Die profete aan die Suidelike Koninkryk: Habakuk 1-3
- Regina Torre
- Aug 3, 2024
- 23 min read
Updated: Aug 14, 2024

4 Augustus 2024
HÁBAKUK 1:1 AFR53
Die Godspraak wat Hábakuk, die profeet, gesien het.
Ons weet nie veel van die profeet Habakuk uit enige ander boek in die Bybel nie. Aangesien hy oor die komende Babiloniese leër en sy vernietiging van Juda geprofeteer het, word hy geplaas in die tydperk voor die inval. Baie dink dat Habakuk die een of ander tyd gedurende die regering van koning Jojakim gedien het, miskien rondom die jaar 607 v.C.
Omdat Habakuk inligting gee van God wat die Babiloniër weermag versterk, kan ons raai dat hy geskryf het in die 25-jaar tydperk tussen die tyd toe Babilon, Nineve en die Assiriese Ryk verower het (612 v.C.) en die tyd toe Babilon Jerusalem verower het (587 v.C.).
Ons weet nie hoe oud Habakuk was toe hy hierdie profesie gegee het nie, maar dit is waarskynlik dat hy gedurende die tyd van die goeie koning Josia (640 tot 609 v.C.) geleef het, en toe hierdie profesie gegee het tydens die bewind van een van Josia se opvolgers, moontlik die slegte koning Jojakim.
Habakuk het geweet hoe dit was om gedurende 'n tyd van herlewing te lewe, asook om te sien hoe God se volk en die nasie in lusteloosheid en sonde verval. Habakuk het 'n probleem gehad.
Habakuk het 'n swaar las gedra. Sy profesie was swaar in sy inhoud, want Habakuk het die komende oordeel oor Juda aangekondig. Dit was ook swaar in sy bron, want Habakuk hanteer moeilike vrae wat hy aan God bring en God se antwoord op daardie vrae.
Hy worstel met vrae soos: As God dan só streng en grusaaam kan oordeel oor die nasies, soos in die geval van Nineve, hoekom doen Hy dit nie ook nou waar die onderdrukkende werklikheid van die Galdeërs die Jode se voortbestaan bedreig nie?
Hoe kan God hoegenaamd sê dat hy nasies inspan – Kyk, Ek gaan die Galdeërs laat optrek … – terwyl hulle nie in Hom glo nie?
Hoe kan God hulle toelaat om op gewelddadige en bose maniere op te tree? En hoe lank sal die onreg en geweld selfs onder die Godsvolk die oorhand hê?
Kortom, hoe lank kan God nog toelaat dat onreg en boosheid gedy en regverdiges daaronder ly?
Die naam Habakuk word afgelei van die Hebreeuse werkwoord ‘omhels’. Sy naam beteken waarskynlik ‘hy wat omhels’ of ‘hy wat vashou’. Dit is 'n gepaste naam vir beide die profeet en die boek, want Habakuk kom tot 'n vaste geloof deur met moeilike vrae te worstel.
Habakuk was 'n professionele profeet, een wat sy brood verdien het deur as profeet by die tempel te dien.
Sy se eerste woorde weerklink reg deur die eeue in gelowiges se gebede - Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here! Wat Habakuk se klag nog meer intens maak, is dat dit nie net sy persoonlike nood is wat voor God gebring word nie, maar ook dié van die gemeenskap waar die gebrek aan geregtigheid hooggety vier. Waar Habakuk ook al kyk, is daar onreg en ellende, onderdrukking en geweld, getwis en gebaklei.
Hoe lank, o Here, roep ek om hulp, maar U hoor nie; skreeu ek tot U: Geweld! — maar U help nie? HÁBAKUK 1:2 AFR53
5 Augustus 2024
HÁBAKUK 1:3 AFR53
Waarom laat U my onreg sien en aanskou U die moeite! Ja, verwoesting en geweld is voor my oë; en daar is stryd, en twis begin.
Habakuk praat met God en sê dat hy sy nasie aanskou en al wat hy sien is geweld en verwoesting. Hy vra dan met erns: Waarom doen U nie iets hieraan nie, Here?
Klink soos ons eie daaglikse nuusuitsendings en ons eie vrae, nie waar nie?
Interessant dat die woord ‘geweld’ in Hebreeus ‘hamas’ is. Waar hoor ons daagliks die woord?
Sy ervaring is dat die wet geen krag meer het nie en dat die slegte mense die oorhand het oor die goeies. Nêrens geskied daar meer reg en geregtigheid nie. Die reg word verkrag. En dit is nie die Chaldeërs en die nasies, van wie se onreg Habakuk praat nie. Dit is sy eie mense, die mense van Juda!
Wat Habakuk egter nog dieper ontstel, is dat dit lyk asof God van ‘n afstand af net toekyk en niks doen aan die ellende en geweld in die Joodse geloofsgemeenskap nie. Waarom tree God nie op nie? Hy kan tog sien dat dinge nie só kan aangaan nie?
Daarom verloor die wet sy krag, en die reg kom nooit meer te voorskyn nie; want die goddelose omsingel die regverdige, daarom kom die reg verdraaid te voorskyn. HÁBAKUK 1:4 AFR53
Habakuk verduidelik dat as God se volk Sy dade sou minag, dan sal hulle vergaan. Die werk wat God deur middel van die Chaldeërs sou doen, was so vreesaanjaend, so ongewoon en so merkwaardig, dat hulle dit nie betyds sou glo om die rampspoed te vermy nie. Dit is die nabye betekenis van die profesie, die verre betekenis is die uiteindelike verstrooiing van die Jode.
Aanskou onder die nasies en merk op, en staan verstom, verstom; want Ek gaan iets in julle dae doen wat julle nie sal glo as dit vertel word nie. HÁBAKUK 1:5 AFR53
In die Nuwe Testament haal Paulus die gedeelte aan vir die Jode van die verstrooiing in Antiogië, en skryf hierdie profesie toe aan die verlossingswerk van Christus.
Pas dan op dat daar nie oor julle kom wat deur die profete gesê is nie: Kyk dan, julle veragters, en wees verwonderd en verdwyn! HANDELINGE 13:40 AFR53
Paulus verwys na die profeet Habakuk. Hy het geprofeteer oor hoe die Chaldeërs die nasie Israel sou vernietig. Die oorspronklike dreigement is vervul.
Net so was die wyse waarop God die Messias gegee het, so min in ooreenstemming met hulle verwagting, dat alhoewel hulle dit kon sien, hulle nie wou glo nie.
Kyk dan, julle veragters, en wees verwonderd en verdwyn! Want Ek gaan iets in julle dae doen, iets wat julle sekerlik nie sal glo as iemand julle dit vertel nie. HANDELINGE 13:41 AFR53
God het vir die ontstelde profeet gesê: Moenie daaroor bekommer nie. Kyk na die omringende nasies en uit hulle sal ’n nasie voortkom wat My instrument van oordeel oor sondige Juda sal wees.
Ek sal 'n werk in jou dae doen wat jy nie sou glo nie. Ons verstaan die idee van iets wat te goed is om waar te wees, maar dit is nie wat God hier bedoel het nie. Dit was iets wat te erg is om waar te wees, 'n werk van oordeel wat so verstommend was dat Habakuk dit moeilik sou kon glo.
6 Augustus 2024
HÁBAKUK 1:6 AFR53
Want kyk, Ek gaan die Chaldeërs opwek, daardie kwaai en onstuimige nasie wat trek deur die wydtes van die aarde, om wonings in besit te neem wat aan hom nie behoort nie.
Die Chaldeërs was inwoners van Babilonië, en afstammelinge van Abraham se broer Nahor, se seun Kesed.
Ná hierdie dinge het hulle aan Abraham berig gebring en gesê: Kyk, Milka het ook vir jou broer Nahor seuns gebaar: Us, sy eersgeborene, en Bus, sy broer, en Kémuel, die vader van Aram, ook Kesed en Haso en Pildas en Jidlaf en Bétuel. GÉNESIS 22:20-22 AFR53
Nabopolassar het in 626 v.C. koning van Babilon geword. Sy seun Nebukadnesar het in 606 v.C. Farao Nego in die slag van Karkemis verslaan en die Neo-Babiloniese Ryk van Daniël 2 gestig.
Toe die Babiloniërs (die Chaldeërs) Juda uiteindelik verslaan het, was dit omdat hulle deur God gestuur was. God het toegelaat dat hulle sondige begeerte om Juda te verower kon plaasvind. As God hulle nie toegelaat het om dit te doen nie, sou hulle nooit Juda kon oorwin en God se volk uit die Beloofde Land kon verban het nie.
God het vir Habakuk gesê dat die oordeel oor Juda inderdaad sou kom, en wanneer dit sou gebeur, sou dit verskriklik wees.
Verskriklik en gedug is hy, van homself gaan sy reg en hoogheid uit. HÁBAKUK 1:7 AFR53
Die Chaldeërs sal as God se oordeelsinstrument optree en vrees en ontsag inboesem reg oor die aarde, ook in Juda. Hulle perde is vinniger as luiperds en vuriger as honger wolwe. Hulle sal die hele aarde verower en lag vir die weerstand wat die nasies probeer bied teen die geweld van hul aanslag.
En vinniger as luiperds is sy perde en gouer as aandwolwe; en op 'n galop kom sy ruiters, ja, sy ruiters! Van ver kom hulle aangevlieg net soos 'n arend wat op sy prooi neerskiet! HÁBAKUK 1:8 AFR53
Die aankomende weermag is nie daar om te speel nie, hulle kom om geweld te pleeg.
Hulle kom almal om geweld te pleeg; die rigting van hulle gesigte is vorentoe, sodat hy gevangenes versamel soos sand. HÁBAKUK 1:9 AFR53
Konings en prinse word aangestel en afgedank op die indringer, Nebukadnesar se plesier.
Ook dryf hy die spot met konings, en vorste is vir hom 'n belagging; hy lag om elke vesting; hy hoop grond daarteen op en neem dit in. HÁBAKUK 1:10 AFR53
Ons lees in II Konings bevestiging van Habakuk se profesie.
In sy dae het Nebukadnésar, die koning van Babel, opgetrek, en Jójakim het drie jaar lank sy dienaar geword; daarna het hy weer teen hom gerebelleer. Toe stuur die Here die bendes van die Chaldeërs teen hom en die bendes van die Arameërs en die bendes van die Moabiete en die bendes van die kinders van Ammon — Hy stuur hulle teen Juda om dit te verdelg volgens die woord van die Here wat hy gespreek het deur die diens van sy knegte, die profete. II KONINGS 24:1-2 AFR53
7 Augustus 2024
HÁBAKUK 1:11 AFR53
Dan gly hy verby, 'n wind, en trek verder — maar word skuldig, hy wie se krag sy god is.
Let op die ingeboude kritiek wat reeds in God se beskrywing van die Chaldeërs se mag ingesluit is: Hulle ken net een wet, een trots - hulle eie … Vir hierdie sondige nasie is sy eie mag sy god.
God wys dat Hy deeglik bewus is daarvan dat die Chaldeërs net in hulself en nie op Hom vertrou nie. Daarin lê reeds die oordeel van God oor die Chaldeërs, al gebruik Hy hulle tans as Sy oordeelsinstrument.
In teenstelling met die Chaldeërs wat hul mag as hul god voorstel, bevestig Habakuk dat sy God al van die voortyd bestaan, en dat hy weet dat God Sy volk nie heeltemal sal uitwis nie - ons sal nie sterwe nie.
Habakuk bevestig dat die Chaldeërs se krag van God kom, en dat hul straf ook van God sal kom.
Is U dan nie uit die voortyd nie, o Here, my God, my Heilige? Ons sal nie sterwe nie. Here, tot 'n strafoordeel het U hom bestel en, o Rots, tot 'n tugroede het U hom bestem! HÁBAKUK 1:12 AFR53
Hoe ook al die wêreld geskud word, of die mens se geloof wankel, God bly onwankelbaar as die Rots van die Eeue.
Vertrou op die Here vir ewig, want in die Here Here is 'n ewige rots. JESAJA 26:4 AFR53
Habakuk kan egter nie vrede maak met die feit dat dié oordeelsinstrument wat God gebruik eintlik slegter mense is as dié waarteen God hulle gebruik nie: Waarom bly U stil wanneer slegte mense dié vernietig wat beter as hulle is?
God is ewig, heilig, soewerein en bekend daarvoor dat Sy oë te rein is om toe te kyk terwyl daar verkeerd gedoen word: U kan tog nie sien dat daar ellende is en niks doen nie!
U, wat te rein is van oë om die kwaad aan te sien en die onreg nie kan aanskou nie — waarom aanskou U die trouelose, swyg U wanneer die goddelose dié verslind wat regverdiger is as hy? HÁBAKUK 1:13 AFR53
Habakuk gaan terug na die skeppingsverhaal, dat die mens tog nie soos diere is nie: Hoe kan U mense behandel asof hulle visse is, asof hulle kruipende insekte sonder ‘n leier is?
Hy wys ook op die goddeloosheid van die Galdeërs, wat selfs offers vir hul nette bring, waarmee hulle hul opstand teen God bewys, soos dit ook uitmond in hulle minagting vir die mense wat God geskep het.
So maak U dan mense soos visse van die see, soos kruipende gedierte wat geen heerser oor hulle het nie. Hy trek hulle almal op met die hoek, sleep hulle in sy net en vergader hulle in sy seën; daarom is hy vrolik en juig. Daarom offer hy aan sy net en laat rook opgaan vir sy seën; want deur hulle is sy aandeel vet en sy spys weelderig. Sal hy daarom sy net uitskud en gedurigdeur nasies doodmaak sonder verskoning? HÁBAKUK 1:14-17 AFR53
8 Augustus 2024
HÁBAKUK 2:1 AFR53
Op my wagtoring wil ek gaan staan en op 'n skansmuur my stel, en ek wil speur om te sien wat Hy in my sal spreek, en wat ek op my klagte moet antwoord.
Die wagtoring is nie noodwendig 'n letterlike toring nie, maar 'n gesindheid. Profete word regdeur die Bybel met wagters vergelyk.
En hy het geroep soos 'n leeu. Op die wagtoring, Here, staan ek gedurig by dag, en op my wagpos stel ek my al die nagte. JESAJA 21:8 AFR53
Ek het ook wagte oor julle gestel en gesê: Luister na die geluid van die basuin. Maar hulle het geantwoord: Ons wil nie luister nie. JEREMIA 6:17 AFR53
God antwoord Habakuk en sê hy moet sy skryfgoed regkry om neer te skryf wat hy gaan hoor. Dit wat hy skryf moet so wees dat almal wat daar verbygaan ook kan lees wat God se antwoord is. Die boodskap moet dus baie sigbaar in die publieke oog wees, die moderne weergawe van groot kennisgewing- of advertensieborde.
Toe antwoord die Here my en sê: Skryf die gesig op en graveer dit op tafels, sodat hulle dit in die verbygaan kan lees. HÁBAKUK 2:2 AFR53
Die rede hoekom hierdie profesie neergeskryf moet word, is omdat die vervulling daarvan in die volk se toekoms is, en dit behoort genoeg te wees vir hul geloof dat God dit gespreek het.
Want die gesig sal nog duur tot op die vasgestelde tyd; maar dit spoed na die einde en sal nie teleurstel nie. As dit mag vertoef, wag daarop; want alte seker sal dit kom en nie versuim nie: HÁBAKUK 2:3 AFR53
God antwoord Habakuk op twee maniere. Hy wys eerstens wat die geloofsgemeenskap se verantwoordelikheid in só ‘n tyd van onreg en oordeel is: Wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly.
In dié twee woorde van die Here – 1) om te wag vir Sy uitkoms, en 2) om in geloof en getrouheid te volhard – lê miskien een van die belangrikste boodskappe vir gelowiges deur die eeue opgesluit.
Die Chaldeërs was trots of opgeblaas en het gevolglik God se oordeel in die gesig gestaar. Daarenteen is die regverdiges nederig in God se oë en sal nooit God se oordeel in die gesig staar nie.
Kyk, sy siel is opgeblase in hom en nie reg nie. Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe. HÁBAKUK 2:4 AFR53
Geen wonder dat Paulus so baie van Habakuk se boodskap maak nie. In Romeine, beklemtoon hy die idee dat geregtigheid deur geloof vir beide Jode en heidene is.
Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe. ROMEINE 1:17 AFR53
In Galasiërs sê Paulus dat ons deur geloof geregverdig of reg gemaak word voor God. Die Wet het geen vermoë om iemand te regverdig nie.
En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe. GALÁSIËRS 3:11 AFR53
Trouens, die impak van Habakuk strek ook tot in die begronding van die Reformasie deur Marten Luther wat in die Romeine brief se boodskap (1:16-17) ‘n genadige God ontdek het. Dit het die basis gevorm vir die formulering van die sola fide belydenis, een van die kosbaarste erfenisse uit daardie tyd.
9 Augustus 2024
HÁBAKUK 2:5 AFR53
En bowendien, die wyn is 'n bedrieër, 'n trotse man is onbestendig: hy wat sy keel wyd oopmaak soos die doderyk, en soos die dood is hy, so onversadelik — hy vergader vir homself al die nasies en maak vir hom al die volke bymekaar.
God se tweede antwoord aan Habakuk is opgebou rondom vyf uitsprake van ellende of wee, oor die goddelose Chaldeër-onderdrukker.
Jy kan nie ander se rykdom vir jouself toeeien en dink dat jy skotvry sal loskom nie. Die tyd kom nader, sê God, dat jou oneerlike en onregverdige besit deur ander van jou afgeneem sal word.
Sal hulle nie almal oor hom 'n spreuk, 'n spotlied aanhef nie, raaisels oor hom maak nie, en sê: Wee die man wat hom verryk met wat nie aan hom behoort nie — hoe lank? — en hom beswaar met verpande goed. Sal die wat jou byt, nie skielik opstaan en jou skrikaanjaers nie opwaak, sodat jy vir hulle 'n prooi word nie? Omdat jy baie nasies uitgebuit het, sal al die volke wat oorgebly het, jou uitbuit, weens die bloed van die mense en die geweld teen die land, die stad en al sy inwoners. HÁBAKUK 2:6-8 AFR53
Jy kan nie ander uitbuit deur ‘n onwettige geknoeiery en dink dat dit nie ‘n ramp op jou en jou familie sal bring nie. Geen sekuriteit wat jy probeer bou, sal jou van ondergang beskerm nie, want selfs die klippe waarmee jy jouself probeer beveilig van ander, sal jou skuld uitskree en verkondig.
Wee hom wat vuil gewin maak vir sy huis, om sy nes in die hoogte te bou, om homself te red uit die greep van onheil. Jy het skande beraadslaag vir jou huis: die uitroeiing van baie volke, en het jou lewe verbeur. Want die steen uit die muur roep, en die balk uit die timmerasie gee hom antwoord. HÁBAKUK 2:9-11 AFR53
God is oral en sien alles. Niks ontglip Sy teenwoordigheid nie. Hy sal rekenskap eis.
Wee hom wat 'n stad bou met bloed en 'n vesting stig deur onreg. Kyk, kom dit nie van die Here van die leërskare dat volke arbei vir vuur en nasies hulle afmat vir niks nie? Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die Here soos die waters die seebodem oordek. HÁBAKUK 2:12-14 AFR53
Noag se probleme met die vrug van die wingerdstok lê waarskynlik agter die beeldspraak wat hier gebruik word, en Gam se skandelike openbaringmaking daarvan (Gen. 9). Só mag mense nie met mekaar omgaan nie, want daardeur word hulle geweld aangedoen. God se straf vir die ontering van ander deur die Chaldeërs is dat hulleself onteer sal word.
Wee hom wat aan sy naaste drank gee, wat jou gif daarmee meng, en hulle ook dronk maak om hulle naaktheid te aanskou. Jy het jou versadig met skande in plaas van met eer — drink jy ook nou, en wees ontbloot. Na jou toe sal die beker van die regterhand van die Here omgaan, en skande tref jou eer. Want die geweld aan die Líbanon gepleeg, sal jou oordek; en die verwoesting waarmee die diere skrikgemaak is — weens die bloed van die mense en die geweld teen die land, die stad en al sy inwoners. HÁBAKUK 2:15-17 AFR53
God is streng in Sy veroordeling van afgodediens, nie net omdat dit mense verlei om dit te dien nie, maar omdat dit só nutteloos is. Dit is maar net iets wat deur ‘n mens gemaak is. Geen vertroue sal hulle lewendig maak nie. Geen aandag aan hulle sal jou enigiets kan leer nie.
Wat baat 'n gesnede beeld dat sy maker dit reggekap het, 'n gegote beeld, wat 'n leuenleraar is, dat die maker op sy eie maaksel vertrou, deur stomme afgode te maak? Wee hom wat vir 'n stuk hout sê: Word wakker! vir 'n dooie klip: Ontwaak! Kan hy 'n mens leer? Kyk, hy is oorgetrek met goud en silwer, en daar is géén gees in sy binneste nie! HÁBAKUK 2:18-19 AFR53
Wat nodig is, is om God in Sy heilige tempel raak te sien en saam met almal op aarde in Sy teenwoordigheid tot rus te kom. Sy goedheid sal triomfeer oor die kwaad.
Maar die Here is in sy heilige tempel — swyg voor Hom, o ganse aarde! HÁBAKUK 2:20 AFR53
10 Augustus 2024
HÁBAKUK 3:1 AFR53
'n Gebed van Hábakuk, die profeet, op die wysie van Sjigjonōt.
Die eerste twee hoofstukke van Habakuk was die profeet se vraag- en antwoordtyd met God. Noudat God al Habakuk se vrae geantwoord het, sluit hy sy boek af met 'n gebed.
Habakuk bid vir herlewing. Hy het geweet hoe God eens gewerk het en hoe Sy mense eens gereageer het, en Habakuk wil dit weer sien.
Die gebed van Habakuk wys vir ons dat herlewing 'n werk van God is, nie die prestasie van die mens nie. Daar is iets wat die mens kan en moet doen vir herlewing – roep eenvoudig tot God en pleit vir Sy herlewingswerk.
Habakuk wou he dat God 'n werk moet doen wat vir almal duidelik was as 'n werk van God. Hy het gebid dat herlewing op 'n bepaalde tyd en plek (in die midde van die jare) bekend sou wees, nie net as 'n idee in iemand se kop nie.
Die profeet het gebid met die wete dat hulle nie herlewing verdien nie, daarom het hy om genade gebid. Die idee is: Here, ek weet dat ons U toorn verdien, maar te midde van U toorn onthou barmhartigheid en stuur herlewing onder ons.
Here, ek het die tyding aangaande U verneem, ek het gevrees! Here, roep u werk in die lewe in die midde van die jare; in die midde van die jare laat dit bekend word. In toorn, dink aan ontferming. HÁBAKUK 3:2 AFR53
Terwyl Habakuk vir herlewing bid, het hy begin om God te prys vir die herlewing wat gaan kom. In hierdie loflied (onderbreek deur verskeie uitdrukkings van Sela, soos in die Psalms) verheerlik Habakuk die mag en majesteit van God. Hy gaan telkemale God se groot werke uitlig sodat almal kan onthou hoe groot en magtig God is.
Dit is goed om God te loof, en ons moet meer daarvan doen, want:
- dit gee gepaste eer aan God.
- dit verklaar God se spesifieke werke.
- dit leer en herinner ons wie God is en wat Hy gedoen het.
- dit plaas die mens in behoorlike perspektief onder God.
- dit bou vertroue in die krag en werke van God.
God kom van Teman en die Heilige van die berg Paran. Sela. Sy majesteit bedek die hemel, en die aarde is vol van sy lof. HÁBAKUK 3:3 AFR53
Teman verteenwoordig die land suid van Juda naby Edom, en die berg Paran is geleë in die gebied. Paran is ook die woestynstreek, wat strek van die suide van Juda tot by Sinai.
Seïr, Sinai en Paran is aangrensend aan mekaar, word saam geassosieer.
En hy het gesê: Die Here het gekom van Sinai en vir hulle opgegaan van Seïr af; Hy het in ligglans verskyn van die gebergte Paran en gekom van heilige tienduisende af; aan sy regterhand was vlammende vuur vir hulle. DEUTERONÓMIUM 33:2 AFR53
Habakuk herinner in sy gebed homself hoe God aan Moses op die berg Sinai, die Wet aan Sy volk gegee het. God is dieselfde toe en in Habakuk se tyd en nou in ons tyd en in die toekoms.
Soos Hy toe in heerlikheid gekom het om 'n verbond met Sy volk te sluit, so sal Hy weer in majesteit verskyn om hulle te verlos van die mag van die bose en om hul vyande te oordeel.
11 Augustus 2024
HÁBAKUK 3:4 AFR53
En glans soos sonlig is daar, ligstrale aan sy sy; en dáár is die omhulsel van sy krag.
Habakuk beskryf dat wanneer God kom, Sy mag soos helder sonlig en weerlig sal wees wat uit Sy hande sal blits.
Die beskrywings laat ‘n mens besef dat Habakuk ‘n visioen of ‘n teofanie, van God se kragtige teenwoordigheid in die skepping en die geskiedenis van die nasies gesien het.
'n Teofanie is 'n manifestasie van God in die Bybel wat tasbaar vir die menslike gewaarwording is. In die mees beperkende gewaarwording, is dit 'n visuele verskyning van God in die Ou Testamentiese periode, dikwels, maar nie altyd nie, in menslike vorm.
Nadat hy die prag van die teofanie beskryf het, wend die profeet hom nou na die doel en gevolge van God se verskyning. Hy kom om te wreek en te oordeel, daarom het die pes voor hom gegaan.
Voor Hom uit loop die pes, en 'n koorsgloed trek uit agter Hom aan. HÁBAKUK 3:5 AFR53
Voor hom uit loop die pes, om Sy vyande en die ongehoorsames te straf, soos in Kanaän toe die Filistyne die ark gesteel het.
Maar die hand van die Here was swaar op die Asdodiete, en Hy het hulle verskrik en hulle getref met geswelle, Asdod en sy grondgebied. I SAMUEL 5:6 AFR53
Moses dra in opdrag van God, net voor sy dood, ‘n lied aan die volk voor. Hy sê dat verskillende rampe God se volk sal tref wanneer hulle wegdraai van Hom. Onder andere sal hulle verteer word deur ‘n koorsgloed en dodelike siektes sal hulle tref.
As hulle uitgeput is van honger en verteer deur koorsgloed en dodelike siekte, sal Ek die tand van wilde diere teen hulle loslaat met die gif van stofkruipers. DEUTERONÓMIUM 32:24 AFR53
Habakuk dink terug aan God wat op Sinai neergedaal het in bewolkte duisternis, donderweer, weerlig en vuur sodat die berge gebewe het.
Hy tree op en laat die aarde wankel, Hy kyk en laat nasies opskrik; verpletterd lê die ewige berge, en neergesink die ou, ou heuwels — paaie van die ou tyd vir Hom. HÁBAKUK 3:6 AFR53
Net soos God eens op Sinai neergedaal het, so bewe en smelt die berge en heuwels weg wanneer God Sy volk gaan red.
Here, toe U uitgetrek het uit Seïr, toe U voortgestap het uit die veld van Edom, het die aarde gebeef, ook het die hemel gedrup, ook het die wolke water gedrup. Berge het gewankel voor die aangesig van die Here uit, hierdie Sinai voor die aangesig van die Here, die God van Israel. RIGTERS 5:4-5 AFR53
12 Augustus 2024
HÁBAKUK 3:7 AFR53
Ek sien die tente van Kusan met onheil oordek, en die tentdoeke van die land Mídian bewe.
Habakuk sien vêrder wat God vir hom in sy visioen wys. Hy kyk terug na die uittog uit Egipte waar God Sy volk deur die Rooi See gebring het. Hierdie aksie van God het die omliggende nasies in vrees vir Hom gelaat.
Kusan is Ethiopië, en is geleë suid van Egipte en aan die weskus van die Rooi See. Midian is geleë aan die ooskus van die Rooi See. Die tente dui op die inwoners van die twee gebiede.
Moses is die hoofkarakter in hierdie verhaal. Hy het vanaf Egipte na Midian gevlug nadat hy die Egiptenaar doodgemaak het.
En toe Farao van dié saak hoor, het hy probeer om Moses dood te maak. Maar Moses het van Farao af weggevlug en in die land Mídian gaan woon. En hy het by 'n put gesit. EXODUS 2:15 AFR53
Habakuk onderbreek die beskrywing van sy visoen met ‘n retoriese vraag aan God.
Is dit teen riviere, o Here, teen die riviere, dat u toorn ontvlam het? Of geld u grimmigheid die see dat U ry met u perde, u oorwinningswaens? HÁBAKUK 3:8 AFR53
Die sinspeling is natuurlik op Israel se wonderbaarlike deurtog deur die Rooi See en die Jordaan.
Die perde en waens wat hier die simbole van Goddelike mag is, is meer verstaanbaar in die lig van Eksodus 14, waar Farao, met perde en strydwaens die volk agtervolg het, net om vind dat God hulle in ‘n lokval ingelei het.
En Hy het die wiele van hulle strydwaens laat insak en hulle met moeite laat voortgaan. Toe sê die Egiptenaars: Laat ons van Israel af wegvlug, want die Here stry vir hulle teen die Egiptenaars. Daarop sê die Here vir Moses: Steek jou hand uit oor die see, dat die waters kan terugvloei oor die Egiptenaars, oor hulle strydwaens en oor hulle ruiters. EXODUS 14:25-26 AFR53
God se wapen of boog is ontbloot en oorgehaal vir die oordeel. God se oordeel sal die vyande verskrik, veral wanneer die aarde oopbreek en die riviere oorstroom.
Heeltemal ontbloot is u boog; besweer is die pyle deur die woord. Sela. Tot riviere splyt U die aarde. HÁBAKUK 3:9 AFR53
Israel kan staat maak op God om hulle te help, soos reeds in die verlede bewys is. God se mag en krag word deur die natuur vir Sy volk gewys. Op Sinai het die berge gebewe, en met die uittog het die Rooi see se waters oopgemaak na die linker en die regter kant toe Moses sy staf gelig het.
Die berge sien U en bewe van angs, 'n wolkbreuk storm verby, die wêreldvloed verhef sy stem, steek sy hande omhoog. HÁBAKUK 3:10 AFR53
Tot hier het Habakuk voorbeelde uit Moses se lewe geneem om God se grootheid te onthou. Die doel met sy gebed is om hersiening te doen van God se wonderdade in die verlede, sodat die volk ‘n verwagting kan he van wat God in toekoms vir hulle gaan doen.
13 Augustus 2024
HÁBAKUK 3:11 AFR53
Die son, die maan bly in hulle woonplek by die lig van u pyle wat verbyskiet, by die glans van flikkerende spies.
Habakuk is in sy gebed besig om God se wonderdade uit te lig, om sodoende God se almagtigheid ten toon te stel. In sy gebed prys hy God en dink hy terug aan wie God is en wat Hy gedoen het.
Josua is volgende op Habakuk se lys. Sy taak was om die land Kanaän in te neem en met God se hulp het hulle sovêr die groot stede van Jerigo, Ai en Gibeon oorwin. Adoni-Sedek die koning van Jerusalem het die oorwinnings van Joshua en sy volk aanskou en die konings rondom hom gevra om saam met hom teen die Israeliete te veg om sodoende hul gebiede te beskerm.
So het dan die vyf Amoritiese konings vergader en opgetrek: die koning van Jerusalem, die koning van Hebron, die koning van Jarmut, die koning van Lagis, die koning van Eglon, hulle en al hul leërmagte; en hulle het Gíbeon beleër en daarteen geveg. JOSUA 10:5 AFR53
Josua word deur God beveel om nie te vrees nie want God gaan die vyand in sy hande gee.
En die Here het aan Josua gesê: Wees nie bevrees vir hulle nie, want Ek gee hulle in jou hand; niemand van hulle sal voor jou standhou nie. JOSUA 10:8 AFR53
Josua en sy manskappe oorval die vyand onderwyl God verwarring in hul midde bring. Soveel so dat die vyand besluit om te vlug, maar God se oordeel is nie verby nie, groot haelstene uit die hemel word op die vyand gewerp soos pyle wat uit die hemel geskiet word.
En toe hulle voor Israel uit vlug terwyl hulle op die afdraand van Bet-Horon was, het die Here groot haelstene uit die hemel op hulle gewerp tot by Aséka, sodat hulle gesterf het; daar het meer gesterf deur die haelstene as wat die kinders van Israel met die swaard doodgeslaan het. JOSUA 10:11 AFR53
God se almag is nie klaar nie, want Josua vra God vir nog hulp en God beveel die son en die maan om stil te staan, sodat Josua meer daglig tyd het om die vyand te verslaan.
Toe het Josua met die Here gespreek, op die dag dat die Here die Amoriete aan die kinders van Israel oorgegee het, en voor die oë van Israel gesê: Son, staan stil in Gíbeon, en maan, in die dal van Ájalon! Toe staan die son stil en bly die maan staan totdat die volk hulle gewreek het op hul vyande. Staan dit nie geskrywe in die Boek van die Opregte nie? En die son het bly staan in die middel van die hemel en het hom nie gehaas om onder te gaan nie, omtrent 'n volle dag. JOSUA 10:12-13 AFR53
Soos voete wat op die dorsvloer trap, soo betree God die aarde om Israel se vyande te oorwin.
In grimmigheid betree U die aarde, in toorn dors U die nasies. HÁBAKUK 3:12 AFR53
God het vir Josua bevel gegee om die volk te neem en te trek na die land wat Hy aan hulle sou gee. Elke plek waar hul voetsool sou trap sou God aan hulle gee…… en so het dit gebeur!
My kneg Moses is dood; maak jou dan nou klaar, trek deur hierdie Jordaan, jy en hierdie hele volk, na die land wat Ek aan hulle, die kinders van Israel, sal gee. Elke plek waar julle voetsool op sal trap, dit gee Ek aan julle, soos Ek met Moses gespreek het. JOSUA 1:2-3 AFR53
14 Augustus 2024
HÁBAKUK 3:13 AFR53
U trek uit tot redding van u volk, tot redding van u Gesalfde. U verbrysel die kop van die huis van die goddelose en ontbloot die fondament tot by die nek. Sela.
God se Gesalfde is Jesus. Moses, Josua en Dawid, die gesalfde leiers van Israel was elkeen tipes of voorbeelde van die Messias. Israel se vyande is, en gaan nog, van kop tot tone met God se hulp, verower en verbrysel word.
Die goddelose word met sy eie swaad verslaan. Nie net konings is deur God se hand omvergewerp nie, maar Sy wraak het ook deur die vyand se dorpe gegaan. ’n Regverdige vergelding, aangesien die vyand die inwoners van Israel wou uitwis.
U deurboor met sy eie pyle die hoof van sy leiers wat storm om my te verstrooi; wie se gejuig is asof hulle die ellendige in die skuilhoek wil verslind. HÁBAKUK 3:14 AFR53
Geen struikelblok het God gestop om Sy volk te red nie, hetsy die Rooi See, die Jordaan of die figuurlike golwe van vyande wat teen Israel woed.
U betree die see met u perde, 'n hoop magtige waters. HÁBAKUK 3:15 AFR53
Habakuk sê dat toe hy in die begin van sy visioen gesien en gehoor het hoe God Juda gaan oordeel deur middel van die Chaldeërs, het hy van vrees gebewe. Al wat hy kon doen was om rustig te wag vir die oordeel wat hulle sou tref, want die oordeel sou verseker kom.
Toe ek dit hoor, het my ingewande gebewe; my lippe het getril by die geluid, bederf het gekom in my gebeente, ja, ek het gebewe waar ek staan, omdat ek rustig moes wag op die dag van benoudheid dat dit aanbreek vir die volk wat op ons 'n aanval maak. HÁBAKUK 3:16 AFR53
God is in beheer van beide die oordeel en die redding. Al lyk dit dus asof alles verkeerd gaan, die vyebome bloei nie, die wingerde dra geen vrugte, die olyfbome stel teleur, die saailande gee geen voedsel nie, die kleinvee verdwyn uit die kraal en daar is geen beeste in hul stalle nie……
Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie —. HÁBAKUK 3:17 AFR53
Al lyk dit of alles rondom hom inmekaar tuimel, niks werk meer nie ……. nogtans sal ek jubel in die Here, sal ek juig in die God van my heil.
nogtans sal ek jubel in die Here, ek sal juig in die God van my heil. HÁBAKUK 3:18 AFR53
Hoekom? Want hy het die uitkoms gesien – die volk se redding en die vyand se nederlaag. Hy weet dus dat God nie dié versaak wat hulle toevlug tot Hom neem nie. Trouens, dit gee hom krag in die hoop dat hy self deel van die verandering kan wees wat God sal bring.
Die Here Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente. HÁBAKUK 3:19 AFR53
As die wêreld vandag lyk asof als vergaan en as ons hulpeloos voel, moet ons weet dat ons ook die uitkoms gesien het. Openbaring leer vir ons dat God oorwin! Moet nie vrees nie, wag rustig en kyk hoe God Sy plan vir ons openbaar.
Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus! Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen. OPENBARING 22:20-21 AFR53
Comments