Die profete aan die Suidelike Koninkryk: Miga 1-7
- Regina Torre
- Jun 28, 2024
- 49 min read
Updated: Aug 3, 2024

29 Junie 2024
MIGA 1:1 AFR53
Die woord van die Here wat tot Miga, die Morastiet, gekom het, in die dae van Jotam, Agas, Hiskía, konings van Juda; wat hy gesien het aangaande Samaría en Jerusalem.
Miga was 'n profeet van Juda, 'n jonger tydgenoot van Jesaja, en van ‘n dorp met die naam Moreset, 40 km suid-wes van Jerusalem. Miga se naam beteken ‘wie is soos YHWH’ of ‘wie is soos God’.
Miga het geprofeteer tydens die regerings van Jotam, Agas en Hiskia van die Suidelike Koninkryk Juda en Pekahia, Pekah en Hosea van die Noordelike Koninkryk Israel, en dus oor ‘n tydperk van ongeveer veertig jaar. Miga is bekommerd oor die mislukkings van die Noordelike Koninkryk, en veral die implikasies daarvan op die Suidelike Koninkryk.
As ons Hosea, Joël, Amos en Obadja bestudeer, sien ons dat daar nie aan hul boodskappe gehoor gegee is nie. Hulle waarskuwings is verwerp en die oordeel het gekom.
Dit is interessant dat hoe nader die tyd gekom het vir God se oordele om plaas te vind, hoe hardnekkiger het die vals profete ontken dat die oordele sou gebeur. Vals profesieë was 'n winsgewende beroep, en hulle het 'n bemarkingsvoordeel gehad - die vals profete het die mense se wense aan hulle kant gehad.
Hosea en Amos is geignoreer en Jeremia was gevange geneem. In Miga se geval is daar ag geslaan op sy boodskap, bekering het gevolg en rampspoed is vir 'n eeu later uitgestel. Hier was 'n profeet (soos Jona) wat die geskiedenis verander het! Een man kan 'n verskil maak.
Miga was 'n tydgenoot van Jesaja, Hosea en Amos. Hy was waarskynlik 'n vriend van Jesaja, en daar is vele treffende ooreenkomste tussen die twee.
Die drie konings wat oor die Suidelike Koninkryk van Juda regeer het in Miga se profetiese loopbaan, was in persoonlikheid en vermoë totaal verskillend van mekaar. Hul verhale kan gevind word in 2 Konings 15-20 en 2 Kronieke 27-30, en dit begin met Jotam.
Daar is nie veel opgeteken oor koning Jotam nie, behalwe dat hy 'n magtige vegter was wat God en Juda gedien het, maar tog die geestelike toestand van sy volk verwaarloos het.
Jotam se seun, Agas, was 'n onsedelike monster wat niks anders as minagting vir God getoon het nie. Hy het die tempel se silwer en goud aan die Assiriese koning geskenk, sy volk beveel om afgode te aanbid, sy eie mense blind beroof en sy eie kinders in heidense kinderoffers verbrand.
Agas se oorblywende seun Hiskia is die volgende koning, en na Agas se goddelose regering was daar baie om te doen. Hiskia het met vrymoedigheid huis skoongemaak. Heidense altare, afgode en tempels is vernietig. Die koperslang wat Moses in die woestyn gemaak het is ook vernietig, want die volk het dit 'n afgod gemaak. Die tempel in Jerusalem, wie se deure deur Hiskia se eie pa vasgespyker is, is skoongemaak en weer ingebruik geneem. Die Levitiese priesterskap is heringestel, en die Pasga is weer as 'n nasionale vakansiedag ingestel. Onder Hiskia se hervormings het herlewing na Juda gekom.
Miga het oordeel uitgespreek oor die hoofstede van die Noordelike Koninkryk (Samaria) en die Suidelike Koninkryk (Jerusalem). Hy het geweld, korrupsie, roof, hebsug, growwe materialisme, geestelike bankrotskap en onwettige seks veroordeel. Tog, deur die somberheid van naderende oordeel, het Miga duidelik die komende heerlikheid van die verlossing van Israel gesien, wat hierdie boek veral relevant maak vir ons tyd!
Miga se groot vraag weerspieël die betekenis van sy naam: Wie is soos U?
30 Junie 2024
MIGA 1:2 AFR53
o Volke, luister almal saam! o Aarde en sy volheid, let op! Sodat die Here Here getuie teen julle kan wees, die Here uit sy heilige paleis.
Miga rig ‘n oproep aan almal. O volke, luister almal saam! O aarde en sy volheid, let op! Dié boodskap word aan alle volke gerig. Dít waarvan God Sy volk in die res van die boek gaan aankla, is dinge wat immers regoor die wêreld voorkom. Miga waarsku daarom die hele wêreld van die Groot Getuie wat op pad is om teen hulle te getuig.
Met helder beelde sien Miga die Here wat uit die hemel na die aarde gaan neerdaal na die hoogtes van die aarde.
Want kyk, die Here gaan uit sy woonplek uit, en Hy daal neer en betree die hoogtes van die aarde. MIGA 1:3 AFR53
Die hoogtes van die aarde is plekke van afgodsaanbidding soos die Skrifgedeeltes hieronder bevestig.
Net die hoogtes is nie afgeskaf nie; die volk het nog geoffer en op die hoogtes rook laat opgaan. II KONINGS 12:3 AFR53
In al julle woonplekke sal die stede verwoes en die hoogtes 'n wildernis word, sodat julle altare woes en eensaam sal wees, en julle drekgode verbreek sal word en verdwyn, en julle sonpilare omgekap en julle werke vernietig sal word. ESÉGIËL 6:6 AFR53
As die berge en dale nie voor God kon staan nie, watter hoop het die sondige, opstandige mens?
En die berge smelt onder Hom, en die laagtes skeur oop, soos was voor die vuur, soos water wat langs 'n helling afstroom! MIGA 1:4 AFR53
Daar word in hierdie vers na beide die Noordelike en die Suidelike Koninkryke verwys. Samaria is die hoofstad van die Noordelike Koninkryk wat hier Jakob genoem word, en Jerusalem is die hoofstad van die Suidelike Koninkryk Juda. Albei het korrup geword.
Dit alles vanweë die oortreding van Jakob en vanweë die sondes van die huis van Israel. Wie is die oorsaak van die oortreding van Jakob? Is dit nie Samaría nie? En wie is die oorsaak van die hoogtes van Juda? Is dit nie Jerusalem nie? MIGA 1:5 AFR53
Miga fokus hier op die komende vernietiging van Samaria, die hoofstad van Israel, en die koninkryk van die tien noordelike stamme. Dit is in 722 v.C. vervul toe Samaria deur die Assiriërs ingeval en heeltemal vernietig is.
Daarom sal Ek Samaría 'n puinhoop maak op die veld, 'n plek om wingerdstokke te plant; en Ek sal haar klippe in die dal laat afrol en haar fondamente blootlê. MIGA 1:6 AFR53
Die gesnede beelde (meestal goue beelde) is gebou of gemaak van die geld wat die tempelprostitute vir hul ‘dienste’ ontvang het. Die oorwinnaars sal die beelde stukkend slaan en die goud gebruik om hul eie beelde te bou. Net die hart van die verdorwe mens kon sulke gode aanbid.
En al haar gesnede beelde sal stukkend geslaan en al wat sy as hoereloon ontvang het, met vuur verbrand word, en al haar afgode sal Ek tot 'n verwoesting maak; want uit hoereloon het sy dit versamel, en tot hoereloon sal dit terugkeer. MIGA 1:7 AFR53
1 Julie 2024
MIGA 1:8 AFR53
Daaroor wil ek rouklaag en huil, kaalvoet en naak loop. Ek wil klae soos die jakkalse en treur soos die volstruise.
Miga rou want die vernietiging gaan ook die Suidelike Koninkryk tref en sy reaksie word hier gegee.
Hy rouklaag en huil, hy trek sy klere uit in roubeklaag, hy klae soos ‘n jakkals en treur soos ‘n volstruis.
Waarlik, haar wonde is ongeneeslik; want dit het gekom tot by Juda, dit reik tot aan die poort van my volk, tot by Jerusalem. MIGA 1:9 AFR53
Miga se intense ontsteltenis word weerspieël in die stede se name. Hierdie woordspelings word as voorbodes gebruik vir dit wat gaan kom.
Moet dit nie in Gat vertel nie, ween daar ganselik nie! In Bet-Ofra het ek my in die stof gewentel! MIGA 1:10 AFR53
Gat: Hierdie dorp is ‘n voorbode van trane - Miga verwys na Dawid wat ween oor Saul en Jonathan se dood en Israel se nederlaag by die berg Gilboa.
Bet-Ofra: Beteken huis van stof, en dit is presies wat Miga die inwoners aanraai om te doen - om in die rou proses hulself met stof te bedek.
Safir: Klink soos die Hebreeuse woord vir dit wat mooi is, maar nie vir lank nie - die burgers sal naak en in skaamte weggestuur word ...
Saänan: Klink soos die Hebreeuse woord vir mars of gaan uit. Weereens, in teenstelling hiermee, sal hulle soos diere in hul stad opgesluit wees totdat dit val.
Bet-Haësel: Beteken nabygeleë stad. Wanneer die leër van oordeel kom, sal dit vir geen ander stad naby of nuttig wees nie.
Trek weg in smadelike naaktheid, o inwoners van Safir! Die inwoners van Saänan trek nie uit nie. Die weeklagte van Bet-Haësel sal julle daar die verblyf ontneem. MIGA 1:11 AFR53
Marot: Die naam van hierdie dorp beteken bitterheid. Wanneer die leër van oordeel kom, sal die burgers van Marot baie bitterheid ken.
Want die inwoners van Marot wag in pyn op iets goeds, omdat onheil neerdaal van die Here na die poort van Jerusalem. MIGA 1:12 AFR53
Lagis: Was 'n bekende militêre stad suidwes van Jerusalem, bekend vir strydwaperde. Inplaas daarvan om die perde te gebruik om te veg, sou hulle gebruik word om te vlug van die vyand.
Span die perde voor die wa, o inwoners van Lagis! Dit was die begin van sonde vir die dogter van Sion, dat die oortredinge van Israel in jou gevind is. MIGA 1:13 AFR53
2 Julie 2024
MIGA 1:14 AFR53
Daarom moet jy 'n afskeidsgeskenk gee aan Moréset-Gat; die huise van Agsib sal 'n teleurstelling wees vir die konings van Israel.
Miga is nog besig met die woordspelings van die verskillende dorpe wat as voorbodes gebruik word vir dit wat gaan kom.
Moréset-Gat: Hierdie was Miga se tuisdorp en dit klink soos die Hebreeuse woord vir verloofde.
Miga gee vir die stad ‘n afskeidsgeskenk soos geskenke by ‘n troue gegee word. Die simbool hier is die heerskappy van die bruid se eie familie (Juda) wat oorgegee word aan die heerskappy van die bruidegom (die invallende leër).
Agsib: Klink soos die Hebreeuse woorde bedrieglik en teleurstellend. Hierdie stad sou so bedrieglik vinnig val dat dit 'n teleurstelling vir die konings van Israel sou wees.
Maresa: Die naam van hierdie dorp is verwant aan die Hebreeuse woord vir besitter of erfgenaam. Die invallende leër sou hierdie stad binnekort in besit neem.
Adullam: Die dorp was die toevlugsoord vir Dawid toe hy vir koning Saul gevlug het. Dit sou weer 'n toevlugsoord wees vir die hooggeplaastes en magtiges onder Israel, wanneer hulle gedwing sou word om in Adullam weg te kruip.
Nogmaals sal Ek jou 'n veroweraar bring, o inwoner van Marésa; die adel van Israel sal tot by Adúllam kom. MIGA 1:15 AFR53
Die hoofstuk word afgesluit met 'n beroep op die stad Jerusalem as die ouer van haar kinders - die afgeleë dorpe.
Maak 'n kaalte op jou hoof en skeer jou weens jou troetelkinders; maak die kaalplek groot soos dié van 'n aasvoël, omdat hulle van jou af weggevoer is in ballingskap. MIGA 1:16 AFR53
Die Hebreeuse naam vir arend sluit al die verskillende soorte aasvoëls in. Hulle is meestal groot voëls en het tipies 'n min of meer kaal kop.
Miga sê vir die mans om hul hoofde te skeer soos die van aasvoëls as uiterlike roubewys omdat die volk in ballingskap weggevoer gaan word.
So spreek hulle hul diep droefheid uit oor hierdie ellende, in ooreenstemming met die gebruik van bitter rou.
Toe staan Job op en skeur sy mantel, en hy het sy hoof geskeer en in aanbidding op die grond geval. JOB 1:20 AFR53
En toe ek dit hoor, het ek my kleed en my mantel geskeur en van die hare van my hoof en my baard uitgepluk en verslae neergesit. ESRA 9:3 AFR53
3 Julie 2024
MIGA 2:1 AFR53
Wee die wat onreg uitdink en kwaad smee op hulle bedde; by die môrelig voer hulle dit uit, want dit is in die mag van hulle hand.
Alle sonde is sleg voor God, maar sonde wat gepleeg word met voorbedagte rade is erger. Miga praat hier met diegene wat ongeregtigheid bedink in die nag in hul kamers en hul planne dan in die môrelig uitvoer. Planne wat hulle kan uitvoer omdat dit in hul mag is om te doen.
God lys die volk se sondes. Die eerste wat aan die groot klok gehang word is hul magsmisbruik spesifiek ten opsigte van besittings - veral grond en huise.
Ja, hulle begeer velde en roof dit; ook huise en neem dit. So pleeg hulle dan geweld teenoor die man en sy huis, teenoor die mens en sy erfdeel. MIGA 2:2 AFR53
Die oortredinge is ‘n kombinasie van die 8ste, 9de en 10de gebod – moenie steel nie, moenie leuens vertel nie, en moenie begeer nie.
Daarom beplan God die ramp van ballingskap teen hulle sodat mense oor hulle spotliedjies sal skryf.
Daarom, so sê die Here: Kyk, Ek bedink onheil teen hierdie geslag, waar julle jul nekke nie sal kan uittrek nie, en waarby julle nie regop sal kan loop nie; want dit sal 'n tyd van onheil wees! MIGA 2:3 AFR53
Hul vergryp aan ander se besittings het hulle suur bekom. Hul magsmisbruik het hulle hul eie besittings gekos - dit is van ons afgevat.
In dié dag sal hulle 'n spotlied oor julle aanhef en 'n klaaglied sing: Dit is gedaan — sal hulle sê — ons is heeltemal verwoes; die eiendom van my volk laat Hy van besitter verander. Hoe neem Hy dit van my af! Aan die afvalliges deel Hy ons velde uit. MIGA 2:4 AFR53
Hulle ondergang sou so vernietigend wees dat wanneer die tyd aanbreek dat die grond herverdeel moet word, daar niemand sou wees om hulle te verteenwoordig nie en hulle plek in die nasie sou vir ewig verlore wees.
Daarom sal daar vir jou niemand wees wat die meetsnoer werp in 'n erfdeel in die vergadering van die Here nie. MIGA 2:5 AFR53
Toe God se profete met die volk gepraat het, het hulle dit nie ontvang nie. Hulle het God se Woord verontagsaam as blote gebrabbel. As gevolg hiervan het God later opgehou om profete te stuur.
Miga het sy bediening in die regering van Jotam begin, maar niemand het geluister nie. Toe het hy tydens die regering van Agas geprofeteer, maar niemand het geluister nie. Uiteindelik het hy geprofeteer tydens die heerskappy van Hiskia en die leiers en die volk het hulle bekeer.
Miga het nie moed opgegee nie, al was die resultate stadig. Miga het vir ‘n tydperk van tussen 16 en 25 jaar gepreek voordat daar enige reaksie was.
Moet nie profeteer nie! sê die valse profete. As 'n mens hieroor nie mag profeteer nie, sal die beskimping nie ophou nie! MIGA 2:6 AFR53
4 Julie 2024
MIGA 2:7 AFR53
Mag dit gesê word, o huis van Jakob: Sou die Here dan ongeduldig wees? Of is dit sy dade? Is my woorde nie vriendelik teenoor hom wat as opregte wandel nie?
God se volk roem in hul voorvaarder Jakob vir wie God geseën en gelei en bewaar het, en hulle glo dat hulle in dieselfde posisie is. Hulle vergeet egter dat Jakob God gevrees het, aan Hom gehoorsaam was, en God aanbid het. Miga wys vir die volk dat hulle nie Jakob se karaktereienskappe het nie, hulle het God vergeet en hulle wandel nie meer opreg nie.
Miga vra of die Gees van God kwaad of ongeduldig is? Is God se krag, goedheid, wysheid en goedertierenheid nou minder as voorheen? Is God nou strenger met Sy volk as wat Hy met Jakob was?
Nee, stellig nie! God soek mense wat opreg wandel, wat met eerlike harte in Sy weë wandel.
God se woorde beloof alles wat goed is, en Sy profete verkondig dit aan die wat wel in die huis van Jakob is.
Kaf. Al die paaie van die Here is goedertierenheid en trou vir die wat sy verbond en sy getuienisse bewaar. PSALMS 25:10 AFR53
Die mense wat teen God draai kan nie dieselfde voordele van God verwag as wat Sy opregte kinders ontvang nie.
Kyk, die hand van die Here is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie; maar julle ongeregtighede het 'n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie. Want julle hande is met bloed bevlek en julle vingers met ongeregtigheid; julle lippe spreek leuen, julle tong fluister onreg. JESAJA 59:1-3 AFR53
Die volk het hulself gevlei en vir die profeet kwaad geword, maar God oortuig hulle met hierdie woorde dat hulle nie ‘n beter tyding kon verwag nie.
Hulle kom nou al vir ‘n geruime tyd in opstand teen God en het onlangs (Miga se tyd) nuwe sondes by die oues bygevoeg.
God se volk was so brutaal, dit was asof hulle God se vyand was. Hulle sou diegene wat vreedsaam oppad was, beroof terwyl hulle rustig stap, asof hulle krygsgevangenes was.
Maar reeds vroeër het my volk vyandig opgetree. Julle pluk die mantel af, weg van die kleed van die wat in gerustheid verbygaan, wat afkerig is van oorlog. MIGA 2:8 AFR53
Hulle het mans van hul klere beroof, vroue van hul huise en kinders van hul erfdeel.
Die vroue van my volk verdryf julle uit die huis wat hulle liefhet; van hulle kinders neem julle my sieraad weg in ewigheid. MIGA 2:9 AFR53
Ons maak dikwels die fout dat ons een verhouding met God kan hê en 'n totaal ander verhouding met ander mense. God verklaar dat dit onmoontlik is en Jesus het dit in Sy preek op die Olyfberg verduidelik.
En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen. MATTHÉÜS 25:40 AFR53
5 Julie 2024
MIGA 2:10 AFR53
Staan op en gaan heen! Want nie hiér is die rusplek nie, weens die onreinheid wat verwoesting aanrig, ja, 'n onherstelbare verwoesting.
Kanaän was bedoel om 'n rusplek vir God se volk te wees, en dit was so in tye van gehoorsaamheid. Maar, as gevolg van hul sondes sal Juda uit hul rusplek verdryf word om as ballinge in ‘n vreemde land te woon.
Want julle het nog nie gekom in die rusplek en in die erfenis wat die Here jou God jou sal gee nie. DEUTERONÓMIUM 12:9 AFR53
Met die dreigende oordeel op die horison - veral vir die Noordelike Koninkryk van Israel - het almal eerder na die valse profete geluister, want hulle beloftes het beter geklink.
As iemand wind nawandel en bedrieglik lieg en sê: Ek sal vir jou profeteer by wyn en sterk drank — dan sou hy vir hierdie volk 'n profeet wees! MIGA 2:11 AFR53
Midde in die boodskap van oordeel, sien Miga tog uitkoms vir ‘n oorblyfsel van Jakob. Israel hier sluit al twaalf stamme in en die uitkoms verwys na die eindtye.
Gewis sal Ek jou geheel en al versamel, o Jakob! Gewis sal Ek vergader die oorblyfsel van Israel; almal bymekaarbring soos skape in 'n kraal, soos 'n kudde in sy weiveld; en dit sal dreun van mense. MIGA 2:12 AFR53
Die ‘in ‘n kraal’ frase is die woord Bosra wat uit Hebreeus vertaal is. Wat maak Bosra belangrik? Bozra (Hebreeus) of Petra (Grieks) beteken skaapkraal of vesting en is die hoofstad van Edom.
Johannes leer ons in Openbaring dat God Sy volk in die woestyn gaan bewaar en onderhou, uit die gesig van die slang, vir ‘n tydperk van tyd, tye en ‘n halwe tyd - drie en ‘n halwe jaar.
“maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, 'n tyd en tye en 'n halwe tyd.” OPENBARING 12:14 AFR53
Weereens kom God tot Sy volk se redding - .......... maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.” DANIËL 12:1b AFR53
Die plek waar God se volk gaan skuil is in die dorp Petra in die suide van Jordanië soos Miga hierbo verduidelik.
Ondanks die beskerming van God, doen die vyand alles in sy vermoë om Israel te vernietig. Die draak gebruik selfs water om Israel in 'n vloed te verdrink.
“En die slang het uit sy bek water soos 'n rivier agter die vrou aan uitgegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier.” OPENBARING 12:15 AFR53
God is egter byderhand om Sy volk te beskerm teen die aanslae van die duiwel. Die aarde maak sy mond oop om die water in te sluk en die land op te droog. ‘n Aardbewing veroorsaak dus ‘n skeur om die water af te keer.
“En die aarde het die vrou te hulp gekom, en die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier opgesluk, wat die draak uit sy bek uitgegooi het.” OPENBARING 12:16 AFR53
Koning Jesus sal voor Sy volk uitgaan en hulle vrylaat uit hul gevangenisskap.
Die deurbreker sal optrek voor hulle uit: hulle sal deurbreek en deur die poort intrek en daardeur uittrek; en hulle koning sal voor hulle uit gaan, en die Here heeltemal vooraan. MIGA 2:13 AFR53
6 Julie 2024
MIGA 3:1 AFR53
Verder het ek gesê: Hoor tog, o hoofde van Jakob en owerstes van die huis van Israel! Betaam dit julle nie om die reg te ken nie?
Miga het sy boodskap begin deur God se volk in die algemeen aan te spreek. Nou konsentreer hy op hul leiers, want hulle het 'n spesiale verantwoordelikheid en aanspreeklikheid voor God.
Die eerste van drie groepe leiers wat hy aanspreek is die regters.
Die profeet vra of dit nie hulle spesiale plig en verantwoordelikheid is om die reg te ken nie! Dit was nie dat hulle onkundig was nie, maar dat hulle die reg doelbewus verdraai net.
Miga beskryf die regters van die volk as kannibale wat teen die volk draai. Die geweld wat dit die gemeenskap aandoen kan nie onderskat word nie. Dit is asof hulle mense se velle van hulle afskeur, die vleis van hulle bene afstroop en die volk opeet asof hulle vleis vir die pot is.
Haters van wat goed is, en liefhebbers van wat sleg is, wat die vel van die mense aftrek en hulle vlees van hul gebeente; en wat die vlees van my volk eet en hulle vel van hulle afslag; ook hulle gebeente verbrysel en hulle aan stukke kap soos vleis in 'n pot en soos vleis in 'n pan. MIGA 3:2-3 AFR53
Slegs wanneer God se oordeel oor hulle is, sal hulle die omvang van hul afskuwelike weë besef.
Het al die werkers van ongeregtigheid dan geen kennis nie, die wat my volk opeet asof hulle brood eet? Hulle roep die Here nie aan nie. PSALMS 14:4 AFR53
'n geslag waarvan die tande swaarde is, waarvan die gebit messe is, om die ellendiges uit die land te verteer en die behoeftiges onder die mensdom uit. SPREUKE 30:14 AFR53
Miga sien die poëtiese geregtigheid in die dag wanneer God hulle nie sal hoor nie. Hierdie roep wat God weier om te hoor, is slegs ‘n roep om van angs verlos te word, nie die roep wat uit ware bekering van sondes ontstaan nie.
Dan sal hulle die Here aanroep, en Hy sal hulle nie antwoord nie; maar Hy sal sy aangesig in dié tyd vir hulle verberg, omdat hulle verkeerde dinge gedoen het. MIGA 3:4 AFR53
Omdat hulle geweier het om ag te slaan op die geroep van die behoeftiges, sal God hulle op dieselfde manier hanteer.
Daarom, so sê die Here: Kyk, Ek bring 'n onheil oor hulle, waaruit hulle nie sal kan uitkom nie; dan sal hulle na My roep, maar Ek sal na hulle nie luister nie. JEREMIA 11:11 AFR53
Wie sy oor toestop vir die geskreeu van die arme, hy sal self ook roep en nie verhoor word nie. SPREUKE 21:13 AFR53
7 Julie 2024
MIGA 3:5 AFR53
So sê die Here aangaande die profete wat my volk verlei, wat as hulle maar iets het om met hulle tande te byt, vrede verkondig; maar teen hom wat niks in hulle mond steek nie, verklaar hulle 'n heilige oorlog!
Die tweede groep leiers wat Miga aanspreek is die vals profete wat God se volk verlei.
Die profete het die mense mislei deur nie hul sondes wat die misnoeë van God oproep, aan die kaak te stel nie.
Hulle het 'n voelgoed boodskap gelewer alhoewel hulle van beter geweet het. Hulle was nie profete vir Baäl nie, maar profete van die Lewende God wat die waarheid geken het, en nogtans verkies het om leuens te vertel.
Wanneer die profete oorlaai is met geskenke en eetgoed, het hulle aan die volk groot voorspoed belowe, dat die toekoms net maanskyn en rose sou inhou, en geen van die treurige ellende wat Miga verkondig het sou hulle tref nie.
Maar, weë diegene wat die valse profete nie voed nie, wat hulle nie by hul tafels welkom heet nie en hulle nie bemoedig nie, want teen diesulkes word ‘n heilige oorlog gevoer.
Die boodskap is dat niemand die persone in magsposisies moet teenstaan nie, want dit sal hul suur bekom.
Duisternis, onsekerheid, verwarring en swaar benoudhede is die profete se voorland. Dit beteken dat God dit gaan wegvat wat vir hulle die belangrikste is - hul visioene. Hulle sal geen lig of openbaring uit die hemel ontvang nie.
Daarom sal dit nag word vir julle, sonder 'n gesig, en duister vir julle, sonder waarsêery; ja, die son sal oor die profete ondergaan, en die dag oor hulle verduister word. MIGA 3:6 AFR53
Die sieners se beroepe sou in skaamte eindig, soos melaatses sou hulle hul baarde bedek want daar is geen antwoord van God nie.
En die sieners sal beskaamd staan, en die waarsêers sal bloos, en hulle almal sal die baard bedek, omdat daar geen antwoord van God kom nie. MIGA 3:7 AFR53
Ander profete het dieselfde gesien.
en die profete sal wind word; ja, die Woord is nie by hulle nie; mag dit so met húlle gaan! JEREMIA 5:13 AFR53
So spreek die Here Here: Wee die dwase profete wat agter hulle eie gees aan wandel en agter dinge wat hulle nie gesien het nie. ESÉGIËL 13:3 AFR53
Daarteenoor is Miga vol van die krag van die Gees van die Here, en met mannemoed maak hy aan die volk bekend wat hulle verkeerd doen.
Ek daarenteen is vol krag, mét die Gees van die Here, en reg en heldemoed, om aan Jakob sy oortreding te verkondig en aan Israel sy sonde. MIGA 3:8 AFR53
8 Julie 2024
MIGA 3:5 AFR53
Hoor tog dit, hoofde van die huis van Jakob en owerstes van die huis van Israel! Julle wat van die reg 'n afsku het en al wat reg is, verdraai;
Miga het eers die regters, en toe die profete berispe, en nou gaan hy die owerstes, die leiers berispe. Hoor tog, huis van Jakob en huis van Israel - dus al twaalf stamme, die Noordelike en die Suidelike Koninkryke word aangespreek. Die owerstes word verkwalik dat hulle die regspraak verdraai en dít vir gierigheidsonthalwe.
Deur hulle haat vir geregtigheid, en die verdraaiing van alles wat reg is, het die hoofde en heersers, Sion gebou met afpersing en roof, ten koste van die mense wat hulle eerder moes dien.
julle wat Sion bou met bloed en Jerusalem met onreg! MIGA 3:10 AFR53
Rykdom wat van die regmatige eienaars verkry is, is gebruik om die selfsugtige en goddelose belange van die leiers te verskans.
Wee hom wat sy huis bou met ongeregtigheid en sy dakkamers met onreg; wat sy naaste laat werk vir niks en hom sy loon nie gee nie; JEREMIA 22:13 AFR53
Sy vorste is in hom soos wolwe wat prooi verskeur, om bloed te vergiet en siele om te bring, dat hulle onregverdige wins kan maak. ESÉGIËL 22:27 AFR53
In ’n grootse aanklag van al drie klasse heersers: regters, priesters en leiers—stel Miga al drie groepe vir hul ongebreidelde hebsug aan die kaak.
Sy hoofde spreek vonnisse uit vir 'n geskenk, en sy priesters gee onderrig vir loon, en sy profete is waarsêers vir geld. Nogtans steun hulle op die Here en sê: Is die Here nie in ons midde nie? Geen onheil sal ons wedervaar nie! MIGA 3:11 AFR53
Regters het geregtelike uitsprake gemaak vir omkoopgeld. Dit was duidelik verbied in die Torah (die eerste vyf boeke van die Bybel).
Ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie; want die geskenk maak die siendes blind en verdraai die sake van die regverdiges. EXODUS 23:8 AFR53
Die priesters was nie beter nie, hulle het hul boodskappe vir die mark aangepas. Soos Bileam en die ander heidense profete, was hulle bereid om gunstige uitsprake te gee vir 'n prys.
Die leierskap se hoofdoel was selfverreiking - Hulle het die beste leierskap gehad wat geld kon koop!
Hulle het gespog dat God hulle seën ten spyte van hulle goddelose weë. Dink net hoe aanstootlik dit vir God was! Hulle voorgee was 'n dekmantel vir hulle goddelose weë en belangstellings.
Let wel: Daar is geen woord teen die koning self nie (so ook in die profesieë van Jesaja). Die koning in hierdie tyd was die godvresende Hiskia, maar hy was klaarblyklik magteloos om die gierige en roofsugtige leiers aan te spreek.
Die beker van hul boosheid was vol en God moet Sy toorn en oordeel oor hulle uitgiet. Dit was 'n profesie dat daar vir hul sondes 'n algehele verwoesting van die stad Jerusalem sou wees.
Daarom sal Sion om julle ontwil soos 'n land omgeploeg en Jerusalem puinhope word en die tempelberg bosrante. MIGA 3:12 AFR53
9 Julie 2024
MIGA 4:1 AFR53
En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom.
Die eerste drie openingsverse van Hoofstuk 4 is feitlik identies aan Jesaja 2:2-4.
En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. JESAJA 2:2 AFR53
Miga en Jesaja sien die stad Jerusalem in die verre toekoms. Die einde van dae verwys na ‘n tydperk in die toekoms wanneer die Here oordeel en redding vir die aarde sal bring. Die einde van dae verwys na die Millenium.
Millenium se betekenis: mille - latyn vir duisend; annum - latyn vir jaar; dus duisend jaar!
Die millenium is ‘n letterlike periode van ‘n duisend jaar wat geskeduleer is vir die toekoms wanneer Jesus terugkom (tweede koms) aan die einde van ons geskiedenis om Sy ewige koninkryk op te rig.
Die Millenium tydperk begin na die sewe jaar Verdrukking en eindig een duisend jaar later wanneer Jesus Sy finale oordeel gaan vel oor die ganse mensdom. Daarna volg die ewigheid vir almal, waar elke persoon wat ooit gelewe het, of in God se teenwoordigheid sal wees, of vir ewig van God geskei sal wees.
Berg of berge is dikwels ’n idioom van ‘n regering soos ons sien in Nebukadneser se droom (die groot rots) wat Daniel vir hom uitlê.
Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het 'n groot rots geword wat die hele aarde gevul het. DANIËL 2:35 AFR53
Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel 'n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar 'n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan — DANIËL 2:44 AFR53
Tydens Jesus se tweede koms vind ‘n aardbewing plaas wat die topografie van Jerusalem radikaal gaan verander. Sagaria gee meer detail van hoe dit na die aardbewing gaan lyk - die hele land suid van Jerusalem gaan soos ‘n vlakte word, maar Jerusalem self sal hoog wees. Daarom dat Jesaja en Miga sien dat die huis van die Here op die top van ‘n berg gaan wees.
“Die hele land sal soos die Vlakte word, van Geba tot by Rimmon, suid van Jerusalem; maar Jerusalem self sal hoog wees en woon op sy plek, van die poort van Benjamin af tot by die plek van die vorige poort, tot by die Hoekpoort, en van die toring Hanáneël tot by die parskuipe van die koning.” SAGARÍA 14:10 AFR53
Die profeet wat die meeste openbaring ontvang het aangaande die verhewe berg van Israel, God se heilige berg, was Esegiël.
Want op my heilige berg, op die verhewe berg van Israel, spreek die Here Here, daar sal die hele huis van Israel, hulle almal, My dien in die land; daar sal Ek 'n behae in hulle hê en daar sal Ek julle offergawes eis en die eerstelinge van julle aanbiedinge by al julle heilige gawes. ESÉGIËL 20:40 AFR53
10 Julie 2024
MIGA 4:2 AFR53
En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die Here en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem.
Jerusalem word beskryf as die hoofstad van die wêreld. Jesaja sê presies dieselfde.
En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. JESAJA 2:3 AFR53
Miga sien die wêreld wat na Jerusalem stroom om die Here te ontmoet en Hom beter te leer ken. ‘n Tydperk wanneer die Here die volke gaan onderrig vanuit die huis van die God van Jakob, of anders gestel, die Millenium tempel.
Jerusalem sal die bron van alle waarheid, leiding en regspraak wees en die Wet sal afgedwing word met 'n ysterstaf.
En uit sy mond gaan daar 'n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met 'n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. OPENBARING 19:15 AFR53
Jerusalem sal in die Millenium, die hoofstad wees waar die regsbank van God gesetel is, want van daar sal die wet en die woord van God uitgaan, en die volke sal daarheen gaan om die weë van God te leer.
En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. MIGA 4:3 AFR53
Daar sal geen oorlog meer wees nie, nasies sal in vrede met mekaar leef. Swaarde sal in pikke verander en spiese in snoeimesse. Jesaja bevestig Miga se profesie.
En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. JESAJA 2:4 AFR53
Miga 4:4 word nie in die ooreenstemmende Jesaja-gedeelte gevind nie, maar die gedagtes van vrede, voorspoed en veiligheid word voortgesit.
Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die Here van die leërskare het dit gespreek. MIGA 4:4 AFR53
11 Julie 2024
MIGA 4:5 AFR53
Want al die volke mag wandel elkeen in die naam van sy god, maar óns sal wandel in die Naam van die Here onse God vir ewig en altoos.
Soos profesieë werk is Miga besig om verwisselend tussen sy nabye toekoms en ons toekoms of sy vêrre toekoms te profeteer.
Miga kyk nog vorentoe, maar hy is nie meer in die Millenium nie. Terwyl die heidense volke hul eie gode aanbid, wandel Israel in die Naam van die Lewende God.
Voordat Israel egter die heerlikheid van die Messiaanse Koninkryk kan geniet, moet hulle eers uit hul wêreldwye verstrooiing versamel word, en in hul eie land gevestig word. Dit het huidiglik nog nie gebeur nie.
In dié dag, spreek die Here, wil Ek versamel die wat kreupel is, en bymekaarmaak wat verdryf was, en die wat Ek kwaad aangedoen het. MIGA 4:6 AFR53
Die oorblyfsel is 'n fokuspunt van die Bybel en verwys na ‘n klein groep mense wat in elke geslag in God bly glo.
Dan sal Ek die wat kreupel was, tot 'n oorblyfsel maak en wat ver verwyder was, tot 'n magtige nasie. En die Here sal koning wees oor hulle op die berg Sion, van nou af tot in ewigheid. MIGA 4:7 AFR53
Dit was net 'n oorblyfsel wat uit Egipte uitgekom het - feitlik 'n hele geslag het in die woestyn gesterf.
Toe Elia gedink het hy was die enigste persoon wat oorgebly het om God te dien, het God vir hom gewys dat daar ‘n oorblyfsel van sewe duisend was wat nie die knie voor Baäl gebuig het nie.
Maar Ek sal seweduisend in Israel laat oorbly, al die knieë wat nie voor Baäl gekniel en elke mond wat hom nie gesoen het nie. I KONINGS 19:18 AFR53
Miga is op ‘n nuwe onderwerp en beskryf nou twee plekke wat na koning Dawid verwys.
En jy, Skaapstoring, Heuwel van die dogter van Sion, na jou sal dit kom, ja, die vroeëre heerskappy sal kom, die koningskap vir die dogter van Jerusalem. MIGA 4:8 AFR53
Die eerste plek, Migdal-Eder, is ongeveer 1,6 km vanaf Betlehem en die geboorteplek van Dawid. Die ‘voorstad’ van Betlehem word in Genesis genoem en beteken skaapstoring.
En Israel het weggetrek en sy tent opgeslaan aan die ander kant van Migdal-Eder. GÉNESIS 35:21 AFR53
Die tweede plek is Heuwel of Boonste Poort of in Engels Ophel - 'n reeks heuwels in Jerusalem, wat versterk was ter verdediging van die stad en ook die plek vanwaar Dawid regeer het.
Hy het die Boonste Poort van die huis van die Here gebou, en aan die muur van die Heuwel het hy baie gebou. II KRONIEKE 27:3 AFR53
Dawid was beide ‘n herder en ‘n koning. Hierdie twee plekke sal herstel word in die Millenium.
12 Julie 2024
MIGA 4:9 AFR53
Waarom skreeu jy nou so hard? Is daar geen koning in jou nie? Of het jou raadgewer omgekom, sodat smart jou aangegryp het soos van een wat baar?
Miga is in sy huidige tyd en vertel vir Juda van die pyn wat hulle in die naderende toekoms sou ervaar. Deel van die pyn sou 'n gebrek aan leierskap wees - geen koning in jou midde en jou raadgewer het omgekom. Hulle smart sou soortgelyk wees as die van ‘n vrou se geboortepyne.
Miga kyk verby die destydse mag van Assirië, na die volgende opkomende regering van Nebukadneser in Babilon. Hy herhaal dat hulle gaan swaar kry, inmekaar krimp soos ‘n vrou met geboortepyne.
Krimp inmekaar en bring voort, o dogter van Sion, soos een wat baar! Want nou sal jy die stad verlaat en op die veld gaan woon; en jy sal in Babel aankom — dáár sal jy gered word, dáár sal die Here jou verlos uit die hand van jou vyande. MIGA 4:10 AFR53
Jesus het ook die voorbeeld van geboortepyne gebruik toe Hy gewaarsku het oor die eindtye. Julle sal sien dat ek die vers uit die AFR83 aanhaal, want die AFR53 vertaling sê dis die begin van smarte. Die woord smarte is vertaal van die Griekse woord ‘odin’ wat geboortepyne beteken. Ek verduidelik so omslagtig want as jy net die AFR53 lees gaan jy beslis nie weet daar word na geboortepyne verwys nie.
Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander; daar sal op baie plekke hongersnode en aardbewings wees. Al hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd. MATTEUS 24:7-8 AFR83
Die groot samevloeiing van volke en nasies na Jerusalem saamgevat in vers 2 sal in die eindtye voorafgegaan word deur 'n finale aanslag van nasies teen Jerusalem en die volk van God. Hulle doel is om Sion te verontreinig. Hulle sal met vreugde na die rampe van die Jode kyk.
En nou is daar baie nasies teen jou versamel wat sê: Laat haar ontheilig word, en laat ons oë met welgevalle neersien op Sion. MIGA 4:11 AFR53
Hierdie samekoms van nasies is niks minder nie as God wat hulle gaan versamel soos gerwe op die dorsvloer. Die dorsvloer word dikwels gesien as 'n idioom wat na die Groot Verdrukking verwys.
Maar hulle ken nie die gedagtes van die Here nie en verstaan nie sy besluit nie, dat Hy hulle versamel het soos gerwe op die dorsvloer. MIGA 4:12 AFR53
Wanneer God Sion herstel, sal Hy hulle in sterkte herstel, so sterk soos 'n dier met 'n ysterhoring. Dit het sy uiteindelike vervulling in die Millennium wanneer Israel as 'n supermoondheid onder die nasies verhef sal word.
Staan op en dors, o dogter van Sion! Want Ek sal jou horing yster maak en jou kloue koper, en jy sal baie volke fyn trap; en jy sal hulle onregverdige wins aan die Here toewy en hulle rykdom aan die Here van die ganse aarde. MIGA 4:13 AFR53
Miga kondig aan dat Israel in hul huidige tyd deur vreemde magte verneder sal word, en selfs haar regeerders sal beledig word.
Nou sal jy by hope bymekaar moet kom, o dogter van krygsbendes; die vyand het 'n wal teen ons opgegooi; met 'n stok slaan hulle die regeerder van Israel op die kakebeen. MIGA 4:14 AFR53
13 Julie 2024
MIGA 5:1 AFR53
En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat 'n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.
Miga het genoeg profesieë gegee vir Juda om te weet dat ‘n swaar tyd, in ‘n vreemde land, vir hulle wag. Maar, Miga bring ook ‘n goeie tyding, van ‘n groot Heerser, wat uit die nederige dorpie Betlehem Efrata sou verskyn.
Betlehem was welbekend as die tuisdorp van Dawid, Israel se grootste koning, maar dit was nooit 'n groot of invloedryke stad nie. Tog het God die dorp gekies as die geboorteplek van die Messias, die toekomstige Heerser van Israel.
Hierdie gedeelte van Miga 5 is deur die owerpriesters en leraars van die wet aangehaal toe Herodes oor die geboorte van die Messias uitgevra het.
En hulle het vir hom gesê: Te Betlehem in Judéa, want so is daar deur die profeet geskrywe: En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal 'n leidsman voortkom wat vir my volk Israel 'n herder sal wees. MATTHÉÜS 2:5-6 AFR53
Betlehem beteken huis van Brood, en Jesus is die Brood van die Lewe.
En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie. JOHANNES 6:35 AFR53
Hierdie mooi belofte is vervul in Jesus Christus, en Miga se profetiese stem het verklaar dat alhoewel Jesus van Betlehem af gekom het, Hy nie daar begin het nie. Sy uitgange of begin is van die ewigheid verby.
Die Bybel sê vir ons dat Jesus die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde is. Dit beteken van die begin af was Jesus daar. Daar was nooit 'n tyd toe Jesus nie bestaan het nie.
Voor Betlehem, was Jesus die Skepper van alle dinge.
In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. JOHANNES 1:1-3 AFR53
In die Ou Testament het Jesus verskyn as God, sigbaar gemaak deur die Engel van die Here. Daar is baie gevalle in die Ou Testament waar getoon word dat individue 'n aangesig tot aangesig ontmoeting met die Here gehad het - hier volg twee sulke voorbeelde.
Daarop vra Jakob en sê: Maak tog u Naam bekend! En Hy antwoord: Waarom vra jy tog na my Naam? En Hy het hom daar geseën. Toe noem Jakob die plek Pniël; want, het hy gesê, ek het God gesien van aangesig tot aangesig, en tog is my lewe gered. GÉNESIS 32:29-30 AFR53
En terwyl Josua by Jérigo was, slaan hy sy oë op en kyk, en daar staan 'n man teenoor hom met 'n ontblote swaard in sy hand; en Josua het na hom gegaan en hom gevra: Behoort U by ons of by ons vyande? JOSUA 5:13 AFR53
Van ewigheid af het God se plan van die eeue, Jesus ingesluit.
wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil, I PETRUS 1:20 AFR53
14 Julie 2024
MIGA 5:2 AFR53
Daarom sal Hy hulle prysgee tot op die tyd dat 'n barende gebaar het. Dan sal die oorblyfsel van sy broers saam met die kinders van Israel terugkeer.
……tot op die tyd dat 'n barende gebaar het. Hierdie profesie van Miga is ‘n samevatting van die vrou se barensnood wat in Genesis begin en in Openbaring sy klimaks bereik. Satan het ‘n derde van die engele saam met hom geneem in sy rebellie teen God, en hul bestemming was die aarde.
en sy stert het die derde van die sterre van die hemel meegesleep en hulle op die aarde gegooi. En die draak het gestaan voor die vrou wat op die punt was om te baar, sodat hy haar kind sou verslind sodra sy gebaar het. OPENBARING 12:4 AFR53
Satan (die draak) staan voor die nasie Israel (die vrou) en wil Jesus (die kind) verslind. Dit vat ons terug na Genesis 3:15 wat bekend staan as die proto-evangelium of die eerste Evangelie - God stel vyandskap tussen Jesus (die vrou se saad) en Satan (die slang se saad).
“En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.” GÉNESIS 3:15 AFR53
Jesus word met Sy kruisiging in die hakskeen gebyt maar aan die einde van die duisendjarige vrederyk sal Jesus Satan se kop vermorsel deur hom in die poel van swawel en vuur te werp waar hy sal wees tot in ewigheid.
“En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.” OPENBARING 20:10 AFR53
Die manlike kind wat die vrou baar is Jesus wat uit die volk Israel gebore word.
En sy het 'n manlike kind gebaar, wat al die nasies met 'n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon. OPENBARING 12:5 AFR53
Die Jesus waarna hier verwys word is nie die baba wat in Betlehem gebore is nie, maar die Koning wat die nasies met ‘n ystersepter gaan regeer .
“U sal hulle verpletter met 'n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos 'n erdepot.” PSALMS 2:9 AFR53
Jesus is die leeu van die stam van Juda, ‘n afstammeling van koning Dawid, en Hy gaan eendag regeer met ‘n ysterstaf.
“Toe sê een van die ouderlinge vir my: Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek.” OPENBARING 5:5 AFR53
Haar kind is weggeruk na God se troon - Jesus se hemelvaart.
“Nadat die Here dan met hulle gespreek het, is Hy opgeneem in die hemel en het gaan sit aan die regterhand van God.” MARKUS 16:19 AFR53
Ons weet nou dat die vrou ‘n voorstelling is van die volk Israel. Hier vlug die Israeliete die woestyn in na ‘n plek wat God vir hulle gereed gemaak het om hulle te onderhou vir 1,260 dae. Hierdie tydperk van 1,260 dae of 3,5 jaar verwys na die tweede helfte van die Verdrukking.
En die vrou het na die woestyn gevlug waar sy 'n plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank. OPENBARING 12:6 AFR53
15 Julie 2024
MIGA 5:3 AFR53
En Hy sal optree en hulle laat wei in die sterkte van die Here, in die majesteit van die Naam van die Here sy God; en hulle sal rustig woon, want nou sal Hy groot wees tot aan die eindes van die aarde.
Hier word die Here Jesus uitgebeeld as die Groot Herder wat Sy kudde voed en sorg. Daar is nie ‘n meer beskrywende benaming van Jesus in die Ou of Nuwe Testamente as dié van Herder van Sy kudde nie.
Jesus som self Sy rol op in Johannes 10 soos ons in die volgende verse lees.
Jesus het toe weer vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Ek is die deur van die skape.
Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.
Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken.
JOHANNES 10:7, 11, 14 AFR53
Nou verander die onderwerp na Assirië. Dit was 'n Assiriër wat Israel onderdruk het tydens hul verblyf in Egipte. Die Farao ('n titel van die heerser) van daardie dag was nie 'n Egiptenaar nie!
Want so sê die Here Here: In vroeër dae het my volk afgetrek na Egipte om daar as vreemdeling te vertoef, en Assur het hom sonder rede verdruk. JESAJA 52:4 AFR53
Dit was hoekom die Farao planne beraam het om die nie-Egiptiese bevolking se groei te stop, en van hulle slawe gemaak het.
Toe staan daar 'n nuwe koning oor Egipte op wat niks van Josef geweet het nie. Dié het aan sy volk gesê: Kyk, die volk van die kinders van Israel is meer en magtiger as ons. Kom, laat ons 'n slim plan teen hulle beraam, sodat hulle nie kan vermeerder nie, en as ons in oorlog geraak, hulle ook nie by ons vyande aansluit en teen ons veg en uit die land optrek nie. EXODUS 1:8-10 AFR53
Is dit moontlik dat die Assiriër of Assur 'n titel is vir die toekomstige Antichris?
En Hy sal vrede wees. Wanneer Assur in ons land kom en hy ons paleise wil betree, sal ons teenoor hom sewe herders stel, ja, agt vorste uit die mense. MIGA 5:4 AFR53
Kom ons vergelyk Miga 5:4 met Openbaring 17.
En hulle is sewe konings: vyf het geval en een is; die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy 'n kort tydjie bly. En die dier wat was en nie is nie, is self ook die agtste, en hy behoort by die sewe en gaan na die verderf. OPENBARING 17:10-11 AFR53
Die sewe konings is sewe koninkryke. 1) Egipte, 2) Assirië, 3) Babilon, 4) Mede & Perse, 5) Grieke, 6) Rome Verlede, en 7) Rome Toekoms.
Sewe Konings : Egipte tot Rome Toekoms (1 - 7)
Vyf het geval : Egipte tot Grieke (1 - 5)
Die een is : Rome verlede - Verlede vir ons, huidige tyd vir Johannes (6)
Die ander het nog nie gekom nie: Rome toekoms, ons wag ook nog (7)
Wanneer hy kom, kom hy vir ‘n kort tyd : Die sewe jaar Verdrukking tydperk!
Die dier wat was en nie is nie, dit is die Antichris homself. Hy behoort by die sewe, so hy het dieselfde eienskappe as die sewe en word hier die agtste genoem. In lyn met die raaisel van tevore is hy dus die agtste wêreld regering. Dit is dus die een wêreld regering waarvan jy al gehoor het wat gedurende die Verdrukking tydperk gaan regeer.
16 Julie 2024
MIGA 5:5 AFR53
En hulle sal die land Assur met die swaard afwei en die land van Nimrod by sy ingange. So sal Hy ons dan van Assur bevry, wanneer hy in ons land kom en ons grondgebied betree.
Nimrod was die oorspronklike stigter van beide Babel (Babilon) en Assur (Assirië).
Hy was 'n geweldige jagter voor die aangesig van die Here. Daarom sê hulle: Soos Nimrod, 'n geweldige jagter voor die aangesig van die Here. En die begin van sy ryk was Babel en Ereg en Akkad en Kalne in die land Sínear. Uit hierdie land het hy getrek na Assur en gebou: Ninevé en Réhobot-Ir en Kalag. GÉNESIS 10:9-11 AFR53
Deur die geskiedenis het nasies die grondgebied van Israel betree, en dit sal vir die laaste keer tydens die Verdrukkingstydperk gebeur, want dan sal die Here eens en vir altyd Sy volk van Nimrod en sy afstammelinge bevry.
In die Millenium sal die oorblyfsel van Jakob ‘n seën wees onder al die volke van die aarde, presies wat God oorspronklik vir hulle beplan het.
Dan sal die oorblyfsel van Jakob onder baie volke wees soos dou van die Here, soos reënbuie op die plante, wat op geen mens wag nie en ter wille van geen mensekind vertoef nie. MIGA 5:6 AFR53
Daar is regverdige toorn sowel as alomvattende genade by God. Christus, wie se goedertierenheid vergelyk word met dou, en Sy sagmoedigheid met ‘n lam, is terselfdertyd die Leeu van die stam van Juda.
En die oorblyfsel van Jakob tussen die nasies sal onder baie volke wees soos 'n leeu onder die diere van die woud, soos 'n jong leeu onder troppe kleinvee; wat, as hy deurtrek, vertrap en verskeur sonder dat iemand red. MIGA 5:7 AFR53
In die herstelde Jerusalem, sal die Here nie enige van die afgodediens toelaat wat Israel eens beoefen het nie. In plaas daarvan, sal Hy al daardie dinge afsny, of dit basies goed is (perde of stede) of intrinsiek boos (towerye … heilige pilare).
En in dié dag, spreek die Here, sal Ek jou perde uit jou midde uitroei en jou strydwaens vernietig. Ook sal Ek uitroei die stede van jou land en al jou vestings afbreek. Verder sal Ek uitroei die towerye uit jou hand, en jy sal geen goëlaars meer hê nie. En Ek sal uit jou midde uitroei jou gesnede beelde en jou klippilare, sodat jy jou nie meer voor die werk van jou hande sal neerbuig nie. En Ek sal uit jou midde uitruk jou heilige boomstamme en jou stede verwoes. MIGA 5:9-13 AFR53
Die Here gebruik Sy volk egter nie net tot ‘n seën en stel hulle nie net in staat om selfstandig en onafhanklik te bestaan tussen die nasies nie. Hy herstel hulle ook van binne. Hy neem hulle oorlogstuig weg, verwyder die noodsaak van vestingstede, omdat Hy hulle beskerming is. Hy verwoes en vernietig ook hulle toorgoed, waarsêery, afgodsbeelde, klippilare en gewyde klippilare sodat hulle na Hom alleen kan luister. Hy beëindig dus alle afvalligheid van Hom, selfs die moontlikheid om afvalligheid te word, ook onder die nasies.
En Ek sal in toorn en grimmigheid wraak neem op die nasies wat nie geluister het nie. MIGA 5:14 AFR53
17 Julie 2024
MIGA 6:1 AFR53
Hoor tog wat die Here sê: Staan op, twis in teenwoordigheid van die berge, en laat die heuwels na jou stem luister!
Hoor tog! Miga begin sy derde en laaste profesie, en dit is vir al die nasies van die wêreld met Israel as middelpunt.
Ons het reeds gesien dat Daniel berge as idioom gebruik vir koninkryke - Babilon, Mede en Perse, Grieke, Romeine, Rome toekoms en laaste God se Koninkryk.
Die berge of al die koninkryke van tyd, moet hoor. Wat gaan aan, wat moet hulle hoor?
God gaan met Israel ‘n regsgeding hou, wat beteken dat die twis in die hof gaan plaasvind, met die nasies as toeskouers.
Hoor, berge, die twis van die Here! En onwankelbares, grondslae van die aarde! Want die Here het 'n twis met sy volk en sal met Israel 'n regsgeding hou. MIGA 6:2 AFR53
En dan doen God 'n verstommende ding. Terwyl Israel na die getuiebank stap, vra God vir hulle: Wat het Ek aan julle gedoen? Hy het niks anders as goed aan Israel gedoen nie, en is met verwerping en rebellie terugbetaal.
My volk, wat het Ek jou aangedoen, en waarmee het Ek jou vermoei? Antwoord My! MIGA 6:3 AFR53
God gaan voort met Sy saak. Hy herinner Israel dat Hy hulle uit Egipteland, uit die slawehuis uitgelei het. Hy het hulle verlos en aan hulle godvrugtige leiers gegee. God se saak teen Israel was sterk en Israel was skuldig in die profeet se hof.
Ja, Ek het jou uit Egipteland laat optrek en jou uit die slawehuis losgekoop, en Ek het voor jou uit gestuur Moses, Aäron en Mirjam. MIGA 6:4 AFR53
In die lig hiervan moet Israel onthou dat God nooit oorreed kon word om Israel te vervloek nie, behalwe as hulle vloeke oor hulleself gebring het deur hul eie afgodery en ongehoorsaamheid. In die profeet se hofsaal het God vir Israel gewys dat as hulle op enige manier vervloek voel, dit heeltemal hulle verantwoordelikheid was.
God sê vir die volk hulle moet terugdink aan die verhaal van Bileam en koning Balak.
Bileam was 'n berugte profeet in die Bybel. Alhoewel hy 'n goddelose profeet was, was hy nie 'n valse profeet nie. Bileam het wel van God gehoor, en God het hom 'n paar ware profesieë gegee, maar sy hart was nie reg met God nie, en uiteindelik het hy sy ware kleure gewys, deur Israel te verraai en hulle te laat dwaal.
Nadat Bileam met koning Balak ontmoet het, het Bileam vier keer oor Israel geprofeteer. Terwyl hy God se woord uitgespreek het, het hy Israel nie vervloek nie - maar hy het hulle elke keer geseën. Omdat hy Israel nie kon vervloek nie, het Bileam vir koning Balak ingelig oor hoe om Israel onder 'n vloek te bring. In plaas daarvan om te probeer dat 'n profeet Israel moet vervloek, sou die Moabiete hulle in hoerery en afgodediens lei, en so sou God die afgodedienaars en ongehoorsame Israel vervloek. Koning Balak het presies dit gedoen en sy jong vroue na die kamp van Israel gestuur om Israel in seksuele onsedelikheid en afgodery te lei. Weens hulle sonde het God Israel vervloek - Hy het 'n oordeelsplaag oor Israel gebring wat 24 000 doodgemaak het.
My volk, dink tog aan wat Balak, die koning van Moab, beraadslaag het, en wat Bíleam, die seun van Beor, hom geantwoord het, en wat gebeur het van Sittim af tot by Gilgal, sodat jy kennis kan dra van die regverdige dade van die Here. MIGA 6:5 AFR53
18 Julie 2024
MIGA 6:6 AFR53
Waarmee sal ek die Here tegemoetgaan en my buig voor die hoë God? Sal ek Hom tegemoetgaan met brandoffers, met jaaroud kalwers?
Nou kom ons by ‘n gedeelte wat wyd deur mense misverstaan en misbruik word. God het by hierdie mense gepleit om na Hom toe terug te keer, hulle van hul nalatigheid en sondes te bekeer en hulle tot Hom te keer.
God het hulle herinner hoe Hy hulle in die verlede uit Egipteland verlos het en hoe Hy in die woestyn vir hulle voorsien het.
Nou het die mense vrae wat hulle vra—en dit is goeie vrae.
1. Hoe moet ek God nader? Met brandoffers en met jaaroud kalwers?
Elke mens wat in God glo, vra hierdie vraag. In Levitikus word 'n reeks offers gespesifiseer, maar sal dit voldoende wees? Niks openbaar ’n trotse hart meer as die mens se aandrang om iets vir God te doen nie. Die soort denke is agterstevoor om, en met ‘hindsight’ kan ons na die Nuwe Testament gaan om Jesus se antwoord te hoor.
Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het. JOHANNES 6:28-29 AFR53
Die tronkbewaarder van Filippi het vir Paulus dieselfde vraag gevra.
En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word? Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin. HANDELINGE 16:30-31 AFR53
Die Here het nie ons vrygewigheid nodig nie. Ons kan nie byvoeg tot die voltooide werk van die kruis nie. Dit is godslastering om selfs te probeer!
2. Sal ek my eersgeborene gee vir my oortreding, die vrug van my liggaam vir die sonde van my siel?
Sal die Here 'n welbehae hê in duisende ramme en tienduisende strome van olie? Sal ek my eersgeborene gee vir my oortreding, die vrug van my liggaam vir die sonde van my siel? MIGA 6:7 AFR53
Dit was 'n verstaanbare vraag aangesien hulle omring was deur heidense nasies wat menslike offers aan Molek en Baäl gebring het. Trouens, twee van die mees goddelose konings van die Suidelike Koninkryk, Agas en Manasse, het hul eie kinders geoffer.
God het wel die eersgebore van alles wat gebore was vereis. Maar, enige iets wat onrein was moes losgekoop word. Die mens was onrein en kon dus nie geoffer word nie.
Alles wat die moederskoot open — alle vlees wat hulle vir die Here aanbring, mense en diere — moet joue wees; maar die eersgeborenes van mense moet jy sekerlik loskoop; ook moet jy die eersgeborenes van onrein diere loskoop. NÚMERI 18:15 AFR53
Verlossing: die terugkoop van iets wat verlore gegaan het, deur die betaling van 'n losprys.
Die skuld teen ons word nie as bloot gekanselleer beskou nie, maar is ten volle betaal. Jesus het aan die kruis, met Sy bloed, vir ons verlossing betaal. Eens en vir altyd!
wat nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters, om eers vir sy eie sondes offers te bring en dan vir dié van die volk nie. Want dit het Hy net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het. HEBREËRS 7:27 AFR53
19 Julie 2024
MIGA 6:8 AFR53
Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?
Miga antwoord die volk en sê dat God reeds aan hulle bekend gemaak het wat hulle moet doen:
1. Laat reg geskied - Tree regverdig op teenoor ander, behandel hulle soos jy behandel wil word.
2. He liefde en barmhartigheid - Gee ander dieselfde mate van genade wat jy van Go wil ontvang.
3. Wandel nederig met God - Onthou wie God is, as jy dit in gedagte hou, sal jy nederig voor God wandel.
Miga begin nou met die skuldigbevinding van die volk en spel die swaar strawwe of roede uit wat hulle gaan tref.
Die stem van die Here roep tot die stad — dit is heilsaam om u Naam te vrees —: Hoor die roede, en wie dit bestel het. MIGA 6:9 AFR53
Die teregwysing word in die vorm van vrae gegee, om die slapende gewetes van die mense wakker te maak. Is die goddelose steeds besig om die mense met die gewigte van die weegskaal te kul?
Is daar nog altyd in die huis van die goddelose skatte van onreg en 'n skrale efa wat vervloek is? Sal Ek rein kan wees by 'n valse weegskaal en by 'n sak vol bedrieglike gewigte? MIGA 6:10-11 AFR53
Die Wet het al in Moses se tyd bepaal dat geen skelm streke met die weegstene geduld sal word nie. Die weegstene is gebruik om bv. graan af te meet om te bepaal wat die verkoopsprys daarvan sou wees. Indien nie reg afgemeet nie, het die mense duurder betaal vir dit wat gekoop is.
Jy mag nie twee soorte weegstene, 'n grote en 'n kleintjie, in jou sak hê nie. Jy mag in jou huis nie twee soorte efas, 'n grote en 'n kleintjie, hê nie. Jy moet 'n volle en regte gewig hê; jy moet 'n volle en regte efa hê; sodat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God jou sal gee. Want almal wat hierdie dinge doen, is 'n gruwel vir die Here jou God — almal wat onreg doen. DEUTERONÓMIUM 25:13-16 AFR53
Die stad se welgesteldes is pas aangekla van onreg en bedrog, en nou word hulle aan die kaak gestel vir die beoefening van elke soort geweld. En nie net die rykes nie, maar al die inwoners spreek leuens en bedrog.
Want die rykes in die stad is vol geweld, en die inwoners daarvan spreek leuentaal, en hulle tong is bedrog in hulle mond. MIGA 6:12 AFR53
Omdat die volk gekies het om God te versaak – soos koning Omri (wat deur ‘n staatsgreep aan bewind gekom het) en sy seun Agab (onthou die gruwelike verhaal van Nabot se wingerd en Isebel se verraderlike raad) gedoen het, deur Baäl te aanbid – gaan Hy hulle verwoes.
So slaan Ek jou dan ook met 'n smartlike wond, met verwoesting weens jou sondes. Jy sal eet, maar nie versadig word nie, sodat jou honger in jou binneste bly; en jy sal wegbring sonder om iets te red; en wat jy red, sal Ek aan die swaard oorgee. Jy sal saai, maar nie maai nie; jy sal olywe uittrap, maar jou nie met olie salf nie, en mos maak, maar geen wyn drink nie. Want die insettinge van Omri word onderhou en al die werke van die huis van Agab; en julle wandel ooreenkomstig hulle planne, sodat Ek jou tot 'n woesteny sou maak en die inwoners daarvan 'n bespotting: en die smaad van my volk sal julle dra. MIGA 6:13-16 AFR53
20 Julie 2024
MIGA 7:1 AFR53
Wee my, want ek het geword soos ná die insameling van somervrugte, soos die natrossies van die wynoes: geen tros om te eet nie, my siel begeer vroeë vye.
Miga skets 'n donker prentjie van sy mense en hul onderlinge verhoudinge met mekaar. Hy vergelyk die mense met ‘n wingerdstok wat geen vrugte dra nie, en soos die tydperk na die insameling van die somervrugte verby is - leeg!
Red, o Here, want daar is geen vrome meer nie; want die getroues het verdwyn onder die mensekinders. PSALMS 12:2 AFR53
Die gemeenskap val in mekaar en draai teen mekaar. Daar is nie meer Godvresendes nie. Daar is nie meer opregtes nie. Mense stel strikke vir mekaar en maak mekaar dood.
Die vrome het verdwyn uit die land, en daar is geen opregte meer onder die mense nie; hulle loer almal op bloed; hulle jaag elkeen sy broer met die net. MIGA 7:2 AFR53
Omkopery en korrupsie is volop. Kwaad word met trots gedoen. Die hooggeplaastes en regters werk net vir omkoopgeld, en die vernames spreek die slegte begeertes van hul siel hardop uit.
Na die kwaad gaan die hande uit, om dit dapper te doen. Die vors eis, en die regter vra betaling, en die groot man spreek die begeerte van sy siel uit, en hulle verdraai dit alles. MIGA 7:3 AFR53
Dit is soortgelyk aan ‘n tydperk waarna Jesaja verwys as wanneer sleg goed genoem word en goed sleg genoem word. Klink baie asof ons huidige toestand in 2024 beskryf word.
Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter. JESAJA 5:20 AFR53
Selfs die bestes en mees opregtes onder hulle was soos dorings - geen kompliment word hier bedoel nie.
Die beste van hulle is soos 'n doringstruik, die mees opregte erger as 'n doringheining. Die dag van jou wagte, jou besoeking, kom; nou sal hulle verwarring daar wees. MIGA 7:4 AFR53
As gevolg van hul sonde en selfsug het persoonlike verhoudings onder God se volk verbrokkel. ’n Mens kon nie op ’n vriend vertrou of vertroue in ’n metgesel stel nie, en selfs bloedverwante was in oorlog met mekaar.
Vertrou geen metgesel nie, maak op geen vriend staat nie, let op die poorte van jou mond teenoor haar wat in jou skoot lê. Want die seun minag die vader, die dogter staan op teen haar moeder, die skoondogter teen haar skoonmoeder, die man se vyande is sy huisgenote! MIGA 7:5-6 AFR53
Aan die ander kant gryp Miga tog – juis ín die nood van die ramp wat hulle gaan tref – die genade van God vas: Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor.
Miga doen dus presies wat van hom as profeet verwag word – hy lewer sy boodskap as woordvoerder van God, maar hy tree ook in vir die volk se bekering en staan in die geloof op die sekerheid van God se antwoord. Woordvoerder en Intersessor tot die einde.
Maar ek sal uitsien na die Here, ek wil wag op die God van my heil, my God sal my hoor. MIGA 7:7 AFR53
21 Julie 2024
MIGA 7:8 AFR53
Wees nie bly oor my nie, o my vyand! Al het ek geval, ek staan weer op; al sit ek in duisternis, die Here is 'n lig vir my.
Miga praat met hul vyand en sê hulle moet nie lekker kry oor hul neerlaag nie. Miga vertel dat al het hulle geval, sal hulle weer opstaan, en al sit hy in duisternis, God is sy en die volk se lig.
Miga se vertroue kom van die enigste plek wat dit moet, van God. Hy bely sy individuele—en nasionale (die volk) —sondes.
In Israel se geval het God Assirië gebruik om hulle te straf vir hul sondes... In Juda se geval sal God Babilon gebruik om Sy volk te straf.
Die toorn van die Here sal ek dra, want ek het teen Hom gesondig; totdat Hy my saak verdedig en my reg verskaf. Hy sal my uitlei in die lig; ek sal met welgevalle sien hoe Hy geregtigheid oefen. MIGA 7:9 AFR53
Die nasies kan nie wag om Israel se uitwissing te aanskou nie. Tog, uiteindelik, sal die nasies sien dat God met Sy volk besig was en nadat hulle herstel is, sal dit die nasies wees wat soos modder in die strate vertrap word.
Ook sal my vyand in dit sien, en skaamte sal haar bedek wat vir my sê: Waar is die Here, jou God? My oë sal met welgevalle op haar neersien. Nou sal sy vertrap word soos modder van die strate. MIGA 7:10 AFR53
…..om jou mure te herbou! So om mure om jou stad (of land) te bou is nie ‘n nuwe ding nie?
Daar kom 'n dag om jou mure te herbou! In dié dag sal die gebied ruim wees. MIGA 7:11 AFR53
Dit is interessant dat Daniël se ‘69 weke’ geaktiveer is deur die bevel van koning Artasasta aan Nehemia, dat die mure gebou moes word.
Daarop sê ek vir hulle: Julle sien die nood waar ons in is, dat Jerusalem woes lê en sy poorte met vuur verbrand is; kom, laat ons die muur van Jerusalem opbou, dat ons nie langer 'n voorwerp van smaad kan wees nie. En ek vertel hulle van die hand van my God wat goed was oor my, en ook van die woorde van die koning wat hy my gesê het. En hulle sê: Ons sal ons klaarmaak en bou! En hulle het hulle hande sterk gemaak vir die goeie werk. NEHEMÍA 2:17-18 AFR53
Miga se profesie van ‘n herstelde Jerusalem is nie net vir sy tyd nie, maar ook nog in ons toekoms. In daardie dag, in die Millenium, sal al die nasies na Jerusalem stroom.
Dit is 'n dag dat hulle na jou sal kom van Assur en die stede van Egipte, en van Egipte tot by die Eufraat, en van see tot see, en van berg tot berg. MIGA 7:12 AFR53
Miga herinner hulle egter dat voor hierdie tyd van seën aanbreek, daar eers straf vir hulle voorlê. Die land en die mense is aan mekaar verbind. Dit is wat die huidige konfrontasies in die Midde-Ooste so betekenisvol maak!
Maar die aarde sal 'n wildernis word vanweë sy inwoners, as gevolg van hulle handelinge. MIGA 7:13 AFR53
22 Julie 2024
MIGA 7:14 AFR53
Wei u volk met u staf, die kudde wat u erfdeel is, wat afgesonderd woon in 'n bosveld op Karmel; laat hulle wei in Basan en Gílead soos in die ou dae.
Karmel, Basan en Gilead was almal hoogs begeerlike weivelde. Nadat God se volk teruggebring word na die plek waar hulle hoort, sal hulle liefdevol deur die HERE self versorg word.
Net soos God Sy volk uit Egipte uit die slawehuis uitgelei het, net so sal God in die toekoms Sy volk help met nuwe wonders.
Soos in die dae van jou uittog uit Egipteland sal Ek hom wonders laat sien. MIGA 7:15 AFR53
Al die nasies sal verslaan word en verstom staan. Onthou Ragab se belydenis aan die twee spioene van Israel.
want ons het gehoor dat die Here die water van die Skelfsee voor julle by jul uittog uit Egipte laat opdroog het en wat julle die twee konings van die Amoriete, Sihon en Og, oorkant die Jordaan aangedoen het, dat julle hulle met die banvloek getref het. Toe ons dit hoor, het ons hart gesmelt, sodat daar by niemand enige moed meer oorgebly het teenoor julle nie; want die Here julle God, Hy is God in die hemel daarbo en op die aarde hieronder. JOSUA 2:10-11 AFR53
Israel sal weer ingesamel word om die land te besit en hierdie herversameling sal deur wonderwerke bewerkstellig word. Wanneer die heidene dit sien, sal hulle ophou om die Jode te verwyt en 'n eerbiedige vrees vir hulle hê. Hulle sal hul dan aan die God van Israel onderwerp.
Die nasies sal dit sien en skaam wees ondanks al hulle krag: hulle sal die hand op die mond lê, hulle ore sal doof word. MIGA 7:16 AFR53
Die straf aan God se vasberade vyande herinner aan dié van Satan, die groot vyand, soos verpersoonlik deur die slang in Genesis 3:14 - Stof sal jy eet al die dae van jou lewe.
Hulle sal stof lek soos die slang, hulle sal soos grondkruipers bewende uit hulle vestings te voorskyn kom, hulle sal sidderende kom na die Here onse God, en hulle sal vir U vrees. MIGA 7:17 AFR53
Miga sluit af deur die volk te herinner Wie God in sy Wese is: Wie is ‘n God soos U? … U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde. Met hierdie profetiese gebed verkondig Miga ‘n hoopvolle getuienis en boodskap aan die volk. God sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak.
Wie is 'n God soos U, wat die ongeregtigheid vergewe en by die oortreding van die oorblyfsel van sy erfdeel verbygaan? Hy hou toorn nie vir ewig vas nie, maar het 'n welbehae in goedertierenheid. Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp. MIGA 7:18-19 AFR53
God sal op grond van Sy verbond presteer: aan Abraham (Gen 12:2,3) aan Isak (Gen 26:24) en aan Jakob (Gen 28:13-14). Die dinge wat God aan Abraham en hulle vaders gesweer het, is onweerlegbaar en onveranderlik.
U sal trou bewys aan Jakob, goedertierenheid aan Abraham, wat U aan ons vaders met 'n eed beloof het sedert die dae van die voortyd. MIGA 7:20 AFR53
23 Julie 2024
MIGA 3:12 AFR53
Daarom sal Sion om julle ontwil soos 'n land omgeploeg en Jerusalem puinhope word en die tempelberg bosrante.
Ons doen ‘n terugblik op die geskiedenis om te sien hoekom daar gesê word dat die volk na Miga se profesië geluister het, want uit dit wat ons na gekyk het, sien ons nie die inligting nie.
Die Assiriërs het in 734 v.C. die hele noordelike Israel in ballingskap weggevoer. Salmanezer van Assirië het later in 721 v.C. die noordelike hoofstad van Samaria aangeval, dit omvergewerp en die oorblywende mense van die Noordelike Koninkryk gedeporteer.
Agt jaar later het Sanherib, Salmanezer se opvolger, die Suidelike Koninkryk Juda aangeval. Op 'n stadium het die veldbevelvoerder voor die mure van Jerusalem verskyn en hulle tot oorgawe uitgedaag. Sanherib het 'n brief met dieselfde strekking gestuur.
So moet julle aan Hiskía, die koning van Juda, sê: Laat u God op wie u vertrou, u nie bedrieg nie deur te sê: Jerusalem sal nie in die hand van die koning van Assirië oorgegee word nie. II KONINGS 19:10 AFR53
Hiskia het hierdie brief voor God oopgemaak en deur Jesaja bevestiging gekry dat die stad gespaar sou word en Sanherib sou misluk. Hiskia het 'n herlewing georganiseer en die afgode van sy voorgangers verpletter, selfs die oorspronklike koperslang, wat na byna 1 000 jaar ook ‘n afgod geword het en waarop hulle wierook gebrand het, is ook vernietig.
Ons gaan sien uit 'n voorval wat 'n eeu later plaasgevind het, dat dit eintlik as gevolg van Miga se prediking was dat die volk berou gehad het en Jerusalem gespaar is.
Jeremia het 120 jaar later ook geprofeteer oor die naderende vernietiging van Jerusalem.
Sê dan vir hulle: So spreek die Here: As julle na My nie luister nie, om in my wet te wandel wat Ek julle voorgehou het, om te luister na die woorde van my knegte, die profete, wat Ek na julle stuur, vroeg én laat, sonder dat julle geluister het, dan sal Ek hierdie huis maak soos Silo, en hierdie stad sal Ek maak 'n vervloeking vir al die nasies van die aarde. En die priesters en die profete en die hele volk het Jeremia hierdie woorde hoor spreek in die huis van die Here. JEREMIA 26:4-7 AFR53
Sy boodskap het die priesters en die valse profete aanstoot gegee, en daarom het hulle hom gegryp en voor die amptenare gebring en sy dood geëis. Jeremia het sy verdediging gegee en Miga aangehaal.
Miga, die Morastiet, het as profeet opgetree in die dae van Hiskía, koning van Juda, en met die hele volk van Juda gespreek en gesê: So spreek die Here van die leërskare: Sion sal soos 'n land omgeploeg word, en Jerusalem sal puinhope word en die tempelberg bosrante. JEREMIA 26:18 AFR53
Miga se woorde is 120 jaar later onthou en deur God gebruik om Jeremia te spaar. Trouens, dit blyk dat Miga geleef het om die begin van Hiskia se herlewing te sien ...