is. Elke offer wat die volk na die tempel toe bring, is daarom eintlik onrein, al word die voorskrifte nougeset nagekom.


So sê die Here van die leërskare: Vra tog aan die priesters inligting uit die wet en sê: As iemand heilige vleis in die slip van sy kleed dra, en hy sou met sy slip aan brood raak of iets wat gekook is, of wyn of olie of watter spys ook al, sal dit heilig word? En die priesters het geantwoord en gesê: Nee.   HAGGAI 2:11-12 AFR53


22 Augustus 2024


Haggai 2:13 AFR53

Daarop sê Haggai: As iemand wat deur 'n lyk verontreinig is, aan al hierdie dinge sou raak, sal dit onrein wees? En die priesters het geantwoord en gesê: Dit sal onrein wees.


Haggai het die priesters – wat gewoond was om moeilike vrae te beantwoord – ondervra oor die oordrag van beide heiligheid en onreinheid. Die priesters het reg geantwoord volgens die Wet van Moses: heiligheid is nie aansteeklik nie, maar onreinheid wel.


Dus, om in die Heilige Land te woon en offers te bring, sou die mense nie aanvaarbaar maak voor God nie. Solank as wat hulle die huis van God sou verwaarloos, solank sou hulle onrein bly.


Toe antwoord Haggai en sê: Só is in my oë hierdie volk en só hierdie nasie, spreek die Here, en só is al die werk van hulle hande en wat hulle dáár offer — onrein is dit.   HAGGAI 2:14 AFR53


Haggai sê hulle moet terugkyk na die tyd voor die volk die onlangse bouwerk van die tempel begin het. Dink na oor wat met julle gebeur het, vandat die bou van die tempel gestaak is, nadat die eerste fondament gelê is, totdat julle weer begin het om dit te herbou.


Merk dan nou tog op, van hierdie dag af terug! Voordat hulle steen op steen gelê het in die tempel van die Here,   HAGGAI 2:15 AFR53


Gedurende hierdie tydperk het die oeste erg teleurgestel. ‘n Hoop koring wat twintig maat moes lewer, het net tien maat gelewer, en druiwe wat vygtig emmers moes skep, het net twintig gelewer.


in dié tyd het iemand gekom by 'n koringmied van twintig maat, en daar was maar tien; hy het gekom by die parskuip om vyftig emmers te skep, en daar was maar twintig.   HAGGAI 2:16 AFR53


God het julle swaar gestaf met verskillende ellendes - brandkoring, heuningdou en hael - maar nogtans het niemand hom tot God gewend nie.


Ek het julle swaar getref met brandkoring en heuningdou en hael — al die werk van julle hande — nogtans het niemand van julle hom tot My gewend nie, spreek die Here.   HAGGAI 2:17 AFR53


Omdat die volk egter gehoorsaam was aan die woord van die Here om die bouwerk aan die tempel ‘n prioriteit te maak – die fondamente was dié dag voltooi – verklaar God die volk rein en hulle offers aanvaarbaar vir Hom.


Merk tog op, van hierdie dag af terug, van die vier-en-twintigste dag van die negende maand, naamlik van die dag af toe hulle die fondament van die tempel van die Here gelê het; merk op:   HAGGAI 2:18 AFR53


God sal die tye van droogte en pestilensies staak, omdat dit Sy doel gedien het om hulle tot bekering te begelei. Daarby belowe God dat Hy van nou af hulle oeste sal seën – onthou dit is die groeiseisoen – en hul ekonomiese weerbaarheid sal herstel.


Is daar nog saad in die skuur? Ja, selfs die wingerdstok en die vyeboom en die granaatboom en die olyfboom het niks opgelewer nie. Van hierdie dag af sal Ek seën.   HAGGAI 2:19 AFR53


23 Augustus 2024


Haggai 2:20 AFR53

Vir die tweede maal het die woord van die Here tot Haggai gekom op die vier-en-twintigste van die maand en gesê:


Op dieselfde dag, die 24ste dag van die negende maand, die Joodse maand Kislev, kom die woord van die Here vir ‘n tweede keer tot Haggai. In die groot prentjie is hierdie Haggai se vierde en finale profesie.


Haggai se profesie is vir Serubbábel, die goewerneur van Juda.


Spreek met Serubbábel, die goewerneur van Juda, en sê: Ek sal die hemel en die aarde laat bewe.   HAGGAI 2:21 AFR53


Geen gebeurtenisse in Serubbabel se tyd het hierdie profesie vervul nie. Die vervulling is in die toekoms wanneer Jesus terugkom om koningstrone omvêr te werp en die mag van die heidense koninkryke te verdelg.


En Ek sal die koningstrone omverwerp en die mag van die heidense koninkryke verdelg; en Ek sal die strydwaens en die wat daarop ry, omverwerp, en die perde en hulle ruiters sal val, die een deur die swaard van die ander.   HAGGAI 2:22 AFR53


Die konings van ouds het seëlringe gebruik om gesag, eer of eienaarskap aan te dui. 'n Seël het 'n embleem wat uniek was aan ‘n spesifieke koning. Amptelike dokumente is verseël met sagte was wat met die koning se seël ingedruk is, gewoonlik 'n ring aan sy vinger. So 'n seël het die dokument as eg gesertifiseer, baie soos 'n notaris se stempel vandag.


In dié dag, spreek die Here van die leërskare, sal Ek jou neem, Serubbábel, seun van Seáltiël, my kneg, spreek die Here, en jou maak tot 'n seëlring, want jou het Ek verkies, spreek die Here van die leërskare.   HAGGAI 2:23 AFR53


Dit is belangrik om te verstaan ​​wie Serubbabel is. Hy is die goewerneur van die herboude Jerusalem en is self van koninklike bloed, synde 'n afstammeling van Dawid en die kleinseun van Juda se koning Jojagin. Jare vroeër het Jojagin sy troon verloor toe hy na Babilon gedeporteer is, trouens, God het Jojagin voorgestel as ’n seëlring wat van Sy vinger verwyder is, maar nou is Serubbabel ook ‘n seëlring, maar hierdie keer sal dit nie verwyder word nie.


In Haggai se profesie gee God vir Serubbabel aanmoediging en hoop. Die goewerneur word gekies vir 'n unieke en edele doel. As God se seëlring, word Serubbabel 'n plek van eer en gesag gegee. God is besig om die Dawidiese lyn te herstel en sy verbond met Dawid te bevestig.


Serubbabel word hier ‘my kneg’ genoem. Hierdie titel was dikwels 'n Messiaanse verwysing in die Ou Testament. Die drietal van dienaar, seun en seëlring het 'n spesiale kombinasie van aanmoediging vir Serubbabel geskep in sy belangrike en moeilike taak om die Joodse tempel te herbou.


As God se seëlring word Serubbabel 'n beeld van die toekomstige Messias, Jesus Christus, wat Sy volk in die Beloofde Land sal vestig, 'n selfs groter tempel sal bou, en die regverdiges sal lei tot ewige aanbidding.


24 Augustus 2024


ESRA 6:15 AFR53

En hierdie huis was klaar op die derde dag van die maand Adar; dit was die sesde jaar van die regering van koning Daríus.


Die tempel is vier jaar later voltooi. Sonder die profeet Haggai se profesieë, sou dié werk egter nog vir jare onvoltooid gebly het, moontlik selfs nooit regtig van die grond af gekom het nie.


Haggai se bemoediging gedurende die belangrike vier maande tydperk van Augustus tot Desember 521 v.C., het nie net die verhouding tussen God en Sy volk herstel nie, maar ook verhouding tussen God en die leiers – Serubbabal die goewerneur, Josua die hoëpriester sowel as die gewone priesters. Die gewone lede van die volk is geïnspireer om te begin leef as ‘n Godsvolk.


Daarmee was die stryd nog nie volledig gewen nie. Esra sou eers ongeveer 60 jaar later fokus op die verdere hervormings rondom die wet van die Here, en Nehemia meer as 70 jaar later op die herbou van die stad Jerusalem.


Sonder die herbou van die tempel sou hierdie ander hervormings rondom die wet en die stad nie moontlik gewees het nie.


Dit is treffend hoe hierdie opdrag van Haggai aan die volk, om die tempel te herbou vóórdat hulle aandag gee aan hul eie huise, en die omstandighede in die Nuwe Testament, geëggo word in die woorde van die Jesus.


Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.   MATTHÉÜS 6:33 AFR53


Vir die Ou Testament gemeenskap in Haggai se tyd was die fokus op die tempel, die plek waar die volk God gedien het. Vir die Nuwe Testament gemeenskap, sowel as die Christelike gemeenskap deur die eeue daarna, is die fokus om Jesus se opdrag aan die dissipels uit te voer.


En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.   MATTHÉÜS 28:18-20 AFR53


Vir die Ou Testament gelowiges het God seën belowe as hulle prioriteite reg ingestel is om te fokus op die teenwoordigheid van God in die tempel van Jerusalem.


Vir die Nuwe Testament gelowiges belowe die Here Sy seën as hul fokus is om Sy Woord uit te dra na die uithoeke van die wêreld.


Ons is geroep om getuies te wees nie net in Jerusalem nie, maar ook in Judea, en Samaria en waar daar ook al mense tot aan die eindes van die wêreld is. Laat ons dit inderdaad dan ook nou doen!


En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie; maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde. En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en 'n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem.   HANDELINGE 1:7-9 AFR53



Comentarios


  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page