top of page

Openbaring 14

  • Regina Torre
  • Sep 13, 2020
  • 13 min read

Updated: Jan 29, 2023


13 September 2020


OPENBARING 14:1 AFR53

“En ek het gesien, en kyk, die Lam staan op die berg Sion, en saam met Hom honderd-vier-en-veertigduisend met sy Naam en die Naam van sy Vader op hulle voorhoofde geskrywe.


Ons is nog steeds in die middel van die Verdrukking en beweeg nou terug na die hemel waar Johannes vir ons verduidelik wat hy sien.


Die eerste wat hy sien is die Lam (Jesus) op die berg Sion. Die stad van God in die hemel, naamlik die hemelse stad Jerusalem, het ook ‘n berg Sion, en dit is wat Johannes sien.


“Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele,” HEBREËRS 12:22 AFR53


Johannes sien verder die 144,000 Joodse evangeliste, met die Naam van God op hul voorhoofde wat saam met Jesus staan op die berg Sion. Hulle is dus almal nou in die hemel, elkeen van hulle, nie een is agtergelaat nie.

14 September 2020


OPENBARING 14:2 AFR53

En ek het ‘n geluid uit die hemel gehoor soos die geluid van baie waters en soos die geluid van ‘n harde donderslag, en ek het die geluid gehoor van siterspelers wat speel op hulle siters.


Johannes sien nie net visioene nie, maar hy hoor ook geluide. Duidelik is die hemel nie ‘n stil en somber plek nie want Johannes hoor die musiek van siterspelers, die klank van ‘n harde donderslag en iets wat klink soos die geluid van baie waters.


Vorige verse in Openbaring het ons al voorgestel aan die geluide in die hemel.


“En ek het gesien toe die Lam een van die seëls oopmaak; en ek het een van die vier lewende wesens hoor sê, soos die geluid van ‘n donderslag: Kom kyk!” OPENBARING 6:1 AFR53


“En die engel het die wierookbak geneem en dit met vuur van die altaar volgemaak en dit op die aarde gegooi; en daar het stemme gekom en donderslae en weerligte en aardbewing.” OPENBARING 8:5 AFR53

15 September 2020


OPENBARING 14:3 AFR53

En hulle het ‘n nuwe lied gesing voor die troon en voor die vier lewende wesens en die ouderlinge; en niemand kon die lied leer nie, behalwe die honderd-vier-en-veertigduisend wat van die aarde vrygekoop is.


Ons het hier bevestiging dat ons na ‘n toneel in die hemel kyk want die 144,000 se toeskouers is die vier lewende wesens, die ouderlinge en hulle staan voor die troon van God.


Die evangeliste sing ‘n nuwe lied, ‘n lied wat net hulle kan sing want niemand kon die lied leer nie.


Die 144,000 is vrygekoop van die aarde wat beteken dat hulle nie meer op die aarde is nie, hulle is in die hemel en is vrygekoop deur die bloed van Jesus Christus.


In hoofstuk 5 het die vier en twintig ouderlinge ook ‘n nuwe lied gesing en Jesus geloof omdat Hy waardig is om die seëls oop te maak en aan die kruis gesterf het om hulle vry te koop met Sy bloed.


“Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie,” OPENBARING 5:9 AFR53

16 September 2020


OPENBARING 14:4 AFR53

Dit is hulle wat hulself met vroue nie besoedel het nie, want hulle is maagdelik rein; dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan; dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam.


Wat is die eienskappe van die 144,000 evangeliste. Hulle is maagdelik rein, want hulle het hulself nie met vroue besoedel nie, en hulle het die Lam (Jesus) oral gevolg.


Hulle is ook gekoop uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam. Hier het ons te doen met die begrip van eerste vrugte – die eerste vrugte van enige oes wat afgehaal word, word nie self geëet nie, maar aan God geoffer. Voorbeelde is: die eerste are van die koring oes, die eerste kalfie van ‘n koei wat gebore word en in die geval van die 144,000, die eerste volgelinge van Jesus in die Groot Verdrukking tydperk.

17 September 2020


OPENBARING 14:5 AFR53

En in hulle mond is daar geen bedrog gevind nie; want hulle is sonder gebrek voor die troon van God.


Die 144,000 het nie die leuen geglo wat Satan aan die wêreld verkondig het nie.


“En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo,” II THESSALONICENSE 2:11 AFR53


Hulle praat net die waarheid want in hul monde is geen bedrog gevind nie. Hulle is sonder fout of gebrek omdat hulle met die geregtigheid van Jesus geklee is.


“Ek is baie bly in die Here, my siel juig in my God; want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel — soos ‘n bruidegom wat priesterlik die hoofversiersel ombind, en soos ‘n bruid wat haar versier met haar juwele.” JESAJA 61:10 AFR53

18 September 2020


OPENBARING 14:6 AFR53

En ek het ‘n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met ‘n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke.


Johannes sien nou sewe engele elkeen met ‘n ander boodskap. Die eerste engel vlieg in die lug en verkondig die evangelie aan al die bewoners van die aarde. ‘n Pratende engel wat deur die lug vlieg moet tog ‘n uitwerking hé op die mense wat dit aanskou en hoor!


Die bewoners is weereens ALMAL op aarde want die vers sê duidelik: alle nasies en stamme en tale en volke. Die engel sal dus so praat dat almal hom kan hoor en verstaan.


Wat is die ewige evangelie? Kom ons luister na Jesus self se woorde –


“Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” JOHANNES 14:6 AFR53

19 September 2020


OPENBARING 14:7 AFR53

En hy het met ‘n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.


Die engel praat met ‘n groot stem en waarsku die mensdom dat die uur van God se oordeel gekom het, met ander woorde, die tyd loop uit om Jesus as Verlosser te aanvaar.


Voor Jesus opgevaar het na die hemel het hy ‘n taak aan Sy diddipels en ook aan elkeen van ons gegee. Die taak is om uit te gaan en disippels te maak van al die nasies.


“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” MATTHÉÜS 28:19 AFR53


Jesus het ook aan Sy dissipels gesê dat die evangelie eers aan die hele wêreld verkondig sal word voor die einde kom.


“En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” MATTHÉÜS 24:12-14 AFR53


Ons is nou hier naby die einde en dit wat die mens nie kon doen nie, dit doen die engel nou – verkondig vir oulaas die evangelie sodat almal ‘n kans kry om die Blye Boodskap te hoor.

20 September 2020


OPENBARING 14:8 AFR53

En ‘n ander engel het gevolg en gesê: Geval, geval het Babilon, die groot stad, omdat sy al die nasies laat drink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery.


Die tweede engel kondig aan dat die groot stad Babilon geval het – Satan se hoofkwartiere van die begin af. Hierdie is die eerste keer in Openbaring dat die stad Babilon genoem word en ons sal meer inligting kry in die volgende hoofstukke.


Profete het vele kere van Babilon, of Babel soos die Ou Testament daarna verwys het, se val geprofeteer.


“Vlug uit Babel uit, en red elkeen sy lewe; kom nie om in sy ongeregtigheid nie; want dit is die tyd van wraak vir die Here: Hy gee hom sy verdiende loon.” JEREMIA 51:6 AFR53


“So sal dan Babel, die sieraad van die koninkryke, die trotse pronkstuk van die Chaldeërs, wees soos toe God Sodom en Gomorra omgekeer het.” JESAJA 13:19 AFR53

21 September 2020


OPENBARING 14:9 AFR53

En ‘n derde engel het hulle gevolg en met ‘n groot stem gesê: As iemand die dier en sy beeld aanbid en ‘n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang,


Die derde engel verskyn nou op die toneel en praat ook met ‘n groot stem vir almal om te hoor. Die engel se boodskap verduidelik wat gaan gebeur as iemand die dier aanbid en ‘n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang.


Geen doekies word meer omgedraai nie, die engele wat nou praat kom met laaste en finale waarkuwings. Ai, hoe dom en onverskillig is diegene wat nie wil luister nie!

22 September 2020


OPENBARING 14:10 AFR53

sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam.


Die mense wat die dier aanbid en die merk ontvang sal drink van die wyn van die grimmigheid van God – met ander woorde, hulle sal God se wraak ontvang as straf vir hul hardnekkigheid. Die wyn word ongemeng in die beker van God se toorn ingeskink, met ander woorde die wyn word nie verdun met iets soos water nie, maar word volsterkte ingeskink – volsterkte wraak!


“Want in die hand van die Here is ‘n beker, en die wyn skuim; dit is oorvloedig gemeng, en Hy skink daaruit; ja, die afsaksel daarvan moet al die goddelose van die aarde opslurp, uitdrink.” PSALMS 75:9 AFR53


Elkeen wat God verwerp sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam.

23 September 2020


OPENBARING 14:11 AFR53

En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie — hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang.


Herhaling is veronderstel om dit wat die skrywer wil sê te beklemtoon. Die woorde wat hier herhaal word is: diegene wat die dier aanbid en sy merk ontvang sal gepynig word en geen rus he nie.


Die skrywer, Johannes, wil vir almal wat Jesus nog nie as Verlosser aanvaar het nie bombardeer met sy woorde van waarskuwing. Die pyniging van God se wraak sal vir ewig duur, hulle het dag en nag geen rus nie, net pyn, vir ewig en ewig …………….

24 September 2020


OPENBARING 14:12 AFR53

Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar.


Lydsaamheid word beter beskryf deur die woord volharding. Hier kom dus die volharding van die heiliges te pas. Die heiliges is die mense wat God se gebooie onderhou en hul geloof in Jesus bewaar.


Johannes self praat hier en hy vertel vir die heiliges om te volhard gedurende die drie en ‘n half jaar verdrukking wat nou gaan volg.

25 September 2020


OPENBARING 14:13 AFR53

En ek het ‘n stem uit die hemel aan my hoor sê: Skryf — salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle.


Johannes hoor ‘n stem (die vierde engel) uit die hemel wat vir hom hierdie woorde gee om aan die heiliges oor te dra. Salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Salig is die engelse woord ‘blessed’ of anders gestel geseënd. Dus, geseënd is die mense wat doodgemaak word omdat hulle in Jesus glo en nie die dier aanbid nie.


Ons het hier ‘n kontras tussen die wat die dier aanbid, en die wat vir hul geloof sterf. Die wat die dier aanbid ontvang God se wraak met vuur en swawel, en word in hul dood vir ewig en ewig gepynig dag en nag, maar die wat in die Here sterwe ontvang rus van hul arbeid en hul goeie werke volg hulle.


“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” MATTHÉÜS 11:28 AFR53

26 September 2020


OPENBARING 14:14 AFR53

En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n wit wolk en een soos ‘n Menseseun wat op die wolk sit, met ‘n goue kroon op sy hoof en in sy hand ‘n skerp sekel.


Johannes sien iemand wat op ‘n wolk sit, een soos ‘n Menseseun met ‘n goue kroon op sy hoof en ‘n skerp sekel in sy hand. Hierdie is nie Jesus nie want:

  1. die iemand is soos ‘n Menseseun en nie die Menseseun nie, en

  2. die kroon is in Grieks ‘stephanos’ dus nie die kroon van ‘n koning ‘diadem’ nie, maar die kroon wat jy bv. wen in ‘n wedstryd by die olimpiese spele.

Hierdie is die volgende engel, die vyfde engel wat Johannes sien.

27 September 2020


OPENBARING 14:15 AFR53

En ‘n ander engel het uit die tempel gekom en met ‘n groot stem geroep na Hom wat op die wolk sit: Slaan u sekel in en maai, want die uur het vir U gekom om te maai, omdat die oes van die aarde oorryp geword het.


‘n Stem uit tempel gee vir die vyfde engel wat op die wolk sit ‘n opdrag met ‘n groot stem. Die engel moet die sekel inslaan en maai want die oes van die aarde is oorryp.


Engele word gebruik om gelowiges (die oes) wat deur die Antichris onthoof word te versamel en na die hemel te vergesel. Ons sien in Lukas dat gelowiges (soos in die verhaal van die ryk man en Lasarus) deur engele na die hemel vergesel word wanneer hulle sterf.


“En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.” MATTHÉÜS 24:31 AFR53


“En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham.” LUKAS 16:22 AFR53

28 September 2020


OPENBARING 14:16 AFR53

En Hy wat op die wolk sit, het sy sekel oor die aarde laat gaan, en die aarde is afgemaai.


Die engel op die wolk se taak met sy sekel is om gelowiges wat gemartel is tot die dood toe te gaan haal. Hierdie is die graanoes en die mense wat in die tyd doodgemaak word is soos ons in Daniel sien, die gelowiges wat deur die Antichris wat in daardie tyd gaan heers, onthoof word.


Die elfde koning sal opstaan en verskillend wees van die tien voor hom. Hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel. Die gelowiges sal in sy hand oorgegee word gedurende ‘n tyd en tye en die helfte van tyd – dus die tweede drie en ‘n half jaar van die sewe jaar verdrukking.


“En die tien horings — uit daardie koninkryk sal tien konings opstaan, en ‘n ander een sal ná hulle opstaan, en hý sal verskillend wees van die voriges en drie konings neerwerp. En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ‘n tyd en tye en die helfte van ‘n tyd.” DANIËL 7:24-25 AFR53

29 September 2020


OPENBARING 14:17 AFR53

En ‘n ander engel het uitgekom uit die tempel wat in die hemel is, en hy het ook ‘n skerp sekel gehad;


Die sesde engel kom uit die tempel in die hemel, ook met ‘n sekel. Hierdie engel gaan sy sekel op ‘n ander groep mense gebruik. Die vyfde engel het sy sekel vir ‘n graanoes gebruik in verse 14 tot 16 en die graanoes het die gelowiges voorgestel.


Die volgende groep wat hier in verse 17 tot 20 beskryf word, is die ongelowiges, die wat die merk van die dier ontvang het, wat in die wynoes God se wraak gaan ontvang.

30 September 2020


OPENBARING 14:18 AFR53

en ‘n ander engel wat mag oor die vuur gehad het, het uit die altaar uitgekom en met ‘n groot stem geroep na hom wat die skerp sekel het, en gesê: Slaan jou skerp sekel in en samel die trosse van die wingerdstok van die aarde in, want sy druiwe het ryp geword.


Die sewende engel wat Johannes sien het mag oor vuur. Die engel kom ook uit die tempel in die hemel en roep ook met ‘n groot stem. Die sewende engel roep na die sesde engel wat die skerp sekel het en sê: slaan jou skerp sekel in en versamel die trosse van die wingerdstok want die druiwe is ryp.


Johannes sien vorentoe in tyd na die einde van die Verdrukking tydperk en die groep wat versamel word, word gekenmerk as druiwetrosse wat ryp geword het. Hierdie groep is die ongelowiges wat deur die engel ingesamel word.


Jesus het ons geleer wat gebeur aan die einde met die oestyd. Hier het Jesus die gelowiges met koring vergelyk en die ongelowiges met onkruid. Die onkruid gaan verbrand word – vandaar die engel wat gebruik word wat mag oor vuur het.


“Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur.” MATTHÉÜS 13:30 AFR53

1 Oktober 2020


OPENBARING 14:19 AFR53

En die engel het sy sekel oor die aarde laat gaan en die wingerdstok van die aarde afgeoes en dit gegooi in die groot parskuip van die grimmigheid van God.


Die sesde engel voer sy opdrag uit, hy laat sy sekel oor die aarde gaan en oes die wingerdstok heeltemal af. Wat gebeur met die wingerdstokke wat afgeoes is? Dit word als gegooi in die groot parskuip van die grimmigheid van God soos Jeremia geprofeteer het.


“Jy moet dan al hierdie woorde vir hulle profeteer en aan hulle sê: Die Here sal brul uit die hoogte en sy stem verhef uit sy heilige woning! Geweldig sal Hy brul oor sy woonplek; soos druiwetrappers sal Hy ‘n vreugdegeroep aanhef teen al die inwoners van die aarde.” JEREMIA 25:30 AFR53


Jesaja het ook geprofeteer oor die druiwe wat in die pers getrap word.


“Ek het die pers alleen getrap, en van die volke was niemand by My nie; en Ek het hulle getrap in my toorn en hulle vertrap in my grimmigheid, sodat hulle lewensap op my klere gespat en Ek my hele gewaad bevlek het.” JESAJA 63:3 AFR53

2 Oktober 2020


OPENBARING 14:20 AFR53

En die parskuip is buitekant die stad getrap, en bloed het uit die parskuip gekom tot aan die tooms van die perde, tweehonderd myl ver.”


Onthou dat Johannes hier die einde van die Verdrukking sien. Die ongelowiges word almal versamel na ‘n plek wat in Hebreeus genoem word Armageddon. Ons gaan meer inligting kry in hoofstuk 16.


“En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon.” OPENBARING 16:16 AFR53


Die slag van Armageddon gaan plaasvind in die dal van Josafat soos ons leer van die profesië van die profeet Joël. Dit gaan ‘n oorlog soos geen ander wees nie, want die vers van Openbaring sê dat die bloed sal kom tot by die tooms van die perde vir 200 myl of 321 km vêr.


“Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle ‘n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het.” JOËL 3:1-2 AFR53


“Die nasies moet hulle klaarmaak en optrek na die dal van Jósafat; want daar sal Ek sit om gerig te hou oor al die nasies rondom. Steek die sekel in, want die oes is ryp! Kom trap, want die parskuip is vol, die kuipe loop oor! Want hulle boosheid is groot. Menigtes, menigtes in die dal van beslissing, want naby is die dag van die Here in die dal van beslissing!” JOËL 3:12-14 AFR53

Comments


  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page