Israel - wat sê die Bybel !
- Regina Torre
- 2 days ago
- 9 min read
Updated: 5 hours ago

Scroll asb. ondertoe om vandag se inskrywing te sien!
5 Januarie 2026
ROMEINE 11:1 AFR53
Ek vra dan: Het God miskien sy volk verstoot? Nee, stellig nie! Want ek is ook 'n Israeliet uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin.
Voorspoedige 2026 aan ieder en elk wat saam met my Bybelstudie doen. Ek wil die jaar begin met iets wat op my hart lê. Ek bevestig hiermee dat ek saam met Israel staan, dat God se plan vir Israel nog nie voltooi is nie en dat vervangingsteologie of in Engels, replacement theology, NIE iets is wat ek aanhang NIE.
Voor ons die boek Jeremia se Bybelstudie doen, wil ek net na die belangrike saak kyk.
Wat is Vervangingsteologie? Dit leer in wese dat die Kerk Israel in God se plan vervang het. Aanhangers van vervangingsteologie glo dat die Jode nie meer God se uitverkore volk is nie, en God het nie spesifieke toekomsplanne vir die nasie Israel nie.
Vervangingsteologie leer dat die Kerk die plaasvervanger vir Israel is en dat die talle beloftes wat in die Bybel aan Israel gemaak is, in die Christelike kerk vervul word, nie in Israel nie. Die profesieë in die Bybel aangaande die seën en herstel van Israel na die Beloofde Land word deur die mense nie letterlik nie maar figuurlik gesien.
Paulus verduidelik mooi in Romeine 11 dat hierdie siening totaal VALS is.
Het God miskien Sy volk verstoot? Paulus se vraag maak op hierdie stadium in die boek Romeine en in ons tyd sin. As Israel se verwerping van die evangelie op een of ander manier beide in ooreenstemming was met God se ewige plan, en Israel se eie keuse, beteken dit dan dat Israel se lot beslis is en daar geen moontlikheid van herstel is nie?
Nee, stellig nie! beaam Paulus. Ten spyte van hul huidige toestand, word Israel nie permanent verwerp nie en Paulus verduideik vir ons.
Paulus se eerste bewysstuk is hy homself: besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, ‘n Hebrieër en ‘n Fariseer.
Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, 'n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, 'n Fariseër; FILIPPENSE 3:5 AFR53
As God vir Paulus kon red,
Maar Saulus, wat nog dreiging en moord geblaas het teen die dissipels van die Here, het na die hoëpriester gegaan en van hom briewe gevra aan die sinagoges in Damaskus, sodat as hy mense sou vind wat van die Weg was, manne sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring. En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik 'n lig van die hemel af; en hy val op die grond en hoor 'n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? En hy sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop. HANDELINGE 9:1-5 AFR53
kan Hy beslis ander Jode ook red.
Dit is 'n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is. Maar daarom is aan my barmhartigheid bewys, dat Jesus Christus in my as die vernaamste al sy lankmoedigheid sou betoon, om 'n voorbeeld te wees vir die wat in Hom sal glo tot die ewige lewe. I TIMÓTHEÜS 1:15-16 AFR53
6 Januarie 2026
ROMEINE 11:2 AFR53
God het sy volk wat Hy vantevore geken het, nie verstoot nie. Of weet julle nie wat die Skrif in die gedeelte oor Elía sê nie? — hoe hy by God optree teen Israel en sê:
Paulus se tweede bewys dat God Sy volk nie verwerp het nie, word geneem uit Israel se geskiedenis tydens Elia se bediening. Die profeet was erg depressief nadat hy vir sy lewe van Isebel gevlug het.
Here, hulle het u profete gedood en u altare het hulle afgebreek, en ek het alleen oorgebly, en hulle soek my lewe! Maar wat sê die Godspraak aan hom? Ek het vir Myself seweduisend manne laat oorbly wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie. Net so is daar dan ook in die teenwoordige tyd 'n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van die genade. ROMEINE 11:3-5 AFR53
In Paulus se tyd het Israel as 'n groep oor die algemeen hul Messias verwerp. Tog het 'n aansienlike oorblyfsel die evangelie van Jesus Christus aangeneem, en God het dikwels in Israel gewerk deur 'n getroue oorblyfsel - soos Hy in die tyd van Elia gedoen het.
Dinge was so erg in Elia se tyd dat hy teen sy eie volk gebid het. Elia het gedink dat God Sy volk verwerp het en dat hy die enigste een was wat oorgebly het om God te dien.
En hy antwoord: Ek het baie geywer vir die Here, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het, en hulle soek my lewe om dit weg te neem. I KONINGS 19:10 AFR53
Maar God het vir Elia gewys dat daar in werklikheid 'n aansienlike oorblyfsel was – en alhoewel dit net 'n oorblyfsel was, was hulle daar.
Maar Ek sal seweduisend in Israel laat oorbly, al die knieë wat nie voor Baäl gekniel en elke mond wat hom nie gesoen het nie. I KONINGS 19:18 AFR53
Alhoewel nie baie Jode in Paulus se tyd Jesus as Messias aangeneem het nie, het 'n oorblyfsel dit wel gedoen en God sal daardie klein groepie op 'n groot manier gebruik.
Paulus merk op dat die oorblyfsel gekies is volgens die verkiesing van genade.
Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. EFÉSIËRS 2:8-9 AFR53
Nou herinner hy ons aan wat genade se definisie is: dit is die vrye gawe van God, nie gegee met die oog op prestasie vir die een wat ontvang nie, maar slegs gegee uit vrygewendheid van die Gewer.
En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie. ROMEINE 11:6 AFR53
Die uitverkorenes onder Israel het die genade van God ontvang en daarop gereageer, maar die res is verhard deur hulle verwerping.
Wat dan? Wat Israel soek, dit het hy nie verkry nie; maar die uitverkorenes het dit verkry en die ander is verhard. ROMEINE 11:7 AFR53
As God dit behaag om slegs 'n oorblyfsel van Israel op die oomblik te verlig, kan Hy dit doen soos Hy wil.
7 Januarie 2026
ROMEINE 11:8 AFR53
Soos geskrywe is: God het hulle gegee 'n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe.
‘Soos geskrywe is’ verwys na die Ou Testament profete se profesieë. Die aanhalings uit Jesaja 29 en Psalm 69 sê vir ons dat God 'n gees van verdowing en oë kan gee sodat hulle nie kan sien nie en Hy kan sê laat hulle oë verduister word soos Hy wil.
Vertoef, en verwonder julle! Wees blind en verblind! Hulle is dronk, maar nie van wyn nie; hulle waggel, maar nie van sterk drank nie. Want die Here het oor julle uitgegiet 'n gees van diepe slaap, en Hy het julle oë — die profete — toegesluit en julle hoofde — die sieners — toegebind. So het dan die gesig van al hierdie dinge vir julle geword soos die woorde van 'n verseëlde boek wat hulle gee aan iemand wat kan lees, met die woorde: Lees dit tog! Maar hy sê: Ek kan nie, want dit is verseël. JESAJA 29:9-11 AFR53
Laat hulle oë duister word, sodat hulle nie sien nie; en maak dat hulle heupe altyddeur wankel. PSALMS 69:24 AFR53
Die Jode van Paulus se tyd was so veilig in hul idee dat hulle die uitverkore volk was dat die idee self die ding geword het wat hulle verwoes het.
En Dawid sê: Laat hulle tafel vir hulle wees 'n vangnet en 'n strik en 'n struikelblok en 'n vergelding. Laat hulle oë duister word om nie te sien nie, en buig hulle rug vir altyd krom. ROMEINE 11:9-10 AFR53
Paulus leer vir ons dat daar 'n verskil is tussen struikel en val. Israel het gestruikel, maar hulle sal nie val nie – in die sin dat hulle van God se doel en plan verwyder kan word. Jy kan van 'n struikel herstel, maar as jy val, is jy verlore. Paulus wys dat God vandag steeds deur 'n oorblyfsel van Israel werk, maar wil dit duidelik maak dat die sondige meerderheid van Israel nie vir ewig verlore is nie. Ons moet ook nie vergeet dat die evangelie in baie gevalle eers na die heidene uitgegaan het nadat die Joodse volk dit verwerp het. In hierdie sin was die verwerping van die evangelie deur die Jode, ‘n rykdom vir die heidene.
Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak. ROMEINE 11:11 AFR53
En as die val van die Jode sulke goeie resultate opgelewer het, sal daar baie meer van hul herstel verwag kan word.
En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie! ROMEINE 11:12 AFR53
Paulus sien uit na die volle en volledige herstel van sy volk, wanneer elke Jood 'n lid van die Messiaanse koninkryk sal wees, en daar nie een sal ontbreek nie. Paulus se begeerte is nie net dat hierdie rykdom slegs deur die heidene geniet sal word nie, maar dat die Jode tot 'n goeie soort jaloesie geprikkel sal word. ‘n Jaloesie wat hulle sal motiveer om van die seëninge te ontvang wat die heidene geniet om sodoede gered te word.
Want aan julle heidene sê ek: Vir sover as ek 'n apostel van die heidene is, verheerlik ek my bediening — as ek tog maar net my eie volk jaloers kan maak en sommige uit hulle kan red! ROMEINE 11:13-14 AFR53
Die evangelie kon nie aan die heidene verkondig word totdat dit eers aan die Jode aangebied en
deur hulle verwerp is nie. Daarom kan gesê word dat die verwerping van die Jode die versoening van die res van die wêreld veroorsaak het.
Want as hulle verwerping die versoening van die wêreld is, wat sal hulle aanneming anders wees as lewe uit die dode? ROMEINE 11:15 AFR53
8 Januarie 2026
ROMEINE 11:16 AFR53
En as die eerstelinge heilig is, dan die deeg ook; en as die wortel heilig is, dan die takke ook.
Eerstelinge, in Bybelse terme, verwys na die aanvanklike opbrengs van 'n oes wat aan God geoffer word as 'n daad van aanbidding en dankbaarheid.
Die eersteling in vandag se vers verteenwoordig waarskynlik die eerste Christene, wat Joods was. Hul bekering was iets heilig en goed vir die kerk. Immers, elkeen van die apostels en die meeste van die skrywers van die Bybel was Joods.
As die bekering van hierdie eersteling groep goed was vir die heidene, hoeveel te meer sal dit wees wanneer die volledige oes (die nasie Israel) ingebring word! Baie kommentators neem die eersteling hier as die patriarge, maar dit pas beter om dit te sien as die oorspronklike kerngroep Christene – wat elkeen Joods was.
Met die beeld van die boom en die takke herinner Paulus die nie-Joodse Christene daaraan dat hulle slegs deur God se genade in die boom van God ingeënt kan word – waarvan die wortel Israel is.
En as sommige van die takke afgebreek is, en jy wat 'n wilde olyfboom was, onder hulle ingeënt is en deel gekry het aan die wortel en die vettigheid van die olyfboom, ROMEINE 11:17 AFR53
Wanneer 'n ou olyfboom sy krag verloor het, blyk dit dat een manier in die antieke tyd was om die dooie takke af te sny en 'n paar wilde olyflote in te ent. Daar is gesê dat die resultaat die vernuwing van die vervalle boom was.
Moet nie teen die takke roem nie - moet jou nie verbeel jy is beter as die dooie takke nie. Jy ondersteun nie die wortel nie, maar die wortel ondersteun jou.
moet dan nie teen die takke roem nie; en as jy roem — dit is nie jy wat die wortel dra nie, maar die wortel vir jou. ROMEINE 11:18 AFR53
Paulus waarsku die nie-Joodse Christene dat die enigste rede waarom hulle 'n plek in God se familie het, is hul geloof in Jesus Christus. Sonder daardie geloof sou God hulle ook van Sy boom af gesnoei het, soos Hy met die Joodse volk gedoen het wat geweier het om in Jesus te glo. Hulle status was absoluut nie gegrond op hul eie goeie werke nie, dit is gegrond slegs op God se genade.
Jy sal dan sê: Die takke is afgebreek, sodat ek ingeënt kon word. Goed! Deur ongeloof is hulle afgebreek, maar jy staan deur die geloof. Moenie hoogmoedig wees nie, maar vrees. Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy miskien jou ook nie spaar nie. ROMEINE 11:19-21 AFR53
Staan terug en kyk hoe streng en hoe goed God gelyktydig is. God tree streng op teenoor die wat wegloop van hul geloof, maar Hy tree terselfdetyd goed op teenoor die wat in geloof bly. Elkeen van ons moet dan bly glo in God anders kan ons ook van die boom afgekap word.
Let dan op die goedertierenheid en die gestrengheid van God: gestrengheid oor die wat geval het, maar goedertierenheid oor jou as jy in die goedertierenheid bly; anders sal jy ook afgekap word. Maar ook hulle sal, as hulle nie in die ongeloof bly nie, ingeënt word; want God is magtig om hulle weer in te ent. Want as jy afgekap is van die olyfboom wat van nature wild was, en teen die natuur op die mak olyfboom ingeënt kan word, hoeveel te meer kan hulle dan wat dit van nature is, op hul eie olyfboom ingeënt word? ROMEINE 11:22-24 AFR53




Comments