top of page

Jesaja – Hoofstuk 13 tot 23 vervolg

  • Jan 1, 2023
  • 22 min read

Updated: Jan 24, 2023

1 Januarie 2023

Voorspoedige nuwe jaar 🎉 vir ieder en elk. Ons gaan nou voort om die profeet Jesaja se lewe en profesieë te bestudeer 📜.

JESAJA 20:1 AFR53
“In die jaar toe die tartan na Asdod gekom het, toe Sargon, die koning van Assirië, hom gestuur het, en hy teen Asdod geveg en dit ingeneem het;”
 
Hierdie vers weerspieël 'n hooftema in Jesaja: die dwaasheid van Israel om op ander nasies te vertrou om te help in tye van nood, i.p.v. om op God alleen te vertrou!

Jesaja dateer sy profesie in die jaar toe Assirië teen die stad Asdod geveg en dit ingeneem het.

Asdod was een van die vyf stede van die Filistyne wat aan die stam van Juda toegewys is, maar nooit deur hulle verower is nie. 

Die Assiriërs, onder leiding van Sanherib (die seun van Sargon II), het Juda binnegeval in die veertiende jaar van Hiskia se regering in 701 v.C.  Die Assiriërs het teen al die versterkte stede van Juda opgetrek en hulle ingeneem.  

“Maar in die veertiende jaar van koning Hiskía het Sánherib, die koning van Assirië, opgetrek teen al die versterkte stede van Juda en dit verower.”   II KONINGS 18:13 AFR53
 
Tartan was die titel van een van die drie hoofoffisiere in die Assiriese Ryk, en ons sien die benaming in die boek 2 Konings in koning Hiskia se tyd.

“Toe stuur die koning van Assirië die tartan en die rábsaris en die rábsake uit Lagis met 'n swaar leër na koning Hiskía na Jerusalem toe; en hulle het opgetrek en by Jerusalem gekom. En toe hulle optrek en aankom, het hulle gaan staan by die watervoor van die Boonste Dam wat aan die grootpad van die Bleikveld lê.”   II KONINGS 18:17 AFR53

Die haarmantel is algemeen gedra gedurende ‘n routydperk, maar daar is rede om te glo dat die haarmantel die algemene kleredrag van profete was. Die profeet Elia was ook gekenmerk aan sy harige mantel.

“Daarop sê hy vir hulle: Hoe was die voorkoms van die man wat opgekom het julle tegemoet en hierdie woorde met julle gespreek het? En hulle antwoord hom: 'n Man met 'n harige mantel en omgord met 'n leergord om sy heupe. Toe sê hy: Dit is Elía, die Tisbiet!”   II KONINGS 1:7-8 AFR53

Nou word Jesaja deur God beveel om sy haarmantel en skoene uit te trek om sodoende ‘kaal’ en kaalvoet te loop. Jesaja moes dus van sy bokleed of ‘kantoordrag’ ontslae raak om sodoende ‘n profesie nie net verbaal te lewer nie, maar ook visueel uit te beeld.

“in dié tyd het die Here deur die diens van Jesaja, die seun van Amos, gespreek en gesê: Gaan gord die haarmantel van jou heupe af los, en trek jou skoene van jou voete af. Hy het toe so gedoen en naak en kaalvoet geloop.”   JESAJA 20:2 AFR53 
2 Januarie 2023

JESAJA 20:3 AFR53
“Daarop het die Here gesê: Soos my kneg Jesaja naak en kaalvoet geloop het, drie jaar lank, as teken en sinnebeeld met betrekking tot Egipte en Kus,”

Net soos Jesaja van sy spesiale kleed as profeet gestroop is, so sal die Egiptenaars en Ethiopiërs (Kus) gestroop word van alles wat hulle waardeer, en gevange geneem word deur die Assiriërs.

Vir enige persoon wat graag ‘n profeet wil wees, kyk eers wat profete moet deurmaak. Jesaja moes drie jaar lank naak en kaalvoet loop om die profesie uit te beeld. 

Die Egiptenaars en die Ethiopiërs was deur Assirië in ballingskap weggelei, beskaamd en naak.

“so sal die koning van Assirië die gevangenes van Egipte en die ballinge van Kus wegdrywe, jonk en oud, naak en kaalvoet en ontbloot aan die agterdele — 'n smaad vir Egipte.”   JESAJA 20:4 AFR53

Jesaja wat naak (of byna naak) geprofeteer het, het duidelik geïllustreer dat Egipte nie die bron van enigiemand se verlossing sou wees nie. Dit het gedien as 'n herinnering aan Israel dat hulle op God moes vertrou. 

Dit was ook 'n teken vir Egipte dat hulle trotse afgodediens geoordeel sou word en hulle sou skaam wees. Egipte se oordeel het in 701 v.C. gekom toe hulle deur Assirië aangeval en oorwin is. 

“En hulle sal verslae wees en beskaamd staan vanweë Kus, hulle toeverlaat, en vanweë Egipte, hulle trots.”   JESAJA 20:5 AFR53

Dit alles was so bedoel om Juda hul dwaasheid te wys om op die hulp van 'n ander nasie te vertrou, en om hulle te lei om eerder hul vertroue in die God van hulle vaders te stel.

“En die inwoners van hierdie kusland sal in dié dag sê: Kyk, só gaan dit met ons toeverlaat waarheen ons gevlug het om hulp, om gered te word van die koning van Assirië — hoe sal óns dan ontvlug?”   JESAJA 20:6 AFR53
 
3 Januarie 2023

JESAJA 21:1 AFR53
“Godspraak oor die woestyn van die see. Soos stormwinde in die Suidland deurtrek, kom dit uit die woestyn, uit 'n vreeslike land!”

Die woestyn van die see verwys na Babilon wat die onderwerp van hierdie profesie is. Die Afr 83 vertaling gee ‘n makliker bewoording en sê dit is ‘n uitspraak van die Here is teen Babel, en die stad se vernietiging word vergelyk met ‘n woestynwind.

“'n Uitspraak van die Here teen Babel: Soos warrelwinde deur die Suidland trek, so kom daar iemand uit die woestyn, uit die land waarvoor almal bang is.”   JESAJA 21:1 AFR83

Die gesig wat Jesaja gesien het, was een wat groot rampspoed aandui. Babilon wat die plunderaar en vewoester was gaan self nou geplunder en verwoes word. Interessant dat Babilon in Jesaja se tyd nog nie ‘n magtige ryk was nie, dit was nog als in die toekoms. Elam is die antieke naam vir Persië. Hier het ons die Meders en die Perse wat moet veg en oorlog maak teen Babilon, sodat die onderdrukking van God se volk tot ‘n einde kan kom.

“'n Harde gesig is my te kenne gegee: Die ontroue handel troueloos, en die verwoester verwoes. Trek op, Elam! Beleër, Medië! Aan alle gesug maak Ek 'n einde.”   JESAJA 21:2 AFR53

Jesaja sien nou in sy verre toekoms (ongeveer 200 jaar in die toekoms) en wel in Daniel se tyd. Daniel was ‘n ou man toe hy geroep is om die skrif aan die muur vir koning Belsasar te verduidelik. 

“Op dieselfde oomblik het daar vingers van 'n mens se hand te voorskyn gekom en teenoor die kandelaar op die kalk van die muur van die koninklike paleis geskrywe, en die koning het die deel van die hand gesien wat geskrywe het.”   DANIËL 5:5 AFR53

Jesaja is nou in die eerste persoon en beleef die vrees van die mense in die paleis. Sy heupe sidder soos ‘n vrou wat wil kraam en hy buig krom van skrik sodat hy nie hoor of sien nie. ‘n Angs oorval hom en hy is verskrik.

“Daarom is my heupe vol siddering, weë het my aangegryp soos die weë van een wat baar; ek buig my krom, sodat ek nie hoor nie; ek is verskrik, sodat ek nie sien nie. My hart duisel, angs oorval my; dit maak vir my die skemeraand wat ek liefhet, tot 'n verskrikking.”   JESAJA 21:3-4 AFR53

As ons in Daniel lees hoe verskrik koning Belsasar was, dan verstaan ons Jesaja se profesie soveel beter.

“Toe het die gelaatskleur van die koning verander, en sy gedagtes het hom verskrik, en die gewrigte van sy heupe het losgeraak, en sy knieë het teen mekaar geslaan.”   DANIËL 5:6 AFR53
 
4 Januarie 2023

JESAJA 21:5 AFR53
“Hulle maak die tafel gereed, hulle sprei die tapyt, hulle eet, drink... Staan op, o vorste, salf die skild!”
 
Die skrif is aan die muur! Ons ken almal hierdie gesegde wat verwys na die laaste feesmaal wat koning Belsasar gehou het. Jesaja gaan nou voort om te profeteer oor hierdie geleentheid toe die Mede en Perse die stad Babilon oorgeneem het. Baie van die profesië wat ons lees handel oor geskiedkundige gebeure waarvan ons min of niks weet nie, maar hierdie verhaal het ons almal een of ander tyd gelees.

Ons leer nou wat die Babeloniërs gedoen het terwyl hul vyande besig was met planne om hul in te val. Hulle het gereed gemaak om fees te vier. Dek die tafel, gooi die rooi tapyt uit vir die eregaste, en dan eet en drink ons want die koning vier fees. Die vers eindig met ‘n waarskuwing waarop niemand ag gegee het nie. Berei julself voor vir die komende geveg. 

Jesaja plaas homself in Babilon. Hy hoor hoe God hom beveel om 'n wag op die wagtoring te plaas wat sou waarsku sodra iets gebeur.  

“Want so het die Here vir my gesê: Gaan heen, sit 'n wag uit; laat hom te kenne gee wat hy sien;”   JESAJA 21:6 AFR53

Die wag op die wagtoring moet skerp luister en kyk vir ruiters wat in pare sal aankom. Een met ‘n stoet esels en een met ‘n stoet kamele. Hierdie is ‘n verwysing na die twee magte wat Babilon gaan inval, die Meders (kamele) en die Perse (esels).

“en sien hy 'n stoet ruiters, twee aan twee, 'n stoet esels, 'n stoet kamele, dan moet hy skerp luister, so skerp as hy kan.”   JESAJA 21:7 AFR53

Die wag praat met Jesaja en sê hy (die leier van die aankomende magte) roep uit soos ‘n leeu. Die leier kan koning Kores wees wat deur God gebruik gaan word om Sy volk te help. 

“En hy het geroep soos 'n leeu. Op die wagtoring, Here, staan ek gedurig by dag, en op my wagpos stel ek my al die nagte.”   JESAJA 21:8 AFR53

Die wag praat nou in sy huidige tyd en kondig aan dat die ruiters gearriveer het en Babilon het geval. 

“En kyk, daar kom 'n stoet manne, ruiters twee aan twee. Toe het hy aangehef en gesê: Geval, geval het Babel, en hulle het al die gesnede beelde van sy gode verbrysel teen die grond.”   JESAJA 21:9 AFR53

Hierdie is ‘n uitbeelding van wat in nog ons toekoms gaan gebeur wanneer Babilon finaal sal val.

“En hy het met 'n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword 'n woonplek van duiwels en 'n versamelplek van allerhande onreine geeste en 'n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls,”   OPENBARING 18:2 AFR53

Jesaja vertel vir die volk wat hy gesien het gaan gebeur.

“o My vertrapte en gedorste volk, wat ek gehoor het van die Here van die leërskare, die God van Israel, het ek julle bekend gemaak.”   JESAJA 21:10 AFR53
 
5 Januarie 2023

JESAJA 21:11 AFR53
“Godspraak oor Duma. Daar roep een my toe van Seïr af: Wagter, hoe ver is dit in die nag? Wagter, hoe ver in die nag?”
 
Hierdie kort profesie is ‘n uitspraak deur God teen Duma, die antieke naam vir die koninkryk van Edom in die bergreeks Seïr.

Die Edomiete is afstammelinge van Esau, die broer van Jakob. Die Edomiete het gevestig in die land suidoos van Israel.

“En Esau het gaan woon in die gebergte Seïr. Esau, dit is Edom. Dit is dan die geskiedenis van Esau, die vader van die Edomiete, in die gebergte Seïr.”   GÉNESIS 36:8-9 AFR53

Die Edomiete was ook onder die Babiloniese juk en baie gretig om te weet hoe lank hul ballingskap nog sou duur. Daarom die vraag wat twee maal gevra word: Hoe ver is dit in die nag?

Die wagter antwoord en sê dat die môre kom, so daar sal wel tydperke van verligting wees. Maar, dan kom ook die nag, so hul swaarkry sal nie verby gaan nie. Die wagter sê hulle kan terugkom en weer vra, maar die antwoord sal altyd dieselfde bly.

“Die wagter sê: Die môre kom, en ook die nag. Wil julle vra, vra; keer terug, kom.”   JESAJA 21:12 AFR53

Wat was die misdaad van die Edomiete dat hulle straf vir altyd sou voortduur? Esegiel gee meer inligting in sy profesie teen Edom. Omdat hulle ewig vyandskap koester met die kinders van Israel, en teen hul gedraai het in hul tyd van nood!

“Verder het die woord van die Here tot my gekom en gesê: Mensekind, rig jou aangesig teen die berg Seïr en profeteer teen hom. En sê vir hom: So spreek die Here Here: Kyk, Ek het dit teen jou, o berg Seïr! En Ek sal my hand teen jou uitstrek en jou 'n wildernis en 'n woesteny maak. Ek sal jou stede 'n puinhoop maak, en jy self sal 'n wildernis word; en jy sal weet dat Ek die Here is. Omdat jy 'n ewige vyandskap koester en die kinders van Israel in die mag van die swaard oorgelewer het in die tyd van hulle onheil, in die tyd van uiteindelike afrekening,”   ESÉGIËL 35:1-5 AFR53

Die stryd tussen Jakob en Essau het hul nageslagte al meer as 1 000 jaar geraak. Hierdie verdeeldheid het veroorsaak dat die Edomiete Israel verbied het om deur hul land te trek tydens die Israeliete se uittog uit Egipte. Edom se trots vereis nou 'n sterk woord van oordeel van die Here soos deur die profeet Obadja geprofeteer.

“Weens die geweld teen jou broer Jakob gepleeg, sal skande jou bedek, en jy sal uitgeroei word vir ewig.”   OBÁDJA 1:10 AFR53
 
6 Januarie 2023

JESAJA 21:13 AFR53
“Godspraak teen Arabië. In die bos in Arabië moet julle vernag, karavane van die Dedaniete!”

Hierdie profesie is ‘n uitspraak teen Arabië wat ‘n streek was wat uit verskeie stamme bestaan het. Die profesie is ‘n uitspraak teen die stamme van Dedan, Tema en Kedar.

Die reiskaravane van die Dedaniete wat gewoond was om deur Arabië te trek en daar veilig te oornag moet nou ander planne maak. 

Die Arabiere gaan deur 'n vyand oorval word en die Dedaniete sal verplig wees om blyplek in die ontoeganklike ruigtes van die woude te soek.

Die inwoners van Tema toon gasvryheid deur water en brood vir die vlugtelinge te gee.

“Bring vir die dorstige water tegemoet! Die inwoners van die land Tema het die vlugteling met brood teëgekom.”   JESAJA 21:14 AFR53

Die inwoners van Arabië vlug vir die vyand wat hulle met swaard en boog aanval.

“Want hulle het gevlug vir swaarde, vir die swaard wat uitgetrek en vir die boog wat gespan is, en vir die druk van die oorlog.”   JESAJA 21:15 AFR53

Die naam Kedar word soms gebruik om Arabië in die algemeen aan te dui, of die Arabië-woestyne in die besonder. Die profesie sou vervul word binne ‘n jaar nadat Jesaja dit uitgespreek het. 

“Want so het die Here vir my gesê: Binne 'n jaar — soos die jare van 'n dagloner — sal al die heerlikheid van Kedar verdwyn.”   JESAJA 21:16 AFR53
 
Die historiese gebeurtenis waarna hier verwys word is onbekend, maar is moontlik die Assiriërs wat Arabië ingeval het toe hulle teen Juda opgetrek het. Wat wel duidelik is, is dat die Arabiere die geveg verloor het, en min van hul manskappe het oorleef.

“En wat oorbly van die getal boë van die Kedareense helde, sal min wees; want die Here, die God van Israel, het dit gespreek.”   JESAJA 21:17 AFR53
 
7 Januarie 2023

JESAJA 22:1 AFR53
“Godspraak oor die dal van die gesig. Wat is dit dan met jou dat jy, jou hele bevolking, op die dakke geklim het,”
 
Jesaja se volgende uitspraak is teen Jerusalem, wat hier genoem word die dal van die gesig.

Jerusalem is 'n stad op 'n heuwel, omring deur 'n nog hoër heuwel, en in die middel van drie valleie, daarom die woord dal. Dal van die gesig dui op die visioene wat die profete van Jerusalem sien.

Dit is vreemd om 'n profesie teen Juda en Jerusalem te vind in 'n gedeelte wat eintlik die nasies oordeel. Maar omdat Juda verkies het om soos haar bure op te tree en die Here te verlaat, het sy verdien om geoordeel te word.

Wat maak die mense op hul huise se dakke? Dit was nie ongewoon vir die mense om op hul dakke te kuier nie, maar in die geval het almal so bymekaar gekom om die ramp te aanskou.

Die woorde impliseer lafhartigheid. Die wat gesneuwel het, het nie moedig gesterf in ‘n geveg nie, maar deur die pes wat in die oorvol strate van 'n beleërde stad voorgekom het.

“rumoerige, woelige stad, uitgelate vesting? Die wat in jou verslaan is, is nie deur die swaard verslaan en het nie in die oorlog gesterwe nie.”   JESAJA 22:2 AFR53

Die tartende aanklag van lafhartigheid word verder gevoer. Die heersers was ook lafhartig, en is sonder 'n stryd gevange geneem, sonder enige verdedeging. 

“Al jou owerstes het almal saam gevlug, sonder boog is hulle gebind; almal wat in jou gegryp is, is almal saam gebind; hulle het ver weggevlug.”   JESAJA 22:3 AFR53

Jesaja se toon is dié van iemand wat alleen met sy hartseer wil wees. Hy weier om vertroos te word.

“Daarom sê ek: Kyk weg van my af, dat ek bitterlik kan ween; dring nie aan om my te troos oor die verwoesting van die dogter van my volk nie;”   JESAJA 22:4 AFR53

Hy betreur die vernietiging van die dogter van sy volk baie dieselfde as Jeremia oor 'n latere ramp. 

“My oog loop af in waterstrome oor die verbreking van die dogter van my volk.”   KLAAGLIEDERE 3:48 AFR53
 
8 Januarie 2023

JESAJA 22:5 AFR53
“want dit is 'n dag van rumoer en vertrapping en verwarring deur die Here, die Here van die leërskare, in die dal van die gesig — omgooi van mure en geskreeu na die gebergte toe!”
 
Jesaja sien 'n weermag wat kom, en die Here bring geen verlossing nie.

Die vorige verse skilder die geestelike emosies van die komende dag van oordeel. Nou word Jerusalem se mure omgegooi en die paniekbevange inwoners skreeu op na die berge. Net soos ons in die Psalms lees.

“'n Bedevaartslied. Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom?”   PSALMS 121:1 AFR53

Jesaja het 'n leër vol pyle en strydwaens teen Jerusalem sien aankom. Hy het die aanval en omverwerping van Jerusalem deur die Babiloniërs geprofeteer. 

Elam en Kir was Babilon se bure in die ooste, en het die Babiloniërs en die Chaldeërs sterk ondersteun in die stryd teen Assirië. Daarom was hulle waarskynlik bondgenote van die Babiloniërs.

“En Elam het die pylkoker geneem, met waens, manskappe, ruiters; en Kir het die skild ontbloot. Dan word jou beste dale met strydwaens gevul, en die ruiters staan gereed in die rigting van die poort;”   JESAJA 22:6-7 AFR53

Die huis van die bos of woud is binne die stad gebou, en waarskynlik so genoem omdat dit met sederhout uit Libanon gebou is.

“en die beskutting van Juda word weggeneem. En in dié dag kyk jy na die wapens in die Huis van die Bos,”   JESAJA 22:8 AFR53

Salomo het groot hoeveelhede oorlogswapens daar gebêre.

“En koning Salomo het tweehonderd groot skilde van geslae goud gemaak; seshonderd sikkels goud het hy op elke groot skild gebruik; en driehonderd klein skilde van geslae goud; drie mines goud het hy op elke klein skild gebruik, en die koning het dit in die huis van die Líbanon-bos gesit.”   I KONINGS 10:16-17 AFR53

Toe Jerusalem voor hierdie aanval te staan ​​gekom het, het hulle die stad voorberei vir die geveg, die muur van die stad versterk en seker gemaak dat daar genoeg water was.  

“en julle sien die skeure van die stad van Dawid, dat hulle baie is, en julle vang die waters van die Onderste Dam op. En julle tel die huise van Jerusalem, en die huise breek julle af om die muur te versterk.”   JESAJA 22:9-10 AFR53
 
9 Januarie 2023

JESAJA 22:11 AFR53
“En julle maak 'n dam tussen die twee mure vir die water van die Ou Dam; maar julle kyk nie na Hom wat dit gedoen het nie, en Hom wat dit lankal beskik het, sien julle nie.”
 
Jerusalem werk sonder ophou om hul stad fisies te beskerm, maar al hul harde werk kom tot niks. Al hul werk om Jerusalem te verdedig sou nie saak maak nie, want God het Sy beskerming van Juda verwyder.  

In plaas van al hul bouprojekte sou dit beter wees vir die mense van Juda om vir hul beskerming hul afgode weg te gooi en na God terug te keer. Maar, dis heellaas nie wat hulle sou doen nie.

God verwag van Sy mense om nou in berou van hul sondes te huil en te treur, om hul koppe kaal te skeer en rouklere aan te trek.

“En in dié dag roep die Here, die Here van die leërskare, tot geween en tot rouklag en tot kaalskering en tot omgording van die roukleed;”   JESAJA 22:12 AFR53

Maar, die mense weet beter……..  in plaas daarvan om die Here nederig te soek, het die mense van Jerusalem eerder ‘n fatalistiese uitkyk - laat ons eet en drink, want môre sterf ons. Hulle het dus besluit om met vreugde en vrolikheid, beeste en skape te slag, en te eet en wyn te drink.

“maar kyk, daar is vreugde en vrolikheid, beeste word doodgemaak en skape geslag, vleis geëet en wyn gedrink, met die woorde: Laat ons eet en drink, want môre sterf ons.”   JESAJA 22:13 AFR53

Vir hierdie ongeregtigheid sal daar tot die dag van hul dood, geen vergewing wees nie.

Wat is hierdie sonde waarvoor daar nie vergifnis is nie?  Dit is die sonde om God te ignoreer, om te weier om jouself voor die Here te verootmoedig en te bekeer. Jerusalem het alles gedoen behalwe die noodsaaklike ding wat hulle moes doen om voor te berei vir die aanval, en omdat hulle die Here verwerp het, sou daar geen versoening vir hulle wees nie.

“Maar die Here van die leërskare het Hom in my ore geopenbaar en gesê: Waarlik, hierdie ongeregtigheid word vir julle nie versoen totdat julle sterwe nie! sê die Here, die Here van die leërskare.”   JESAJA 22:14 AFR53
 
10 Januarie 2023

JESAJA 22:15 AFR53
“So sê die Here, die Here van die leërskare: Kom, gaan in by daardie bestuurder, by Sebna, wat oor die paleis aangestel is, en sê:”
 
Sebna was 'n dienaar van koning Hiskia, beide 'n rentmeester oor die huis en 'n skrifgeleerde, maar hy het sy ampte gebruik om homself te verheerlik.

“En hulle het na die koning geroep. Daarop gaan Éljakim, die seun van Hilkía, wat oor die paleis was, en Sebna, die skrywer, en Joa, die seun van Asaf, die kanselier, uit na hulle toe.”   II KONINGS 18:18 AFR53

Die Here het met Sebna, die trotse man, gepraat en in wese gesê: Wie dink jy is jy? Wat dink jy het jy? Jy is regtig niks en jy het niks. Sebna het vir homself 'n spoggerige en gesogte graf laat maak om sy mag en rykdom ten toon te stel. Hierin het Sebna die hele Jerusalem verteenwoordig met sy obsessiewe eiebelang.  

“Wat het jy hier, en wie het jy hier, dat jy vir jou hier 'n graf uitgekap het soos een wat in die hoogte sy graf uitkap, wat in die rots vir hom 'n woning uithol?”   JESAJA 22:16 AFR53

Sebna het eer gesoek, maar sou dit nooit vind nie. In plaas daarvan sou die Here seker maak dat hy nooit eers in sy gesogte duur graf begrawe word nie, maar eerder in ballingskap sou sterf. 

“Kyk, die Here sal jou wegslinger, soos 'n man iets wegslinger, en jou vas inmekaar rol, jou vas inmekaar draai soos 'n tol garing, jou soos 'n bal wegslinger na 'n land wat alkante toe wyd is; daar sal jy sterwe, en daar sal jou pronkwaens wees, o skandvlek van die huis van jou heer! En Ek sal jou wegstoot uit jou pos, en uit jou plek sal Hy jou wegruk.”   JESAJA 22:17-19 AFR53

Sebna is dieselfde soort man waaroor Jesus gepraat het in Lukas, in die gelykenis van die ryk dwaas. Daardie man het sy tyd en geld spandeer om groot dinge te bou, maar op die ou end het hy sonder God gesterf, en dit het alles tot niks gekom.  

“Toe vertel Hy hulle hierdie gelykenis: 'n Ryk man se grond het goed gedra. En hy het by homself geredeneer en gesê: Wat sal ek doen, want ek het geen plek waar ek my oes kan insamel nie? Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel. En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik. Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s'n sal dit wees? So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.”   LUKAS 12:16-21 AFR53
 
11 Januarie 2023

Jesaja 22:20-21 AFR53
“En in dié dag sal Ek my kneg Éljakim, die seun van Hilkía, roep; en Ek sal hom jou gewaad aantrek en hom gord met jou gordel, en jou mag sal Ek in sy hand lê, en hy sal vir die inwoners van Jerusalem en vir die huis van Juda 'n vader wees.”
 
Wat 'n wonderlike titel het Eliakim, om ‘n kneg van God genoem te word. Beide Sebna en Eljakim was dienaars van koning Hiskia. Sebna se hart was gerig op selfsugtige ambisie en heerlikheid, maar Eljakim se hart was gerig op die Here.
Die Here sou die amp en gesag van die ontroue Sebna neem en dit aan Eljakim gee. God sal Sy werk gedoen kry!  As 'n Sebna ontrou is, sal die Here hom uit sy amp verwyder, hom van sy gesag ontneem en dit aan 'n ander gee.

As ‘n dienaar van God, word groot gesag aan Eljakim gegee. In daardie dag het die hoof koninklike rentmeester die groot hoofsleutel van die paleis aan die skouer van sy tuniek laat vasmaak. Die sleutel was 'n prentjie en demonstrasie van die gesag van die hoofrentmeester.  Hier gee die Here aan Eliakim die gesag om oop te maak en te sluit as die Here se verteenwoordiger, wat geen mens kan teëstaan ​​nie.  

“En Ek sal die sleutel van die huis van Dawid op sy skouer lê; en hy sal oopmaak, en niemand sal sluit nie; en hy sal sluit, en niemand sal oopmaak nie.”   JESAJA 22:22 AFR53

Jesus gebruik Jesaja se woorde van hierdie vers om Homself voor te stel as die Heilige en Ware God in Openbaring 3. Die gedeelte is ‘n profesie van die Millenium wanneer koning Dawid onder Jesus gaan regeer. Jesus self het die sleutel van Dawid wat toon dat Jesus die hoogste gesag het.

“En skryf aan die engel van die gemeente in Filadelfía: Dít sê die Heilige, die Waaragtige, wat die sleutel van Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie, en Hy sluit en niemand maak oop nie:”   OPENBARING 3:7 AFR53

Omdat die Here Eljakim se gesag gevestig het, was dit veilig, soos ‘n tentpen wat sekuur in die grong ingeslaan word. Sebna het eer vir homself gesoek, maar sou skaamte vind. Eljakim was die Here se dienaar en sou 'n heerlike troon vir sy vader se huis word.

“En Ek sal hom inslaan soos 'n pen in 'n vaste plek, en hy sal 'n eretroon wees vir die huis van sy vader.”   JESAJA 22:23 AFR53

Die godvresende Eljakim was ’n veilige pen en kon sy vader se huis en sy nageslag geestelik ondersteun.  Aangesien Eljakim 'n prentjie van Jesus is, sien ons ook hierin die gelowige se totale afhanklikheid van Jesus.

“En hulle sal aan hom ophang die hele swaarte van die huis van sy vader, die spruite en die wilde lote, al die klein huisraad, van komme af tot allerhande kruike toe.”   JESAJA 22:24 AFR53

As Eljakim nog bevorder moes word tot die plek van eer en verantwoordelikheid wat deur die pen voorgestel word, dan is Sebna die pen wat hier padgee. Toe Sebna verwyder is, is almal wat aan hom ‘gehang’ het, ook afgesny. Ons moet seker maak dat ons op die regte ‘pen’ rus.

“In dié dag, spreek die Here van die leërskare, sal die pen padgee wat in 'n vaste plek ingeslaan is: dit word afgebreek en val, en die drag goed wat daaraan hang, raak tot niet, want die Here het dit gespreek.”   JESAJA 22:25 AFR53
 
12 Januarie 2023

Jesaja 23:1 AFR53
“Godspraak oor Tirus. Huil, skepe van Tarsis! want dit is verwoes, sodat daar geen huis, geen terugkeer meer is nie. Uit die land van die Kittiërs het dit aan hulle openbaar geword.”

Die laaste uitspraak in hierdie gedeelte is oor Tirus wat rampspoedig vernietig sal word, eers deur Nebukadnesar, en daarna deur Alexander die Grote. Die verwoestig sal tot gevolg he dat daar geen huise is om na toe terug te keer nie.

Tirus (Sur in hedendaagse Lebanon) en Sidon (Saida vandag) was almal groot hawestede in Fenisië, die westelike kusstrook van Israel. Skepe van Tarsis en oral oor het na Tirus gekom om handel te dryf.

Tarsis was waarskynlik ’n stad in Spanje waarheen handelsware uitgevoer is. Dit is ook die stad waarheen Jona oppad was toe hy in Joppe aanboord die skip gegaan het. Tarsis is nie dieselfde stad as Tarsus, die geboortestad van Saulus nie.  

Nie net Tarsis nie, maar ook die mense uit die land van die Kittiërs (Siprus vandag) het gehoor dat Tirus vernietig is. 

“Staan verstom, inwoners van die kusland! Die koopmans van Sidon wat oor die see vaar, het jou vroeër gevul.”   JESAJA 23:2 AFR53 

Die oeste van die Sigor, ‘n dorp aan die Nyl rivier, het groot winste ingebring vir Tirus.

“En op groot waters is die saad van Sigor, die oes van die Nyl, in hom ingebring; en so het hy 'n handelswins vir die nasies geword.”   JESAJA 23:3 AFR53

Tirus het vroeër aan Sidon behoort, en daarom moet hul nou beskaamd staan omdat Tirus vernietig is en nie meer op hul handelsroetes sal vaar nie.

“Staan beskaamd, Sidon, want die see, die vesting van die see, spreek en sê: Ek het geen weë gehad en nie gebaar nie, en ek het geen jongmanne grootgemaak of jongedogters opgevoed nie.”   JESAJA 23:4 AFR53

Die nuus van Tirus se vernietiging sou ontsteltenis in Egipte veroorsaak, deels omdat die uitvoerhandel van hul koring daarvan afhanklik was, en deels omdat dit as 'n soort buitepos gedien het teen die Assiriërs. 

“As die tyding na Egipte kom, beef hulle daar van angs by die tyding aangaande Tirus. Vaar na Tarsis oor, huil, inwoners van die kusland!”   JESAJA 23:5-6 AFR53
 
13 Januarie 2023

Jesaja 23:7 AFR53
“Is dít julle uitgelate stad wat in die dae van die voortyd sy oorsprong het, wie se voete hom ver weggedra het om in vreemde lande te vertoef?”

Tirus is reeds in Jesaja se tyd ‘n ou stad. Die eerste melding van die stad vind ons in Joshua met die grond wat verdeel word onder die Joodse stamme.

“dan draai die lyn na Rama en tot by die vesting Tirus; dan draai die lyn na Hosa en loop dood by die see, van die landstreek af wat na Agsib toe lê;”   JOSUA 19:29 AFR53

Wie het besluit dat Tirus, wat so oud en manjifiek is, vernietig moet word? Wie deel die krone uit, m.a.w. wie besluit wie oor ‘n land regeer!

“Wie het dit besluit oor Tirus, die uitdeler van krone, wie se koopmans vorste, wie se handelaars die edeles van die aarde was?”   JESAJA 23:8 AFR53

Die antwoord word nie weggesteek nie, dit word vir ons gegee: Die Here van die leërskare het dit besluit want Hy is in beheer! Die lande se probleem is hul trots en hoogmoed.

“Die Here van die leërskare het dit besluit, om te ontheilig al die pralende trots, om die edeles van die aarde in veragting te bring.”   JESAJA 23:9 AFR53

Die inwoners van Tirus (dogters van Tarsis) moet hul grond bewerk soos dit by die Nyl gedoen word want hulle het nie meer ‘n hawe om mee handel te dryf nie.

“Stroom oor jou land soos die Nyl, dogter van Tarsis! Daar is geen gordel meer wat hinder nie.”   JESAJA 23:10 AFR53

God skud die koninkryke en straf al die stede van die omgewing. Die inwoners se tyd van feesvier is verby, hulle moet klaarmaak om te vlug na die Kittiërs.

“Hy het sy hand uitgestrek oor die see, koninkryke laat sidder! Die Here het bevel gegee met betrekking tot Kanaän, dat sy vestings verwoes moet word. En Hy het gesê: Jy sal verder nie meer uitgelate wees nie, o onteerde jonkvrou, dogter van Sidon! Maak jou klaar, vaar oor na die Kittiërs toe; ook daar sal jy geen rus hê nie.”   JESAJA 23:11-12 AFR53

Die Galdeërs was die bevolking van Suid-Babilon. Die woord is later gebruik vir die hele koninkryk van Babel.  Op hierdie stadium het Assirië oor hulle geheers.

“Kyk, die land van die Chaldeërs — dit is die volk wat tot niet gegaan het: Assur het dit bestem vir die woestyndiere, het sy wagtorings daarteen opgerig, het die paleise daarvan verwoes, het dit 'n puinhoop gemaak. Huil, skepe van Tarsis, want julle vesting is verwoes!”   JESAJA 23:13-14 AFR53
 
14 Januarie 2023

Jesaja 23:15 AFR53
“En in dié dag sal Tirus vergeet word, sewentig jaar lank, soos die dae van een koning. Aan die einde van sewentig jaar sal dit met Tirus gaan volgens die hoerelied:”
 
God weet die einde van die begin en bepaal presies hoe lank Tirus gestraf sal word - presies sewentig jaar. Tirus is deur Nebukadneser ingeval en verower gedurende die tyd van die Joodse ballingskap.

“Want so sê die Here Here: Kyk, Ek laat Nebukadrésar, die koning van Babel, die koning van die konings, van die noorde af teen Tirus kom, met perde en strydwaens en ruiters en 'n menigte en baie mense.”   ESÉGIËL 26:7 AFR53

Wanneer sewentig jaar verby is, sal dit weer goed gaan met Tirus. Die Persiese koninkryk sal Tirus weer herstel.

“Neem die siter, gaan rond in die stad, vergete hoer! Speel mooi, sing baie, dat hulle aan jou kan dink.”   JESAJA 23:16 AFR53

Tirus sal geleidelik terugkeer na haar vroeëre werkswyse, en die handelaars van die wêreld verlei om met haar handel te dryf, soos prostitute wat mans met hul wulpse liedere lok.

“En aan die einde van sewentig jaar sal die Here op Tirus ag gee, en sy sal terugkeer na haar hoereloon en hoereer met al die koninkryke van die aarde wat op die aardbodem is.”   JESAJA 23:17 AFR53

Baie kommentators dink die profesie verwys na die teenwoordigheid van die Christendom in Tirus in die dae van die vroeë kerk.

“Maar haar handelswins en haar hoereloon sal aan die Here heilig wees; dit sal nie opgehoop of weggesit word nie; maar haar wins sal wees vir die wat voor die aangesig van die Here woon, om te eet tot versadiging en vir pragtige klere.”   JESAJA 23:18 AFR53

Tirus het, ná sy vernietiging deur Nebukadnesar en vir ‘n tweede keer deur Alexander die Grote, sy antieke handel, rykdom en grootsheid herstel. Tirus se gemeenskap het Christene geword saam met die res van die buurlande. Paulus het self baie Christene daar gevind.

“En ons het 'n skip gevind wat na Fenícië sou oorseil, en daarop gegaan en afgevaar. En toe ons Ciprus in die gesig gekry het en dit aan die linkerhand laat lê het, het ons na Sírië gevaar en by Tirus aangekom, want daar sou die skip sy vrag aflaai. En nadat ons die dissipels gevind het, het ons daar sewe dae gebly; en hulle het vir Paulus deur die Gees gesê om nie op te gaan na Jerusalem nie.”   HANDELINGE 21:2-4 AFR53

Comments


  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page