Israel - wat sê die Bybel !
- Regina Torre
- Jan 5
- 23 min read
Updated: Jan 16

5 Januarie 2026
ROMEINE 11:1 AFR53
Ek vra dan: Het God miskien sy volk verstoot? Nee, stellig nie! Want ek is ook 'n Israeliet uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin.
Voorspoedige 2026 aan ieder en elk wat saam met my Bybelstudie doen. Ek wil die jaar begin met iets wat op my hart lê. Ek bevestig hiermee dat ek saam met Israel staan, dat God se plan vir Israel nog nie voltooi is nie en dat vervangingsteologie of in Engels, replacement theology, NIE iets is wat ek aanhang NIE.
Voor ons die boek Jeremia se Bybelstudie doen, wil ek net na die belangrike saak kyk.
Wat is Vervangingsteologie? Dit leer in wese dat die Kerk Israel in God se plan vervang het. Aanhangers van vervangingsteologie glo dat die Jode nie meer God se uitverkore volk is nie, en God het nie spesifieke toekomsplanne vir die nasie Israel nie.
Vervangingsteologie leer dat die Kerk die plaasvervanger vir Israel is en dat die talle beloftes wat in die Bybel aan Israel gemaak is, in die Christelike kerk vervul word, nie in Israel nie. Die profesieë in die Bybel aangaande die seën en herstel van Israel na die Beloofde Land word deur die mense nie letterlik nie maar figuurlik gesien.
Paulus verduidelik mooi in Romeine 11 dat hierdie siening totaal VALS is.
Het God miskien Sy volk verstoot? Paulus se vraag maak op hierdie stadium in die boek Romeine en in ons tyd sin. As Israel se verwerping van die evangelie op een of ander manier beide in ooreenstemming was met God se ewige plan, en Israel se eie keuse, beteken dit dan dat Israel se lot beslis is en daar geen moontlikheid van herstel is nie?
Nee, stellig nie! beaam Paulus. Ten spyte van hul huidige toestand, word Israel nie permanent verwerp nie en Paulus verduideik vir ons.
Paulus se eerste bewysstuk is hy homself: besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, ‘n Hebrieër en ‘n Fariseer.
Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, 'n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, 'n Fariseër; FILIPPENSE 3:5 AFR53
As God vir Paulus kon red,
Maar Saulus, wat nog dreiging en moord geblaas het teen die dissipels van die Here, het na die hoëpriester gegaan en van hom briewe gevra aan die sinagoges in Damaskus, sodat as hy mense sou vind wat van die Weg was, manne sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring. En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik 'n lig van die hemel af; en hy val op die grond en hoor 'n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? En hy sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop. HANDELINGE 9:1-5 AFR53
kan Hy beslis ander Jode ook red.
Dit is 'n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is. Maar daarom is aan my barmhartigheid bewys, dat Jesus Christus in my as die vernaamste al sy lankmoedigheid sou betoon, om 'n voorbeeld te wees vir die wat in Hom sal glo tot die ewige lewe. I TIMÓTHEÜS 1:15-16 AFR53
6 Januarie 2026
ROMEINE 11:2 AFR53
God het sy volk wat Hy vantevore geken het, nie verstoot nie. Of weet julle nie wat die Skrif in die gedeelte oor Elía sê nie? — hoe hy by God optree teen Israel en sê:
Paulus se tweede bewys dat God Sy volk nie verwerp het nie, word geneem uit Israel se geskiedenis tydens Elia se bediening. Die profeet was erg depressief nadat hy vir sy lewe van Isebel gevlug het.
Here, hulle het u profete gedood en u altare het hulle afgebreek, en ek het alleen oorgebly, en hulle soek my lewe! Maar wat sê die Godspraak aan hom? Ek het vir Myself seweduisend manne laat oorbly wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie. Net so is daar dan ook in die teenwoordige tyd 'n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van die genade. ROMEINE 11:3-5 AFR53
In Paulus se tyd het Israel as 'n groep oor die algemeen hul Messias verwerp. Tog het 'n aansienlike oorblyfsel die evangelie van Jesus Christus aangeneem, en God het dikwels in Israel gewerk deur 'n getroue oorblyfsel - soos Hy in die tyd van Elia gedoen het.
Dinge was so erg in Elia se tyd dat hy teen sy eie volk gebid het. Elia het gedink dat God Sy volk verwerp het en dat hy die enigste een was wat oorgebly het om God te dien.
En hy antwoord: Ek het baie geywer vir die Here, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het, en hulle soek my lewe om dit weg te neem. I KONINGS 19:10 AFR53
Maar God het vir Elia gewys dat daar in werklikheid 'n aansienlike oorblyfsel was – en alhoewel dit net 'n oorblyfsel was, was hulle daar.
Maar Ek sal seweduisend in Israel laat oorbly, al die knieë wat nie voor Baäl gekniel en elke mond wat hom nie gesoen het nie. I KONINGS 19:18 AFR53
Alhoewel nie baie Jode in Paulus se tyd Jesus as Messias aangeneem het nie, het 'n oorblyfsel dit wel gedoen en God sal daardie klein groepie op 'n groot manier gebruik.
Paulus merk op dat die oorblyfsel gekies is volgens die verkiesing van genade.
Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. EFÉSIËRS 2:8-9 AFR53
Nou herinner hy ons aan wat genade se definisie is: dit is die vrye gawe van God, nie gegee met die oog op prestasie vir die een wat ontvang nie, maar slegs gegee uit vrygewendheid van die Gewer.
En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie. ROMEINE 11:6 AFR53
Die uitverkorenes onder Israel het die genade van God ontvang en daarop gereageer, maar die res is verhard deur hulle verwerping.
Wat dan? Wat Israel soek, dit het hy nie verkry nie; maar die uitverkorenes het dit verkry en die ander is verhard. ROMEINE 11:7 AFR53
As God dit behaag om slegs 'n oorblyfsel van Israel op die oomblik te verlig, kan Hy dit doen soos Hy wil.
7 Januarie 2026
ROMEINE 11:8 AFR53
Soos geskrywe is: God het hulle gegee 'n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe.
‘Soos geskrywe is’ verwys na die Ou Testament profete se profesieë. Die aanhalings uit Jesaja 29 en Psalm 69 sê vir ons dat God 'n gees van verdowing en oë kan gee sodat hulle nie kan sien nie en Hy kan sê laat hulle oë verduister word soos Hy wil.
Vertoef, en verwonder julle! Wees blind en verblind! Hulle is dronk, maar nie van wyn nie; hulle waggel, maar nie van sterk drank nie. Want die Here het oor julle uitgegiet 'n gees van diepe slaap, en Hy het julle oë — die profete — toegesluit en julle hoofde — die sieners — toegebind. So het dan die gesig van al hierdie dinge vir julle geword soos die woorde van 'n verseëlde boek wat hulle gee aan iemand wat kan lees, met die woorde: Lees dit tog! Maar hy sê: Ek kan nie, want dit is verseël. JESAJA 29:9-11 AFR53
Laat hulle oë duister word, sodat hulle nie sien nie; en maak dat hulle heupe altyddeur wankel. PSALMS 69:24 AFR53
Die Jode van Paulus se tyd was so veilig in hul idee dat hulle die uitverkore volk was dat die idee self die ding geword het wat hulle verwoes het.
En Dawid sê: Laat hulle tafel vir hulle wees 'n vangnet en 'n strik en 'n struikelblok en 'n vergelding. Laat hulle oë duister word om nie te sien nie, en buig hulle rug vir altyd krom. ROMEINE 11:9-10 AFR53
Paulus leer vir ons dat daar 'n verskil is tussen struikel en val. Israel het gestruikel, maar hulle sal nie val nie – in die sin dat hulle van God se doel en plan verwyder kan word. Jy kan van 'n struikel herstel, maar as jy val, is jy verlore. Paulus wys dat God vandag steeds deur 'n oorblyfsel van Israel werk, maar wil dit duidelik maak dat die sondige meerderheid van Israel nie vir ewig verlore is nie. Ons moet ook nie vergeet dat die evangelie in baie gevalle eers na die heidene uitgegaan het nadat die Joodse volk dit verwerp het. In hierdie sin was die verwerping van die evangelie deur die Jode, ‘n rykdom vir die heidene.
Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak. ROMEINE 11:11 AFR53
En as die val van die Jode sulke goeie resultate opgelewer het, sal daar baie meer van hul herstel verwag kan word.
En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie! ROMEINE 11:12 AFR53
Paulus sien uit na die volle en volledige herstel van sy volk, wanneer elke Jood 'n lid van die Messiaanse koninkryk sal wees, en daar nie een sal ontbreek nie. Paulus se begeerte is nie net dat hierdie rykdom slegs deur die heidene geniet sal word nie, maar dat die Jode tot 'n goeie soort jaloesie geprikkel sal word. ‘n Jaloesie wat hulle sal motiveer om van die seëninge te ontvang wat die heidene geniet om sodoede gered te word.
Want aan julle heidene sê ek: Vir sover as ek 'n apostel van die heidene is, verheerlik ek my bediening — as ek tog maar net my eie volk jaloers kan maak en sommige uit hulle kan red! ROMEINE 11:13-14 AFR53
Die evangelie kon nie aan die heidene verkondig word totdat dit eers aan die Jode aangebied en
deur hulle verwerp is nie. Daarom kan gesê word dat die verwerping van die Jode die versoening van die res van die wêreld veroorsaak het.
Want as hulle verwerping die versoening van die wêreld is, wat sal hulle aanneming anders wees as lewe uit die dode? ROMEINE 11:15 AFR53
8 Januarie 2026
ROMEINE 11:16 AFR53
En as die eerstelinge heilig is, dan die deeg ook; en as die wortel heilig is, dan die takke ook.
Eerstelinge, in Bybelse terme, verwys na die aanvanklike opbrengs van 'n oes wat aan God geoffer word as 'n daad van aanbidding en dankbaarheid.
Die eersteling in vandag se vers verteenwoordig waarskynlik die eerste Christene, wat Joods was. Hul bekering was iets heilig en goed vir die kerk. Immers, elkeen van die apostels en die meeste van die skrywers van die Bybel was Joods.
As die bekering van hierdie eersteling groep goed was vir die heidene, hoeveel te meer sal dit wees wanneer die volledige oes (die nasie Israel) ingebring word! Baie kommentators neem die eersteling hier as die patriarge, maar dit pas beter om dit te sien as die oorspronklike kerngroep Christene – wat elkeen Joods was.
Met die beeld van die boom en die takke herinner Paulus die nie-Joodse Christene daaraan dat hulle slegs deur God se genade in die boom van God ingeënt kan word – waarvan die wortel Israel is.
En as sommige van die takke afgebreek is, en jy wat 'n wilde olyfboom was, onder hulle ingeënt is en deel gekry het aan die wortel en die vettigheid van die olyfboom, ROMEINE 11:17 AFR53
Wanneer 'n ou olyfboom sy krag verloor het, blyk dit dat een manier in die antieke tyd was om die dooie takke af te sny en 'n paar wilde olyflote in te ent. Daar is gesê dat die resultaat die vernuwing van die vervalle boom was.
Moet nie teen die takke roem nie - moet jou nie verbeel jy is beter as die dooie takke nie. Jy ondersteun nie die wortel nie, maar die wortel ondersteun jou.
moet dan nie teen die takke roem nie; en as jy roem — dit is nie jy wat die wortel dra nie, maar die wortel vir jou. ROMEINE 11:18 AFR53
Paulus waarsku die nie-Joodse Christene dat die enigste rede waarom hulle 'n plek in God se familie het, is hul geloof in Jesus Christus. Sonder daardie geloof sou God hulle ook van Sy boom af gesnoei het, soos Hy met die Joodse volk gedoen het wat geweier het om in Jesus te glo. Hulle status was absoluut nie gegrond op hul eie goeie werke nie, dit is gegrond slegs op God se genade.
Jy sal dan sê: Die takke is afgebreek, sodat ek ingeënt kon word. Goed! Deur ongeloof is hulle afgebreek, maar jy staan deur die geloof. Moenie hoogmoedig wees nie, maar vrees. Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy miskien jou ook nie spaar nie. ROMEINE 11:19-21 AFR53
Staan terug en kyk hoe streng en hoe goed God gelyktydig is. God tree streng op teenoor die wat wegloop van hul geloof, maar Hy tree terselfdetyd goed op teenoor die wat in geloof bly. Elkeen van ons moet dan bly glo in God anders kan ons ook van die boom afgekap word.
Let dan op die goedertierenheid en die gestrengheid van God: gestrengheid oor die wat geval het, maar goedertierenheid oor jou as jy in die goedertierenheid bly; anders sal jy ook afgekap word. Maar ook hulle sal, as hulle nie in die ongeloof bly nie, ingeënt word; want God is magtig om hulle weer in te ent. Want as jy afgekap is van die olyfboom wat van nature wild was, en teen die natuur op die mak olyfboom ingeënt kan word, hoeveel te meer kan hulle dan wat dit van nature is, op hul eie olyfboom ingeënt word? ROMEINE 11:22-24 AFR53
9 Januarie 2026
ROMEINE 11:25 AFR53
Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het;
Paulus gee ‘n waarskuwing dat Christene nie onkundig moet wees oor hierdie verborgenheid of in Engels hierdie mysterie nie.
Paulus gee ‘n opsomming van wat hy tot hier gesê het. God se doel met Israel se gedeeltelike blindheid is sodat die volheid van die heidene kan inkom.
Eendag sal die Jode hul blindheid en dwaasheid besef. Hulle sal Jesus Christus aanvaar, en die glorieryke nasionale herstel van hierdie mense sal die Millenium inbring.
Op daardie tydstip sal God weereens die aandag van Sy plan van die eeue spesifiek op Israel vestig, sodat die hele Israel gered sal word. God se plan van die eeue vestig nie Sy aandag op almal gelyk deur alle eeue nie.
Hierdie eenvoudige gedeelte weerlê diegene wat daarop aandring dat God vir ewig klaar is met Israel as 'n volk en dat die Kerk die Nuwe Israel is en elke belofte erf wat ooit aan Israel van die Ou Testament gemaak is.
Ons word herinner aan die blywende karakter van die beloftes wat aan Israel gemaak is. God is nie klaar met Israel nie, en Israel is nie vergeestelik as die kerk nie.
want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid. GÉNESIS 13:15 AFR53
En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as 'n ewige verbond, om vir jou 'n God te wees en vir jou nageslag ná jou. En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as 'n ewige besitting; en Ek sal vir hulle 'n God wees. GÉNESIS 17:7-8 AFR53
Die hele Israel sal gered word - dit beteken nie dat daar 'n tyd sal wees wanneer elke laaste persoon van Joodse afkoms gered sal word nie. In plaas daarvan is dit 'n tyd wanneer Israel as geheel 'n geredde volk sal wees, en wanneer die nasie as geheel Jesus Christus as Messias sal aanvaar.
en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend; ROMEINE 11:26 AFR53
Die Bybel dui aan dat dit 'n noodsaaklike voorwaarde is vir die wederkoms van Jesus Christus.
Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos 'n mens rouklaag oor 'n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos 'n mens bitterlik ween oor 'n eersgebore kind. In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem, soos die rouklag van Hadad-Rimmon in die laagte van Megíddo. SAGARÍA 12:10-11 AFR53
Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! MATTHÉÜS 23:39 AFR53
Jesus sal nie weer terugkeer totdat God die fokus van Sy reddende genade weer op Israel rig nie, en Israel op God reageer deur Jesus Christus.
10 Januarie 2026
ROMEINE 11:25b AFR53
…..dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het;
Paulus sê dat Israel se gedeeltelike blindheid voltooi sal wees wanneer die volheid van die heidene ingaan, maar wat beteken die volheid van die heidene of anders gestel die tye van die heidene.
In Lukas 21:24 praat Jesus van toekomstige gebeure, insluitend die vernietiging van Jerusalem en Sy wederkoms. Jesus sê dat Jerusalem deur die heidene vertrap sal word totdat die tye van die nasies of die heidene vervul is.
En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is. LUKAS 21:24 AFR53
Die Ou Testament bevat nie hierdie presiese frase nie, maar daar is verwysings wat ooreenstem.
Esegiël 30:3 praat van die tyd van die nasies wat verwys na die Dag van die Here.
Want naby is 'n dag, ja, naby is 'n dag van die Here, 'n dag van wolke; die tyd van die nasies sal dit wees. ESÉGIËL 30:3 AFR53
Daniël se reeks visioene vertel van heidense wêreldmoondhede en hul rol in God se plan vir die aarde. Nebukadnesar se beeld van goud, silwer, brons, yster en klei verteenwoordig opeenvolgende heidense koninkryke wat sal heers totdat Jesus terugkeer en Sy heerskappy vestig.
Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper, sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei. DANIËL 2:32-33 AFR53
Daniël se visioen van die vier diere praat eweneens van vier konings, of nasies, wat vir 'n tyd sal heers totdat Christus kom om vir ewig te regeer.
Daniël het gespreek en gesê: Ek het in die nag in my gesig gesien, en kyk, die vier winde van die hemel het die groot see in beroering gebring; en vier groot diere het uit die see opgeklim, die een verskillend van die ander. DANIËL 7:2-3 AFR53
Die visioen van die ram en die bok gee meer besonderhede oor hierdie nie-Joodse heersers en die tyd wat betrokke is by hul heerskappy.
Die ram wat jy gesien het met die twee horings, is die konings van die Meders en die Perse. En die harige bok is die koning van Griekeland; en die groot horing wat tussen sy oë was, dit is die eerste koning. DANIËL 8:20-21 AFR53
In elk van hierdie gedeeltes het die nie-Jode vir 'n tyd heerskappy oor die wêreld, insluitend die Joodse volk, maar God sal hulle uiteindelik almal onderwerp en Sy eie Koninkryk eens en vir altyd vestig.
Elke profesie eindig met 'n verwysing na Jesus se Koninkryk, dus sou die tye van hierdie nie-Joodse heersers al die jare tussen die Babiloniese Ryk van Nebukadnesar en die glorieryke wederkoms van Jesus wees om Sy Koninkryk te vestig. Ons leef nou in die tye van die nie-Jode, dit wil sê in die era van nie-Joodse oorheersing.
11 Januarie 2026
OPENBARING 11:2 AFR53
Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap.
Wanneer ons die boek Openbaring ondersoek, vind ons soortgelyke verwysings na die tyd van nie-Joodse heerskappy wat eindig met die wederkoms van Jesus.
In Openbaring 11:2 dui Johannes aan dat Jerusalem onder nie-Joodse heerskappy sal wees, al is die tempel herstel.
Die leërs van die Dier word deur die Here vernietig in Openbaring 19, net voordat die duisendjarige heerskappy van Jesus begin.
En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees. OPENBARING 19:19-21 AFR53
As ons weer na Lukas 21:24 kyk, sien ons dat Jesus 'n tyd noem waarin Jerusalem onder die heerskappy van nie-Joodse gesag is.
En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is. LUKAS 21:24 AFR53
Nebukadnesar se verowering van Jerusalem in 588 v.C. het daardie tydperk begin, en dit duur voort tot die huidige tyd. Romeine 11:25 gee ons 'n leidraad oor God se doel in die tye van die nie-Jode: die verspreiding van die Evangelie deur die hele wêreld.
Die organisasie en uitvindsels van die heidense wêreldmoondhede het eintlik die evangelisasie van die wêreld gehelp. Byvoorbeeld, in die eerste eeu was dit die wydverspreide gebruik van die Griekse taal en die netwerk van Romeinse paaie wat baie mense in verafgeleë lande toegelaat het om die Evangelie te hoor.
Een tema van Romeine 11 is dat, toe die Joodse volk Christus verwerp het, is hulle tydelik afgesny van die seëninge van 'n verhouding met God. Gevolglik is die Evangelie aan die nie-Jode gegee, en hulle het dit met blydskap ontvang.
Hierdie gedeeltelike verharding van hart vir Israel verhoed nie individuele Jode om gered te word nie, maar dit verhoed dat die nasie as geheel, Christus as Messias aanvaar, totdat Sy planne voltooi is.
Wanneer die tyd reg is, sal God die hele nasie herstel, en hulle sal weer tot geloof in Hom kom, wat die tye van die nasies beëindig.
en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend; ROMEINE 11:26 AFR53
In dié dag sal die mens kyk na sy Maker, en sy oë sal sien op die Heilige van Israel; JESAJA 17:7 AFR53
Kyk, die Here laat dit hoor tot by die einde van die aarde: Sê aan die dogter van Sion: Kyk, jou heil kom; kyk, sy loon is by Hom en sy beloning is voor sy aangesig. En hulle sal genoem word: die heilige volk, die verlostes van die Here; en jy sal genoem word: die begeerde, die stad wat nie verlaat is nie. JESAJA 62:11-12 AFR53
12 Januarie 2026
JESAJA 63:1a+b AFR53
Wie is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? ………..
Wat maak Bosra belangrik?
Bosra (Hebreeus) of Petra (Grieks) beteken skaapkraal of vesting en is die hoofstad van Edom.
Johannes leer ons in Openbaring dat God Sy volk in die woestyn gaan bewaar en onderhou, uit die gesig van die slang, vir ‘n tydperk van tyd, tye en ‘n halwe tyd - drie en ‘n halwe jaar.
maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, 'n tyd en tye en 'n halwe tyd. OPENBARING 12:14 AFR53
Weereens kom God tot Sy volk se redding.
.......... maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan. DANIËL 12:1b AFR53
Net soos die Israeliete van ouds wat uit Egipteland uit die slawehuis uitgetrek het en in die woestyn geskuil het terwyl God gesorg het vir manna uit die hemel, so gaan God weer Sy volk op arendsvlerke na die woestyn bring om vir hulle te sorg.
Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het. EXODUS 19:4 AFR53
Die plek waar God se volk gaan skuil is in die dorp Petra in die suide van Jordanië. Ons kry die inligting van die profeet Miga.
Ek sal julle almal bymekaarmaak, Jakob, Ek sal dié vergader wat van Israel oorgebly het, Ek sal hulle bymekaarbring soos skape in 'n kraal, soos 'n groot kudde in die weiveld, die wêreld sal dreun van mense. MIGA 2:12 AFR83
Ondanks die beskerming van God, doen die vyand alles in sy vermoë om Israel te vernietig. Die draak gebruik selfs water om Israel in 'n vloed te laat verdrink.
En die slang het uit sy bek water soos 'n rivier agter die vrou aan uitgegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier. OPENBARING 12:15 AFR53
Petra het al meer as een keer in die verlede vloede ondervind wanneer dit baie reen. ‘n Vloed soos in die vers uitgebeeld deur die strate van Petra in die toekoms is dus nie uitgesluit nie.
God is egter byderhand om Sy volk te beskerm teen die aanslae van die duiwel. Die aarde maak sy mond oop om die water in te sluk en die land op te droog. ‘n Aardbewing veroorsaak dus ‘n skeur om die water af te keer.
En die aarde het die vrou te hulp gekom, en die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier opgesluk, wat die draak uit sy bek uitgegooi het. OPENBARING 12:16 AFR53
13 Januarie 2026
JESAJA 63:1 AFR53
Wie is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy daar, pragtig in sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van sy krag? Dit is Ek wat in geregtigheid spreek, wat magtig is om te verlos.
Vraag 1: Wie is dit wat uit Edom aankom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy wat pragtig is in Sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van Sy krag?
Antwoord 1: Dit is Ek wat in geregtigheid spreek, wat magtig is om te verlos!
Vraag 2: Waarom is u gewaad so rooi, en u klere soos dié van een wat die wynpers trap? JESAJA 63:2 AFR53
Antwoord 2: Ek het die pers alleen getrap, en van die volke was niemand by My nie; en Ek het hulle getrap in my toorn en hulle vertrap in my grimmigheid, sodat hulle lewensap op my klere gespat en Ek my hele gewaad bevlek het. JESAJA 63:3 AFR53
Die sesde engel in Openbaring laat sy sekel oor die aarde gaan en oes die wingerdstok heeltemal af.
En die engel het sy sekel oor die aarde laat gaan en die wingerdstok van die aarde afgeoes en dit gegooi in die groot parskuip van die grimmigheid van God. OPENBARING 14:19 AFR53
Wat gebeur met die wingerdstokke wat afgeoes is? Dit word als gegooi in die groot parskuip van die grimmigheid van God soos Jeremia geprofeteer het.
Jy moet dan al hierdie woorde vir hulle profeteer en aan hulle sê: Die Here sal brul uit die hoogte en sy stem verhef uit sy heilige woning! Geweldig sal Hy brul oor sy woonplek; soos druiwetrappers sal Hy 'n vreugdegeroep aanhef teen al die inwoners van die aarde. JEREMIA 25:30 AFR53
Openbaring leer ons ook dat Jesus bekleed is met ‘n kleed wat in bloed gedoop is. Hierdie is nie die bloed van Jesus se kruis nie, nee, hierdie is die bloed van Jesus se vyande.
En Hy was bekleed met 'n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. OPENBARING 19:13 AFR53
Jesaja verduidelik vir ons nou wat gebeur. Met Jesus se tweede koms is Sy eerste stop in Bosra (Petra) waar Sy volk (die Joodse volk) beskerm word. Die bloed op Jesus se klere is die van Sy vyande.
Jesus kom terug aarde toe, voorbereid vir die geveg en om as Koning te regeer. Heeltemal die teenoorgestelde van Sy eerste koms waar Sy doelwit was om redding te verkondig en om barmhartigheid en vergifnis te betoon. Jesus se wederkoms sal wees om te oordeel en om te regeer.
En uit sy mond gaan daar 'n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met 'n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. OPENBARING 19:15 AFR53
14 Januarie 2026
ROMEINE 11:26 AFR53
en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend;
Ná die volheid van die heidene sal die gedeeltelike verharding van Israel verwyder word en die hele Israel sal gered word, dit wil sê, verlos word. In die Ou Testament beteken gered dikwels ook verlos.
Om dit te bevestig, het Paulus aangehaal uit Jesaja 59 en 27.
Maar vir Sion kom Hy as Verlosser en vir die wat in Jakob hulle bekeer van oortreding, spreek die Here. Wat My aangaan, dit is my verbond met hulle, sê die Here: My Gees wat op jou is, en my woorde wat Ek in jou mond gelê het, sal uit jou mond nie wyk nie, en ook nie uit die mond van jou kroos en uit die mond van die kroos van jou kroos, sê die Here, van nou af tot in ewigheid nie. JESAJA 59:20-21 AFR53
Daarom sal hiermee die skuld van Jakob versoen word, en dit is die volle vrug van die wegneming van sy sonde: as hy al die altaarklippe maak soos verbryselde kalkklippe, die heilige boomstamme en die sonpilare nie meer oprys nie. JESAJA 27:9 AFR53
Die stelling, ‘die hele Israel sal gered word’ beteken nie dat elke Jood wat tydens Jesus se wederkoms leef, wedergebore sal word nie. Baie van hulle sal nie gered word nie, soos gesien kan word deur die feit dat die oordeel van Israel, wat kort na Jesus se wederkoms sal volg, die verwydering van die Joodse rebelle sal insluit.
En Ek sal julle uit die volke uitlei en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, deur 'n sterke hand en deur 'n uitgestrekte arm en deur uitgestorte grimmigheid. En Ek sal julle bring in die woestyn van die volke, en Ek sal daar met julle in die gerig tree van aangesig tot aangesig. Soos Ek met julle vaders in die woestyn van Egipteland in die gerig getree het, so sal Ek met julle in die gerig tree, spreek die Here Here. En Ek sal julle onder die herderstaf laat deurgaan en julle bring in die band van die verbond. En Ek sal uit julle afsonder die wat opstandig is en teen My oortree; Ek sal hulle uit die land van hul vreemdelingskap uitlei, maar hulle sal in die land van Israel nie kom nie; en julle sal weet dat Ek die Here is. ESÉGIËL 20:34-38 AFR53
Na hierdie oordeel sal God dan goddeloosheid en sondes uit Sy volk verwyder wanneer Hy Sy Nuwe Verbond met die wedergebore Israel vestig.
en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem. ROMEINE 11:27 AFR53
Soos deur die profeet Jeremia geprofeteer is.
Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die Here: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie. JEREMIA 31:33-34 AFR53
15 Januarie 2026
ROMEINE 11:28 AFR53
Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande ter wille van julle; maar wat die uitverkiesing betref, bemindes ter wille van die vaders.
Paulus som God se werke met Israel en met die heidene op: om die evangelie aan die heidene te bring moes God Sy volk Israel as vyande hanteer. Maar, met betrekking tot God se uitverkiesing van Abraham en Sy verbond met hom en die aartsvaders, is Israel geliefd.
Omdat God Abraham, Isak en Jakob gekies het, het Hy die nasie lief en sal Hy Sy beloftes nakom.
Maar ek sê dit nie asof die woord van God verval het nie; want hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie. Ook nie omdat hulle Abraham se nageslag is, is hulle almal kinders nie; maar: in Isak sal jou nageslag genoem word. Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag. Want dit is die woord van die belofte: Omtrent hierdie tyd sal Ek kom, en Sara sal 'n seun hê. En nie alleen dit nie, maar ook Rebekka was swanger uit een, naamlik Isak, ons vader. Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie — dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep —. ROMEINE 9:6-11 AFR53
Dit is nog 'n rede waarom Israel se verharding tydelik moet wees en hulle uiteindelik gesamentlik gered moet word: God het hulle gekies.
God herroep nooit wat Hy gegee het of wie Hy gekies het nie.
Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik. ROMEINE 11:29 AFR53
Die nie-Jode aan wie Paulus geskryf het, was eens ongehoorsaam aan God, maar in die Era van Genade gaan hulle barmhartigheid ontvang. Toe Adam ongehoorsaam was, is almal as sondaars beskou, omdat die hele mensdom in Adam gesondig het.
Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het —. ROMEINE 5:12 AFR53
Net so het Israel ook nie geglo nie, sodat hulle deur ons barmhartigheid kan ontvang. Israel is tans gesamentlik (as ‘n nasie) ongehoorsaam aan God - wanneer God se barmhartigheid teenoor die heidene die volle getal bereik, sal Israel weer barmhartigheid ontvang.
Want soos julle ook vroeër aan God ongehoorsaam was, maar nou barmhartigheid ontvang het deur hulle ongehoorsaamheid, so het hulle ook nou ongehoorsaam geword deur die barmhartigheid aan julle, sodat hulle ook barmhartigheid kan ontvang. ROMEINE 11:30-31 AFR53
God se uiteindelike doel is om barmhartigheid te bewys aan...almal. Toe die heidene God verwerp en aan Hom ongehoorsaam was, het God Abraham en sy nageslag as Sy spesiale volk gekies.
Want God het hulle almal in die ongehoorsaamheid ingesluit om vir almal barmhartig te kan wees. ROMEINE 11:32 AFR53
Dit sluit ons kort studie van Israel af. Ons sal more weer ons studie van Jeremia voortsit.




Comments